South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1987 >> [1987] ZASCA 134

| Noteup | LawCite

S v Makatu (135/87) [1987] ZASCA 134 (24 November 1987)

Download original files

PDF format

RTF format


SIPHO ALFRED MAKATU
Appellant

en

DIE STAAT
Respondent

Saaknommer 29 3/87 mp

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

APPèLAFDELING)

In die saak tussen:
SIPHO ALFRED MAKATU
Appellant

en
DIE STAAT
Respondent


CORAM:
JACOBS, SMALBERGER ARR et STEYN, Wn AR

VERHOOR: 16 November 1987

GELEWER: 24 November 1987

UITSPRAAK

STEYN, Wn AR
2.

STEYN, Wn AR,

Die appellant is op 15 April 1987 ter dood veroordeel vir die moord op Zama Maseko, sy minnares se 9-jarige dogtertjie (die oorledene). Die verhoorhof het gevind dat daar geen versagtende omstandighede was nie. Appellant korn in hoër beroep slegs teen daardie bevinding en teen die vonnis daarvolgens aan hom opgelê.

Appellant het te Bethal in die Transvaalse

Oos- en Suid-Oostelike Rondgang Plaaslike Afdeling teregge= staan voor regter J P O de Villiers en twee assessore. Hy het skuldig gepleit op die aanklag dat hy die oorledene op 1 Mei 1986 te of naby Hammelfontein, Davel, in die distrik van Ermelo, vermoor het. Sy pro deo advokaat, mnr van Rensburg, het egter aan die Hof te kenne gegee dat die pleit nie in ooreenstemming met sy instruksies is nie. Die geleerde regter het toe 'n pleit van onskuldig noteer. Daarna het die verhoor sy gang gegaan. Die verdediging het formeel

die

3.

die identiteit van die oorledene erken, asook die korrekt= heid van die fei.te en bevindings vervat in die verslag van die lykskouing wat op 7 Mei 1986 deur dr R J N Crozier op haar uitgevoer is. Die verslag is ingehandig as bew A- Na aanhoor van mondelinge getuienis, insluitende dié van appellant, is hy skuldig bevind aan die moord. Na betoë deur die verdediging en die Staat, maar sonder die voorlegging van enige verdere feite, hetsy by wyse van getuienis of erkennings, het die Hof bevind dat daar geen versagtende omstandighede was nie. Die verpligte doodvonnis is toe aan appellant opgelê.

Hier volg 'n opsomming van die wesenlike feite

wat volgens die trant van die uitspraak klaarblyklik deur die verhoorhof bevind is vir sy beslissing op die meriete.

Vir ongeveer 'n jaar voor die moord was daar

'n minneverhouding tussen appellant en die oorledene se moeder, Poppie Maseko ("Poppie"). Hulle het nie saamgewoon nie

maar

4.

maar het mekaar oor en weer besoek. Die oorledene het op Davel by haar Ouma aan moederskant, Kelina Maseko, ingewoon saam met sekere van haar nefies en niggies. Poppie het op Ermelo gewerk en appellant op Davel. Op die dag van die moord, 'n Donderdag, was oorledene by haar ouma, Poppie op Erlmelo en appellant op Davel. Appellant was daardie dag van diens af en het die middag sterk drank gedrink. Hy het egter nie dronk geword nie en was te alle tersaaklike tye by sy volle positiewe. Hy is toe na Ermelo om Poppie te besoek by haar verblyfplek in die swart woongebied. Sy was nie tuis nie. Hy het haar gaan soek by haar werksplek in Ermelo. Daar was sy ook nie. Op pad terug na die swart woongebied het hy Poppie gesien sit met 'n blanke man in 'n geparkeerde motor. Appellant het hulle genader en haar gevra waarom sy nie huis toe gaan nie. Die blanke het met 'n vuurwapen in die hand uitgeklim. Appellant het in 'n nabygeleë perseel ingevlug en die blanke het 'n skoot op

hom

5
hom afgevuur. Appellant het in die perseel weggekruip vir ongeveer 15 minute terwyl die blanke met die motor daar naby rondgery het, oënskynlik op soek na hom. Uiteindelik het die blanke vertrek met Poppie steeds by hom in die motor. Appellant was "kwaad en hartseer" omdat hy gemeen het dat daar 'n liefdesverhouding tussen Poppie en die blanke was. Hy het toe terug geryloop na haar ouerhuis op Davel. Hy het om ongeveer 18h00 daar opgedaag. Oorledene, haar nefie, die 12-jarige Elliot Maseko, en twee ander kleinkinders van Kelina het buite die huis gespeel. Appellant het die oorledene na hom geroep. Sy en haar maatjies het na hom gegaan. Hy het haar daar weggelok onder die voorwendsel dat hy vir haar lekkergoed, suiker en seep wou gaan koop. Hulle twee het geloop na 'n bos 2 - 3 km van Kelína se huis af. Hy het haar daarin geneem, haar met sy hande gewurg en haar toe met 'n kierie teen haar kop doodgeslaan. Die hou het 'n dodelike splinterbreuk van haar skedel veroorsaak. Appellant het oorledene se lykie met bloekomtakke en 'n

stuk

6.

