South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
2006 >>
[2006] ZASCA 42
| Noteup
| LawCite
S v Coetzer (225/05) [2006] ZASCA 42; 2006 (2) SACR 63 (SCA) (29 March 2006)
Download original files | Links to summary |
DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL
VAN SUID-AFRIKA
Rapporteerbaar
Saakno.: 255/05
In die saak tussen:
COETZER, CORNELIS HENDRIK Appellant
- en -
DIE STAAT Respondent
Voor: STREICHER, BRAND & NUGENT ARR
Verhoordatum: 7 MAART 2006
Gelewer: 29 MAART 2006
Opsomming: Volgorde waarin vonnisse uitgedien word – art 51(4) van die Strafregwysigingswet 105 van 1997 sluit nie die bepalings van art 280(2) van Strafproseswet 51 van 1977 uit nie.
Neutrale sitasie: Hierdie uitspraak mag na verwys word as Coetzer v Die Staat [2006] SCA 42 (RSA)
UITSPRAAK
STREICHER AR
STREICHER AR:
[1] Die appellant is in die Streekhof te Pretoria skuldig bevind aan vier klagtes van roof met verswarende omstandighede en op elke klagte gevonnis tot 15 jaar gevangenisstraf. Die Streekhof het egter met `n beroep op die bepalings van art 280(2) van die Strafproseswet 51 van 1977 beveel dat die vonnisse so uitgedien moet word dat die appellant effektiewelik 25 jaar gevangenisstraf uitdien. Op appèl na die Pretoria Hoë Hof het die appellant aangevoer dat, ingevolge art 51(4) van die Strafregwysigingswet 105 van 1997, die uitdiening van die vonnisse almal begin loop het op die datum waarop hulle opgelê is, dat hy in totaal dus slegs 15 jaar gevangenisstraf moes uitdien en dat die Streekhof fouteer het om te beveel dat hy effektiewelik 25 jaar gevangenisstraf moes uitdien. Die Hoë Hof het bevind dat daar nie meriete in hierdie betoog was nie en het die appèl van die hand gewys maar het nietemin aan die appellant verlof verleen om na hierdie hof te appelleer.
[2] Artikels 51(2) en (4) van Wet 105 van 1997 lees soos volg:
‘51(2) Ondanks enige ander wet maar behoudens subartikels (3) en (6), moet `n streekhof . . . ten opsigte van `n persoon wat skuldig bevind is aan `n misdryf bedoel in –
Deel II van Bylae 2, die persoon, in die geval van –
`n eerste oortreder, tot gevangenisstraf vir `n tydperk van minstens 15 jaar vonnis;
`n tweede oortreder van enige sodanige misdryf, tot gevangenisstraf vir `n tydperk van minstens 20 jaar vonnis; en
`n derde of verdere oortreder van enige sodanige misdryf, tot gevangenisstraf vir `n tydperk van minstens 25 jaar vonnis;
. . .
. . .
Met dien verstande dat die maksimum vonnis wat `n streekhof ingevolge hierdie subartikel mag oplê, nie meer as vyf jaar langer mag wees nie as die minimum vonnis wat hy ingevolge hierdie subartikel mag oplê.’
(Roof met verswarende omstandighede is een van die misdrywe bedoel in Deel II van Bylae 2.)
‘51(4) `n Vonnis in hierdie artikel beoog word vanaf die datum van vonnisoplegging bereken.’
[3] Artikel 280(1) en (2) van die Strafproseswet bepaal soos volg:
‘(1) Wanneer iemand by `n verhoor aan twee of meer misdrywe skuldig bevind word of wanneer iemand wat gevonnis staan te word of wat straf ondergaan aan `n ander misdryf skuldig bevind word, kan die hof hom veroordeel tot die verskillende strawwe vir daardie misdrywe of, na gelang van die geval, tot die straf vir so `n ander misdryf, wat die hof bevoeg is om op te lê.
(2) Bedoelde strawwe, wanneer hulle uit gevangenisstraf bestaan, neem `n aanvang die een na die verstryking, tersydestelling of kwytskelding van die ander in die volgorde wat die hof gelas, tensy die hof gelas dat sodanige gevangenisstrawwe saamloop.’
