South Africa: Eastern Cape High Court, Port Elizabeth

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Eastern Cape High Court, Port Elizabeth >>
2009 >>
[2009] ZAECPEHC 13
| Noteup
| LawCite
Prinsloo v Minister van Veiligheid en Sekuriteit (2099/06) [2009] ZAECPEHC 13 (11 March 2009)
Download original files |
FORM A
FILING SHEET FOR EASTERN CAPE, PORT ELIZABETH
PARTIES: PIETER ROELF PRINSLOO V THE MIN OF SAFETY & SECURITY
NOT REPORTABLE
Case Number: 2099/06
High Court: EASTERN CAPE, PORT ELIZABETH
DATE HEARD: 5 & 6 MARCH 2009
DATE DELIVERED: 11 MARCH 2009
JUDGE(S): JANSEN J
LEGAL REPRESENTATIVES –
Appearances:
for the Applicant(s): ADV B PRETORIUS
for the Respondent(s): ADV WESSELS & ADV NOBATANA
Instructing attorneys:
Applicant(s): NEL MENTZ INC
Respondent(s): STATE ATTORNEY
CASE INFORMATION -
Nature of proceedings:
Key Words:
Summary:
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA NIE RAPPORTEERBAAR NIE
OOS-KAAPSE AFDELING, PORT ELIZABETH
Saak no.: 2099/06
Datum gelewer: 11 Maart 2009
In die saak tussen:
PIETER ROELF PRINSLOO Eiser
en
DIE MINISTER VAN VEILIGHEID EN SEKURITEIT Verweerder
UITSPRAAK
JANSEN, R:
Hierdie is weereens ’n saak wat aanhangig gemaak is teen die Minister van Veiligheid en Sekuriteit waarin skadevergoeding geëis word deur ’n persoon wat onregmatiglik gearresteer, aangehou en vervolg is deur polisiebeamptes wat in die uitvoering van hul ampspligte opgetree het. Die eiser in hierdie aangeleentheid is self ’n polisiebeampte, ’n speurder-inspekteur in diens van die Suid-Afrikaanse Polisie Diens gestationeer te Humansdorp.
Die verweerder het die eiser se eis in die geheel teengestaan en die partye het ooreengekom dat die meriete van die saak en die quantum van skade geskei word. Met die aanvang van die verhoor op die meriete het die verweerder toegegee dat die arrestasie en die aanhouding en die vervolging van die eiser onreëlmatig was. Die saak voor my was dus slegs beperk tot die quantum van skadevergoeding. Ingevolge die eiser se Gewysigde Besonderhede van Vordering het hy R250 000 geëis vir onregmatige arrestasie en berowing van sy vryheid, ook R250 000 skadevergoeding vir die skending van sy fama en dignitas deur die onregmatige arrestasie en aanhouding, asook R250 000 vir die onregmatige vervolging en skending van sy fama en dignitas weens sodanige onregmatige vervolging. Die eiser het verder regskoste om homself te verdedig geëis in die bedrag van R6 000 asook ’n bedrag van R3 515 vir psigiatriese en sielkundige koste wat hy reeds aangegaan het sowel as ’n bedrag van R321 200 vir toekomstige psigiatriese en sielkundige onkoste.
