South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1990 >> [1990] ZASCA 3

| Noteup | LawCite

S v Mahlangu en Andere (200/89) [1990] ZASCA 3 (27 February 1990)

Download original files

PDF format

RTF format


CG SAAKNOMMER: 200/89

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèl AFDELING)

In die saak van:

BOOKIE MAHLANGU Appellant no 1

JOHANNES MOLEFE Appellant no 2

THOMAS MALAHLELA Appellant no 3

en

DIE STAAT Respondent

CORAM: BOTHA, MILNE ARR. et NIENABER WAR. AANGEHOOR: 15 FEBRUARIE 1990 GELEWER: 27 FEBRUARIE 1990

UITSPRAAK NIENABER WAR.

2

Die grusame gebeure wat hier ter sprake is, het hul gedurende Junie 1986 in die swart woongebied, Tembisa, naby Kemtonpark, afgespeel. Dorah Habanantho, 'n
25-jarige vrou, is lewendig verbrand. Indertyd het sy by haar swaer, David Seleka, in die Kopanongwyk van Tembisa ingewoon. Sy was die minnares van ene Frans Seshebedi. Seshebedi het terselfdertyd ook 'n verhouding gehad met ene Verina Mabusela. Verina Mabusela is kort vantevore oorlede - skynbaar aan natuurlike oorsake. Gerugte was egter in die buurt in omloop dat Dorah Habanantho haar vergiftig het. 'n Sogenaamde nagwaak is vir Vrydagaand die 27ste Junie 1986 ter ere van Verina Mabusela gereël. Verina Mabusela was blykbaar 'n simpatiseerder met 'n plaaslike groep wat alom as die "Comrades" bekend gestaan het, 'n benaming wat dikwels gedurende die verhoor gebesig maar nooit presies omskryf is nie. Tydens die nagwaak het 'n groepie jong mans wat algemeen as Comrades beskou is, die seremonie onderbreek en oorgeneem. Stemme het

3

opgegaan dat Dorah Habanantho gehaal moes word sodat sy oor Verina Mabusela se dood ondervra kon word. 'n Groep, ses of sewe van die jong mans, is toe daar weg. Sy is inderdaad by haar woonplek gaan haal. Dit was perseel 55, Kopanong. Sy is egter nooit, volgens die getuienis, na die tent waar die nagwaak plaasgevind het, gebring nie. Haar naakte verkoolde lyk is vroeg die volgende oggend gevind, sowat 117 meter van perseel 55 af, oorkant die St Johns-kerk. Onder haar kop was 'n deels uitgebrande motor-buiteband en langs haar lyk 'n 2 liter verskroeide blik.

Vier beskuldigdes is in die Witwatersrande Plaaslike Afdeling van haar moord aangekla. Hul verhoor het oor langer as 'n jaar gestrek. Een van hulle, beskuldigde no 2, is onskuldig bevind en ontslaan. Die ander drie, die huidige appellante, is daarenteen almal skuldig bevind en ter dood veroordeel. 'n Aansoek om verlof om teen die skuldigbevindings en vonnisse te

4

appelleer, is geweier maar verlof is wel deur die Hoofregter verleen om teen die skuldigbevindings te appelleer. Vandaar die huidige appèl.
Die bevindings van die verhoorhof berus enersyds op die direkte getuienis van 'n beweerde ooggetuie en andersyds op sekere omstandigheidsgetuienis. Die direkte getuienis is dié van Philemon Skosana wat ten tyde van die voorval 14 en ten tyde van sy getuienis bykans 15 j aar oud was. Hy het vertel hoe die drie appellante die oorledene kort voor 6 uur die Saterdagoggend eers verkrag en toe verbrand het. Om sy getuienis, en tewens die omstandigheidsgetuienis, beter in oënskou te neem, is dit doenlik om eers, min of meer kronologies, oor die gebeure wat die moord voorafgegaan het, kommentaar te lewer.

David Seleka, swaer van die oorledene, Dorah Habanantho, is saam met Frans Seshebedi na die nagwaak by perseel 16 Kopanong, waar 'n tent vir die geleentheid

5

opgeslaan is. Tradisioneel duur so 'n nagwaak die hele nag wat die begrafnis voorafgaan. Verina Mabusela se begrafnis sou die Saterdag die 28ste Junie 1986 plaasvind. Seleka en Seshebedi is vroeg die Vrydagaand soontoe. Daar tref Seleka vir appellant no 1 aan. Saam is die twee van hulle daar weg om 'n predikant te gaan soek om die diens te lei. Na verskeie vrugtelose pogings kom hulle uiteindelik by Ezekiel Mtabi uit. Hy stem in om te gaan help en vergesel hulle na die nagwaak waar die diens, in die teenwoordigheid van 'n groot aantal mense, 'n aanvang neem. Appellant no 3 het as tolk vir die predikant opgetree.

