South Africa: High Courts - Eastern Cape

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Courts - Eastern Cape >>
2008 >>
[2008] ZAECHC 157
| Noteup
| LawCite
S v Van Eeden (C.A & R. 257/07) [2008] ZAECHC 157 (12 September 2008)
Download original files |
FORM A
FILING SHEET FOR SOUTH EASTERN CAPE LOCAL DIVISION JUDGMENT
PARTIES: FRANCOIS VAN EEDEN V DIE STAAT (NOT REPORTABLE)
Case Number: C.A & R. 257/07
High Court: ECD, Grahamstown Criminal Appeal Court
DATE HEARD: 10 September 2008
DATE DELIVERED: 12 September 2008
JUDGE(S): JANSEN & NEPGEN JJ
LEGAL REPRESENTATIVES –
Appearances:
for the Applicant(s): ADV A HATTINGH
for the Respondent(s): ADV J VAN HEERDEN
Instructing attorneys:
Applicant(s): PAUL ROELOFSE ATTORNEYS
Respondent(s): DIRECTOR OF PUBLIC PROSECUTIONS
CASE INFORMATION -
Nature of proceedings: Topic: Indecent assault
Key Words:
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA NOT REPORTABLE
(OOS-KAAPSE AFDELING)
C.A. & R.: 257/07
Datum gelewer: 12 September 2008
In die saak tussen:
FRANCOIS VAN EEDEN Appellant
en
DIE STAAT Respondent
UITSPRAAK
JANSEN R:
Die appellant is in die streekhof te Port Elizabeth skuldig bevind op twee aanklagte van onsedelike aanranding. Hy is op elke aanklag gevonnis tot twee jaar gevangenisstraf. Hy appelleer teen sy skuldigbevinding sowel as die vonnisse hom opgelê. Na aanhoor van betoë is ’n bevel gemaak waarvolgens die appèl slaag. Ons het aangedui dat die redes sal volg.
Die appellant het aanvanklik tereg gestaan op dertien aanklagte waarvan nege onsedelike aanranding was en vier van crimen iniuria. Die eerste aanklag teen die appellant is teruggetrek. Na aanhoor van getuienis is hy onskuldig bevind en ontslaan op alle aanklagte behalwe aanklagte 2 en 3 waar die klaagster ene Ilke Kleinhans was. Drie ander meisies Liesl Lourens, Hayley Bouwer en Nicole Bouwer, wat ook klaagsters teen die appellant was, het in die verhoor teen die appellant getuig. Die streeklanddros het egter bevind dat ten aansien van hierdie drie klaagsters die Staat nie die skuld van die appellant bo redelike twyfel bewys het nie. Die aanklagte van crimen iniuria het gespruit uit die beweerde vertoning van pornografiese films aan die vier klaagsters. Op sterkte van ʼn toegewing gemaak deur die Staatsaanklaer het die streeklanddros die appellant op hierdie aanklagte van crimen injuria onskuldig bevind en ontslaan aangesien bewys ontbreek het van die presiese aard en omvang van die films wat aan die klaagsters vertoon is.
Ilke Kleinhans was 18 jaar oud toe sy op 2 Augustus 2004 getuienis in die saak afgelê het. Sy was toe in matriek. Volgens Ilke het sy, toe sy in standerd 4 was, dit wil sê in 1998, een aand op uitnodiging van die appellant se dogter Carla by Carla oorgeslaap. Volgens Ilke was dit die aand voor Carla se verjaarsdag. Dit is deur die appellant erken dat Ilke een aand daar oorgeslaap het, maar volgens hom was dit in 1997 toe Carla 11 jaar oud geword het en het Ilke die aand van Carla se verjaarsdag daar oorgeslaap.