Hierdie is nog ’n geval wat in die afgelope tyd dikwels voorkom waar die regspan wat namens ’n verweerder optree, spesifiek waar ’n Staatsdepartment by betrokke is, nie behoorlike opdrag gekry het nie. Soos gebruiklik is in ’n siviele verhoor het die regspanne van beide partye my die oggend voor die verhoor in kamers kom sien. Ek het hulle uitgevra omtrent die saak en wat nog in geskil was en wat hulle verwagtinge was hoe lank die saak sou duur. Die eiser se advokaat het my meegedeel dat benewens die eiser self ten minste nog drie getuies, twee waarvan deskundige getuies is, in die eiser se saak sou getuig. Die verweerder se advokate het my meegedeel dat die verweerder se regspan geen opdragte vanaf die verweerder kon kry ten aansien van die houding wat hulle in die saak moes inneem nie. Ek is meegedeel dat korrespondensie wat gerig is aan die verweerder se kantoor onbeantwoord gelaat is. Die verrigtinge het daarna in die hof begin. Met die materiaal tot sy beskikking het mnr Wessels, namens die verweerder, die getuienis wat namens die eiser aangebied is getoets na die beste van sy vermoë. Aan die einde van die eerste dag het ek in die ope hof mnr Wessels versoek om weereens stappe te neem ten einde behoorlike instruksies van die verweerder te verkry. Dit was op daardie stadium duidelik dat die getuienis namens die eiser onbetwis gelaat sou word. Geen stelling kon namens die verweerder gemaak word teenoor die getuienis namens die eiser wat op ’n feitegeskil kon uitloop nie. Op die oggend van die tweede dag van die verhoor is ek meegedeel deur mnr Wessels dat sy opdraggewende prokureur uiteindelik daarin kon slaag om telefoniese kontak te maak met die verweerder se kantoor, en dat bloot opdrag gegee is dat voortgegaan moet word om die eiser se saak teen te staan. Uiteindelik het vier getuies namens die eiser getuig en die verweerder se saak is gesluit sonder enige getuienis wat gelei is. Die gevolg is, en dit is by implikasie deur mnr Wessels toegegee, dat die quantum van die eiser se skade bepaal moet bloot op ’n evaluering van die getuienis wat namens die eiser aangebied is. Die houding van die verweerder kan op die beste vir die verweerder toegeskryf word aan óf ’n gebrek aan belangstelling, óf ’n gebrek aan kennis en begrip.
Die eiser, tans 42 jaar oud, het hom in die vroeë jare negentig van die vorige eeu by die munisipale polisie te Humansdorp aangesluit. Kort daarna was die munisipale polisie by die Suid-Afrikaanse Polisie ingelyf. Kort voor hierdie inlywing was die eiser betrokke by twee voorvalle wat gelei het tot sy skuldigbevinding in ’n hof. In die een geval is hy ’n boete opgelê en in die ander geval is hy op drie aanklagte wat uit een voorval gespruit het, tot ’n boete wat in die geheel opgeskort is gevonnis. In een van hierdie gevalle is hy gearresteer en het hy oornag in ’n polisiesel deurgebring. Sedert sy indiensneming by die Suid-Afrikaanse Polisie Dienste het die eiser ’n onberispelike rekord gehad. Hy het uiteindelik gevorder tot die rang van inspekteur en is aangestel by die speurtak te Humansdorp. Uit die stukke wat aan my voorgelê is blyk dit dat hy uitstaande werk verrig het as ’n speurder en dat hy talle komplemente ontvang het en getuigskrifte wat dui op uitstaande speurwerk wat hy gedoen het. Hy het ’n hoë aansien geniet as ’n speurder in die gemeenskap.
Die eiser is gebore en het groot geword in Humansdorp. Hy het ook daar skool gegaan. Sy vader was ’n boukontrakteur wat hoë aansien in die gemeenskap geniet het. Die eiser het ook nog vyf broers wat saam met hulle vader betrokke geraak het in ’n boukontrakteursonderneming. Die hele familie het groot aansien geniet in die Humansdorp omgewing. Die opvoeding wat deur die Prinsloo uitgebreide familie toegepas was het ’n sterk Christelike inslag gehad. Die eiser self het betrokke geraak in die kerk en is gekies as diaken op ’n baie jeugdige ouderdom. Hy het sy bes gedoen om ’n voorbeeldige lewe te lei en het ook betrokke geraak in gemeenskapsprojekte. Hy is getroud met ’n stafverpleegster en vir hulle is drie kinders gebore. Die oudste werk tans in die Verkeersafdeling te Graaff-Reiniet terwyl die tweede, ’n dogter, studeer aan die NMMU te Port Elizabeth. Die jongste, ook ‘n dogtertjie, is tans nog op skool in Humansdorp. Ten einde hulle lewensomstandighede te verbeter het die eiser en sy eggenote ‘n huis aangekoop en dit ombou tot ‘n winkel waaraan gekoppel is ‘n afdeling waar jongmense hul tyd kom verwyl met allerhande aktiwiteite. In kort, die eiser was ‘n vooraanstaande lid van die gemeenskap na wie die lede van die gemeenskap opgesien het as ‘n polisiebeampte, as ‘n kerkman en ‘n gemeenskapsleier.
