South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 2006 >> [2006] ZASCA 100

| Noteup | LawCite

Klopper v Schreuder (499/05) [2006] ZASCA 100; [2006] SCA 99 (RSA) (12 September 2006)

Download original files

PDF format

RTF format

Links to summary

PDF format

RTF format







REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA



DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL

VAN SUID-AFRIKA


Nie Rapporteerbaar

Saaknommer : 499 / 05


In die appèl van


E G KLOPPER APPELLANT


en


N SCHREUDER RESPONDENT



Regbank : CONRADIE, CLOETE EN MLAMBO ARR



Verhoordatum : 31 AUGUSTUS 2006



Datum van Uitspraak : 12 SEPTEMBER 2006



SAMEVATTING


Vordering vir advokateloon – respondent beweer loon slegs betaalbaar indien hy saak voor arbeidshof wen – appellante beweer sy was by ander gebeurlikhede ook op vergoeding geregtig – appellante slaag nie daarin om haar weergawe van ooreenkoms te bewys nie.



Neutral citation: This judgment may be referred to as

Klopper v Schreuder [2006] SCA 99 (RSA)


________________________________________________________________


U I T S P R A A K

________________________________________________________________



CONRADIE AR


[1] Die appellant is 'n advokaat wat met die respondent, 'n eertydse kliënt, in 'n stryd oor die betaling van haar professionele gelde betrokke geraak het. In die hof a quo het Motata R bevind dat sy nie daarin geslaag het om 'n ooreenkoms vir die betaling van haar gelde te bewys nie en gevolglik absolusie van die instansie beveel. Verlof om teen die bevel te appelleer is deur hierdie hof toegestaan.


[2] Ek skets kortliks die agtergrond van die litigasie. Die respondent word deur die Ring van Roodepoort van die Nederduitse Gereformeerde Kerk as predikant uit die diens van die gemeente Wilgespruit ontslaan. 'n Appèl na die Sinodale Kommissie van die Sinode van die NG Kerk van Wes-Transvaal misluk. Daarna sluit die respondent aan by die pasgestigte Predikante en Kerklike Werkersunie waarby die appellant, as pro bono regsadviseur, en haar eggenoot, 'n emeritus predikant, as enigste ampsdraer, betrokke is.


[3] In 1997 kom die appellant en die respondent mondeling ooreen dat sy namens hom in 'n geding teen die kerk op grond van onbillike ampsontslag sou optree. Die pasgestigte vakbond sou kwalik bestaansreg hê indien predikante nie binne die kategorie van werknemers ingevolge die Wet op Arbeidsbetrekkinge 66 van 1995 val nie. Die Wet het kort tevore in werking getree en daar het onsekerheid oor hierdie kwessie bestaan. Die voorgenome litigasie sou dus 'n toetssaak wees vir die regmatigheid van die NG Kerk se kerkorde met betrekking tot die afdanking van leraars en vanuit hierdie oogpunt belangrik vir die vakbond.


[4] Twee aspekte van die reëling wat met betrekking tot koste getref is, is op die pleitstukke gemene saak. Eerstens, as die respondent met 'n kostebevel in sy guns slaag, sou die opbrengs daarvan gebruik word om die appellante se gelde te betaal; wat die skaal van haar vergoeding betref, sou sy tevrede wees met die bedrag wat ten aansien van party-en-partykoste aan die respondent toegeken word. Oorbetaling van sodanige bedrag aan die appellante sou dus deur haar as volle vereffening van haar gelde aanvaar word. Hierdie aspek van die ooreenkoms is nie deur die appellante in haar vorderingsbesonderhede gepleit nie, maar dit blyk uit die getuienis gemene saak te wees.


[5] Tweedens, indien die respondent nie met sy vordering in die arbeidshof slaag nie, (en daar dus geen kostebevel in sy guns is nie) is dit sy saak dat hy niks, of dan niks behalwe 'n onbenullige tien Rand, aan die vakbond verskuldig sou wees nie. Die appellante se weergawe soos aanvanklik gepleit verskil weinig hiervan: 'Verweerder sou nie aanspreeklik wees vir enige koste van eiseres indien die verweerder nie sou slaag in die Arbeidshofaksie nie'.


