South Africa: High Courts - Gauteng Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Courts - Gauteng >> 2006 >> [2006] ZAGPHC 193

| Noteup | LawCite

Botha v Coetzee NO en Andere (29472/2005) [2006] ZAGPHC 193 (12 May 2006)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID AFRIKA

(TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)


Saak No: 29472/2005


Datum aangehoor: 24/03/2006

Datum van uitspraak: 12/05/2006


In die saak tussen:


M. E. BOTHA Appellant


en


A. COETZEE N.O. 1ste Respondent


J. F. BARNARD N.G. 2de Respondent


B. E. A. NAUDE N.G. 3de Respondent


UITSPRAAK


DU PLESSIS R:


Die respondente is die eksekuteurs in die boedel van wyle Mnr J. L. Botha. Die applikante het sedert Mei 1993 saam met die oorledene gewoon. Hulle is op 1 Julie 1994 met mekaar getroud buite gemeenskap van goedere en met uitsluiting van die aanwasbedeling. Ten tye van die dood van die oorledene op 18 Februarie 2004 was hulle steeds getroud.


Sedert die oorledene se dood het die respondente aan die applikante R4000 per maand onderhoud betaal. In April 2004 het die applikante ingevolge die bepalings van artikel 2 van die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades, 27 van 1990 (die Wet) 'n eis om onderhoud teen die boedel ingestel. Die respondente het die eis verwerp, volgens die applikante omdat hulle die quantum daarvan betwis het. In hulle beantwoordende verklaring beweer die respondente dat die eis as sodanig sowel, as die quantum daarvan in geskil is. Hoe dit ook sy, die partye het die aangeleentheid probeer skik en ook pogings aangewend om die eis vir arbitrasie te verwys. Hierdie onderhandelinge was onsuksesvol. Nadat die onderhandelinge beëindig is, op 4 Julie 2005, het die respondente aan die applikant se prokureur geskryf dat hulle besluit het “om die tussentydse maandelikse onderhoud van R4000 ... op te skort in die lig van die lang tydsverloop met die skikking of beregting van” die applikante se eis. In Augustus 2005 het die applikante teen die respondente aksie ingestel vir die verhaal van onderhoud ingevolge die Wet.


Die applikante doen nou aansoek vir 'n bevel dat die respondente gelas word om, hangende die afhandeling van die aksie R14 814,92 per maand onderhoud aan haar te betaal.


Die respondente voer in limine aan dat die regshulp nie toegestaan behoort te word nie omdat daar 'n aksie vir dieselfde regshulp hangende is – lis alibi pendens. Alhoewel die applikante se huidige aansoek ook op die Wet gegrond is, is die regshulp wat sy aanvra nie dieselfde as wat in die hangende geding aangevra word nie. Soos wat ek sal aantoon, is haar aansoek een vir tussentydse regshulp en sal die beslissing daarvan nie enige van die geskilpunte in die hangende geding afhandel nie.


Die respondente voer voorts aan dat daar geen voorsiening in die Wet is vir die betaling van tussentydse onderhoud nie en dat die aansoek om daardie rede nie kan slaag nie. Ek vind dit onnodig om te beslis of In oorlewende gade ingevolge die Wet tussentydse onderhoud kan vorder. Ek volstaan met die volgende opmerking: Ingevolge artikel 26(1A) van die Boedelwet, 66 van 1965 het ‘n eksekuteur die bevoegdheid om voorsiening te maak vir die onderhoud van die oorledene se gesin. As die eksekuteur dit nie doen nie, is daar veel daarvoor te se dat die langslewende gade hom by wyse van ‘n hofbevel kan dwing om dit te doen terwyl "n eis om onderhoud ingevolge die Wet afgehandel word.


In hierdie saak is dit onnodig om verder op die reg op tussentydse onderhoud ingevolge die Wet of die Boedelwet in te gaan omdat die respondente reeds in die verlede onderhoud aan die applikante betaal het. Of hulle dit gedoen het omdat hulle die applikante se eis in beginsel erken en of hulle dit ingevolge die gemelde artikel 26(1A) van die Boedlewet gedoen het, is nie tans ter sake nie. Dit staan vas dat hulle dit gedoen het, en dat hulle, toe die aksie ingestel is, die status quo versteur het deur daarmee op te hou. As die applikante aan die vereistes vir ‘n tussentydse interdik voldoen, meen ek dat sodanige interdik tot haar beskikking is om die status quo te herstel (Vgl. die definisie van ‘n tussentdyse interdik in Harms, Civil Procedure in the Supreme Court paragraaf A5.6). Ek oorweeg dus of die applikante aan die vereistes vir 'n tussentydse interdik voldoen.

Artikel 2(1) van die Wet bepaal:

Indien 'n huwelik na die inwerkingtreding van hierdie Wet deur die dood ontbind word, het die langslewende 'n vordering teen die boedel van die afgestorwe gade vir die voorsiening in sy eie redelike onderhoudsbehoeftes tot by sy dood of hertroue vir sover hy nie uit eie middele en verdienste daartoe in staat is nie.”


Die vraag is dus of die applikante prima facie aangetoon het dat sy nie uit eie middele in staat is om aan haar redeliek onderhoudsbehoeftes te voldoen nie. Om dit vas te stel, moet die oorwegings vermeld in artikel 3 van die Wet in ag geneem word. Artikel 3 lui soos volg:

By die bepaling van die redelike onderhoudsbehoeftes van die langslewende word, benewens enige ander faktor wat in aanmerking geneem behoort te word, die volgende faktore in ag geneem:


(a) Die bedrag in die boedel van die afgestorwe gade beskikbaar vir verdeling aan erfgename en legatarisse;


(b) Die bestaande en verwagte vermoens, verdien vermoe, geldelike behoeftes en verpligtinge van die langslewende en die duur van die huwelik; en


(c) Die lewenspeil van die langslewende tydens die duur van die huwelik en sy ouderdom by die dood van die afgestorwe gade.”


Ek oorweeg vervolgens elkeen van die paragrawe van artikel 3.


Die netto waarde van die balans beskikbaar vir verdeling in die oorledene se boedel beloop R18 486 296,45. Daar is R2 480 094,93 kontant beskikbaar vir verdeling.


Die applkante het R200 000,00, 'n 1989 Mercedes Benz voertuig en die vruggebruik op ‘n staanhorlosie en ‘n skildery van die oorledene geërf. Nadat daardie bates in ag geneem is, beskik die appellante oor die volgende bates: ‘n Leningsrekening ten bedrae van R300 000 in ‘n beslote korporasie wat die eienaar van ‘n meenthuis is; ‘n meenthuis wat ten volle betaal is ter waarde van R400 000; ‘n kontantbelegging van R31 914,81; meubels en huishoudelike goed ter waarde van R30 000. Die motor wat sy geërf het is R34 000 werd en sy plaas 'n waarde van R8000 op die vruggebruik. Die applikante is 65 jaar oud en haar verdienvermoë sowel as haar vermoë om haar bates wesentlik te vermeerder is dus beperk. Sy verdien ‘n pensioen van R2665,08. Gp die leningsrekening in die beslote korporasie verdein sy R2000 per maand. Haar kinders woon in die meenthuis. Alhoewel hulle nie huur betaal nie, neem die applikante tereg in ag dat sy uit die verhuur van die meenthuis sowat R2000 per maand inkomste kan verdien. Die opbrengs op die kontanbelegging is sowat R250 per maand. Die applikante het dus 'n maandelikse verdienvermoë van sowat R6800.


Die applikante beweer dat haar maandelikse behoeftes R21 480, 00 beloop. Die respondente betwis dit, en voer aan dat van haar uitgawes onnodig luuks is. Vir die respondente het Me Foulkes-Jones betoog dat die respondente se weergawe van die applikant se behoeftes in die lig van die feitegeskil daaroor aanvaar moet word. Ek stem nie saam nie. Die applikante moet haar behoeftes prima facie aantoon, en die feit dat daar en mate van twyfel oor mag bestaan het nie tot gevolg dat die respondent se weergawe aanvaar moet word nie. Die hof moet al die bewerings oorweeg en op grond daarvan met in agneming van die waarskynlikhede en die bewyslas wat in die hoofgeding op die applikant rus, bepaal wat die applikant waarskynlik uiteindelik sal bewys haar behoeftes is (Harms, a.w. para. A.5.8). By oorweging van watter bedrag die applikat waarskynlik op geregtig sal wees moet in ag geneem word dat sy vir bykans 10 jaar met die oorledene, In besonder vermoënde man, getroud was.


Die applikante voer aan dat sy en die oorledene en luukse lewenspeil gehandhaaf het. Ten aansien daarvan het een van die oorledene se kleinkinders en eedsverklaring gemaak waarin hy aanvoer dat die lewenspeil glad nie so luuks was nie. Alhoewel dit uit die stukke blyk dat die oorledene nie geld vermors het nie, staan dit soos ‘n paal bo water dat hy besonder vermoënd was. Ek meen dus dat die saak benader moet word op die basis dat die partye ‘n hoë lewenspeil gehandhaaf het, maar nie uitspattig nie.


Teen die agtergrond wat ek hierbo geskets het, meen ek nie dat die applikant se beweerde behoefte van R21 480,00 onrealisties is nie. Ek moet egter in ag neem dat juis dit nog deur die verhoorhof bepaal moet word en dat baie faktore ‘n rol by so en bepaling speel.


Die applikante woon tans by haar seun en skoondogter aan huis en kan, in die lig van haar inkomste, nie wesentlik tot hulle uitgawes bydra nie. Tot ‘n mate is dit die gevolg daarvan dat sy haar meenthuis kosteloos aan ‘n kind beskikbaar stel.


Selfs al sou sy huur vir die meenthuis vra, is haar inkomste nog relatief laag. Indien tussentydse onderhoud nie aan haar toegestaan word nie, bestaan die gevaar dat sy van haar kapitaal sal moet aanwend wat op sy beurt weer die gevaar skep dat sy op meer gevorderde ouderdom met te min geld sal sit. Ek meen dus dat daar wel ‘n redelike vrees bestaan dat die applikant onherstelbaar skade kan ly as tussentydse onderhoud nie toegestaan word nie. Ek moet egter daarop wys dat ek meen dat die applikante se reg op onderhoud sodanig duidelik is dat onherstelbare skade nie noodwenig In voorvereiste is vir die regshulp wat sy aanvra nie.


Indien tussentydse onderhoud toegestaan word, en die applikante slaag nie in die hoofaksie nie, kan die boedel onherstelbaar skade ly. Ook in hierdie verband meen ek egter dat die eis sodanig duidelik is dat die gevaar dat die boedel skade mag ly nie oormatig swaar behoort te weeg nie.


Soos wat uit die bepalings van art. 3 van die Wet blyk, is die redelike onderhoudsbehoeftes van ‘n persoon relatief. Dit hang van baie faktore af, maar dit is vanselfsprekend dat die weduwee van ‘n man so welgesteld as die oorledene se behoeftes hoer as die gewone sal wees. Ek laat my nie uit oor die bedrag van R21 480,00 wat die applikante as haar behoefte aanvoer nie. Die respondente voer aan dat sy in die omgewing van R 10 000 per maand benodig. Ek meen dat dit oormatig konserwatief is. Alles in ag genome meen ek dat sy uiteindelik daarin sal slaag om ‘n totale behoefte van minstens R 15 000 aan te toon.


Ek het aanvanklik daarop gewys dat die respondente aan die aplikante R 4 000 per maand onderhoud betaal het en die status quo versteur het deur dit te staak. Die vraag is nou of hierdie hof gebonde is om slegs R 4 000 per maand onderhoud toe te staan ten einde die status que te herstel. Ek meen nie so nie. Die applikante het ‘n sterk saak daarvoor uitgemaak dat sy uiteindelik daarin sal slaag om te bewys dat sy op onderhoud geregtig is. Dit is daardie prima facie reg op onderhoud wat die respondente versteur het en wat herstel moet word. Uit wat ek hierbo se blyk dit dat die applikante waarskynlik op veel meer as R 4 000 geregtig is. Daar is na my oordeel geen rede om haar tussentydsereg tebeperk tot ‘n bedrag wat klaarblyklik ver minder is as waarop sy tans geregtig is nie.


Wat koste betref, is dit duidelik dat die respondente aanvanklik die applikante se reg op onderhoud aanvaar het. Alhoewel hulle nou ntken dat sy hoegenaamd 'n reg op onderhoud het, is dit klarblyklik nie die wesenlike geskil nie. Die geskil gaan oor die quantum. Die respondente se besluit om die onderhoud te staak het die aansoek genoodsaak. In die omstandighede meen ek dat die respondente, in hulle verteenwoordigende hoedanigheid die koste van die applikante moet betaal.


Bygevolg word die volgende bevel gemaak:

1 Die respondente word gelas om hangende die finale afhandeling van die hoofgeding in saaknommer 29460/2005 ‘n bedrag van R8200,00 per maand onderhoud aan die applikante te betaal.

2 Die eerste betaling ingevolge hierdie bevel moet voor of op 20 Mei 2006 gemaak word, en daarna voor of op die sewende dag van elke daaropvolgende maand, insluitende Junie 2006.

3 Die respondente word gelas om die koste van die aansoek te betaal.



B. R. DU PLESSIS

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF