South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1990 >> [1990] ZASCA 22

| Noteup | LawCite

S v Xhanti and Another (495/1989) [1990] ZASCA 22 (22 March 1990)

Download original files

PDF format

RTF format


LL Saak No 495/1989

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPèLAFDELING

In die saak tussen:

WELILE XHANTI Eerste Appellant

GAVIN JOSEPH MENEMENE Tweede Appellant

en

DIE STAAT Respondent

CORAM: BOTHA, VIVIER et KUMLEBEN ARR

VERHOORDATUM: 8 MAART 1989

LEWERINGSDATUM: 22 MAART 1990

UITSPRAAK

BOTHA AR:-

2.

Die twee appeliante is op Humansdorp deur VAN REENEN Wn R en twee assessore skuldig bevind aan moord en aan roof met verswarende omstandighede. Ten opsig-te van die skuldigbevinding aan moord het die Verhoor-hof bevind dat daar geen versagtende omstandighede aanwesig was nie, en gevolglik is elk van die appel-lante ter dood veroordeel. Op die ander aanklag is die eerste appellant gevonnis tot 8 jaar gevangenisstraf en die tweede appellant tot 12 jaar gevangenisstraf. Die Verhoorregter het aan die appellante verlof toegestaan
om teen hulle skuldigbevindings na hierdie Hof in hoër
beroep te kom.
Die appellante het tereggestaan tesame met 'n derde beskuldigde, wat deur die Verhoorhof onskuldig bevind en ontslaan is. Hy was beskuldigde 3 by die verhoor en ek sal na hom as sodanig verwys.
Die oorledene in die saak was 'n vrou van ongeveer 50-jarige ouderdom. Sy het 'n kleinhoewe gehad by St Albans, in die distrik van Port Elizabeth. Sy
3. het nie blywend op die hoewe gewoon nie, maar het dit van tyd tot tyd besoek en soms oor naweke daar gebly. Om die hoewe te bereik, maak 'n mens gebruik van 'n grondpad wat ongeveer 50 tree geleë is vanaf die Nasionale pad na Port Elizabeth en wat ongeveer parallel daarmee loop. Daar is heelwat ander kleinhoewes in die omgewing. Op 'n grondstuk aangrensend tot die oorledene se kleinhoewe is daar 'n huis waarin twee Staatsgetuies, Henry Ruiters en Veronica Ruiters (hulle is broer en suster) gewoon het.
Daardie huis is geleë ongeveer 50 tree van die plek op
die grondpad waar die gebeure plaasgevind het wat hieronder beskryf word.
Gedurende die middag van Dinsdag 3 Junie 1986 het die oorledene haar kleinhoewe besoek. Teen laat namiddag het sy vandaar vertrek en in haar bakkie met die grondpad langs gery. Ongeveer 'n halwe kilometer van die hoewe af het sy haar bakkie tot stilstand gebring. Henry en Veronica RuiterS; wat albei die
4. oorledene en haar bakkie goed geken het, het van hulle huis af gehoor dat haar bakkie op die grondpad gaan staan het. Kort daarna het hulle 'n vrou (klaarblyklik die oorledene) hoor skreeu. Hulle het hulle na die pad gehaas. Toe hulle in die pad kom, het die oorledene se bakkie op hulle afgepeil en naby hulle verby gery. Hulle het twee mans in die bakkie gesien. (Ek kom later weer terug op hulle waarnemings in hierdie verband.) Die bakkie het weggery. Henry en Veronica Ruiters het die oorledene langs die pad sien lê. Sy
was swaar verwond en bebloed. Sy het daar gesterf.

Later, tydens 'n mediese nadoodse ondersoek, is daar vasgestel dat sy 'n menigte steekwonde oral oor haar liggaam opgedoen het, sommige waarvan noodlottig was. Uit waarnemings wat Henry en Veronica Ruiters op die toneel gedoen het, soos bevestig deur die polisiegetuienis, is dit duidelik dat die oorledene gedwing was om haar bakkie tot stilstand te bring as gevolg van versperrings wat in die pad geplaas was,
5. bestaande uit 'n drom en 'n rol draad. Die oorledene se bakkie is 'n paar dae later, op 8 Junie 1986, in 'n uitgebrande toestand gevind langs die ou Uitenhage-pad.
Met die verhoor in die Hof a quo het die eerste appellant erken dat hy op die toneel was toe die oorledene vermoor is, en dat hy in haar bakkie aanwesig was toe dit van die toneel weggery het. Die tweede appellant het egter ontken dat hy op die toneel of in die bakkie was, en dat hy enige kennis dra van die misdade. (Beskuldigde 3 se verweer was dieselfde.)

