South Africa: High Courts - Gauteng Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Courts - Gauteng >> 2005 >> [2005] ZAGPHC 349

| Noteup | LawCite

S v Harding (A1403/2005) [2005] ZAGPHC 349 (28 November 2005)

Download original files

PDF format

RTF format


A1403/2005 /SG

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID AFRIKA

(TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)

DATUM: 28/11/2005

ONRAPPORTEERBAAR



Landdros

OBERHOLZER

Saak No: B147/2005

Hooggeregshof Verw No: 3559

DIE STAAT V BARENS JOHANNES HARDING BESKULDIGDE


HERSIENINGSUITSPRAAK


BERTELSMANN, R


[1] Die beskuldigde het in die landdroshof te Oberholzer tereg gestaan op ’n klagte in terme van die bepalings van artikel 65(2)(a) saamgelees met sekere ander bepalings van Wet 93 van 1996, die Nasionale Padverkeerswet, deurdat hy op en ongeveer 29 Mei 2005 en te Oberholzer ’n motorvoertuig bestuur het terwyl die alkohol konsentrasie in sy bloed meer was as 0,05g per 100ml. Dit is beweer dat die alkohol konsentrasie in sy bloed 0,23g per 100ml was.


[2] Die beskuldigde het, nadat hy aangedui het dat hy sy eie verdediging gaan behartig en die klag aan hom gestel is, skuldig gepleit.


[3] Die beskuldigde is daarna deur die voorsittende beampte in terme van artikel 112(1)(b) van Wet 51 van 1977 ondervra. Die ondervraging het soos volg verloop:


“V. Pleit u vrywillig skuldig?

A. Ja

V. Was u op 29 Mei 2005 te Annanstraat distrik Oberholzer?

A. Ja

V. Erken u dat die betrokke straat ’n openbare pad is in die distrik Oberholzer?

A. Ja.

V. Was u die bestuurder van voertuig met registrasienommer CJR 585 FS?

A. Ja.

V. Wat het gebeur?

A. Ek het by 007 gestop om goedere te koop. Ek ry weg en is afgetrek. Ek is gevra om met my eie voertuig hospitaal toe te ry. Ek is toe daarna na die SAPD toe.

V. By die hospitaal, is daar ’n bloedmonster van u geneem?

A. Ja.

V. Erken u dat die korrekte prosedure gevolg is met die neem van die bloedmonster?

A. Ja.

V. Het u enige drank ingeneem die betrokke dag?

A. Ja.

V. Wat en hoeveel het u ingeneem?

A. Ek het bier gedrink en kan nie rêrig sê hoeveel bottels was dit nie.

V. Het u die verslag gesien ten opsigte van die uitslag van die bloedmonster van u geneem?

A. Ja.

V. Erken u dat die bloedmonster korrek geanaliseer is en dat die uitslag korrek is?

A. Ja.

V. Het u enige reg of toestemming gehad om ’n voertuig te bestuur terwyl u bloedalkohol meer as 0,05g/100ml is?

A. Nee.

V. Het u geweet u optrede is verkeerd en strafbaar?

A. Ja.”


[4] Die agbare vehoorlanddros het die beskuldigde na aanleiding van hierdie mededelings skuldig bevind.


Nadat die beskuldigde feite tot versagting van vonnis aan die hof voorgelê het, is hy met R4 000.00 beboet of by wanbetaling tot agt maande gevangenisstraf gevonnis wat in geheel opgeskort is vir vyf jaar “op voorwaarde dat beskuldigde nie weer skuldig bevind word aan oortreding van artikel 65(1)(a) Wet 93/1996 gepleeg gedurende termyn van opskorting nie. Lisensie nie opgeskort nie.”


Die lisensie is nie opgeskort nie omdat die beskuldigde aangedui het dat hy dit vir sy werk benodig.


[5] Op hersiening het my ampsbroer die volgende navrae gerig:


Hoe is die alkohol konsentrasie in die beskuldigde se bloed bewys?

Sal u u redes vir vonnis verstrek. Die boete kom buitengewoon swaar voor.”


Daar was hierop met die landdros soos volg geantwoord:


Beskuldigde is ondervra in terme van Artikel 112(1)(b) ook ten opsigte van die neem van die bloedmonster en die ontleding van die betrokke bloedmonster. Beskuldigde het dit nie in dispuut geplaas dat die neem en ontleding van die bloedmonster korrek gedoen is nie. Die Artikel 212 Wet 51/77 (sic) verklaring ten opsigte van die uitslag van die bloedalkoholmonster is dan ook as bewysstuk ‘A’ ingehandig.


