South Africa: High Courts - Gauteng

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Courts - Gauteng >>
2005 >>
[2005] ZAGPHC 330
| Noteup
| LawCite
Mgiba v Padongelukkefonds (27042/1996) [2005] ZAGPHC 330 (11 October 2005)
Download original files |
/SG
N DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID AFRIKA
(TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)
DATUM: 11/10/2005
SAAK NO: 27042/1996
ONRAPORTEERBAAR
In die saak tussen:
LAHLIWE EBELINAH MGIBA EISER
En
DIE PADONGELUKEFONDS VERWEERDER
UITSPRAAK
JOOSTE, WR
1. Die eiser het aksie ingestel teen die verweerder in haar persoonlike hoedanigheid sowel as in haar hoedanigheid as moeder en natuurlike voog van haar minderjarige kinders, naamlik Bongani Mgiba, gebore 7 Februarie 1980 en Thabani Mgiba, gebore 20 November 1981. Die eiser se eis is vir verlies aan onderhoud as gevolg van die dood van haar eggenoot Samuel Mgiba (“die oorledene”) wat gesterf het as gevolg van ’n motorbotsing op 4 Januarie 1992 op die Bosbokrand – Arconhoek hoofpad te die T aansluiting na Thulamahashe interseksie met die gemelde Bosbok – Arconhoek hoofpad.
2. Op versoek van die partye is die kwessie van meriete en die van quantum geskei en het die verhoor slegs voort gegaan met betrekking tot die meriete, synde die nalatigheid aldan nie van die versekerde bestuurder.
3. Dit is gemeensaak dat die oorledene die bestuurder was van ’n voertuig met registrasie nommer KC29 en gery het vanaf Bosbokrand na Arconhoek, terwyl die versekerde bestuurder, E M Nxumalo die bestuurder was van ’n motorvoertuig met registrasie nommer PMN626T (“die versekerde voertuig”) en gereis het vanaf Arconhoek na Bosbokrand. Dit is verder gemeensaak dat die oorledene by die betrokke interseksie met sy flikkerlig aangedui het dat hy voorneme is om na regs te draai en dit toe inderdaad gedoen het. ’n Botsing het plaasgevind met die aankomende versekerde voertuig. Die partye is dit verder eens dat die plan van die ongelukstoneel soos verskyn op bladsy 11 van bewysstuk A volgens skaal is, terwyl die op bladsy 26 van bewysstuk A nie op skaal is nie.
4.1 Die eiser het getuig dat sy op die betrokke dag ’n passasier in ’n Cressida motorvoertuig was wat deur haar oorledene man bestuur is. Hulle het van noord na suid op die Bosbokrand – Arconhoek pad beweeg en wou regs draai na Thulamahashe by die T-aansluiting. Die pad verbreed op hierdie punt in hul rigting van beweging sodat motors wat nie na regs wou draai nie links verby kon ry en reguit aanhou. Hierdie stand van sake blyk ook uit die skets van die toneel wat voorberei is deur die deskundige, mnr. Barry Grobbelaar (bewysstuk A11) wat gemeensaak is tussen die partye.
4.2 Die eiser het voorts getuig dat die spoedbeperking 60 kilometer per uur was en dat die ongeluk teen ongeveer 19:00 plaasgevind het. Dit was reeds skemer gewees en voertuie se ligte was aangeskakel. Sy het ’n voertuig hulle van voor sien nader in die teenoorgestelde rigting met sy linker flikkerlig aan wat aandui dat hy na links wou afdraai in die glipweg vir daardie doel by die T aansluiting. Haar man het die versekerde voertuig gesien aankom met die flikkerlig aan, aangesien hy spoed verminder het en begin het om na regs te draai. Die versekerde bestuurder het egter nie na links in die glipweg afgedraai nie maar reguit aangery as gevolg waarvan dit gebots het met die voertuig bestuur deur die oorledene. Die botsing het plaasgevind min of meer in die middel van die baan waarin die versekerde bestuurder beweeg het. Sy kan egter nie met presiesheid die punt van botsing aandui nie.
4.3 In kruisverhoor getuig sy dat daar inderdaad vyf volwassenes in die voertuig was, naamlik haarself, die oorledene, die oorledene se suster (Ruth), laasgenoemde se twee kinders asook nog ’n minderjarige kind. Die ander passasiers in die voertuig bly steeds in Thulamahashe en sy weet nie hoekom hulle nie by die hof teenwoordig is nie.
4.4 Die eiser het twee verklarings afgelê naamlik een op 26 Julie 1993 (bewysstuk A19 tot A21) en ’n verdere verklaring wat blyk beëdig te gewees het op 21 Februarie 2000 (bewysstuk A22 tot A23). In die eersgenoemde verklaring vermeld die eiser wel dat die voertuig wat van voor af gekom het, met sy flikkerlig aangedui het dat dit na links in die glipweg sou indraai. (Soos haar weergawe ook in getuienis was.) Wat die latere verklaring betref, is haar getuienis dat die verklaring nie aan haar terug gelees is deur die polisie nie en dat dit ’n fout bevat aangesien dit nie vermeld dat die versekerde bestuurder se flikkerlig na links aan was nie, alhoewel sy dit so aan die polisie verduidelik het. Dit dien vermeld te word dat laasgenoemde verklaring ’n dag na die ongeluk afgeneem is maar nie beëdig is nie – inteendeel die beëdiging is doodgetrek oënskynlik op 20 Februarie 2000 terwyl ’n latere beëdigingstempel gedateer 21 Februarie 2000 aan die onderkant van die verklaring aangebring is.
5.1 Die bestuurder van die versekerde voertuig, mnr. Nxumalo het getuig dat hy vanaf Arconhoek na Bosbokrand onderweg was om sy vrou te gaan haal by die “Bushbuck Ridge” vulstasie. Alhoewel hy nie kan onthou hoe laat die botsing plaasgevind het nie, was dit voor 18:00 uur in die daglig terwyl die son nog geskyn het. Hy weet nie wat die spoedbeperking was nie maar getuig dat hy tussen 60 en 80 kilometer per uur beweeg het.
5.2 Toe hy die voertuig wat deur die oorledene bestuur is die eerste keer gesien het was dit, soos hy nader, in die middelbaan. Dit het gelyk of dit stilstaan en die voertuig se flikkerlig na regs was aan. Op daardie stadium was dit ongeveer by punt 3.5 op bewysstuk A11. (Dit is naastenby 61,2 meter vanaf die middel van die interseksie blykens die skaal tot A11.) Volgens hom was hy ongeveer by punt 15.2 op A11 (dit is ongeveer 15 meter van die middel van die interseksie af) toe die voertuig van die oorledene begin beweeg het. Hy het gerem maar kon die ongeluk nie vermy nie en die afstand was te kort om uit te swaai. Hy het ontken dat sy voertuig se linker flikkerlig aan was en dat hy aangedui het dat hy in die glipweg sou indraai. Hy getuig dat hy deurentyd in die linkerbaan beweeg het en ongeveer in die middel van die eilandjie was toe die oorledene se voertuig begin beweeg het en dat hy ongeveer 7 meter ver gerem het. Hy op een stadium stadiger gery en nie alhoewel hy die voertuig van die oorledene deurentyd dopgehou het. Sy voertuig was beskadig aan die voorkant en die regter deur daarvan terwyl die oorledene se voertuig skade aan die linkerkant vanaf die middel van die voertuig tot voor gehad het.
6. Die passasier in die versekerde voertuig, mnr. Makamo bevestig die getuienis van mnr. Nxumalo dat hulle oppad was om laasgenoemde se eggenote te gaan haal te Bosbokrand waar sy werk by ’n vulstasie. Hy het die oorledene se voertuig voor die botsing gesien waar dit stilstaande was en gewys het dat dit na regs gaan draai. Hulle het gereis teen ongeveer 60 kilometer per uur en in die middel van hul baan beweeg. Toe hulle nader beweeg het, het die oorledene se voertuig begin draai. Hy wys ook op die sketsplan uit dat die voertuig begin beweeg het toe hulle by punt 15.2 op bewysstuk A11 was. In kruisondervraging is hy ook adamant dat hulle in hul baan beweeg het om geen stadium in die linkerbaan by die verbreding in beweeg het ten einde na links te draai nie.
7.1 Soos vermeld, is die skaalplan op bewysstuk A11 deur mnr. Barry Grobbelaar voorberei wat ook as deskundige getuig het met betrekking tot rekonstruksie van die botsing. Sy deskundigheid was nie in geskil nie. Hy het ’n verslag voorberei (laat sy ’n 1 13, bewysstuk A) op 8 Oktober 2003 met betrekking tot die botsing. Sy gevolgtrekking in paragraaf 4.1 bladsy 7 bewysstuk A is die volgende;
“It is improbable that the driver of the Nissan (versekerde voertuig) would have been able to avoid the collision with the Toyota.”
Dit is nie nodig om volledig te handel met die getuienis en kruisondervraging van mnr. Grobbelaar nie. Hy het self aangedui dat die berekeninge wat hy maak en gevra is om te maak gebaseer is op sekere aannames en nie op feite nie.
7.2 Wat wel van belang is, is in die eerste plek die getuienis van mnr. Grobbelaar dat volgens die skaalplan, vanaf die laaste punt waar die versekerde voertuig sou kon na links beweeg in die glipweg tot by die punt van botsing 50 meter is en in die tweede plek dat die afstand vanaf punt 15.2 tot die punt van botsing volgens die plan tussen 14 en 15 meter is. Gedagtig aan hierdie afstande was die getuie van mening dat die oorledene op ’n afstand van 55 meter reeds moes besef het dat die versekerde voertuig nie na links gaan draai nie, selfs al was dit die linker flikkerlig aan en dat gegewe die 14 tot 15 meter en ’n spoed aan die kant van die versekerde voertuig van 60 kilometer per uur of 80 kilometer per uur dit onmoontlik was vir die versekerde bestuurder om betyds te stop en die botsing te vermy.
8. Op die getuienis in geheel is ek van oordeel dat die eintlike wesenlike vraag wat vir beregting hom voordoen, is of die versekerde bestuurder sy flikkerlig aangehad het en aangedui het dat hy na links in die glipweg gaan afdraai of nie. Indien dit wel die geval was en die draaibeweging nie uitgevoer is nie, was die versekerde bestuurder klaarblyklik nalatig. Indien nie, was die oorledene nalatig deur in die baan van aankomende verkeer die draaibeweging na regs uit te voer. Wat hierdie kwessie betref, is daar natuurlik twee wedersyds vernietigende weergawes voor die hof.
9. Wat die kwessie van die linker flikkerlig van die versekerde voertuig betref, is dit van belang om daarop te let dat die eiser, alhoewel sy getuig het dat die versekerde voertuig effens aan die linkerkant van sy baan beweeg het, sy nooit getuig het dat die versekerde voertuig in die heel linkerkantste baan, dit wil sê die baan van die glipweg beweeg het nie. Sy het ook nie getuig oor wat die afstand was tussen die voertuie toe haar oorledene man die regsdraai uitgevoer het nie. Aansluitend hierby is dat die eiser wel getuig het dat die botsing plaasgevind het ongeveer middel van die baan waarin die versekerde bestuurder beweeg het. Hierdie feite is ondersteunend van die weergawe van die versekerde bestuurder en sy passasier.
10. Dit kan nie gesê word dat die eiser ’n totaal onbevredigende getuie was nie. Sy is klaarblyklik nie ’n gesofistikeerde getuie nie maar het openhartig getuig. Wat egter wel duidelik is uit haar getuienis, is dat haar waarneming van die gebeure nie volledig, duidelik en spesifiek was nie. In teenstelling hiermee was die versekerde bestuurder en sy passasiers se getuienis nie net stawend van mekaar nie maar ook presies, veral wat betref die punt waar die versekerde voertuig was toe die oorledene begin het om na regs te draai. Hierby natuurlik ook die getuienis dat hulle die versekerde bestuurder se vrou wou gaan oplaai by haar werk en dus geen rede gehad het om na links af te draai nie. Indien hierby bygevoeg word dat alhoewel daar ander getuies beskikbaar was, naamlik die passasiers in die voertuig, en die eiser versuim het sonder enige verduideliking om hierdie getuies te roep, is ek van oordeel dat op die getuienis in die geheel die weergawe van die verweerder en sy getuies aanvaar moet word naamlik dat die linker flikkerlig van hulle voertuig nie aan was nie en dat hulle op geen stadium beoog het of inderdaad na links in die glipweg probeer af beweeg het nie.
Dit volg dus dat die oorledene op ’n ongeleë stadium voor die versekerde voertuig in beweeg het en in die opsig nalatig was.
Die enigste vraag wat nog beantwoording verg, is of die versekerde bestuurder enige iets kon doen om die botsing te vermy. Sy getuienis dat dit onmoontlik was om uit te swaai is nie aangeval tot so ’n mate dat bevind kan word dat daardie geleentheid wel beskikbaar was nie. Verder op die getuienis ten aansien van die afstand tussen punt 15.2 op die skaal plan in bewysstuk A, naamlik tussen 14 en 15 meter, is dit duidelik, ook op die getuienis van mnr. Grobbelaar, dat die versekerde bestuurder nie betyds kon stop ten einde die ongeluk te vermy nie, nieteenstaande sy poging en die aanslaan van die voertuig se remme nie.
11. Uit die voorgaande is dit duidelik dat die eiser nie daaraan geslaag het om enige nalatigheid hoegenaamd aan die kant van die versekerde bestuurder te bewys nie en dui die waarskynlikhede eerder tot die teendeel.
12. Die eiser se eis kan dus nie slaag nie word van die hand gewys met koste.
F J JOOSTE
WAARNEMENDE REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF
27042/1996
DATUM VAN VERHOOR: 12 Augustus 2004 en 13 Junie 2005
NAMENS DIE EISER: Adv. H J de Wet
IN OPDRAG VAN: MNRE Maluleke, Msimang & Airoisater, Pretoria
NAMENS DIE VERWEERDER: Adv. M van Antwerpen
IN OPDRAG VAN: Mnre. Dyason, Pretoria
DATUM VAN UITSPRAAK: 11 Oktober 2005