Ek behandel eers die geval van die eerste

appellant. Hy is op 7 Februarie 1987 in hegtenis geneem. In die daaropvolgende drie dae het hy drie verklarings afgelê: eers aan kapt Jonker, toe aan luit De Lange, en ten slotte aan 'n landdros, mnr Smith. Die inhoud van die drie verklarings is in alle wesenlike opsigte dieselfde; sulke verskille as wat daar is, het betrekking op kleinighede en raak geensins die beoordeling van die saak teen die eerste appellant nie.

6.

Ek haal dus slegs die laaste verklaring aan, dié aan
die landdros. Daarin verwys die eerste appellant na
die tweede appellant as "Garvel", en na beskuldigde 3
as "Qolisile". Die verklaring lui soos volg:

"Op Sondag was dit ek, Qolisile en Garvel
gewees - dit was verlede jaar op 'n Sondag.
Garvel vra toe vir ons of ons nie wil geld hê
nie. Ons sê toe ja, ons wil geld hê. Hy sê
toe kom ons gaan na sy huis toe. Ons kom toe
by sy huis in Veeplaas. Garvel sê toe vir
ons, ons sal die Dinsdag loop na 'n ander
Blanke vrou waar ons die geld sal gaan haal.
Hy sê die vrou is daar by St. Albans. Hy het
gesê ons sal nou saamry op die Dinsdag na die
plaas toe en ons sal nou daar op die plaas by
'n Gruispad wag wat lei na die vrou se plaas
toe.

Ons het toe ongeveer 3 uur die middag, die Dinsdag per bus gery na St. Albans. Ons het toe op St Albans aangekom en by 'n bushalte afgeklim. Ons gaan toe na die Gruispad toe. Toe ons by die pad kom het ons daar langs die gruispad plat gelê. Hierdie blanke vrou se bakkie het toe aangery gekom terwyl ons daar plat gelê het. Garvel sê toe, kom laat ons hom laat verbygaan en dan sal ons hom voorkeer as hy terugkom. Na 'n rukkie het die bakkie teruggekeer. Garvel het toe gesê ons moet 'n drom voor die bakkie op die pad se ryvlak sit asook 'n sifdraad -dit was 'n sifdraad rol waarna hy verwys het.

Nadat die vrou by hierdie drom en sif gekom het, het sy stilgehou. Toe sy uitklim

7.

het Garvel haar bespring en haar vasgegryp. Nadat Garvel haar so vasgehou het, het ek opgestaan en hulle na eenkant toe gestoot. Ek gaan toe na die voertuig toe. Garvel en Qolisile het mekaar gehelp om die vrou plat te gooi. Ek het om die voertuig gegaan na die linker deur, dit oopgemaak en by die "Cubbyhole" het ek toe 'n klein beursie wat R6,50 ingehad het, gevind. Ek het my kop toe opgelig as gevolg van die vrou se geskree en ek sien toe hoe Garvel die vrou steek met die mes. Hulle hardloop toe weg van die plek waar hulle haar laat val het en hulle klim in die voertuig in. Ons het toe almal in die voertuig geklim en na dit het Garvel toe die voertuig aangeskakel en weggery. Ons het toe gery tot by die Swart woonbuurt in Soweto. Nadat ons te Soweto aangekom het, het Garvel stil gehou. Ek klim toe af en ek vat die spaarwiel en Garvel - hulle het toe weggery. Ek het toe na my huis toe gestap. Voor ek by my huis aangekom het, het 'n ander man by my stil gehou en hy vra of ek nie die spaarwiel aan hom sal verkoop nie. Ek verkoop dit toe aan hom vir R10,00. Ek het toe na die huis toe gegaan. Ek het net vir 'n
oomblikkie vertoef en toe is ek na Garvel hulle se huis toe. Ek het hulle toe nie gekry nie. Ek het weer gegaan en hulle weer nie gekry nie. Ek het toe inligting ontvang dat hulle gevang was. Dit is al."