Daar is, soos mens kan verwag, verskille tussen die weergawes van die onderskeie staatsgetuies, asook die appellante, oor die presiese wat, waar en wanneer van alles wat gebeur het, maar hierdie verskille is nie noodwendig deurslaggewend nie en die tye wat deur die verskillende getuies en appellante verstrek is, moet

6

klaarblyklik as benaderde tye beskou word.
Wat wel van belang is, is dat die diens op 'n stadium deur 'n rumoer onderbreek is. Omtrent almal wat oor die insident getuig het, was dit eens dat 'n groepie jong mans die tent binnegekom het. Meeste van die getuies plaas die groepie in die omgewing van ses tot sewe jong mans ofskoon die predikant, Mtabi, van ongeveer sestig jong mans praat. Volgens hom het hulle nie uniforms aangehad nie, terwyl van die ander weer meld dat die jong mans opsigtelik in bruin klere met lap hoede geklee was, 'n formele styl wat skynbaar by die Comrades van die omtrek gewild was. Seleka vertel dat hy en Seshebedi die nagwaak 'n rukkie vroeër verlaat het om by Vincent se nabygeleë shebeen te gaan bier drink toe 'n klompie jong mans wat met stokke en sambokke gewapen was, hulle daar uitgeboender en beveel het om na die nagwaak terug te keer. Daar aangekom, was die skare besig om sogenaamde vryheidsliedere te sing. Volgens die

7

predikant was hy nog besig om te preek toe die groep jong mans die tent binnekom en sê "Maruti, predikant, hou nou op met jou dienste. Dit is nou ons kans dat ons moet werk". Dit is toe dat hy sy boeke vat en loop. Van wat daarna in die tent gebeur het, weet hy dus niks nie. Hy plaas diê insident teen omstreeks 3 uur die oggend. Volgens Seleka en ene Edward Phoka wat ook daar teenwoordig was, het dit egter ietwat vroeër die aand gebeur. Daarmee stem die appellante saam. Waaroor die staatsgetuies en die appellante egter wel verskil, is of die daaropvolgende reeks gebeure plaasgevind het nadat die predikant reeds weg is (soos die staatsgetuies beweer), of terwyl die predikant nog teenwoordig was (soos die appellante getuig). Diê reeks gebeure was die volgende:

Volgens David Seleka het 'n jong man, nadat hy en Seshebedi van Vincent se shebeen na die nagwaak teruggekeer het, vir hom en ander opgeroep 'om die

8

teenwoordiges oor die omstandighede rondom die dood van Verina Mabusela toe te spreek. David het aan die skare verduidelik dat hy saam met familielede van Verina na die lykshuis gegaan het waar hy meegedeel is dat dit, na 'n lykskouing, geblyk het dat sy aan natuurlike oorsake oorlede is. Dié inligting het egter nie allesins by die skare byval gevind nie. Dorah se naam is genoem. Iemand in die skare het gesuggereer dat sy vir Verina se dood verantwoordelik was. Daarop het daar stemme van oral opgegaan dat Dorah óntbied moes word sodat sy oor Verina se dood ondervra kon word. Ses of sewe van die j ong mans, almal in 'n soort bruin uniform geklee, met lap hoede op, het volgens David Seleka uitgeroep: "Seconded, seconded". Volgens Seleka was die tweede appellant 'n voorbok onder dié groep jong mans wat die oorledene moes gaan haal. Buitekant die tent het die tweede appellant hom aan die lapel van sy jas gegryp, hom rondgepluk, en beveel om die groep na sy huis te neem.

9

Hy is egter nie saam toe die groep, tweede appellant inkluis, daar weg is nie.
Die drie appellante ontken nie dat hulle die nagwaak bygewoon het nie. Volgens aldrie van hulle het hulle saam daar opgedaag. Hulle woon trouens in aangrensende huise in 'n naburige wyk bekend as Mashemong. Elkeen van hulle was in die buurt onder 'n bynaam bekend: die eerste appellant as "Star", die tweede appellant as "Teko" en die derde appellant as "Seven".

Die eerste appellant bevestig dat hy saam met David Seleka vir 'n predikant gaan soek het; hy was by toe die derde appellant getolk het; hy bevestig dat daar, teen ongeveer 2 uur die nag, 'n groep jong mans by die tent opgedaag het, ses tot sewe van hulle, in uniform geklee; een van hulle het na David Seleka gegaan; die predikant het ophou preek; David Seleka is saam met hulle die tent uit. Daarna het die predikant met sy preek voortgegaan en die derde appellant het steeds

