South Africa: High Courts - Gauteng Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Courts - Gauteng >> 2005 >> [2005] ZAGPHC 233

| Noteup | LawCite

S v Morgan en 'n Ander (A397/2004) [2005] ZAGPHC 233 (3 May 2005)

Download original files

PDF format

RTF format


/SG


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID AFRIKA


(TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)


DATUM: 03/05/2005


SAAK NO: A397/2004

ONRAPORTEERBAAR







In die saak tussen:


VICTOR MORGAN 1STE APPELLANT

THEBOGO MICHAEL SANDY MORGAN 2DE APPELLANT


En


DIE STAAT RESPONDENT

UITSPRAAK


MYNHARDT, R


Inleiding

Hierdie is ’n appèl, met die verlof van die verhoorregter, WEBSTER R, teen die skuldigbevindings en vonnisse wat die appellante opgelê is op die verskillende klagtes waaraan hulle skuldig bevind is.


Die twee appellante het as beskuldigdes 1 en 2 onderskeidelik, voor die rondgaande hof te Nelspruit tereggestaan op ’n aantal klagtes. Aan die einde van die verhoor is hulle soos volg skuldig bevind en gevonnis:


Klagte 1: Moord: Lewenslange gevangenisstraf

Klagte 2: Poging tot moord: Agt jaar gevangenisstraf

Klagte 3: Roof met verswarende omstandighede: Vyftien jaar gevangenisstraf

Klagte 4: Oortreding van Artikel 39(1)(i) van Wet 75 van 1969 (rig van ’n vuurwapen) (slegs appellant 2): Vyf jaar gevangenisstraf

Klagte 5: Oortreding van Artikel 2 van Wet 75 van 1969 (onwettige besit van ’n vuurwapen): Drie jaar gevangenisstraf

Klagte 6: Oortreding van Artikel 36 van Wet 75 van 1969 (onwettige besit van ammunisie): Een jaar gevangenisstraf


Die verhoorhof het gelas dat die vonnisse op klagtes 2, 3, 4, 5 en 6 samelopend uitgedien word met die vonnis van lewenslange gevangenisstraf wat op klagte 1 opgelê is.


Die skuldigbevindings word op appèl aangeveg op basies twee gronde. In die eerste instansie word dit aangevoer dat die verhoorhof gefouteer het om die getuienis van sekere uitwysings wat deur appellant 1 aan Kaptein Matthysen van die SAPD gedoen het, toe te laat en ook gefouteer het om die getuienis oor die uitwysing wat appellant 2 aan Kaptein Rossouw van die SAPD gedoen het, toe te laat. Dit is ook aangevoer, in die alternatief, dat die hof fouteer het om enige bewys waarde aan die uitwysings te heg. In die tweede instansie word dit aangevoer dat die staat nie bo redelike twyfel bewys het dat dit die twee appellante was wat die misdade gepleeg het waaraan hulle skuldig bevind was nie omdat daar onvoldoende getuienis aan die verhoorhof voorgelê was met betrekking tot die identiteit van die booswigte.


Dit is nie in geskil op appèl, en dit was ook nie in geskil tydens die verhoor, dat die misdade as sodanig waaraan die appellante skuldig bevind is, wel gepleeg was nie. Die vraag was of die staat bo redelike twyfel bewys het dat dit die appellante was wat die misdade gepleeg het.


Wat die vonnisse betref wat die appellante opgelê was, word dit aangevoer dat die verhoorhof fouteer het om die verpligte minimum vonnisse wat deur Artikel 51 van Wet 105 van 1997 voorgeskryf word vir die misdade vermeld in klagtes 1 en 3, op te lê. Dit word aangevoer dat daar wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan, soos bedoel in Artikel 51(3)(a) van Wet 105 van 1997, wat die oplegging van ’n mindere vonnis op elk van daardie klagtes regverdig. Dit word verder in die algemeen aangevoer dat die vonnisse skokkend onvanpas is.


Die rekord van die verrigtinge

Die rekord van die verrigtinge is deurspek met weggelate gedeeltes waar telkens aangedui word dat dit nie moontlik was om die getuienis of opmerkings wat gemaak was, te transkribeer nie omdat dit “onhoorbaar” was. Dit blyk uit die eedsverklaring van die appellante se prokureur dat hy moeite gedoen het om die rekord so volledig as moontlik saam te stel en die onhoorbare gedeeltes aan te vul. Die partye is dit eens dat die appèl bereg kan word op die rekord soos wat dit tans daar uitsien.


Opsomming van die staat se saak

Die klagtes teen die appellante spruit voort uit ’n voorval wat nagenoeg op die hoek van Ferreira – en Venterstrate in Nelspruit plaasgevind het om ongeveer 16:00 op 2 Augustus 2000. Die oorledene vermeld in klagte 1, wyle mnr. Schormann, is daardie middag met ’n vuurwapen geskiet en hy is die volgende dag oorlede as gevolg van kardiovaskulêre skok weens oormatige bloedverlies. Die appellante het by die aanvang van die verhoor erken dat die dood van die oorledene veroorsaak is deur die besering wat hy op 2 Augustus 2000 opgedoen het.


Die klaer ten aansien van klagte 2, mnr. Stander, is ook daardie middag geskiet met ’n vuurwapen. Hy is in die arm getref.


Die twee appellante is later daardie middag afsonderlik deur die polisie gearresteer in Nelspruit en het mettertyd op die verskillende klagtes tereggestaan soos reeds vermeld.


Die staat het ’n aantal getuies geroep om te getuig in die twee binneverhore wat gehou was sowel as in die verhoor self. Die twee appellante het getuig in hul onderskeie binneverhore en appellant 1 het ook getuig in die verhoor self. Appellant 2 het nie in die verhoor getuig nie.


Ek sal mettertyd die getuienis behandel wat tydens die binneverhore aan die hof a quo voorgelê was. Op hierdie stadium dien net gemeld te word dat die verhoorhof meegedeel was deur die staatsadvokaat dat daar ’n ooreenkoms tussen die staat en die verdediging was dat die getuienis op die binneverhore ook ten aansien van die hoof verhoor sal geld en oorweeg behoort te word. Beide appellante se regsverteenwoordigers, Advokate Moolman en me. Khatri, het dit beaam.


Benewens die ses klagtes waarna reeds verwys is het appellant 1 ook tereggestaan op vier verdere klagtes. Hy is egter vrygespreek daarop. Dit is dus nie nodig om na die getuienis te verwys wat ten aansien van daardie klagtes aan die verhoorhof voorgelê was nie.


Die getuienis wat aan die verhoorhof voorgelê was ten aansien van die sogenaamde meriete van die saak kan breedweg soos volg opgesom word: om ongeveer 16:00 die middag van 2 Augustus 2000 was mnr. Stander, die klaer op klagte 2, in die Wimpy Restaurant in Ferreirastraat, Nelspruit. Hy het gehoor iemand skree “Stop them, stop them”. Hy het twee “African gentleman” gesien wat aan die oorkant van die straat probeer om in ’n wit Toyota Corolla motor in te klim. Hy het ook ’n ouerige man op die grond sien lê met sy bene onder die motor in. Hy het oor die straat gehardloop om die persoon te help. Sy indruk was dat die persoon aan die bestuurderskant van die voertuig probeer het om die voertuig aan die gang te sit terwyl die ander een aan die passasierskant aan die linkerkant van die motor was. Hy was buite die motor gewees. Terwyl hy die persoon op die grond probeer uitsleep het onder die motor uit het mnr. Stander ’n skoot gehoor en gevoel dat iets hom tref. Hy is in die linkerarm gewond en is later in die hospitaal opgeneem waar hy twee of drie dae aangehou was. Hy het terug gehardloop na die Wimpy om ’n ambulans te ontbied en is toe weer na buite waar hy op die sypaadjie gaan sit het omdat hy duiselig gevoel het. Dit is gemeensaak dat die beseerde persoon die oorledene was en dat die Toyota motor nie sy eiendom was nie maar aan hom geleen was.


Op daardie stadium was mnre. Lubbe en Putter op die perseel waar hulle werk oorkant die Wimpy Restaurant in Ferreirastraat. Hulle het ’n skoot hoor klap wat soos ’n geweerskoot geklink het en kort daarna nog twee skote gehoor. Toe hulle in die straat kyk sien hulle ’n beseerde man uit die Wimpy uitkom met bloed aan sy arm. Hulle het ook twee mans sien weghardloop van die Toyota Corolla motor wat in Venterstraat gestaan het naby die hoek met Ferreirastraat. Die mans het in die rigting van ’n park daar naby gehardloop wat naby ’n winkelkompleks geleë is waar die Village Spar is. Hulle het tot die slotsom gekom dat die twee vlugtende mans, die Toyota motor en die beseerde man en die skote met mekaar verband hou. Hulle het elkeen in sy motor gespring en die twee vlugtende mans agterna gesit. Lubbe het die twee mans in die park opgemerk. Hulle het gedrafstap in die rigting van Ferreirastraat. Hy het in daardie rigting gery waar hulle uit sig verloor was. Putter het aanvanklik in Ferreirastraat afgery maar het later omgedraai. Hy en Lubbe het toe besluit om met behulp van hul sellulêre telefone met mekaar in verbinding te bly en te kommunikeer. Putter het die twee mans, ’n lange en ’n korte, ook in die park opgemerk. Hulle het toe in die rigting van Joubertstraat beweeg. Dit is waar Lubbe en Putter hulle uit sig verloor het toe hulle in die woongebied ingaan. ’n Rukkie later het Putter hulle weer gesien toe hulle terugkom deur die park. Hulle paaie het geskei en die lang persoon het toe in ’n rigting weg van die park gehardloop in verskillende strate. Lubbe en Putter het hom agtervolg in hul motors. Lubbe het die polisie geskakel op sy selfoon en ’n rukkie later het hy ’n patrolliemotor teëgekom. Sersant Phiri het by hom in die motor geklim en hulle het die verdagte verder agtervolg. ’n Entjie verder het hy soos afgespreek met Sersant Phiri, voor die verdagte stilgehou en het Sersant Phiri die verdagte gearresteer. Dit was appellant 1 gewees. Die appellant was toe ongeveer 1 500 meter vanaf die park.


Kort nadat Stander beseer was het mnr. Arlow en sy seun en dogter in Ferreirastraat verby die Wimpy gery. Hulle het twee swart mans sien hardloop in die straat wat deur twee blanke mans gejaag was. Arlow het om die blok gery en kort daarna weer die twee swart mans opgemerk. Hy en sy seun het ook ’n persoon op die sypaadjie sien sit wie se arm bebloed was. Arlow het in die rigting van die Village Spar gery. Hy het ander voertuie in die strate gesien met flitsende ligte wat oënskynlik ook na die vlugtende mans gesoek het. Arlow en sy seun sien die twee vlugtende mans toe hulle deur die park naby die Village Spar hardloop in die rigting van Joubertstraat in die woongebied. Arlow junior agtervolg hulle toe te voet. Toe Arlow senior weer by sy seun aansluit in Joubertstraat wys dié ’n huis aan hom uit, nommer 60B, waar die twee vlugtendes oor ’n grensmuur gespring het. Arlow en sy seun gaan die perseel binne en tref die twee persone aan waar hulle agter ’n bos hurk. Toe Arlow en sy seun hulle konfronteer haal die korter een ’n rewolwer uit waar dit in sy broek versteek was, rig dit op Arlow senior en sê dat hy sal skiet. Die twee mans spring toe weer ’n grensmuur en hardloop verder in die rigting van Ferreirastraat. Oppad terug na hulle voertuig sien Arlow en sy seun die twee mans oor Ferreirastraat hardloop na die park toe. Arlow senior besluit om hulp by die polisie te gaan soek. Sy seun bly egter agter om te sien wat van die twee mans word. Hy sien hulle deur ’n spruitjie beweeg waarna die korter een by ’n dame gaan sit in die park en die langer een verder hardloop in die rigting van die Village Spar.


Arlow senior en Inspekteur Nkosi van die SAPD keer kort daarna terug na waar Arlow junior hom bevind. Hy wys die persoon in die geselskap van die dame aan Inspekteur Nkosi uit wat hom nader roep en arresteer. Dit was appellant 2 gewees. Arlow senior arresteer die dame en in haar handsak vind hy ’n groenerige kledingstuk, ’n “baadjie tipe hemp” en ander items. Daar was egter nie ’n vuurwapen in die handsak nie.


Nadat die twee appellante gearresteer was het die polisie nie ’n vuurwapen by een van hulle gekry nie. Die twee is toe na die toneel by die Wimpy geneem waar die voorgeskrewe toetse op hulle hande gedoen was deur Inspekteur Venter, ’n opgeleide vingerafdruk deskundige, vir die aanwesigheid van ontstekingsresidu. Die monster wat hy geneem het is later deur die Forensiese Wetenskapslaboratorium van die SAPD ontleed en ontstekingsresidu is wel gevind in die monster van die linkerhand van appellant 2.


Kaptein Matthysen van die SAPD was die middag kort na die skietvoorval op die toneel gewees. Sy het beheer daarvan geneem. Daar was drie afgevuurde doppies op die toneel gevind. Inspekteur Venter het dit in bewaring geneem en hy het dit later na die Forensiese Wetenskapslaboratorium van die SAPD versend tesame met die Norinco pistool, waaroor later meer. Die uitslag van ballistiese ondersoek was dat die doppies deur die pistool afgevuur was.


Kaptein Matthysen was die middag begaan daaroor dat die vuurwapen gevind moes word. Sy die honde eenheid van die SAPD van Witrivier af ontbied. Die lede daarvan het om ongeveer 17:00 daar opgedaag. Hulle is gevra om in die park in die omgewing van die winkel kompleks, die Village Mall, te gaan soek na die vuurwapen. Dit is die park waar die Arlows, Lubbe en Putter die twee mans gesien het en waar appellant 2 gearresteer was. Die eenheid het tot ongeveer 18:30 toe dit donker geword het, gesoek maar nie die vuurwapen gevind nie. Die lede van ’n ander eenheid van die SAPD in Nelspruit het ook in die park na die vuurwapen gesoek maar sonder sukses.


Die volgende oggend het Kaptein Matthysen ’n onderhoud gevoer met appellant 1. Hy was bereid om haar te gaan wys waar die vuurwapen weggegooi was. Sy en appellant 1 en drie ander lede van haar eenheid is na die park toe. Daar het Sersant Pohl die pistool gevind in ’n spruitjie of lopie. Dit is die pistool wat Inspekteur Venter tesame met die drie doppies vir ballistiese ondersoek gestuur het.


Kaptein Matthysen het ook ’n onderhoud gevoer met appellant 2 gedurende die oggend van 3 Augustus. Hy was ook bereid om uitwysings te doen. Sy het met ’n kollega, Kaptein Rossouw, gereël om die uitwysings waar te neem. Die appellant het Kaptein Rossouw geneem na die toneel van die skietvoorval en aan hom uitgewys waar “Die kar van die oom” gestaan het in Venterstraat en ook waar hy “Die oom hier langs die kar geskiet (het)”, en ook tot waar in Venterstraat die motor agteruitgeloop het. Hy het ook gewys dat hulle in die rigting van Ferreirastraat weggehardloop het. Appellant 2 het Kaptein Rossouw ook na ander tonele geneem vir uitwysings wat nie relevant is tot die onderhawige saak nie.


Opsomming van die verdediging se saak

Slegs appellant 1 het, soos vermeld, getuig. Volgens hom het hy en sy meisie, Gugu Twala, en appellant 2 die betrokke dag na die winkelkompleks, die Village Mall, wat naby die park geleë is waarna reeds verwys is, gegaan om kruideniersware te koop. Appellant 2 sou dit weer terugneem na sy ouma se huis waar hy gewoon het naby Nelspruit. Hy, appellant 1, en sy meisie sou ook na die Wimpy restaurant gaan om “fees te vier” want sy meisie het hom die oggend meegedeel dat sy swanger is en dit sou sy eerste kind wees. Hy was baie bly daaroor gewees.


By die Village Mall wou hy geld trek by die outomatiese teller masjien. Die masjien was egter stukkend gewees. Hy het appellant 2 en sy meisie in die park agtergelaat en dorptoe gehardloop om geld te gaan trek. Op pad daarheen is hy deur Sersant Phiri gearresteer. Hy is na die toneel van die voorval geneem en later na die polisiestasie waar hy in die selle aangehou was. Hy was beskuldig daarvan dat hy iemand doodgemaak het. Hy het dit ontken.


Later het ses of sewe polisiebeamptes daar opgedaag en hom aangerand. Hulle wou hê dat hy die vuurwapen wat gebruik was moes gaan uitwys.


Die volgende oggend is hy na Kaptein Matthysen se kantoor geneem. Daar is hy weer aangerand en daarvan beskuldig dat hy by die skietvoorval betrokke was. Hy het Kaptein Matthysen en ’n paar ander polisiebeamptes na die park vergesel. Daar het hy ’n vuurwapen in besit van een van die beamptes gesien. Hy het nie gesien waar dit opgetel was nie.


Hy het verder getuig dat hy en appellant 2 nie die middag van 2 Augustus by die skietvoorval betrokke was nie en dat dit nie hulle was wat van die toneel af weggehardloop het nie.


Appellant 2 het, soos vermeld, nie getuig nie. Nie een van die appellante het enige getuies geroep om namens hulle te getuig nie.


Opsomming van die getuienis met betrekking tot die uitwysing deur appellant 1

Kaptein Matthysen, Sersant Pohl, Inspekteur Swart en Inspekteur Mashego het namens die staat getuig in hierdie binneverhoor.


Die hou van ’n binneverhoor was gelas deur die verhoorregter omdat dit die appellant se standpunt was dat hy nie die vuurwapen wat ter sprake was uitgewys het nie en, in die alternatief, dat hy aangerand was en nie vrywillig enige uitwysing gedoen het nie.


Die appellant, sy vader, Piet Morgan, en sy ouma, Betty Mabunda, het namens die appellant in die binneverhoor getuig.


Kaptein Matthysen en haar drie kollegas se getuienis was dat sy ’n onderhoud met appellant 1 gevoer het die oggend van 3 Augustus 2000. Inspekteur Mashego het van tyd tot tyd getolk want sy en die appellant het Afrikaans, Engels en Swazi gepraat wat deur Inspekteur Mashego getolk was.


Volgens hulle was die appellant nie aangerand, gedreig of op enige wyse beïnvloed om iets te sê of om iets aan hulle uit te wys nie. Die appellant se regte is ook aan hom verduidelik en hy het dit verstaan. Hy was bereid om vir hulle te gaan wys waar die vuurwapen weggegooi was. Hulle is na die park naby die Village Mall op aanwysings van die appellant. Die park bestaan eintlik uit drie dele naamlik ’n kleinerige deel naby die winkelkompleks, dan ’n groot middelste gedeelte en laastens ’n gedeelte naby ’n woonbuurt. Daar is verskeie voetpaadjies deur die park wat deur voetgangers gebruik word om na en van die winkelkompleks te loop. Die voetpaadjies word deur baie mense gebruik.


Tydens Kaptein Matthysen se onderhoud met appellant 1 het hy, volgens haar en haar kollegas, nie enige beserings gehad nie behalwe krapmerke in sy gesig en aan sy arms wat hy, volgens hom, sou opgedoen het tydens sy arrestasie.


Kaptein Matthysen het getuig dat sy die uitwysing self waargeneem het want sy het dit nie as ’n ware uitwysing beskou wat ooreenkomstig die voorgeskrewe prosedure moet plaasvind nie. Daarom het sy ook nie enige aantekeninge of notas gehou nie. Sy was oor slegs een ding begaan en dit was om die vuurwapen op te spoor. Die risiko het al groter geword dat ’n lid van die publiek op die vuurwapen kan afkom en dan is dit neusie verby vir die polisie om die vuurwapen te vind. Sy kon ook nie ’n ander offisier in die hande kry om die uitwysing waar te neem nie.


Volgens die polisiebeamptes se getuienis het appellant 1 in die park ’n area aangedui waar die vuurwapen weggegooi sou gewees het. Die soektog daar het niks opgelewer nie. Toe die groep op pad terug na die bakkie was waarmee hulle na die park gereis het, het Sersant Pohl die vuurwapen in die spruitjie opgemerk waar dit gelê het. Appellant 1 het bevestig dat dit die vuurwapen is. Die groep is daarna terug na die polisiestasie.


Die appellant het getuig dat sy regte nooit aan hom verduidelik was nie. Tydens die ondervraging deur Kaptein Matthysen is hy deur Pohl en Swart geslaan. Hy het aan hulle gesê dat hy niks van die vuurwapen weet nie. Die kaptein het ’n kierie (knuppel?) aan Swart gegee met die opdrag om hom te slaan totdat hy bloei. Daarna is hulle na die park toe. Net hy en Pohl het na die vuurwapen daar gesoek. Pohl het op ’n stadium sy kop onder die water gedruk in die spruitjie sodat hy moet sê waar die vuurwapen is. Daar is toe besluit om terug te keer na die polisiestasie waar hy “getube” sou word. Op pad na die bakkie het Pohl die vuurwapen gekry. Dit was die eerste keer dat hy dit sien.


Die appellant het verder uitvoerig getuig oor die beserings wat hy sou opgedoen het tydens die aanrandings; onder andere was sy linker middelvinger opgeswel omdat hy daar geslaan was met die kierie.


Benewens hierdie aanrandings op hom was hy ook die vorige aand in die polisieselle aangerand deur ander polisiebeamptes wat die vuurwapen wou hê.


Die appellant se vader het ter ondersteuning van die appellant se weergawe van die aanrandings op hom getuig. Volgens hom het die appellant hom meegedeel dat sy middelvinger beseer was toe die polisie hom wou dwing om die vuurwapen te hanteer en hy geweier het en sy hand in ’n vuis gebal het. Hy sou ook verwurg gewees het deur die polisie en het merke aan sy keel gehad.


Die appellant se ouma het ook getuig oor beserings wat sy aan die appellant opgemerk het toe die polisie by geleentheid by haar huis aangedoen het en die appellant hulle vergesel het. Sy het opgemerk dat die appellant se een oog opgeswel was, hy het vingermerke aan sy keel gehad en sy vinger was gebuig gewees.


Opsomming van die getuienis ten aansien van die uitwysing deur appellant 2

Die getuienis van Kaptein Matthysen is ook in ’n mate hier tersaaklik. Benewens haar getuienis is die getuienis van Kaptein Rossouw, Inspekteur Saad, Kaptein Brits, Kaptein Domenito en Inspekteur Jacobs deur die staat aan die hof voorgelê. Die appellant was die enigste getuie namens die verdediging.


Kaptein Domenito was die fotograaf wat foto’s op die toneel geneem het tydens die uitwysings wat aan Kaptein Rossouw geskied het. Sy het ook ’n foto van die appellant se ontblote bolyf geneem as bewys daarvan dat hy nie sigbare beserings gehad het nie.


Inspekteur Saad het bloot die appellant geneem vanaf Kaptein Matthysen se kantoor na die kantoor waar Kaptein Rossouw was.


Kaptein Matthysen het getuig dat sy nie kan onthou of sy die appellant na die vuurwapen wat gebruik was, uitgevra het nie. Die appellant was egter bereid om ander tonele uit te wys. Sy het toe met Kaptein Rossouw gereël om die uitwysings waar te neem.


Volgens Kaptein Rossouw se getuienis was die appellant heeltemal bereid om tonele aan hom uit te wys. Sy regte is ook aan hom verduidelik en hy het dit verstaan. Hy wou nie die dienste van ’n prokureur bekom nie en wou ook nie hê dat sy vader hulle moet vergesel nie. Alhoewel die appellant baie jonk en klein voorgekom het en sy ouderdom as 16 jaar verstrek het, het Inspekteur Jacobs hom voor die uitwysing meegedeel dat hy hom nie moet laat beïnvloed deur die appellant se ouderdom nie. Jacobs het hom ook voor sy onderhoud met die appellant meegedeel dat die uitwysing in die dorp is toe hy gevra het waar die uitwysing sou plaasvind.


Die getuienis van Kaptein Rossouw en Kaptein Brits, wat die motor na die toneel bestuur het, was verder dat die appellant nie enige beserings gehad het nie, dat hy gesê het dat hy nie beserings het nie, dat hy nie gedwing of beïnvloed of gedreig was om enige verklarings te maak of uitwysings te doen nie. Volgens hulle het die uitwysings heeltemal vrywillig geskied en sonder enige beïnvloeding.


Die appellant het getuig dat hy die aand van sy arrestasie deur nege of tien polisiebeamptes aangerand was in die polisieselle waar hy aangehou was. Hy het toe ook gehoor hoe appellant 1 skree toe hy aangerand was. Die volgende dag was appellant 1 se oog gekneus gewees.


Die oggend van 3 Augustus toe hy na Kaptein Matthysen se kantoor geneem was vir ondervraging is hy daar deur Swart en Matthysen aangerand. Hy is toe aangesê om vir Kaptein Rossouw te sê dat hy en appellant 1 die motor gekaap het en dat hy die persoon geskiet het. Rossouw het ook die bedekte dreigement geuiter dat hy teruggeneem sou word na Matthysen se kantoor. Omdat hy bang was vir verdere aanrandings het hy toe sekere uitwysings aan Kaptein Rossouw gedoen en mededelings aan hom gemaak welke hy ook gedoen en gesê het omdat hy voorgesê was wat om daar te doen.


Die uitspraak van die verhoorhof ten aansien van die twee binneverhore

Die verhoorregter het na afsluiting van die getuienis met betrekking tot die binneverhore nie ’n pertinente bevinding gemaak oor die geloofwaardigheid van die verskillende getuies en die aanvaarbaarheid van hul onderskeie weergawes nie. Hy het bloot bevind en gelas dat die staatsgetuies se weergawes voorlopig aanvaar moet word en dat getuienis oor die uitwysings voorlopig toelaatbaar was.


Aan die einde van die verhoor het die verhoorregter bevind dat die staat bewys het dat die twee uitwysings vrywillig deur die appellante gedoen was en sonder dat hulle onbehoorlik daartoe beïnvloed was. Die uitwysings is dus toelaatbaar bevind.


Die verhoorregter was beïndruk met die optrede en voorkoms en gedrag van al die staatsgetuies. Hy was nie beïndruk met die weergawes van die appellante nie. In die lig van die weersprekings in hul getuienis en, wat appellant 1 betref, die weersprekings tussen hom en sy twee getuies, en die verskillende, of botsende, weergawes wat appellante 1 en 2 tydens ’n borgaansoek voor die hof geplaas het wat daardie aansoek aangehoor het, het die verhoorregter bevind dat die appellante, en die getuies van appellant 1, ongeloofwaardig is en dat hul getuienis verwerp moet word.


Wat die verhoor self betref het die verhoorregter bevind dat die staatsgetuies se getuienis geloofwaardig en aanvaarbaar is ten spyte van onderlinge verskille en weersprekings hier en daar. Die getuienis van die eerste appellant is bevind om bevredigend te wees en dat dit inherente onwaarskynlikhede bevat. Sy getuienis is as vals verwerp. Aangesien die tweede appellant nie getuig het nie is daar geen weerlegende of teensprekende weergawe deur hom voorgelê nie. Dit is bevind dat die getuienis teen hom oorweldigend was.


Die verhoorregter het ook bevind dat die twee appellante met ’n gemeenskaplike doel opgetree het. Daaruit voortspruitend is bevind dat die appellante skuldig is aan die misdade soos reeds vermeld.


Het die staat bewys dat die uitwysings vrywillig en sonder onbehoorlike beïnvloeding plaasgevind het?

Namens die appellante het mnr. Bam SC aangevoer dat die verhoorhof moes bevind het dat die uitwysings nie vrywillig en sonder beïnvloeding gedoen was nie en dat getuienis daaroor dus ontoelaatbaar was. Die aanval wat in hierdie verband op die getuienis geloods was, was toegespits op die staatsgetuies se getuienis. In sy betoog het mnr. Bam eintlik nie op die getuienis van die twee appellante en appellant 1 se twee getuies gesteun nie.


Wat die appellante se getuienis en die van appellant 1 se vader en ouma betref, stem ek heelhartig saam met die verhoorhof se bevindinge oor die onbevredigende aard daarvan en dat dit verwerp moet word.


Die vraag is dan of die staatsgetuies se getuienis dermate bevredigend is dat bevind kan word dat die staat bewys het dat die uitwysing vrywillig gemaak is en sonder onbehoorlike beïnvloeding.


Kaptein Matthysen se getuienis is hewig gekritiseer deur mnr. Bam. Hy het aangevoer, eerstens, dat sy haarself weerspreek het. Dit is korrek dat sy aanvanklik getuig het dat appellant 1 die plek sou uitwys waar hy die vuurwapens sou weggegooi het. Haar skriftelike verklaring in die polisiedossier meld ook dat hy sou gaan wys waar “hy” die wapen sou gegooi het. In haar latere getuienis nadat die hof die getuienis oor die uitwysings voorlopig toegelaat het, het sy getuig dat appellant 1 gesê het dat hy sou gaan uitwys waar “sy broer” (appellant 2) die wapen sou weggegooi het. Sy het verduidelik dat die verklaring verkeerd was, dat dit onder groot werksdruk opgestel was en dat sy nie die fout daarin opgemerk het toe sy dit onderteken het nie.


Dit is ook korrek dat Sersant Pohl se polisieverklaring meld dat appellant 1 sou gesê het dat hy sou uitwys waar “hy” die wapen sou weggegooi het. Swart se getuienis is ook tot die effek dat appellant 1 die wapen sou weggegooi het. Volgens Mashego het appellant 1 in die park gesê dat die wapen weggegooi is deur appellant 2.


Wat hierdie aspek betref moet ek meld dat die appellante in hul getuienis in die binneverhore nie vir Inspekteur Mashego beskuldig het daarvan dat hy hulle ook sou aangerand het nie. Daar is dus geen rede om suspisieus te wees oor die getuienis van Mashego nie. Appellant 1 het ook bevestig dat hy in die park gevra was deur Kaptein Matthysen waar die vuurwapen was. Die verduideliking van Kaptein Matthysen oor hoe dit gekom het dat die fout in haar verklaring ingesluip het is na my oordeel aanvaarbaar in die lig van haar getuienis oor die werksdruk wat sy en haar personeel op daardie stadium ervaar het. Inspekteur Mashego was bowendien ook die tolk wat van tyd tot tyd getolk het wat appellant 1 gesê het. Volgens die Arlows het appellant 2 die vuurwapen gehad toe hy dit op Arlow senior gerig het. Dit strook dus met die waarskynlikhede dat appellant 2 die wapen in die park sou weggegooi het. Na my mening het die verhoorregter dus nie gefouteer om die getuienis van Kaptein Matthysen en Inspekteur Mashego te aanvaar oor wie die wapen, volgens appellant 1, in die park sou weggegooi het nie.


Mnr. Bam het tweedens aangevoer dat Kaptein Matthysen se getuienis verdag is dat appellant 1 aanwysings sou gegee het om by die park uit te kom. Hy was agter op ’n oop bakkie vervoer terwyl sy in die kajuit gesit het. Hy het betoog dat sy geweet het waar om te gaan soek na die wapen want sy het die vorige aand al die honde eenheid opdrag gegee om in die park na die vuurwapen te gaan soek.


Ek dink nie dat ’n mens Matthysen se getuienis oor aanwysings om by die park te kom so letterlik moet verstaan soos wat mnr. Bam betoog het nie. Dit is ’n groot park wat eintlik uit drie dele bestaan. Wat Matthysen klaarblyklik bedoel het, en so verstaan ek haar getuienis, is dat appellant 1 tekenne gegee het na welke deel van die park hulle moet gaan. Dit is duidelik uit al die getuienis hieroor dat die groep na ’n bepaalde gebied gegaan het waar die soektog begin het. Die groep het nie direk na ’n bepaalde punt toe gegaan nie en net daar gesoek na die wapen nie.


Die derde punt van kritiek teen Kaptein Matthysen se getuienis was dat sy om een of ander onverklaarbare rede nie appellant 2 saamgeneem het na die park nie.


Dit sou inderdaad ’n irrasionele besluit vir Matthysen gewees het om appellant 2 nie saam te neem nie as hy wel bereid was om inligting te verskaf of ’n uitwysing te doen met betrekking tot die vuurwapen. Haar getuienis was egter dat appellant 2 inligting aan haar verskaf het oor ’n Conquest motor wat in Witbank gekaap sou gewees het en ook om die toneel uit te wys waar die kaping en aanval op die oorledene sou plaasgevind het. Op daardie stadium het appellant 1 haar reeds meegedeel dat hy sou gaan wys waar die wapen weggegooi was. Omdat appellant 2 ander tonele sou uitwys het sy reëlings in hierdie verband met Kaptein Rossouw getref. Sy het ook getuig dat sy nie kan onthou of sy met appellant 2 oor die wapen gepraat het nie.


Volgens Matthysen se getuienis is die scenario soos dit daar in haar kantoor bestaan het, waar sy die appellante ondervra het, en voordat sy na die park toe is, duidelik. Elkeen van die appellante sou inligting van ’n ander aard verskaf tydens die uitwysings. Sy was begaan daaroor, en tereg so, om die wapen so gou as moontlik te vind. Sy kon, behalwe vir Rossouw, nie ’n ander offisier kry om uitwysings waar te neem nie. Onder hierdie omstandighede is dit nie vreemd dat sy nie vir appellant 2 saamgeneem het na die park nie.


Die vierde punt van kritiek teen Kaptein Matthysen se getuienis was dat sy nie enige aantekeninge gehou het van die uitwysing nie en dit ook self waargeneem het. In hierdie verband is dit ook betoog dat sy die “uitwysing” van die vuurwapen nie as ’n uitwysing beskou het wat volgens die voorgeskrewe prosedure moes geskied het nie. Sy is ook gekritiseer dat sy, ten spyte van haar bekommernis oor die wapen, eers om ongeveer 10:00 na die park gegaan het. Dit is verder betoog dat gesien die verskille in die getuienis van die betrokke polisiebeamptes oor die wyse waarop appellant 1 sou gewys het waar hulle moet soek en die feit dat Matthysen geweet het om in die park te gaan soek, die verhoorhof baie meer skepties moes gewees het met betrekking tot die uitwysing wat appellant 1 sou gedoen het en dus nie die getuienis daaroor moes toegelaat het nie.


Die implikasie van mnr. Bam se betoog is, as ek dit reg verstaan, dat die verhoorhof moes bevind het dat daar ’n slang in die gras is met betrekking tot ’n aanranding op appellant 1 en ook ’n slang in die gras met betrekking tot die neem van appellant 1 na die park waar hy sou wys waar die wapen weggegooi was. Die verhoorhof moes dermate bedenkinge gehad het oor die getuienis wat die staat voorgelê het dat dit die getuienis oor die uitwysing moes uitgesluit het.


Ten aanvang wil ek op ’n paar objektiewe faktore of aspekte wys wat vasstaan. Eerstens is dit ’n feit dat die Arlows by Joubertstraat 60B vir appellant 2, volgens hulle, in besit van die vuurwapen gesien het. Vandat die appellante weer daar oor die muur gespring het en weer deur die park gehardloop het totdat elkeen van hulle gearresteer was, was hulle dopgehou deur Arlow junior, Lubbe en Putter. Toe die appellante gearresteer was het nie een van hulle ’n vuurwapen in sy besit gehad nie. Arlow senior het die dame se handsak deursoek wat saam met appellant 2 in die park gesit het. Die vuurwapen was nie daarin gewees nie. Appellant 2 het, volgens Arlow junior, nie die park verlaat nadat hy Joubertstraat 60B verlaat het en totdat hy gearresteer was nie. Die logiese afleiding wat Matthysen hieruit kon maak is dat die vuurwapen in die park versteek of weggegooi was. Die vorige middag het die honde eenheid en ’n ander plaaslike eenheid van die polisie in Nelspruit die park deursoek maar nie die vuurwapen gekry nie. Daar is geen suggestie in die getuienis dat Matthysen geweet het waar in die park hulle gesoek het nie. Sy sou dus redelikerwys weet om in die park te gaan soek vir die vuurwapen maar nie waar, of in watter spesifieke area, nie. Daarom kom haar, en die ander beamptes wat haar vergesel het, se getuienis waarskynlik voor dat appellant 1 ’n gebied of area uitgewys het in die park waar hulle kon soek. Daar het hulle niks gekry nie. Volgens Swart het hulle toe moed verloor en besluit om terug te keer na die bakkie. Die getuienis is dat hulle toe nie eers bymekaar in ’n groep beweeg het nie. Pohl het ’n entjie agter hulle geloop in die lopie. Dit is toe dat hy die vuurwapen gekry het. Hierdie getuienis is vir my heel waarskynlik en aanvaarbaar.