[6] Die derde aspek van die geldereëling is omstrede. Die appellante pleit dat daar aanvanklik ooreengekom is dat indien die respondent se eis slaag, maar geen kostebevel deur die arbeidshof gegee word nie, die respondent en sy 'na afhandeling van daardie aksie op fooie ooreen sou kom.'


[7] Hierdie afspraak is volgens die appellante se besonderhede van vordering op 14 Februarie 1999 op die volgende manier gewysig:

'4.1 Eiseres sou namens respondent [lees, verweerder] voortgaan met die verskyning in die geskil wat na die Arbeidshof vir beslegting verwys is;

4.2 Indien die Arbeidshof geen kostebevel maak nie of slegs 'n gedeeltelike kostebevel maak, sou verweerder die getakseerde prokureur-en-kliëntkoste van eiseres en haar uitgawes betaal;

4.3 Voormelde betalings sou geskied uit die opbrengs van siviele aksies wat verweerder van voorneme was om in te stel teen die respondente in die arbeidsaangeleentheid.

4.4 Indien verweerder van sy reg om sodanig siviele aksies teen die respondente [lees, verweerders] in die arbeidsaangeleentheid in te stel, afstand doen sonder om die eiseres vooraf daarin te ken sou verweerder aanspreeklik wees vir die getakseerde prokureur-en- kliëntkoste en uitgawes van eiseres.'


[8] Die respondent pleit dat die partye nie aanvanklik of later vir so 'n gebeurlikheid soos 'n gedeeltelike kostebevel voorsiening gemaak het nie en ontken dehalwe al die bewerings met betrekking tot die wysigingsooreenkoms.


Die eerste element van die beweerde ooreenkoms (soos gewysig) – die respondent wen sy saak

[9] Soos reeds opgemerk is hierdie aspek onomstrede: as die respondent sy saak met 'n kostebevel in sy guns wen, is die appellante op party-en-partykoste (wat deur die teenkant betaal word) geregtig en op niks meer nie. Die respondent betaal geen professionele gelde of uitgawes nie.


Die tweede element van die beweerde ooreenkoms (soos gewysig) - Die respondent verloor sy saak

[10] In weerwil van die eenstemmigheid op die pleitstukke, is die appellante se getuienis beduidend verskillend van die gepleite weergawe. Sy getuig dat sy gesê het -

' . . . ek sal vir hom [die respondent] werk op uitgestelde betaling en ek het ook die terme vir hom uitgespel. Ek het aan hom gesê dat indien hy sy saak sou verloor, sou hy 'n nominale bedrag betaal. Ons sou kyk na my uitgawes en 'n nominale bedrag bepaal.'


[11] Gedurende Oktober 2002, kort voor die einde van die getuienisverrigtinge, vra die appellante 'n wysiging van haar vorderingsbesonderhede aan. Of die wysiging inderdaad aangebring is, is nie duidelik nie, maar dit is vir huidige doeleindes onbelangrik. In die kennisgewing sit sy die tersaaklike vordering soos volg uiteen:

'Indien verweerder nie sou slaag in die Arbeidshofaksie nie, sou die partye op vergoeding ooreenkom aan die einde van die aksie, welke 'n nominale bedrag kon beloop.'


[12] Die jongste weergawe kom ooreen nóg met die eerste gepleite weergawe nóg met die appellante se getuienis. Daar is 'n verskil tussen 'n 'nominale bedrag' wat uit die oogpunt van die appellante se uitgawes bepaal word, en 'n 'nominale bedrag' wat met vergoeding in gedagte bepaal word. Uit die aard van die saak is 'n onduidelikheid tussen die appellante se pleitstukke en haar getuienis benadelend vir 'n saak wat hoofsaaklik op haar eie betroubaarheid as getuie berus. As hierdie kwessie egter buite rekening gelaat word, is daar nogtans probleme met die aanvaarding van hierdie getuienis, waarby ek aanstons kom.