Volgens Ilke het sy en Carla die betrokke aand in Carla se kamer gespeel. Carla se ma en broer was nie by die huis nie. Die appellant het die twee meisies geroep en genooi om saam met hom in die sitkamer na ʼn video op TV te kyk. Die video het gehandel oor kaal mans en vrouens wat ″goed gedoen het″. Volgens Ilke het die appellant tussen die twee meisies op die bank gesit. Die situasie was ongemaklik vir Ilke. Die appellant het daarop Carla gevra om vir hom koffie te gaan maak terwyl Ilke by hom in die sitkamer moes bly. Nadat Carla daar uit is het die appellant oorgeleun na haar toe en haar probeer soen. In die proses het hy haar bo-oor haar klere aan haar borste gevat asook onder aan haar privaatdeel. Sy het toe opgestaan en na Carla in die kombuis gegaan. Carla het daarop die koffie vir die appellant geneem waarna die twee meisies toe terug is kamer toe en daar gespeel het. Later die aand, nadat die twee meisies in die bed was, het die appellant in die kamer ingekom om vir hulle nag te kom sê. Hy het Ilke nag gesoen en in die proses sy tong in haar mond gedruk. Terselfdertyd het hy sy hand onder die duvet ingesteek en bo-oor haar slaapklere weer aan haar borste en privaatdeel gevat. Op daardie stadium het Carla langs haar op die bed gelê. Dit was hierdie twee insidente, soos beskryf deur Ilke, wat gelei het tot die skuldigbevinding van die appellant op die twee aanklagte van onsedelike aanranding.
Dit was Ilke se getuienis dat die appellant die volgende oggend haar vermaan het om nie haar ouers te vertel wat die vorige dag aan haar gedoen is nie. Nadat Ilke en Carla by die appellant se huis weg is het Ilke aan haar vertel wat die appellant aan haar gedoen het. Volgens Ilke het die aangeleentheid die volgende jaar eers weer ter sprake gekom. Een van die ander klaagsters in die saak, Liesl Lourens, het by die skool vertel wat met haar gebeur het. Carla het daarop ʼn aanmerking gemaak dat iets soortgelyks aan Ilke gedoen is. ʼn Klasonderwyseres is toe betrek waarna die personeel van Child Line gekontak is. Op sterkte van ʼn dreigement deur ʼn personeellid van Child Line dat indien Ilke nie aan haar ma vertel wat met haar gebeur het nie Child Line dit sou doen, het Ilke toe dit aan haar ma vertel. Niks is verder omtrent die aangeleentheid gedoen nie tot twee jaar daarna toe die meisies in standerd 7 was toe, volgens Ilke, Carla in trane by die skool aangekom het en gesê het dat sy nie langer die molestering van haar deur haar pa kon hanteer nie. Child Line is toe weer ingeroep en die saak is uiteindelik aanhangig gemaak by die polisie. Ilke het ʼn verklaring by die polisie afgelê.
In haar polisieverklaring meld Ilke dat die appellant aan hulle ’n pornografiese film asook boeke gewys het. Hy het tussen hulle twee op die bank gesit en beide van hulle vasgehou soos die mense op die film gemaak het. Hy het half op hulle gelê en haar probeer soen. Volgens haar verklaring het sy toe huis toe gegaan. Alhoewel sy dit nie spesifiek noem nie, is dit duidelik dat sy toe weer moes teruggekeer het na die appellant se huis. Sy verklaar dat die appellant toe gesê het ″...ons moet kom dat hy die films kan klaar wys.″ Hy het toe ook gesê dat hy iets anders sou wys. Sy gaan soos volg voort: “Toe ons die film kyk het Oom Spikkels (die appellant) egter weer ‘n pornografiese film gewys. Oom Spikkels het toe aan my borste en privaatdele gevat. Ek is nie seker of Carla dit gesien het nie.″ Haar verklaring is in stryd met haar hoofgetuienis. Daarvolgens was Carla glad nie teenwoordig tydens die beweerde betasting nie aangesien Carla op bevel van die appellant gaan koffie maak het. Nadat die appellant haar betas het is sy ook kombuis toe waar sy by Carla gesit het totdat Carla die koffie vir die appellant geneem het. Hierdie getuienis word verder verander tydens kruisverhoor toe Ilke getuig dat die appellant haar betas het en dat Carla toe ingekom het en dat Ilke eers opgestaan het nadat Carla vir die appellant koffie gegee het.