Toe kom die oggend van 28 November 2004. Dit was ’n Sondagoggend. Die eiser was op daardie stadium die speurder op bystandsdiens. Ongeveer half ses die oggend was daar ’n klop aan sy huis se deur. Die eiser se vrou het hom wakker gemaak, waarna hy opgestaan het en na die voordeur gestap het. Twee polisiebeamptes, kaptein Kok en kaptein Ketteldas, een verbonde aan die speurtak en die ander een aan die uniformtak, was by die deur. Kaptein Kok het aan hom meegedeel dat twee speurders vanaf georganiseerde misdaad met hom ’n gesprek wil voer. In opdrag van kaptein Kok het die eiser sy selfoon en sy vuurwapen aan die kaptein oorhandig. Dit was vir hom reeds ’n vernedering. Hy is verder meegedeel dat hy nie by magte was om sy amptelike polisievoertuig te bestuur nie. Kaptein Ketteldas het dit gedoen. Dit was ook vir hom ’n vernedering. Kaptein Ketteldas het die voertuig bestuur en die eiser het saam met kaptein Kok in sy voertuig gery. By die polisiekantoor aangekom is hy na die stasiebevelvoerder se kantoor. Daar is hy deur die stasiebevelvoerder, vroue-superintendent Mene, meegedeel dat twee polisiebeamptes vanaf georganiseerde misdaad hom wil arresteer. Sy het toe ’n telefoonoproep gemaak. Die polisiebeamptes was in die kantoor langs hare. Twee polisiebeamptes vanaf georganiseerde misdryf, inspekteur Arries en inspekteur Dyan, het daarop die kantoor ingekom en hom meegedeel dat hulle hom arresteer op ’n aanklag dat hy in mandrax handel gedryf het. Daar was glo sewe sake teen hom. Hierdie was ’n erge skok vir hom en hy het onmiddellik aan die huil geraak. Sy vrou was in die omgewing nadat hy vroeg, toe hy by die huis weg was, vir haar gevra het om ook na die polisiekantoor te kom. Hy het aan sy vrou geskree dat hy gearresteer is. Sy het histeries geraak by die aanhoor van die nuus. Op versoek van inspekteur Arries het kaptein Kok die eiser na die Jeffreysbaai Polisiekantoor geneem waar hy na ‘n sel geneem is en alleen aangehou is. Op daardie stadium was superintendent Patrick Goeda die waarnemende stasiebevelvoerder. Die eiser en hy het mekaar goed geken. Die eiser het eintlik voor superintendent Goeda groot geword. Hy is vanuit die sel na superintendent Goeda se kantoor geneem. Toe hulle mekaar sien het die eiser in trane uitgebars. Hy het onmiddellik aan superintendent Goeda gesê dat hy onskuldig gearresteer is. Superintendent Goeda het gepoog om ’n staatsaanklaer in die hande te kry sodat ’n borgaansoek gebring kon word nie. Dit kon egter nie gedoen word nie. Die eiser is daardie dag alleen in ’n sel aangehou. Die volgende dag is drie ander persone by hom geplaas. Twee van hulle was aan hom bekend. Sy versoek dat hy eerder alleen aangehou word, of saam met ’n ander polisiebeampte wat ook in aanhouding was in ’n sel geplaas word, het op dowe ore geval. ’n Aanduiding is deur die polisie in beheer van die selle gegee dat daar gevrees is dat die eiser, indien hy alleen aangehou word die Maandag, sy eie lewe sou neem. Die afleiding wat hieruit gemaak kan word is dat daar op daardie vroeë stadium reeds opgelet is hoe erg emosioneel en depressief die eiser was en hoe ’n negatiewe effek die arrestasie op hom gehad het. Die eiser het getuig dat hy op daardie stadium totaal gebroke gevoel het. Op Dinsdag 30 November 2004 is die eiser na die hof te Humansdorp geneem. Die hofsaal was gepak met mense. Behalwe familielede wat hom ondersteun het asook vriende was daar baie nuuskierige mense teenwoordig. R10 000 borgtog is aan die eiser toegestaan. ’n Voorwaarde was egter dat hy elke Vrydag by die polisiekantoor te Jeffreysbaai moet gaan aanmeld. Hy mag ook nie sonder die toestemming van die ondersoekbeampte die distrik van Humansdorp verlaat het nie. Die eiser het dit erg vernederend gevind om na Jeffreysbaai te ry om hom te gaan aanmeld by die polisiestasie. As gevolg van hierdie arrestasie van die eiser is hy sonder betaling uit die polisie geskors. Hierdie hele insident het ’n ernstige nadelige effek op sy familie gehad. Sy vrou was gebroke en sy kinders, wat baie respek vir hulle pa gehad het, was erg geskok oor die voorval.