[4] Artikel 32(2) van die Wet op Korrektiewe Dienste 8 van 1959 wat na vonnisoplegging, met effek vanaf 1 Oktober 2004, herroep is deur die Wet op Korrektiewe Dienste 111 van 1998, welke wet in art 39 daarvan `n soortgelyke bepaling bevat het, het soos volg bepaal:
‘Wanneer iemand meer as een vonnis van gevangenisstraf opgelê word of addisionele vonnisse opgelê word terwyl hy `n tydperk van gevangenisstraf uitdien, word elke sodanige vonnis die een na die verstryking, tersydestelling of kwytskelding van die ander uitgedien in so `n volgorde as wat die Kommissaris bepaal, tensy die hof uitdruklik anders gelas of tensy die hof gelas dat sodanige vonnisse saam moet loop: Met dien verstande . . . .’
[5] Die appellant betoog dat artikels 280(2) en 32(2) nie geld in die geval van `n vonnis beoog in art 51 nie en dat meerdere vonnisse gevolglik ingevolge art 51(4) loop vanaf die datum waarop hulle opgelê is. Hierdie uitleg van die appellant het die volgende eienaardige resultate wat beswaarlik die bedoeling van die wetgeweer kon gewees het:
As `n persoon terselfdertyd twee minimum strawwe van vyf jaar elk ingevolge art 51 opgelê word, kan hy slegs vir vyf jaar aangehou word. As hy egter vir dieselfde misdrywe elk `n minimum straf van vyf jaar opgelê word, maar in die een geval slegs nadat hy die straf op die ander uitgedien het, kan hy vir tien jaar aangehou word.
`n Persoon wat 15 jaar gevangenisstraf uitdien en 10 jaar voor die verstryking van die 15 jaar `n ander misdaad in die gevangenis pleeg waarvoor die straf bedoel in art 51(2) minder as 10 jaar is, hoef geen addisionele gevangenisstraf ten opsigte van daardie misdryf uit te dien nie.
`n Persoon wat soos die appellant vier gewapende rowe gepleeg ten opsigte waarvan die gepaste straf ingevolge art 51 op elke afsonderlike klagte 15 jaar gevangenisstraf is, kan nie swaarder gestraf word as `n persoon wat slegs een van daardie gewapende rowe gepleeg het nie.
[6] Die appellant se uitleg van art 51(4) is duidelik nie korrek nie. Volgens art 51(4) word die vonnis wat uitgedien moet word, bereken vanaf die datum van vonnisoplegging. Dit beteken egter nie dat `n gevonnisde geag word te begin het met die uitdiening van sy vonnis voordat hy inderdaad begin het om sy vonnis uit te dien nie. Dit beteken slegs dat die gedeelte van die vonnis wat inderdaad uitgedien is, bereken word vanaf die datum van vonnisoplegging. Dit kan gebeur dat `n persoon met die uitdiening van sy vonnis begin dae of selfs maande nadat die vonnis opgelê is. So byvoorbeeld kan dit gebeur dat `n persoon wat op borg vrygelaat is hangende appèl en wie se appèl van die hand gewys word, eers veel later in bewaring geneem word. Die gedeelte wat hy uitgedien het, sal op enige stadium ingevolge art 51(4) bereken word vanaf die datum van vonnisoplegging maar dit beteken nie dat die gedeelte tussen die datum van vonnisoplegging en wanneer hy in bewaring geneem is, gereken sal word as `n gedeelte van die vonnis wat deur hom uitgedien is nie. Dit is dus in elke geval nodig om te bepaal wanneer die uitdiening van die vonnis inderdaad begin het. Artikel 51(4) handel geensins met daardie vraag nie en daar is gevolglik geen basis waarop bevind kan word dat die bedoeling van die wetgewer met die artikel was dat artikels 280(2) en 32(2), wat wel met daardie vraag handel, nie sou geld in die geval van `n vonnis opgelê ingevolge art 51 nie. Artikel 280(2) is dus van toepassing ook op vonnisse in art 51 beoog.
[7] Die appèl word gevolglik van die hand gewys.
___________________
STREICHER AR
STEM SAAM:
BRAND AR)
NUGENT AR)