stuk motorwrak bedek. Sodoende het hy dit goed weggesteek. Hy is toe daar weg, blykbaar huistoe. Kort na 18h00 het die oorblywende drie kleinkinders Kelina se huis ingegaan vir hul aandete. Sy het gevra waar die oorledene is. Hulle het 'n rapport aan haar gemaak as gevolg waarvan sy om 07h00 die volgende oggend vir appellant om 'n verduídeliking gevra het. Hy het toe aan haar gesê dat die oorledene weg is met haar moeder. Hy het bygevoeg dat net toe hy en sy by die winkel uitgekom het 'n motor daar gestop het met Poppie

en 'n blanke man daarin. Poppie het die oorledene gevat en die motor het toe weer vertrek. Kelina het met Poppie in verbinding getree. Dié het appellant se bewering ontken. Kelina het die saak toe by die polisie aangegee om en by 09h00 op dieselfde dag - 2 Mei.

Appellant is later daardie oggend in hegtenis geneem en het vir sers Oostendurp, van die Suid-Afrikaanse Polisie op Davel, geneem na die plek waar hy die vorige aand

oorledene
7
oorledene se lyk versteek het. Dit was nog bedek soos hy dit gelaat het.

Op hierdie stel feite het die verhoorhof

eenpariglik bevind dat appellant die oorledene opsetlik gedood het om uiting te gee aan sy wrewel teenoor Poppie vir haar vermeende ontrouheid. Daar is geen appèl teen hierdie feitebevindings nie. Omdat geen verdere feite aan die verhoorhof voorgelê is nie, is daardie feitebevindings die basis waarop die hof moes besluit of daar versagtende omstandighede teenwoordig was al dan nie. In S v Mongesi en Andere 1981(3) SA 204 (A) op 207 C - D het JOUBERT, AR die volgende gesê:

"Die bewyslas om die bestaan van versag= tende omstandighede op 'n oorwig van waarskynlikhede vas te stel, rus op 'n beskuldigde. Ten einde dit te kan doen, moet daar 'n feitebasis vir die verhoorhof wees waarvan die bestaan van die versagtende omstandighede afgelei kan word (S v Ndlovu _ 1970 (1) SA 430 (A) te 433 H)."

By

8

By 'n meerderheidsbeslissing het die
verhoorhof bevind dat daar geen versagtende omstandighede was nie. Daardie bevinding lui so:

"Dit gaan hier oor die vraag of daar versagtende omstandighede is al dan nie. Wat versagting betref het die Verdediging aangevoer dat die beskuldigde aangetas was deur die drank en dat dit tot 'n mate sy oordeelsvermoë en insig aangetas het. Hy was van mening dat sy vrou en die Witman hoereer. 'n Wapen is op hom gehou en hy was geskiet.

Een van my Assessore is van mening dat hierdie feite genoegsaam is wat die morele blaamwaardigheid van die beskuldigde verminder. Die meerderheid van die Hof is egter van mening dat hoewel die beskuldigde gedrink het, die drank nie so 'n groot rol gespeel het nie, dat die beskuldigde die feite wat die voorval die aand voorafgegaan het, duidelik vir die Hof uiteengesit het, en dat hoewel hy kwaad was vir sy vrou en miskien ook vir die Witman wat op hom gevuur het, dit 'n

tydjie geneem het vir hom om te ryloop van Ermelo af na Davel toe en dat hy genoegsame tyd gehad het om af te koel en oor die gebeure na te dink. Hierdie was nie 'n

geval waar die beskuldigde skielik as gevolg van die gebeure opgetree het nie. Hy het ongeveer twee kilometer met die

oorledene

9.

oorledene geloop en in daardie tyd kon hy oor sy beoogde optrede nadink. Hy het 'n onskuldige kind van die huis af weggelok, haar daarna op 'n wreedaardige wyse vermoor. Dat hy haar aan die keel beetgehad het en haar verwurg het (soos hy sê) word gestaaf deur die mediese getuienis. Daarna het hy haar met 'n voorwerp oor die kop geslaan en haar lyk toe verberg.

Twee lede van die Hof is van mening dat die faktore waarna die Verdediging verwys nie die morele blaamwaardigheid van die beskuldigde verminder nie en bevind dus dat daar geen versagtende omstandighede is nie."

Na my oordeel is die meerderheidsbevinding korrek. Daar was geen regverdiging vir appellant om sy wrewel teenoor Poppie op haar dogtertjie oor te dra nie. Oorledene was 'n algeheel onskuldige kindjie wat appellant geen leed aangedoen het nie, en sy het niks te doen gehad met Poppie se optrede nie. Dit is wel denkbaar dat daar gevalle mag voorkom waar die ontsteltenis by 'n beskuldigde gewek deur die gedrag van een persoon, regtens as 'n versagtende omstandigheid beskou kan word t a v sy moord op

'n

10.

'n onskuldige derde persoon. Maar die onderhawige is nie só 'n geval nie.

Die appèl word afgewys.

M T STEYN Wn AR

JACOBS ) AR SMALBERGER) AR