South Africa: High Courts - Gauteng

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Courts - Gauteng >>
2005 >>
[2005] ZAGPHC 348
| Noteup
| LawCite
Deysel v Deysel (19869/2005) [2005] ZAGPHC 348 (25 November 2005)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(TRANSVAAL PROVINSIALE AFDELING)
SAAKNOMMER: 19869/2005
ONRAPORTEERBAAR
Datum : 23,25 November 2005
In die saak tussen
THERESA NATALIE DEYSEL APPLIKANT
en
GERHARDUS JOHANNES DEYSEL RESPONDENT
Maintenance – non-payment of as a result of change of circumstances – not shown that respondent is not in a position to pay the maintenance as ordered – even if assisted by way of loans. Whether respondent was also guilty of contempt, reserved for later judgment.
Van Rooyen WnR
[1] Hierdie aansoek gaan oor die afdwinging van `n Reël 43-bevel waarin die applikant versoek dat die nie-nakoming van die bevel deur die respondent deur die hof gestraf moet word deur die respondent tot gevangenisstraf te veroordeel wat opgeskort word, onderhewig aan sy nakoming van die bevel.
[2] Die bevel is op 25 Februarie 2005 gemaak. Dat daar `n verbreking van die bevel was is onbestrede. Of die verbreking van die bevel ook neergekom het op minagting is egter die tweede vraag. In die proses het die respondent hom verweer deur aan te dui dat hy, vanweë `n gepoogde werkverandering, sy ou werk moes terugneem maar dat hy in die proses aansienlik minder verdien omdat hy toe op `n proef basis aangestel is en hv sy mediese voordeel ook tydelik verloor het. Vir April 2005 het hy ook geen salaris ontvang nie. Hy het ook nie uitvoering aan die bevel gegee voor einde Maart nie, omdat hy (verkeerdelik) gedink het dat die plig tot onderhoudbetaling eers aan die einde van Maart sou ontstaan.
[3] Respondent het twee sake verdedig: eerstens betoog hy dat hy nie die hof bevel geminag het nie omdat hy eenvoudig nie, vanweë werksprobleme, die R8000 per maand kon betaal nie. Andersyds loods hy `n Reël 43(6)-aansoek vir die vermindering van die onderhoudsplig. Omdat ek nog eers weer na die stukke deeglik wil kyk om te besluit of hy wel skuldig is aan minagting, het ek besluit om eers die teeneis as `n saak van dringendheid te besleg. Die applikant en respondent is minstens geregtig op sekerheid in die verband.
[4] Eerstens moet vermeld word dat die aanhangigmaking van `n Reël 43(6) as deel van `n verweer op `n aansoek dat die respondent aan minagting skuldig bevind word, nie van pas is nie. Die Reël 43-prosedure is `n prosedure wat spesiaal ingestel is om tussentydse bevele met betrekking tot hangende egskeidings te beheers. Al sou ek ten gunste van die respondent aanvaar dat hy wel so `n aansoek aanhangig mag maak, blyk dit nie uit die stukke voor my wat hy aan die einde van November 2005 verdien nie. Alhoewel hy `n beantwoordende verklaring aan die einde van Julie afgelê het, het hy `n aanvullende verklaring op 17 November 2005 afgelê – 6 dae voor die aanhoor van hierdie aansoek. Ek is skepties oor sy stukke, omdat hy in sy opponerende verklaring wat aan die einde van Julie geteken is nog meld dat hy vanaf Rustenburg na die myn daagliks 230 kilometers heen en weer moet ry. Sy brandstof-berekening is dan ook, in die lig hiervan, R2500 per maand. In sy aanvullende 17 November-eedsverklaring, wat ek toegelaat het, sê hy egter dat hy reeds vanaf 1 Julie in `n mynhuis woon. Die respondent het dus beslis nie die hof in sy vertroue geneem in sy opponerende verklaring aan die einde van Julie nie. Die enigste afleiding wat ek kan maak is dat hy die Hof `n rat voor die oë probeer draai het. Die blatante onwaarheid op 30 Julie maak my dan ook skepties oor die uitgawe-begroting wat hy in die Julie opponerende verklaring aangee. Kos die mynhuis werklik R2600 per maand? Die brandstof per maand van R2500 is `n klaarblyklike leuen. Gedurende die aanhoor van hierdie aangeleentheid het sy regsverteenwoordiger, mnr Van Vuuren, vanaf die balie `n faks met toestemming van Me Delport,vir die applikant, opgehandig. Die faks is onderteken deur `n mnr FP Guilherme (Afdelingshoof van die Myn) en dit is 22 November 2005 dateer. Die brief bevestig dat die respondent vanaf 1 Mei 2005 weer in diens geneem is en dit strook dus met respondent se opponerende eedsverklaring. Die brief sê ook dat die pensioenfonds van vorige diens nog onaangetas is, maar bevestig nie dat hy nie daarteen kon leen nie. Die faks meld dat respondent vergoed word teen `n “basic salary” en dat sy salarisadvies-strokie aangeheg is. Dit was egter nie aangeheg nie.
