South Africa: High Courts - Gauteng

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Courts - Gauteng >>
2005 >>
[2005] ZAGPHC 313
| Noteup
| LawCite
S v Mzinani (A1223/2005) [2005] ZAGPHC 313 (22 August 2005)
Download original files |
A1223/2005
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)
DATUM: 22/8/2005
NIE RAPPORTEERBAAR
Landdros
EVANDER
DISTRIK HOëVELDRIF
Saak no: B465/05
Hooggeregshof verw no: 2351
DIE STAAT v WONDER JONATHAN MZINANI
HERSIENINGSUITSPRAAK
MYNHARDT, R
Die voorval wat aanleiding gegee het daartoe dat die beskuldigde skuldig bevind is aan aanranding met die opset om ernstig te beseer, het sy oorsprong gehad by 'n taverne of drinkplek.
Die beskuldigde is myns insiens korrek skuldig bevind. Die vraag is of die vonnis van R2 000,00 of ses maande gevangenisstraf plus R4 000,00 of twaalf maande gevangenisstraf wat voorwaardelik opgeskort is vir vyf jaar, nie buitensporig swaar is nie. Die landdros, wat op my navraag verdere redes ter regverdiging van die vonnis verskaf het, is van oordeel dat die vonnis gepas is. Die Direkteur van 0penbare Vervolgings, Transvaal ("die Direkteur") se kantoor is ook gevra om 'n inset te lewer. Twee staatsadvokate van sy personeel, advokate Cronje en Meintjes SC, is van oordeel dat die vonnis te swaar is en dat dit verminder moet word na dit wat die landdros voorgestel het as die hof nie sou saamstem met haar dat die opgelegde vonnis gepas is nie.
Dit blyk dat die beskuldigde en sy vriend die betrokke dag by die taverne was. Iemand het aan die beskuldigde gerapporteer dat sy vriend buite aangerand word en dat hy moet gaan help. Toe hy uitgaan het hy drie persone daar gevind. Een van hulle, die een "met haarlokke", wou by die beskuldigde weet of hy wil inmeng in "hulle sake of gesprek". Hy slaan die beskuldigde toe met 'n bierbottel in die gesig. Die bottel het skynbaar toe gebreek want hy steek die beskuldigde toe daarmee in die regter sy. Die aanvaller en die ander twee het toe weggehardloop. Die beskuldigde en sy vriend jaag hulle toe tot by 'n huis.
Die klaer en sy vriende kom toe uit die huis uit met 'n graaf. Hulle jaag toe weer die beskuldigde en sy vriend. Die noodlot gryp toe in. Die man wat die graaf het val en verloor beheer oor die graaf. Die beskuldigde en sy vriend draai toe om, nader die man op die grond, draai hom om sodat hy op sy rug lê en die beskuldigde slaan, of kap, hom toe met die plat kant van die graaf in sy gesig. Hulle los hom toe, en skynbaar die graaf ook, en loop weg. Die beskuldigde sê hy het die man geslaan met die graaf "omdat hy my beseer het en ek het nie gedink dit is verkeerd nie. Ek voel baie goed daaroor."
Die beskuldigde het wel beserings opgedoen tydens die eerste struweling. Sy mond het gebloei en hy het ook "bo op my neus gebloei" en hy het 'n wond op sy regter sy opgedoen wat hy aan die landdros gewys het. Die klaer is skynbaar ook beseer tydens die aanval op hom want die aanklaer het die landdros meegedeel dat hy oop wonde op sy rug en linkerkant van sy gesig, opgedoen het. Die klaer het nie getuig nie.
Die landdros het aanvaar dat die beskuldigde kwaad was toe hy die klaer met die graaf geslaan het. Die beskuldigde het gesê dat hy wraak wou neem.
Dit moet aanvaar word dat die beskuldigde 'n eerste oortreder is. Die staat het nie vorige veroordelings bewys nie. Hy is 24 jaar oud, ongetroud en het nie kinders nie. Hy het matriek gemaak en werk as 'n "mechanical fitter". Hy werk skofte van twaalf uur en verdien R42,50 per uur wat hom 'n beraamde inkomste, volgens die landdros, gee van R5 000,00 per maand. Hy kan dus 'n boete betaal. Dit is waarom die landdros ook 'n uitstelboete aan hom verleen het om die boete in paaiemente van R300,00 elk met ingang van 30 Mei 2005 te betaal. Die landdros deel mee dat hy teen 19 Julie 2005 reeds R600,00 van die boete betaal het.
In haar aanvullende redes gee die landdros toe dat die hof die beskuldigde "moreel minder behoort te verwyt" omdat hy kwaad was oor die aanval op hom. Daarmee stem die Direkteur saam. Klaarblyklik is dit korrek.
Wat die (moontlike) rol van drankinname betref sê die landdros dat daar nie getuienis oor drankinname deur óf die beskuldigde óf die klaer was nie en daarom kan dit nie as 'n faktor by vonnisoplegging in aanmerking geneem word nie. Die Direkteur is van mening dat dit "waarskynlik (is) dat alkohol wel 'n rol gespeel het, nie net aan die kant van die klaer nie maar ook aan die kant van die beskuldigde". Ek stem daarmee saam. Die reaksie van die man met die haarlokke, skynbaar die klaer, op die beskuldigde se navrae die eerste keer en die feit dat hy 'n bierbottel in sy hand gehad het, 'n "Black Label bottel bier" dui onteenseglik daarop dat hy drank ingeneem het. Dit is net so waarskynlik dat die beskuldigde ook drank sou ingeneem het. 'n Mens gaan, op die waarskynlikhede, nie na 'n taverne net vir die geselskap wat jy daar aantref nie.
As al die omstandighede in ag geneem word, is ek van oordeel dat die opgelegde vonnis te swaar is. Ek stem saam met die voorstel van die landdros, en die Direkteur, dat die vonnis verminder moet word na R1 000,00 of vier maande gevangenisstraf. Die landdros het ook voorgestel dat 'n verdere opgeskorte vonnis opgelê moet word van R2 000,00 of ses maande gevangenisstraf. Die Direkteur het daarmee saamgestem. Ek gaan nie daarmee akkoord nie. Na my mening sal 'n boete en alternatiewe gevangenisstraf van daardie omvang die vonnis ook te swaar maak. Soos adv Meintjes SC tereg uitgewys het, het die klaer nie ernstige beserings opgedoen nie want hy het skynbaar nie eers behandeling daarvoor ontvang nie. Hierdie faktor tesame met al die ander tersaaklike faktore hierbo vermeld regverdig myns insiens nie 'n swaarder opgeskorte boete en alternatiewe gevangenisstraf as R1 000,00 of drie maande gevangenisstraf nie. Ek stem egter nie saam dat een van die misdade wat die beskuldigde nie tydens die opskortingsperiode mag pleeg nie, gewone aanranding moet wees nie. Die vonnis, soos verminder, is steeds 'n stewige vonnis. Ek glo nie dat die beskuldigde die risiko moet loop om vir 'n relatief geringe aanranding wat hy dalk in die toekoms mag pleeg die opgeskorte gedeelte van die vonnis te moet ondergaan nie. Dit is ook onwenslik om die inwerkingstelling daarvan afhanklik te maak van die diskresie van die hof wat hom in die toekoms mag skuldig bevind. Dit sal voldoende wees as die misdaad aanranding met die opset om ernstig te beseer die enigste misdaad is waarvan inwerkingstelling van die vonnis sal afhang.
Ek stem ook saam met die besluit van die landdros om 'n uitstelboete aan die beskuldigde te verleen. Daardie bevel sal dan ook bekragtig word.
Ek maak die volgende bevel:
1. Die skuldigbevinding word bekragtig.
2. Die vonnis word tersyde gestel en vervang met die volgende:
"Beboet met R1 000,00 of by wanbetaling, vier maande gevangenisstraf. Daarbenewens word die beskuldigde gevonnis tot 'n verdere R1 000,00 of drie maande gevangenisstraf wat vir drie jaar opgeskort word op voorwaarde dat hy nie skuldig bevind word aan aanranding met die opset om ernstig te beseer nie en wat gepleeg is tydens die opskortingsperiode."
3. Die vonnis word terugdateer na 18 Mei 2005.
4. Die bevel ingevolge waarvan 'n uitstelboete aan die beskuldigde verleen is, word bekragtig.
S J MYNHARDT
REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF
Ek stem saam
B R DU PLESSIS
REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF
B465-05