South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1987 >>
[1987] ZASCA 106
| Noteup
| LawCite
S v Radebe (270/1986) [1987] ZASCA 106 (25 September 1987)
Download original files |
LL Saak No 270/1986
IN DIE HOOGGEREGSHQF VAN SUID-AFRIKA APPeLAFDELING
Insake die appel van:
LINDA RADEBE Appellant
teen
DIE STAAT Respondent
CORAM: VAN HEERDEN, SMALBERGER ARR
et BOSHOFF WAR
DATUM VAN VERHOOR: 22 SEPTEMBER 1987
DATUM VAN INHANDIGING: 25 SEPTEMBER 1987
REDES VIR UITSPRAAK
/VAN HEERDEN AR ...
2.
VAN HEERDEN AR:
Die appellant is in die streekhof skuldig be-vind op 'n aanklag van roof asook op twee aanklagte van onregmatige besit van 'n vuurwapen en van ammunisie. Sy appèl na die Transvaalse Provinsiale Afdeling het ge-deeltelik geslaag deurdat die skuldigbevindings op laas-genoemde twee aanklagte tersyde gestel is. Met die nodige verlof is die onderhawige appèl slegs teen sy skuldigbevinding op die roofklag gerig.
Ene Padotan het getuig dat hy omstreeks 2 nm op 14 April 1984 as kroegman in die "Actonville Bar" werksaam was. Hy het met sy rug na die toonbank ge-staan en toe hy omdraai, het hy die appellant oor die toonbank sien spring. Laasgenoemde het 'n mes te voor-skyn gebring en dit oopgemaak. Die getuie was bevrees en het teruggetree waarop die appellant 'n R10 noot wat op die toonbank gelê het, opgeraap het, en die kontant-kas oopgemaak het. Die appellant het al die note in
/sy ...
3.
sy sak geprop, die laai met die kleingeld geneem en by 'n deur uitgestap. Op daardie oomblik het 'n tweede Swart man by 'n ander deur ingekom. Hy het 'n vuurwapen in sy hand gehad en vir die getuie gevra waar die geld was. Laasgenoemde het gesê dat die Swart man se "vriend" reeds die geld geneem het en kort daarna is die tweede per-soon ook by die kroeg uit. Die getuie is na buite en het vier mans sien weghardloop. Na die voorval het hy onge-veer R600 vermis.
'n Wynkelner, ene Dahni, het getuig dat hy ook die betrokke middag in die "Actonville Bar" in Actonville werksaam was. Terwyl hy klante by 'n tafel bedien het, het hy drie "rowers" opgemerk. "Hulle" het vuurwapens tevoorskyn gebring en die getuie en die klante is beveel om by 'n toilet in te gaan. Die getuie het nie gesien wat by die toonbank gebeur het nie aangesien hy toe blyk-baar in die toilet was, en hy het ook nie die appellant as een van die rowers uitgeken nie.
/By ...
4.
By die verhoor was dit gemene saak dat Padotan in Januarie 1985 'n behoorlik saamgestelde uitkennings-parade bygewoon het en die appellant uitgewys het as die persoon wat op 14 April 1984 by die roof in die betrokke kroeg aandadig was.
Die enigste ander getuienis wat gelei is ten einde die appellant met die roof te verbind, was dié van adjudant-offisier Steeler. Hy het getuig dat 'n sersant die appellant na hom gebring het en hom meegedeel het dat die appellant sekere uitwysings wou doen. Die appellant het toe beduie dat die getuie na Actonville moes ry. Hy het aanwysings van die appellant tot by die Watville-drankwinkel gevolg. Daar het die appellant 'n deur van die drankwinkel, asook 'n venster langs die deur, uitgewys Dié drankwinkel, wat "gekoppel" was aan 'n kroeg wat op sy beurt "gekoppel" was aan 'n biersaal, was in Actonville woonbuurt.
Die appellant het ontken dat hy by die roof
/betrokke ...