Die eiser se arrestasie en hofverskyning het ook groot publisiteit in die pers geniet. ’n Berig in ’n koerant “Our Times“, wat wyd versprei word in die Koega area, met ’n foto van die eiser by die berig, het nuus gedra omtrent die eiser se inhegtenisname wat ’n skokgolf deur die gemeenskappe van Jeffreysbaai en Humansdorp gestuur het. Dit word ook as ’n feit genoem dat die eiser ’n baie besondere knap speurder was wat aktief betrokke by gemeenskapsbedrywighede was. Gewag is gemaak van die feit dat met sy verskyning in die hof hy geklee was in verslete sandale, ’n kortbroek, ’n T-hemp en ’n windjakker. Daar was ook ’n voorbladberig omtrent die arrestasie van die eiser in “Die Burger“ wat in die hele Oos-Kaap gesirkuleer word, met groot plakkate wat die voorbladberig geklemtoon het wat op lamppale aangebring is.
Op 18 Februarie 2005 is die eiser se borgvoorwaarde gewysig en is die bepaling dat hy elke Vrydag by Jeffreysbaai Polisiestasie moes rapporteer geskrap. Op 8 Maart 2005 is alle aanklagte teen die eiser teruggetrek. ’n Dag tevore is ’n berig in “Our Times“ geplaas, ook op die voorblad, waar ’n onderhoud gevoer is met die eiser en hy sy mening uitgespreek het dat daar gekonkel is met die saak teen hom. Die hoof opskrif van die artikel het gelei: “Speurder sê hy’s glo geframe“ Op 11 Maart is daar weereens in die pers aandag aan die eiser gegee. ’n Berig met die opskrif ”Hof trek saak teen Prinsloo terug“ gepubliseer in ”Our Times” verskyn ’n foto van die eiser saam met familielede van hom wat glo “in beter dae“ geneem is. In die berig word gemeld dat die saak teen die eiser teruggetrek is en weereens word klem gelê oor die skokgolwe wat sy arrestasie deur die gemeenskappe van Jeffreysbaai en Humansdorp gestuur het. Weereens word melding gemaak dat hy ’n knap speurder is en aktief betrokke was by gemeenskapsbedrywighede.
Dit is nie in geskil geplaas nie dat die arrestasie, aanhouding en vervolging van die eiser, wat deur die verweerder erken is onregmatig was, ernstige sielkundige effek op die eiser gelaat het. Volgens die eiser self het hy kort na sy vrylating op borgtog besef dat hy ernstige emosionele probleme ondervind. Selfmoordgedagtes het sterk na vore gekom. Hy het besluit om mediese hulp in te roep en vroeg in Desember 2004 het hy sy eerste besoek by dr Sonja Prinsloo, ’n psigiater in Port Elizabeth, afgelê. Volgens dr Prinsloo, wat namens die eiser getuig het, was hy huilerig en het gekla van slaaploosheid, moegheid en het moedeloos voorgekom. Sy het hom uiters getraumatiseerd gevind en was van oordeel dat hy duidelik die kriterium vir ’n toestand van major depressie bereik het. Selfmoordneigings was ernstig. Sy het hom beskryf as ’n baie siek mens. Sy het hom anti-depressante en slaappille voorgeskryf. Dit het duidelik die gewenste uitwerking gehad. Die eiser het egter dit as vernederend beskou om bekend te wees as ’n persoon wat moet leef op ’n anti-depressant. Hy het daarop, na ’n paar maande waartydens hy dit gebruik het, besluit om die inname daarvan te staak. Hy het geglo dat hy geestelik sterk genoeg sou wees om die probleme wat hy emosioneel ondervind het te bowe te kom. Hy was ongeveer ’n jaar van die medikasie af, maar sy toestand het so versleg dat hy uiteindelik weer dr Prinsloo se hulp ingeroep het. Dr Prinsloo het die eiser weer op 16 November 2007 gesien. Volgens haar oordeel was hy weereens ’n baie siek man en het teruggeval in sy vorige toestand met dieselfde simptome. Die besliste selfmoordgedagtes was sterk. Sy het sterker medikasie voorgeskryf wat die eiser tans nog gebruik. Haar diagnose van die eiser is dat hy nie net ’n major depressiewe versteuring het nie, maar ook ’n post traumatiese stres versteuring. Sy prognose is swak. Daar bestaan ’n 70-80% waarskynlikheid dat indien die eiser weer sy medikasie sal staak hy in dieselfde toestand sal verval waarin hy aan die begin van Desember 2004 en weer in November 2007 was. Volgens dr Prinsloo sal die eiser waarskynlik die medikasie moet neem vir die res van sy lewe. Ten spyte van die inname van die medikasie het die lewe van die eiser in sy geheel verander. Sy vermoë om te werk is nadelig beinvloed. Sy selfwaarde is aangetas. Sy sosiale lewe het daaronder gelei. Dr Prinsloo beskryf dit as ’n ernstige aantasting van sy lewe. Die medikasie wat hy vir sy toestand van depressie moet gebruik het ook ’n nadelige effek op sy seksuele lewe.
