South Africa: High Courts - Gauteng

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Courts - Gauteng >>
2006 >>
[2006] ZAGPHC 161
| Noteup
| LawCite
Swart v Van Rensburg and Another (A1924/2004) [2006] ZAGPHC 161 (31 March 2006)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)
NIE RAPPORTEERBAAR Saaknommer: A1924/2004
DATUM: 31/3/2006
In die saak tussen:
PIETER FRANCOIS SWART Appellant
en
MJ JANSE VAN RENSBURG Eerste Respondent
TM JANSE VAN RENSBURG Tweede Respondent
__________________________________________________________
UITSPRAAK
_______________________________________________________
SOUTHWOOD R
[1] Die appellant appelleer teen die uitspraak en bevel van die Pretoria landdroshof ingevolge waarvan die appellant gelas is om voorafberaamde skadevergoeding ten bedrae van R60 000, skadevergoeding van R1 750 en koste, insluitende advokaatsgelde, aan die respondente te betaal.
[2] Die respondente se eis was gebaseer op die bepalings van ‘n skriftelike koopkontrak (‘die kontrak’) wat die respondente (‘die verkoper’) en NPS Distributors (Edms) Beperk (‘die koper’) op 11 Junie 2001 gesluit het. In terme van die kontrak –
(1) het die verkoper die eiendom bekend as Erf 451, Garsfontein, Pretoria (Niewoudstraat 705, Garsfontein, Pretoria) aan die koper vir R750 000 verkoop en het die koper onderneem om ‘n waarborg vir die volle koopsom binne 20 dae na ondertekening van die kontrak aan Myburgh Ingelyf te lewer soos vereis deur die verkoper welke bedrag by die transportprokureur in trust inbetaal sou word op datum van registrasie van transport van eiendom in die naam van die koper;
(2) sou oordrag van die eiendom deur die verkoper se prokureur, Myburgh Ingelyf, uitgevoer word;
(3) sou okkupasie van die eiendom op 1 September 2001 aan die koper gegee word en sou die koper okkupasiehuur teen R3 500 per maand vanaf 1 September 2001 tot datum van registrasie van transport van die eiendom op naam van die koper aan die verkoper betaal;
(4) is die eiendom voetstoots verkoop en onderhewig aan alle bepalings, voorwaardes en serwitute as wat geregistreer mag wees teen die eiendom in die relevante titelakte en/of wat teen die eiendom genoteer is;
(5) het die partye bevestig dat geen voorstellings ten opsigte van die eiendom deur of namens die verkoper gemaak is wat aanleiding gegee het tot die ooreenkoms nie en het hulle verklaar dat die kontrak die volledige ooreenkoms tussen die partye beliggaam en geen wysiging of toevoeging daartoe sou geldig wees tensy dit skriftelik opgestel en onderteken is deur albei partye nie;
(6) het die verkoper geen waarborg aan die koper gegee dat die perseel vir enige ander doeleindes as vir residensiële doeleindes gebruik mag word en/of dat die verkoper enige vergunning van die owerhede het om die perseel vir enige ander doeleindes te gebruik nie;
(7) het die koper erken dat hy die eiendom ondersoek het en homself tevrede gestel het met betrekking tot die toestand, kwaliteit, enige moontlike latente of patente gebreke en grootte daarvan en dat geen voorstellings gemaak of waarborge van watter aard ook al gelewer is deur of ten behoewe van die verkoper in verband daarmee nie;
(8) sou die verkoper alle salontoerusting en verwante goedere hetsy aan die perseel aangeheg of nie en op welke wyse die toerusting en verwante goedere ook al aangeheg was, voor datum van okkupasie verwyder en sou die verkoper enige skade aan die eiendom op eie onkoste herstel;
(9) indien die verkoper sou versuim om enige betalings ingevolge die kontrak op vervaldatum te maak of sou versuim om enige van die verpligtinge kragtens die kontrak hom opgelê na te kom sou die verkoper onder andere –
‘die reg hê om die ooreenkoms summier te kanselleer, in welke geval, Pieter Francois Swart (d.w.s. die huidige appellant), in sy persoonlike hoedanigheid, verplig sal wees om, indien okkupasie reeds geneem is van die perseel, die eiendom te ontruim en verplig sal wees om aan die koper ‘n bedrag van R60 000 (sestig duisend Rand) as voorafberaamde en ooreengekome skadevergoeding te betaal’
maar die verkoper sou slegs op hierdie reg geregtig wees indien –
‘hy per brief, wat aan die koper oorhandig is en waarvoor hy ‘n erkennning van ontvangs verkry het, of wat per geregistreerde pos gestuur is na die adresse soos vermeld in hierdie ooreenkoms, die koper verwittig het van die betrokke kontrakbreuk en van die koper eis om die verpligtinge na te kom binne ‘n tydperk van 7 (sewe) dae na oorhandiging van die brief aan die koper en waarvoor hy ‘n ontvangs erkenning gekry het, of binne 14 (veertien) dae na versending van die brief aan die adresse vermeld en die koper versuim het om aan sodanige eis gehoor te gee binne voormelde tydperk’;
(10) het die koper die volgende domicilium gekies vir enige prosesstuk en/of kennisgewing uitgereik uit hoofde van die kontrak –
(i) indien per vooruitbetaalde geregistreerde pos – Posbus 4044, Pretoria, 0001;
(ii) indien per telefaks – (012) 342 1195;
(iii) indien per hand afgelewer aan die koper persoonlik – Allcockstraat 181, Colbyn, Pretoria.
[3] Dit is gemene saak dat die koper nie ‘n waarborg vir die volle koopsom binne 20 dae na ondertekening van die kontrak of daarna aan Myburgh Ingelyf gelewer het nie; dat die koper nie okkupasie van die eiendom op 1 September 2001 of daarna geneem het nie; dat die koper die okkupasiehuur van R3 500 vir September 2001 op 19 September 2001 aan die verkoper betaal het; dat die koper se prokureur, Janse van Vuuren’s, op 31 Augustus 2001 ‘n skrywe aan Myburgh Ingelyf gerig het, wat op 31 Augustus 2001 by Myburgh Ingelyf afgelewer is en waarvoor ‘n ontvangs erkenning gekry is, waarin die verkoper die koper in kennis gestel het (a) dat die koper ‘n waarborg vir die volle koopsom binne 20 dae na ondertekening van die kontrak (d.w.s. voor of op 11 Julie 2001) moes lewer; (b) dat die koper nie ‘n waarborg gelewer het nie en (c) dat indien die koper nie die waarborg binne sewe dae na ontvangs van die skrywe deur Myburgh Ingelyf sou lewer nie, die verkoper die kontrak sou kanselleer, in welke geval, die appellant persoonlik aanspreeklik sou wees vir alle skade gely deur die verkoper as gevolg van die kontrakbreuk, insluitende die voorafberaamde skadevergoeding van R60 000 vermeld in klousule 9.2 van die kontrak; dat ‘n briewewisseling tussen die prokureurs, Janse van Vuuren’s en Myburgh Ingelyf, tussen 31 Augustus 2001 en 15 Oktober 2001 geskied het; dat op 10 Oktober 2001 Myburgh Ingelyf namens die koper, voorgegee het om die kontrak op grond van die verkoper se repudiasie te kanselleer en dat op 15 Oktober 2001 Janse van Vuuren’s namens die verkoper voorgegee het om die kontrak op grond van die koper se repudiasie te kanselleer.
[4] Die respondente het op 31 Oktober 2002 in die Pretoria landdroshof aksie teen die appellant ingestel. Die respondente het R60 000 in terme van klousule 9.2 van die kontrak as voorafberaamde en ooreengekome skadevergoeding sowel as skadevergoeding ten bedrae van R1 750 vir kontrakbreuk geëis. Vir hulle eerste eis het die respondente gesteun op die koper se versuim om die waarborg te lewer, sy versuim om na kennis in terme van klousule 9.3 van die kontrak sy versuim te suiwer en die respondent se kansellasie van die kontrak. Die respondente se tweede eis was vir betaling van skadevergoeding ten bedrae van R1 750 ten opsigte van agterstallige okkupasiehuur vir die tydperk 1 Oktober 2001 tot 15 Oktober 2001.