Tot die voorgaande verklaring het die landdros die
volgende aantekeninge bygevoeg:

"Verklaarder word meegedeel dat sekere
8.

vrae aan hom gestel gaan word met die doel om onduidelikhede in sy verklaring op te klaar maar dat hy nie daarop hoef te antwoord as hy nie wil nie.
Verklaarder gee te kenne dat hy die verduideliking sowel as sy regte verstaan.

VRAAG: U sê Garvel het gesê julle sal die
Dinsdag loop na 'n ander Blanke vrou

waar julle die geld sou gaan haal? ANTWOORD: Ja. VRAAG: Het Garvel gesê hoe julle die geld
in die hande sou kry? ANTW.: Ja, hy het gesê ons sou roof gaan
pleeg. VRAAG: Waarom het julle daar by die
gruispad gaan plat lê? ANTW.: Garvel het gesê ons moet so plat lê
dat die vrou ons nie kan sien nie. VRAAG: Is daar iets wat u wil wysig of

byvoeg tot u verklaring?

ANTW.: Nee, dit is reg so."

Die toelaatbaarheid van die eerste appellant

se verklarings as getuienis teen hom is nie in die Hof
a guo of op appèl aangeveg nie. In sy getuienis het
die eerste appellant aanvanklik ook die korrektheid van
die inhoud van die verklarings erken. Algaande in sy
getuienis het hy egter van houding verander en talle
aspekte van wat hy in sy verklarings gesê het.

9.

weerspreek. Uiteindelik het sy getuienis daarop neergekom dat daar npoit enige sprake daarvan was dat 'n
wit vrou beroof sou word nie, dat hy onder die indruk was dat daar slegs 'n inbraak by 'n huis sou wees, en dat die aanval op die oorledene vir hom 'n onverwagte gebeurtenis/ was wat hom met vrese teenoor die tweede appellant en beskuldigde 3 vervul het. Hy het selfs voorgegee dat hy nie geweet het waarom die versperrings in die pad geplaas is nie, en dat die tweede appellant en beskuldigde 3 hom later uit die bakkie laat klim het omdat hulle hom daarvan beskuldig het dat hy bang sou geword het (die wiel het hy sommer in die verbygaan van die bakkie afgehaal en vir homself toegeëien sonder die kennis van die ander twee mans).

Dit is duidelik uit die eerste appellant se weerspreking van sy eie verklarings en uit 'n

bestudering van sy getuienis as 'n geheel dat hy 'n

volslae leuenagtige getuie was, in so 'n mate dat geen waarde geheg kan word aan enige aspek van sy getuienis
10. nie. Die Verhoorhof het hom tereg beskou as "'n uiters ongeloofwaardige getuie". Die saak teen hom moet dus beoordeel word aan die hand van wat hy self gesê het in sy verklarings, gesien in die lig van die objektiewe feite wat vasstaan op grond van ander getuienis, en afleidings wat uit die geheel geregverdig is.
Die weergawe van die gebeure wat die eerste appellant in sy verklarings verstrek het, moet in twee opsigte as vals verwerp word, op grond van getuienis wat afgelê is deur Veronica en Henry Ruiters, wat albei die eerste appellant baie goed geken het. In die eerste plek het Veronica Ruiters getuig dat sy op die Maandagmiddag voor die Dinsdag toe die oorledene vermoor is, by dieselfde grondpad vir die eerste appellant en 'n ander man raakgeloop het. Die eerste appellant meld niks in sy verklarings van 'n besoek aan daardie gebied op die Maandag nie, en het in sy getuienis Veronica se bewerings in dié verband ontken. Die Verhoorhof het die "algemene strekking" van

11.

Veronica se getuienis aanvaar, en uit 'n bestudering van die oorkonde blyk dit dat daar geen rede bestaan om te dink dat Veronica hierdie gebeurtenis sou versin het nie. In die tweede plek het beide Veronica en Henry Ruiters getuig, met beslistheid, dat die oorledene se bakkie bestuur is deur die eerste appellant, toe dit vlak by hulle verby beweeg het op die Dinsdagmiddag nadat hulle na die grondpad gegaan het as gevolg van die oorledene se gillery. Die eerste appellant se bewering in sy verklarings dat hy 'n passasier in die
bakkie was, wat hy in sy getuienis herhaal het, kan nie
opweeg teen die getuienis van die Ruiterse nie. Daar moet dus aanvaar word dat die eerste appellant, na die beplanning van die rooftog op die Sondag, op die Maandag reeds op die toneel was, en dat hy op die Dinsdag die persoon was wat die bakkie bestuur het nadat die oorledene daarvan beroof is.