In haar polisieverklaring het Ilke ten aansien van die gebeure in die kamer die volgende gesê: ″Die aand toe ons gaan slaap het Oom Spikkels ons kom toe maak en weer aan my privaatdele kom vat onder die komberse″. Tydens haar getuienis in hoof het sy getuig dat toe sy en Carla in die bed was het die appellant hulle kom nag sê en hy haar betas het by ″dieselfde plekke″, by haar borste en onder by haar privaatdeel. Tydens kruisverhoor verander sy egter haar weergawe en getuig dat die appellant toe net aan haar borste gevat het. Sy het getuig dat sy doodseker daarvan was. Die klagstaat beweer daarteenoor dat daar net aan haar privaatdeel gevat is.
Uit wat hierbo gesê is blyk dit duidelik dat daar ʼn radikale verskil is in die weergawe van Ilke aan die polisie wanneer dit vergelyk word met haar getuienis in hoof en met verdere afwykings tydens kruisverhoor. Toe sy gekonfronteer word met die verskille was haar antwoord dat die voorvalle so veel jaar terug gebeur het dat sy dit nie alles meer kan onthou nie.
Dit was Ilke se getuienis dat sy slegs op een geleentheid by die appellant aan huis oorgeslaap het op uitnodiging van Carla. Volgens haar was dit die aand voor Carla se verjaarsdag. Die appellant gee toe dat Ilke daar oorgeslaap het maar volgens hom was dit op die aand van Carla se verjaarsdag met ander gaste wat ook teenwoordig was. Toe Ilke daarmee gekonfronteer word gee sy toe dat dit moontlik is dat sy inderdaad met Carla se verjaarsdag daar geslaap het en nie die vorige aand nie. Sy gee toe dat sy nie spesifiek kan onthou nie want dit het baie lank terug plaasgevind.
‘n Sielkundige, Nicolise Odendaal, is deur die Staat geroep met betrekking tot Ilke se gemoedstoestand na die beweerde voorval met die appellant. Haar getuienis, na my oordeel, het niks bygedra tot die vraag of dit bo redelike twyfel bewys is dat die appellant die dade met Ilke gepleeg het nie. Odendaal baseer haar opinie oor erge trauma wat Ilke ervaar het op foutiewe aannames. Volgens Odendaal is Ilke na haar verwys in 1999 na ʼn poging om selfmoord te pleeg. Volgens die klaagster se moeder was hierdie poging eers aangewend nadat die aangeleentheid by die polisie aangemeld is. Dit is gemeensaak dat dit in 2001 geskied het. Hierdie foutiewe aanname het ʼn ernstige refleksie op Odendaal se getuienis soos blyk uit haar antwoord dat die simptome wat sy by Ilke gevind het te voorskyn getree het met die eerste selfmoordpoging. ʼn Sterk moontlikheid bestaan derhalwe dat Ilke se gemoedstoestand toegeskryf kan word aan haar blootstelling aan die polisie en die aflegging van die verklaring wat op 12 Mei 2001 plaasgevind het. ʼn Ander verkeerde uitgangspunt van Odendaal is dat die trauma wat Ilke ervaar het herleef het as sy in die straat loop waar die appellant se huis was of na die kafee toe gegaan het en in hom vasgeloop het. Dit was so traumaties, volgens Odendaal, dat Ilke se ouers later aan haar gesê het dat ʼn ander roete gevolg moet word en dat hulle haar heeltemal verwyder het van daardie omgewing. Daarteenoor was Ilke se eie getuienis dat sy nog dikwels by die appellant se huiswinkel gekom het en aankope by hom gedoen het, maar in die geselskap van iemand anders. Dit blyk uit die getuienis van Ilke se moeder dat hulle dit aan Ilke oorgelaat het om die appellant se huiswinkel te besoek indien sy dit so sou verkies. Daar was geen sprake dat hulle haar wou verwyder het uit daardie omgewing nie. Odendaal steun verder op ’n verswakte skoolprestasie van Ilke. Volgens mev. Kleinhans was standerd 4 die enigste jaar wat die klaagster nie pryse gekry het nie. Vanaf standerd 5 het sy weer presteer ten spyte van die sielkundige probleme wat tot selfmoordpogings gelei het. Volgens mev. Kleinhans het die klaagster haar ʼn verduideliking gegee vir haar swakker prestasies in standerd 4, naamlik dat sy dit as moeilik ervaar het.