Die derde element - die respondent wen sy saak sonder 'n kostebevel in sy guns

[13] In hierdie opsig stem die appellante se besonderhede van vordering met haar geuitenis ooreen:

Ek het toe vir hom gesê indien ons sou wen sou hy definitief ook kompensasie kry en as hy sou wen sonder 'n kostebevel, want ek het vir hom van die begin af gesê veral in die arbeidshof is mens nooit seker van 'n kostebevel nie, dan sal ek en hy aan die einde van die saak onderhandel oor 'n billike fooi of 'n vergoeding aan my en hy het dit goed gevind so 'n reëling want hy het op daardie stadium nie geld gehad om regtig te betaal vir 'n geding nie.'


[14] Wat presies is regtens die uitwerking van die ooreenkoms waaroor die appellante hier getuig? Om die bedrag van 'n regsverteenwoordiger se vergoeding na afloop van 'n hofgeding te bepaal, is geen uitsonderlike afspraak nie. Trouens, die bedrag van 'n advokaat se vergoeding word in die gewone loop van sake nie vooraf bepaal nie. Daar is slegs 'n versweë afspraak dat die vergoeding billik sal wees. As 'n regsverteenwoordiger en sy kliënt na afloop van 'n saak nie op 'n billike bedrag ooreen kan kom nie, moet die takseermeester 'n billike vergoeding bepaal. Die appellante se saak kom dus daarop neer dat sy (as die respondent wen) in elk geval op vergoeding geregtig sou wees: As sukses vir die respondent 'n kostebevel meebring, sou sy daaruit vergoed word - dit sou haar enigste vergoeding wees. As die respondent geen kostebevel verkry nie sou sy in elk geval vogens billike tariewe vergoed word, met ander woorde net soveel soos en (gedagtig daaraan dat prokureur-en-kliëntkoste teen 'n ruimer skaal as party-en-partykoste toegelaat word) dalk selfs meer as wanneer die respondent met 'n kostebevel sou seëvier


[15] Dit was die stand van sake toe die appellante op 13 Okotober by Mnr D J Potgieter aan huis onthaal is. Potgieter is 'n vennoot in die firma Louw en Heyl. Sy vrou en die respondent se eggenote was goed bevriend. Hy en die respondent was kennisse. Hy het dus op 'n vroeë stadium van sy geskil met die NG Kerk bewus geword en het dan ook namens die respondent sekere korrespondensie aan die Kerk gerig. Toe die saak in die arbeidshof beland, het die appellante hom gevra of hy haar sou help aangesien dit haar eerste groot saak was en hy 'n ervare arbeidsregprokureur was. Hy het, sê hy, ingestem om haar te adviseer, maar hom op geen stadium bereid verklaar om prokureur van rekord te wees 'in die werklike sin van die woord' nie.


[16] Die appellante beweer dat die vergoedingsooreenkoms daardie aand teenoor Potgieter genoem is –

'Daar het ek mooi verduidelik weer vir mnr Potgieter wat die situasie was en dat ek graag 'n brevet wou hê. Ek het ook vir hom verduidelik dat ek op uitgestelde betaling werk vir die verweerder. Ek het vir hom gesê dat ek die drie termes soos wat ek vir hom uiteengesit het netnou, dat dit die terme van die ooreenkoms is.'


[17] As die appellante inderdaad die bepalings van die ooreenkoms (soos dit op daardie stadium was) aan Potgieter oorgedra het, sou hy die volgende moes verstaan het:

(a) sy word uit die opbrengs van 'n kostebevel betaal as daar een is;

(b) as daar geen kostebevel is nie, maar haar kliënt is suksesvol, is sy op haar prokureur-en-kliënt getakseerde koste geregtig;

(c) as haar klient se aksie nie slaag nie, is sy op niks of altemit op die een of ander nominale bedrag geregtig.