Daar kan geen twyfel wees nie dat die eerste appellant 'n ten volle bewuste en gewillige deelnemer
12. was aan die beplanning en die uitvoering van die roof op die oorledene, en dat hy dus tereg skuldig bevind is aan roof met verswarende omstandighede. Wat betref die moord van die oorledene, moet daar, by ontstentenis van getuienis tot die teendeel, ten gunste van die eerste appellant aanvaar word dat hy nie self 'n aktiewe rol gespeel het in die werklike aanranding van die oorledene nie, maar dat, soos hy beweer, dit die tweede appellant was wat haar doodgesteek het. Of die eerste appellant tereg skuldig bevind is aan die moord, hang gevolglik af van die vraag of die eerste appellant subjektief die moontlikheid voorsien het dat die tweede appellant die oorledene sou aanrand deur haar met 'n mes te steek, op so 'n wyse dat dit haar dood sou veroorsaak, en of hy hom met so 'n moontlikheid vereenselwig het, in die sin dat dit hom nie kon skeel of dit verwerklik sou word nie. Na my oordeel moet die vraag bevestigend, téên die eerste appellant, beantwoord word, om die redes wat volg.
13. Die rooftog in hierdie geval is deur buitengewone goeie beplanning voorafgegaan. Toe die plan op die Sondag bespreek is, moes dit reeds aan die deelnemers bekend gewees het waar die oorledene se kleinhoewe geleë was, langs watter pad sy moes ry om daar uit te kom, en dat sy van voorneme was om 'n besoek daar af te lê. Dit is ondenkbaar dat die rowers nie sou bespreek het hoe hulle te werk sou gaan om die oorledene van haar bakkie te beroof nie. Na alle waarskynlikheid het die bespreking alreeds op die Sondag plaasgevind, maar in ieder geval sou die besonderhede van die beoogde optrede nie later plaasgevind het as die middag voordat die oorledene van die hoewe teruggekeer het nie. Die feit dat die eerste appellant en 'n makker reeds op die Maandagmiddag naby die toneel gesien is, dui as 'n sterk waarskynlikheid daarop dat die doel van die besoek was om die terrein te gaan verken en die plan van aksie uit te werk. Die omgewing kan geensins as afgeleë beskou word nie; soos
14. vroeër aangedui, is die Nasionale pad daar naby, en is daar heelwat ander kleinhoewes in die nabyheid, asook die huis van die Ruiterse. Die rowers moes klaarblyklik besef het dat hulle sou moes gou speel om hulle na die roof uit die voete te maak. Daarbenewens sou hulle ook besef het dat daar 'n wesenlike gevaar was dat die oorledene haar sou kon verset teen die aanval en dat sy alarm sou kon maak deur te skreeu, soos inderdaad gebeur het. In al die omstandighede is die afleiding onafwendbaar dat die rowers sou bespreek het hoe hulle sou optree om enige moontlike weerstand van die oorledene te oorkom en om enige poging van haar kant om alarm te maak, so spoedig moontlik kort te knip.
Die wyse waarop die rowers die roof uitgevoer het, getuig ook van deeglike voorafbeplanning. Dit blyk uit die getuienis dat die versperrings in die pad geplaas is kort na 'n draai in die pad vanuit die rigting vanwaar die oorledene aangery gekom het, sodat sy dit eers sou kon waarneem toe sy alreeds baie naby
15. daaraan was. Volgens die eerste appellant se eie relaas, was daar oombliklik nadat die oorledene uit haar bakkie geklim het, 'n gelyktydige optrede van elk van die rowers: die eerste appellant self het direk na die bakkie gegaan, terwyl die tweede appellant en beskuldigde 3 op dieselfde tyd die oorledene gepak het en tot oorgawe en stilte gedwing het. Die afleiding is onafwendbaar dat elkeen se rol vooraf goed beplan is.
Die eerste appellant het in sy getuienis beweer dat hy nie geweet het dat die tweede appellant 'n

mes in sy besit gehad het nie. Na my oordeel is hierdie bewering bo redelike twyfel vals. Afgesien van die eerste appellant se ongeloofwaardigheid in die algemeen, is dit ondenkbaar, met die oog op die omstandighede hierbo genoem, dat die rowers nie onder mekaar sou bespreek het watter middele hulle tot hulle beskikking gehad het om die oorledene te oorrompel en stil te maak indien dit nodig sou wees nie. Die bevinding is dus onvermydelik dat die eerste appellant
16. wel bewus was daarvan dat die tweede appellant gewapen was met 'n mes, en die verdere afleiding wat daaruit geregverdig is, bo redelike twyfel, is dat die eerste appellant inderdaad voorsien het dat die mes gebruik sou kon word om die oorledene te oorrompel en stil te maak, met moontlike noodlottige gevolge. Die feit dat hy nogtans deelgeneem het aan die roof toon aan dat dit vir hom om die ewe was of die oorledene gedood sou word al dan nie.