10

getolk. (In dié opsig weerspreek die predikant, soos reeds gesê, die getuienis van aldrie die appellante. Die verhoorhof glo die predikant en lei daarvan af dat die drie appellante in hul getuienis 'n vals storie aan die verhoorhof probeer opdis het. Hierop kom ek aanstons terug.)
Die eerste appellant het aan die polisie 'n verklaring gemaak, bewysstuk N. Wat homself betref is dit 'n volkome verontskuldigende verklaring. Albei van sy mede-appellante word egter indirek daarin by die geweldpleging ingesleep vir sover hy aan elkeen 'n prominente rol tydens die gebeure toedig en impliseer dat hulle hul met die doelwitte van die groep jong mans vereenselwig het. In sy latere getuienis het die eerste appellant egter voet by stuk gehou dat hy nooit so iets gesê het nie. Al glo 'n mens die eerste appellant nie dat hy voorgesê is om sy mede-appellante in sy verklaring by die moord te betrek nie, geld dit nie as getuienis wat

11

teen hulle tel nie. Die eerste appellant het die verklaring probeer repudieër kwansuis op grond daarvan dat hy deur die polisie aangerand en voorgesê is wat om in die verklaring te vermeld - maar hierdie poging was, soos die verhoorhof tereg bevind het, 'n volslae mislukking. Die besonderhede wat in die verklaring vervat is kon kwalik van die polisie afkomstig wees. Indien die polisie hom voorgesê het en deur geweld kon manipuleer wat om te sê, is dit moeilik in te sien waarom die verklaring nou juis dié vorm en inhoud sou aanneem; dan sou mens verwag het dat daar heelwat meer inkriminerende inligting in die verklaring oor homself en sy mede-beskuldigdes vervat sou gewees het. Maar na dit alles gesê is, bewys die dokument eintlik niks meer as dat die eerste appellant 'n leuenaar is nie.

Die tweede appellant erken dat hy buite die tent, toe die groep jong mans op die punt gestaan het om te vertrek, aan Seleka se jas gevat het, maar hy gee 'n

12

totaal ander vertolking aan die insident as Seleka.
Volgens hom het hy Seleka uit besorgdheid gevra waarheen hy saam met die vreemdelinge op pad is, en Seleka antwoord toe: "Teko, kom saam, want ek weet nie waarheen neem hierdie mense vir my; kom dat jy kan sien wat gebeur." Seleka is toe saam met die groep daar weg en hyself is agterna, ofskoon bloot as toeskouer en nie as 'n deelnemer nie. Seleka bevestig dat die tweede appellant die groep vergesel het maar ontken weer dat hy dit self gedoen het. Hy sê dat hy op dié stadium, nadat die groep vertrek het, vir die derde appellant by die nagwaak teëgekom het en dat laasgenoemde vir hom gesê het: "Broer, dinge is nou sleg". (Die derde appellant, op sy beurt, ontken weer die besondere gesprek.)
Oor die ontvoering self getuig Regina Seleka, vrou van David Seleka. Volgens haar het dit teen ongeveer 2.30 die oggend gebeur - wat min of meer by die getuienis van David en die appellante inpas oor wahneer

13

die groep uit die tent weg is. Sy was nog vas aan die

slaap toe die deur van haar huis oopgestoot is. Sy het
gedink dit is "tsotsi's". Die persone was almal vermom.

Hulle het wel bruin uniforms aangehad. Hulle het die

oorledene gedwing om saam met hulle te vertrek. Sy het 'n

"skipper" aangehad en het haarself in 'n kombers

toegewikkel.

Oor wat direk daarna gebeur het, verstrek die

tweede appellant twee verskillende weergawes, die een in

sy verklaring, bewysstuk L, wat voor 'n landdros afgeiê

is, en die ander in sy daadwerklike getuienis. In albei

gevalle openbaar hy 'n diepgaande kennis omtrent die

omstandighede waaronder die oorledene volgens hom vermoor

is. Die verklaring, bewysstuk L, lui soos volg:

"Ons was by 'n 'Night vigil' . Daar was kerk gehou daar. Tussen die mense daar het hulle gesê die oorledene was gif gegee deur 'n ander swart vrou David, Doureen se swaer, het voorgestel dat Doureen gehaal moet word. Hulle moet haar verbrand. Hulle het beweer sy het 'n polisiebeampte aan die brand gesteek". David

14

het vir my en Petrus en ander swart seuns wie weermagbroeke aan het versoek om saam te gaan. By 'n hoek van 'n straat het ek gestaan. Dit was drie strate van die straat waar Doureen bly. David het die ander het met die swart vrou Doureen gekom. Daarna het hulle 'n buiteband en petrol gaan soek. David het toe 'n buiteband om Doureen se nek geplaas en Petrus het toe petrol op haar kop gegooi. Een van daardie seuns het haar toe aan die brand gesteek. Ek het toe teruggegaan na die 'night vigil'. David en die ander het toe daar gekom en gesê hulle het haar aan die brand gesteek. Die mense het toe weggehardloop. Die volgende oggend het ek haar gesien lê toe sy verbrand was. Ek het die polisie gewys waar sy gelê het. Op daardie dag het ek seilskoene aangehad. My moeder het my versoek om 'n hoender te slag. Ek het toe die hoender met my skoene vasgetrap. Ek het sy nek afgesny en bloed het op my skoene gespat. Thomas het die polisie vertel dat ek daar aangekom het met bebloede skoene. Dit was die hoender se bloed. Dit is al."

Daarvolgens pak die tweede appellant die skuld vierkant op David Seleka en Petrus. (Petrus was beskuldigde no 2 wat vrygespreek is; die "Thomas" na wie in die verklaring verwys word, is klaarblyklik die derde appellant.)

In sy getuienis beweer die tweede appellant
15

egter dat hierdie verklaring vol onwaarhede is wat deur die poiisie met geweld en dreigemente op hom afgedwing is. Soos met die eerste appellant se verklaring (bewysstuk N) die geval was , verwerp die verhoorhof, om goeie en oortuigende redes, ook hierdie verduideliking. Sy pogings om homself van die verklaring te distansieër maak van die tweede appellant 'n blatante leuenaar.
In sy getuienis verstrek hy weer 'n totaal ander weergawe. Daarvolgens agtervolg hy die groep, op Seleka se versoek, tot by laasgenoemde se huis, perseel 55, versteek hy homself in 'n toilet daarbuite, alles uit blote nuuskierigheid; en volg hy hulle toe hulle saam met die oorledene die huis uitkom. Strydig met sy verklaring was Seleka diê keer nie by nie; hy sou dan in die huis agtergebly het. (Hierin word hy, soos reeds gesê, teegespreek deur Regina en natuurlik deur David Seleka self. Volgens beide van hulle het Seleka eers die volgende oggend daar opgedaag op soek na die oorledene.)

16

Appellant no 2 beweer dat hy deurentyd bloot 'n toeskouer en as sodanig geheel en al onskuldig was. Hy het waargeneem hoe die oorledene, by die plek waar hy verduidelik het(h hele end van waar die lyk uiteindelik ontdek is) aan die brand gesteek is. Nie een van die persone wat haar weggevoer en uiteindelik verbrand het, kon hy in sy getuienis identifiseer nie. Die oorledene het daarna weggehardloop. Hy meld egter nie of sy weggehardloop het met die brandende band om haar lyf nie. Hoe die band op die plek sou gekom het waar haar lyk uiteindelik gevind is, en waar die blik wat langs haar lyk ontdek is, vandaan kom, is volgens hierdie weergawe moeilik verklaarbaar. Volgens hom is hy, ná die grusame gebeure, onmiddellik na die nagwaak terug waar hy die derde appellant, wat steeds besig was om die predikant se preek te tolk, stilgemaak en aangesê het om die toehoorders mee te deel dat die groep Iemand verbrand het. Dit is weer strydig met die getuienis van die

17

predikant self wat op daardie stadium, volgens sy weergawe, nie meer in die tent teenwoordig was nie. Ondanks die tweede appellant se oproep het niemand die oorledene te hulp gesnel nie. Hy ook nie. Almal het weggehardloop. Hy ook. Hy is na 'n shebeen waar hy tot die volgende oggend omstreeks 5 uur vertoef het. Op pad huis toe kom hy op die oorledene se lyk af by die plek waar dit uiteindelik gevind is. Sy verduideliking van hoe hy geweet het dat dit juis die oorledene se lyk was, was onoortuigend terwyl sy poging om dle bloed op sy skoene wat vir ander sigbaar was, te verduidelik, tereg deur die verhoorhof verwerp en as "amper amusant" beskryf is.
Volgens hierdie weergawe het hy, soos reeds gesê, 'n besondere kennis gehad van hoe die oorledene aan haar pynlike einde gekom het; daarbenewens het hy klaarblyklik nie in alle opsigte vir die hof die waarheid vertel nie. Op die volle implikasies hiervan kom ek te

18

gelegener tyd terug.

Die derde appellant het eweneens nie as getuie oortuig nie en sy advokaat het dit, tydens betoog voor ons, as uitgangspunt aanvaar dat die verhoorhof die derde appellant tereg as 'n leuenaar bestempel het. Niks in die getuienis het egter daarop gedui dat hy die groep wat die oorledene sou gaan haal vergesel het nie. Volgens Phoka was hy ook nie in die uniform van die Comrades geklee nie. Seleka self het gesê dat kort nadat die groep weg is hy die derde appellant in die tent teëgekom het toe die derde appellant vir hom gesê het "Broer, dinge is sleg". Kortom, niks in die getuienis self, behalwe vir die getuienis van Philemon Skosana waarby ek binnekort kom, dui enigsins daarop dat die derde appellant by die dood van die oorledene betrokke was nie. Dit is wel so dat hy die getuienis van die ander appellante probeer onderskraag as sou die predikant nog besig gewees het met sy preek toe die tweede appellant opnuut sy opwagting by

19

die nagwaak gemaak het. As mens die predikant se getuienis aanvaar, soos die verhoorhof dit na my mening tereg gedoen het, toon dit dat die derde appellant bereid was om sy getuienis in die hof by dié van sy mede-appellante aan te pas. Daaruit kan mens egter nie die afleiding maak dat hy 'n party tot 'n sameswering was om die oorledene te vermoor nie. Dit is ook so dat sy eie getuienis oor wat hy na die tyd gedoen het nie konsekwent en oortuigend was nie. Maar ook dit regverdig geen ander afleiding as dat sy getuienis nie betroubaar is nie; op sigself beteken dit nie dat hy met die moord op die oorledene gemoeid was nie.
Die getuienis wat tot dusver bespreek is, toon dat die gewraakte gebeure alles in die vroeë oggendure, omstreeks 3 uur, plaasgevind het.
Dit strook geensins met die getuienis van die enigste ooggetuie wat deur die Staat geroep is nie, nl. Philemon Skosana. Volgens hom het die moord om 5.45 die

20

oggend plaasgevind terwyl hy onderweg was om 'n huurmotor om sewe uur by 'n nabygeleë huurmotorstandplaas te gaan haal, op pad na die Kempton Parkse gholfbaan waar hy die dag as gholf-joggie sou werk. Hy het 'n uitvoerige relaas verstrek van hoe hy die oorledene op 'n afstand van 117 meter (volgens die uitwysing wat hy op die toneel gemaak het - sy eerste skatting was 9 treê) net binne perseel 55 op haar eentjie sien staan het, in 'n kombers gewikkel; hoe hy gesien het dat die drie appellante, in bruin klere met pette op, haar van die oorkant nader (op daardie stadium was hulle, volgens sy uitwysing 'n afstand van 148 meter van hom wat aansienlik van sy eerste skatting verskil het); hoe die appellante die oorledene gryp, deur die hek en straat-af sleep, met sambokke toetakel, haar voete met 'n tou vasbind, waarna sy verkrag is terwyl sy deur sommige van hulle en 'n nuweling op die toneel, ene Mantantase, vasgehou is. Nadat sy verkrag is, is sy, volgens hom, na 'n ander plek getrek (waar haar lyk

21

uiteindelik gevind is). Terwyl die derde appellant haar op die grond vasgepen het, het die tweede appellant 'n buiteband om of onder haar kop geplaas, petrol uit 'n blik (maar nie die blik wat op die toneel gevind is nie) op haar gegiet en dit met 'n vuurhoutjie aan die brand gesteek. Sy was nog besig om te brand, so vertel hy, toe hy daar weg is om sy huurmotor te gaan haal, waarna hy die dag as joggie gewerk het. Drie maande later, toe hy vir iets anders deur die polisie aangekeer is, het hy die noemname van die drie appellante, "Star", "Teko" en "Seven" aan dié polisie verstrek.
Die verhoorhof het, volgens wat in die uitspraak self gesê word, Skosana se getuienis met omsigtigheid benader: enersyds omdat hy 'n jeugdige, andersyds omdat hy 'n enkel getuie was. Die verhoorhof bevind dat daar aspekte van sy getuienis is wat onwaarskynlik is en selfs weersprekings inhou. Desondanks meen die verhoorhof dat daar origens genoeg

22

waarborge in sy eie asook die oorblywende getuienis gevind kan word om sy getuienis betroubaar te maak.
Daarmee kan ek, met eerbied, nie akkoord gaan nie. Skosana se getuienis wemel van teenstrydighede, onwaarskynlikhede, botsings met ander staatsgetuies, en selfs blatante leuens. Neem nou maar die geval van die uitkenningsparade. By diê geleentheid het hy die tweede en derde appellante uitgeken maar nie die eerste appellant nie. Volgens hom het hy die eerste appellant voor die tyd goed geken. Hy was aan hom bekend onder sy bynaam "Star". Tog ken hy hom op die parade nie uit nie. Toe hy daarmee gekonfronteer word, beweer hy eers dat hy die eerste appellant wel op die parade gesien en as een van die persone wat by die voorval betrokke was, herken het, maar dat hy hom nie geïdentifiseer het nie aangesien hy aangesê is om slegs diegene uit te ken "wat die meisie aan die brand gesteek het" en die eerste appellant nie een van hulle was nie. Blykens die tersaaklike vorm,

23

bewysstuk G, het die opdrag egter gelui "om die verdagtes indien op parade, uit te wys deur hul skouers aan te raak wie hy gesien het terwyl hulle die oorledene verbrand het". Toe dit nou aan hom gestel word, verander hy sy deuntjie en beweer hy dat hy die eerste appellant glad nie op die parade opgemerk het nie, Dit deug net nie. Nie alleen tas dit sy eie geloofwaardigheid aan nie maar dit maak ook sy uitkenning van die tweede en derde appellante by die uitkenningsparade en van aldrie die appellante tydens die insident onbetroubaar, want as hy met die een appellant so 'n fout kon maak, waarom nie ook met die ander twee nie? Ofskoon die verhoorhof in sy uitspraak meld "dat Philemon se uitkenningsgetuienis wat betref no 1 glad nie bevredigend was nie", word dié kwessie nêrens in die uitspraak pertinent in verband met die versigtigheidsbenadering bespreek wat by identifikasie, jeugdigheid en 'n enkel getuie geverg word nie. Al wat ter verontskuldiging van Skosana gesê word,

24

is dat hy die naam "Star" vooraf aan die polisie genoem het ("want ek het net gehoor dat hy was nog nie in hegtenis geneem nie"), maar dit beteken eintlik weinig as hy "Star" daarna nie op 'n uitkenningsparade kon uitken nie.
'n Ander ewe belangrike aspek wat die verhoorhof nie in verband met die gemelde versigtigheidsbenadering opper nie, is of Skosana volgens sy eie weergawe werklik voldoende geleentheid gehad het om die booswigte te kon herken.
Die verhoorhof bevind dat dit nog betreklik donker was toe Skosana die appellante op 'n afstand van 148 meter waargeneem het. Volgens Skosana het hy aldrie van hulle onmiddellik herken, ten spyte daarvan dat hulle almal bruin klere aangehad het, asook pette wat die kante van hul gesigte bedek het, sodat hy slegs hul oë, neuse en kenne kon sien. Volgens Skosana het hy die eerste appellant op daardie afstand in die besonder aan sy neus

25

herken, asook aan sy manier van loop en omdat hy korterig van postuur was.
Getuienis van hierdie gehalte is onoortuigend. Dit strook ook nie met die getuienis van ander staatsgetuies dat die appellante, minstens tydens die nagwaak, nie in bruin "uniforms" geklee was nie. Daar eindig die kritiek op Skosana se getuienis ook nie. In die loop daarvan het die advokaat vir die Staat by verskillende geleenthede afwykings van wat Skosana aan die staatsadvokate tydens konsultasie sou gesê het aan die verdediging openbaar, oor aspekte soos wie die oorledene sou verkrag het, wie die motorband om haar lyf geplaas het, wie die houer met brandstof hanteer het, en dies meer.
Ek vind dit onnodig om al die punte van self-weersprekings in sy getuienis, weerspreking met ander staatsgetuies, en onwaarskynlikhede in sy getuienis, te tabuleer. Dit het die verdedigingsadvokate trouens

26

gedoen en selfs hul omvangryke hoofde van betoog het nie alle punte van kritiek gedek nie. Volgens Skosana is die oorledene om 5.45 die oggend vermoor. Waarom die oorledene op daardie tydstip alleen voor haar huis sou staan, as sy, volgens Regina, reeds om 2.30 met geweld daar verwyder is, is onverklaarbaar. Later as 5.45 kon dit nie wees nie, want die oorledene se lyk is laatstens teen 6 uur ontdek. Maar waarom sou Skosana om 5.45 in die omgewing opdaag, as hy eers 'n uur later, om 7 uur, 'n huurmotor minder as 200 meter daarvandaan moes haal? En dan sou mens ook verwag het dat die oorledene se lyk en die as waarna in die getuienis verwys word, nog warm sou wees en dat die motorband nog sou smeul toe die oorledene se lyk kort daarna ontdek is. Tog was dit, volgens die getuienis, nie die geval nie. Selfs die advokaat vir die Staat het, sowel in sy hoofde van betoog as in sy betoog voor ons, toegegee dat die gebeure nie so laat die oggend kon plaasgevind het as wat Skosana beweer het nie. En as

27

dit so is, kan Skosana net nie geglo word nie want daar was net geen rede vir hom om selfs nog vroeër op die plek aan te kom waar hy die moord na bewering gade geslaan het nie.
Kortom, die pogings van die verhoorhof om Skosana se getuienis aanneemlik te maak, slaag, met eerbied, nie. Op elkeen van die vermeende waarborge van geloofwaardigheid waarop die verhoorhof steun, is daar 'n volkome en vanselfsprekende antwoord: Skosana se beskrywing van die toneel was, toegegee, redelik akkuraat - maar aan die ander kant was dit vir hom nie onbekende terrein nie; hy beskryf hoe die oorledene in 'n kombers omhul was - maar later weerspreek hy hom oor wat sy sou aangehad het; volgens die Hof is daar geen rede waarom hy die verkragtingsinsident sou versin het nie -maar geeneen van die appellante is ooit van verkragting aangekla nie (dit word trouens nie eens in die Opsomming van Wesenlike Feite vermeld nie) en bowendien klink dele

28

van sy beskrywing van die verkragting selfs vir die verhoorhof nie waar nie; hy gee wel 'n realistiese beskrywing van hoe die oorledene verbrand is, hoe sy gespartel en geskree het - maar die beskrywing bevat in werklikheid niks wat buitengewoons of onverwags of anders is as wat enigeen hom so 'n insident sou voorstel nie. Die "waarborge" waarna die hof verwys, slaag myns insiens nie naastenby daarin om die talryke negatiewe aspekte in Skosana se getuienis te neutraliseer nie. Die onvermydelike slotsom is dat die verhoorhof sy getuienis nie versigtig genoeg benader het nie.
Uit die bogaande volg dit dat daar na my mening, en anders as wat die verhoorhof beslis het, hoegenaamd geen peil op Skosana getrek kan word nie. Waar hy geswyg het totdat hy self etlike maande later in hegtenis geneem is, kan mens die moontlikheid nie uitskakel dat sy weergawe op gerugte gegrond was wat hy in die omgewing gehoor en wat hy as getuienis aangebied

29

het ten einde die gunste en gawes van die polisie te
verwerf nie. Die hele saak moet na my mening dus
beoordeel word op die grondslag dat Skosana se getuienis
geïgnoreer word.

En daarmee verkrummel wat die Hof a quo as die

hoeksteen van die Staat se saak teen die appellante
beskryf het. Dit beteken dat mens nie met vrymoedigheid
kan aanvaar dat die oorledene wel op die tydstip verbrand
is wat wat Skosana beweer nie, nl. , kort voor 6 die
oggend toe hy op pad was om 'n huurmotor te gaan haal nie.

Daaroor sê die Hof a quo, in sy uitspraak:

"Die hof moet besluit of die verbranding van Dorah, wat die onmiddellike oorsaak van haar dood was, nie moontlik die oggend om ongeveer 03h00 plaasgevind het nie. As dit na oorweging van al die getuienis (wat dié van Philemon sowel as die alibigetuienis van die beskuldigdes natuurlik ook insluit) blyk dat daar 'n redelike moontlikheid bestaan dat Dorah reeds om ongeveer 03h00 gedood is moet die beskuldigdes vrygespreek word."

In weerwil van hierdie benadering bly dit
30

steeds nodig, soos die advokaat vir dle Staat in die alternatief ook betoog het, om te bepaal of die oorblywende omstandigheidsgetuienis nie tog 'n saak teen die appellante bewys nie.
Wat die eerste appellant betref, erken hy dat hy saam met sy mede-appellante by die nagwaak opgedaag het; hy maak hom skuldig aan leuens wanneer hy sê dat die predikant nog teenwoordig was nadat die groep uit die tent weg is; so ook wanneer hy sy verklaring probeer weerspreek; sy eie weergawe gaan mank aan 'n aanvaarbare verduideliking van wat tussen 3 uur en 5 uur die oggend gebeur het; sy relaas van die roete wat hy agterna gevolg het, is onoortuigend - soos dle verhoorhof ook tereg bevind: klaarblyklik probeer hy verdoesel wat hy in sy verklaring gesê het, nl. dat hy op die verkoolde lyk van die oorledene afgekom het. In werklikheld is dit die enigste punt wat regtig teen hom tel. Wat dit alles bewys, as mens Skosana se getuienis buito rekoning laat,

31

is slegs dat die eerste appellant 'n leuenaar was. Dit maak van hom nog geen moordenaar nie. Na my mening is die getuienis teen die eerste appellant onvoldoende om 'n skuldigbevinding op die aanklag te regverdig en behoort sy appèl dus te slaag.
Wat die tweede appellant aanbetref, is die situasie effe anders. Hy word in die eerste plaas deur David Seleka geïmpliseer want volgens Seleka was hy die voorbok onder die groep wat die oorledene sou gaan haal het. As dit so is, dui die waarskynlikhede daarop dat hy nie bloot 'n waarnemer was nie maar 'n mededader of medepligtige.

Seleka se eie getuienis, alles in ag genome, is egter nie van die betroubaarste nie. Oor die belangrike kwessie of hy self die groep vergesel het om die oorledene te gaan haal (soos die tweede appellant beweer) verspreek en weerspreek hy homself op 'n wyse wat 'n vraagteken oor al sy getuienis werp. Weliswaar steun sy

32

vrou, Regina Seleka, hom daarin dat hy nie saam met die groep by hul huis aangekom en nie agtergebly het toe die oorledene deur die groep weggevoer is nie. In die opsig weerspreek sy dus die tweede appellant. Haar getuienis is weer gekritiseer op grond daarvan dat sy sou getuig het dat sy vooraf deur die "Makomo" (wat blykbaar na die Comrades verwys) aangesê is om nie die deure van haar huis te sluit nie. Na my mening is hierdie getuienis nie so onwaarskynlik as om van haar 'n leuenaar te maak nie, maar aan die ander kant is dit seker so dat sy 'n motief gehad het om haar man te probeer beskerm. Haar getuienis is dus neutraal op die punt onder bespreking.
Edward Phoka het beslis onder die indruk verkeer dat Seleka saam met die groep daar weg is ofskoon hy byvoeg: "ek het nie gesien of hulle by die hek uit was, want ek het bly sit in die tent". Onder kruisverhoor het Phoka bevestig dat hy nie geslen het of Seleka "die militêre mense" vergesel het nie. Hy het wel

33

aangeneem dat dit gebeur het aangesien cne lucky, die persoon wat die groep opdrag gegee het om die oorledene te gaan haal, ook vir David beveel het om aan huile sy huis te gaan wys. Alles in ag genome is Phoka se getuienis dus nie deurslaggewend dat Seleka wel die groep na sy huis vergesel het nie, maar dit sluit die moontlikheid nie uit en maak dit nie eens onwaarskynlik nie. In sy getuienis maak Phoka geen melding daarvan dat hy Seleka na die tent sien terugkeer het voordat hy hom, heelwat later, by Vincent se shebeen raakgeloop het nie. By dié geleentheid het Seleka vir hom hartseer voorgekom. Hy het vir Seleka gevra "David wat het van Dorah geword?" en Seleka wou nie daarop antwoord nie. Op sy minste skep dit die indruk dat Seleka geweet het dat Dorah ontvoer is.
Seleka se eie getuienis oor sy latere optrede wek ook nie vertroue dat hy die Hof die volle waarheid vertel het nie. Sy versuim om, nadat die groep die

34

oorledene nie teruggebring het nie, na sy woonhuis te gaan, is vreemd. As sy bekommernis oor Dorah dan so eg was, hoekom is hy na die shebeen, hoekom het hy haar nie by sy huis gaan soek nie? Sy antwoord op dié kritiek was nie besonder oortuigend nie. By die shebeen het hy, so getuig hy, aan die slaap geraak. Ook di6 getuienis val vreemd op. Kortom, David Seleka se getuienia was nie van so 'n aard dat mens met vertroue kan aanvaar dat sy getuienis oor die tweede appellant se aandeel bo redelike twyfel waar moet wees nie.
Feit bly dat die tweede appellant se eie weergawe van hoe hy die groep gevolg het, van wat hy alles waargeneem het, en dat hy bloot toeskouer was, uiters verdag voorkom. Daar was geen oortuigende rede waarom hy homself juis in die latrine moes gaan versteek het om op die groep te spioeneer nie. Op daardie stadium kon hy, as sy relaas waar was per slot van rekening nie voorsien het dat die oorledene verbrand sou word nie.

35

Toe was die verklaarde oogmerk bloot net om die oorledene te gaan haal en na die nagwaak terug te brihg waar sy ondervra sou word (alhoewel die tweede appellnnt maak of hy niks hiervan geweet het nie). Sy onbeholpe poging, in sy verklaring, om die bloed aan sy skoene te probeer verduidelik, en sy leuenagtigheid toe hy hieroor onder kruisverhoor geneem is, is insgelyks 'n aanduiding dat alles met sy getuienis nie pluis was nie. Hy kon geen behoorlike verduideliking verstrek van hoe hy geweet het dat die lyk waarop hy later afgekom het, juis die oorledene s'n was nie aangesien dit op daardie stadium, volgens hom, met 'n kombers bedek was. Sy opmerking dat hy daardeur geskok was, is onaanvaarbaar as mens in ag neem dat hy vantevore juis gesien het hoe sy verbrand word. Sy poginge om sy eie verklaring, bewysstuk L, te weerspreek, was om die minste te sê naïef. Neem mens dit alles in ag was daar ruim rede vir agterdog teen die tweede appellant. Maar agterdog is nog geen bewys nie.

36

Dit kan die begin van bewys wees, dit is nog lank nie die einde daarvan nie. Sonder Skosana se getuienis is die aanwysers net nie sterk genoeg om as bewys bo redelike twyfel te geld nie. Ook sy appèl behoort te slaag.
Wat die derde appellant betref staan hy, na my mening, op min of meer dieselfde grondslag as die eerste appellant. Hy het homself as 'n leuenaar maar nie noodwendig as 'n moordenaar bewys nie. Mens kan aanvaar, gesien sy leuens, dat hy nie heeltemal so onkundig en onskuldig was as wat hy probeer voorgee het nie maar feit is dat direkte getuienis van enige aard (Skosana s'n uitgesluit) dat hy die dood van die oorledene aanskou het, of daarby betrokke was, geheel en al ontbreek. Trouens, daar was getuienis van Phoka dat hy nie in 'n uniform geklee was nie, terwyl Regina Seleka se getuienis juis was dat almal so aangetrek was. Daar is ook die getuienis van David Seleka dat die derde appellant, nadat die groep daar weg is, steeds in die tent aanwesig was.

37

Sy skuldigbevinding berus uitsluitlik op die getuienis van Skosana. Vir sover daardie getuienis geïgnoreer moet word, volg dit dat die derde appellant, soos die ander twee, ook op sy ontslag geregtig is.
Na my mening behoort die appel van elk van die drie appellante dus te slaag. Die bevel van die Hof is dat die skuldigbevinding en vonnis van elk van die appellante tersyde gestel word.

P M NIENABER, WAR.

BOTHA, AR.) MILNE, AR.)