South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 2006 >> [2006] ZASCA 27

| Noteup | LawCite

S v Gerber (353/05) [2006] ZASCA 27; 2006 (1) SACR 618 (SCA) ; [2006] 4 All SA 423 (SCA) (23 March 2006)

Download original files

PDF format

RTF format

Links to summary

PDF format

RTF format







REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA



DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL

VAN SUID-AFRIKA


Rapporteerbaar

Saaknommer : 353 / 2005


In die appèl van



KARL GERBER APPELLANT


en


DIE STAAT RESPONDENT



Regbank : FARLAM, CONRADIE ARR en CACHALIA Wnde AR



Verhoordatum : 3 MAART 2006



Datum van Uitspraak : 23 MAART 2006



SAMEVATTING


Eerste oortreder skuldig bevind aan motordiefstal - duikklopper - geld as verswarende omstandigheid - geen besondere versagtende persoonlike omstandighede - vonnis van tien jaar waarvan drie opgeskort treffend onvanpas in lig van huidige vonnisvlakke - vonnis vervang met een van sewe jaar gevangenisstraf waarvan twee jaar opgeskort.



Neutral citation: This judgment may be referred to as Gerber v The State [2006] SCA 28 (RSA)

___________________________________________________________________


U I T S P R A A K

_________________________________________________________________


CONRADIE AR


[1] Dit is nou amper drie en’n half jaar sedert Mnr Karl Gerber, die appellant, aan motordiefstal skuldig bevind en deur 'n streeklanddros te Benoni gevonnis is tot tien jaar gevangenisstraf waarvan drie jaar op paslike voorwaardes vir vyf jaar opgeskort is.


[2] ’n Appèl teen die appellant se skuldigbevinding en vonnis na die Pretoria Hooggeregshof het misluk. Verlof om verder na hierdie hof te appelleer, is nie deur daardie hof toegestaan nie maar is, op petisie, slegs ten aansien van vonnis, deur hierdie hof verleen.


[3] Die appellant is 'n duikklopper. Op ’n dag is die gesteelde voertuig, 'n wit Ford Colt bakkie met 'n blou onderkant na sy werkswinkel gebring, so sê hy, om iets aan die bakwerk te herstel en die blou onderkant daarvan rooi te spuitverf. Pleks dat hy die nuut oorgeverfte bakkie terugbesorg aan die persoon wat dit by hom aangebring het, gaan hy 'n ruiltransaksie aan met hom aan ingevolge waarvan hy 'n voertuig van sy eie, 'n opgeknapte 450 SLC Mercedes Benz en daarbenewens R30 000 verruil vir twee gesteelde voertuie, 'n Audi A4 en die betrokke Colt bakkie.


[4] Die Audi A4 laat die appellant op sy verloofde se naam registreer. Die Colt bakkie verruil hy vir 'n Toyota Corolla wat aan die verloofde van 'n mnr Johan du Plessis, mev Phyllis Vorster, behoort. Wat hierdie transaksie so interessant maak, is dat die Toyota veel minder werd is as die Colt (presies hoeveel is nie klinkklaar duidelik nie), dat Du Plessis 'n vriend van die appellant is en dat hy as subkontrakteur by die papiervervaardiger Mondi in Richardsbaai werksaam is. Mondi in Richardsbaai gebruik wit Ford Colt bakkies, wat net soos die gesteelde Colt lyk behalwe dat hulle rooi is aan die onderkant en nie blou nie.


[5] Toe daar deur die polisie op die gesteelde voertuig in mev Vorster se besit beslag gelê word, is die onderkant daarvan rooi geverf, dit vertoon 'n lisensieskyf (óf die oorspronklike óf 'n afdruk) van 'n egte Mondi Colt bakkie en die nommerplaat vertoon die nommer NRB 11691, 'n nommer wat die Colt nie gehad het toe dit by mnr Griffiths, die eienaar daarvan, se werknemer gekaap is nie. Niemand sou nou, sonder om die onderstelnommer en ander besonderhede na te gaan, weet dat die gesteelde Colt nie ’n Mondi bakkie is nie.