5.
betrokke was. Hy het eers gesê dat hy in April 1984 in Natal woonagtig was, maar dit het later geblyk dat hy vanaf ongeveer September 1983 tot middel April 1984 in die Watville woonbuurt buite Benoni gewerk en gebly het. Die appellant het voorts getuig dat hy in Januarie 1985 in Natal in hegtenis geneem is. Hy is na Benoni gebring waar hy die rede vir sy arrestasie meegedeel is, nl, dat hy 'n roof by 'n drankwinkel in Actonville sou gepleeg het. Die polisie wou hê dat hy die drankwinkel moes uitwys, en omdat hy nie geweet het waar die roof gepleeg was nie, het hy toe 'n groot drankwinkel waarmee hy goed bekend was, gaan uitwys.
Die landdros het bevind dat Padotan voldoende geleentheid gehad het om die persoon wat oor die toonbank gespring het te identifiseer, maar het dit nodig geag om steun vir die betroubaarheid van die getuie se uitkenning van die appellant te vind in Steeler se getuienis. In hierdie verband het die landdros die volgende gesê:
/"Die ...
6.
"Die Hof bevind dat hierdie uitwysing aan adjudant-offisier Steeler, en veral die uit-wysing van hierdie plekke by hierdie drank-winkel, die venster en die deur, en wat daar sou plaasgevind het, dat dit saam met die uitkenning van die beskuldigde op 'n uitken-ningsparade wat by wyse van erkenning op 'n behoorlike wyse uitgevoer is, as een van die rowers deur die klaer, vir die Hof die nodige waarborg daar stel dat die Hof kan staat maak op die uitkenning van die klaer van beskuldigde as die persoon wat daar op die toonbank gespring het en die geld uit die kasregister geneem het onder dreigement van 'n mes wat hy by hom gehad het ..."
Na my mening blyk dit nie buite redelike twyfel uit die getuienis dat die appellant wel die kroeg waarin die roof gepleeg is, of 'n gebou waarvan dit deel was, aan Steeler uitgewys het nie. Padotan en Dahni het beide ge-tuig dat hulle in die "Actonville Bar" werksaam was. Nêrens blyk dit dat hulle bloot te kenne wou gee dat die kroeg in Actonville geleë was maar onder 'n ander naam as "Actonville Bar" bekend was. Steeler het egter getuig dat die appellant 'n drankwinkel in Actonville met die naam "Watville drankwinkel" uitgewys het. In sy uitspraak
/verwys ...
7.
verwys die landdros na "die moontlike twyfelagtigheid oor die Actonville en Watville drankwinkel" maar sê dan dat hy daarvan bewus is, en dat Steeler ook getuig het, dat die Actonville en Watville woonbuurte aangrensend is. Hy sê voorts dat daar dikwels verwarring is "oor van wat gepraat word" - blykbaar oor die grens tussen die twee woonbuurte. Maar selfs indien aanvaar word dat die land-dros geregtig was om geregtelike kennis van sodanige ver-warring te neem, baat dit nie die respondent nie. Daar was geen verwarring aangaande die ligging van die kroeg waarin die roof gepleeg is en die drankwinkel wat deur die appellant uitgewys is nie. Beide was in Actonville ge-leë. Die naam van die drankwinkel waaroor Steeler getuig het kan egter nie verbind word met die naam wat die kroeg volgens Padotan en Dahni gehad het nie. Die moontlikheid
dat hierdie twee getuies nieteenstaande hulle woordgebruik
slegs wou verwys na 'n kroeg geleë in Actonville bestaan
wel, maar meer as 'n moontlikheid is dit nie. Daar is ook
/geen...
8.
geen getuienis dat die kroeg waaroor Padotan en Dahni ge-tuig aan 'n drankwinkel of biersaal "gekoppel" was nie. Bowendien weet 'n mens nie of daar nie in Actonville meer as een drankwinkel of kroeg is nie.
Dit is waar dat die appellant getuig het dat die drankwinkel deur hom uitgewys die enigste een "in daardie omgewing" was waarvan hy bewus was. Dit is egter onbekend hoe groot Actonville is en of indien daar meer as een drankwinkel in hierdie woonbuurt is hulle nie moontlik 'n aansienlike afstand van mekaar geleë xs nie.
Daar is nog 'n verdere faktor wat twyfel werp op die landdros - en die hof a quo - se aanname dat die kroeg waaroor Padotan en Dahni getuig het deel was van die drankwinkel wat die appellant uitgewys het. Indien dié aanname juis was en die appellant wel die persoon was wat Padotan beroof het, sou 'n mens verwag het dat hy die binnekant van die kroeg en meer bepaald die toonbank en
/kasregister ...
9.
kasregister sou uitgewys het. Volgens Steeler het hy egter slegs die Watville drankwinkel en 'n deur en venster daarvan uitgewys. Daar is ook nie getuienis dat hierdie deur en venster toegang tot die kroeg van bedoelde drank-winkel verleen het nie.
Die landdros het aanvaar dat die appellant vals-lik ontken het dat hy benewens 'n drankwinkel as sulks ook 'n deur en 'n venster daarvan uitgewys het. Dit is vir my egter hoegenaamd nie duidelik dat sodanige afleiding uit die appellant se getuienis gemaak kan word nie. Die vrae wat in hierdie verband deur die aanklaer aan die appellant gestel is, en díe antwoorde deur hom verstrek, blyk uit die volgende uittreksel uit die notule:
"Die uitwysing wat u gedoen het hier by die Actonville, by die drankwinkel, wat spe-sifiek het u daar uitgewys aan die polisie?
---Hulle wou gehad het ek moet die drank-
winkel gaan uitwys wat geroof is en omdat ek nie geweet het waar daardie drankwinkel was, het ek toe hulle na die drankwinkel wat ek goed ken, gevat.
Toe wys jy net vir hulle die drankwinkel?
/ Ja ....
10.
Ja.
Geen ander plekke uitgewys nie?
Geen."
Dit kom my voor dat die appellant onder "geen ander plekke" lig kon verstaan het slegs plekke wat nie met die drankwinkel verband gehou het nie. 'n Deur en 'n venster van die drankwinkel kon immers nouliks as "ander plekke" beskryf word. En omdat duidelikheid nie ver-kry is nie, en meer bepaald omdat die appellant, in die veronderstelling dat hy nie Steeler se getuienis betwis het nie, nie gevra is waarom hy spesifiek die deur en die venster uitgewys het nie, kan geen nadelige afleiding teen die appellant uit bedoelde uitwysing of bostaande brokkie getuienis gemaak word nie.
In die lig van bogenoemde oorwegings meen ek nie dat die landdros op die appellant se uitwysing peil moes getrek het nie, en kan ek nie akkoord gaan met die hof a quo se sienswyse dat die rede wat die appellant vir sy uitwysing verstrek het nie redelik moontlik waar kon
/wees ...
11.
wees nie.
Geoordeel volgens die passasie uit die landdros se uitspraak wat hierbo aangehaal is, sou hy nie die appel-lant bloot op grond van Padotan se getuienis op die roof-klag skuldig bevind het nie. Dit is egter steeds nodig om na te gaan of daardie getuienis nie op sigself 'n skuldig-bevinding geregverdig het nie.
Padotan het die appellant vir 'n betreklike kort tydjie in die kroeg waargeneem maar dit is duidelik dat die appellant na aan hom was toe hy (die appellant) die geld uit die kasregister verwyder het. In sy betoogs-hoofde het die appellant se advokaat aan die hand gedoen dat die beligting waarskynlik dof was, maar die rooftog het omstreeks 2 nm plaasgevind en daar is geen suggestie in die getuienis dat dit enigsins skemerig in die kroeg was nie. Nietemin is daar faktore wat twyfel werp op die betroubaarheid van Padotan se latere identifikasie van die appellant.
/In ...
12.
In eerste instansie blyk dit dat toe ander be-skuldigdes in Augustus 1984 op dieselfde roofklag verhoor is, Padotan ook getuig het en die volgende gesê het:
"While serving, I saw someone jumping over the counter. I cannot recognise the person."
En, met verwysing na die tweede rower wat later na die toonbank gekom het:
"He asked me where is the money and I said
your friend has got the money I am
not able to recognise him either."
Padotan het verduidelik dat tydens die vorige verhoor die beskuldigdes 'n entjie weg van hom was terwyl hy getuienis gegee het, dat hy bysiende is, en dat hy dus nie in staat was om diegene in die beskuldigdebank uit te ken nie. Tydens die hou van die uitkennings-parade het hy egter, aldus sy getuienis, tot naby die appellant beweeg. Hierdie verduideliking is klaarblyk-lik deur die landdros aanvaar maar laat na om indruk te maak. Padotan getuig dat hy nie weet of die appellant
/in ...
13.
in Augustus 1984 een van die beskuldigdes was nie, en indien dit slegs sy bysiendheid was wat hom op daardie stadium verhinder het om vas te stel of hy een of meer van die beskuldigdes kon identifiseer, is dit bra onwaar-skynlik dat hy nie by die vorige verhoor daarvan melding sou gemaak het nie. Op sy beste vir Padotan dui sy aangehaalde brokkies getuienis daarop dat hy in Augustus 1984 nie gemeen het dat hy een van die twee rowers wat hy in die kroeg gesien het, sou kon uitken nie.
In tweede instansie het die appellant nie volgens Padotan enige besondere gelaatstrekke of fisiese eienskappe gehad wat hom maklik uitkenbaar gemaak het nie. Hy getuig aanvanklik dat hy die appellant aan sy gelaats- kleur uitgeken het, maar gevra wat opmerklik in verband daarmee was, sê hy slegs dat die appellant nie so donker soos die ander rower was nie. Later meld hy dat die lengte van die appellant ook tot sy uitkenning bygedra het, maar uit die feit dat die nege persone op die uitkennings-parade almalmin of meer dieselfde liggaamsbou gehad het,
/kan ...
14.
kan afgelei word dat die appellant nie besonder lank of kort is nie. Ek wil geensins te kenne gee dat 'n uit-kenning nie aanvaar kan word nie indien die uitkenner nie op onderskeidende fisiese eienskappe van die betrokke persoon kan wys nie, maar dit is nietemin 'n faktor wat oorweeg moet word wanneer oor die betroubaarheid van die identifikasie besin word.
Derdens dien daarop gelet te word dat die uit-kenningsparade eers ongeveer 9 maande na die rooftog ge-hou is, en dat dit vanselfsprekend is dat hoe langer die tydperk is tussen 'n geleentheid waarop 'n getuie 'n persoon vir die eerste keer gesien het totdat hy 'n uitkenning maak, hoe groter die moontlikheid is dat die eerste waar-neming vervaag het en dat die getuie se herinnering on-betroubaar mag wees. Vgl S v Mputing 1960 (1) SA 785 (T) 788.
Die respondent se advokaat het aangevoer dat die appellant se getuienis in 'n aantal opsigte onbevredigend
/was ...
15.
was, maar behoudens een aspek meen ek nie dat die kritiek wesentlik is nie. Die appellant het wel 'n leuen ver-kondig toe hy getuig het dat hy nie 'n vuurwapen en ammu-nisie in Natal aan speurdersersant Manjika uitgewys het nie, maar hom slegs geneem het na 'n ander persoon wat die uitwysing gedoen het. Ek meen egter nie dat hierdie leuen op sigself daarop dui dat die appellant se ontkenning dat hy by die roof betrokke was vals is nie.
In ag genome die bedenkinge wat aangaande die betroubaarheid van Padotan se identifikasie van die appel-lant bestaan, is ek van oordeel dat dit nie buite redelike twyfel blyk dat die appellant die persoon was wat die geld in die kroeg buitgemaak het nie. Die advokaat vir die respondent het dan ook toegegee dat die appellant nie op slegs Padotan se getuienis skuldig bevind kon ge-wees het nie.
/Om ...
16.
Om bogenoemde redes is die appêl by die verhoor daarvan gehandhaaf en is die skuldigbevinding en vonnis op die roofklag tersyde gestel.
H.J.O. VAN HEERDEN AR
EK STEM SAAM : SMALBERGER AR
EK
STEM SAAM: BOSHOFF WAR