[5] Al sou ek dus, in die belang van geregtigheid, die teeneis as deel van hierdie proses besleg, bly ek in die duister oor wat die respondent tans verdien. Wat die “basic salary” is en wat hy as bonus verdien, word nie gemeld nie. Ek weet dus nie of die salaris intussen weer die ou kerf bereik het nie. In sy aanvullende November-verklaring sê die respondent dat hy wel geld sou kon leen by mikro-uitleners, maar dat dit hom “permanent finansieel sal skade berokken.” Wat die respondent skynbaar vergeet is dat hy hoegenaamd nie eensydiglik die hofbevel kon wysig nie. Selfs `n leek week wat `n hofbevel is. Hy het ook reeds kort na die Februarie-bevel `n eksekusie beleef. Alhoewel daar begrip is vir die respondent se oënskynlike dilemma, kan ek nie insien waarom hy nie geld kan leen by die mikro-uitleners nie. Waarom moet sy gesin ly onder sy probleme, wat hy self veroorsaak het deur sy werk te bedank? Ek kan ook nie begryp waarom hy nie aandring op die uitbetaling van sy pensioenfonds soos op die einde van Maart 2005 nie. Hy is wel weer in diens, maar hy was klaarblyklik geregtig om by bedanking sy pensioenfonds te bekom. Hy moet dus teruggaan na sy werkgewer en die bedrag eis. Natuurlik sal dit hom op die lang duur benadeel vir sover dit sy pensioen betref: maar hy het op `n klaarbliklik ondeurdagte wyse bedank en hy moet die gevolge daarvan dra. Ek kan geen rede sien waarom die bevel ten aansien van onderhoud enigsins verminder moet word nie. Hy moet dringende reëlings tref. Selfs as ek verkeerd is ten aansien van die Pensioenfonds, verander dit nie my beslissing nie.
[5] Ek bevestig dus dat die aanvanklike bevel nog geld en dat daar geen vermindering toegestaan word aan die respondent nie.
[6] Die Tazz skep egter `n probleem. Ek sal aanvaar dat die motor terug gegee is aan die eienaar. Dit was reeds in die aanvanklike antwoordende verklaring met die Reël 43-aansoek vermeld. Nietemin het die Hof, by monde van Du Plessis R, beslis dat die respondent die Tazz aan die applikant moet gee. Die nodigheid vir die teruggawe van die Tazz is ook te bevraagteken. `n Betaalstrokie van 18 Augustus 2002 word aangeheg. Daarvolgens het respondent op daardie stadium, via mnr Zwiegelaar, slegs R6862.16 geskuld op die motor. Daarom glo ek die applikant as sy sê dat die motor reeds afbetaal was voor die partye uitmekaar is teen November 2004. Daar is geen verduideliking dat die saldo wat respondent skuld meer is as die vermelde saldo nie. As hy die motor nie nou meer kan gee nie omdat dit terug gegee is aan Zwiegelaar, dan moet hy plaasvervangend optree.
Ek maak dus die volgende bevel, gebaseer op die onderhoudsbevel wat deur Du Plessis R gemaak is:
Die respondent word gelas om hangende die egskeiding:
1. Die agterstallige onderhoud van R35000 te betaal in paaiemente van R1000 per maand. Die eerste betaling moet op 1 Desember 2005 geskied en daarna voor of op die vyfde dag van elke opvolgende maand. Rente word nie betaal nie.
2. Vanaf 1 Desember 2005 moet hy ook die R8000 betaal soos beveel deur die Hof in Februarie 2005. Noodwendig moet hy daaropvolgend elke maand ook dieselfde bedrag betaal op of voor die vyfde van die maand.
3. Alle redelike mediese uitgawes van die applikante en die kinders te betaal (ook vir sover dit nog nie betaal is nie).
4. Die applikant op of voor 1 Februarie 2006 te voorsien van `n padwaardige voertuig op die standard van die Tazz.
5. Koste van hierdie aansoek moet deur die respondent betaal word op die skaal van prokureur en kliënt.
Die beslissing of die respondent hom ook skuldig aan minagting van die hof gemaak het, word voorbehou vir 21 Desember om 10:00.
JCW van Rooyen…………………
Waarnemende Regter
25 November 2005
Advokaat vir die applikant : Isma Delport in opdrag van Shapiro en Shapiro Ing, Pretoria
Advokaat vir die respondent : Chris van Vuuren in opdrag van Johan van der Vyfer Prokureurs, Pretoria