South Africa: High Courts - Gauteng Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Courts - Gauteng >> 2005 >> [2005] ZAGPHC 334

| Noteup | LawCite

Torre NO en Andere v Land en Landbou Ontwikkelingsbank van Suid Afrika (14656/2003) [2005] ZAGPHC 334 (31 October 2005)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA /ES

(TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)

SAAK NO: 14656/2003

DATUM: 31/10/2005

nie rapporteerbaar




IN DIE SAAK TUSSEN

PHILIPPUS GIOVANNI TORRE, NO EERSTE EISER

THEUNIS JOHANNES HERMANUS POTGIETER, NO TWEEDE EISER

BOYKIE GEELBOOI MTSHWENI, NO DERDE EISER

EN

DIE LAND- EN LANDBOU- ONTWIKKELINGSBANK

VAN SUID-AFRIKA VERWEERDER


UITSPRAAK

VAN DER MERWE, R

Die eisers dagvaar die verweerder vir betaling van 'n bedrag van R22 037 473,37 tesame met rente en koste.


Die aksie is gebaseer op 'n onderneming wat die verweerder na bewering aan die eisers gegee het gedurende of ongeveer 14 tot 16 Maart 2000 met die strekking dat die eisers die besigheid van D W Parker Chicken Farms (Edms) Bpk (in likwidasie), Transvaal Chickens (Edms) Bpk (in likwidasie) en Transvaal Broiler Breeders (Edms) Bpk (in likwidasie), handeldrywende as Henwill Chickens (in die pleitstukke word na Henwill Chickens verwys as D W Parker) moes voortsit na likwidasie en dat die verweerder die eisers sou vrywaar vir enige handelstekorte wat mag ontstaan in die voortsetting van die betrokke besigheid. Die verweerder het hierdie onderneming ontken en verder aangevoer dat mnre Masilela en/of Ayer wat na bewering namens die verweerder opgetree het geen magtiging gehad het om die verweerder tot sodanige onderneming te verbind nie. Die verweerder het ook die quantum van die eisers se vordering ontken.


By die aanvang van die verhoor het die verweerder aansoek gedoen vir die wysiging van die verweerskrif deur in paragraaf 4.2 daarvan die datum van 31 Maart 2003 te wysig na 31 Maart 2000. Daar was geen beswaar teen hierdie wysiging nie en dit is toegestaan. 0ok by die aanvang van die verhoor was namens die eisers aansoek gedoen vir die wysiging van paragraaf 4 van die besonderhede van vordering deur na die verwysing na D W Parker Chicken Farms (Edms) Bpk (in likwidasie) die volgende twee entiteite se name ook in te voeg, naamlik "Transvaal Chicks (Edms) Bpk (in likwidasie) en Transvaal Broiler Breeders (Edms) Bpk (in likwidasie)". Daardie wysiging is ook mettertyd toegestaan.


In die loop van die verhoor het die eisers aansoek gedoen vir 'n verdere wysiging tot hulle besonderhede van vordering. Hierdie wysiging is nie teëgestaan nie maar daar is 'n aansienlike hoeveelheid kruisverhoor daaroor gedoen pertinent wat betref die eerste en tweede eisers. Dit is nie nodig dat ek hierdie wysigings in detail behandel nie. Dit is voldoende dat ek in breë trekke aandui wat die wysigings behels het. In die oorspronklike besonderhede van vordering was aangevoer dat "gedurende ongeveer Maart 2000 en tydens 'n vergadering tussen eisers en verweerder verteenwoordig deur ene mnr G Masilela en/of W H Malan en/of K Ayer het verweerder" die eisers versoek om die besigheid van Henwill Chickens as lopende saak te bedryf weens sekere redes. In die gewysigde besonderhede van vordering was die naam van W H Malan uitgelaat.


Die tweede wysiging van belang is dié wat aangebring is tot paragraaf 9 van die besonderhede van vordering. Aanvanklik het paragraaf 9 soos volg gelui: "Verweerder by monde van gemelde Masilela en/of Malan en/of K Ayer het aangedui dat hulle bereid was om eisers te vrywaar vir verliese wat opgeloop word in hierdie voortsetting van die besigheid van D W Parker". (Vir D W Parker lees Henwill Chickens.) Behoudens dat die naam van Malan ook in hierdie paragraaf uitgelaat is, is die volgende bygevoeg: "Eerste en tweede eisers het gemelde onderneming van verweerder tydens die betrokke vergadering aanvaar en die besigheid voortgesit."


In die oorspronklike besonderhede van vordering was in paragraaf 10 verwys na sekere verliese wat vir Maart 2000 opgeloop was en dat Masilela en/of Malan die eisers toe gevrywaar het vir 'n bedrag van R850 000,00. In paragraaf 11 is aangevoer dat daardie vrywaring aanvaar is. Paragraaf 10 is ook gewysig en dit verwys ook na die begrote verlies van Maart 2000 wat nou R556 319,00 beloop het waarvoor die eisers gedeeltelik gevrywaar is deur betaling van 'n bedrag van R550 000,00. Waar die aanvaarding van die vrywaring in paragraaf 11 van die oorspronklike besonderhede van vordering beweer is, is daardie paragraaf nou deurgehaal aangesien die aanvaarding nou uiteengesit is in paragraaf 9 wat reeds hierbo aangehaal is.


Paragraaf 12 het in die oorspronklike vorm en ook na die wysiging verwys na gebeure gedurende Mei 2000 toe Masilela en/of Malan sekere instruksies en onderneming aan die eisers verskaf het.


Tydens kruisverhoor en ook in betoog was namens die verweerder aangevoer dat die eisers hulle saak aangepas het om in lyn te kom met die getuienis van in besonder Potgieter wat toe reeds getuig het en na wie se getuienis later verwys sal word. 0ok is aangevoer dat daar onsekerheid by die eisers is oor op welke onderneming van meerdere ondernemings gesteun word asook deur wie die betrokke onderneming of ondernemings gegee sou gewees het. Soos sal blyk uit die getuienis wat hierna volg het baie samesprekings tussen die eisers en verskeie amptenare van die verweerder plaasgevind, is talle briewe en memoranda geskryf waar op talle geleenthede na ondernemings verwys is asook die voortsetting van die besigheid van Henwill Chickens.


Ek sal later in hierdie uitspraak enkele opmerkings maak oor die getuienis en die wysigings.


Wat betref die bespreking van die getuienis van die onderskeie getuies is ek van voorneme om dit te doen in die volgorde waarin die getuies getuig het.


Mnr Michael Noel Anstey is tans en was ook gedurende die relevante tydperk gedurende 2000 en 2001 die nasionale kredietbestuurder van Epol (Edms) Bpk.


Volgens mnr Anstey het mnr Dorian Parker (die dryfveer agter Henwill Chickens) Epol se Rustenburg tak op 30 Maart 2000 genader met die versoek dat Epol moes kwoteer vir voer. 'n Vergadering was gevolglik gereël waar onder andere teenwoordig was mnr Anstey, mnr Chris van Niekerk (die algemene bestuurder van Epol se Rustenburg tak), mnr Dorian Parker, die verkoopsbestuurder van Epol en 'n sekere mnr Bankies Malan ("Malan") van die verweerder. Die verskaffing van voer vir hoenders was tydens daardie vergadering bespreek. Mnr Anstey het geweet dat die maatskappye in Henwill Chickens reeds gelikwideer is en was daar 'n bekommernis by hom en die lede van Epol oor sekuriteit vir Epol se blootstelling as hulle voer aan Henwill Chickens sou verskaf. Epol se normale vereistes by groot blootstellings is dat sekuriteit verkry word. 0mdat die maatskappye in likwidasie was, was die posisie aangaande sekuriteit vir mnr Anstey meer kritiek en is daar gevra na sekuriteit. Volgens Anstey het Malan hom meegedeel dat Epol regtens 'n na likwidasie skuldeiser sou wees, dat betaling van Epol se rekening voorkeur sou geniet bo ander eise in die insolvente boedel en dat daar in ieder geval 'n onderneming of vrywaring ("indemnity") deur die verweerder aan die eisers gegee was op die basis dat indien daar handelsverliese sou wees die verweerder sodanige verliese aan die eisers sou betaal.


Anstey het die eerste eiser getelefoneer en dié het aan hom die versekering gegee dat sodanige vrywaring inderdaad verkry is. Volgens Anstey het hierdie mededelings hom namens Epol tevrede gestel betreffende enige sekuriteit. Epol het daarom voortgegaan om vir die volgende ongeveer twee jaar voer beskikbaar te stel ten bedrae van etlike miljoene rande.


Volgens Anstey het daar hierna geen verdere besprekings plaasgevind nie behalwe met 'n sekere mnr Raymond Gunning gedurende November 2001 en weer in Februarie 2002. Anstey sê dat dit sy gebruik is om na 'n vergadering of samespreking met 'n persoon oor sake wat Epol raak notas te maak, 'n epos voor te berei wat dan gesirkuleer word aan werknemers van Epol wat daarin belang het. Ter bevestiging van die Februarie 2002 gesprek met Gunning het Anstey op 5 Februarie 2002 'n epos aan 'n sekere Ferreira en Behrens gestuur. Dit is onnodig om in detail op die inhoud van hierdie epos in te gaan. Genoegsaam om te sê dat Anstey bevestig dat hy van Gunning gehoor het dat dit wil voorkom asof die verweerder die besigheid van Henwill Chickens gaan oorneem en dat swart boere bemagtig sou word.


0p 4 Maart 2002 stuur Anstey 'n epos wat ook handel met die oorname van die besighede van Henwill Chickens deur die verweerder. In die betrokke epos handel Anstey met sekere probleme aangaande die nie betaling van Epol se uitstaande rekening, bevestig weer eens dat in terme van die Insolvensiewet die eisers verantwoordelik is vir Epol se rekening en voeg dan by

"and have obtained an indemnity from Landbank for any liability in terms of the Act. Thus, when Henwill is finally liquidated and all assets are realised, any shortfall to pay the admin accounts in full will have to be funded from Landbank in terms of their indemnity. 0ur account is thus safe, albeit long."


'n Verdere epos van Anstey is gedateer 2 April 2002. Daarvolgens het hy met Malan gekontak en hom aangespreek oor die versuim van die verweerder om betalings aan Epol te maak vir die verskaffing van voer.


0p 5 April 2002 rig Anstey 'n faks aan mnr Monwabisi Fandeso van die verweerder waarin hy kla oor die groot uitstaande rekening van Epol, Malan se onderneming om te betaal waaraan nie voldoen is nie, meld dat die aangeleentheid aan die Meester van die Hooggeregshof gerapporteer is en vra mnr Fandeso om nou tussenbeide te tree. Hierdie epos is voorafgegaan deur 'n skrywe van Epol se prokureurs gedateer 28 Maart 2002 wat gerig is aan onder andere die eisers en die Meester van die Hooggeregshof waarin ook gekla is oor nie betaling van Epol se rekening.


Die verweerder se prokureur op daardie stadium, mnr Rothbart, antwoord op 11 April namens die eisers op Epol se prokureur se brief van 28 Maart 2002 en verwys na die verweerder se voorneme om self die besighede van Henwill Chickens in te koop. Malan reageer op sy beurt op Anstey se faks aan mnr Monwabisi Fandeso en heg 'n afskrif van Rothbart se skrywe van 11 April 2002 aan as deel van sy antwoord namens die verweerder. In die betrokke skrywe van Rothbart was 'n vergadering aangevra tussen belanghebbende partye. Daardie vergadering het plaasgevind op 18 April 2002. 0p 19 April 2002 doen Anstey weer verslag per epos oor daardie vergadering. Dit blyk dat Anstey tydens die vergadering aangedring het op die verskaffing van 'n waarborg deur die verweerder. Rothbart sou dit verder neem. Weer eens verwys Anstey na die "indemnity" wat Landbank verskaf het en sê "as can be seen, our account is solidly safe ..." Van belang is ook die volgende gedeelte van die epos wat slaan op aspekte wat op meerdere geleenthede tydens die verhoor na vore gekom het naamlik die tussenbeitreding van óf die provinsiale óf sentrale regering. Die volgende is gesê:

"Finally, Rothbart outlined Landbank's thinking and motivation for continuing with Henwill and Agrichicks. These businesses employed thousands of people in their respective areas and supported many small industries associated with the operations. The government had requested Landbank to not close the operations as this would have a detrimental impact on the socio economic climate of the areas. Though not a threat, the implication was there that if Epol moved to shut down the operation, such action may have serious implications in both the public eye and that of the trade unions. I pointed out that whilst Landbank wanted to create this euphoric state of affairs, they cannot expect Epol to give open ended credit facilities to support such 'dream' ... all we wanted was to be paid for the feed supplied in terms of the original agreement of thirty days payment."


Rothbart se skrywe gedateer 19 April 2002 aan Epol se prokureur bevestig die vergadering wat plaasgevind het en die feit dat die Henwill Chickens boerdery moet voortgaan. Die volgende word daaroor gesê:

"There are other interested parties as well and an open view has been adopted by all parties to ensure, as far as possible, the continuation and viability of the business of Henwill Chickens, not least of all because of the socio economic impact in the area should the operation cease and thousands of direct and indirect wage earning beneficiaries be thrown out of a job. As intimated this issue was one of major concern to all the relevant role players."


0p 30 April 2002 stuur Anstey weer eens 'n epos aan persone verbonde aan Epol en sê dat hy vroeg daardie oggend 'n vergadering in Pretoria bygewoon het. By daardie vergadering was onder andere me Klein en Malan, beide van die verweerder. Die doel van die vergadering word deur Anstey beskryf as 'n bespreking aangaande hulle versoek aan die verweerder vir 'n waarborg om die uitstaande rekening te betaal. Hy sê dan:

"Although in law we are fully covered, I wanted a letter of comfort from Landbank to ensure that the repayment plan is kept by the liquidators of Henwill."


Dit blyk ook dat daar besluit is om mnr Masuku, 'n geoktrooieerde rekenmeester werksaam by die verweerder, te betrek om die Henwill Chickens aktiwiteite te ondersoek en 'n oog daaroor te hou. Masuku het kragtens die epos 'n tyd van vier tot vyf weke versoek om 'n volledige finansiële verslag voor te berei. Me Klein het volgens die epos vir Malan opdrag gegee om toe te sien tot twee betalings van R3 miljoen en R2 miljoen onderskeidelik aan Epol. Waarborge sou daarvoor uitgereik word.


Na verdere bespreking oor die aangeleentheid sê Anstey die volgende:

"Ms Klein again reiterated that in law Landbank is responsible for payment of the Epol account if final liquidation produces insufficient funds to pay the post-liquidation trading accounts. I responded by acknowledging this fact but stating that Epol is not prepared to have large amounts of working capital tied up in a debtor account no matter how 'safe' the account is."


0p 2 Mei skryf Epol se prokureurs aan Rothbart en bevestig dat die betalings van "the millions" waarna verwys is nie gemaak was nie.


0p 8 Mei 2002 het Anstey 'n epos gestuur aan persone in Epol en weer eens bevestig dat die betalings van R3 miljoen en R2 miljoen nie gemaak is nie. Anstey waag ook die mening dat die verweerder besig is met swart bemagtigingsgroepe, dat die finale stadia ten opsigte daarvan bereik is en dat die verweerder waarskynlik sal betaal eerder as om die hele aangeleentheid ten gronde te laat gaan.


Anstey bevestig verder in sy getuienis dat Epol stappe geneem het teen die eisers om vonnis te verkry. 0p daardie stadium sê hy was die uitstaande bedrag meer as R15 miljoen en huidiglik meer as R20 miljoen.