[6] Die onvermydelike afleiding uit hierdie feite is dat die appellant en sy vriend, Du Plessis, saamgesweer het om die Colt bakkie so te verbloem dat dit vir 'n Mondi bakkie sou kon deurgaan. Du Plessis, wat vroeër aan besit van die gesteelde Colt skuldig bevind is, het getuig dat die Colt blou van onder was toe hy, kort voordat hy die Toyota daarvoor verrruil het, by die appellant in Kempton Park gekuier en die appellant die Colt aan hom gewys het. Klaarblyklik is dit eers ná Du Plessis se besoek rooi oorgespuit. Dit is nie redelik moontlik dat die bakkie per toeval in die Mondikleure geverf is en toe, weer toevallig, afgelewer is aan iemand wat by Mondi werk nie. Die appellant was dus aandadig daaraan om die diewe met die diefstal behulpsaam te wees. Sy skuld is nie geringer as hulle s'n nie.


[7] Volgens die appellant was die oordrewe strengheid in die oplegging van vonnis wat die streeklanddros aan die dag gelê het die gevolg van die fundamentele wanopvatting dat die appellant reeds voordat hy die Colt aan Du Plessis gelewer het, geweet het dat dit ’n gesteelde voertuig was. As hy hierdie kennis eers later opgedoen het, sou dit, aldus die appellant, beteken dat hy aan diefstal skuldig is slegs omdat dit ’n voortdurende misdryf is en dat hierdie oorweging verdien om as strafverminderend aangemerk te word. Soos ek aangetoon het, ontbreek ’n feitelike grondslag vir hierdie betoog geheel en al.


[8] Buitendien sê die appellant in sy waarskuwingsverklaring dat hy die Audi teruggegee het toe hy agterkom dat dié gesteel is. Daar is geen aanduiding dat die appellant die bakkie nie kon terugkry en op dieselfde wyse daarmee handel nie. In antwoord op 'n vraag van die ondersoekbeampte waarom hy die polisie nie daarvan verwittig het toe hy agterkom dat die voertuie gesteel is nie, verklaar die appellant dat hy Jannie en Moerat (die verskaffers van die gesteelde voertuie) nie in die moeilikheid wou bring nie.


[9] Die beweerde latere bewuswording dat die Colt gesteel is, en die feit dat die appellant 'n eerste oortreder met betrekking tot 'n oneerlikheidsmisdryf was, was die enige twee strafversagtende faktore waarop die appellant se advokaat klem gelê het. Daarteenoor is daar verkeie strafverswarende omstandighede waarop die streeklanddros met reg klem gelê het. Hulle sluit in dat die appellant die misdryf gepleeg het op 'n wyse wat vernuftige beplanning geverg het. Hierdie 'vernuftige beplanning' sluit natuurlik in dat die appellant as duikklopper die fasiliteite tot sy beskikking gehad het om die Colt se herkoms te verdoesel. Die misbruik van sy vaardighede deur die appellant is 'n ernstige strafverswarende element van sy misdaad. Die appellant is nie van 'n misdryf met betrekking tot die Audi A4 aangekla nie, maar die registrasie daarvan op sy verloofde se naam sonder om die voertuig (wat hy op sy weergawe verkry by mense wat hy skaars ken) vir 'n polisieklaring te neem, was moreel bedenklik en werp 'n swak lig op die integriteit van een wat dag in en dag uit as deel van sy bedryf met motorvoertuie te doen het.


[10] Die appellant het geen benul van die aard of erns van sy oortreding nie. Hy het tot die bitter einde volgehou dat hy nie aan diefstal skuldig is nie en in sy getuienis ter strafversagting gesê dat hy '...miskien besigheid gedoen het met 'n voertuig wat daar nie 'n lisensie of enigiets voor was nie...,' getuienis wat op 'n totale gebrek aan insig en derhalwe berou dui. Toe die polisie-ondersoek begin, het hy sy bes gedoen om die ander diewe uit die moeilikheid te hou.


[11] Tereg lê die streeklanddros gewig op eenvormigheid by strafoplegging. Die wenslikheid van breë riglyne is voor die hand liggend. Dit is reg dat hierdie riglyne van tyd tot tyd aangepas word, maar dan moet die aanpassing ’n oorwoë en geleidelike proses wees sodat oortreders wat 'n besondere misdryf pleeg weet watter vonnis hulle te wagte is.


[12] Soos die voorkoms van motordiefstal toegeneem en motors duurder geword het, het vonnisse vir motordiefstal dramaties strenger geword. Dit sou dus by 'n oorweging van die breë parameters vandag weinig nut hê om na die vlakke van ouer vonnisse te kyk. By die beoordeling daarvan of die opgelegde vonnis nie dalk treffend onvanpas is nie, is 'n vlugtige oorsig oor die vlak van hedendaagse vonnisse vir motordiefstal om enigsins 'n idee te kry van wat gangbaar is, egter nuttig.


[13] In S v Koutandos & another 2002 (1) SASV 219 (HHA) het hierdie hof die eerste appellant, 'n man in sy laat twintigerjare, wat in samewerking met die tweede appellant 'n besigheid uit motordiefstal en bedrog gemaak het, se vonnis tot tien jaar gevangenisstraf verminder. Die tweede appellant wat aan 'n bykomstige twee bedrogaanklagte skuldig bevind is, se vonnis is tot vyftien jaar gevangenisstraf verminder.


[14] S v Adendorff 2004 (2) SASV 185 (HHA) is 'n saak waarin 'n agt-en-veertigjarige duikklopper 'n gesteelde motor ter waarde van R75 000 vermom het. Van sy straf van vier en ‘n half jaar gevangenisstraf, is een en 'n half jaar opgeskort. Die appèl na hierdie hof was slegs teen die skuldigbevinding, maar die beslissing is van nut vir sover die Bloemfonteinse Hooggeregshof die vonnis van die streeklanddros bekragtig het.


[15] Die appellant in S v de Ruiter 2004 (1) SASV 332 (W), iemand met 'n reeks vorige veroordelings vir oneerlikheidsmisdade, is weens diefstal van 'n luukse voertuig gevonnis tot tien jaar gevangenisstraf waarvan drie jaar op appèl voorwaardelik opgeskort is.


[16] Mnr Sassman, die appellant in S v Sassman (A641/02 (T) 02.09.02), is 'n swaar vonnis van twaalf jaar gevangenisstraf opgelê vir die diefstal van 'n motorvoertuig waarmee hy die grens na Mosambiek wou oorsteek. Dit is duidelik dat die appèlregters van oordeel was dat hy deel van 'n diefstalsindikaat was en dus aandadig aan die kaping van die voertuig vier dae voordat hy aangekeer is.


[17] Appellant Govender in S v Govender (A1127/03 (T) 03.05.04) se diefstal van 'n vragmotor en een duisend vyf hondered motorbande het hom in die streekhof 'n straf van 15 jaar op die hals gehaal wat op appèl na 12 jaar gevangenisstraf verminder is.


[18] Die hoogste straf vir die diefstal van 'n enkele motor deur 'n eerste oortreder wat die verteenwoordiger namens die Staat kon opspoor, (en ek spreek my dank teenoor beide advokate uit vir die navorsing wat hulle op versoek van die hof gedoen het) was direkte gevangenisstraf van sewe jaar. Origens verskil die strawwe, soos mens trouens sou verwag, aanmerklik. Hulle wissel van drie tot vyf jaar, soms met 'n gedeelte of selfs die geheel daarvan opgeskort.


[19] Die motordiefstal waaraan die appellant skuldig bevind is, vertoon verskeie strafverswarende faktore wat die streeklanddros tereg uitgelig het en wat ek hierbo aangestip het. Die appellant verdien beslis 'n straf wat aan die boonste grens van gangbare strawwe lê. Nietemin dink ek dat die opgelegde straf met inagneming van huidige vlakke van strafoplegging en die persoonlike omstandighede van die appellant, treffend onvanpas is.


[20] Die vonnis van die hof a quo word ter syde gestel en vervang met 'n vonnis van sewe jaar gevangenisstraf waarvan twee jaar opgeskort word vir vyf jaar op voorwaarde dat die appellant nie skuldig bevind word aan diefstal, aan die ontvangs van gesteelde goed wetende dat dit gesteel is of aan 'n oortreding van a 36 of a 37 van die Algemene Regswysigingswet 62 van 1955, gepleeg gedurende die termyn van die opskorting nie.


J H CONRADIE

APPÈLREGTER

SAMESTEMMEND:

FARLAM AR

CACHALIA Wnde AR