Dit blyk verder uit die toegewing wat Odendaal gemaak het dat toe sy Ilke gesien sy pas as sielkundige gekwalifiseer het. Sy het nog geen of bitter weinig praktiese ondervinding gehad. Ilke was na haar verwys as ʼn pasiënt. Sy het haar altesaam tien keer gesien. Die laaste vier sessies was gefokus om haar trauma te integreer sodat sy aanpas in die nuwe skoolomgewing toe sy na die hoërskool is. Sy het slegs beperkte notas tydens die terapie sessies gehou. Die notas is nie gehou met die oog op ʼn forensiese ondersoek nie.
Die appellant het in sy verdediging getuig. Hy onthou die een geleentheid wat Ilke daar geslaap het. Dit was die aand met Carla se verjaarsdag. Die Bouwers was ook daar. Hy ontken dat hy Ilke betas het. Hy erken dat hy sagte pornografiese videos in sy huis het waarna hy soms kyk. Hy ontken egter dat hy ooit so ʼn video aan Ilke en Carla gewys het soos Ilke getuig het.
Nadat die verdediging se saak gesluit is het die streeklanddros besluit om, soos hy dit gestel het, in belang van die regspleging twee getuies te roep. Die eerste van hierdie getuies was Carla van Eeden, die appellant se dogter. Die tweede getuie wat die streeklanddros geroep het was Prof. Karen Műller ʼn professor in die regte aan die NMMU. Uit ʼn aanmerking wat die streeklanddros gemaak het aan die begin van die getuienis van Carla van Eeden blyk dit dat op daardie stadium die streeklanddros skynbaar nog nie finaal besluit het of hy professor Műller gaan roep nie. Hy noem teenoor Carla dat Professor Műller teenwoordig is in die hof en dat hy ″later gedurende die verloop van die verrigtinge gaan (hy) hopelik dan nou ook vir haar vra om vir (hom) by te staan in die saak.″
Carla was 19 jaar oud toe sy getuig het. Sy het reeds matriek voltooi. Voordat sy getuig het, het die streeklanddros haar meegedeel dat indien sy twee teenstrydige verklarings onder eed aflê kan sy haarself bloot stel aan gevangenisstraf vir ʼn tydperk van twee jaar.
Carla van Eeden bevestig die getuienis van Ilke sowel as die klaagster Liesl Lourens dat hulle aan haar gesê het dat die appellant aan hulle gevat het. Sy ontken egter ten sterkste dat sy op ʼn reaksie van ʼn rapport van Ilke aan haar sou gesê het dat die appellant dit maar so doen met al haar maatjies. Sy ontken ook ten sterkste dat die appellant pornografiese films gekyk het terwyl sy en haar maatjies teenwoordig was. Ten spyte van die waarskuwing dat sy gevangenisstraf van twee jaar in die gesig staar as sy afwyk onder eed van ʼn verklaring onder eed afgelê, wyk Carla in totaal af van die verklaring wat sy aan die polisie afgelê het. Carla is as ʼn getuie deur aggressiewe kruisverhoor van die staatsaanklaer totaal gediskrediteer. Dit blyk ook uit die streeklanddros se uitspraak dat hy haar getuienis verwerp waar dit bots met die Staat se saak. Uiteindelik blyk dit dat hy slegs steun op die getuienis van Carla ten aansien van die rapporte wat deur Ilke Kleinhans en Liesl Lourens gemaak is. Die streeklanddros bevind dat Carla geen positiewe bydrae tot die appellant se weergawe maak nie maar eintlik dele van die Staatsaak bevestig. Die streeklanddros maak die stelling dat Carla slegs die appellant weerspreek. Die streeklanddros sê dan verder soos volg: ″Deel van haar getuienis is ondersteunend van die weergawes van Ilke en Liesl onderskeidelik, nie as direkte getuienis nie, maar inderdaad (om) die konsekwentheid van hulle weergawes te beklemtoon″.