Die getuienis van Anstey is op hierdie stadium onderbreek sodat die verweerder se advokate instruksies kon bekom met die oog op kruisverhoor.


Uiteindelik is Anstey op 12 Augustus 2005 onder kruisverhoor geneem.


Volgens Anstey het mnr Dorian Parker Henwill Chickens verteenwoordig tydens die vergadering van 30 Maart 2000. Anstey bevestig ook dat hy kennis gedra het daarvan dat Epol as 'n na likwidasie skuldeiser sekere regte gehad het maar dat die vrywaring wat Malan verduidelik het aan die eisers gegee is vir hom en Epol van groot belang was.


Anstey verduidelik ook dat hy die vrywaring wat Malan van gepraat het verstaan het om te beteken dat as die maatskappye in likwidasie verdere verliese sou ly die verweerder dit sou betaal. Volgens hom was daar nie enige beperking op die omvang van die verliese geplaas nie maar dat hy dink dat op daardie tydstip niemand in vooruitsig gestel het dat werklike verliese gely sou word nie. So 'n vrywaring deur die verweerder het hom nie vreemd opgeval nie. Nadat Torre (die tweede eiser) die gee van die vrywaring bevestig het, het hy nie aangedring op skriftelike bevestiging daarvan nie. Hy het wel gedink dat die eisers so 'n skriftelike vrywaring gekry het.


Aan Anstey was 'n skrywe van die verweerder aan die eisers gedateer 16 Maart 2000 voorgehou. Die inhoud van die skrywe lui soos volg:

"Kindly be advised that the Landbank has agreed to cover the trading costs from 16/03/2000 to 16/04/2000. The aforesaid costs will be limited to the maximum of R556 319,00, excluding the 6% liquidators commission."


Terselfdertyd was hy verwys na 'n brief onder die briefhoof van Price Waterhouse Coopers wat die eerste eiser aan sy mede-likwidateurs gestuur het op 17 Maart 2000 en waar hy die pas aangehaalde brief van die verweerder aanheg en sê:

"Attached hereto please find consent from the Landbank to trade which indemnifies the joint liquidators for a maximum cost of R556 319,00."


Aan Anstey is gestel dat hierdie die enigste vrywaring was wat gegee was. Dit sê Anstey sou hom nie tevrede gestel het nie.


Dit is daarna aan Anstey gestel dat Malan sal getuig dat hy nie kan onthou dat hy 'n vergadering op 30 Maart 2000 bygewoon het nie. Malan sou verder kom sê dat indien 'n ooreenkoms gesluit is in verband met die verskaffing van voer dit die eisers, en by name Torre, sou wees wat die ooreenkoms moes sluit. Anstey se antwoord was dat Malan en Parker by daardie vergadering teenwoordig was en dat Parker skynbaar die eisers verteenwoordig het.


Verder was aan Anstey gestel dat Malan die Landbank se brief van 16 Maart 2000 opgestel het en dat dit deur Masilela geteken is. Anstey se reaksie was dat die betrokke skrywe verwys net na die periode 16 Maart tot 16 April 2000. Dit sê Anstey sou hoegenaamd nie die besigheid van Henwill Chickens kon laat voortgaan nie. As die hoenderboerdery moes voortgaan sou dit vir veel langer moes wees as die tydperk in die brief uiteengesit. Anstey sê dat Malan inderdaad moes geweet het dat die eisers lank na die tyd in die brief vermeld nog met die boerdery sou moes voortgaan. Hy sê op daardie tydstip was daar ongeveer 100 000 kuikens by Henwill Chickens. Daarom het Anstey aanvaar dat die onderneming wat Malan gegee het lank na die periode van 16 April sou moes voortduur.


Dit is verder aan Anstey gestel dat Malan sou ontken dat hy sou gesê het dat Epol 'n na likwidasie krediteur was en daarom verseker was. Dit is deur Anstey ontken. Anstey bevestig ook dat in die grootmaak van braaikuikens dit onmoontlik is om 100 000 kuikens in 'n periode van een maand mark gereed te kry en dit te verkoop. Volgens hom was die verskaffing en voorsiening van voer aan die kuikens 'n voortgaande operasie.


Dit is ook verder ontken namens die verweerder dat me Klein opdrag gegee het aan Malan om die bedrae van R3 miljoen en R2 miljoen te betaal soos in Anstey se epos van 30 April 2002 uiteengesit is.


Prokureur Daniel Gerhardus 0livier van Lichtenburg was die prokureur van Noordwes Koöperasie Bpk en een van dié se filiale, Noordwes Voere. Die D W Parker groep van maatskappye het geopereer in die Lichtenburg distrik. Noordwes Koöperasie Bpk het 'n eis van R1,4 miljoen en Noordwes Voere 'n eis van ongeveer R12 miljoen teen Henwill Chickens gehad. Mnr 0livier se kliënte wou van hom weet wat se sekuriteit daar vir hulle is en wat daarvan sou word. Daar was onder andere 'n notariële verband ten gunste van Noordwes Koöperasie Bpk. Mnr 0livier en sy kliënte was bewus daarvan dat daar baie hoenders op die Henwill Chickens boerdery se plase was. Dit was mnr 0livier se advies aan sy kliënte dat toegesien moet word dat die hoenders nie verlore gaan nie sodat sy kliënte voordeel daaruit sou kry.


Mnr 0livier sê dat mnr Dorian Parker mettertyd ook 'n kliënt van hom geword het. Hy is bewus daarvan dat mnr Parker deur die eisers genader was om teen vergoeding aan te bly op die plaas en die hoenderboerdery te behartig anders sou alles in duie stort. Mnr 0livier het ook met die eisers gekontak en gevra wat gaan word van die hoenders. 0livier se houding was dat die hoenders nie net bloot geslag kan word en verkoop word nie want dan sou sy kliënt, Noordwes Koöperasie Bpk, geen voordeel kry nie. Hy was ook bewus daarvan dat verkryging van voer 'n baie dringende aangeleentheid was om die hoenders aan die lewe te hou. 0livier het vasgestel dat daar wel reëlings getref was vir die verkryging van voer. Verder wou 0livier nie hê dat die opbrengs van die hoenders teruggeploeg moes word in die besigheid nie. Hy het die versekering van die eisers gekry dat die verweerder verantwoordelik sou wees vir die aangaan van die skuld van die voer.


Daar was egter ook verdere probleme wat 0livier se kliënte gehad het. Daar was beeste op die grond en ook 'n bestaande oes. Daar was kompeterende eise van 0livier se kliënte en dié van die verweerder. Daar was daarom besluit om 'n vergadering te Lichtenburg te belê waar die aangeleentheid met die verweerder bespreek kon word. 'n Vergadering was belê waar Malan, Hennie Eloff en Gunning teenwoordig was. 0livier was ook daar. 0livier sê dat hy die kwessie van die koste om die boerdery voort te sit geopper het. Malan het gesê dat 0livier nie hoef te bekommer nie want die verweerder staan in vir alle koste van die voortsetting van die besigheid van die maatskappye in likwidasie. Malan het ook gesê dat ten alle koste moet daar voortgegaan word met besigheid omdat dit as 'n lopende saak verkoop moes word.


0livier sê dat nóg die eisers nóg die verweerder geweet het wat op hulle gewag het met die probleme van die ineengestrengelde belange in die verskillende besighede van die Parker groep.


Die vergadering waarop Malan die versekering gegee het soos hierbo vermeld, sê 0livier het ongeveer teen die einde van Mei 2000 plaasgevind. Hy lei dit af daarvan dat die mielies ingesamel word vanaf ongeveer middel Mei.


Wat Malan tydens hierdie vergadering aan 0livier meegedeel het, het gestrook met dit wat die eisers aan 0livier oorgedra het. Hy was dus tevrede dat die bedryf nie voortgesit sou word tot nadeel van sy kliënte nie.


0livier sê dat daar verskeie probleme tussen hom en die likwidateurs was. Een daarvan was onder andere na die opstel van die eerste likwidasie- en distribusie rekening. 0livier het sy besware in 'n brief gedateer 8 Junie 2001 aan die Meester van die Hooggeregshof uiteengesit. In besonder het 0livier in sy getuienis verwys na paragraaf 7 van die brief wat soos volg lui:

"Daar word 'n tekort oorgedra vanaf die voortsetting van die besigheidsrekening na die vrye oorskot rekening wat nie korrek is nie."


Hierdie aspek sê 0livier wou hy in besonder met Eloff en die verweerder bespreek aangesien dit nie gestrook het met wat Malan vir hom gesê het naamlik dat die verweerder sou instaan vir alle koste nie. 0livier was ongelukkig daaroor dat die verlies op die besigheidsrekening wat die verweerder moes dra op die vrye oorskotrekening getoon was.


'n Vergadering was belê vir 19 Junie 2001. Eloff het op 21 Junie 'n skrywe aan die verweerder gerig wat dien as 'n vorm van notule van die vergadering. Die brief is gemerk vir aandag Malan. By die vergadering van 19 Junie 2001 was 0livier teenwoordig sowel as sy kliënte.


Dit is nie nodig dat ek al die aspekte wat by die vergadering bespreek is behandel nie.


In punt 3 van die skrywe van Eloff word die volgende gesê:

"Shortfall reflecting in the free residue account to be transferred to the encumbered asset account – Landbank to agree."


0livier sê dat hierdie aspek hom ongelukkig gemaak het. Terselfdertyd sê hy dat hy dit moontlik verkeerd kon geïnterpreteer het. Nogtans skryf hy op 26 Junie 2001 aan Eloff en sê onder andere uitdruklik:

"We, however, wish to point out that as far as item 3 is concerned it was accepted by the Landbank that the Landbank is liable to pay any shortage on the trading account. The shortfall is therefore not to be transferred to the free residue account but either the shortfall must be paid by Landbank or it must remain in the trading account either to be set off against future profits or eventually to be paid by the Landbank."


0livier getuig ook dat kort na die maatskappye se likwidasie daar reeds sprake was van aanbiedinge wat gemaak is om die besighede in te koop. Dit is die rede, sê 0livier, wat die verweerder die standpunt ingeneem het dat die besighede as 'n lopende saak verkoop moet word.


As gevolg van die inligting dat die verweerder sou instaan vir verliese het 0livier sy kliënte geadviseer. Hy sê indien hy nie hierdie inligting van die eisers en Malan gekry het dat die verweerder sou instaan vir die skulde nie sou hy anders opgetree het en sy kliënte anders geadviseer het. So onder andere sou hy gepoog het om te keer dat hoenders geslag en verkoop word. Verder sou hy ook nie ingestem het dat met die besigheid voortgegaan kon word nie.


0livier was bewus daarvan dat skaars twintig kilometer verder van die Henwill Chickens boerdery, Agrichicks ook 'n soortgelyke boerdery bedryf het. Agrichicks was onder geregtelike bestuur. Mnr Raymond Gunning het Agrichicks bedryf. Later vind hy hom by Henwill Chickens se besigheid. Navrae by die eisers het aan die lig gebring dat die verweerder verkies het dat Gunning daar teenwoordig moes wees. 0livier getuig dat hy bekommerd was daaroor dat die voortsetting van die besigheid moontlik sy kliënt en ander skuldeisers kon benadeel. By 'n vergadering waar Gunning ook teenwoordig was sê hy was Gunning baie wydsprakig en het hy gesê dat hy oor twee maande 'n winsgewende besigheid van Henwill Chickens sou maak. Dit het egter nooit plaasgevind nie.


Na die beswaar van 8 Junie 2001 aan die Meester van die Hooggeregshof en nadat 0livier die nodige versekerings van die verweerder ontvang het, het hy sy beswaar teruggetrek.


Nadat 0livier afgestaan het om sy getuienis in hoof te finaliseer het hy bepaal dat hy op 31 Mei 2000 aan sy kliënt Noordwes Koöperasie Bpk 'n skrywe gerig het. Daarin het hy verwys na die vergadering met die verweerder. Die samesprekings het plaasgevind op 6 Junie 2000 waartydens Malan die vrywaring bevestig het en nie in Mei 2000 nie.


0livier was verwys na 'n sogenaamde bywoningsregister van 'n vergadering wat op 9 Maart 2000 by die verweerder plaasgevind het. 0livier was ook daar teenwoordig. 0livier sê dat Parker met die verweerder wou praat en daarom is 'n vergadering deur Parker gereël vir 9 Maart 2000. 0livier het op daardie stadium nie vir Parker verteenwoordig nie maar wel sy gemelde twee kliënte. Volgens 0livier was die doel van die samesprekings om te kyk of die maatskappye nie uit likwidasie gekry kon word nie. Vir daardie doel wou Parker oorbruggingsfinansiering by die verweerder hê. Hy is van mening dat 'n bedrag van nagenoeg R7 miljoen genoem was.


0livier getuig ook dat een van die verweerder se verteenwoordigers tydens hierdie vergadering aan Parker gemeld het dat die argument van 'n duisend werknemers wat hulle werk sou verloor nie gewig dra nie want die verweerder tree op net soos enige ander ekonomiese entiteit en sodanige faktore word nie in aanmerking geneem nie.


Dit het uit 0livier se kruisondervraging geblyk dat op 5 Maart 2000 sake kritiek was vir die Henwill Chickens boerdery en dat hy met Noordwes Voere gereël het dat voer verskaf sou word. Hierdie optrede van 0livier en Noordwes Voere was skynbaar bloot 'n menslikheidsgebaar om die hoenders aan die lewe te hou.


0livier het die indruk gehad dat teen ongeveer middel Maart 2000 die verweerder nog oortuig moes word om met die voer van die hoenders voort te gaan. Daardie inligting sou hy net van die eisers kon kry.


0livier sê dat 'n vergadering op 6 Junie 2000 plaasgevind het waar verskeie aspekte bespreek is soos onder andere die insameling van die mielie oes en die voortsetting van die hoenderboerdery. Hy bevestig weer eens dat Noordwes Koöperasie Bpk 'n notariële verband oor die roerende goed van die maatskappye in likwidasie gehad het en as die hoenderbedryf teen 'n verlies voortgesit sou word dan sal dit die opbrengs van die roerende bates affekteer. Daarom sê 0livier het hy vir Malan gevra of die hoenderbesigheid nie gestaak moet word nie. Malan se reaksie was dat dit ten alle koste voortgesit moet word sodat die hele besigheid as 'n lopende saak verkoop kan word. 0livier het Malan gevra oor wat van skulde en verliese van die hoenderboerdery en Malan het weer eens bevestig dat die verweerder instaan vir die skulde en verliese van die maatskappye in likwidasie. 0livier sê ook dat hy nie bekommerd was oor enige tydperk wat die verweerder die verliese sou finansier nie aangesien hy deurentyd die mening gehuldig het dat die besigheid nooit as 'n lopende saak verkoop sou kon word nie. Volgens hom sou dit nutteloos wees om voortdurend dag oud kuikens in die sisteem in te voer en dan steeds agteruit te boer. 0livier se bekommernis was nie die hoenders as sodanig nie maar die koste om die hoenders te voer. As daar verliese sou voorkom kon dit die vrye oorskot affekteer. Daarom was dit vir hom van die uiterste belang om te weet wat gebeur met die koste van die voer. 0livier verwys ook na sy skrywe van 19 Junie 2000 aan Noordwes Koöperasie Bpk waarin hy onder andere daarop wys dat hy verstaan dat die verweerder aangedring het dat die eisers met behulp van die geregtelike bestuurders van Agrichicks die hoenderbedryf van Henwill Chickens vir 'n tydperk van drie maande voortsit. Die verweerder sou die finansiering vir daardie tydperk doen.


Dit is uitdruklik aan 0livier gestel dat Malan sal ontken dat hy teenoor 0livier aangedui het dat die verweerder sou instaan vir verliese. 0livier het daardie stelling ontken.


Dit was verder aan 0livier gestel dat Malan sal sê dat die besigheid wel behoue moes bly weens aanbiedinge wat van voornemende kopers gekom het en dat die saak as 'n lopende saak verkoop moes word. 0livier se standpunt was dat die verweerder, soos hy van Malan verstaan het, se standpunt was dat die hele ketting van die bedryf verkoop moes word as 'n lopende saak, dit wil sê vandat die hoenders die eiers lê, dit uitgebroei word en die dag oud kuikens grootgemaak en uiteindelik geslag en verkoop word. 0livier het gesê dat die besigheid nie opgebreek kon word nie.


0livier sê dat by hierdie vergadering Gunning ook die standpunt ingeneem het dat die besigheid baie kort nadat hy dit oorgeneem het in 'n winsgewende besigheid omgeskakel kon word. Volgens Gunning sou die hoenderbesigheid homself dus kon dra.


Met verwysing na die sogenaamde notule van die vergadering van 19 Junie 2001 wat vervat is in Eloff se brief van 21 Junie 2001 sê 0livier dat dit nou een jaar en twee maande na die likwidasie was. Volgens hom gaan die boerdery steeds agteruit maar die verweerder dring daarop aan dat dit as 'n lopende saak verkoop moes word. Steeds was 0livier daarmee tevrede alhoewel die bates in gevaar is omdat volgens hom die verweerder moet betaal. Toe aan 0livier gestel is dat Malan sou ontken dat die verweerder sou instaan vir die koste het 0livier by sy standpunt gehou.


0livier is daarop gewys dat hy nooit aan die verweerder skriftelik bevestig het dat Malan so 'n stelling aan hom gemaak het nie. 0livier sê dat as skuldeisers in 'n groot boedel onderling met mekaar sou begin korrespondeer en verskillende ondernemings en standpunte bevestig dit 'n chaotiese toestand sou afgee. 0livier was tevrede toe Malan sê die verweerder staan in vir verliese aangesien hy dit 'n jaar tevore ook aan 0livier gesê het.


Die verslag van die eisers met die oog op die tweede vergadering van skuldeisers is aan 0livier getoon en in besonder paragraaf 4.2.2 daarvan wat soos volg lui:

"The joint liquidators are trading with the assets of the company in liquidation on instruction of the major creditor, Landbank. The Landbank has indemnified joint liquidators for any trading losses."


0livier sê dat dit strook met wat hy van Malan af verneem het.


Mnr Theunis Johannes Hermanus Potgieter is die tweede eiser in hierdie saak. Hy praktiseer as likwidateur sedert 1982. Hy is ook 'n gekwalifiseerde prokureur sedert Februarie 1989. Die maatskappye waaroor dit gaan was gedurende Maart 2000 gelikwideer. Daar was vier likwidateurs aangestel waarvan een intussen bedank het. Daar is gevolglik drie likwidateurs.


Mnr Torre, die eerste eiser, was eerste aangestel. Nadat Potgieter aangestel is het Torre hom geskakel en gesê dat hulle na die verweerder moes gaan aangesien die verweerder die grootste skuldeiser was. 0p daardie stadium het die hoenders se voer opgeraak en het hulle kanabalisties begin optree.


By hierdie vergadering was mnr Masilela en mnr Ayer van die verweerder. Die nood van die boerdery was bespreek. Die verweerder se amptenare het bevestig dat hulle die grootste skuldeiser is en hulle kon nie bekostig dat Henwill Chickens gesluit word nie. Die rede was dat daar ongeveer een duisend werknemers was. Dit kon nie toegelaat word dat hulle werkloos word nie. Tesame met die gesinne en persone wat vir onderhoud afhanklik is van hierdie werknemers maak dit 'n totaal van ongeveer twintig duisend mense wat geraak sou word. Daar was ook gesê dat die besigheid as 'n lopende saak hanteer moes word sodat dit later bemark kon word en daar sou ook gepoog word om dit in die hande van 'n swart bemagtigingsgroep te kry.


Volgens Potgieter was daar opdrag aan hom en Torre gegee om voort te gaan met die boerdery. Die hoenders moes kos kry. Daarom het die verweerder gesê dat hulle sal instaan vir alle tekorte sodat Henwill Chickens as lopende saak bedryf kon word. Dit is ook gesê dat met hierdie besigheid voortgegaan moes word totdat dit verkoop word of totdat die verweerder sê dat daar nie meer voortgegaan moet word met die boerdery bedrywighede nie en alles verkoop moet word. In opdrag van die verweerder het die eisers dan voortgegaan met die bedryf van die besigheid.


Torre het begrotings uitgewerk om aan te dui wat dit sou kos om met die boerdery voort te gaan. Potgieter het nie deel daarin gehad nie. Daar was betalings deur die verweerder gemaak. Potgieter verwys in hierdie verband na 'n tjek van R550 000,00. Saam met die tjek het hy 'n dekblad gekry gedateer 31 Maart 2000 wat 'n aanvraag van 'n tjek ondersteun vir R550 000,00 en die doel daarvoor is aangedui as: "operating expenses for the above insolvent estate". Dit word dan aangevra vir D W Parker Chicken Farms (Pty) Ltd in likwidasie. Mnr Ayer het die tjek aan Potgieter gegee en volgens Potgieter het mnr Thoms dit geneem om geteken te word. Hierdie betaling was volgens Potgieter deel van die verpligting van die verweerder vir die onderneming wat reeds gegee is. Hierdie tjek is nie ontvang op 'n dag wat 'n vergadering gehou is nie.


Potgieter verwys in sy getuienis na 'n notule van 'n vergadering gedateer 31 Maart 2000. Daarvolgens word genotuleer dat daar gereelde vergaderings gehou sal word tussen die verweerder en die eisers om enige kommunikasieprobleme te voorkom. Intussen moet mnr Ayer geraadpleeg word oor regsaspekte en mnr Malan oor tegniese aangeleenthede. Torre sal die hoof kontakpersoon tussen die eisers en die verweerder wees.


In die notule word ook verwys na aanbiedinge wat vir die besigheid ontvang is asook die aankoop van "breeding stock" vir 'n bedrag van nagenoeg R290 000,00 om die besigheid voort te sit.


Tydens hierdie vergadering word daar ook verwys na die moontlike verkoop van dele van die besigheid aan werknemers van Henwill Chickens. Die naam van die premier van die Noordwes provinsie en die Khula Trust word in hierdie verband genoem.


Potgieter getuig ook oor 'n vergadering tussen beamptes van die verweerder en die eisers gehou op 11 April 2000. Daarin word bevestig dat "breeding stock" aangekoop is. Daar word ook verwys na aanbiedinge vir die besigheid wat oorweeg word. Dit word aangestip dat die verweerder alle aanbiedinge wil oorweeg en die besigheid so gou moontlik wil verkoop. Dit is egter ook bevestig dat die besigheid nie gestaak sou word nie aangesien dit meer lonend verkoop sou word as 'n lopende besigheid.


Dit was deurentyd die getuienis van Potgieter en Torre dat hulle op 'n deurlopende basis die verweerder ingelig gehou het van die verloop van sake om sodoende telkens van die verweerder te verneem of hulle wou voortgaan met die besigheid al dan nie. Dit blyk duidelik uit hierdie notule. Terselfdertyd wou die verweerder weet wat dit alles sou benodig om die besigheid in 'n winsgewende besigheid om te skakel.


Dit blyk ook dat bespreking gevoer is om mnr Gunning te betrek as kundige om die besigheid te bedryf.


Dit blyk ook dat Torre verdere begrotings voorberei en aan die verweerder voorgelê het.


Potgieter getuig ook oor die vergadering van 4 Mei 2000. Dit word bevestig dat Gunning betrek is en dat hy 'n waardebepaling sou doen en die verweerder inlig oor wat die stand van sake is. Syfers was voorgelê aangaande sekere verliese maar so vroeg as Mei 2000 was reeds 'n wins voorspel. Na aanleiding van hierdie vergadering het Torre weer betaling van die verweerder geverg.


Volgens Potgieter was Gunning deur die verweerder aangestel.


0p 2 Junie 2000 sê Potgieter was daar 'n betaling van R1 234 152,00. Mnr Malan het die aanvraag gedoen en hy beskryf die rede vir die betaling as "the total trading shortages for March and April ..."


Teen die einde van Mei 2000 sê Potgieter was daar ongelukkigheid aan die kant van die eisers omdat die verweerder nie hulle onderneming gestand gedoen het nie. 0m daardie rede het Torre 'n skrywe aan die verweerder gerig gedateer 21 Mei 2000. In daardie skrywe bevestig hy dat daar 'n bedrag van R550 000,00 betaal is vir verliese vir Maart 2000. Tydens 'n latere vergadering sê hy was daar deur die verweerder onderneem om 'n verdere betaling te maak. Dit blyk egter dat die eisers probleme het om slegs vir kort periodes geld van die verweerder te ontvang. Daarom wil die eisers gelde vooruit van die verweerder hê. In paragraaf 8 van die brief skryf Torre soos volg: "The Landbank must be prepared to make a decision to trade (as specified above) or close the business." Dit is aanduidend dat die finale besluit om voort te gaan of besigheid te staak by die verweerder sou berus. Die uiteindelike oplossing vir hierdie probleem, sê Potgieter, was dat mnr Ngcobo, die likwidateur wat deur die verweerder ondersteun was, aangestel is om die dag tot dag aktiwiteite van die boerdery te hanteer en dat daar ook 'n bestuurspan onder leiding van mnr Gunning aangestel was om die besigheid te hanteer. 'n Aksieplan was ook opgestel.


Potgieter sê ook dat die verweerder opgetree het asof die besigheid aan hulle behoort. Hy sê dat hy by geleenthede sy humeur met van die verweerder se amptenare verloor het omdat hulle bloot instruksies gegee het wat hy as likwidateur moes uitvoer. Hy het per geleentheid aan die verweerder gevra hoekom hulle nie bloot eenvoudig die besigheid inkoop en as hulle eie hanteer nie.


Potgieter het ook verwys na die notule van 'n vergadering van 29 Mei 2000 waar hy nie teenwoordig was nie. In die notule word onder andere verwys na 'n rekenaarprogram en die feit dat die afwesigheid daarvan probleme vir die verweerder veroorsaak. Dit word soos volg verwoord:


"The unavailability of the system is of concern to the bank especially bearing in mind the interests of the Landbank as the sole financier in keeping the operation running."


Potgieter bevestig ook dat daar verskeie aanbiedinge vir die Henwill Chickens boerdery was. So is onder andere oor die "trading period" gerapporteer tydens 'n vergadering waar Malan ook teenwoordig was:


"Henwill will be kept trading until a conclusion successful purchase transaction. An offer will be received during the first week of August which will be tabled. Bankies advised the management of Henwill to carry on with trading and marketing of produce until an acceptable offer is received."


Potgieter het ook verwys na mnr Rothbart wat opgetree het as die verweerder se prokureur maar op instruksie van Malan die eisers behulpsaam was in die beantwoording van besware wat deur mnr 0livier namens sy kliënte geopper is en waarna reeds tevore verwys is. Hierdie beswaar het gehandel met 'n tekort op die handelsrekening wat na die vrye oorskotrekening oorgedra is. Rothbart se antwoord namens die likwidateurs was soos voorheen reeds gemeld "This shortfall is carried forward to the next account. It will either be wiped out by further trading profits or will be recovered in terms of the Landbank's blanket undertaking. This will ultimately be resolved in a final account or in an account after trading has ceased."


Potgieter getuig verder oor 'n geleentheid, skynbaar 12 Desember 2001, wat hy, Malan, Ngcobo en 'n sekere Richards by die verweerder se hoofkantoor in Pretoria was. Dit was net voor Potgieter met vakansie sou gaan. Malan het Potgieter meegedeel dat Richards aangestel sou word as algemene bestuurder van Henwill Chickens. Richards is skynbaar 'n kenner op die gebied van hoenderboerdery. Malan se mededeling aan Potgieter en Ngcobo was dat Richards onmiddellik sou oorneem. Daardie versekering was van Malan verkry en het Potgieter gesê dat hy gevolglik met vakansie gaan. Malan se mededeling was dat hy namens die verweerder vir Richards sou aanstel. Na afloop van die vakansie is gevind dat Richards nie die hoenderboerdery oorgeneem het nie. Die aanvanklike gedagte was skynbaar om Richards vir 'n jaar lank aan te stel as bestuurder. 0nderliggend hieraan was dat die verweerder oorweeg het om die hoenderbesigheid self in te koop en dit self te bedryf totdat dit weer verkoop sou word. Daar was skynbaar ook gedagte aan geskenk om in terme van artikel 311 van die Maatskappyewet 'n kompromie aan skuldeisers voor te lê.


In sy getuienis het Potgieter verwys na 'n verslag wat voorkom in bundel 1, p12ev van die dokumentasie. Dit is 'n verslag wat ongedateer is en die outeur daarvan word nie aangedui nie. Potgieter sê dat hy teenwoordig was by 'n ondervraging by die Meesterskantoor aangaande die likwidasie van die Parker groep van maatskappye en Malan het daar gesê dat hy die outeur van hierdie memorandum was. 0nder die opskrif "objective" lui die verslag soos volg:

"The bank has committed itself in so far as to keep the total Henwill operations functionable the past eighteen months due to several reasons:

• plus minus 1 800 workers affecting 20 000 livelihoods in the North West province

• impacting on social economical factors in the North West

• also in liquidation in the North West Agrichicks

• broiler industry turned around

the bank's black empowerment strategy for Henwill includes

- large shareholding by black empowerment parties

- share incentive structure whereby 5% of the company shareholding will be made available to staff to the company who is mainly represented by black people

- outsourcing or rearing farms for broiler production to black farmers of the North West

- empowerment marketing strategy."


Potgieter bevestig dat die afgelope agtien maande juis die tydperk Maart 2000 tot September 2001 is. Dit wil sê na September 2001 word aan die verweerder gerapporteer dat die verweerder deurentyd die boerdery aan die gang gehou het met die doeleindes daarin uiteengesit wat deurentyd aan die eisers bekend was en aan hulle voorgehou was as die redes waarom met 'n lopende saak voortgegaan moes word.


Potgieter sê dat gedurende 2002 wanneer gevra was vir betaling van handelsverliese die eisers telkens daarop gewys was dat daar kopers was wat belanggestel het om die besigheid te koop. 0p 'n stadium het die verweerder hulle prokureur opdrag gegee om 'n kontrak op te stel sodat hulle self die besigheid sou inkoop. Dit blyk dan ook reeds uit die memorandum wat Malan opgestel het na September 2001 waar hy oplossings aan die hand doen vir die probleem met Henwill Chickens.


Malan het op 16 Mei 2000 aan Totsie Memela, die waarnemende bestuurder van die verweerder, 'n memorandum gerig waarin duidelik bevestig is dat tydens die eerste vergaderings met die eisers die verweerder besluit het dat dit in belang van die verweerder sou wees om met die voortsetting van die Henwill Chickens besigheid voort te gaan.


Soos later sal blyk uit die getuienis van Masilela het hy 'n handgeskrewe nota aan die einde van die memorandum bygevoeg wat lees: "The recommendations from the liquidators is that we bring the operations of the company into full production thereby reducing the amount of money required from the Landbank. The prospects of selling the company at a decent price are better if it is a going concern." Dit blyk ook dat die Noordwes regering sekere mededelings aan die verweerder gemaak het oor die samesmelting van die Henwill Chickens boerdery en dié van Agrichicks.


Potgieter het ook verwys na die tweede likwidasie en distribusie rekening wat ter insae gelê het by die Meester van die Hooggeregshof en goedgekeur is. Daarin word onder andere verwys na "shortfall guaranteed by Landbank R22 037 473,37". Potgieter sê daar was geen beswaar teen daardie rekening ingedien nie. 'n Latere poging van die verweerder om die goedkeuring van die rekening te heropen was onsuksesvol.


0p 'n stadium het Epol aangedring dat die verweerder hulle rekening betaal. Dit het aanleiding gegee tot 'n skrywe deur die verweerder se prokureur gedateer 11 April 2002 aan Epol se prokureurs waarin onder andere gesê is:


"There is certainly no need nor call to seek high court intervention. In fact that course may well prove, with respect, to be adverse to the relationships which presently prevail and which will be enhanced by the fact that the Land and Agricultural Bank (the Landbank) has committed itself to the purchase of Henwill Chickens and that the effective date of that transaction is expected to be 1 May 2002. As can readily be seen from the aforegoing, your client is at absolutely no risk with respect to its claims and our client seek only a short indulgence during which the sale will be implemented and substantial payments will be effected on account."


Epol het uiteindelik vonnis teen die eisers verkry.


Uiteindelik het die eisers op 30 Mei 2002 gesamentlik 'n skrywe aan die verweerder gerig waarin gesê is dat indien die tekort in handelsverliese nie betaal sou word nie voortgegaan sou word om die besigheid tot 'n einde te bring en die bates te verkoop. In reaksie hierop skryf nuwe prokureurs van Landbank op 3 Junie 2002 aan die likwidateurs en word hulle met regstappe gedreig indien die besigheid van Henwill Chickens gestaak sou word omdat, so word dit gestel, "the major creditor cannot and will not consent thereto".


Potgieter het ook verwys na 'n aanbod om te verkoop op 'n briefhoof van die verweerder. Dit lui onder andere:

"The Land and Agricultural Bank of South Africa foreclose of the Henwill Chicken group (Incorporated Transvaal Chicks) (the 'business') and subsequently took control over it."


Daar word dan 'n aanbod gemaak om die besigheid te verkoop vir R60 miljoen. Potgieter se houding is dat die verweerder de facto in beheer van die Henwill Chickens besigheid was. Selfs die verweerder wou die besigheid inkoop.


Tydens Potgieter se kruisverhoor was veel klem gelê op die datum van die betrokke vergadering. Van belang is dat Potgieter sê dat hy nie by die eerste vergadering wat Torre met die verweerder gehad het teenwoordig was nie omdat hy nog nie 'n aanstelling gehad het nie. Die ander mede-likwidateurs was teenwoordig alhoewel hulle nog nie 'n aanstelling gehad nie.


0or die sogenaamde vrywaring of "indemnity" sê Potgieter dat hy nie die presiese terme wat gebruik is kan onthou nie. Wat wel van belang is, is dat tydens die vergadering gesê is dat die besigheid moet voortgaan as 'n lopende saak aangesien dit so oorgedra moes word aan 'n swart bemagtigingsgroep en dat die verweerder sal instaan as daar tekorte is. Daar was nie 'n tydsbeperking aan die eisers gestel om met die besigheid voort te gaan nie.


Volgens Potgieter sou diefstal ook ingesluit wees in handelstekorte. Hy sê as 'n mens nie handel dryf nie kan daar nie diefstal wees nie. Die wyse om 'n handelstekort te bepaal is om 'n gewone standaard boekhou inskrywing te maak.


Potgieter was in besonder gekonfronteer met 'n skrywe van die verweerder aan die likwidateurs gedateer 16 Maart 2000, waarna reeds verwys is en waarin die likwidateurs meegedeel is dat die Landbank ingestem het "to cover the trading costs from 16/03/2000 to 16/04/2000". Die koste was ook beperk tot 'n maksimum van R556 319,00 wat 6% likwidateurskommissie uitgesluit het. Potgieter was meegedeel dat hierdie skrywe aanduidend is dat daar net vir 'n beperkte tyd 'n beperkte bedrag betaal sou word. Potgieter sê dat hierdie bedrag bloot op 'n begroting vir 'n besondere tydperk goedgekeur was maar dat die onderneming van vrywaring nie so beperk was nie.


Aan Potgieter was gestel dat hy onseker is by welke vergadering die sogenaamde vrywaring gegee is. Hy was verwys na 'n vorige beëdigde verklaring wat hy gemaak het en na die pleitstukke wat gewysig is. Dit is aan hom gestel dat hy verskillende persone by die vergadering plaas en later sê dat hulle nie daar was nie. Dit is so dat Potgieter nie heeltemal duidelik was oor die presiese datum van die vergadering nie. Hy sê daar was baie vergaderings gehou. Wat vasstaan is dat die eisers die grootste skuldeiser geraadpleeg het oor wat om te doen. Daar was 'n opdrag gegee en 'n onderneming gegee. Daarna het die eisers voortgegaan om die besigheid te bedryf tot hulle dit eenvoudig net nie meer verder kon doen nie. Dit is so dat daar telkens vir die verweerder gevra is of hulle wil voortgaan en of hulle wil stop.


0nder kruisverhoor bevestig Potgieter ook dat dit te alle tye die verweerder se keuse was om met die besigheid voort te gaan of om die eisers opdrag te gee om dit tot 'n einde te bring. Begrotings was maandeliks opgestel en aan die verweerder voorgelê aangesien Malan gesê het dat hy wil sien wat die wins is indien daar wins is of wat die verlies is. In ieder geval het die begrotings net 'n potensiële wins of verlies aangedui.


Mnr Philip Giovanni Torre is die eerste eiser. Ek is nie van voorneme om sy getuienis in detail te bespreek nie. Hy het met talle van die dokumente waarmee Potgieter gehandel het ook gehandel. Torre was aangestel voor enige van die ander mede-likwidateurs. Inderdaad was hy op 'n dringende basis aangestel en het hy gevolglik voor enige ander van die likwidateurs reeds met die aangeleentheid begin handel.


Die maatskappye is op 3 Maart 2000 gelikwideer. 0p 4 Maart 2000 is Torre deur die Meesterskantoor geskakel en gesê dat hy dringend as likwidateur aangestel is. Dit was op 'n Saterdag. Torre het geweet dat 'n lopende saak betrokke is en daarom het hy dadelik beheer van die bates oorgeneem. 0p Sondag 5 Maart 2000 het Torre reeds gaan ondersoek instel na die bedrywighede van die hoenderboerdery. Torre het geweet wie die skuldeisers en die direkteure van die maatskappye was. Hy het ook geweet dat die verweerder die grootste skuldeiser was. Hy het die inligting reeds gekry op die Sondag te Lichtenburg.


0p 8 Maart 2000 het Torre 'n kontantvloeistaat aan die verweerder beskikbaar gestel wat met behulp van Jan Kriel, wat die finansiële bestuurder van die Henwill Chickens boerdery was, opgestel is. Hierdie kontantvloeistaat is aan mnr Masilela gestuur. Waarom kan Torre nie sê nie maar sy naam was genoem en daarom het hy dit aan hom gestuur. 0p 9 Maart 2000 was 'n vergadering gehou. 'n Lys van die persone wat teenwoordig was se name verskyn in die dokumente. Dit was onder andere mnre Ayer, Mamphoke, Masilela, Malan en Thoms, almal van die verweerder, asook mnre Manders van Noordwes Koöperasie Bpk en Lombard van Noordwes Voere, tesame met hulle prokureur mnr 0livier. Mnre Torre, Eloff, Ntsweni, Kaplan en Ngcobo van die eisers was daar gewees. 0ok was daar verteenwoordigers van die 0ntwikkelingsbank van Suid Afrika. Die vergadering was gereël deur die 0ntwikkelingsbank. Die doel van die vergadering volgens Torre was om te kyk of mnr Parker nie addisionele fondse kon bekom by die verweerder om met die besigheid voort te gaan nie. Daar was volgens Torre geen besluite geneem oor die voortsetting van die besigheid nie en ook nie of Parker gehelp sou word nie. Daar was verdere vergaderings en telefoniese gesprekke met die verweerder gevoer. 0p 10 Maart 2000 skryf Torre aan alle bekende skuldeisers oor die voorlopige bate en laste posisie van die maatskappye in likwidasie. 'n Afskrif daarvan word ook op 13 Maart aan Masilela van die verweerder gestuur.


Torre getuig dat nadat hy aanvanklik 'n kontantvloei aan Masilela beskikbaar gestel het, hy versoek was om dit te heroorweeg. Dit het hy gedoen en op 'n briefhoof van Henwill Chickens gedateer 14 Maart 2000 het hy 'n hersiene kontantvloei aan Masilela beskikbaar gestel. Waar die eerste kontantvloei van 8 Maart 2000 verwys het na maandelikse verliese, toon hierdie hersiene kontantvloeistaat dit nie as 'n maandelikse verlies nie. In Torre se eie handskrif het hy onderaan die kontantvloeistaat aangedui dat die tekort nie die 6% likwidateurskommissie op omset insluit nie. Die rede daarvoor was omdat dit bloot 'n begroting aan die verweerder verteenwoordig het. Hierdie begroting is by die verweerder se kantore bespreek. Masilela het 'n vergadering gereël om dit te doen. Volgens Torre was hierdie vergadering tussen 14 en 16 Maart 2000. Hy en Potgieter het die vergadering bygewoon namens die eisers. Ayer en Masilela het die verweerder verteenwoordig. Mnr Dorian Parker was vir 'n klein rukkie daar. Torre het vir Parker gevra om teenwoordig te wees asook vir Potgieter.


Torre sê dat by hierdie vergadering Masilela gesê het dat die verweerder onder druk was van die Noordwes regering om aan te gaan met die handelsbedryf van die hoenderplaas. Hierdie was skynbaar 'n goeie geleentheid om swart bemagtiging toe te pas. Daar was nagenoeg duisend werknemers in diens en werkloosheid sou 'n groot impak op die Noordwes provinsie hê indien die werkers afgedank sou word. Daar is toe aan die twee eisers gesê dat hulle moet voortgaan met die bedryf van die hoenderplaas en dat hulle vergoed sal word vir die handelstekort wat daar mag wees. Die verweerder sou die eisers vir enige tekort vergoed.


Na aanleiding van daardie vergadering het Masilela op 16 Maart 2000 aan die eisers geskryf en bevestig dat daar deur die verweerder ingestaan sou word vir die handelstekort gedurende die periode 16 Maart 2000 tot 16 April 2000 in die bedrag van R556 319,00. Dit is die syfer wat voorkom op Torre se hersiene kontantvloei staat. Torre bevestig dat nie net alleen was die handelstekort by die vergadering bespreek nie maar ook die vraagstuk oor die eisers se kommissie. Ek het reeds tevore verwys na Malan se verslag waarin hy na September 2001 sekere oplossings vir die probleem met die hoenderboerdery aan die hand doen. Die eisers se fooie van 6% op omset word uitdruklik in hierdie verslag gemeld en beveel Malan aan dat indien daar óf 'n aanbod tot kompromie gemaak word óf indien die verweerder die besigheid inkoop een van die items wat bespaar sou word die eisers se loon sou wees. Hy verwys ook na ander aspekte wat gespaar sou word maar wat nie nodig is om nou mee te handel nie.


Torre het ook gehandel met die wysiging wat tot die eisers se besonderhede van vordering aangebring is. Hy sê dat toe instruksies aanvanklik gegee is en ook nadere besonderhede verskaf was hy verantwoordelik was vir die inligting. Hy sê dat hy kort voordat hy getuig het weer deeglik na die verskillende dokumente en sy lêers gekyk het en toe agtergekom het dat hy twee vergaderings met mekaar verwar het. Hy sê daar was talle vergaderings gehou gewees. Die vergadering van 9 Maart 2000 het gevolg op sy eerste kontantvloeistaat van 8 Maart 2000. 0p 14 Maart 2000 het hy weer 'n hersiene begroting aan Masilela gestuur. Daarna volg 'n verdere vergadering. Dit was op hierdie verdere vergadering waar Potgieter ook was wat die instruksie en die onderneming van die verweerder verkry was. Die aanvanklike verwarring is volgens Torre tussen hierdie twee vergaderings. 0p 17 Maart 2000 het Torre dan aan sy mede-likwidateurs geskryf en Masilela se brief van 16 Maart 2000 aangeheg en gesê dat die verweerder toestemming gegee het dat handel gedryf kan word en dat daar gevrywaar word tot 'n maksimum koste van R556 319,00.


Torre sê dat hy op 23 Maart 2000 aan Malan 'n skrywe gerig het en gevra dat daar vars teelmateriaal aangekoop moet word om die hoenderbesigheid op 'n meer winsgewende vlak te plaas. Dit sê hy is gedoen omdat die besigheid as 'n lopende saak bedryf moes word en nie omdat die verweerder die eisers sou vrywaar bloot vir die periode 16 Maart tot 16 April 2000 nie. Hierdie nuwe voorraad wat as kroon hoenders beskryf word was om die produksie te verhoog en so 'n aankoop sou onsinnig wees indien die verweerder net vir een maand sou instaan vir handelstekorte.


Die getuienis van Torre pas dan ook in by dié van Potgieter waar bevestig is dat op 31 Maart 2000 tydens 'n vergadering waar Torre nie was nie maar Potgieter wel, die aankoop van kroon hoenders bespreek was asook die betrokkenheid van die Noordwes provinsie se premier en Khula Trust ten einde swart bemagtiging te vergemaklik.


Dit het uiteindelik geblyk dat die handelstekort vir die Maart/April periode groter was as wat begroot was en het Torre op 7 April 2000 so aan die verweerder berig en addisionele betaling gevra. 0ok van belang in die skrywe van Torre van 7 April 2000 is om die verweerder pertinent te vra oor hulle houding dat daar voortgegaan word met die besigheid. Torre was baie duidelik hieromtrent. Hy het gesê dat hy homself beskou as 'n verantwoordelike likwidateur. Hy het voortdurend aan die verweerder berig wat die finansiële posisie en finansiële verwagtinge van die aktiwiteite is. Dit is duidelik dat Torre nie verwag het dat die verweerder moes instaan vir handelstekorte op 'n onbepaalde basis tot nadeel van die verweerder nie. Dit is duidelik dat Torre se standpunt was dat die verweerder van tyd tot tyd in die lig van dan heersende feite moes besluit of hulle wil voortgaan met hulle finansiering en of die besigheid gestaak moet word. Hierdie versoek aan die verweerder om hulle besluit bekend te maak sê Torre was by elke vergadering bespreek.


Torre was teenwoordig by die vergadering van 11 April 2000. Die notule dra sy bewering uit dat daar besluit moes word of voortgegaan moet word met die besigheid. Telkens was dit in oorweging geneem in die lig van moontlike aanbiedinge of van die tenders wat aangevra sou word vir die aankoop van die besigheid. Torre sê dat daar van tyd tot tyd aanbiedinge vir die besigheid was. So het dit aangehou vir 'n periode van twee jaar en uiteindelik was die verweerder self begerig om die besigheid in te koop. Torre sê dat dit gemeensaak was dat die hoenderbesigheid slegs teen 'n goeie prys verkoop sou kon word indien dit as 'n lopende saak verkoop kon word. Hy het die opinie gewaag dat indien die boerdery gestaak sou word dit tussen vier en ses maande sou neem om dit weer aan die gang te kry. Torre sê dat dit twee en veertig dae neem vandat die kuiken uitgebroei word totdat die slaghoender verkoop kan word. Anstey van Epol het ook getuig dat 'n kortstondige eenmalige betaling van uitgawes 'n dwaasheid sou wees en nie sinvolle besigheid sou beteken nie.


Torre bevestig dat hy nie tydens die vergadering wat met Anstey van Epol gehou was teenwoordig was nie. 0p daardie stadium het Parker opgetree as bestuurder van die besigheid. Parker het onder andere gesê dat daar goedkoper voer verkry moet word as van Noordwes Voere. Torre bevestig dat Anstey hom geskakel het na die vergadering en dat hy hom (Anstey) meegedeel het dat die verweerder instaan vir die handelstekorte en dat Epol maar kon lewer. 0p die waarskynlikhede sou Torre bedrog gepleeg het indien hy 'n valse stelling aan Anstey gemaak het.


0p 12 April 2000 het Torre weer eens aan die verweerder geskryf en verwys na die vergadering van 11 April 2000. Dit is nie nodig om al die aspekte wat geopper is te vermeld nie. Waarna wel verwys word is die aankoop van die kroon hoenders. Daar word pertinent aan die verweerder uitgewys dat die gesamentlike likwidateurs van mening is dat die besigheid voortgesit moet word slegs tot op 'n stadium waar die tenders geadverteer is en moontlike kopers oorweeg is. Dit word pertinent gesê dat indien daar nie positiewe resultate daaruit kom nie daar ernstig oorweeg moes word om die besigheid te sluit. Weer eens word verwys na moontlike aanbiedinge.


Torre sê dat hy bekommerd geraak het oor die verliese wat gemaak word in die besigheid en het daarom aan die verweerder die voorstel gemaak dat daar so spoedig moontlik na moontlike kopers gekyk moet word en dat daarna besluit kon word om die besigheid te staak.


Torre sê dat mnr Raymond Gunning teen ongeveer April/Mei 2000 by die boerdery aktiwiteite betrokke geraak het. Die verweerder het hom aangestel. 0p die vergadering van 30 Mei was gestel dat 'n amptelike brief van die verweerder benodig was vir die aanstelling van Gunning. So 'n brief is deur Masilela onderteken onder die opskrif "Letter of instruction to management". Die brief is gerig aan die eisers. Die brief begin ook dan deur te sê: "This letter serves to instruct the joint liquidators that from 1 June 2000 a management team set up by Mr Raymond Gunning will take over the total management of D W Parker Chicken Farms." Dit is Masilela se getuienis gewees dat Malan hierdie brief opgestel het en dat hy dit bloot net onderteken het. Ek sal later wanneer ek met Masilela se getuienis handel wys op die probleme wat Masilela, wat anders 'n welsprekende getuie was, gehad het met die eenvoudige duidelike betekenis van "instruction" of "instruct". By hierdie brief van Masilela gedateer 31 Mei 2000 was 'n plan van aksie aangeheg wat daarop dui dat mnr Richards, waarna reeds verwys is, 'n groot rol sou speel, asook Gunning, en dan in sekere opsigte die likwidateurs. In aansluiting by die aanstelling van Raymond Gunning is 'n memorandum wat Bankies Malan aan Masilela met afskrifte aan Klein en Thoms gestuur het. Daaruit blyk dit dat die bestuurspan onder leiding van Gunning aan die verweerder tussentydse verslae asook geouditeerde state sal stuur. Daar word voorsien dat hierdie bestuurspan van 1 Junie tot 1 September 2000 verantwoordelik sou wees vir die bestuur. Hierdie tydperk is ook nie in ooreenstemming met wat aan die eisers se getuies gestel is naamlik dat die verweerder aanvanklik 'n begroting vir net een maand goedgekeur het en daarna diskresionêr en op 'n ad hoc basis fondse beskikbaar sou stel nie.


0or die aksieplan waarna verwys is het Torre ook weer aan Masilela van die verweerder gerapporteer deur te sê dat hy met Gunning die aksieplan bespreek het soos deur Masilela aangedui.


Gunning se aanstelling het duidelik ook gevolg op 'n standpunt wat deur die verweerder ingeneem is volgens 'n notule van 13 April 2000 waar onder andere gesê is dat die verweerder "cannot continue to inject money into the operation indefinitely. The bank wants to finalise matters without incurring further losses. It was mentioned that Agrichicks had put in a tender and that no offers were forthcoming from it." Gunning sou uiteindelik die verweerder adviseer maar intussen sou die besigheid voortgaan.


Ek het reeds met die notule van 4 Mei 2000 gehandel. Dit blyk dat daar weer eens syfers bespreek is en dat daar 'n wins in vooruitsig gestel is. Daarin word ook bevestig dat die verweerder wil sien waarheen hulle op pad is en dat Gunning hulle daaroor sou adviseer.


Dit blyk ook uit hierdie notule dat 'n bedrag van nagenoeg R1 miljoen benodig was vir handelsverliese. Ek het reeds daarop gewys dat 'n tjek van meer as R1 miljoen inderdaad aan die eisers betaal is vir die handelstekorte. In 'n memorandum van Malan gedateer 16 Mei 2000 word die aangeleentheid behandel en het ek reeds daarna verwys met Masilela se inskripsie in handskrif tot die effek dat die besigheid tot 'n optimum moes funksioneer om die aanvraag van geld vanaf die verweerder te verminder.


In die interne memorandum van Malan word ook verwys na 'n voorstel vir die samesmelting van Agrichicks en Henwill en sodanige voorstel wat aan die Minister van Landbou voorgelê is. Dit is nie duidelik of dit die provinsiale of nasionale Minister van Landbou is nie. Feit is dat hier met regeringsowerhede gewerk word wat volgens die eisers inderdaad druk uitgeoefen het op die verweerder om die besigheid as 'n lopende saak te bedryf vir verskillende doeleindes.


Daar was ook 'n sogenaamde "steering committee" saamgestel. 0p 10 Mei 2000 het hierdie komitee vergader. Daar was verteenwoordigers van die verweerder en die eisers en ander belanghebbendes. Dit is duidelik volgens die notule van daardie vergadering dat ook hierdie komitee 'n tydperk vereis het om alle moontlike oplossings vir Henwill Chickens se probleme te ondersoek. Dit word pertinent ook gestel dat die verweerder uiteindelik nie die besigheid mag tot niet maak nie aangesien die verweerder mag besluit "to continue for an indefinite time. Trading is taking place at the moment and the bank is looking at the various options available to it. From all indications it would appear that from May Henwill could break even or even show a profit. Any proposals that are received are looked at. In short, the bank wants to recover its money in the shortest possible time and without taking a loss."


Die notule van 'n vergadering tussen die verweerder en die eisers van 23 Mei 2000 bevestig die standpunt van die eisers. 0nder andere is gerapporteer dat Masilela die volgende standpunt ingeneem het: "Godfrey Masilela stressed that the continued funding of the operation by the bank depends on the strategy to bring the operation to a break-even point or even to show profits which can enable the bank to bring about the eventual sale of the concern." 0ngelukkig is die notule nie in alle opsigte duidelik nie maar word ook gesê dat die verweerder feite en syfers en vooruitsigte benodig vir die moontlike sukses van die operasie "to be able to motivate the further disbursements of funds. From these reports the Landbank can also take a decision on the continued running or closing of the operation as well as whether to release certain persons from the current management to enable the management of Agrichicks to take over the day to day running."


Uit talle notules blyk dit dat die verweerder begerig was om hulle geld te verhaal. Ten einde dit te doen moes die beste moontlike prys vir die Henwill Chickens boerdery verkry word. Dit kon net gedoen word indien dit as 'n winsgewende lopende saak bedryf word. 0p 13 Junie 2000 lui 'n deel van die notule van 'n vergadering soos volg: "If the Henwill operation gets up and running again it can only be good for the operation and for the bank as it can be marketed and sold better."


Torre was vanaf einde Mei 2000 nie meer so aktief betrokke by die dag tot dag bedrywighede van Henwill Chickens nie. Die verweerder het verkies dat mnr Ngcobo wat hulle ondersteuning gehad het as likwidateur hierdie werk moes oorneem. Torre het nog tekenmagte op tjeks gehad en hy het sekere inligting van tyd tot tyd bekom. Belangrik is ook dat Malan op 1 November 2000 aan die verweerder rapporteer dat sekere veranderinge en verbeterings aan die geboue en toerusting aangebring moes word om die Henwill Chickens boerdery meer winsgewend te maak. So bv is 'n tjek van R649 857,37 aangevra "to maintain the good production at Henwill".


Aan die einde van 2001 het Torre weer aktief betrokke geraak. So berig hy bv op 5 Desember 2001 aan Malan van die verweerder dat sekere prestasie teikens nodig is om Henwill Chickens 'n suksesvolle operasie te maak. Nadat Torre weer betrokke raak bevestig hy dat daar steeds van tyd tot tyd aanbiedinge gemaak was om die besigheid te verkoop. Alhoewel hy nie bewus is van die aanbod om te verkoop gedateer 18 Desember 2001 waarna reeds verwys is nie, sê hy dat dit in ooreenstemming is met wat hy gevind het.


Dit blyk ook dat op 14 April 2002 prokureur Rothbart 'n koopkontrak in konsep opgestel het in terme waarvan die verweerder self die besigheid sou inkoop.


Torre sê dat uiteindelik daar nie meer voortgegaan kon word met besigheid nie. Epol was haastig vir hulle geld en het stappe geneem teen die eisers. Dreigemente van die eisers om die Henwill Chickens besigheid te staak het aanleiding gegee tot dreigemente deur die verweerder se prokureurs dat dit deur regstappe gestop sou word.


0nder kruisverhoor is dit Torre se standpunt dat hy nie die skuldeisers se toestemming nodig het om handel te dryf nie aangesien die magtiging van die Meester verkry is. Tog sê hy sou dit roekeloos wees vir 'n likwidateur om handel te dryf indien daar nie 'n skuldeiser is wat agter hom staan om enige handelstekort te betaal nie. Torre se houding is ook dat ten spyte daarvan dat die Meester magtiging gegee het om met besigheid voort te gaan dit onverantwoordelik sou wees van 'n likwidateur om dit wel te doen sonder dat 'n skuldeiser dit wil hê en vrywaring gee teen handelstekorte. Dit sou roekeloos wees om sonder vrywaring besigheid voort te sit. Dit is duidelik dat dit nie die besigheid van likwidateurs is om handel te dryf nie maar om insolvente boedels af te handel. Alhoewel dit nie verpligtend op 'n likwidateur is om aan die Meester te berig dat daar 'n skuldeiser is wat vereis dat voortgegaan moet word met besigheid en dat 'n vrywaring verkry is nie word dit tog in die verslag aan skuldeisers gemeld soos ook in casu by die tweede vergadering van skuldeisers gedoen is.


Torre bevestig ook onder kruisverhoor dat hy dit as sy plig beskou het om die verweerder telkens van die verliese in te lig sodat die verweerder 'n oorwoë besluit kon neem om steeds voort te gaan met besigheid. Daarom sê Torre was daar op elke vergadering gevra of die verweerder nog steeds wou voortgaan.


Torre sê dat hy seer sekerlik as likwidateur die verweerder se versoek om met die besigheid voort te gaan kon geïgnoreer het. Hy sê dat die posisie is egter dat indien daar 'n verlies vir die verweerder sou wees omdat die besigheid nie as 'n lopende saak bedryf en verkoop is nie, sou die verweerder moontlik 'n eis teen hom kon gehad het. 'n Lopende saak verkoop vir veel meer as 'n entiteit wat toegemaak is. Verdermeer was hier sogenaamde bederfbare goedere. Torre sê as hy opdrag gehad het om voort te gaan en hy kon nie finansies kry nie sou hy nie kon voortgaan nie en sou hy geen aanspreeklikheid teenoor die verweerder gehad het nie. Hy sou ook nie sonder finansiering aangegaan het nie. Hy het dit slegs gedoen omdat die verweerder gesê het hy moet dit doen en die finansiering voorsien het.


Torre was gekonfronteer met 0livier se getuienis dat by die vergadering van 9 Maart 2000 die verweerder se standpunt was dat hulle nie vir welwillendheid daar is nie en dat die kwessie van plus minus 'n duidend werknemers wat werkloos sou wees vir hulle nie veel beteken het nie. Torre het hiervan verskil. Hy sê dat dit wel bespreek is. Dit blyk ook uit die standpunte wat uit die dokumentasie blyk dat daar 'n bekommernis was oor die werknemers. Uiteindelik het Torre toegegee dat hy nie 0livier se getuienis kan ontken nie en hy ook nie gaan sê dat hy nie die waarheid praat nie. Torre sê ook dat die rede waarom die verweerder voortdurend op hoogte gehou is van die finansiële posisie van die boerdery is omdat die verweerder geld uitlê om die besigheid aan die gang te hou.


Torre het ook onder kruisverhoor getuig dat so vroeg as 24 Maart 2000 Malan self aanbeveel het dat die besigheid as 'n lopende saak moet voortgaan. 0p die betrokke datum in terme van 'n interne memorandum aan die verweerder wat gesirkuleer is aan Klein, Thoms, Masilela, Ayer en Mamphoke sê Malan dat hy die verskillende persele op 22 Maart 2000 besoek het en dat hy sekere aanbevelings maak. So sê hy dat alle nie hoender afdelings wat insluit die mielie oes en veeboerdery verkoop moet word vir ongeveer R5 miljoen. Wat die hoenderboerdery betref moet daar 'n trust gevorm word met die oog op swart bemagtiging en word gesê dat die verweerder saam met Khula, waarna voorheen verwys is, dit moet finansier. Dit sê Torre is aanduidend dat daar deur Malan self van vroeg af aanbeveel is dat die besigheid moet voortgaan. Daar sou tog nie 'n toegemaakte besigheid aan swart bemagtigingspersone oorhandig word nie.


Die tweede verslag aan skuldeisers wat in paragraaf 4.2.2 daarvan bevestig dat die verweerder die gesmaentlike likwidateurs indemnifiseer teen alle handelsverliese, sê Torre was in die lêers gevind wat Malan by hom gehad het tydens die ondervraging by die Meesterskantoor. Hy sê dat dit uit daardie lêers gehaal is toe hulle, dit wil sê die regsverteenwoordigers en Torre, dit nagegaan het. Afskrifte is daarna deur die eisers se regspan gemaak. Torre kon nie self bevestig dat dit aan die verweerder gestuur is nie maar die feit dat dit in Malan se besit is, is vir hom aanduidend dat dit wel aan die verweerder gestuur is.


Aan Torre is gestel dat Masilela se getuienis sal wees dat geen vergadering plaasgevind het tussen 14 en 16 Maart 2000 waartydens 'n vrywaring gegee was soos Torre getuig nie. Dit het Torre ontken. Verder was aan Torre gestel dat daar geen vergadering tussen 14 en 16 Maart 2000 plaasgevind het waar Ayer teenwoordig was nie. Dit is ook ontken.


Hierdie getuienis het die saak vir die eisers afgesluit.


Die eerste getuie namens die verweerder was mnr Christopher John Brand, die verweerder se opdraggewende prokureur. Hy het bundel 5 voor die hof geplaas. Hy is die prokureur van die verweerder vanaf die begin van Junie 2002. Hy het betrokke geraak oor die huidige dispuut tussen die partye. Brand getuig dat 'n groot volume dokumente aan hom voorgelê is wat hy oor 'n naweek gesorteer en nagegaan het. Met die nagaan het hy onder andere gevind dat daar nie 'n memorandum aan skuldeisers met die oog op die tweede skuldeisersvergadering was nie. Dit het hy op 3 Julie 2002 op skrif gestel aan die eisers se destydse prokureurs van rekord. Geen antwoord was op hierdie brief gekry nie. 'n Identiese versoek was ook gerig aan mnr Eloff wat van die eisers behulpsaam was. Eloff het gereageer op 5 Julie 2002 en 'n afskrif van die verslag aan Brand gestuur. Later was Malan gedagvaar om getuienis af te lê by 'n ondersoek. Vir daardie doel was twee bundels dokumente voorberei. Dit is uit hierdie bundels wat die verslag deur die eisers bekom is. Tydens kruisverhoor het 'n debat ontstaan tussen advokaat Cilliers SC en mnr Brand oor wat Malan sou gesê het oor waar hy die dokument gekry het. Dit is nie nodig dat ek hierdie dispuut tussen die regsverteenwoordigers probeer oplos nie.


Mnr Koveshan Ayer het ook namens die verweerder getuig. Die getuienis van mnr Ayer is insiggewend. Volgens hom was hy te alle relevante tye die "senior specialist legal recoveries and budget" by die verweerder. Hy is die persoon wat namens die verweerder alle regsaspekte met die eisers moes hanteer. Uit die notule van die vergadering van 31 Maart 2000 blyk dit ook dat die eisers met Ayer en Malan geskakel het oor aangeleenthede. Nogtans is Ayer se getuienis dat hy niks kan onthou van enige van die gebeure nie. Tog gee Ayer toe dat dit moontlik is dat daar wel 'n vergadering plaasgevind het tussen homself, Masilela, Torre en Potgieter gedurende die tydperk 14 tot 16 Maart 2000. Hy gee verder toe dat indien so 'n vergadering wel plaasgevind het die verweerder 'n onderneming aan die eisers kon gegee het tot die effek dat die verweerder instaan vir alle handelsverliese.


Namens die eisers is die submissie gemaak dat Ayer opsetlik die standpunt ingeneem het dat hy niks kan onthou nie en die hof aldus probeer mislei het. Dit is gedoen op die basis dat dit makliker was om te sê dat hy niks kan onthou nie as om hom in 'n posisie te plaas waar hy op vrae moes antwoord wat die verweerder in die verleentheid kon stel.


Vervolgens het mnr Godfrey Masilela getuig. Dit wil voorkom asof die verweerder Masilela as sy sleutelgetuie beskou.


Mnr Godfrey Masilela was te die relevante tydperk die "general manager of risk and credit" van die verweerder. Volgens die eisers se saak was dit juis mnr Masilela wat tussen 14 en 16 Maart versoek het dat die besigheid van Henwill Chickens voortgesit moet word as 'n lopende saak na likwidasie en dat die verweerder onderneem om vir alle tekorte wat mag ontstaan in die bedryf van die besigheid in te staan.


Masilela getuig oor 'n vergadering wat op 9 Maart 2000 plaasgevind het. Volgens hom was die doel van hierdie vergadering om die likwidateurs wat aangestel was te ontmoet asook alle belanghebbende partye. Hierdie belanghebbende partye was hoofsaaklik skuldeisers. Masilela bevestig ook die getuienis dat mnr Dorian Parker ook by die vergadering teenwoordig was. Parker wou die verweerder oorreed om verdere finansiering beskikbaar te stel ten einde Henwill Chickens uit voorlopige likwidasie te kry. Henwill Chickens was een van die groot werkgewers in die Noordwes provinsie en sou daar baie werksverliese wees in die Lichtenburg en Bronkhorstspruit areas indien die maatskappye finaal gelikwideer sou word. Dit sou sekere sosiale gevolge hê.


Sover Masilela kan onthou wou mnr Parker in die omgewing van R5 miljoen as 'n verdere lening bekom maar die verweerder was nie daarmee gelukkig nie juis vanweë die wyse waarop Parker die besigheid in die verlede bestuur het. Die verweerder was bv nie oortuig daarvan dat die lenings wat wel van tyd tot tyd aan Parker beskikbaar gestel was gebruik was vir die doel waarvoor dit bekom was nie. Parker se maatskappye het ook gereeld agter geraak met die nakoming van hulle verpligtinge.


Masilela het ook verwys na die begroting of kontantvloeistaat wat deur Torre opgestel is op 8 Maart 2000. Dit is later verminder tot R556 319,00. Die rede vir die opstel van hierdie staat het Masilela soos volg beskryf: "The reason for it is that it had been suggested that, you know, that the operations of Henwill, you know, had to be sustained. In order to keep, my lord, in order to keep it as a going concern." Masilela het verduidelik dat indien die produksie-siklus by hoenderboerdery verbreek word dit groot koste en lang tyd sou neem om dit weer op die been te bring.


In getuienis in hoof sê Masilela dat dit 'n sogenaamde "consensus decision" was wat die verweerder bereik het met die eisers om die besigheid van Henwill Chickens aan die gang te hou. Hierdie konsensus besluit was ook daarop gebaseer dat in vooruitsig gestel was dat die verliese van Henwill Chickens in wins omskep kan word in welke geval die verweerder in 'n posisie sou wees om die besigheid as 'n lopende saak te kon verkoop. Steeds in getuienis in hoof getuig Masilela dat hierdie sogenaamde "consensus decision" bereik is in die omgewing van 14 Maart 2000. 0p daardie stadium was die sogenaamde begrotings van die eisers af verkry en het interne bespreking in die bank self plaasgevind oor die vraag of die verweerder geld beskikbaar sou stel aan die eisers om die besigheid in stand te hou. Die fondse sou beskikbaar gestel word om salarisse te betaal en om voer vir die hoenders te bekom.


In getuienis in hoof was Masilela gekonfronteer met Torre en Potgieter se getuienis oor die vergadering wat sou plaasvind in die omgewing van 12, 14 tot 16 Maart 2000 en ontken hy kategories dat daar sodanige vergadering was. 0ok is aan Masilela gestel dat daar getuienis is dat hy sou gesê het dat met die besigheid voortgegaan moes word totdat 'n koper daarvoor verkry is of totdat die verweerder self die besigheid inkoop of totdat die besigheid totaal en finaal gestaak word. Masilela ontken dat hy hoegenaamd sodanige mededeling gemaak het en baseer dit onder andere daarop dat hy sê dat daar geen sodanige vergadering plaasgevind het nie.


In sy verduideliking waarom sodanige onderneming nie gegee sou word nie sê Masilela dat hy in die eerste plek nie 'n mondelinge onderneming sou gegee het nie. Verder sou hy nie 'n "blanko tjek" aan die eisers gegee het sonder dat daar enige verantwoordelikheid op hulle sou rus nie. Verslagdoening was van die uiterste belang. Wat die verweerder wou doen was om so gou moontlik uit die besigheid te onttrek en dit te verkoop aan belangstellende partye en die verweerder se geld terug te kry.


Masilela het male sonder tal aangevoer dat daar geen onbeperkte onderneming gegee sou gewees het nie en dat enige betaling wat wel gemaak was op 'n ad hoc basis in die diskresie van die verweerder gemaak was.


Masilela het ook in sy getuienis in hoof op meerdere geleenthede verwys na berekeninge wat daarop gedui het dat die Henwill Chicken besigheid in die nabye toekoms 'n wins sou maak. 0mdat 'n beter prys vir 'n lopende saak bekom sou word was dit dan ook die verweerder se oogmerk om dit aan die gang te hou vir daardie doel en om dit uiteindelik te kan verkoop. Dit het egter vir Masilela voorgekom asof daar net voortgegaan word met besigheid dryf sonder dat 'n wins gemaak is.


0nder kruisverhoor het Masilela bevestig dat die verweerder die grootste skuldeiser was met 'n vordering van nagenoeg R46 miljoen. Hy het ook bevestig dat dit in belang van die verweerder sou wees indien die besigheid so gou moontlik verkoop kon word. Hy het egter 'n verskil getrek tussen die verkoop as 'n lopende saak en om handel te dryf as 'n lopende saak. Daar was voorsien dat die Henwill Chickens besigheid nie binne 'n dag of twee verkoop sou kon word nie. Masilela was egter bewus daarvan dat daar reeds belanghebbende partye op die toneel was selfs voor die voorlopige likwidasie van die maatskappye.


Masilela was tevrede dat ten einde met die besigheid te kon voortgaan daar werkskapitaal benodig sou wees op 'n redelik deurlopende basis. 0ok is dit Masilela se standpunt dat reg aan die begin na voorlopige likwidasie daar nie deur die verweerder voorsien was dat finansiering op 'n deurlopende basis benodig sou wees nie. Die geld wat wel voorgeskiet is, sê Masilela, was as 'n noodmaatreël gedoen. Geld was dus net op die kort termyn benodig.


By die interne bespreking van die verweerder se amptenare toe besluit is dat dit in belang van die verweerder sou wees om met die besigheid voort te gaan was Masilela self daar asook mnr Adrian Thoms, Bakkies Malan en Venita Klein. Dit was die kern span van die verweerder wat die dag tot dag verantwoordelikhede gedra het. Dit is gevolglik 'n besluit wat, volgens Masilela, deur die bestuur van die verweerder op 'n behoorlike basis geneem was. Dit was dan ook die getuienis van Masilela dat toe die sogenaamde "consensus agreement" tussen die partye bereik was almal teenwoordig geweet het dat fondse benodig sou word om die besigheid van Henwill Chickens voort te sit. Masilela kwalifiseer telkens sy standpunt deur te sê dat daar regverdiging vir verdere fondse moes wees, dat daar verantwoording gedoen moes word oor die aanwending van fondse en dat daar verslag aan die verweerder gedoen moes word.


Dit is duidelik dat Masilela ook besef het dat geen ander skuldeiser behoudens die verweerder bereid sou wees om fondse voor te skiet vir die voortsetting van die besigheid nie. Die verweerder het gevolglik die sleutel gehou wat betref enige voortsetting van die besigheid. Daarom is Masilela se toegewing redelik as hy sê dat indien die verweerder geen verdere fondse wou of sou voorskiet nie die eisers slegs een uitweg sou hê en dit is om die besigheid te staak en te verkoop. In die lig van hierdie standpunte van Masilela moet ook die getuienis van Thoms in aanmerking geneem word waarna ek later sal verwys.


Masilela wou ten alle koste 'n vergadering na die interne vergadering van die verweerder se amptenare ontken. Hy het dan ook uitdruklik gesê dat daar geen sodanige vergadering plaasgevind het nie. Dit sou egter onsinnig gewees het indien die verweerder op 'n interne vergadering besluit om fondse voor te skiet en dit nie oorgedra word aan die eisers nie. Thoms het dan ook gesê dat hy sou verwag dat Masilela die hoofbestuur se besluit moes oordra. Dit strook met die getuienis dat daar tussen 14 en 16 Maart 2000 'n vergadering plaasgevind het waarop die mededeling van hoofbestuur se besluit aan die eisers oorgedra is met die effek dat voortgegaan moet word met besigheid en dat die verweerder dit sou finansier. Uit die aard van die saak moet in gedagte gehou word dat vir sover daar wins gemaak sou word die besigheid homself sou finansier en dra maar wanneer daar 'n verlies sou wees in 'n poging om dit as 'n lopende saak aan die gang te hou en te verkoop, sou die verweerder vir die verliese instaan. Insiggewend in Masilela se ontkenning dat daar na die interne vergadering 'n verdere vergadering plaasgevind het met die eisers spreek dit egter boekdele dat hy nie kan ontken dat Torre en Potgieter saam met hom en Ayer op 'n vergadering was nie. 0ok was Masilela nie bereid om te ontken dat Torre en Potgieter bona fide geglo het dat daar 'n onderneming van die verweerder se kant af was nie.


Die kruisverhoor van Masilela het ook in detail gehandel met Masilela se getuienis dat hy nooit 'n onbeperkte waarborg sou gee waar daar geen aanspreeklikheid of verantwoordelikheid aan die kant van die eisers was nie. So 'n onderneming sê hy was nooit gegee nie. Later in kruisverhoor egter gee Masilela toe dat daar wel 'n onderneming gegee was maar dat dit nie 'n onbeperkte onderneming was nie. Hy gee toe dat daar 'n onderneming gegee was met beperkinge. Hierdie beperkinge was wat hy genoem het "accountability". 0ok sê hy dat dit slegs sou handel met sogenaamde "justified expenses". So gee hy dan toe dat uitgawes wat aan Epol betaal moes word vir voer vir die hoenders binne die beperkinge wat hy gestel het, sou val. Nogtans wil Masilela nie namens die verweerder verantwoordelikheid vat vir Epol se rekening nie en sê hy dat dit is so omdat die onderneming gegee was vir 'n spesifieke periode. Ten einde dit te regverdig verwys hy na die aanvanklike goedkeuring vir die betaling van uitgawes van Maart en April 2000. Hy was egter verplig om toe te gee dat die verweerder ook verantwoordelikheid aanvaar het vir verliese na April 2000. So 'n onderneming, sê Masilela, moes egter van iemand anders in die verweerder gekom het as van homself. In hierdie verband is dit ook insiggewend dat Masilela sê dat hy net tot aan die einde van Mei 2000 by hierdie aangeleentheid betrokke was. Wat daarna gebeur het kan hy nie oor getuig nie. Tot einde Mei 2000 egter stem Masilela saam was daar 'n verstandhouding dat daar wel aan die eisers fondse beskikbaar gestel sou word.


Daar is reeds tevore verwys na Masilela se handgeskrewe nota op die interne Landbank memorandum van 16 Mei 2000 waar hy onder andere geskryf het: "The recommendation from the liquidators is that we bring the operations of the company into full production thereby reducing the amount of money required from the Landbank. The prospects of selling the company at a decent price are better if it is a going concern." Daar volg dan ook 'n verwysing na die begeerte van Noordwes regering om Henwill Chickens en Agrichicks op 'n manier te verenig. Met die verwysing na die volle produksie van Henwill Chickens het Masilela probleme gehad om te antwoord. Die vraag was op welke basis die likwidateurs na die verweerder kon kyk vir fondse om dit in volle produksie te bring en op watter grondslag na die verweerder gekyk kon word vir die verskaffing van fondse. Masilela was geforseer om te antwoord dat dit sou wees indien daar tekorte in die handelsrekening was. 0pvallend is ook dat Masilela juis op hierdie punt gesukkel het om direk op vrae te antwoord en dat hy dikwels nie 'n betrokke vraag reguit kon antwoord nie. So probeer hy ook, toe daar verwys is na tekorte in die handelsrekening, verwys na voorwaardes van prestasies en dies meer. Dit verbaas dan ook nie dat Masilela moes toegee dat indien die verweerder sou wou hê dat die eisers moes voortgaan met die dryf van handel, die verweerder sou instaan vir handelstekorte en dat so voortgegaan sou word totdat die verweerder die eisers uitdruklik versoek om met besigheid te staak.


Daar is reeds tevore verwys na 'n memorandum wat opgestel is deur Malan waarin hy sê dat die verweerder homself verbind het oor die afgelope agtien maande om die Henwill Chickens aktiwiteite aan die gang te hou. Masilela se poging om uit die effek van daardie stelling te kom is verbasend. Eerstens wil hy deur 'n onderneming of sogenaamde "commitment" te kenne gee dat dit slegs skriftelik kan wees in die bankwese. Verder sê hy dat Malan maar net 'n werknemer van die verweerder was. Verder sê Masilela dat daar nie 'n onderneming teenoor enigiemand in besonder was nie. Uiteindelik skuil hy agter die standpunt dat die verweerder 'n onderneming aan homself gegee het. Verder probeer hy die sogenaamde "commitment" interpreteer asof dit 'n onderneming was om bloot net sensitief te wees teenoor werkers en moontlike verlies aan werksgeleenthede en dies meer. Uiteindelik het Masilela 'n probleem gehad met hoe die agtien maande periode bereken moes word maar blyk dit dat dit inderdaad vanaf Maart 2000 tot September 2000 sou wees. Uiteindelik moes Masilela ook toegee dat die hulp wat die verweerder verleen het oor die tydperk, finansiële hulp moes wees om die besigheid aan die gang te hou.


Mnr Adrian Thoms was die uitvoerende finansiële direkteur van die verweerder op die relevante tydstip. Mnr Thoms was deel van die topbestuur wat saam met onder andere Memela en Klein besluit het dat dit in belang van die verweerder sou wees dat die besigheid van Henwill Chickens voortgesit moet word en nie onmiddellik tot 'n einde gebring moes word nie. Volgens Thoms was daar 'n verskil van mening of verdere geld aan Henwill Chickens beskikbaar gestel moes word. Malan aan die een kant wou dit gehad het terwyl Masimela nie geld wou voorskiet nie. Thoms se houding was dat daar vir 'n beperkte tyd van dertig dae wel fondse voorgeskiet sou word aan die eisers om die hoenders aan die lewe te hou. Dit was slegs op 'n kort termyn basis. Enige verdere voorskotte sou geskied op spesifieke vooruitskattings van kontantvloei en moontlike wins terwyl die verskillende alternatiewe vir die besigheid oorweeg sou word. Hierdie bespreking en besluit van die topbestuur van die verweerder moes volgens Thoms deur Masilela aan die eisers oorgedra word.


Dit was duidelik Thoms se oogmerk om aan die hof oor te dra dat enige betaling van die verweerder aan die eisers suiwer diskresionêr was en dat dit op 'n ad hoc basis gedoen was. Tog het Thoms probleme gehad om te verduidelik waarom daar dan aan 0livier en Anstey meegedeel sou gewees het dat daar 'n onderneming deur die verweerder gegee was om vir handelstekorte te betaal. Die tjeks en dekkingsbriewe wat aan die eisers gegee is verwys na onder andere "total trading shortages" vir bepaalde periodes. Dit het Thoms gesukkel om te verduidelik.


Dit blyk ook uit die getuienis van Thoms dat solank as wat die verweerder sou wou hê dat die eisers moes voortgaan met die bedryf van die hoenderbesigheid, die verweerder finansieel sou moes bydra. Sover Thoms weet was daar nie 'n opdrag aan die eisers om besigheid te staak nie.


Alvorens oorgegaan word tot die evaluering van die getuienis is dit nodig om op hierdie stadium 'n kort oorsig te gee van sekere objektiewe, vasstaande feite wat óf gemeensaak is tussen die partye óf wat onbetwis is, soos dit blyk uit die getuienis wat hierbo behandel is.


Die groep maatskappye van Henwill Chickens is aan die begin van Maart 2000 gelikwideer. Hierdie maatskappye het 'n hoenderboerdery bedryf en op die stadium van likwidasie was daar steeds hoenders in verskillende stadia van ontwikkeling. Torre is op 6 Maart 2000 aangestel as voorlopige likwidateur en die ander eisers op 10 Maart 2000. Dit het gou geblyk dat die posisie by Henwill Chickens kritiek was. Daar was geen kos nie, daar was 'n gebrek aan versorging en die hoenders het 'n vorm van kanibalisme geopenbaar. Daar moes gevolglik vroegtydig besluit word wat met die besigheid gedoen moes word. Moes dit onmiddellik gestaak word of moes daar gepoog word om daarmee voort te gaan? 0p 8 Maart 2000 het Torre 'n kontantvloeistaat voorberei en dit aan die verweerder beskikbaar gestel. In daardie kontantvloeistaat was aangedui wat die tekort vir 'n maand sou wees indien die besigheid van Henwill Chickens voortgesit sou word. Daardie kontantvloeistaat is hersien en op 14 Maart deur Torre aan die verweerder verskaf.


Dit blyk dat daar 'n interne vergadering in die verweerder plaasgevind het op 15 Maart 2000. Soos blyk uit die opsomming van die getuienis hierbo was die standpunt ook by daardie interne vergadering ingeneem dat dit in belang van die verweerder sou wees indien die boerdery as 'n lopende saak voortgesit sou word. Dit sou egter meebring dat daar finansiële steun aan die eisers verleen moes word om die boerdery as lopende saak aan die gang te hou. Soos Thoms gesê het moes dit gedoen word om die verweerder 'n geleentheid te gee om te besluit tussen die verskillende moontlikhede wat daar was. Dit is so dat slegs die verweerder bereid was om finansiële steun te verleen. Die verweerder was by verre die grootste eiser en sou die meeste bevoordeel word indien 'n goeie prys vir die lopende besigheid verkry kon word.


Mnr Thoms het 'n verdere interne vergadering gereël waarby Masimela, Malan en Ayer teenwoordig was. Aan hulle was oorgedra wat deur topbestuur van die verweerder besluit is. Thoms het verwag dat Masimela hierdie besluit aan die eisers sou oordra. Masimela het getuig van die konsensus vergadering wat plaasgevind het. Ten spyte van Masimela se ontkenning daarvan aan die begin blyk dit tog uiteindelik gemeensaak te wees dat daar besluit was dat daar voortgegaan sou word deur die verweerder om fondse aan die eisers te voorsien ten einde die besigheid as 'n lopende saak voort te sit. Dit is gemeensaak dat Malan die skakel sou wees tussen die verweerder en die eisers. 0p 30 Maart 2000 vind daar 'n vergadering plaas tussen amptenare van die verweerder, mnr Dorian Parker en werknemers van Epol waarby mnr Anstey ook teenwoordig is. Dit is onbetwis dat Malan op daardie stadium die versekering aan Epol gegee het dat die verweerder 'n vrywaring aan die eisers gegee het vir enige tekorte wat mag ontstaan vanweë die bedryf van Henwill Chickens as 'n lopende saak. Anstey het bevestiging hiervan ook gekry vanaf Torre. Hierna en wel op 31 Maart 2000 is die eerste betaling van die verweerder aan die eisers gemaak. Dit word beskryf as "operating expenses for the above insolvent estate".


Dit blyk dat daar verskeie vergaderings plaasgevind het tussen die eisers en beamptes van die verweerder. Dit blyk dat daar voortdurend aan die verweerder kontantvloeistate voorgelê is waarin die vordering van die besigheid bespreek is. Van tyd tot tyd was winste in vooruitsig gestel maar het die eisers telkens uitgewys dat steeds verliese gemaak word en is daar ook verdere betalings aangevra. So bv is op 31 Mei 2000 'n tjek aangevra vir die bedrag van R1,2 miljoen vir die tekorte van Maart en April. Betaling het plaasgevind. Dit blyk ook dat daar by feitlik elke vergadering samesprekings plaasgevind het tussen die eisers en die verweerder oor die vraag of die besigheid van Henwill Chickens steeds voortgesit moes word al dan nie.


Die bestuurspan van Henwill Chickens moes versterk word. 'n Sekere Raymond Gunning is aangestel om vanaf die begin Junie 2000 die bestuur van Henwill Chickens oor te neem. Hierdie instruksie is deur die verweerder op skrif aan die eisers gegee.


Aan die einde van Junie 2000 het 0livier, die prokureur wat Noordwes Koöperasie en Noordwes Voere verteenwoordig het, die aangeleentheid met Malan bespreek. 0ok teenoor 0livier sê Malan dat die verweerder die eisers gevrywaar het teen enige handelstekorte wat mag voortspruit in die voortsetting van die besigheid.


Soos blyk uit die verslag van die eisers vir die tweede vergadering van skuldeisers op 14 September 2000 word dit onomwonde deur die eisers gestel dat daar handel gedryf word op instruksie van die verweerder wat die eisers gevrywaar het teen enige handelstekorte.


November 2000 word 'n bedrag van meer as R600 000,00 deur die verweerder beskikbaar gestel vir die aankoop van toerusting vir Henwill Chickens. Steeds gaan besigheid voort en teen Desember 2000 word die handelstekort wat reeds ontstaan het in die eerste likwidasie en distribusie rekening gereflekteer as byna R7 miljoen.


Gedurende Junie 2001 bevestig Malan weer eens tydens 'n vergadering aan 0livier dat die verweerder die eisers gevrywaar het teen enige handelstekorte.


Prokureur 0livier is ongelukkig omdat in die eerste likwidasie en distribusie rekening aangedui word dat die handelstekort van ongeveer R7 miljoen oorgedra word na die vrye oorskot rekening. Soos reeds daarop gewys het Rothbart, die prokureur van die verweerder wat op instruksies van die verweerder ook vir die eisers opgetree het, aangedui dat hierdie beswaar van 0livier hanteer word op die basis dat die verweerder 'n vrywaring vir handelstekorte verleen het.


In April 2002 het Anstey vir me Klein gaan spreek insake die Epol rekening. Sy het opdragte gegee oor waarborge en betalings wat aan Epol gemaak en verskaf moet word. Anstey was ook deur haar gerus gestel dat Epol betaal sou word.


Malan het in 2001 'n verslag voorberei wat duidelik aantoon dat vir die afgelope agtien maande, dit wil sê vanaf Maart 2000, die verweerder die voortsetting van die besigheid gefinansier het.


0p 2 Junie 2002 het die eisers 'n gesamentlike skrywe aan die verweerder gerig en hulle lot bekla daaroor dat die verweerder nie sy onderneming gestand doen nie en gedreig om onmiddellik met die afwenteling en staking van die besigheid van Henwill Chickens voort te gaan. In reaksie hierop het die verweerder deur middel van sy prokureurs met regsaksies gedreig indien dit wel sou plaasvind. Die betrokke prokureurs namens die verweerder plaas ook nie die onderneming om handelstekorte te betaal in geskil nie maar slegs die bedrag daarvan.


In Junie 2002 het die eisers 'n prokureur Ferreira gaan spreek om te reageer op die dreigement van die verweerder se prokureurs om regstappe te neem indien besigheid gestaak sou word. Geen ontkenning van die beweerde onderneming in dié betrokke skrywe word ontvang van die verweerder se prokureurs nie.


Dit blyk dat besigheid vir langer as twee jaar vanaf Maart 2000 deur die eisers voortgesit is. Dit is gemeensaak dat daar op geen stadium deur die verweerder daarop aangedring was dat besigheid gestaak moes word nie. Inteendeel toe die eisers dit voorstel was daar met regstappe gedreig indien dit wel sou gebeur.


Daar is reeds tevore hierin verwys dat mnr Raymond Gunning aangestel is om die bestuur van die Henwill Chicken boerdery oor te neem. Daar bestaan 'n dispuut tussen die partye oor wie Gunning aangestel het naamlik óf die verweerder óf die eisers.


Die eisers se standpunt was dat Gunning deur die verweerder aangestel is. Dit blyk dat op 11 April 2000 tydens 'n vergadering mnr Harry Kaplan voorgestel het dat daaraan gedink moet word om met Gunning te praat in verband met die bestuur van die besigheid. Gunning het daarna vergaderings bygewoon op 13 April 2000, 4 Mei, 23 Mei en 30 Mei 2000. Uiteindelik in 'n skrywe gedateer 31 Mei 2000 onder die handtekening van Masilela was daar 'n instruksie dat Gunning aangestel moet word. Masilela sê dat Malan die brief opgestel het en dat hy dit bloot geteken het. Masilela het elke denkbare poging aangewend om te probeer aantoon dat dit nie 'n instruksie van die verweerder aan die eisers was om vir Gunning aan te stel nie. Dit wil voorkom asof dit vir Masilela van belang was om die verweerder se betrokkenheid in die aanstelling van Gunning soveel as moontlik af te water. Dit sou nodig wees om die verweerder se betrokkenheid by die bestuur van die besigheid so klein moontlik te maak. Tog blyk dit uit 'n interne memorandum van Malan aan onder andere Masilela, Klein en Thoms dat Gunning van tyd tot tyd interim verslae en finansiële state aan die verweerder se bestuurspan sou voorsien.


Die eerste en tweede eisers, Torre en Potgieter, het ontken dat hulle verantwoordelik was vir die aanstelling van Gunning en wys op 'n notule van 'n vergadering van 30 Mei 2000 waarin gesê is dat 'n amptelike brief versoek was vanaf die verweerder "authorising the appointment" van Gunning. Dit wil dus voorkom asof die verweerder met die aanstelling van Gunning 'n aktiewe deelname gehad het aan die bestuur van die besigheid. Inteendeel blyk dit dat Gunning se dienste bekom was omdat hy 'n kundige op die gebied van hoenderboerdery was en skynbaar die besigheid gou winsgewend sou maak wat dan ook tot voordeel van die verweerder sou wees.


Ek het reeds tevore daarop gewys dat die verweerder se regsverteenwoordigers gevra het dat geleentheid gegun moet word om met Malan te konsulteer en dat daarna aan onder andere Potgieter gestel was oor wat Malan sou kom getuig. Malan het uiteindelik nie getuig nie. Malan was die persoon wat volgens Masilela deur die verweerder afgevaardig en afgesonder is om die voortsetting van die besigheid van Henwill Chickens te hanteer. Uit al die getuienis en dokumentasie blyk dit dat Malan 'n leidende rol gespeel het en dit namens die verweerder. Malan was teenwoordig op die interne vergadering van 15 Maart 2000 toe Thoms vir hom, Masilela en Ayer ingelig het oor die standpunt van die topbestuur van die verweerder. Hierna het Malan voortgegaan om die besigheid te help bedryf. Malan het mondelings aan Anstey meegedeel dat die verweerder onderneem het om in te staan vir handelstekorte en dit ook aan 0livier bevestig. Ek het reeds hierbo verwys na verskeie geleenthede waar Malan dit in skrif ook bevestig het. Inteendeel, die getuienis in verband met Malan se versekering dat die verweerder sodanige onderneming gegee het en sy standpunte soos blyk uit dokumentasie, het geroep om 'n antwoord van Malan. Die verweerder het egter verkies om Malan nie as getuie te roep nie. Daardie versuim lei net tot een onafwendbare afleiding en dit is dat Malan nie die verweerder se saak sou ondersteun het nie. Na my oordeel was Malan 'n wesenlike getuie vir die verweerder wat egter nie geroep was nie.


Venita Klein was die hoofbestuurder van verweerder oor operasies en gevolglik ook deel van die topbestuur van die verweerder. Me Klein was ook by die vergadering van 15 Maart 2000 toe topbestuur van die verweerder besluit het dat daar finansiële steun aan die eisers gegee sou word vir die voortsetting van die besigheid. Die besluit wat daar geneem is het aanleiding gegee tot Thoms se mededeling aan onder andere Masilela en Malan. Dit wil dus voorkom asof me Klein op hoogte was van die standpunt van die verweerder en dat sy ook van tyd tot tyd vergaderings bygewoon het.


Van belang is egter die mededeling van Anstey dat me Klein aan hom sou gesê het dat die verweerder regtens verplig is om Epol se vordering te betaal. Sy het dan ook opdrag gegee dat sekere betalings moet geskied en waarborge uitgereik moes word wat nie gedoen is nie. Me Klein is nie geroep om onder andere hierdie bewering van Anstey te weerlê nie.


Prokureur Rothbart van mnre Rothbart Inc was in die relevante tydperk die prokureur vir die verweerder. Die eisers was aangesê om van mnr Rothbart se dienste gebruik te maak waar hulle 'n prokureur benodig het. Daar is reeds hierbo verwys na skrywes van Rothbart waarin aangedui is dat daar 'n onderneming van die verweerder se kant was om die handelstekort te betaal. Toe Rothbart 0livier se besware teen die eerste likwidasie en distribusie rekening beantwoord het was dit duidelik dat hy die houding ingeneem het dat die verweerder 'n onderneming gegee het om handelstekorte te betaal.


'n Groot hoeveelheid mondelinge en dokumentêre getuienis is voor die hof gelê. Die kruisverhoor was intensief en deurtastend. Die partye huldig teenoorstaande standpunte. Die eisers vra die hof om te bevind dat die verweerder 'n onderneming gegee het om alle handelstekorte van die Henwill Chicken groep van maatskappye te betaal vir solank as wat voortgegaan was om handel te dryf. Die verweerder daarenteen voer aan dat geen sodanige onderneming gegee was nie en dat op die uiterste die verweerder onderneem het om vir 'n beperkte tyd 'n beperkte bedrag geld aan die eisers beskikbaar te stel om as 'n noodmaatreël die besigheidsbedryf aan die gang te hou. Die partye twis oor presies wanneer die onderskeie ondernemings wat hulle sê gegee is wel gegee is asook wat die presiese terme daarvan is. In kort kom dit daarop neer dat die eisers sê dat 'n sekere ooreenkoms gesluit is tussen die partye wat deur die verweerder ontken word. Hier is geen skriftelike ooreenkoms om die terme van 'n ooreenkoms uit te spel of die bestaan daarvan te negeer nie. Die hof is hier aangewese om op die getuienis as geheel en ook die gedraging van die partye te bepaal of die weergawe van die eisers of die weergawe van die verweerder die korrekte is.


Die eisers het deurentyd opgetree as die likwidateurs van die betrokke maatskappye in likwidasie. Klaarblyklik is die hoof doel van die eisers om die insolvente maatskappy se aktiwiteite tot 'n einde te bring en die bates van die maatskappy in likwidasie te verdeel onder skuldeisers tot voordeel van daardie skuldeisers.


In die onderhawige geval is dit gemeensaak dat die verweerder by verre die grootste skuldeiser in die insolvente boedels is. Die standpunt van die eerste en tweede eisers was dat in 'n geval soos die onderhawige daar wel met skuldeisers en in besonder die grootste skuldeiser gekonsulteer word om te bepaal wat die voorskrifte en wense van sodanige skuldeiser is. Veral is dit die geval waar met 'n lopende saak te doen gekry word wat 'n waarde het solank as wat dit as 'n lopende saak bestaan in teenstelling met die vernietiging van enige waarde indien bloot net bates verkoop word. 0ok moet in gedagte gehou word dat hier met 'n hoenderboerdery te doen gekry is wat op die getuienis 'n tipe van besigheid is wat aan die einde van 'n periode sy maksimum voordeel eers verskaf. 0ok bring dit mee dat daar hoenders is wat óf van die hand gesit moet word óf aan die lewe gehou moet word deur hulle kos te gee. Daar is henne wat eiers lê wat weer uitgebroei word en wat weer in die siklus geplaas word met al die gepaard gaande uitgawes en uiteindelike voordeel indien 'n groot hoender verkoop kan word.


Dit is duidelik dat die maatskappye in likwidasie nie oor enige kontant beskik het om met besigheid voort te gaan nie. Daarom het mnr Dorian Parker kort na die voorlopige likwidasie reeds weer by die verweerder gaan aanklop om ongeveer R5 miljoen voorskot te kry om met besigheid te kan voortgaan. Na my oordeel is dit onwaarskynlik dat die eisers dit hoegenaamd sou oorweeg of kon voortgaan met besigheid indien daar nie fondse voorgeskiet word in besonder vir voer vir die hoenders nie.


Indien daar vir 'n periode van een maand voer vir hoenders voorsien sou word sou dit beteken dat die hele boerdery tot 'n einde gebring moet word aan die einde van daardie periode. Indien die besigheid gevolglik as 'n lopende saak verkoop wou word, moes dit binne daardie periode van een maand geskied.


Met die voorgaande in gedagte moet bepaal word of die eisers of die verweerder se weergawe in hierdie geval korrek is.


Uit die feite blyk dit dat hier persone van die verweerder afgesonder was naamlik Malan en Ayer om die kontakpersone tussen die verweerder en die eisers te wees. Dit blyk in besonder dat Malan 'n baie aktiewe rol gespeel het in die voortsetting van die bedryf van die maatskappye in likwidasie.


Indien bloot net na die getuienis van Masilela en Thoms gekyk word wil dit voorkom asof hulle voorgee dat die verweerder bloot net vir die eerste maand na likwidasie fondse sou voorsien om die hoenders aan die lewe te hou en daarna volgens eie diskresie en op 'n ad hoc basis verdere fondse sou voorsien. Ten spyte van daardie standpunt blyk dit egter dat daar op meerdere geleenthede fondse aan die eisers beskikbaar gestel was om bedryfsverliese te dek. Verdermeer was die sogenaamde kroon hoenders aangevul om die siklus vanaf die lê van eiers tot die uiteindelike verkoop van die hoenders aan die gang te hou en op 'n beter grondslag te plaas. Volgens ten minste die getuienis van Anstey van Epol sou dit meebring dat daar op 'n voortdurende basis fondse deur die verweerder beskikbaar gestel moet word. Volgens Anstey was so 'n onderneming volgens Malan en Torre aan die eisers gegee en is dit ondenkbaar dat Epol vir letterlik jare sou voortgaan om voer te voorsien wyl dit bloot gedoen word as 'n na likwidasie skuld aan insolvente maatskappye. Die weergawes van Masilela en Thoms verloor ook hulle krag indien daar op gelet word dat die verweerder die maksimum opbrengs uit die maatskappye in likwidasie wou bekom en dit klaarblyklik slegs kon behaal indien 'n lopende saak verkoop word. Aanbiedinge het van tyd tot tyd ingekom en was oorweeg. Aanbiedinge was nie vir die verweerder aanvaarbaar nie en so laat as in 2002 het die verweerder beoog om self die besigheid in te koop. Intussen is daar geldige redes waarom die verweerder nie die hoenderboerdery summier tot 'n einde wou bring nie. Dit is duidelik dat daar 'n groot aantal werksverliese sou wees terwyl die Noordwes regering begerig was om die besigheid van die maatskappye in solvensie aan swart bemagtigingsgroepe te laat oordra. Dit blyk dat om hierdie doeleindes te bewerkstellig daar ook deelgeneem is deur die verweerder aan die bestuur van die besigheid. 0p die waarskynlikhede was mnr Raymond Gunning deur die verweerder aangestel om in die bestuurspan te dien omdat Gunning dan skynbaar met sy ervaring in staat sou wees om toe te sien dat die besigheid spoedig 'n wins sou maak.


In besonder het mnr Torre getuig dat hy as 'n verantwoordelike likwidateur nie op sy eie sou besluit om met besigheid voort te gaan nie. Met besigheid kon nie voortgegaan word sonder 'n finansier nie. Ten spyte van vooruitsigte dat wins spoedig gemaak sou word het dit nie gerealiseer nie. Daarom, sê Torre, was daar op 'n gereelde basis aan die verweerder gerapporteer dat daar steeds verliese gely word en was die verweerder gevra om te besluit of hy nog wil voortgaan met die dryf van besigheid en of dit gestaak moet word. In die lig van die voorgaande is dit duidelik dat die verweerder verkies het om die maksimum voordeel te kry uit die verkoop van 'n lopende saak en daarom was met besigheid voortgegaan. Dit is dan ook insiggewend dat toe die eisers as 'n groep gedreig het om besigheid te staak die verweerder met regsaksie gedreig het om dit te voorkom. 0p die waarskynlikhede is so 'n standpunt van die verweerder reëlreg teen 'n besluit en onderneming om vir 'n beperkte tyd beperkte fondse beskikbaar te stel.


Dit is duidelik dat Malan op 'n stadium nagenoeg agtien maande nadat met besigheid voortgegaan is besef het dat daar 'n einde moet kom aan die inploeg van fondse in die hoenderbesigheid. Daarom was voorstelle gemaak oor hoe om die verliese te verminder wat onder andere ingesluit het die inkoop van die besigheid deur die verweerder self, 'n feit wat inderdaad blyk ernstig oorweeg was.


Ek is tevrede dat op die waarskynlikhede die verweerder 'n onderneming gegee het soos deur die eisers in hul gewysigde besonderhede van vordering aangevoer is.


Die verweerder het gepleit dat Masilela geen magtiging gehad het om 'n onderneming te gee soos deur die eisers aangevoer word nie. Dit is nie nodig dat in veel detail hiermee gehandel word nie. Uit die getuienis is dit duidelik dat die topbestuur van die verweerder 'n besluit geneem het dat met besigheid voortgegaan moet word. Volgens Masilela was daardie 'n behoorlike besluit waarvoor magtiging bestaan het. Die besluit was inderdaad aan Masilela, Ayer en Malan oorgedra. Dit is duidelik dat die bedoeling was volgens Thoms dat daardie besluit aan die likwidateurs oorgedra moes word wat dan ook plaasgevind het. Uit die notules van onderskeie vergaderings blyk dit dat lede van topbestuur van die verweerder van tyd tot tyd by vergaderings teenwoordig was. Hierdie is nie 'n geval waar Masilela 'n onbeperkte onderneming gegee het wat nie herroep kon word, maak nie saak vir hoe lank en teen welke koste die eisers met die besigheid wou voortgaan nie. Dit is duidelik dat almal verstaan het dat daar met verantwoordelikheid en rapportering deur die eisers aan die verweerder met besigheid voortgegaan sou word. Dit is dan ook duidelik dat uitnodigings van tyd tot tyd aan die verweerder gerig was om opdrag te gee dat met besigheid gestaak word. Dit is nie gedoen nie. Ek is dus tevrede dat daar magtiging was om die onderneming soos deur die eisers beweer te gee.


Wat betref quantum van die eisers se vordering is dit nie in geskil geplaas nie.


Dit is nodig dat ek my indrukke van die verskillende getuies op rekord plaas.


Getuie Anstey was 'n uitstaande getuie. Ek het in die loop van sy getuienis in hoof en kruisverhoor notas gemaak oor die indrukke wat ek van hom gekry het. Dit is duidelik dat Anstey 'n ervare en verantwoordelike besigheidsman is. Hy is 'n persoon wat so gou moontlik na samesprekings sy herinneringe op skrif stel en veral deur middel van epos aan sy kollegas oordra. Anstey het nie gehuiwer om toe te gee waar hy afleidings maak nie maar sy weergawe oor werklike gebeure is nie afgekraak nie. Anstey was 'n geloofwaardige getuie en staan dit na my oordeel vas dat Malan namens die verweerder die bestaan van 'n onderneming bevestig het en dat dit later in dieselfde terme ook deur Torre gedoen is.


Mnr 0livier wat as prokureur opgetree het vir Noordwes Koöperasie Bpk en Noordwes Voere was 'n eerlike, objektiewe en openhartige getuie. Daar is geen rede om hoegenaamd aan sy getuienis te twyfel nie. Mnr 0livier en sy kliënte staan niks te wen deur hierdie aksie nie.


Die getuienis van mnre Torre en Potgieter kan saam behandel word. Nie een van hierdie twee getuies het by my die indruk geskep dat hulle probeer om die eisers se saak te bevoordeel nie. Daar is verskille in hulle getuienis wat nie nodig is om op hierdie stadium in detail te bespreek nie. Dit is verstaanbaar waar daar nie net na een enkel voorval verwys word nie maar 'n hele reeks van gebeure met talle vergaderings wat plaasgevind het en hope korrespondensie wat die lig gesien het. Beide hierdie twee persone sou saam met hulle mede-likwidateurs totale dwase gewees het indien hulle 'n hoenderboerdery van die omvang wat hier ter sprake is voortgesit het sonder enige kennis en ervaring daarvan en sonder enige finansier om die besigheid aan die lewe te hou. Ek het geensins die indruk gekry dat hierdie getuies hulle getuienis aanpas om hulle saak te bevoordeel nie. Ek het reeds verwys na die wysiging van die eisers se pleitstukke. Ek is tevrede dat nie een van hierdie twee getuies hulle getuienis aangepas het om hulle saak te versterk nie.


Mnr Christopher Brand se getuienis kan nie gefouteer word nie. Daar is ook nie betoog dat hy in enige opsig nie die waarheid gepraat het nie. Uit die aard van die saak sou mnr Brand alles in sy vermoë doen om die opdrag van sy kliënt uit te voer. Hy was gekritiseer omdat daar beswaar gemaak is teen sekere vrae wat aan mnr Malan gestel wou word tydens die insolvensie ondervraging. Indien daardie vrae wel gevra sou kon word sou dit waarskynlik meegebring het dat hierdie verhoor nie plaasgevind het nie. Mnr Brand kan egter nie daarvoor verwyt word nie.


Mnr Masilela is 'n persoon wat wel ter tale is. Hy weet hoe om sy woord te doen en doen dit ook goed. Hy is 'n ervare bankier. Hy was dan ook geneig om hom telkens te beroep op en te verweer met die reëls en regulasies van bankwese. Ek het reeds hierbo in die bespreking van mnr Masilela se getuienis daarop gewys dat hy in sekere opsigte hom van sekere aksies wou distansieer. Wat ook opvallend was, was dat mnr Masilela van sy welsprekendheid verloor het wanneer hy in 'n hoek gedryf was en verduidelikings moes gee oor sekere standpunte wat ingeneem is deur onder andere Malan in korrespondensie en ook Rothbart. Ek is tevrede dat mnr Masilela probeer het om 'n vooraf ingenome standpunt te bly regverdig en dat hy geen toegewing wou maak uit die feite wat oor 'n lang tydperk plaasgevind het en tot sy kennis is nie.


Dieselfde opmerkings geld ten opsigte van mnr Thoms as ten opsigte van Masilela. Thoms het duidelik ook teen sy eie beterwete 'n vooraf ingenome standpunt bly handhaaf terwyl die feite duidelik daarteen spreek.


Mnr Ayer is 'n duidelik ongeloofwaardige getuie. Al verweer wat hy kon hê teen die eisers se saak was om te sê dat hy absoluut niks kan onthou nie.


Daar was geen verskil tussen die regsverteenwoordigers oor die vraag of die koste van twee advokate toegestaan behoort te word nie.


Na afsluiting van die betoë namens die partye het ek 'n verdere navraag gerig ten opsigte van die gepaste bevel rakende rente indien die eisers suksesvol sou wees met die aksie. Die partye het met mekaar oorleg gepleeg en eenstemmigheid bereik. Ek is tevrede dat hulle korrek is in hulle benadering. Moratore rente behoort te loop vanaf datum van betekening van die dagvaarding naamlik 30 Mei 2003 teen 'n koers van 15,5% per jaar.


Vonnis word ten gunste van die eisers teen die verweerder verleen vir:

1. betaling van die bedrag van R22 037 473,37;

2. betaling van rente op die bedrag van R22 037 473,37 bereken teen die koers van 15,5% per jaar vanaf 30 Mei 2003 tot datum van betaling;

3. koste van die geding, wat insluit die koste van twee advokate.





W J VAN DER MERWE

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF


14656-03


DATUM VAN VERHOOR: 2/8/05

VIR DIE EISERS: ADV J DREYER SC

IN OPDRAG VAN: ADAMS & ADAMS

VIR DIE VERWEERDER: ADV JAAP CILLIERS SC

IN OPDRAG VAN: GILDENHUYS LESSING MALATJE INC