Die bloedalkoholinhoud van beskuldigde was 0,23, bykans vyf keer meer as die toelaatbare perk. Die vonnis is in geheel opgeskort en beskuldigde se lisensie is nie opgeskort soos deur die Wet voorgeskryf nie. Hierdie misdryf moet in ’n baie ernstige lig gesien word aangesien so ’n optrede nie net die beskuldigde maar ook ander padgebruikers se lewe in gevaar stel.”


[6] Die hof is dank verskuldig aan die kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolgings, wat op versoek van die hersieningsregter kommentaar gelewer het. Mnr. Broughton, staatsadvokaat in dié kantoor was geneig om toe te gee dat die skuldigbevinding verkeerdelik aangeteken is omdat daar geen behoorlike bewys van die feit op rekord geplaas is dat die bloedmonster binne die voorgeskrewe twee ure getrek is nie. [Vergelyk artikel 66(3) Wet 93 van 1996.]


[7] Mnr. Broughton het egter verwys na die beslissing S v Vorster and Four Similar Cases 2002 (1) SASV 379 (N). In hierdie gevalle het die hof bevind dat ’n skuldigbevinding aan artikel 65(2), met spesifieke verwysing na die bepaling dat ’n beskuldigde nie ’n motorvoertuig mag bestuur terwyl die konsentrasie alkohol in ’n monster van die beskuldigde se asem deur sodanige persoon uitgeblaas, meer as 0,24mg per 1000ml is nie, in orde is al het die staat nie die werking van die apparaat waarmee die konsentrasiebloed in die asem monster gemeet word, deur ’n deskundige laat verduidelik nie. In al die gevalle het die beskuldigde erken dat die apparaat behoorlik gewerk het, dat die monster behoorlik en binne die voorgeskrewe tydperk geneem is en dat die analise van die monster behoorlik en korrek aangedui het dat die alkohol konsentrasie in die asem die voorgeskrewe perk oorskry het.


[8] Die hof het na die beslissing in S v Naidoo 1985 2 SA 32 (N) verwys, wat bevestig het dat ’n beskuldigde inderdaad ’n erkenning op rekord kan plaas ten aansien van feite waarvan hy geen persoonlike kennis dra nie.


[9] ’n Mens het hier met ’n soortgelyke geval te doen. Dit is duidelik uit die ondervraging wat op die beskuldigde se skuldig pleit gevolg het, (wat ek hierbo aangehaal het), dat hy ten volle op hoogte van alle wesenlike feite was. Hy was ongetwyfeld van voorneme om skuldig te pleit en was oortuig daarvan dat hy die misdryf wel begaan het.


[10] Afgesien daarvan blyk dit uit die feite wat hy aan die hof verstrek het dat die bloed kennelik binne die tydperk van twee uur na die voorval getrek is.


[11] Daar kan derhalwe nie fout gevind word met die verhoorlanddros se bevinding dat die behoorlike verkryging en korrekte analise van die bloedmonster bewys is nie.


[12] In die alternatief is die erkenning ten aansien van die tydperk waarbinne die bloed getrek is, by wyse van duidelike implikasie gemaak: vergelyk S v Maleka 2005 (2) SASV 284 (HHA) 288 par. [16] e g.


[13] Onder die omstandighede is daar geen fout te vind met die skuldigbevinding nie. Dit word bekragtig.


[14] Die vonnis is beslis swaar. ’n Mens moet egter in gedagte hou dat die alkoholkonsentrasie in beskuldigde se bloedalkoholmonster vêr bo die regtens toelaatbare perk was en dat hy ongetwyfeld heelwat gedrink het voordat hy dit op die pad gewaag het.


[15] Sy lisensie is nie opgeskort nie vanweë sy persoonlike omstandighede. Dit is duidelik dat die verhoorhof hom in hierdie opsig in ’n groot mate tegemoet gekom het.


[16] Dit hoef nie verder beklemtoon te word nie dat bestuur onder die invloed van alkohol, en onder omstandighede soos die onderhawige, ’n buitengewoon groot bydrae tot noodlottige ongelukke op ons paaie lewer. Ook daarom is die vonnis gepas: die beskuldigde moet goed begryp dat ’n herhaling van hierdie voorval hom baie duur te staan sal kom.


[17] Die vonnis behoort dus ook bekragtig te word.


[18] Die volgende bevel word dus gemaak:


Die skuldigbevinding en vonnis word bekragtig.

E BERTELSMANN

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF

Ek stem saam


R D CLAASSEN

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF

B147/2005