Professor Karen Műller is deur die streeklanddros geroep om te getuig om, soos hy dit gestel het, hom by te staan. Die getuie is ʼn professor in die regte. Sy is nie ʼn sielkundige nie. Sy het bloot sielkunde bestudeer in die proses om haar doktoriale tesis af te handel. Sy het die getuienis van Carla van Eeden waargeneem en ʼn teoretiese verslag opgestel wat handel met openbaarmaking van seksuele wandade op kinders en vals getuienis deur kinders. Sy verwys na die rapportering en nie-rapportering deur die kinders wat getuig het vir die Staat maar sy bring dit slegs in verband met moontlike teorieë hieroor en neem nie die saak verder nie. Sy het nie ʼn onderhoud met enige van die kinders gehad nie maar het afskrifte van die rekord wat die getuienis van die vier klaagster bevat het tot haar beskikking gehad. Op meer as een geleentheid kon sy nie spesifieke vrae ten aansien van spesifieke klaagsters wat aan haar gestel is antwoord nie omdat, volgens haar, sy nie ʼn onderhoud met een van hulle gehad het nie. In sy uitspraak behandel die streeklanddros die getuienis van Professor Műller maar laat na om te sê in watter mate haar getuienis vir hom van hulp was by die aanvaarding van die getuienis van Ilke en die nie-aanvaarding van die getuienis van die ander klaagsters.
Die slotsom waartoe die streeklanddros kom in sy uitspraak word soos volg deur hom gestel:
″Dit is geykte reg dat die Staat die bewyslas dra om sy saak bo redelike twyfel te bewys. Die beskuldigde persoon dra geen bewyslas nie. Ten einde tot ʼn beslissing in die aangeleentheid te kom, word daar gelet op die inherente sterk en swak punte; die waarskynlikhede en onwaarskynlikhede van die totaliteit van die getuienis. Die weergawe van die Staat en van die beskuldigde is reëlreg teenstrydig met mekaar. Ten spyte van die vele gebreke in die Staatsaak, waarna reeds verwys is, is ek nogtans van oordeel dat nie een van die klaagsters oneerlike getuies was wie se getuienis summier verwerp behoort te word nie. In hul eie reg is elkeen se getuenis egter steeds enkel getuienis op grond waarvan ʼn skuldigbevinding of skuldigbevindings uitgebring kan word. Dit moet egter ook blyk dat die getuienis betroubaar is en hier verwys ek na die saak van S V SABAN EN ñ ANDER 1992 (1) SASV 199 (A). ʼn Verskeidenheid van faktore dikteer egter teen die onvoorwaardelike aanvaarding van sommige klaagsters se weergawes as synde betroubare getuienis. Hierdie faktore is onder andere tydsverloop, ouderdom, stadium van kognitiewe en emosionele ontwikkeling, opvoedingsvlak, lewenservaringe, persoonlik-heid en temperament. Aspekte wat nou hierby aansluit, is die sekondêre trauma vervat in die prosesse wat die hofverrigtinge vooraf gegaan het, (byvoorbeeld die afneem van die polisieverklarings) en die verhoor- prosedure self, asook die effek daarvan op die betroubaarheid van hulle getuienis, (wat natuurlik nie verwar moet word met eerlikheid nie). Ek meen egter nogtans dat die beskikbare getuienis nie anders geinterpreteer kan word, as dat elkeen van die onderskeie klaagsters wel op een of ander manier deur die beskuldigde op ʼn onbehoorlike wyse betas is nie. Dit is om die reeds vermelde redes egter bloot nie moontlik om te bevind hoe (en in sommige gevalle selfs wanneer) hierdie voorvalle plaasgevind het nie. Hierdie deel van die Staat se bewyslas is nie nagekom nie.
Die getuienis van Ilke word ondersteun deur verskeie weergawes:- naamlik haar konsekwente rapport aan Carla van Eeden ten opsigte van die betasting kort na die gebeure;- haar verdere openbarings aan haar moeder Mev Kleinhans ten opsigte van die geleentheid self is daar ook direkte stawing van Carla van Eeden en tot ʼn mate haar (klaagster se) moeder ten opsigte van die merkbare langdurige psigologiese- en emosionele impak van die trauma, deur haar moeder en Mev Odendal.
In teenstelling daarmee, is daar slegs die ontkenning van beskuldigde wat klaarblyklik op ʼn valse basis gebaseer is. Ek het geen huiwering om die beskuldigde se weergawe te verwerp waar dit bots met die weergawe van Ilke Kleinhans nie. Alhoewel geen objektiewe getuienis ter stawing van die beweerde pornografiese materiaal aangebied is nie, kan dieselfde nie gesê word van die betastingvoorvalle nie. Ek aanvaar Ilke se weergawe dat sy by twee geleenthede onsedelik betas is deur die beskuldigde.“
Dit is geykte reg dat ʼn beskuldigde skuldig bevind kan word op die getuienis van ʼn enkelgetuie. Ilke Kleinhans was ʼn enkelgetuie ten aansien van die gebeure in die appellant se huis waarop die appellant skuldig bevind is. Voordat ʼn skuldigbevinding op die getuienis van ʼn enkelgetuie kan volg moet sodanige getuienis duidelik en bevredigend op alle wesenlike aspekte wees (clear and satisfactory in all material respects) soos bespreek in S v Sauls and Others 1981 (3) SA 172 (A) p. 180C-H. Dit blyk nêrens uit die uitspraak van die streeklanddros dat hy hoegenaamd die getuienis van Ilke Kleinhans aan die hand van hierdie versigtigheidsreël beoordeel het nie. Wanneer die getuienis van Ilke Kleinhans behoorlik ontleed word, soos hierbo gedoen is, blyk dit dat sy haarself weerspreek het in haar getuienis asook haar verklaring wat sy by die polisie afgelê het. Sy het erken dat sy nie meer goed onthou wat gebeur het nie aangesien die voorval waaroor sy getuig het lank tevore plaasgevind het. In die aangehaalde passasie uit die streeklanddros se uitspraak blyk dit dat ten opsigte van die geleentheid self hy ook direkte stawing van Ilke se weergawe deur Carla vind. Dit was nie die geval nie. Carla het Ilke weerspreek. Carla getuig glad nie van ʼn insident waar die appellant tussen die twee meisies gesit het en hulle gedruk het terwyl hulle na ʼn pornografiese film gekyk het nie. Die streeklanddros maak verder staat op ondersteuning van Ilke se getuienis deur die konsekwente rapport wat sy aan Carla gemaak het ten opsigte van die betasting kort na die gebeure. Dit is nie duidelik watter konsekwente rapport dit is waarna die streeklanddros verwys nie. Al wat Carla getuig het is dat Ilke aan haar gesê het dat die appellant aan haar borste en privaatdele gevat het. Wanneer dit sou plaasgevind het getuig Carla nie. Ilke getuig van twee insidente, naamlik in die sitkamer en in die slaapkamer. Volgens Ilke het Carla toe die rapport aan haar gemaak is gesê dat die appellant dit aan al haar maatjies doen. Carla het daarinteen getuig dat sy aan Ilke sou gesê het dat sy dit nie glo dat haar pa so iets sou doen nie. Die streeklanddros vind verder ondersteuning vir Ilke se weergawe in die openbaring aan haar moeder. Hierdie openbaring het die volgende jaar plaasgevind. Dit was nadat druk deur Child Line op haar toegepas is. Hierdie openbaarmaking kan geen ondersteuning van Ilke se getuienis wees nie. Getuienis van ʼn eerste rapport na ʼn onsedelike daad is toelaatbaar as getuienis slegs om die konsekwentheid van ʼn klaagster se weergawe te bewys. Die rapport aan haar ma deur Ilke val nie in hierdie kategorie nie. Dit is verder nie duidelik hoe die klaagster se ma se waarneming van die psigologiese en emosionele impak op Ilke stawing vir Ilke se weergawe gee nie. Ek het reeds verwys na die verkeerde vertrekpunt wat mev Odendaal in die saak gevolg het.
Wanneer alles in ag geneem word is ek van oordeel dat, soos in die geval van die ander klaagsters, die streeklanddros ook twyfel moes gehad het of die skuld van die appellant bo redelike twyfel bewys is so ver dit die gebeure rondom Ilke Kleinhans aangaan.
By gevolg het die appèl geslaag. Die skuldigbevinding en vonnisse is ter syde gestel.
_______________________
J C H JANSEN
REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF
NEPGEN R:
Ek stem saam.
_______________________
J J NEPGEN
REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF