South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1989 >>
[1989] ZASCA 12
| Noteup
| LawCite
S v Booysen and Others (180/88) [1989] ZASCA 12 (17 March 1989)
Download original files |
Saak nommer 180/88 E du P
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)
In die saak
tussen:
FRANS BOOYSEN Eerste Appellant
GERT MAKIER
Tweede Appellant
DAWID MAKIER Derde Appellant
DAWOOD
SHOROCK Vierde Appellant
en
DIE
STAAT Respondent
Coram: JOUBERT, STEYN ARR et F.H. GROSSKOPF Wn
AR
Verhoordatum: Leweringsdatum:
24 Februarie 1989. 17 Maart 1989.
2
UITSPRAAK F.H. GROSSKOPF Wn AR:
Die vier appellante het in die hof
a quo tereggestaan op 'n aanklag van moord en op 'n aanklag van roof met
verswarende omstandighede soos omskryf in artikel 1 van wet 51
van 1977. Al die
appellante het op albei aanklagte onskuldig gepleit. Elkeen van die appellante
het 'n alibi as verweer geopper,
maar die hof a quo het in die lig van al
die getuienis bevind dat al vier die appellante op die toneel van die misdaad
teenwoordig was en dat elkeen
in 'n mindere of meerdere mate aan die aanval op
die oorledene deelgeneem het.
Die vier appellante is aan die volgende misdade
skuldig bevind en soos volg deur die hof a guo gevonnis:
Appellant 1
is skuldig bevind aan beide aanklagte soos aangekla en gevonnis tot 15 jaar
gevangenisstraf op die moord aanklag en tot
6 jaar gevangenisstraf op die roof
aanklag. Die hof het gelas dat die vonnisse saamloop.
Appellante 2 is ook aan beide aanklagte skuldig bevind.
3
Hy is gevonnis tot 12 jaar gevangenisstraf op die moord aanklag en tot 6 jaar
gevangenisstraf op die roof aanklag. Ook in sy geval
is gelas dat die vonnisse
samelopend uitgedien word.
Appellant 3 is eweneens aan beide aankiagte
skuldig bevind. Op die moord aanklag is hy die doodvonnis opgelê en op die
roofaanklag
is hy tot 6 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Appellant 4 is op die
moord aanklag slegs as 'n begunstiger skuldig bevind en op die tweede aanklag
aan poging tot roof met verswarende
omstandighede. Hy is tot 5 jaar
gevangenisstraf vir die begunstiging gevonnis en tot 10 jaar gevangenisstraf vir
die poging tot roof.
Die hof a guo het ook in sy geval gelas dat die
vonnisse sal saamloop.
Die verhoorhof het aan al vier die appellante verlof
verleen om teen hulle onderskeie skuldigbevindings te appelleer. Daar is verder
aan appellant 3 verlof verleen om te appelleer teen die doodvonnis wat hom
opgelê is. Daar is verder aan appellant 4 verlof
verleen om te appelleer
teen
4
die vonnis van 10 jaar gevangenisstraf wat hom opgelê is vir die poging
tot roof met verswarende omstandighede waaraan hy skuldig
bevind is.
Die
oorledene, Willem Blaauw, is gedurende die aand van Vrydag 10 Oktober 1986 net
buite De Rust op die pad na Meiringspoort dóod
aangetref. 'n Verbygaande
motoris het die voorval omstreeks 21h30 die aand by konstabel Gouws van die
Suid-Afrikaanse polisie in
De Rust aangemeld. Konstabel September getuig dat
Gouws hom ongeveer 21h45 die Vrydagaand by die huis opgelaai het en dat hulle
daarna
saam na die toneel gery het. 'By hulle aankoms was daar reêds
verskeie mense op die toneel gewees. Die twee konstabels het
die oorledene op
die ryvlak van die pad en net langs die witlyn in die middel van die
teeroppervlakte aangetref. Die oorledene het
op sy maag gelê met sy kop in
die rigting van Meiringspoort. Die oorledene se baadjie was oor sy kop getrek en
daar was 'n
oop wond aan sy kop gewees.
Dr. Barnard, die distriksgeneesheer van Oudtshoorn,
5
het die regsgeneeskundige lykskouing op die oorledene uitgevoer. Dr. Barnard
se vernaamste lykskouingsbevinding is dat daar 'n vergruising
van die oorledene
se skedel was. Dit is sy bevinding dat die oorledene se dood deur skedelfraktuur
en gevolglike beskadiging van
die onderliggende breinweefsel veroorsaak
is.
Dr. Barnard het 'n groot wond aan die oorledene se kop gevind. Die wond
was ongeveer 15cm. lank en het skuins oor die kop van regs
voor na links agter
gestrek. Die voorste deel van hierdie wond het gelyk asof dit met 'n skerp
voorwerp gekap is, terwyl die agterste
deel van die wond 'n skeurvoorkoms gehad
het en gelyk het asof dit deur stomp geweld veroorsaak kon gewees het. Dr.
Barnard het die
mening uitgespreek dat die oorledene twee houe oor die kop
toegedien was. Dit was egter die kapwond wat volgens dr. Barnard se getuienis
die oorsaak van die skedelbreuk was. Getuienis dat die oorledene onder andere
met 'n kapmes soos bewysstuk 1 voor die verhoorhof
oor die kop gekap is, sou
volgens dr. Barnard
6
inpas by die voorkoms van die voorste gedeelte van die oorledene se
kopbesering.
Dr. Barnard het die mening uitgespreek dat die skedelfraktuur
tot gevolg sou gehad het dat die oorledene onmiddellik bewusteloos sou
geraak
het en dat die oorledene waarskynlik binne 'n halfuur dood sou gewees
het.
Die staatsaak berus hoofsaaklik op die getuienis van 'n beweerde
ooggetuie, Mariaan Geswindt. Die strekking van haar getuienis, wat
deur die hof
a quo aanvaar is, is in hooftrekke soos volg.
Die oorledene was die
neef van die getuie Mariaan Geswindt. Sy het die oorledene omstreeks 20h00 op
Vrydagaand 10 Oktober 1986 in
De Rust raakgeloop. Nadat die oorledene gou 'n
draai by die kroeg gemaak het, het hulle twee saam na die huis van Mariaan
Geswindt
se ouma buite De Rust geloop. Terwyl hulle met die Meiringspoort
teerpad langs gestap het, het die vier appellante en ene Jeanette
Swartbooi
agter hulle aangestap gekom. Mariaan Geswindt het die vier appellante
7
en Jeanette Swartbooi geken, maar dit blyk dat sy en Jeanette nie vriendinne
was nie. Appellant 3 het 'n kan wyn by hom gehad en Jeanette
Swartbooi het 'n
voorwerp gedra wat in 'n swart plastiese sak toegedraai was. Dit het later
geblyk dat dit 'n kapmes was.
Die twee groepe het toe saamgestap totdat hulle
by 'n klofie langs die pad gekom het. Daar het appellant 3 vir die oorledene
gevra
of hy nie 'n dop saam met hulle wil drink nie. Mariaan Geswindt het die
oorledene probeer keer, maar appellant 3 het daarop aangedring
dat die oorledene
saam met hulle moet gaan drink. Mariaan Geswindt sê sy wou nie saamgaan
nie, maar appellant 3 het haar gedreig
en gesê dat as sy nie met hulle
saamkom nie, sal sy sien wat met haar sal gebeur. Dit is Mariaan Geswindt se
getuienis dat
sy bang was vir appellant 3 en dat sy toe maar saam met die
oorledene en die appellante deur die draad langs die pad geklim het.
Voordat
hulle nog deur die draad geklim het, het appellant 1 die sak met die kapmes by
Jeanette Swartbooi
8
gevra en dit saamgeneem. Appellant 1 en Jeanette Swartbooi was vryers, maar
Jeanette het nie saam na die klofie gegaan nie. Sy het
by die teerpad agtergebly
en langs die pad gaan sit by 'n plek waar daar 'n stormwaterpyp onder die pad
deurloop. Die getuies het
na dié plek as die "collar" verwys.
Die vier
appellante en die oorledene het 'n klein entjie van die teerpad in die klofie
gaan sit en drink. Mariaan Geswindt het nie
saam gedrink nie. Sy sê sy
drink glad nie. Volgens haar getuienis het die appellante gesorg dat die
oorledene die meeste wyn
drink. Toe die oorledene nou goed dronk is, vra
appellant 3 vir die oorledene of hy nie geld by hom het nie. Die oorledene het
geantwoord
dat hy slegs 75 sent van sy ma by hom het. Daarop het appellant 3 met
die oorledene begin stoei. Die ander drie appellante het gaan
help en die
oorledene begin skop en slaan. Die oorledene was egter te dronk om die aanval af
te weer.
Toe hulle die oorledene klaar geslaan en geskop
9
het, het appellant 3 die kapmes by appellant 1 gevra. Die ander appellante
het die oorledene vasgehou. Mariaan Geswindt sê sy
was verbouereerd gewees
en het nie die hele tyd gekyk wat met die oorledene gebeur nie. Op 'n stadium
het sy egter 'n klapgeluid
gehoor en gesien hoe die oorledene op die grond
neerval. Mariaan het nie gesien wat die klapgeluid veroorsaak het nie, maar sy
getuig
dat dit geklink het asof hy met 'n klip geslaan was. Dit is die getuienis
van Jeanette Swartbooi dat appellant 3 die oorledene met
'n klip op die kop
geslaan het. Die ander appellante het die oorledene toe gelos. Terwyl die
oorledene op die grond lê, het
appellant 3 die kapmes uit die plastiese
sak gehaal en die oorledene een hou met die kapmes oor die kop gekap.
Al vier
die appellante het die oorledene na die draad gedra en hom bo-oor die draad
getel. Daarna het hulle die oorledene na die stormwaterpyp
gedra en hom deut die
pyp gesleep. Aan die ander kant van die pyp het hulle die oorledene weer bo-oor
die draad getel en met 'n rivierlopie
10
langs afgedra. Hulle het die oorledene 'n ent verder weer oor die draad getel
en hom in die middel van die teerpad langs die wit streep
op sy maag
neergelê sodat sy kop in die rigting van Meiringspoort gewys het.
Appellant 3 het die oorledene se baadjie aan sy
onderpand geneem en die baadjie
oor die oorledene se kop getrek.
Appellant 1 het op daardie stadium die
oorledene se skoene uitgetrek en sy eie skoene vir die oorledene aangetrek. Daar
is getuienis
dat die skoene wat later aan die oorledene se voete gevind is nie
die oorledene se eie skoene was nie. Appellant 2 het die oorledene
se horlosie
geneem, maar appellant 3 het die horlosie by appellant 2 gevat. Daar is
getuienis dat appellant 3 na daardie Vrydagaand
'n soortgelyke horlosie met 'n
weermag band in sy besit gehad het. Die getuie Clara Afrika wat saam met
appellant 3 by die slaghuis
gewerk het, het appellant 3 gevra waar hy die
horlosie gekry het, en appellant 3 het vir haar gesê "hy is maar 'n man
wat net
sommer 'n ding vat vir hom".
11
Voor die groep daardie Vrydagaand uitmekaar gegaan het, het appellant 3 vir
beide Mariaan Geswindt en Jeanette Swartbooi gesê
dat as hulle gaan praat
dan sal hulle sien wat hy gaan doen. Appellant 3 het naby Mariaan Geswindt
gewoon en hy het sy dreigement
by latere geleenthede teenoor Mariaan Geswindt
herhaal. Sy sê sy was bang vir die appellante, maar veral vir appellant 3,
en
dit was eers nadat hulle gearresteer was dat sy die volle verhaal aan die
polisie vertel het.
Dit is die getuienis van Mariaan Geswindt dat die maan
daardie Vrydagaand geskyn het. Dit is nie betwis dat sy al die appellante geken
het nie. Hoewel elkeen van die vier appellante beweer dat hy daardie Vrydagaand
elders was, was Mariaan Geswindt se vermoë om
elkeen van hulle uit te ken
nooit in geskil geplaas nie. Die appellante self het nie beweer dat daar enige
vooroordeel aan die kant
van Mariaan Geswindt was nie en hulle kon ook geen
motief verstrek waarom sy hulle valslik sou wou inkrimineer nie. In die
12
omstandighede is dit onwaarskynlik dat Mariaan Geswindt die appellante
valslik sou wou beskuldig. Die moontlikheid is ook skraal dat
Mariaan Geswindt
'n bona fide fout omtrent die appellante se aanwesigheid op die toneel
van die misdaad kon gemaak het.
Die getuienis van Mariaan Geswindt is in
verskeie opsigte deur die appellante se advokate gekritiseer. Dit is betoog dat
dit onwaarskynlik
is dat Mariaan Geswindt nie die betrokke Vrydagaand van die
toneel af sou weggevlug het toe die geleentheid om te vlug hom voorgedoen
het
nie. Dit is verder betoog dat Mariaan Geswindt se aanvanklike onwilligheid om
haar weergawe aan die polisie te openbaar ook nie
aan haar beweerde vrees vir
die appellante toegeskryf kan word nie.
Aanvaar mens die getuienis van
appellant 3 se wreedaardige optrede die Vrydagaand en sy deurlopende dreigemente
teenoor Mariaan Geswindt
dan het Mariaan Geswindt alle rede gehad om bang te
wees vir appellant 3. Daar is
13
inderdaad ander getuienis wat Mariaan Geswindt indirek steun in hierdie
verband. Dit blyk uit die getuienis van Johanna van Staden
dat appellant 3 in
haar teenwoordigheid vir May van Hansen gedreig het met die woorde: "daardie ou
het ek vrek gemaak en vir jou
maak ek ook so vrek". Johanna van Staden het
verder getuig dat sy uit vrees vir appellant 3 nie destyds 'n verklaring in
dié
verband aan die polisie gemaak het nie. Daar is ook die getuienis van
Anna Burts dat appellant 3 haar niggie een aand sonder rede
met 'n horlosie en
los geldstukke gegooi het. Dit toon appellant 3 se aggressiewe geaardheid. Die
verhoorhof het bevind dat Johanna
van Staden en Anna Burts die indruk van
eerlike getuies geskep het en dat hulle openhartig in hulle getuienis was.
Hierdie bevinding
kan myns insiens nie bevraagteken word nie.
In die lig van
hierdie getuienis is dit glad nie onwaarskynlik dat appellant 3 ook vir Mariaan
Geswindt sou gedreig het en dat sy
inderdaad vir hom bang sou wees nie.
14
In daardie omstandighede is dit ook begryplik waarom Mariaan Geswindt nie die
Vrydagaand van die toneel af probeer vlug het nie. Dit
verklaar ook waarom sy
nie die volle verhaal van die gebeure aan die polisie wou meedeel terwyl
appellant 3 en die ander appellante
nog op vrye voet verkeer het nie.
Die
advokate wat namens die appellante verskyn het,het verder kritiek uitgespreek
teenoor Mariaan Geswindt se getuienis dat die vier
appellante die oorledene deur
die stormwaterpyp gesleep het. Dit is betoog dat Mariaan Geswindt se getuienis
in hierdie verband onwaarskynlik
en onoortuigend is, gesien die deursnee van die
pyp. In die lig van die getuienis van adjudant-offisier Visser met betrekking
tot
die grootte van die pyp en die moontlikheid dat 'n persoon op sy hande en
voete deur die pyp kan kruip, is die weergawe van Mariaan
Geswindt nie so
vergesog nie.
Dit is verder betoog dat die oorledene se klere nie so netjies
en skoon sou gewees het nie as hy werklik
15
gesleep was deur hierdie pyp wat as latrine gebruik was. Die getuienis van
Mariaan Geswindt is egter dat dit die vorige Woensdag gereën
het en dat die
reenwater die pyp skoon gespoel het.
Die getuienis van Mariaan Geswindt word
in verskeie opsigte deur ander onafhanklike getuies gestaaf, soos ook deur die
hof a quo bevind is. Haar getuienis dat die oorledene twee houe oor die
kop toegedien is, die een met 'n kapmes, word ten volle gesteun deur
die
bevindings van dr. Barnard. Die hoë persentasie alkohol wat in die
oorledene se bloed gevind is, bevestig Mariaan Geswindt
se getuienis dat die
oorledene dronk gemaak was voordat die appellante hom aangeval het. Die polisie
het die oorledene kort na die
gebeure die Vrydagaand op die teerpad gevind net
soos Mariaan Geswindt dit in haar getuienis beskryf het. Dit staan verder vas
dat
die oorledene met ander skóene as sy eie daar in die pad agter gelaat
is. Hoe sou Mariaan Geswindt dit geweet het as sy nie
self gesien het hoe
appellant 1 sy skoene vir die
16
oorledene aangetrek het nie?
Mariaan Geswindt het 'n goeie indruk op die
hof a quo gemaak en die indruk van 'n eerlike getuie geskep wat
openhartig in haar getuienis was. In my oordeel is daar geen oortuigende gronde
aangevoer waarom hierdie hof sal inmeng met daardie bevinding van die hof a
quo nie.
Die getuienis van Jeanette Swartbooi met betrekking tot die
gebeure van die betrokke Vrydagaand stem in wese ooreen met dié
van
Mariaan Geswindt. Die hof a quo het weliswaar bevind dat Jeanette
Swartbooi nie 'n bevredigende getuie was nie en dat daar nie op haar getuienis
staatgemaak kan
word nie, behalwe vir sover dit deur ander aanvaarbare getuienis
gestaaf word. Die getuienis van Mariaan Geswindt bied egter wel
die nodige
stawing vir Jeanette Swartbooi se getuienis aangaande die gebeure op die toneel
van die misdaad daardie Vrydagaand.
Dit is nooit tydens kruisondervraging in die hof a quo aan òf Mariaan Geswindt óf Jeanette Swartbooi gestel
17
Swartbooi nie bevriend was nie is dit ook onwaarskynlik dat die een die ander
sou beïnvloed het om valse getuienis teen die appellante
af te
lê.
Daar is dus die wesentlik ooreenstemmende getuienis van twee
ooggetuies wat die staatsaak van doodslag en roof bewys en wat die vier
appellante direk met die pleging van daardie misdade verbind. Daarbenewens het
die verhoorhof bevind dat die appellante self onbetroubare
getuies was en dat
hulle onderskeie alibi's nie steekhou nie. Nieteenstaande betoog tot die
teendeel namens die appellante is ek
van oordeel dat die hof a quo met
reg die alibi's van die vier appellante verwerp het.
Die appèl teen
die skuldigbevinding van al vier die appellante op beide aanklagte moet
gevolglik van die hand gewys word, met
dié voorbehoud dat die
skuldigbevinding van appellant 4 op aanklag 2 aan poging tot roof verander moet
word.
18
Mej. Conradie het namens appellant 4 betoog dat die hof a guo op die getuienis van Mariaan Geswindt vir appellant 4 op aanklag 2 hoogstens aan aanranding kon skuldig bevind het. Sy het betoog dat daar nie getuienis is wat 'n skuldigbevinding aan poging tot roof met verswarende omstandighede regverdig nie.
Die getuienis van Mariaan Geswindt is dat appellant 3 op 'n stadium vir die oorledene gevra het of hy nie geld by hom het hie. Toe die oorledene vir appellant 3 sê dat hy net sy ma se 75 sent het, het appellant 3 begin om met die oorledene te stoei. Mariaan Geswindt se hoofgetuienis vervolg dan soos volg:
"Ja? -- En toe begin Dawid (appellant 3) saam met hom stoei en toe begin die ander ook te skop en te slaan aan hom.
As jy sê die ander, na wie verwys jy, wie is die ander na wie jy verwys? -- Gert (appellant 2) en David (appellant 4) en Tollie (appellant 1).
Waarmee het hulle na hom geslaan? -- Met hulle
19
vuiste, meneer.
Vuiste? — Ja.
Wie het na hom geskop? -- Hulle almal, meneer."
In
die loop ván kruisondervraging namens appellant 4 het Mariaan Geswindt
hierdie getuienis herhaal.
Appellant 4 het gehoor dat appellant 3 vir die
oorledene vra of hy geld by hom het en appellant 4 het gehoor dat die oorledene
sê
dat hy slegs sy ma se 75 sent het. Appellant 4 het gesien dat appellant
3 daarna vir die oorledene begin aanrand, klaarblyklik met
die bedoeling om die
oorledene te beroof. Onmiddellik daarna sluit appellant 4 en die ander
appellante aan by appellant 3 en begin
hulle ook om die oorledene aan te rand.
Daar is kort daarna inderdaad 'n horlosie en 'n paar skoene van die oorledene
geneem. Na
my mening dui die optrede van appellant 4 onteenseglik daarop dat hy
hom vereenselwig het met appellant 3 se klaarblyklike oogmerk
om die oorledene
te beroof.
20
Appellant 4 het die gemeenskaplike doel gehad om die oorledene te beroof en
hy is dus 'n mededader wat die roof betref. Die betoog
dat appellant 4 slegs
skuldig is aan aanranding kan dus nie onderskryf word nie.
Na my oordeel is
appellant 4 vir dieselfde redes ook nie aan poging tot roof skuldig nie, maar
aan roof. In die geval van 'n appèl
teen 'n skuldigbevinding is hierdie
hof ingevolge die bepalings van artikel 322(1)(b) van wet 51 van 1977 by magte
om 'n appellant
skuldig te bevind aan 'n ernstiger misdaad as dié waaraan
die hof a quo hom skuldig bevind het. Appellant 4 moet gevolglik op
aanklag 2 skuldig bevind word aan roof waarby verswarende omstandighede soos
omskryf in artikel 1 van wet 51 van 1977 aanwesig is.
Indien appellant 4 se
skuldigbevinding op aanklag 2 verander word, staan dit hierdie hof vry om die
vonnis van appellant 4 op aanklag
2 te wysig. In die lig van appellant 4 se lang
lys vorige veroordelings het die verhoorhof appellant 4 tot 10 jaar
gevangenisstraf
op aanklag 2
21
gevonnis, maar gelas dat dié vonnis saamloop met die vonnis van 5 jaar
gevangenisstraf op aanklag 1. Dit is wel so dat appellant
4 'n hele reeks vorige
veroordelings het, waaronder ook roof. Aan die ander kant was appellant 4 se
aandeel in die onderhawige roof,
sowel wat die aanranding as die diefstal
betref, heelwat kleiner as dié van die ander appellante. Na my mening sal
reg behoorlik
geskied indien appellant 4 dieselfde vonnis op aanklag 2
opgelê word as wat die hof a quo vir die ander appellante
opgelê het, naamlik 6 jaar gevangenisstraf.
Daar isten slotte die
appèl van appellant 3 teen die bevinding van die hof a quo dat
daar in sy geval geen versagtende omstandighede by die pleging van die moord was
nie. Mnr. Marais het betoog dat appellant 3 vir ten minste vier ure
daardie Vrydagmiddag in die kroeg deurgebring het en dat hy op die
waarskynlikhede
'n groot hoeveelheid drank gedrink het. Daarbenewens het
appellant 3 volgens sy eie getuienis ook nog 'n sogenaamde daggapil gerook.
Die
betoog
22
is dat appellaht 3 op 'n oorwig van waarskynlikhede aangetoon het dat die
gesamentlike effek van die alkohol en die dagga sy optrede
moes beïnvloed
het. Verder is betoog dat die dodelike aanval op die oorledene op die ingewing
van die oomblik geskied het.
Appellant 3 self het getuig dat hy "'n hele paar
glasies" ingehad het toe hy die kroeg daardie Vrydag teen sononder verlaat het.
Hy
getuig egter dat hy nie geslinger het nie, dat hy nog regop kon loop en dat
hy kon sien in watter rigting hy loop. Te oordeel na
die getuienis van Mariaan
Geswindt was die optrede van appellant 3 op die toneel van die misdaad nie
dié van 'n persoon wat
dronk was nie.
Die hof a quo het bevind
dat hoewel appellant 3 voor die aanval op die oorledene gedrink het, het die
inname van drank nie so 'n invloed op die
geestestoestand van, appellant 3 gehad
dat dit op sy eie as 'n versagtende omstandigheid aangemerk kan word nie. Die
hof a quo het
23
verder bevind dat die waarskynlikhede daarop dui dat die dodelike aanval op
die oorledene op die ingewing van die oomblik geskied
het. Die hof a quo
het egter bygevoeg dat dit meer ten opsigte van appellante 1 en 2 geld aangesien
appellant 3 waarskynlik voor hulle die opset gevorm
het om die oorledene te
dood.
Die hof a quo het myns insiens tereg gewys op die leidende rol
wat appellant 3 in die aanval op die oorledene gespeel het. Dit was appellant 3
wat die oorledene eerste aangeval het. Dit was appellant 3 wat die oorledene met
'n stomp voorwerp oor die kop geslaan het. Dit was
appellant 3 wat die kapmes by
appellant 1 gevra het, dit uit die plastiese sak gehaal het en die oorledene
daarmee oor die kop gekap
het.
Daar is geen gronde aangevoer wat daarop dui
dat die hof a guo in enige opsig misgetas het by die beyinding dat daar
geen versagtende omstandighede in die geval van appellant 3 was nie. Na my
oordeel kan dit beslis ook nie
24
gesê word dat geen redelike hof tot daardie slotsom kon gekom het
nie.
Die appèl van appellante 1, 2 en 3 word gevolglik van die hand
gewys. In die geval van appellant 4 word die appèl op
aanklag 1 van die
hand gewys. Wat aanklag 2 betref, word die skuldigbevinding van appellant 4,
verander na roof met verswarende omstandighede
soos omskryf in artikel 1 van wet
51 van 1977. Die vonnis van appellant 4 op aanklag 2 word verander na 6 jaar
gevangenisstraf en
dit word gelas dat die vonnisse van appellant 4 op aanklagte
1 en 2 saamloop.
F H GROSSKOPF Wn APPèLREGTER.
JOUBERT AR
STEYN AR Stem saam.