Die voorgaande gevolgtrekkings word onder-

skraag deur die eerste appellant se optrede nadat hy
die aanranding op die oorledene waargeneem het. Sy be-werings dat hy daardeur verras is en bevrees geword het, is klaarblyklik vals. Hy is die man wat die bakkie bestuur het toe daar van die toneel weggery is. Hy het vir homself die beursie met die oorledene se geld geneem en dit behou. Hy het die wiel van die bakkie afgehaal en vir sy eie voordeel verkoop. Hy het daarna pogings aangewend om sy mederowers te gaan

17.

opsoek. Alles dui daarop dat, verre daarvandaan dat hy verras en verskrik was, hy hom ten volle vereenselwig het met die lot wat die oorledene getref het.
Die eerste appellant se skuldigbevinding aan moord is dus ook onaanvegbaar.
Alhoewel geen verlof toegestaan is aan die eerste appellant om te appelleer teen die Verhoorhof se bevinding dat daar geen versagtende omstandighede aanwesig was nie, het die advokaat wat namens hom in hierdie Hof opgetree het, tog getrag om daardie
bevinding aan te val, op grond van 'n bewering wat die
eerste appellant in sy getuienis gemaak het aangaande sy ouderdom: hy het gesê dat hy in 1969 gebore is. Hierdie bewering van die eerste appellant is egter waardeloos. Afgesien daarvan dat die eerste appellant in sy verklaring aan kapt Jonker op 8 Februarie 1987 sy ouderdom verstrek het as 22 jaar, is die kwessie van sy ouderdom pertinent geopper in die stadium toe die Verhoorhof op die vraag na versagtende omstandighede
18. ingegaan het. Die Verhoorhof is toe meegedeel dat die eerste appellant se moeder beskikbaar was om te getuig oor sy ouderdom, en dat sy sou getuig dat die eerste appellant in 1964 gebore is. Die Verhoorregter het toe daarop gewys dat dit in ooreenstemming is met wat die eerste appellant aan die polisie meegedeel het, en dit is bevestig deur die advokaat wat in die Hof a quo namens die eerste appellant opgetree het. Daarop het die Verhoorregter aan die advokaat die vraag gestel of die Verhoorhof kon aanvaar dat die eerste appellant in

1964 gebore is, waarop die advokaat bevestigend
geantwoord het. Die eerste appellant se ouderdom was dus in werklikheid nie in geskil nie. Die poging in hierdie Hof om iets te maak van die eerste appellant se ouderdom het niks om die lyf nie.

Die eerste appellant se appèl moet dus misluk.

Vervolgens behandel ek die geval van die tweede appellant. Soos vroeër genoem, het hy ontken
19. dat hy enigsins betrokke was by die roof en die dood van die oorledene. Die eerste appellant se getuienis wat hom daarby betrek, is van so 'n swak gehalte, met inagneming daarvan dat dit die getuienis van
'n medepligtige is, dat dit vir alle praktiese doeleindes buite rekening gelaat moet word in die oorweging van die saak teen die tweede appellant.
Die Staat se saak teen die tweede appellant het berus op die getuieis van Veronica Ruiters. Sy het getuig dat sy gesien het dat die tweede appellant die passasier in die oorledene se bakkie was toe dit verby haar en haar broer gery het kort na die roof. Anders as in die geval van die eerste appellant, het Veronica egter nie die tweede appellant van vroeër af geken nie. Sy het hom die eerste keer gesien, volgens haar getuienis, die vorige middag, die Maandag, toe hy in die geselskap van die eerste appellant was en sy hulle op die grondpad teengekom het. In die geval van die tweede appellant het die Verhoorhof dus te doen gehad
20. met die enkele uitkenningsgetuienis van Veronica Ruiters, wat 'n versigtige benadering geverg het.
Uit 'n ontleding van die oorkonde blyk dit dat Veronica Ruiters se getuienis oor die wyse waarop sy die tweede appellant in die oorledene se bakkie uitgeken het, in verskeie opsigte uiters onbevredigend was. Om die volle trant van haar getuienis in hierdie opsig hier weer te gee, sou te ondoenlik wydlopig wees. Ek stip dus net sekere hooftrekke aan. In haar hoofgetuienis het sy ter aanvang haar uitkenning van die tweede appellant regstreeks en uitsluitlik vas gekoppel aan 'n mus wat hy op sy kop gehad het, waarna in die getuienis verwys is as 'n balaclava, wat volgens haar dieselfde mus was as wat sy die vorige middag (Maandag) op sy kop gesien het. Ten aansien van daardie mus het sy met verdere ondervraging spoedig in 'n moeras van verwarring en self-weerspreking verval. Daar was voor die Verhoorhof, as bewysstuk 1, 'n
blouerige balaclavamus wat die polisie by die liggaam