Wat die suggestie betref dat appellant 1 aangerand of gedreig of geïntimideer was om die vuurwapen uit te wys is ek van oordeel dat daar geen meriete in daardie betoog is nie. Op al die getuienis is dit duidelik dat appellant 1 toe nie die vuurwapen uitgewys het nie. Pohl het dit gevind ’n ent van waar appellant 1 aangedui het dat hulle moet soek. Wat die beserings aan appellant 1 betref waarna mnr. Bam in sy betoog verwys het, is dit so dat Kaptein Matthysen getuig het dat hy krapmerke aan sy gesig en arms gehad het en, het sy getuig, hy het beweer hy het dit tydens arrestasie opgedoen. Mnr. Bam het betoog dat Sersant Phiri en Lubbe niks daarvan gesê het nie. Mnr. Bam is verkeerd. Sersant Phiri het getuig dat ten tye van sy arrestasie was appellant 1 se gesig gekrap en vuil en “Dit was ’n ander aanduiding dat iewers moes hy ingegaan het om so gekrap te word.” Daardie krapmerke kon appellant 1, op die beskikbare getuienis, net by Joubertstraat 60B opgedoen het want, het Arlow senior getuig, hy het hulle daar aangetref “hurkend agter ’n redelike bos ... waar hulle kyk na die muur agter in die erf”. Toe hulle weer weghardloop is hulle “oor ’n ligte draadjie, grensdraad en toe oor ’n muur ...”. Die waarskynlikhede is oorweldigend dat appellant 1 die krapmerke daar sou opgedoen het. Daar is geen aanduiding in die getuienis dat hy dit êrens anders kon opgedoen het nie.


Teen die agtergrond wat ek geskets het moet die vraag nou gestel word of daar iets sinister is daaraan dat Kaptein Matthysen die uitwysing self waargeneem het en geen aantekeninge daarvan gehou het nie. Sy het getuig dat sy die optrede nie as ’n uitwysing beskou het nie. Vir doeleindes hiervan sal ek aanvaar dat sy verkeerd was in haar siening. Dit neem egter nie weg van die feit dat sy subjektief so ’n siening gehad het nie. Sy het getuig dat sy selfs met mnr. Krause, die staatsadvokaat wat tydens die verhoor namens die staat verskyn het, en ook voor hierdie hof verskyn het, ’n argument daaroor gehad het dat dit nie ’n uitwysing was in die ware sin wat volgens die voorgeskrewe prosedures behandel moes word nie. Mnr. Krause het haar natuurlik tot die teendeel oortuig. Ek het reeds na die scenario in haar kantoor daardie oggend verwys asook die feit dat slegs Kaptein Rossouw vir uitwysings beskikbaar was. Onder hierdie omstandighede verbaas dit my nie dat sy self die uitwysings waargeneem het nie.


Wat die kritiek betref dat sy eers om ongeveer 10:00 na die toneel vertrek het, moet die volgende aspekte in gedagte gehou word: sy het die oggend eers om ongeveer 09:00 van ’n vergadering teruggekeer. Kort daarna gee sy opdrag aan Inspekteur Swart om appellant 1 na haar kantoor te bring. Hy word ondervra. Appellant 2 word om ongeveer 09:45 deur Sersant Pohl na haar kantoor geneem vir ondervraging. Kort daarna skakel sy Kaptein Rossouw om die uitwysing waar te neem. Volgens Kaptein Rossouw se notas, bewysstuk L, het sy hom om 09:45 geskakel. Sy vertrek om ongeveer 10:00 na die park. Alhoewel dit so is dat Kaptein Matthysen begaan was daaroor om die vuurwapen te vind moet onthou word dat sy die bevelvoerder was van die eenheid wat met hierdie saak gehandel het. Gesien haar betrokkenheid by die saak die vorige middag, is dit nie vir my vreemd of snaaks dat sy weer die oggend van 3 Augustus beheer geneem het nie. Ek vind niks sinister in haar optrede nie.


Wat die verskille in die getuienis betref oor die wyse waarop appellant 1 sou aangedui het hoe die vuurwapen weggegooi sou gewees het, moet ek ten aanvang sê dat daar wel verskille in die getuienis van die polisiebeamptes is. Een weergawe is dat hy met sy arm (s) ’n gooibeweging oor sy skouer sou uitgevoer het. ’n Ander weergawe is dat hy met sy kop ’n area sou aangedui het waar dit weggegooi was. Ek dink nie dat hierdie verskille wesenlik is nie. Die feit van die saak is dat die groep wel in die park was, niks is gevind waar appellant 1 aangedui het hulle moet soek nie en op die terugtog na die voertuig is die vuurwapen toe gevind in die lopie en, les bes, dit was die vuurwapen wat die drie doppies afgevuur het wat op die toneel in Venterstraat gevind was.


Na my oordeel het die verhoorregter dus nie fouteer om te bevind dat die uitwysing deur appellant 1 vrywillig en sonder beïnvloeding gemaak was nie en dat getuienis daaromtrent toelaatbaar was nie.


Wat die uitwysing deur appellant 2 betref het mnr. Bam aangevoer dat getuienis daaroor ook nooit toegelaat moes gewees het nie. Hy het aangevoer dat Kaptein Rossouw klaarblyklik beïnvloed was deur Inspekteur Jacobs, die ondersoekbeampte, toe sy hom gesê het dat die appellant ouer is as wat hy voorgee. Mnr. Bam het verder aangevoer dat dit nie uitgesluit kan word dat Jacobs meer aan Rossouw vertel het as bloot dat die voorval in die dorp plaasgevind het nie en dat Rossouw dus baie meer van die saak of voorval geweet het as bloot dat dit in die dorp plaasgevind het. Mnr. Bam het ook betoog dat dit onreëlmatig was vir Rossouw om die uitwysing waar te neem sonder dat die appellant se ouer of voog teenwoordig was. Hy het ook betoog dat dit hoogs onwaarskynlik is dat appellant 2 nie sou ingewillig het om die vuurwapen te gaan uitwys nie. Dit is ook betoog dat Rossouw se getuienis dat appellant 2 Afrikaans gepraat het terwyl hy, volgens Inspekteur Mashego en Kaptein Brits, meestal Engels gepraat het met Matthysen en Rossouw, die suspisie laat ontstaan dat alles nie pluis is nie.


Dat Rossouw nie enigsins beïnvloed is deur die mededelings van Jacobs oor die appellant se ouderdom nie staan vas. Hy het getuig dat hy die appellant geskat het om 18 jaar oud te wees. Volgens die appellant se geboortesertifikaat is hy op 24 April 1982 gebore hy was dus 18 jaar en 4 maande oud ten tye van die voorval. Weliswaar is hy klein gebou en kom hy op die oog af, volgens sy foto in die album, bewysstuk M1, baie jonk voor. Dit verbaas ’n mens dan ook nie dat hy sy ouderdom as 16 jaar aan Rossouw verstrek het nie. Hy kon maklik met daardie leuen vir ’n onervare persoon ’n rat voor die oë gedra het. Rossouw het dus nie, onder die omstandighede, ’n onreëlmatigheid begaan om voort te gaan met die uitwysing nie. Wat die kwessie van die voog betref wat hom moes vergesel het, het Rossouw getuig dat die appellant gesê het dat dit nie nodig was nie. Dit is so onwaarskynlik dat Rossouw hierdie antwoord sou geboekstaaf het as hy en die appellant nie daaroor gepraat het nie, dat aanvaar kan word dat appellant dit wel vir Rossouw gesê het.


Oor die kwessie waar die uitwysing sou plaasvind en Jacobs se mededeling aan hom, is Rossouw deeglik onder kruisverhoor geneem. Sy motivering vir die vraag aan Jacobs was dat hy hom moes voorberei vir die uitwysing. As dit sou plaasvind, byvoorbeeld, in Kwazulu-Natal, moes hy reëlings tref om ver te reis en moontlik ook om na sy veiligheid om te sien. As die uitwysing nader aan huis was, was dit nie nodig om reëlings te tref nie. Ek vind Rossouw se getuienis rasioneel en aanvaarbaar. Daar is dus geen basis vir ’n bevinding, soos wat appellant 2 getuig het en mnr. Bam betoog het, dat Rossouw in elk geval geweet het waar die voorval plaasgevind het nie en dat Jacobs hom baie meer vertel het as wat sy en Rossouw getuig het nie.


Wat die punt betref dat appellant 2 waarskynlik ook die vuurwapen sou gaan uitwys het as hy bereid was om die toneel uit te wys, het ek reeds verwys na wat die scenario in Matthysen se kantoor was daardie oggend. Wat meer is, die appellant het nie net daardie toneel aan Rossouw uitgewys nie. As hy die vuurwapen wou uitwys kon net so maklik vir Rossouw na die park geneem het om daar ’n uitwysing te doen. Hy het dit nie gedoen nie. Hierdie aspek werp dus geen skadu oor Rossouw en Jacobs en Matthysen se getuienis nie.


Die punt oor die taal wat gebruik sou gewees het, het ook nie veel om die lyf nie. Rossouw se getuienis word gestaaf deur sy aantekeninge, bewysstuk L, wat in Afrikaans opgestel was. Kaptein Brits was nie teenwoordig toe Rossouw die onderhoud met die appellant gevoer het voordat hulle vertrek het nie en hy was ook nie by toe die appellant die mededelings oor wat hy gedoen het tydens die voorval, aan Rossouw gemaak het nie. Brits het eenkant in die motor gesit. Hy was die motorbestuurder gewees. Brits weet dus nie welke taal gebesig was tydens die onderhoud met appellant 2 nie en ook nie tydens die maak van die mededelings nie. Die feit van die saak bly steeds dat Rossouw nie van die dienste van ’n tolk gebruik gemaak het nie en sy aantekeninge is in Afrikaans. Daar is geen rede om Rossouw se getuienis te verwerp nie.


Ek het dus tot die gevolgtrekking gekom dat die verhoorregter nie gefouteer het om die getuienis oor die uitwysing wat appellant 2 gemaak het toe te laat nie.


Na afloop van die binneverhoor het Kaptein Rossouw weer getuig en die hof meegedeel wat appellant 2 aan hom gesê en uitgewys het. Dit blyk nie uit die rekord dat die verhoorregter toe aan die twee advokate wat vir die appellante verskyn het, die geleentheid gegee het om Rossouw te kruisondervra nie. Mnr. Bam het hierdie aspek terloops geopper en nie juis daarop gesteun nie. Mnr. Krause het hierdie hof van die balie af meegedeel dat hy na die opnames van die verrigtinge geluister het. Daar was ’n stilte van 25 sekondes nadat appellant 2 se regsverteenwoordiger die hof meegedeel het dat sy nie beswaar het teen die inhandiging van die dokument waarop Rossouw sy aantekeninge gemaak het nie, en voordat mnr. Krause weer aan die woord gekom het. Nie een van die twee advokate het in daardie 25 sekondes, of daarna, volgens die rekord, aangedui dat hulle Rossouw wil kruisondervra nie. Mnr. Bam het aanvaar dat mnr. Krause se mededelings aan hierdie hof korrek is. In die lig van wat mnr. Krause hierdie hof meegedeel het is ek van oordeel dat die verhoorregter geen onreëlmatigheid begaan het nie.


Die bewyswaarde van die uitwysings

Mnr. Bam het betoog dat die verhoorhof geen waarde aan die uitwysing moes geheg het wat appellant 1 gedoen het nie. Weereens het hy gesteun op die weersprekings in die getuienis van die polisiebeamptes en veral die feit dat die vuurwapen “toevallig” gevind was deur Sersant Pohl.


Ek het reeds met al hierdie aspekte gehandel. Dit dien net gemeld te word dat daar geen meriete in die betoog steek nie.


Wat die uitwysing deur die tweede appellant betref het mnr. Bam ook betoog dat geen gewig daaraan geheg moes gewees het nie. Die belangrikste faktor waarop gesteun was vir die betoog is dat daar nie getuienis is wat in verband aantoon tussen wat die appellant gesê en gewys het, en die voorval van 2 Augustus nie. Mnr. Bam het ook daarop gesteun dat appellant 2 niks gesê het van die skietery op Stander en die roof van die oorledene se motor nie.


Ek stem nie saam met mnr. Bam se betoog nie. Volgens Kaptein Matthysen se getuienis sou appellant 2 die toneel uitwys waar die voorval plaasgevind het. Die appellant het vir Kaptein Rossouw na Venterstraat geneem en ook aangedui dat hy (hulle) in die rigting van Ferreirastraat weggehardloop het. Hy het ook aan Rossouw gesê dat hy kennis het van dit wat hy wil uitwys want hy was saam gewees. In die konteks daarvan dat daar twee persone was by die motor, dat die vuurwapen gevind was wat die doppies op die toneel afgevuur het en dat appellant 2 ontstekingsresidu aan sy linkerhand gehad het en dat hy vir Rossouw gesê het dat hy “die oom hier langs die kar geskiet (het)” terwyl Stander getuig het dat die oorledene se bene half onder die motor was, kan daar geen twyfel wees dat appellant 2 van dieselfde voorval gepraat het as wat tersprake was in die saak teen hulle. Dat hy niks oor Stander gesê het nie of oor die kaping van die motor nie, doen nie hieraan afbreek nie.


Die identiteit van die booswigte

Namens die appellante het mnr. Bam betoog dat die verhoorhof ernstige bedenkinge moes gehad het daaroor of die twee appellante inderdaad die twee aanvallers was wat die oorledene aangeval het. Hy het in sy betoog op verskeie aspekte gesteun soos, byvoorbeeld, dat die staat nie direkte getuienis oor die aanval aan die hof voorgelê het nie, dat dit blyk uit die getuienis dat die Arlows en Lubbe en Putter die twee voortvlugtende mans vir korter of langer periodes uit die oog verloor het, die feit dat appellant 2 die volgende dag anders geklee was as wat die Arlows getuig het hy geklee was toe hulle hom agtervolg het, die feit dat appellant 2 ontstekingsresidu op sy linkerhand gehad het, nie noodwendig beteken dat hy skote gevuur het met ’n vuurwapen nie, en dat die verhoorhof meer waarde moes geheg het aan die getuienis van appellant 1.


Mnr. Bam het ook betoog dat die feit dat die polisie die vorige aand by die toneel, nadat die appellante gearresteer was, die getuies gevra het of dit die regte persone was, afbreuk doen aan die waarde van die uitkenning van die appellante.


Daar is geen meriete in mnr. Bam se betoog nie. Wat hier tersprake is, is die betroubaarheid van die waarnemings wat deur die Arlow s en Lubbe en Putter gemaak was. Dit was tereg nie betoog dat enige van die vier getuies oneerlike getuies was nie.


Wat appellant 1 se getuienis betref stem ek saam met die verhoorhof se bevinding dat dit as vals verwerp moet word. Hy was myns insien ’n swak getuie en sy getuienis was deurspek met onwaarskynlikhede. So, byvoorbeeld, kon hy nie ’n aanvaarbare verduideliking gee waarom hy en sy meisie en die tweede appellant nou juis inkopies by die Village Mall wou doen nie in plaas van in die dorp.


Wat ook ’n belangrike faktor is, myns insiens, is Arlow senior se getuienis dat appellant 2 en die dame in die park, appellant 1 se meisie, soos verliefdes opgetree het toe hy en Inspekteur Nkosi by die park opgedaag het waar die twee gesit het. Hierdie optrede was klaarblyklik bedoel om Arlow en Nkosi op ’n dwaalspoor te bring. Arlow senior het ook getuig dat hy “’n baadjie-tipe hemp” in die dame se handsak gevind het toe hy dit deursoek het. Arlow junior het getuig dat die kort persoon, appellant 2, sy hemp uitgetrek het op ’n stadium, “’n groenerige hemp” en dat hy toe “so ’n ‘vest’ aangehad (het). Toe het hy saam met die vrou gesit en hy het gemaak of hy met haar praat en in haar handsak gekyk.” Hierdie getuienis sluit weer aan by Arlow senior se getuienis dat die kort persoon ’n groenerige hemp en donker broek aangehad het tydens die agtervolging en dat die langer persoon ’n donker hemp en donker broek aangehad het. Arlow senior het ook getuig dat toe appellant 2 die vuurwapen op hom gerig het, het hy gesien dat hy ’n wit T hemp onder sy hemp aanhet en dat hy ’n wit T-hemp aangehad het toe hy gearresteer was. Dit is weliswaar so dat dit ook volgens die foto’s in die album van appellant 2 se uitwysings voorkom asof appellant 2 ’n ligkleurige (wit) langbroek aangehad het, wat die indruk skep dat die Arlows se getuienis verkeerd is. Aan die anderkant is dit ook so dat Inspekteur Nkosi getuig het dat Arlow senior ’n beskrywing van die verdagte se kleredrag aan hom gegee het voordat hy appellant 2 in die park gesien het. Volgens Arlow senior sou die een persoon ’n groen hemp en donker broek aangehad het. Dit blyk nie uit Nkosi se getuienis, en dit is ook nie aan hom gestel in kruisondervraging nie, dat appellant 2 ’n ander kleur broek aangehad het toe hy hom gearresteer het nie. Appellant 2 het nie getuig nie. Hierdie aspek kon dus nie met hom debatteer word nie.


Nog ’n belangrike faktor in hierdie verband is dat Arlow senior getuig het dat hy ’n militêre agtergrond het en dat identifisering van persone ’n belangrike deel van sy opleiding gevorm het. Dit was by hom ingeskerp om behoorlike waarnemings te doen ten einde mense te kan identifiseer. Toe appellant 2 die vuurwapen op hom gerig het was hulle naby mekaar en kon hy ’n behoorlike waarneming maak van die appellant se gesig. Volgens hom was dit appellant 2 wat die vuurwapen gerig het en het hy hom later aan sy gesig herken. In die lig hiervan en die feit dat dit gemeensaak was dat die twee appellante en die dame in mekaar se geselskap was die betrokke middag, lei dit tot net een afleiding, in elk geval, en dit is dat dit die twee appellante was wat van die toneel af weggevlug het. Die getuienis oor die twee uitwysings deur die appellante lui natuurlik die doodsklok vir enige betoog dat die verkeerde mense dalk voor die hof gedaag is.


In die lig van die voorgaande het ek tot die gevolgtrekking gekom dat daar geen meriete in die appellante se appèl teen hul skuldigbevindings is nie.


Die appèl teen die vonnisse

Na skuldigbevinding het die staat die getuienis van ’n neef van die oorledene, mnr. Schulman, aan die hof voorgelê. Dit is duidelik uit sy getuienis dat die oorledene ’n groot rol in die gemeenskapslewe in die omgewing van Nelspruit gespeel het. Hy het in die omgewing geboer. Die reaksie van die gemeenskap was aanvanklik dat wraak geneem moes word vir sy dood. Die oorledene se familie het daarin geslaag om die gemoedere te kalmeer. Toe die verhoor begin het, het een van oorledene se dogters daarin geslaag om binne twee dae ongeveer 350 handtekeninge te kry vir ’n petisie dat die swaarste straf, lewenslange gevangenisstraf, opgelê moet word.


Die oorledene was nie net aktief bedrywig in opheffingswerk in sy onmiddellike omgewing nie. Hy was ook die Distriksgoewerneur van Rotary International vir Malawi, Zimbabwe, Mosambiek en die oostelike deel van die RSA. In daardie hoedanigheid was hy betrokke by liefdadigheidswerk en die insameling van fondse vir, byvoorbeeld, Mosambiek, vir die bou van skole aldaar.


Die verhoorregter het ook versoek dat ’n voorvonnisverslag bekom word. ’n Maatskaplike werkster verbonde aan die staat het so ’n verslag voorberei en ook getuienis afgelê. Ek sal mettertyd met die inhoud van die verslag van die getuie, me. Matungu, en haar getuienis, handel.


Die verhoorregter het bevind dat daar geen wesenlike en dwingende omstandighede teenwoordig is, soos bedoel in Artikel 51(3)(a) van Wet 105 van 1997 (“die Wet”) nie. Die hof was gevolglik verplig om die minimum vonnisse wat die Wet voorskryf op te lê ten aansien van klagtes 1 (moord) en 3 (roof met verswarende omstandighede).


In die loop van sy uitspraak op vonnis het die verhoorregter ook uitvoerig aangehaal uit die beslissing in S v Malgas 2001 2 SA 1222 (HHA) 1235F-1236E (par. 25).


Ten aansien van die moontlikheid dat die appellante hervorm kon word het die verhoorregter die volgende gesê:


As I have indicated, there are slim prospects of reformation on the part of the accused; that is a view expressed by Mrs Matungu. The accused are young and there is the possibility of reformation. I have one difficulty, I have watched the accused for well over ten days. They have complete control of their emotions. The expression of their eyes is frightening. It is not necessary for a person who is being tried or who has been convicted of very serious crimes to then have to start crying and behaving in one of those melodramatic fashions to try and impress people of his contrition, but there is a coldness in the eyes of the accused; they have the aloofness of hardened criminals. This is a tragic observation. It is reinforced by their complete lack of contrition. I am aware that they may intend to appeal and they may not be in good standing therefore if they were then to express contrition when it is the intention to pursue an appeal and persist in their innocence, but even if that is their intention I hazard (sic) to say that some form of emotion would have gone a long way to indicate that they are, after all, human beings with sensitivity. What is reinforced by their conduct and their behaviour is the callousness of a person who is motivated by nothing else but greed and gain. The courts have as I have intimated, regarded it and taken into account the deterrent aspect of crime and the preventative aspects.”


Namens die appellante het mnr. Bam aangevoer dat hierdie opmerkings van die verhoorregter ’n wesenlike mistasting daarstel. Hy het aangevoer dat daar geen basis daarvoor bestaan nie. Hierdie hof moet dus ingryp en die vonnisse opnuut oorweeg.


Namens die staat het mnr. Krause betoog dat die verhoorregter maar net geboekstaaf het wat sy waarnemings van die appellante is ter bevestiging van hul berekende en koelbloedige optrede teenoor die oorledene en die ongunstige indruk wat hulle op die proefbeampte gemaak het.


Ek is van oordeel dat daar meriete in mnr. Bam se betoog is. Vir doeleindes hiervan is ek bereid om ten gunste van die appellante te aanvaar dat die verhoorregter ’n mistasting of wanvoorligting begaan het en dat dit hierdie hof dus vrystaan om opnuut oor vonnis te besin en vonnis op te lê. Dit bring my dan, in die eerste plek, by die appellante se persoonlike omstandighede.


Die eerste appellant was 23 jaar oud ten tye van die voorval. Hy het een vorige veroordeling vir diefstal uit ’n motorvoertuig in Junie 1998 waarvoor hy gevonnis was tot twee jaar gevangenisstraf. Hy is op 28 Februarie 1999 op parool vrygelaat tot 30 November 1999. Hy het dus weer in misdaad verval ongeveer nege maande nadat sy parooltoesig tot ’n einde gekom het.


Die tweede appellant was 18 jaar en ’n paar maande oud in Augustus 2000. Hy het geen vorige veroordelings nie.


Albei appellante is redelik intelligent. Appellant 1 het sy matriek behaal en goed op skool presteer. Hy het ook vir ’n tydperk aan ’n tersiêre inrigting studeer. Hy moes sy studies in sy eerste jaar staak weens ’n gebrek aan fondse. Appellant 2 kon nie sy hoërskoolloopbaan voltooi nie weens ’n gebrek aan fondse.


Appellant 1 het ’n kind by die dame wat ek reeds vermeld het. Hy het die kind nog nie gesien nie. Appellant 2 het nie afhanklikes nie. Albei is ongetroud.


Appellant 1 het vir ongeveer drie jaar gewerk by die firma waar sy vader gewerk het. Die huislike omstandighede by sy pa en ma was stabiel en bevorderlik vir ’n goeie gesinslewe. Hy het sy ouerhuis verlaat in Midrand om na Mpumalanga te gaan ten einde ’n bestuurderslisensie te bekom. Sy familie het nog steeds fondse aan hom voorsien. Hy sou juis die dag van die voorval geld gaan trek by die bank wat vroeër vir hom inbetaal was op sy rekening.


Appellant 2 kom uit ’n gebroke huis. Hy het hom in die omgewing van Nelspruit bevind in ’n gebied waar werkloosheid en misdaad hoogty vier omdat hy nader aan sy vader wou woon wat moontlik fondse sou voorsien, so het hy gehoop, dat hy sy skoolloopbaan kon voltooi. Hy het nooit gewerk nie. Hy het geld by sy suster gekry terwyl hy op skool was.


Wat vir die proefbeampte onaanvaarbaar was, was die feit dat die appellante nie berou toon nie en nie verantwoordelikheid aanvaar vir hulle optrede nie. Appellant 1 se standpunt was dat hy onskuldig is en dat hy op die verkeerde tyd op die verkeerde plek was. Dit was ook sy houding oor sy vorige veroordeling. Hierdie houding van die appellante het die proefbeampte, me. Matungu, genoop om te getuig dat daar nie enige vooruitsig op hervorming van die appellante bestaan nie. Sy het pogings in hierdie verband in haar getuienis beskryf as “not ... a fruitful exercise”.


Die appellante het voorts hul vrye tyd verwyl deur na televisie te kyk, rond te kuier en saam met ander sokker te speel.


Die verhoorregter het in die loop van sy uitspraak ook na verskeie verswarende omstandighede verwys. Hierdie omstandighede is die volgende:


(i) Die misdade is uit gierigheid gepleeg en nie omdat die appellante ’n behoefte wou bevredig nie;


(ii) Die oorledene het niks gedoen wat tot sy dood aanleiding kon gee nie;


(iii) Stander is koelbloedig geskiet toe hy hulp wou verleen aan die oorledene;


(iv) Arlow kan van geluk spreek dat hy nie ook geskiet was nie.


Ek stem saam dat hierdie faktore verswarend is. Daarbenewens kan nog bygevoeg word dat die misdade beplan en berekend was. Die oorledene is klaarblyklik geskiet toe hy weerloos was. Die post-mortem verslag dui aan dat die trajek van die koeël van bo na onder was. Die skoot is ook van naby gevuur want daar was brandmerke van 1 cm in deursnit rondom die ingangswond. Hy was dodelik getref want die koeël het, onder andere, die diafragma en die regter long deurboor. Hy het vreeslik gebloei want 2 liter bloed is uit sy buikholte verwyder. Die waarskynlikhede dui aan, op die basis dat appellant 2, wat kort is, die oorledene geskiet het, dat die oorledene in die motor gesit het toe hy geskiet is en dat hy toe uit die motor gepluk was en op die grond beland het met sy bene half onder die motor soos wat Stander hom aangetref het.


Hierdie was inderdaad ’n sinnelose moord.


Die verhoorregter het die volgende faktor as versagtend aangemerk waarmee ek ook saamstem:


1. Albei die appellante is jonk en intelligent en kon, as hulle hul studies kon voortsit en voltooi, nuttige landsburgers geword het.


Die feit dat die breë gemeenskap ook geraak was deur die misdade van die appellante kan ook nie uit die oog verloor word nie. Daar was ’n gevoel dat die oorledene se dood gewreek moes word. Sy boerdery is negatief geraak; werkers moes afgedank word omdat die boerdery nie meer kon voortgaan soos voorheen nie en die gemeenskap is ook die dienste van iemand ontsê wat baie vir liefdadigheid en vir die welsyn van sy medemense gedoen het.


Wat vonnis betref het die proefbeampte aanbeveel dat gevangenisstraf vir beide appellante opgelê moet word.


Die eerste vraag is nou of daar wesenlike en dwingende omstandighede is wat die oplegging van ’n mindere vonnis op klagtes 1 en 3 regverdig as die voorgeskrewe minimum vonnisse van lewenslange gevangenisstraf en vyftien jaar gevangenisstraf onderskeidelik.


Namens die appellante het mnr. Bam betoog dat daar wel sodanige omstandighede is en wel die volgende:


(i) Daar is geen direkte getuienis oor wat gebeur het tydens die voorval toe die oorledene geskiet is nie. Hy het verder aan die hand gedoen dat daar nie getuienis is dat die oorledene se dood veroorsaak is gedurende “’n poging tot roof nie”.


Dit is wel so dat daar nie direkte getuienis is oor wat tydens die moord gebeur het nie. Dit wil egter nie sê dat daardie feit aangemerk kan word as ’n omstandigheid wat die oplegging van ’n mindere vonnis regverdig nie. In elk geval, het ek hierbo aangetoon dat op die waarskynlikhede die oorledene geskiet was toe hy in die motor gesit het. Die feit dat een van die aanvallers, volgens Stander, besig was om die motor te probeer aan die gang sit, regverdig ook die afleiding dat die aanvallers die voertuig in die hande wou kry. Die tweede submissie van mnr. Bam is dus nie korrek nie. In elk geval, as mnr. Bam korrek is dan is die oplegging van lewenslange gevangenisstraf nie verpligtend nie want dit is slegs verpligtend, ingevolge Artikel 51(1) van die Wet saamgelees met deel 1 van Bylae 2 tot die Wet, as die dood van die slagoffer veroorsaak is toe die beskuldigde roof, of ’n poging daartoe, gepleeg het, of nadat hy dit gepleeg het. As mnr. Bam se submissie korrek is, is die vraag na dwingende en wesenlike omstandighede irrelevant. Soos ek aangetoon het, is die submissie nie korrek nie.


(ii) Die feit dat die appellante jonk was en, wat appellant 2 betref, dat hy nie vorige veroordelings het nie.


Hierdie is beslis versagtende omstandighede en ek het reeds daarna verwys.


(iii) Albei die appellante het die potensiaal om nuttige landsburgers te wees.


Dit is so dat hulle die potensiaal het. Wat egter wel teen hulle tel is, soos vermeld, die getuienis van die proefbeampte dat solank hulle nie berou toon en verantwoordelikheid aanvaar vir wat hulle gedoen het nie, dit nutteloos sal wees om hulle te probeer hervorm. Die rede hiervoor is duidelik. As hulle nie insig het in wat hulle verkeerd gedoen het nie help dit niks om hulle van hul verkeerde weë te probeer bekeer nie.


Met inagneming van die versagtende en verswarende faktore wat ek hierbo behandel het moet nou ’n oordeel gevel word oor die vraag of daar dwingende en wesenlike omstandighede is wat die oplegging van ’n ligter vonnis regverdig op klagtes 1 en 3.


Wat appellant 1 betref het ek tot die gevolgtrekking gekom, met inagneming van die riglyne neergelê in S v Malgas supra, dat daar geen wesenlike en omringende omstandighede is wat die oplegging van ’n mindere vonnis op klagtes 1 en 3 sou regverdig nie. Wat die ander klagtes betref waarop hy skuldig bevind is, is ek van oordeel dat die vonnisse wat die verhoorhof opgelê het in elk geval gepaste vonnisse was. Mnr. Bam het ook nie enige submissies daaroor gemaak nie.


Wat appellant 2 betref is ek van oordeel dat sy jeugdigheid, die feit dat hy uit ’n gebroke huis kom, dat hy weens ’n tekort aan geld nie sy skoolloopbaan kon voltooi om hom in staat te stel om ’n ordentlike werk te bekom en om ’n nuttige landsburger te word nie, en die feit dat hy vir ongeveer agt maande in ’n omgewing gewoon het waar daar swak sosio ekonomiese toestande geheers het en hy blootgestel was aan verkeerde invloede op sy lewe, wel wesenlike en dwingende omstandighede daarstel wat die oplegging van mindere vonnisse op klagtes 1 en 3 regverdig.


Appellant 2 het hom skuldig gemaak aan ernstige misdade wat klagtes 1 en 3 betref en hy behoort swaar gestraf te word daarvoor. Kyk S v Abrahams 2002 (1) SASV 116 (HHA); S v Khambule 2001 (1) SASV 501 (HHA); S v Jimenez 2003 (1) SASV 507 (HHA).


Die verhoorregter het na my mening in elk geval gepaste vonnisse opgelê op die ander klagtes waarop appellant 2 skuldig bevind is. Mnr. Bam het ook nie betoog dat enige van daardie vonnisse te swaar is nie. Wat klagtes 1 en 3 betref is ek van mening dat ’n vonnis van vyf en twintig jaar gevangenisstraf op klagte 1 ’n gepaste vonnis vir appellant 2 sou wees en ’n vonnis van tien jaar gevangenisstraf op klagte 3. Op die ander klagtes word hy gevonnis tot dieselfde termyne gevangenisstraf as wat die verhoorhof hom gevonnis het. Die kumulatiewe effek van die vonnisse moet getemper word. Dit kan die beste gedoen word deur te gelas dat die vonnisse op klagtes 2, 3, 4, 5 en 6 samelopend uitgedien sal word met die vonnis op klagte 1. Appellant 2 se effektiewe vonnis is dus vyf en twintig jaar gevangenisstraf.


Terugdatering van vonnis

Die appellante is op 13 September 2002 deur die verhoorregter gevonnis. Die vonnisse wat nou deur hierdie hof opgelê word, word dus terugdateer na daardie datum. Die appellante is sedert daardie datum in die gevangenis en dien hul vonnisse uit.


Bevel

Die volgende bevel word gemaak:

A. Ten aansien van appellant 1

1. Die appèl teen die skuldigbevindinge word afgewys;

2. Die appèl teen die vonnisse wat opgelê is slaag;

3. Die vonnisse word tersyde gestel en vervang deur die volgende:


Klagte 1: Lewenslange gevangenisstraf;

Klagte 2: Agt jaar gevangenisstraf;

Klagte 3: Vyftien jaar gevangenisstraf;

Klagte 5: Drie jaar gevangenisstraf;

Klagte 6: Een jaar gevangenisstraf.”


4. Die vonnisse word terugdateer na 13 September 2002.


B. Ten aansien van appellant 2

1. Die appèl teen die skuldigbevindinge word afgewys;

2. Die appèl teen die vonnisse wat opgelê is slaag;

3. Die vonnisse word tersyde gestel en vervang deur die volgende:


Klagte 1: Vyf en twintig jaar gevangenisstraf.

Klagte 2: Agt jaar gevangenisstraf.

Klagte 3: Tien jaar gevangenisstraf.

Klagte 4: Vyf jaar gevangenisstraf.

Klagte 5: Drie jaar gevangenisstraf.

Klagte 6: Een jaar gevangenisstraf.”


4. Dit word gelas dat die vonnisse op klagtes 2, 3, 4, 5 en 6 samelopend uitgedien word met die vonnis op klagte 1. Die effektiewe vonnis is vyf en twintig jaar gevangenisstraf.


5. Die vonnisse word terugdateer na 13 September 2002.


S J MYNHARDT

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF


Ek stem saam


J B SHONGWE

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF


Ek stem saam



P M MABUSE

WAARNEMENDE REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF


A397/2004



DATUM VAN VERHOOR: 4 April 2005

NAMENS DIE APPELLANTE: Adv. B Bam SC

IN OPDRAG VAN: Mnre. Wagener Muller Prokureurs

NAMENS DIE RESPONDENT: Adv Krause

DATUM VAN UITSPRAAK: 3 May 2005