[18] Potgieter ontken egter ten ene male dat gelde daardie aand ter sprake was. Daar was, sê hy, geen reëling dat die appellante 'n rekening aan die respondent sou lewer nie. Hy het die indruk gehad, hoewel hy nie kon sê waarvandaan hy dit gekry het nie, dat die appellante pro amico optree. Eers op 'n baie laat stadium het daardie indruk verander. Hy het eers die dag met die arbeidshofuitspraak besef dat die appellante van voorneme is om vergoeding te vorder. Indien die appellante se weergawe waar is, sou dit vir Pogieter glashelder gewees het dat die appellante se enigste toegewing was om van haar (volle) vergoeding af te sien as die respondent verloor.


[19] Potgieter het in sy getuienis toegegee dat hy fouteer het deur homself as pro forma prokureur op rekord te plaas. In der waarheid het hy hom in die onhoudbare posisie geplaas waar hy die pligte van 'n prokureur van rekord op hom geneem het sonder die voorneme om aan hulle te voldoen. In die besonder het hy geen voorsorg getref vir betaling van die appellante se gelde nie. Die onbeheersde aanvalle wat die appellante in die stukke op hom loods, is ongeregverdig.


[20] Die wysigingsooreenkoms (para 7 hierbo) is volgens die appellante aangegaan op 'n kritieke stadium van die arbeidsgeding. Dit was reeds duidelik dat die respondent sy saak sou wen en die Kerk het reeds 'n skikkingspakket aangebied wat betaling van die respondent se getakseerde party-en-partykoste ingesluit het. Dit is onduidelik wie vir die verwerping van hierdie skikkingsaanbod verantwoordelik was. Die appellante verklaar dat dit op aandrang van die respondente was, laasgenoemde se getuienis is tot die teendeel.


[21] Die rede vir die aanpassing in die geldereëling so beweer die appellant, is juis dat die respondent geweier het om hierdie skikkingsaanbod te aanvaar. Die aanbod was uit die aard van die saak vir die appellante aanloklik, want sy het geweet dat die respondent nie die middele het om haar (teen daardie tyd gedugte) advokateloon te betaal nie. Sy beweer dat sy die respondent se aandag op die gevolge van 'n vewerping van die skikkingsaanbod gevestig het. Sy het hom daarop gewys dat sy gevaar loop om nie vergoed te word as sy met die saak voortgaan nie, en het derhalwe met die respondent ooreengekom dat, indien die arbeidshof geen kostebevel gee nie, of 'n kostebevel slegs ten aansien van 'n gedeelte van die saak verleen, die respondent haar getakseerde prokureur-en-kliëntkoste moet betaal.


[22] Die feit dat die appellante die wysigingsooreenkoms aanvoer, dui vir my daarop dat sy van die bepalings van die oorspronklike ooreenkoms glad nie seker was nie. Die redelike afleiding hieruit is dat sy daarvan bewus was dat die oorspronklike ooreenkoms die een was wat die respondent beweer, naamlik dat daar in die afwesigheid van 'n kostebevel geen vergoeding vir die appellante sou wees nie. Sy moes derhalwe steun vind in 'n wysigingsooreenkoms wat, as haar weergawe van die oorspronklike ooreenkoms die juiste een was, nie nodig sou wees nie: sy het immers, volgens haar, oorspronklik met die respondent ooreengekom dat hy haar 'n billike vergoeding sou betaal as daar geen volle kostebevel is nie.


[23] Dit is vreemd dat hierdie ooreenkoms nie op skrif gestel of selfs skriftelik bevestig is nie. Wat duidelik is, is dat dit van kardinale belang geword het om die loonooreenkoms te dokumenteer. Dit sou tot voordeel van die appellante strek wat per slot van sake haar ooreenkoms moes bewys. Nie-dokumentering sou alleen die respondent kon baat. Ek vind dit vreemd dat die appellante, immers 'n advokaat, die ooreenkoms wat sy beweer nie daar en dan, al was dit dan by wyse van 'n brief, gedokumenteer het nie.


[24] Die afspraak tussen die partye was dat indien geen kostebevel deur die arbeidshof verleen word nie, die appellant en die respondent na afhandeling van die aksie op vergoeding vir haar ooreen sou kom. Die afspraak moes ook ten aansien van 'n gedeeltelike kostebevel gegeld het: geen nuwe ooreenkoms was nodig nie.

Die aanvullende ooreenkoms waarop die appellante steun, is dus oorbodig in die lig van die oorspronklike ooreenkoms wat sy beweer. Dit werp ook groot twyfel op die appellante se weergawe van die oorspronklike ooreenkoms. Gedagtig daaraan dat die respondent ontken dat die aanvullende ooreenkoms aangegaan is, het ek ernstige bedenkinge daaroor.


[25] Die aanvullende ooreenkoms wat die appellant beweer maak buitendien nie regtens of kommersieël sin nie. Dit is reddeloos vaag. Niemand kan uitmaak wat die respondent veronderstel was om te presteer nie. Beteken die ooreenkoms dat die appellant tevrede sou wees met wat ook al die respondent op die verweerders in die arbeidsaksie (en andere?) verhaal? Of sou sy enige saldo op die respondente kon verhaal? Beteken die uitdrukking 'sonder om eiseres vooraf daarin te ken' dat die respondent slegs die appellante moes raadpleeg voor hy die eise terugtrek of beteken dit dat hy haar toestemming moes kry om die eise terug te trek? En as sy toestemming verleen om die eise terug te trek, moes hy nog steeds haar koste vir die arbeidshofsaak betaal?


[26] In haar argumentshoofde voer die appllante aan dat

' . . . sy duidelik aangetoon het dat daar 'n ooreenkoms tussen haar en haar kliënt [die respondent] bestaan dat hy haar vir haar dienste moet vergoed, ongeag die uitslag van die saak in the Arbeidshof.'

Hierdie submissie toon die begripsverwarring wat daar by die appellante heers. Sy verkeer onder die wanindruk dat die ooreenkoms, soos gewysig, bepaal dat die respondent onderneem het om 'die Appellante se rekening onder alle omstandighede te vereffen,' of soos die appellante in haar hoofde dit ook stel 'dat hy onderneem het om haar te betaal ongeag die uitslag van die saak.' Die wysigingsooreenkoms handel slegs met die gebeurlikheid van 'n gedeeltelike kostebevel, nie met die geval waar geen kostebevel verleen word of die geval waar die respondent die saak verloor nie.


[27] As die appellante haar ooreenkoms nie op 'n oorwig van waarskynlikhede bewys het nie, help dit haar saak nie om op swak plekke in die respondent se mondering te wys nie. Die swak plekke waarop sy wys – en ek is nie daarvan oortuig dat hulle nie maar net debatspunte is nie – is nie aanduidend daarvan dat die respondent inderdaad onderneem het om die appellante, kom wat wil, te betaal nie. In die eerste plek moet mens onthou dat dit korrek was vir die respondent om aan andere te sê dat hy die appellante moes betaal. Hy moes haar uit die opbrengs van sy kostebevel betaal, dit was volgens albei partye hulle afspraak. Wat die respondent nooit laat blyk het nie, is dat hy die appellante sou betaal indien hy dit nie uit die opbrengs van 'n kostebevel kon doen nie.


[28] Ek dink nie dat die mededelings van die respondent aan verteenwoordigers met betrekking tot sy 'regskoste' as erkennings oor die ware ooreenkoms aangemerk kan word nie. Hy het byvoorbeeld probeer om die kerk te oorreed om die appellante se loon of 'n gedeelte daarvan te betaal. Wat hy in onderhandelinge gesê het, weerspieël nie noodwendig die ware verbintenis tussen hom en die appellante nie. Sy aanbod om 'n bedrag aan die appellante te betaal kon net so maklik uit erkentlikheid gedoen gewees het as uit 'n besef dat hy regtens teenoor haar aanspreeklik was.


[29] Die respondent het tydens kruisondervraging in die arbeidshof verklaar dat hy die appellante se rekening aan die einde van die saak en onder alle omstandighede moes betaal. Nadat hy sekere ontwykende antwoorde met betrekking tot die verstandhouding tussen hom en die appellante gegee het, kom die volgende vraag en misleidende anwoord:

'Daar is nie 'n ooreenkoms dat u onder sekere omstandighede nie sou hoef te betaal nie?

Nee.'

Die appellant, wat geweet het dat die ooreenkoms – altans soos sy dit gepleit het – behels het dat die respondent haar niks sou betaal as sy aksie nie slaag nie, het nie die onjuistheid van die antwoord onder die hof se aandag gebring nie. Trouens, sy het later verder gegaan en in repliek inligting aan die hof oorgedra wat die regter as volg saamgevat het:1

'Me Klopper het naamlik die versekering gegee dat sy deur 'n prokureur opdrag gegee is en dat sy haar fooie as advokaat hef, wen of verloor.'


[30] Hierdie mededeling aan die hof was onwaar. Op die gepleite weergawe van die ooreenkoms sou sy niks verdien as die respondent se eis nie slaag nie. Op die weergawe wat sy in haar getuienis aangevoer het, sou sy uitgawes verhaal. Maar sy sou nie 'fooie as advokaat hef, wen of verloor', soos die regter na aanleiding van die partye se mededelings aan hom in sy uitspraak vermeld nie.


[31] Indien die hof sou ervaar dat die respondent aanspreeklikheid vir koste vryspring as daar geen kostebevel gegee word nie, kon dit hom oorreed het om nie 'n kostebevel te gee nie; dan was die appellante se besoldiging daarmee heen. Dit is uit die geheel van die getuienis duidelik dat dit nie is wat enigeen van die partye wou hê nie. Na my mening was die mededelings van albei die partye daarop gerig om die koste-aanspraak te verstewig en dus die appellante te beskerm. Op daardie stadium was die koste kwessie juis akuut omdat die kerk se verteenwoordiger betoog het dat geen koste aan die respondent toegeken behoort te word aangesien daar nie 'n prokureur van rekord was nie.2


[32] Teenoor die verwarrende en komplekse ooreenkoms wat die appellante beweer, staan die ongekompliseerde een wat die respondent beweer. Hy kon nie vir die litigasie betaal nie, dit was van die begin af vir almal duidelik. Volgens hom was daar geen sprake dat daar oor advokaatsgelde ooreengekom sou word indien geen kostebevel verleen word nie. Sy saak is eenvoudig . As daar 'n kostebevel is, sou die appellante daaruit vergoed word. Indien daar geen kostebevel is nie, sou sy kosteloos optree. Daar is met ander woorde vir die gewone en bekende gebeurlikheidsgelde, die sogenaamde 'contingency fee', beding.


[33] Heelwat aandag is deur die appellante in die hof a quo op die aard en omvang van Potgieter se betrokkenheid gelê. Dit is myns insien van geen belang nie. 'n Advokaat wat sonder bemiddeling van 'n prokureur vir 'n kliënt optree, verontagsaam die tersaaklike baliereël, iets waarvoor hy of sy as lid tot verantwoording geroep kan word. Dit is nie deel van 'n advokaat se straf dat sy haar aanspraak op vergoeding vir behoorlik gedane werk verbeur nie.


[34] Ek is dit met die slotsom van die hof a quo eens dat die appellante nie daarin geslaag het om te bewys dat haar weergawe van die ooreeenkoms waarskynlik die juiste is nie.


[35] Die appèl word van die hand gewys. Die respondent is geregtig om sy billike uitgawes met betrekking tot die appèl op die appellante te verhaal.


J H CONRADIE

APPÈLREGTER

SAMESTEMMEND:


CLOETE AR

MLAMBO AR


1 Die appellante erken in haar hoofgetuienis dat dit 'n korrekte weergawe is van wat sy aan die regter oorgedra het.

2 Dit was hierdie houding van die teenstanders en die appellante se netelige posisie wat Potgieter op die dwaalspoor van 'n pro forma prokureur van rekord gelei het, iets wat hy klaarblyklik by nabetragting berou het.