21 .

van die oorledene aangetref het. Die getuie het egter ontken dat bewysstuk 1 die mus was wat by die oorledene gelê het; daardie mus, sê sy, was groen, en dit was die mus wat die eerste appellant op die Maandag gedra het. Later sê sy dat bewysstuk 1 die mus was wat die eerste appellant op die Maandag gedra het, omdat dit die mus was wat by die oorledene aangetref was - en dat sy 'n fout gemaak het toe sy gesê het daardie mus was groen. Sy kon toe nie onthou wat die kleur was van die mus wat die tweede appellant op die Maandag en op die Dinsdag (in die bakkie) gedra het nie. Haar uitkenning van die tweede appellant in die bakkie, aan die mus wat hy gedra het, is dus uiters wankelrig. Tog volhard sy daarin, maar met verdere ondervraging, onder klaarblyklike druk, voeg sy toe by dat sy sy gesig ook herken het. Daarop blyk dit dat sy die vorige dag opgemerk het dat die tweede appellant 'n skeel oog het (wat wel die geval is), maar terselfdertyd gee sy toe dat sy nie sy skeel oog in die verbygaande bakkie kon

22.

raakgesien het nie. Haar getuienis oor die uitkenning in die bakkie lei dus nêrens nie.
Volgens Veronica Ruiters het sy reeds op die dag na die gebeure (die Woensdag) aan kapt Jonker gesê dat sy die persoon wat saam met die eerste appellant in die bakkie was, sou kon uitken (maar sy het dit met haar broer Henry eers op die Vrydag bespreek). Volgens kapt Jonker is Veronica se getuienis in dié verband verkeerd; sy het eers meer as vyf maande later aan hom gesê dat sy die tweede persoon in die bakkie sou kon uitken. Dit wys dat sy 'n onbetroubare getuie in hierdie verband is. Daarby is daar twee ernstige leemtes in die Staat se saak met betrekking tot die getuie se uitkenning van die tweede appellant, wat onopgeklaar gebly het. Die eerste is dat kapt Jonker nie by die getuie vasgestel het waaraan sy die tweede appellant sou kon uitken nie. Die tweede is dat die polisie nie 'n uitkenningsparade gereël het waarop die getuie die tweede appellant sou kon uitgewys het nie.

23.

In die lig van hierdie leemtes is Veronica se getuienis aangaande die tweede appellant se skeel oog van geen werklike waarde nie. Dit het eers uitgekom nadat sy al 'n ruk lank getuig het, en sy het dus die geleentheid gehad om die tweede appellant se voorkoms in die hof waar te neem. So 'n uitkenning in sulke omstandighede is nie bevredigend nie.
Daar is 'n verdere aspek van Veronica Ruiters se uitkenningsgetuienis wat 'n mens tot onrus stem. Haar geleentheid om iemand in die bakkie te eien wat sy nog net een keer tevore gesien het, was uiters beperk Volgens haar getuienis en dié van haar broer Henry het die bakkie direk en vinnig op hulle afgepeil. Sy self sê dat hulle geskrik het - hulle lewens was in gevaar. Daarbenewens was dit al skemer en die bakkie moes in 'n
oogwenk by hulle verby beweeg het.

Uit die uitspraak van die Verhoorregter blyk dit nie dat die Verhoorhof ten, volle bedag was op die gebreke in die getuienis van Veronica Ruiters en die

24.

omsigtigheid wat vereis was in die beoordeling daarvan nie. Soos vroeër vermeld, het die Verhoorhof die "algemene strekking" van haar getuienis aanvaar, maar dit bied nog geen voldoende waarborg vir die betroubaarheid van haar uitkenningsgetuienis ten opsigte van die tweede appellant nie.
Die Verhoorregter het wel opgemerk dat Veronica Ruiters se getuie.nis "op sigself" nie voldoende sou wees om tot die gevolgtrekking te kom dat die tweede appellant wel op die toneel aanwesig was

nie, maar dat 'n belangrike faktor in die oorweging van

die saak die leuenagtige getuienis was wat die tweede appellant self afgelê het. Hierdie getuienis het betrekking gehad op 'n sogenaamde alibi waarmee die tweede appellant in die loop van sy kruisondervraging vorendag gekom het. Ek wil terloops sê dat ek, met eerbied, nie met al die Verhoorhof se gronde van kritiek teen die tweede appellant se getuienis saamstem nie, maar dit is nie nodig om daarop in te gaan nie.
25. Ek sal aanvaar dat die tweede appellant 'n valse alibi opgewerp het. Na my oordeel is dit egter nie 'n
oorweging wat voldoende gewig dra om die gebreke in die Staatsaak wat ek hierbo uitgewys het, en wat die Verhoorhof nie na behore onder die oë gesien het nie, te besweer nie.
Ten slotte het die Verhoorhof vir sy skuldigbevinding van die tweede appellant sterk gesteun op 'n verdere oorweging, wat na my oordeel, met eerbied gesê,ten onregte teen die tweede appellant aangewend is. Dit het berus op 'n stukkie getuienis wat beskuldigde 3 afgelê het. Kortliks gestel, het beskuldigde 3 getuig dat op 'n sekere Vrydag die eerste appellant by sy huis opgedaag het, waar die tweede appellant ook aanwesig was; die eerste appellant het 'n

bakkie bestuur, wat volgens beskuldigde 3 se beskrywing in sommige opsigte ooreengestem het met die beskrywing wat in ander getuienis gegee is van die oorledene se bakkie; die eerste appellant, die tweede appellant, en

26.

beskuldigde 3 het toe in die bakkie rondgery, terwyl die eerste appellant van plek tot plek hoenders verkoop het en daar met die geld wat so verkry is, op verskeie plekke drank gekoop is wat al drie van hulle verorber het. Die tweede appellant het in sy getuienis nadruklik ontken dat daar ooit so iets gebeur het (die eerste appellant ook). Die Verhoorhof het bevind dat beskuldigde 3 "oor die algemeen ... 'n geloofwaardige getuie" was; dat die "hoender-verkoping en die drank koop ... op sigself 'n onskuldige uitstappie" was; maar dat die tweede appellant se ontkenning daarvan dit "'n onheilspellende gebeurtenis" gemaak het. Na my mening het die Verhoorhof hier misgetas, deur nie in gedagte te hou dat beskuldigde 3 se getuienis met dieselfde versigtigheid benader moes word as dié van 'n medepligtige nie. As beskuldigde 3 by die roof en die moord van die oorledene betrokke was, soos goed moontlik is, sou hy vanselfsprekend 'n motief gehad het om die appellante aan 'n bakkie soos diê van die
27. oorledene vas te koppel en terselfdertyd homself te verontskuldig. Sy getuienis en die tweede appellant se ontkenning daarvan moes gevolglik nie deur die Verhoorhof gebruik gewees het om die skuldigbevinding van die tweede appellant te beklink nie.
Om die voorgaande redes is my gevolgtrekking dat die tweede appellant se aandadigheid aan die misdade wat hom ten laste gelê is, nie bo redelike twyfel bewys is nie, en dat sy appèl moet slaag.

Die bevel van die Hof is soos volg:

(1)Die appèl van die eerste appellant-(Welile Xhanti) word van die hand gewys.
(2)Die appèl van die tweede appellant (Gavin Joseph Menemene) word gehandhaaf. Sy skuldigbevindings aan moord en aan roof met verswarende omstandighede, asook die doodvonnis en die vonnis van 12

28.

jaar gevangenisstraf wat hom opgelê is, word tersyde gestel.

A.S. BOTHA AR

VIVIER AR
STEM SAAM KUMLEBEN AR