[5] Die appellant het die volgende verwere geopper –
(1) Die verkoper en koper het die kontrak gesluit op die basis van die veronderstelling dat die respondente reeds aansoek gedoen het om hersonering van die eiendom van spesiale woon na besigheid en dat daar geen rede bestaan het waarom die aansoek afgekeur sou word, welke veronderstelling verkeerd was;
(2) Die verkoper het voor kontraksluiting ‘n bedrieglike wanvoorstelling aan die koper gemaak deur voor te gee dat ‘n aansoek om hersonering van spesiale woon na besigheid reeds ingedien is, alternatiewelik, dat daar waarskynlik geen probleme is dat die aansoek goedgekeur sou word terwyl geen aansoek ingedien is nie, alternatiewelik daar verskeie probleme met die aansoek bestaan en dat die hersonering waarskynlik nie goedgekeur sou word nie en die koper het die kontrak op grond van daardie wanvoorstelling reeds gekanselleer;
(3) Die verkoper het die kontrak gerepudieer deur vaste verbeteringe wat nie salontoerusting en verwante goedere is nie, onregmatig uit die perseel te verwyder en die sleutels van die perseel terug te neem wat okkupasie van die eiendom vir die koper onmoontlik gemaak het as gevolg waarvan die koper die kontrak op 10 Oktober 2001 gekanselleer het;
(4) Die voorafberaamde en ooreengekome skadevergoeding van R60 000 is ‘n strafbeding in terme van artikel 3 van die Wet op Strafbedinge, 15 van 1962, en is buite verhouding tot die nadeel gely deur die verkoper en gevolglik verminder moet word.
[6] Die voorsittende landdros het nie enige bevindings ten opsigte van die getuies of die waarskynlikhede gemaak nie. Sy het bloot die argument van die respondente se advokaat aanvaar en dit as die basis van die uitspraak gebruik.
[7] Die verwere sal agtereenvolgens oorweeg word.
[8] Dit is duidelik dat partye ‘n kontrak kan sluit in die veronderstelling dat ‘n sekere feit bestaan. Indien hulle veronderstelling korrek is, is hulle gebind deur die kontrak. Indien hulle veronderstelling nie korrek is nie, is hulle nie aan die kontrak gebonde nie – sien Dickinson Motors (Pty) Ltd v Oberholzer 1952 (1) SA 443 (A) op 450B-E: Kontraktereg en Handelsreg, De Wet en Yates, 5de uitgawe 154 en volgende, 268.
[9] In hierdie saak het die partye uitdruklik ooreengekom dat geen voorstellings ten opsigte van die eiendom deur of namens die verkoper gemaak is wat aanleiding gegee het tot die ooreenkoms nie en dat die kontrak die volledige ooreenkoms tussen hulle beliggaam. Hulle het ook uitdruklik ooreengekom dat die verkoper geen waarborg gee dat die perseel vir enige ander doeleindes as vir residensiële doeleindes gebruik mag word en/of dat die verkoper nie enige vergunning van die owerhede het om die perseel vir enige ander doeleindes te gebruik nie. Die veronderstelling waarop die appellant steun is nie in die kontrak beliggaam nie en getuienis om dit te bewys is strydig met die parol evidence rule en ontoelaatbaar. Na my mening het die voorsittende landdros die getuienis wat die appellant wou aanbied om die veronderstelling te bewys tereg uitgesluit. Sien Marquard & Co v Bicard 1921 AD 366 op 373.
[10] In iedere geval, by ‘n nalees van die oorkonde is dit duidelik dat die getuienis van die respondente bo dié van die appellant verkies moet word. Die appellant en sy vrou was baie swak getuies wat nie logiese en samehangende getuienis gelewer het nie. Hulle getuienis klop ook nie met die waarskynlikhede nie. Indien die partye wou kontrakteer op die basis van die beweerde veronderstelling is dit opvallend dat hulle nie die hersonering ‘n voorwaarde van die kontrak gemaak het nie. Dit was voor die handliggend vir enige ervare besigheidsman soos wat die appellant beweer hy was. Dit is ook opvallend dat die veronderstelling nie in die korrespondensie genoem is nie en dat daar nie beweer is dat die partye weens die verkeerde veronderstelling nie deur die kontrak gebonde is nie. Toe die koper gepoog het om die kontrak te kanselleer het hy klaarblyklik die bestaan van die kontrak aanvaar en gesteun op ‘n repudiasie van die kontrak. Daar is geen meriete in hierdie verweer nie.
[11] Die verweer gebaseer op ‘n bedrieglike wanvoorstelling kan ook nie gehandhaaf word nie. Indien die voorstelling gemaak is, het die koper binne 21 dae na ondertekening van die kontrak geweet dat hy bedrieglik mislei is. Volgens die appellant kon hy nie ‘n waarborg lewer nie omdat die bank geweier het om ‘n lening toe te staan weens die sonering van die eiendom. Maar toe die verkoper die koper aangemaan het om die waarborg te lewer het die koper nie op die wanvoorstelling gesteun en die kontrak gekanselleer nie. En ten slotte het die koper nie op grond van die bedrieglik wanvoorstelling die kontrak gekanselleer nie. Sonder kansellasie is daar nie ‘n verweer nie – sien Bowditch v Peel and Magill 1921 AD 561, 572-573: The Law of Contract, R.H. Christie 4de uitgawe 331. Die kansellasie waarop die appellant steun was op grond van ‘n beweerde repudiasie van die kontrak deur die respondente.
[12] Die appellant beweer dat die respondente die kontrak gerepudieer het deur vaste verbeterings wat hulle nie geregtig was om te verwyder nie, verwyder het en dat hulle die sleutels van die perseel teruggeneem het – die implikasie is dat die koper nie okkupasie kon verkry nie. Die respondente ontken dat hulle vaste verbeterings verwyder het. Die appellant se getuienis in hierdie opsig was baie onbevredigend en onoortuigend. Daar was hoogstens ‘n ligbuis en ligkas wat verwyder is of wat verwyder sou word. Maar vir doeleindes van hierdie uitspraak is dit nie nodig om ‘n finale bevinding te maak nie. Dit sal aanvaar word dat die respondente wel items verwyder het wat hulle nie geregtig was om te verwyder nie. Dit sal ook aanvaar word dat die respondente op 19 September 2001 die sleutels van die perseel teruggeneem het. Die vraag is of hierdie optrede ‘n repudiasie van die kontrak was.
[13] Die maatstaf wat aangewend moet word om te bepaal of die respondente die kontrak gerepudieer het, is –
‘whether fairly interpreted it exhibits a deliberate and unequivocal intention no longer to be bound’.
Sien byvoorbeeld Inrybelange (Edms) Bpk v Pretorius en ‘n Ander 1966 (2) SA 416 (A) op 427A: Van Rooyen v Minister van Openbare Werke en Gemeenskapsbou 1978 (2) SA 835 (A) op 845A-B; OK Bazaars (1929) Ltd v Grosvenor Buildings (Pty) Ltd and Another [1993] ZASCA 56; 1993 (3) SA 471 (A) op 480I-J; Highveld 7 Properties (Pty) Ltd and Others v Bailes 1999 (4) SA 1307 (SCA) para 19.
In Highveld 7 Properties (Pty) Ltd and Others v Bailes supra het die hof in paragraaf 21 die regsposisie soos volg saamgevat:
‘Apart from the fact that it is a question of law, to be decided by the Court, whether the respondent’s conduct constituted a repudiation, the test which has to be applied to determine whether the original agreement was repudiated is an objective one. It follows that even a bona fide, subjective intention not to repudiate the agreement would not assist the respondent if he acted in such a way as to lead a reasonable person to the conclusion that he did not intend to fulfil his part of the original agreement. In Metalmil (Pty) Ltd v AECI Explosives and Chemicals Ltd [1994] ZASCA 96; 1994 (3) SA 673 (A) Howie JA and Mahomed AJA said at 684I-685C:
“It is probably correct to say that the respondent was bona fide in its interpretation of the agreement and that subjectively it intended to be bound by the agreement and not to repudiate it. This fact does not, however, preclude the conclusion that its conduct constituted repudiation in law. Respondent was not manifesting any intention to conduct its relations with appellant and to discharge its duties to appellant in accordance with what it was obliged to do on an objective interpretation of the agreement. In effect, it was insisting on a different contract, however bona fide it might have been in its belief that it was not. As was stated by Lord Wright in the case of Ross T Smyth & Co Ltd v T D Bailey, Son & Co [1940] 3 All ER 60 (HL) at 72B:
‘I do not say that it is necessary to show that the party alleged to have repudiated should have an actual intention not to fulfil the contract. He may intend in fact to fulfil it, but may be determined to do so only in a manner substantially inconsistent with his obligations, and not in any other way.’
The objective conduct of respondent in this case, in our view, entitled appellant to cancel the contract on the grounds that respondent had repudiated it even if respondent beleived that it was abiding by the contract.’
[14] Soos reeds vermeld het die koper nie op 1 September 2001 okkupasie van die perseel geneem of okkupasiehuur betaal nie. Die koper het ook nie binne 21 dae na ondertekening van die kontrak ‘n waarborg vir die koopsom gelewer nie. Op 17 September 2001 het die respondente se prokureur die koper aangemaan om die okkupasiehuur te betaal en in kennis gestel dat by gebreke aan betaling die respondente die kontrak sou kanselleer. Die koper se reaksie was om deur middel van sy prokureur ‘n aantal aangeleenthede op rekord te plaas. In ‘n skrywe gedateer 20 September 2001 het die koper beweer dat vaste aanhegtings teenstrydig met die bepalings van die kontrak verwyder is of verwyder sal word en dat die respondente die sleutels van die perseel teruggeneem het. Die optrede volgens die koper was ‘n repudiasie van die kontrak. Op 25 September 2001 het die respondente hierdie bewerings ontken. Met betrekking tot die beweerde repudiasie is die volgende gesê –
‘Ons vind dit vreemd dat u ons meedeel wat u kliënt se standpunt is met betrekking tot die okkupasiehuur terwyl u hom sekerlik moes adviseer wat die implikasies sou wees van klousule 5.1 van die ooreenkoms. Ons kliënt het die perseel ontruim ten einde okkupasie aan u kliënt te kan gee op 1 September 2001 en in die proses is sekere werksgeleenthede ook opgeskort. U kliënt is hiervan bewus. Mnr Swart is nou besig om na strooihalms te gryp deurdat die insident met die ligkas nou opgebring word en dit as ‘n verskoning te gebruik vir die kansellasie. Ons kliënte is egter bereid om die ligkas daar te laat indien u kliënt dit graag wil hê. Verder is dit mnr. Swart se vrou wat die sleutels uit eie beweging aan mev. Janse van Rensburg oorhandig het na die betrokke insident. Mev. Janse van Rensburg het haar nie versoek om dit terug te gee nie. Die sleutels is steeds beskikbaar ten einde u kliënt in staat te stel om okkupasie te neem op voorwaarde dat die huurgeld vir September 2001 in kontant betaal word voor of tydens oorhandiging van die sleutels. Die bewering dat ons kliënte die ooreenkoms gerepudieer het deur bogemelde “optrede”, is soos ons reeds gemeld het, ‘n gegryp na strooihalms.’
Op 28 September 2001 het die koper op hierdie bewerings soos volg geantwoord –
‘Soos uiteengesit in ons skrywe van 20 deser het u kliënt ons verhoed om te okkupeer en inderdaad kontrak gerepudieer deur nie die sleutels wat ons toegang tot die eiendom sou verleen aan mev. Swart te lewer nie. In hierdie verband word ons kliënt se regte voorbehou. Dit het inderdaad so gebeur dat ons kliënte alle relevante tye en weer ter goeder trou nadat partye ‘n gedeelte van die eiendom wou okkupeer, daar okkupasiehuur, sonder benadeling van regte, oorbetaal is. Terloops moet ons u in kennis stel dat ons nie in staat was om die betaling van die tjek te staak nie en is u kliënt inderdaad betaal vir die okkupasiehuur van September 2001 maar is ons kliënte weerhou daarvan om die eiendom te okkupeer.
U kliënte gryp inderdaad nie na strooihalms maar is die feite wat ons aan u voorhou wat u kliënt nie kan weerlê nie. Ons volstaan met die inhoud van ons skrywe van 20 deser in hierdie verband. Dit is duidelik dat veral wat betref u kliënte, ‘n misverstand kan bestaan oor die inhoud en interpretasie van wat u kliënt in terme van klousule 13.3 van die ooreenkoms mag verwyder al dan nie. Ons kliënt se standpunt is dat op ‘n korrekte interpretasie vaste aanhegtings nooit deel was van “alle salontoerusting en verwante goedere” nie en kon u kliënt derhalwe nie installasies asook die ligte en verdere vaste aanhegtings soos wasbakke verwyder nie. Die toegewing wat gemaak is geld duidelik ten opsigte van salontoerusting en verwante goedere wat roerend van aard is. Op ons kliënt se interpretasie van klousule 13.3 is daar duidelik derhalwe nie konsensus nie en is dit verdere grond waarop die kontrak gerektifiseer behoort te word. Wat betref die sleutels, moet ons dit net op rekord plaas dat die sleutels deur mev. Janse van Rensburg geneem is en nie aan ons kliënt terugbesorg is nie. Uit die houding van u kliënt om voort te gaan om die goedere te verwyder is dit duidelik dat daar nie okkupasie aan ons kliënt verleen word nie alternatiewelik dat daar okkupasie verleen word maar dat goedere wat verwyder word, u kliënt nie geregtig was om te verwyder nie. Hierdie optrede is duidelike repudiasie van die ooreenkoms ten opsigte waarvan ons kliënt sy regte voorbehou.’
Op 1 Oktober 2001 het die respondente se prokureur ‘n verdere skrywe aan die koper gerig waarin daar bevestig is dat die koper bereid is om voort te gaan met die transaksie en is die sleutels van die perseel weer oorhandig. Soos reeds vermeld het die koper nie okkupasie geneem nie.
[15] Dit blyk uit die getuienis dat die koper op 19 September 2001 in besit van die sleutels was, dat hulle op 20 September 2001 weer in besit van die respondente gekom het en op 1 Oktober 2001 weer aan die koper oorhandig is. Ten spyte hiervan het die koper nie die perseel geokkupeer nie. Dit blyk uit die briewewisseling dat die koper se prokureur die verwydering van die vaste aanhegtings aan ‘n verskil oor interpretasie van die bepalings van die kontrak toegeskryf het – nie aan ‘n bedoeling om nie aan die bepalings van die kontrak gebonde te wees nie. Gevolglik kan daar nie bevind word dat die respondent se optrede repudiasie daargestel het nie. Die koper was derhalwe nie geregtig om die kontrak te kanselleer nie en was sy kansellasie van die kontrak op 10 Oktober 2001 ‘n repudiasie daarvan.
[16] Die respondente het op 15 Oktober 2001 die koper in kennis gestel dat sy kansellasie van die kontrak ‘n repudiasie was en dat hulle die kontrak op grond daarvan kanselleer. Die vraag is of hierdie kansellasie die bepalings van klousule 9.2 van die kontrak in werking gestel het. Die respondente het reeds op 31 Augustus 2001 die koper, deur middel van ‘n skrywe van die respondente se prokureur aan die koper se prokureur, aangemaan om ‘n waarborg te lewer en die koper in kennis gestel dat indien die waarborg nie binne 7 dae gelewer word nie die respondente die kontrak sou kanselleer en die appellant aanspreeklik sou hou in terme van klousule 9.2 van die kontrak. Op 15 Oktober 2001 het die respondente dus twee gronde gehad waarop die kontrak gekanselleer kon word. Die respondente se kennisgewing van kansellasie op 15 Oktober 2001 het nie uitdruklik gesê dat die respondente die repudiasie van die koper aanvaar nie. Dit is vatbaar vir die uitleg dat die kontrak in terme van klousule 9 daarvan gekanselleer word. Klousule 9.2 het gevolglik in werking getree. Indien die respondente bedoel het om die repudiasie te aanvaar en daardeur die kontrak te kanselleer het die klousule in iedere geval in werking getree – sien Edengeorge Ltd v Chamomu Property Investments 1981 (3) SA 460 (T).
[17] Ten slotte, die vermindering van die strafbedrag in terme van artikel 3 van die Wet op Strafbedinge 15 van 1962. Die artikel lui as volg:
‘Indien dit by ‘n verhoor van ‘n eis vir ‘n strafbedrag vir die hof blyk dat daardie bedrag buite verhouding is tot die nadeel deur die skuldeiser gely weens die doen of late ten opsigte waarvan die strafbedrag beding is, kan die hof die strafbedrag verminder in die mate wat hy onder die omstandighede billik ag: Met dien verstande dat die hof by die bepaling van bedoelde nadeel nie slegs die skuldeisers se vermoënsbelang in ag neem nie maar ook enige ander regmatige belang wat deur die betrokke doen of late geraak word.’
Waar ‘n hof met ‘n strafbedrag te doen kry, rus die bewyslas op die skuldenaar om te bewys dat die strafbedrag buite verhouding is tot die nadeel wat die skuldeiser gely het en dat dit gevolglik verminder behoort te word en tot welke mate. Dit is ‘n vergunning wat die skuldenaar vir die hof vra, naamlik, dat die hof sy diskresie om die strafbedrag te verminder, in sy guns uitoefen omdat dit anders ongeregverdig teenoor hom sou wees as dit nie gedoen word nie. Wanneer die skuldenaar prima facie bewys gelewer het dat die strafbedrag verminder behoort te word dan rus daar ‘n weerleggingslas op die skuldeiser om die skuldenaar se prima facie te ontsenu, indien dit vir hom moontlik is – sien Smit v Bester 1977 (4) SA 937 (A) op 942D-F.
Die woord “nadeel” is gebruik en nie “skade” nie. Die artikel bepaal ook nie dat slegs vermoënsbelange in ag geneem word nie maar ook enige ander regmatige belang wat geraak word. In Van Staden v Central South African Lands and Mines 1969 (4) SA 349 (W) het die hof op 352G-H die volgende gesê –
‘It seems to me that everything that can reasonably be considered to harm or hurt, or be calculated to harm or hurt a creditor in his property, his person, his reputation, his work, his activities, his convenience, his mind or in any way whatever interferes with his rightful interests as a result of the act or omission of the debtor, must, if it is brought to the notice of the Court, be taken into account by the Court in deciding whether the penalty is out of proportion to the prejudice suffered by the creditor as a result of the act or omission of the debtor.’
In Western Credit Bank Ltd v Kajee 1967 (4) SA 386 (N) het die hof op 391C-D opgemerk –
‘What is contemplated, it seems to me, is that the penalty is to be reduced if it has no relation to the prejudice, if it is markedly, not infinitesimally, beyond the prejudice, if the excess is such that it would be unfair to the debtor not to reduce the penalty; but otherwise, if the amount of the penalty approximates that of the prejudice, the penalty should be awarded.’
[18] Die appellant se advokaat het toegeggee dat ten minste R13 000 vir hierdie eis toegestaan behoort te word. Hy het egter aangevoer dat die ander nadeel waarna die respondente in hulle getuienis verwys het nie relevant was vir doeleindes van die Wet op Strafbedinge nie. Die appellant het egter geen getuienis aangebied om te bewys dat die strafbedrag buite verhouding tot die nadeel gely was nie. Ek is nie daarvan oortuig dat die nadeel waarna die respondente verwys het nie in ag geneem moes word nie. Daar kan gevolglik nie met die bedrag ingemeng word nie.
[19] Alhoewel die landdros skadevergoeding ten bedrae van R1 750 ten gunste van die respondente toegestaan het, het dit tydens die aanhoor van die appèl geblyk dat die respondente nie daardie bevel gevra het nie. Indien dit uit die bevel sou geblyk het (die bevel is nie by die oorkonde ingesluit nie) sou die respondente onmiddellik daarvan afstand gedoen het. Die appèl teen daardie bevel moet derhalwe slaag maar dit raak nie die koste van die appèl nie.
[20] Die volgende bevel word gemaak:
(1) Die appèl teen die bevel vir betaling van skadevergoeding ten bedrae van R1 750 word gehandhaaf en daardie bevel word ter syde gestel;
(2) Die appèl teen die bevel vir betaling van voorafberaamde skadevergoeding ten bedrae van R60 000 word van die hand gewys;
(3) Die appellant word gelas om die koste van die appèl te betaal.
__________________
B.R. SOUTHWOOD
REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF
Ek stem saam
__________________
J.N.M POSWA
REGTER VAN DIE HOOGEREGSHOF