Tydens kruisverhoor van dr Prinsloo, wat mnr Wessels moes doen sonder ’n behoorlike opdrag wat hy van ’n deskundige namens die verweerder kon verkry, het sy beklemtoon dat alhoewel die simptome wat die eiser openbaar met die medikasie verbeter het, hy nog steeds nie gesond is nie. Hy is nog steeds gespanne en sy gemoedstoestand is laag. Slaap is nog ingekort. Hy is angstig en ontwikkel ’n vinnige hartklop. Hy is nog steeds van oordeel dat daar ’n stigma aan hom kleef ten spyte van die feit dat die saak teruggetrek is en dat kennis reeds deur die pers bekend gemaak is dat toegegee is dat die arrestasie onregmatig was. Dr Prinsloo bevestig die eiser se getuienis dat hy nie meer gemotiveerd is om sy werk te doen soos tevore nie, en dat hy dit oorweeg om uit Humansdorp te verhuis om van die stigma wat aan hom kleef weg te kom. Hy oorweeg selfs om die Polisie te verlaat.
Ten aansien van sy werksomstandighede het die eiser self getuig dat hy met energie gewerk het en hoë ideale aan hom gestel het. Dit ontbreek nie. Waar hy tevore op sy hoede was met sy werk, doen hy dit nou op ’n traak-my-nie- agtige wyse. Hy het nie meer dieselfde geduld en verdraagsaamheid teenoor sy gesin nie. Waar hy tevore met selfvertroue opgetree het, het hy nou nie meer geloof in homself nie. Hy het ’n gedurige moegheid oor hom en sweet oormatig.
Inspekteur Patrick Goeda, wat die waarnemende bevelvoerder by Jeffreysbaai Polisiestasie was, het die eiser se getuienis in alle wesenlike opsigte gestaaf. Hy beskryf die eiser se emosionele toestand in die selle waar hy hom besoek het. Hy het ook getuig omtrent die nadelige effek wat die aangeleentheid op die hele familie van die eiser gehad het. Hy kon ook agter kom, ten spyte van die feit dat die saak teen die eiser teruggetrek is en sy skorsing opgehef is, daar nog onsekerhede en twyfel by kollegas van die eiser bestaan. Superintendent Goeda het negatiewe emosionele gedrag opgemerk by die eiser en getuig ook van sy selfmoordneigings. Hy het ’n persoonlikheidsverandering by die eiser waargeneem en getuig ook van woede uitbarstings wat nou plaasvind wat nooit tevore by hom bestaan het nie. Na sy skorsing opgehef is moes die eiser groot druk op homself plaas om terug te keer werk toe. Die passie wat die eiser gehad het om die werk na die beste van sy vermoeë te doen het verdwyn.
Dr Richard Holmes, wat gekwalifiseerd is en geregisteer is as ’n industriële sielkundige, ‘n opvoedkundige sielkundige en ‘n kliniese sielkundige het ook onderhoude met die eiser gevoer, psigometriese toetse op hom gedoen en onderhoude met kolaterale bronne gevoer. Sy verslag, wat hy as korrek bevestig het, is nie in geskil geplaas namens die verweerder nie. Hy het die getuienis van dr Sonja Prinsloo tot ’n groot mate bevestig en het ook sy oordeel uitgespreek dat die eiser tans lei aan ’n major depressiewe versteuring sowel as ’n post traumatiese stres versteuring. Hy is van oordeel dat die eiser se gediagnoseerde psigatriese versteurings ’n kroniese status bereik het en dat volgehoue behandeling noodsaaklik is. Hierdie behandeling sluit nie alleen medikasie in nie, maar ook konsultasies en behandeling deur psigiaters en sielkundiges. Hy is ook van oordeel dat die prognose deur dr Prinsloo korrek is. Die kanse op herstel is baie skraal.
Dit bring my by die quantum van skade.
Beide advokate het in hul betoë die stelling gemaak, heeltemal korrek, dat hierdie saak uniek is. Nie een van hulle kon my verwys na ’n soortgelyke aangeleentheid waar skadevergoeding toegeken is nie. Ek kon self nie so iets vind nie. Beide advokate het my verwys na gerapporteerde sake waar skadevergoedingsbevele toegestaan is aan eisers wat gespruit het uit onregmatige arrestasie, aanhouding en vervolging. Elke saak moet egter op sy meriete behandel word. Dit blyk uit die psigiatriese getuienis wat in die onderhawige geval aangebied is dat die eiser se reaksie op die onregmatige arres, aanhouding en vervolging ernstig was. Hy het dit uiters traumaties ervaar. ’n Ander polisiebeampte sou moontlik nie dieselfde reaksie getoon het nie. Die feit bly staan dat die onregmatige optrede deur inspekteur Arries en sy kollega die permanente versteurings, waarna ek hierbo verwys het, by die eiser tot gevolg gehad het. Die eiser se lewe is verpletter. Selfs tydens sy getuienis in die hof het hy telkemale in trane uitgebars wanneer hy die gebeure van meer as vier jaar gelede moes beskryf. Soos hierbo aangetoon het die eiser sy eis geformuleer in paragraaf 14(1), (2) en (3) onder drie verskillende hoofde vir skade wat hy gelei het weens die onregmatige optrede deur polisiebeamptes in diens van die verweerder. Die onregmatige optrede hou egter tot so ’n mate verband met mekaar dat ek van oordeel is dat dit gepas sal wees om ’n enkele bedrag skadevergoeding toe te ken vir die bedrae geëis onder die drie paragrawe. Na my oordeel behoort ’n skadevergoedingsbedrag hierop van R400 000 toegeken te word.
Dit is gemeensaak dat die eiser nie sy strafsaak regskoste van R6 000 bewys het nie.
Dit blyk uit dr Sonja Prinsloo se rekeningstaat dat uitgawes in die totaal van R3 515,50 reeds aangegaan is. Die feit dat die uitgawes in hierdie verband nie uit die eiser se sak gekom het nie, maar deur sy mediese hulpskema betaal is, doen dit nie afbreuk aan die feit dat die eiser daarop geregtig is nie. Sien Free State Consolidated Goldmines Operations Ltd t/a the Ernest Opperheimer Hospital v Multilateral Motor Vehicle Accident Fund [1998] ZASCA 27; 1998 (3) SA 213 SCA op p. 218 I.
Volgens dr Sonja Prinsloo se berekenings, wat konserwatief gedoen is, is die toekomstige psigatriese en sielkundige onkoste van die eiser beraam op R321 200,00. Dit is nie namens die verweerder aan die hand gedoen dat hierdie uitgawe buitensporig is nie en ook nie aan die hand gedoen dat die bedrag nie aan die eiser toegestaan moet word nie.
Namens die verweerder is toegegee dat koste van die geding aan die eiser toegeken moet word insluitende kwalifiserende uitgawes van die deskundige getuies, indien enige. Dit is gemeensaak dat tot op die stadium wat die verweerder die meriete toegegee het, die eiser gebruik gemaak het van die dienste van twee advokate. Na die toegewing op die meriete het mnr Pretorius alleen sonder sy junior voortgegaan. Hy doen aan die hand dat koste van twee advokate geregverdig is, waar gebruik. Die verweerder is deurentyd deur twee advokate verteenwoordig. Mnr Wessels het aan die hand gedoen dat die eiser nie geregtig is op die koste van die tweede advokaat waar hy by die voorbereiding van die saak op die meriete betrokke was nie. Hierdie saak was van groot belang vir die eiser en die onregmatigheid van sy arrestasie was die grootste geskilpunt in die aangeleentheid. Na my oordeel was dit ’n wyse en ’n versigtige besluit van die eiser om op die meriete van die saak van die dienste van twee advokate gebruik te maak.
Bygevolg maak ek die volgende bevel:
1. Die verweerder word gelas om die eiser skadevergoeding van R724 715,50 te betaal.
2. Die verweerder word gelas om die eiser se koste van geding te betaal, insluitende die koste van twee advokate op die meriete van die saak, plus die kwalifiserende koste aangegaan deur dr Richard Holmes en dr Sonja Prinsloo, indien enige.
__________________________
J C H JANSEN
REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF