South Africa: High Courts - Gauteng Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Courts - Gauteng >> 2007 >> [2007] ZAGPHC 153

| Noteup | LawCite

Joubert en 'n Ander v Bezuidenhout (23333/00) [2007] ZAGPHC 153 (22 August 2007)

Download original files

PDF format

RTF format





IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID - AFRIKA

(TRANSVAAL PROVINSIALE AFDELING)



SAAKNR: 23333/00

DATUM: 22/08/2007

RAPPORTEERBAAR


In die saak tussen:



C JOUBERT Eerste Eiseres



C JOUBERT NO Tweede Eiseres




en




I BEZUIDENHOUT Verweerder




UITSPRAAK


Coram: RABIE R:


  1. Die eiseres het in hierdie saak in haar persoonlike hoedanigheid sowel as in haar hoedanigheid as moeder en wettige voog van haar minderjarige seun B ‘n eis teen die verweerder ingestel vir skade gely vanweë die beweerde nalatigheid van die respondent tydens ‘n operasie wat hy op B uitgevoer het op 19 September 1997 te die Garden City Kliniek in Johannesburg.


  1. Die verweerder het die eis opponeer ten opsigte van sowel die kwessie van aanspreeklikheid as die quantum van die bedrag geeis. Die partye het ooreen­gekom dat die verweerder, sonder om nalatigheid daardeur te erken, aanspreek­lik­­heid teenoor die eiseres in haar persoonlike en verteenwoordigende hoedanig­hede aanvaar vir betaling van 90% van die skade wat deur haar en deur B gely is as gevolg van die komplikasies wat tydens die chirurgie van 19 September 1997 ontstaan het. Die verhoor voor hierdie hof het dus uitsluitlik gehandel met die quantum van die eiseres se eise.


  1. Alvorens ek meer in besonder na die verskillende eise verwys is dit nodig om kortliks die agtergrond van die saak weer te gee.


  1. B is op 2 Mei 1995 gebore en op 17 Junie 1997, toe hy ongeveer twee jaar oud was, het die verweerder ‘n kraniotomie op hom uitgevoer waartydens ‘n aragnoiedkieste in die linker temporale gebied van die brein suksesvol dreineer is. Die kieste het egter weer vergroot en op 19 September 1997 het die verweerder verdere chirurgie op B uitgevoer waartydens hy die kieste dreineer het met ‘n kieste-peritoneale omleiding. Tydens en na die uitvoering van hierdie operasie het daar komplikasies ingetree in die vorm van, onder andere, ‘n intra-serebrale hematoom. ‘n Ander mediese praktisyn het later op dieselfde dag ‘n nood kraniotomie op B uitgevoer maar op daardie stadium was daar reeds ekstensiewe breinskade waarvan B nooit sal herstel nie.


  1. Behalwe vir die littekens veroorsaak deur die prosedures ly B aan ernstige neuro-fisiese afwykings en presenteer hy ook met ernstige neuro-sielkundige en kognitiewe probleme. Wat betref die neuro-fisiese afwykings blyk dit dat B kommunikasie probleme het, dat hy nie homself ten volle kan uitdruk nie en nie werklik kan sê wat hy wil sê of doen nie. Hy ly ook aan ‘n regssydige hemiparese en in besonder is sy arm en been aangetas. Die funksie van die arm is geweldig ingeperk en hy kan nie enige aktiewe funksie met sy regterhand verrig nie. Die been is minder erg aangetas maar hy loop mank en neig na die regterkant toe. Na die voorval het B ook epileptiese aanvalle begin kry wat op hierdie stadium redelik effektief behandel word en onder beheer blyk te wees.


  1. Wat B se neuro-sielkundige en kognitiewe probleme betref is die partye dit eens dat B sodanig aangetas is dat hy nooit in die toekoms na homself sal kan kyk of homself sal kan versorg nie. Sy geheue en konsentrasie vermoë is erg ingeperk en hy raak gou rusteloos en aggressief as hy iets nie kan baasraak nie. B het permanente fisiese, intellektuele, sosiale, en persoonlik­heidsagterstande en funksio­neer op ‘n basiese vlak soortgelyk aan die van ‘n 2 tot 3 jarige kind. B is op hierdie stadium 12 jaar oud. Hy is en sal altyd afhanklik bly van konstante toesig deur ander. Hy sal uiteraard nooit in die ope arbeidsmark kan funksioneer nie en sal aangewese wees op alle vorme van versorging, ook wat betref sy persoonlike behoeftes en benodighede.


  1. Die skadevergoedingseis wat teen die verweerder ingestel is, was verdeel in die gebruiklike hoofde waarin skadevergoeding van hierdie aard normaalweg verdeel word. Die partye het daarin geslaag om meeste van hierdie eise te skik en slegs enkeles daarvan het oorgebly vir beregting deur hierdie hof. Ek verwys vervolgens kortliks na die eise wat reeds geskik is.


  1. Die eiseres se eis in haar persoonlike hoedanigheid, dit wil sê die eis vir gelede mediese koste, is geskik op ‘n bedrag van R118 336.03. Ten aansien van hierdie eis, en so ook ten aansien van die ander eise wat geskik is, moet die bedrae aangepas word ten einde voorsiening te maak vir die 90% van die skade waarvoor die verweerder aanspreeklikheid aanvaar het. Die finale bedrag in hierdie verband is derhalwe R106 502,43.


  1. Die eis ten opsigte van toekomstige hospitaal-, mediese- en verwante uitgawes is deur die partye geskik op die bedrag R658 576.00. Volgens die partye se skikking is hierdie bedrag egter steeds onderhewig aan die verweerder se voorbehoud van die reg om te argumenteer dat gebeurlik­heids­aftrekkings gemaak moet word ten opsigte van sekere van die items wat hierdie bedrag verteenwoordig. Ek verwys later weer na hierdie aspekte.


  1. Die partye het verder ooreengekom op ‘n bedrag van R650 000.00 ten opsigte van algemene skadevergoeding.


  1. Die partye het verder ooreengekom dat dit aangewese is dat hierdie hof ‘n curator bonis vir B aanstel en verder dat die curator bonis se koste 7.5% sal beloop van die bedrag wat aan die eiseres in haar verteenwoor­dig­ende hoedanigheid toegeken word.


  1. Ten opsigte van die eis vir verlies aan toekomstige verdienvermoë het die partye ooreengekom dat die basiese syfer van R2 miljoen beskou moet word as ‘n redelike aanname van B se pre-morbiede verdienvermoë en ook dat geen van die partye geregtig is om aan te voer dat die bedrag liberaal of konserwatief bereken is nie. Ek verwys later weer na hierdie aspek.


  1. Die eis vir toekomstige mediese uitgawes was onderverdeel in ongeveer 47 aparte items. Die partye het daarin geslaag om ten opsigte van meeste van hierdie items ooreenkoms te bereik, sommige waarvan op ooreen­gekom is tydens die loop van die verhoor, en uiteindelik het slegs twee items oorgebly vir beregting deur hierdie hof.


  1. Die oorblywennde dispuutpunte wat hierdie hof moet bereg is derhalwe die volgende:

1. Die gepaste gebeurlikheidsaftrekking, indien enige, wat gedoen moet word ten opsigte van die verlies aan verdienste en aan verdien­­vermoë;

2. Die gepaste gebeurlikheidsaftrekking wat gemaak moet word ten opsigte van die onderskeie ooreengekome items onder die opskrif toekomstige hospitaal, mediese en verwante uitgawes;

3. Die eis vir arbeidsterapie;

4. Die eis vir institusionalisering.


  1. Die groot aantal items waaroor die partye ooreenkoms bereik het, het daartoe aanleiding gegee dat die eiser uiteindelik slegs een deskundige se getuienis en die getuienis van die eiseres aangebied het. Die verweerder het geen mondelinge getuienis voor die hof geplaas nie.


Die Eis vir Arbeidsterapie:

  1. Ek handel eerstens met die eis vir arbeidsterapie. Hierdie eis handel met arbeidsterapie wat B sal benodig in die afsienbare toekoms. Me W van der Walt, ‘n arbeidsterapeut wat namens die eiseres opgetree het, het ‘n verslag in hierdie verband uitgebring en ook daaromtrent in die hof getuig. By ooreenkons tussen die partye is die koste-beraming wat Me van der Walt gedoen het ten opsigte van arbeidsterapie wat B volgens haar sal benodig, aktuarieel bereken en het hierdie bedrag op R47 906.00 te staan gekom.


  1. Namens die verweerder is die toekenning van hierdie bedrag aangeval. Adv Delport SC, wat namens die verweerder verskyn het, het in die eerste plek aangevoer dat hierdie bedrag bereken is op die basis van wat Me van der Walt in haar verslag aangevoer het naamlik dat, volgens haar mening, B ongeveer dertig uur per jaar sal benodig totdat hy 13 jaar oud word en daarna ongeveer twintig uur per jaar tot die ouderdom van 18 jaar. Aangesien die aktuaris die aanbevole dertig uur per jaar tot ouderdom 13 bereken het op ‘n basis van ‘n verdere 2 jaar, en aangesien B op 2 Mei 2007 twaalf jaar oud word, het Adv Delport betoog dat die berekening derhalwe oor ‘n tydperk van 14 maande gedoen moes gewees het en nie ‘n tydperk van 24 maande nie.


  1. In die tweede plek het Adv Delport betoog dat ‘n toekenning vir arbeids­terapie slegs nodig sal wees indien arbeidsterapie nie by die Alta du Toit skool, waar B tans is, op ‘n individuele basis toegepas word nie. Dit is nodig om voorlopig iets te sê oor die instansie waar B homself tans bevind. Hy is tans in die Alta du Toit skool vir gestremde kinders in Belville in die Wes-Kaap provinsie. Die partye is dit eens dat B in hierdie skool sal bly tot hy 18 jaar oud is. Daarna is daar ‘n moontlikheid dat hy in die Alta du Toit nasorg sentrum sal kan aanbly tot en met sy dood. Oor die vraag of hy in hierdie sentrum sal aanbly dan wel in ‘n ander sentrum geakkommodeer sal moet word, sal ek hieronder weer na verwys. Die vraag onder bespreking is of daar voorsiening gemaak behoort te word vir B om arbeidsterapie te kan ontvang vir solank as wat hy in die Alta du Toit skool is tot hy die ouderdom van 18 jaar bereik.


  1. Volgens die getuienis van die eiseres het B arbeidsterapie ontvang vir solank as wat hy in die sogenaamde junior fase van die Alta du Toit skool was. Hy het aan die begin van hierdie jaar, 2007, na die senior fase van die skool oorbeweeg en dit is haar indruk dat daar nie meer arbeids­terapie aan B voorsien word nie. Volgens haar word sekere arbeidsterapeutiese hulpmiddels soos byvoorbeeld die handspalk wat B saans moet dra, ook nie meer aan hom voorsien nie en sal sy self daarvoor voorsiening moet maak in die toekoms. Namens die verweerder is hierdie getuienis van die eiseres gekritiseer op die basis dat sy geen persoonlike kennis daarvan het nie en dat dit slegs ‘n afleiding is wat sy maak. Daar is dus, wat die respondent betref, geen getuienis dat B nie enige arbeidsterapie op ‘n individuele basis in die toekoms sal ontvang nie en gevolglik dat geen toekenning in hierdie verband gemaak behoort te word nie. Daar was egter geen getuienis deur die verweerder aangebied wat die eiseres se getuienis teengespreek het nie.


  1. Namens die eiseres het Adv Mullins SC ten sterkste beswaar gemaak teen hierdie submissies namens die verweerder. Hy het onder andere betoog dat die partye ooreengekom het dat die voornoemde gekapitaliseerde bedrag die arbeidsterapie verteenwoordig waarop B geregtig is en dat die verweerder nie nou geregtig is om die grondslag van die berekening, byvoorbeeld met verwysing na die aantal jare ter sprake, aan te val nie en nog minder die vraag of dit hoegenaamd nodig sal wees.


  1. Ek is geneig om met die argument namens die eiseres saam te stem. Die partye het ooreengekom om die getuienis van Me van der Walt aktuarieel te laat bereken op die basis en op die grondslag soos uiteengesit in haar verslag. Dit is duidelik dat die aantal ure per jaar wat sy geag het redelik te wees en ook dat die aantal jare waartydens hierdie behandeling toegepas moet word, redelik is en dat dit alles by benadering is. Hierdie grondslag en berekenings is by ooreenkoms aanvaar en aktuarieel laat bereken. Die verhoor is benader en gedryf, ten minste aanvanklik, op die basis dat hierdie berekenings korrek en op die korrekte grondslag gedoen is, welwetende dat aannames gemaak is oor ‘n onderwerp wat nie met absolute presiesheid bepaal kan word nie. Ek stem met Mnr Mullins saam dat indien hierdie kwessies wat nou deur die verweerder geopper word op ‘n vroeër stadium geopper was en die eiseres daarop attent gemaak was dat dit in dispuut sou wees, die eiseres se saak klaarblyklik anders aangebied sou gewees het. Dit is nie op hierdie stadium moontlik om die aktuariële berekenings te verander of aan te pas aan die hand van ander feite, wat boonop grootliks onbekend is, en dit was duidelik ook nie die bedoeling van die partye dat dit so gedoen sou moes word nie. ‘n Verdere faktor is dat daar geen getuienis namens die verweerder voorgelê is dat daar wel arbeidsterapie aan B gegee sal word vir solank as wat hy nog in die Alta du Toit skool is nie. Hierdie aspek sou sekerlik maklik met een telefoon oproep opgeklaar kon gewees het as dit maar die saak van die verweerder op ‘n vroeër stadium was.


  1. Adv Delport het betoog dat indien die hof van mening sou wees dat bloot op ‘n gebeurlikheidsbasis voorsiening gemaak behoort te word vir die moontlikheid dat B wel in die toekoms nie arbeidsterapie van die skool sal ontvang nie, dit billik sou wees om ‘n globale bedrag van ongeveer R25 000.00 onder hierdie hoof toe te laat. Ek is van mening dat hierdie voorstel nie aanvaar kan word nie. Soos ek reeds gesê het, is hierdie kwessie op een basis voor die hof gebring en sou dit verkeerd wees en afbreuk doen aan die partye se ooreenkoms indien daar nou lukraak aan die ooreengekome bedrag verander word. Dit sou ook nadeel vir die eiseres inhou indien die verweerder toegelaat word om feite tot ‘n dispuut te verhef wat nooit voorheen tussen die partye as sodanig geïdentifiseer was nie. Ek bevind gevolglik dat daar geen regverdiging bestaan om ‘n toekenning ten opsigte van hierdie item te maak wat neerkom op ‘n vermindering van die berekende bedrag van R47 907.00 nie.


Die Eis vir Institusionalisering:

  1. Dit is gemene saak dat B vir die res van sy lewe versorging sal nodig hê. Hy het dit nodig ten opsigte van sy toilet benodigdhede, om aan te trek, te eet, om homself besig te hou, en dies meer. Daar is wel sekere goed wat B aangeleer het om self te doen maar daar is geen sprake daarvan dat hy totaal onafhanklik sal kan funksioneer nie. Hy sal ook nooit alleen iewers heen kan gaan of homself vervoer of in die algemeen homself kan handhaaf nie. Hy sal vir die res van sy lewe dus in ‘n inrigting moet bly of elders gehuisves word waar hy konstante toesig en hulp ontvang of iemand sal hom op ‘n konstante basis moet bystaan. B is wel goed bewus wat om hom aangaan en kan die lewe geniet. Hy kan op uitstappies gaan, bioskoop toe gaan, restaurante en ander plekke besoek, televisie kyk, ensovoorts. Hy moet dit net onder toesig doen. Die eerste vraag wat dus beantwoord moet word is watter bedrag toegeken moet word om vir sy versorging of institusionalisering voorsiening te maak.


  1. Dit is weer eens die getuienis en verslag van Me van der Walt wat in hierdie opsig relevant is asook in besonder ‘n aanvullende verslag wat sy opgestel het. Me van der Walt is in die algemeen van mening dat B die beste sal kan funksioneer in ‘n inrigting wat voorsiening maak vir mense met fisiese en verstandelike gestremdheid en dat hy ook goed sal funksioneer in ‘n instansie waar daar ‘n sogenaamde beskermde werkswinkel is. Die doel van hierdie tipe werkswinkels is nie so seer om die pasiënt enige besondere kundigheid aan te leer om later byvoorbeeld te kan gebruik nie, maar om so ‘n pasiënt sinvol en gelukkig besig te hou.


  1. Me van der Walt het verwys na die alternatief tot sulke inrigtings en dit is naamlik dat B iewers privaat gehuisves sal moet word en dan ‘n private huishoudster sal moet hê wat deur ‘n agentskap aan hom voorsien sal word. Hierdie opsie blyk moontlik meer as dubbel so duur te wees as versorging in ‘n inrigting maar boonop blyk dit dat in so ‘n situasie iemand soos B waarskynlik nie so gelukkig sal wees nie. In ‘n inrigting is daar ander pasiënte wat aan dieselfde of soortgelyke gestremdhede ly en is hulle in ‘n sin geselskap vir mekaar terwyl ‘n persoon in privaat versorging maklik vereensaam. Volgens Me van der Walt is dit egter ook so dat ‘n pasiënt, en moontlik eendag ook B, nie meer in ‘n inrigting sal kan funksioneer nie byvoorbeeld indien sy aggressie toeneem en so ‘n toestand bereik dat hy nie meer sinvol tussen ander pasiënte kan funksioneer nie. Daar was wel getuienis dat B tans gefrustreerd word en tekens van aggressie toon, veral wanneer hy nie ‘n besondere taak kan baasraak nie, maar na my mening is daar op hierdie stadium nie genoegsaam aanduidings dat B uiteindelik nie meer in ‘n inrigting gehuisves sal kan word nie. Dit is egter nie ‘n aspek wat sonder meer geïgnoreer kan word nie en mag in gedagte gehou word vir doeleindes van die algemene gebeurlikhede waarna ek hieronder sal verwys.


  1. Ten aansien die kwessie van inrigtings blyk dit uit die getuienis en verklaring van Me van der Walt dat daar inrigtings is soos die Alta du Toit nasorgsentrum wat vir hierdie tipe pasiënte voorsiening maak en waar die tariewe tussen ongeveer R1200.00 en R1500.00 per maand beloop. Daar is ook ander instansies waar die akkomodasie tussen ongeveer R3500.00 en R4500.00 per maand beloop. Ongelukkig was daar nie genoegsaam getuienis voor hierdie hof om bo enige twyfel ‘n oordeel te kan vel oor die verskille tussen hierdie twee tipes inrigtings nie en presies waarom daar ‘n verskil in die maandelikse tariewe is nie. Ek sal hieronder weer na hierdie aspek verwys.


  1. Namens die eiseres is betoog dat dit nie net die betrokke tarief van die inrigting is wat relevant is by ‘n toekenning van hierdie aard nie maar dat ook die kwaliteit van die inrigting in ag gehou moet word en ook die mate waartoe B, of dan eerder sy familie en sy curator bonis, ‘n keuse in hierdie verband behoort te hê. B behoort dus, aldus hierdie betoog, ‘n toekenning te ontvang wat hom in staat stel om in ‘n ander inrigting as die Alta du Toit nasorgsentrum, en wat soortgelyk is, versorg te word en meer in besonder daardie inrigtings wie se tariewe tans tussen R3500.00 en R4500.00 per maand beloop.


  1. Namens die verweerder is betoog dat B in die Alta du Toit nasorg­sentrum huisvesting behoort te kan kry en dat daar geen saak uitgemaak is waarom daar aan hom ‘n keuse gegun moet word om in ‘n duurder inrigting versorg te word nie. Dit is verder betoog dat dit bloot spekulasie is dat B in die toekoms sodanig ongelukkig sal word dat hy nie meer in die Alta du Toit nasorgsentrum sal kan aanbly nie en, verder, dat so ‘n besluit in elke geval nie by B sal lê nie maar by sy moeder met inagneming van al die omstandig­hede. Derdens is betoog dat dit nie verwag kan word van die verweerder om vir ‘n duurder inrigting te betaal waar daar “‘n mate van ongelukkigheid by die minderjarige is om in ‘n gevestigde inrigting waar hy goeie sorg ontvang aan te bly”, en vierdens, dat vir sover daar wel ‘n keuse aan hom gegun moet word, dit duidelik is uit die getuienis dat daar ander heelwat goedkoper gesubsidieerde inrigtings is wat ook ‘n goeie keuse sal bied. Dit was voorgehou dat in die omstandig­hede dit van B verwag kan word om, indien hy wel van inrigting wil verskuif, na ‘n soortgelyke goedkoper gesubsidieerde inrigting te gaan.


  1. Wat die tariewe van die Alta du Toit nasorgsentrum betref blyk dit op die getuienis dat daar tans residensiële sorg gebied kan word in ‘n soge­naamde gesubsidieerde koshuis en in ‘n sogenaamde ongesubsidieerde woonreg koshuis. Die tarief vir ‘n gesubsidieerde koshuis word bereken soos volg: ‘n ongeskiktheid pensioen wat tans R820.00 per maand beloop plus ‘n bedrag van tussen R360.00 en R480.00 per maand volgens die persoon se versorgingsbehoeftes. Die tarief vir die ongesubsidieerde woonreg koshuis beloop tussen R1360.00 tot R1500.00 per maand volgens die persoon se versorgingsbehoeftes. By die Alta du Toit nasorgsentrum is daar ook die moontlikheid om ‘n sogenaamde woonreg eenheid te koop. Hiervoor is die tariewe R150 000.00 per persoon vir plek in ‘n dubbel kamer, R255 000.00 vir ‘n enkel kamer, R275 000.00 vir ‘n enkel kamer met ‘n badkamer en R300 000.00 vir ‘n een-man woonstel.


  1. Volgens die verweerder behoort ‘n toekenning gemaak te word in die bedrag van R368 211.00 wat die gekapitaliseerde bedrag verteenwoordig wat vir ‘n ongesubsidieerde woonreg koshuis teen R1500.00 per maand voorsiening sou maak. Die verweerder sê ook dat hierdie bedrag nie met enige gebeurlikhede verminder behoort te word nie.


  1. Volgens die eiseres se betoog behoort ‘n bedrag van R981 895.00 ten opsigte van hierdie item toegeken te word. Hierdie bedrag verteenwoordig die gekapitali­seerde waarde van ‘n inrigting wat tans ‘n maandelikse tarief van R4000.00 het. Dit is die middel punt van die inrigtings waaroor Me van der Walt getuig het wat tariewe hef van tussen R3500 en R4500 per maand.


  1. Ter regverdiging van die eiseres se aanspraak op die toekenning namens haar voorgestel, het Adv Mullins na verskeie uitsprake verwys, ook Engelse regspraak, wat daarop dui dat ‘n toekening nie gemaak behoort te word op die heel laagste beskikbare prys waarteen die relevante diens aangebied kan word nie. Met verwysing na, onder andere, Ngubane vs SA Transport Services [1990] ZASCA 148; 1991 (1) SA 756 (A) op 784 D - F is namens die eiser betoog dat wat die verweerder in effek doen is om die goedkoopste opsie te kies en te ignoreer dat daardie goedkoopste opsie in die eerste plek na alle waar­skyn­likheid nie goedkoop sal bly nie, tweedens, dat daardie instansie besparings moet maak ten einde goedkoop te wees en, derdens, moet staat maak op fondsinsamelings en skenkings waarvan die verweerder nie die voordeel behoort te kan trek nie.


  1. Daar is verder ook in die betoog verwys na die feit dat om ‘n toekenning te baseer bloot op die koste van institusionalisering by die Alta du Toit nasorg­sentrum, of soortgelyke gesubsidieerde instellings, dit sal beteken dat B en die persone wat na hom sal omsien, die keuse ontneem sal word om ‘n duurder opsie te oorweeg. Dit is aan die hand gedoen dat dit onbillik sou wees en dat daar sekerlik beweeg­ruimte vir B se versorgers moet wees met betrekking tot hulle besluit waar hy versorg behoort te word. In hierdie verband is betoog, soos reeds genoem, dat daar geen goeie rede bestaan waarom die verweerder juis die voordeel moet ontvang van goedhartige mense se fondsinsamelings, donasies en erflatings nie. Die Alta du Toit nasorgsentrum maak staat op sulke bronne van inkomste en is juis as inrigting geskep met die doel om hulp aan hulpbehoewende mense te verleen. Volgens hierdie betoog behoort die verweerder nie die voordeel daarvan te trek nie.


  1. Ten opsigte van die moontlike argument dat B, of dan eerder sy curator bonis, uiteindelik mag besluit om wel ‘n meer gepaste maar duurder opsie uit te oefen, is aan die hand van General Accident Versekerings Maatskappy SA Bpk vs Uijs NO [1993] ZASCA 58; 1993 (4) SA 228 (AA) op p236 - 237, namens die verweerder betoog dat dit nie ‘n relevante faktor is nie en ignoreer behoort te word. Adv Delport het voorgehou dat die Alta du Toit nasorgsentrum goeie en aanvaarbare diens lewer en dat daar geen rede is om te dink dat dit in die toekoms nie die geval sal wees nie. Verder is aan die hand gedoen dat daar nie getuienis is waarop gevind kan word dat die goedkoper opsies nie ook in die toekoms aanvaarbare dienste sal verskaf nie en dat die verweerder nie gedwing kan word om voorsiening te maak vir die duurder opsies nie.


  1. Ten aansien van ‘n toekenning wat hier onder bespreking is moet die hof ‘n toekenning maak wat aan die redelike versorgingsbehoeftes van die pasiënt voorsien. Wanneer verskillende opsies oorweeg word moet daar in die eerste plek vasgestel word welke versorging die pasiënt redelikerwys nodig sal hê. Die vraag is dan verder of die verskillende opsies inderdaad voldoende versorging vir die pasiënt sal kan bied. Dit dien geen doel om verskillende instansies wat versorging bied, teen mekaar op te weeg indien dit nie vasstaan dat daardie instansies min of meer dieselfde, maar ten minste voldoende, versorging sal bied met verwysing na die versorgings­behoeftes van die pasiënt nie. (sien in die algemeen De Jongh vs Du Pisanie 2005 (5) SA 457 (HHA) en meer in besonder vanaf p470 E tot 472 C). Dit is natuurlik nie net die aard en omvang van die versorging van die betrokke inrigting wat ter sprake is nie maar ander faktore kan ook ‘n rol speel byvoorbeeld die lokaliteit van die inrigting met verwysing na waar die pasiënt se familie of vriende woon, algemene omgewingsfaktore, die beskikbaarheid van ander relevante dienste wat die pasiënt sal benodig, en dies meer.


  1. In die onderhawige geval is daar ongelukkig baie min inligting voor die hof aan die hand waarvan met gerustheid ‘n toekenning in hierdie verband gemaak kan word. Bitter weinig is bekend oor die fasiliteite en dienste wat die Alta du Toit nasorgsentrum bied en in die toekoms hoop om te bied en daar is geen getuienis oor die dienste wat ander inrigtings bied en wat die werklike motivering is waarom party inrigtings hoër tariewe het as ander inrigtings nie. Tydens betoog het beide advokate tot ‘n groot mate spekuleer, natuurlik elkeen in die guns van sy eie kliënt. Ongelukkig word ek ook genoop tot ‘n mate van spekulasie maar glo ek dat dit tot die minimum beperk kan word soos wat ek hier onder sal aandui.


  1. In die eerste plek is dit nodig om die kwessie van subsidies aan te spreek. Dit blyk uit die getuienis en die verslae voor die hof dat wat betref die Alta du Toit nasorgsentrum daar sprake is van sogenaamde gesubsidieerde koshuise en sogenaamde ongesubsidieerde woonreg koshuise en dan ook woonreg eenhede wat aangekoop kan word. Uit ‘n beskouing van hoe die tariewe vir hierdie verskillende tipes residensiële sorg saamgestel word, blyk dit dat die gesubsidi­eerde koshuis beskikbaar is vir pasiënte wat ‘n ongeskiktheidspensioen van die staat ontvang. Daarbenewens is ‘n verdere bedrag deur die pasiënt self betaalbaar afhangende van sy versorgings­behoeftes.


  1. In B se geval weet ons dat slegs die ongeskiktheidspensioen wat hy tans van die staat ontvang aangewend word vir sy huisvesting in die Alta du Toit skool. Die eiseres is self sorgbehoewend en is werkloos en die plaaslike kerk sorg vir haar en haar gesin. Dit is gemene saak tussen die partye dat nadat hierdie hof ‘n toekenning gemaak het, B sy aanspraak op ‘n ongeskikt­heids­pensioen van die staat sal verloor. Dit blyk duidelik te wees dat B derhalwe nie in die toekoms en ook nie vandat hy die ouderdom van 18 jaar bereik het, van die gesubsidieerde koshuis gebruik sal kan maak nie.


  1. Wat betref versorging in die ongesubsidieerde woonreg koshuis het dit geblyk dat hoewel hier verwys word na “ongesubsidieerde” versorging, nie uit die oog verloor moet word nie dat die Alta du Toit skool en nasorg­sentrum inderdaad befonds word deur ‘n subsidie van die staat asook deur fonds­insamelings, donasies, erflatings en ander vorme van fondsinsame­ling wat op inisiatief van die skool verkry word. Hoewel daar geen getuienis in hierdie verband is nie was dit my indruk tydens die betoog namens die partye dat die advokate aanvaar het dat die ander instansies wat in dieselfde prys kategorie as die Alta du Toit nasorg­sentrum val, ook instansies sal wees wat bestaan deur middel van staatsubsidies wat hulle ontvang en desnoods ander goedgunstige bydraes van die publiek. Dit was juis hierdie aspek wat die eiser genoop het om te argumenteer dat die respondent nie geregtig is om gebruik te maak van die goedgesindheid van ander mense deur aan te dring dat B in die Alta du Toit nasorgsentrum of soortgelyke inrigtings moet bly vir die res van sy lewe nie.


  1. Ek glo dat die aanname wat die advokate gemaak het dat die rede waarom die Alta du Toit nasorgsentrum en soortgelyke inrigtings in staat is om teen sulke lae tariewe te kan bestaan, is omdat hulle deur die staat en ander gesubsidieer word, waarskynlik ‘n korrekte aanname is. Dit was immers die getuienis van Me van der Walt dat haar navorsing daarop gedui het dat soortgelyke inrigtings wat geskikte inwoning en versorging bied aan persone in B se kondisie, tariewe hef van tussen R3500.00 en R4500.00 per maand.


  1. Alvorens ek terugkeer na hierdie kwessie is dit nodig om eers weer na die verskillende opsies ten opsigte van die Alta du Toit nasorgsentrum te verwys. Die verweerder bied aan om voorsiening te maak vir B in die ongesubsidieerde woonreg koshuis van die Alta du Toit nasorgsentrum en wel teen ‘n tarief van R1500.00 per maand. Dit was die eiser se saak dat indien die Alta du Toit nasorgsentrum wel deur hierdie hof as opsie aanvaar word, daar benewens die voorgestelde bedrag ook nog voorsiening gemaak moet word vir die aankoop van ‘n sogenaamde woonreg eenheid teen R300 000.00 wat voorsiening maak vir inwoning in ‘n een-manwoonstel. Gedagtig daaraan dat B se lewens verwagting nie noemenswaardig ingekort is nie, slegs sowat 5 jaar, volgens die ooreenkoms deur die deskundiges bereik, is ek van mening dat indien die Alta du Toit nasorgsentrum as ‘n geskikte opsie beskou word, dit van pas sou wees om ook vir so ‘n een-manwoonstel voorsiening te maak. Ek glo nie dat dit billik en selfs prakties sal wees om B vir die res van sy volwasse lewe in ‘n gedeelde dubbelkamer of ‘n enkelkamer of selfs ‘n enkelkamer met ‘n badkamer te laat woon nie. Die gekapitaliseerde bedrag van R368 211.00 wat die verweerder voorstel kan dus nie gemaak word nie en behoort die bedrag van R617 211.00 toegeken te word indien die Alta du Toit nasorgsentrum as ‘n geskikte opsie beskou word.


  1. Die vraag is nou of die Alta du Toit nasorgsentrum, en soortgelyke gesubsidi­eerde inrigtings, beskou moet word as aangewese vir B vir die res van sy lewe en of daar eerder voorsiening gemaak behoort te word vir versorging in ander ongesubsidieerde inrigtings waarvoor die mediaan gekapitaliseerde bedrag R981 895.00 beloop. Ek het reeds daarop gewys dat daar nie getuienis voor die hof is ten opsigte van die vraag of B na ouderdom 18 jaar en na ‘n toekenning in hierdie saak gemaak is, in die Alta du Toit nasorgsentrum sal kan aanbly nie. Namens die verweerder is aanvaar dat niks in sy pad sal staan om dit te doen nie. Namens die eiser is aan die hand gedoen dat dit nie vasstaan nie juis omdat die Alta du Toit skool en nasorgsentrum gerig is om ‘n diens te lewer aan behoeftige persone en dat B nà die hof se toekenning nie daarvoor sal kwalifiseer nie.


  1. Dit is nie bekend of hierdie sorgsentrum en ander soortgelyke inrigtings ‘n middele toets toepas by die aanvaarding van pasiënte nie. Daar is geen getuienis voor die hof wat neig na die een of die ander kant nie maar ek is geneig om te aanvaar dat indien daar ‘n oor-aanbod van pasiënte is, inrigtings soos die Alta du Toit nasorgsentrum voorkeur sal verleen aan pasiënte wat werklik behoeftig is en wat werklik die staatsubsidie en die goedhartigheid van ander mense benodig vir hulle versorging. Op hierdie basis beskou moet daar derhalwe ‘n sterk mate van twyfel wees of B hoegenaamd in die Alta du Toit nasorgsentrum en ander soortgelyke inrigtings wat van subsidies afhanklik is, opgeneem sal kan word of ten minste dat hy vir die res van sy lewe daar sal kan bly. Ek is meer geneig om te dink dat selfs indien B aanvanklik plek verkry in een van hierdie inrigtings daar ‘n stadium in sy lewe mag kom waar hy gevra sal word om plek te maak vir ‘n meer behoeftige pasiënt.


  1. n Verdere faktor wat die waarskynlikheid dat B vir die res van sy lewe in hierdie tipe gesubsidieerde inrigtings gehuisves en versorg sal kan word beïnvloed, is die vraag of die subsidies wat tans ontvang word vir die res van B se natuurlike lewe, wat nog ‘n verdere vyftig na sestig jaar sal wees, sal voortduur of tot dieselfde mate sal kan voortduur sodat hierdie tipe van inrigtings sal kan voortbestaan en terselfdertyd dieselfde tipe diens en versorging sal kan lewer waarop B geregtig is om op aanspraak te maak. Weer eens het beide advokate hulle ten opsigte van hierdie aspek beroep op aannames en hulle eie algemene ervaring. Daar is aan die een kant betoog dat daar geen rede is om pessimisties in hierdie verband te wees nie terwyl aan die ander kant ook gewag gemaak is van die realiteite van die samelewing en dat daar geen waarborg is dat byvoorbeeld staat subsidies ad infinitum in plek sal bly of geskik sal wees nie. In hierdie verband word onwillekeurig gedink aan die onlangse sluiting van ouetehuise vanweë die opheffing van staatsubsidies.


  1. Dit is nie moontlik om hierdie gebeurlikhede op die getuienis voor die hof op ‘n werklike bevredigende basis te bepaal nie. Wat wel gesê kan word is dat daar ‘n nie-weglaatbare risiko bestaan dat omstandighede in die toekoms sodanig mag verander dat hierdie tipe gesubsidieerde inrigtings òf sal moet sluit òf hulle tariewe sal moet aanpas nie. Dit is hierdie hof se taak om ‘n toekenning te maak wat regverdig is teenoor beide partye. Daar was nie genoegsaam getuienis of aanduidings voor die hof om my te noop tot ‘n bevinding dat B nie, ten minste aanvanklik, ‘n plek sal verkry in die Alta du Toit nasorgsentrum of ‘n soortgelyke gesubsidieerde inrigting nie. Ek is egter ook van mening dat dit, veral met verwysing na die faktore hierbo genoem, onrealisties en derhalwe verkeerd sou wees om sonder meer te aanvaar dat hierdie opsie altyd vir B beskikbaar sal wees. Behalwe dat ‘n gesubsidieerde inrigting dalk nie vir B toeganklik mag wees nie, lê dit in elk geval nie in die mond van die verweerder om staat te maak op die goedgesindheid en fondsinsamelings van ander nie.


  1. Aangesien daar nie ‘n manier bestaan om met groter eksaktheid ‘n syfer te kan bepaal nie, glo ek dat dit regverdig en billik teenoor beide partye sal wees indien die verskil tussen die twee syfers halveer word. Dit sou enersyds voorsiening maak vir die mindere bedrag wat benodig sal word vir solank as wat B in ‘n gesubsidieerde inrigting is en ook andersyds voorsiening maak vir wanneer dit nodig mag word om na ‘n privaat inrigting te gaan. Dit moet ook ingedagte gehou word dat die syfer ten opsigte van privaat inrigtings nie die maksimum syfer was nie maar die mediaan syfer soos aangetoon deur Me van der Walt in haar verslag. Ek hou ook die ander aspekte in ag waarna ek hierbo verwys het. In die lig van alles is ek derhalwe van mening dat die bedrag wat ten opsigte van B se toekomstige huisvesting vanaf ouderdom 18 jaar, en dus nadat hy uit die Alta du Toit skool moet gaan, toeken behoort te word, die bedrag van R799 553.00 is.


Gebeurlikheidsaftrekkings ten opsigte van sekere items geëis onder die hoof van Toekomstige Mediese en Aanverwante Koste - die invloed van ‘n skikking deur die partye.

  1. Die ooreengekome gekapitaliseerde bedrag ten opsigte van toekomstige hospitaal-, mediese- en verwante uitgawes beloop R658 576.00. Die verweerder het reeds voor die verhoor sy reg voorbehou om te argumenteer dat gebeurlik­heids­aftrekkings ten opsigte van hierdie items gemaak moet word. Uiteindelik, teen die tyd dat die argument aangebreek het, het die partye aangedui dat nie al hierdie items, soos wat dit op bewysstuk ‘H’ uiteengesit is, meer in dispuut is nie. Die enigste items ten opsigte waarvan daar ‘n dispuut is of ‘n gebeurlikheidsfaktor afgetrek moet word aldus die verweerder, en wat die koers daarvan behoort te wees, is items 4, 6, 7 en 8 van aanhangsel “H”.


  1. Alvorens ek oorgaan tot ‘n bespreking van hierdie items is dit nodig om na die argument namens die verweerder te verwys wat in werklikheid slaan op al hierdie items ten aansien waarvan die partye op ‘n bedrag ter skikking ooreen­gekom het maar waar die verweerder aangedui het dat hy nogtans vir hom die reg voorbehou om te argumenteer dat ‘n aftrekking vir gebeurlikhede gedoen behoort te word ten opsigte van sodanige item. In hierdie saak was daar ‘n legio van items waaronder skadevergoeding geëis was. ‘n Menigtal deskundige getuies is opdrag gegee namens die onderskeie partye om hierdie kwessies aan te spreek en hulle deskundige menings in verslae uit te bring. Die regsverteenwoordigers is bedrewe in sake van hierdie aard en dit is duidelik dat geweldig baie voorbereiding gedoen was en moeite gedoen was om die onderskeie items te identifiseer en te kategori­seer en die deskundiges bymekaar te bring om te poog om ooreenkomste te bereik sover as wat moontlik was. Van die deskundiges het dan ook gesamentlike verslae opgestel en uiteindelik is, soos reeds hierbo aangedui, die meerderheid van die items geskik. Dit is ook duidelik dat meeste van hierdie items geskik is op bedrae wat tussen die bedrae lê wat aanvanklik deur die onderskeie deskundige getuies aan die hand gedoen was. As gevolg van hierdie skikkings het die partye dit onnodig geag om die getuienis van hierdie deskundige en ander getuies aan te bied. Die hof was dus slegs voorsien van die eindbedrae waarop geskik is en dit is totaal onbekend presies hoekom op sulke bedrae ooreengekom is of wat vir doeleindes daarvan in ag gehou was. Die verslae van al die deskundiges is wel in bundels voor die hof geplaas maar daardie deskundiges het nie getuig nie en is nie aan kruisverhoor onderwerp nie. Ek herhaal dus dat dit onbekend is ten opsigte van welke aspekte toegewings deur die onderskeie deskundiges gemaak is, of tot watter mate daar toegewings gemaak is, of watter ander faktore in ag geneem is ten einde hulle te laat besluit wat ‘n redelike bedrag in die omstandighede is om op te skik.


  1. Indien ‘n hof in sulke omstandighede gevra word om te beoordeel of daar ‘n aftrekking vir gebeurlikhede gemaak behoort te word, en indien wel, ‘n persentasie daaraan te koppel, is die taak vir alle praktiese doeleindes onmoontlik. Eerstens het beide partye aanvaar dat die kans van vroeër afsterwe reeds deur middel van die aktuariële berekening in ag geneem is aangesien die berekenings nie in ag neem dat B op ‘n besondere dag sal sterf nie maar eerder in ag neem dat in elke jaar van sy lewe die statistiese kanse van afsterwe verander. Die kwessie van lewensverwagting is dus reeds in die aktuariële berekenings in ag geneem en hoef nie by wyse van ‘n gebeurlikheids­aftrekking in berekening gebring te word nie. Soos wat hieronder sal blyk het die respondent die hof gevra om te bevind dat sekere ooreengekome bedrae ruim is of nie noodwendig aangegaan sal word nie en dat daar daarom ‘n gebeurlikheids­aftrekking gemaak behoort te word. Aan die anderkant is die teendeel namens die eiseres voorgehou.


  1. Tydens die argument namens die partye het die bogenoemde praktiese dilemma duidelik na vore gekom. Daar was eenvoudig nie getuienis voor die hof om ‘n oordeel te kan vel oor die vraag of ‘n betrokke bedrag waarop ooreen­gekom is, ruim dan wel konserwatief is nie, of om te kan oordeel oor hoe noodsaaklik dit is dat sekere behandeling ondergaan behoort te word, of hoe lank of hoe gereeld sulke behandeling toegepas sal moet word nie. Pogings van veral die verweerder se advokaat om na verslae van die verweerder se deskundiges in die bundel voor die hof te verwys was ontmoet deur besware van die kant van die eiseres se advokaat omdat sulke verslae nie getuienis voor die hof konstateer nie en inderdaad nie in die regte lig verstaan kan word nie omdat hy nie die geleentheid gehad het om die outeurs van daardie verslae te kruisverhoor nie. Dit kan toevallig vermeld word dat op ‘n stadium voordat die partye tydens die verhoor ooreen­gekom het dat die geskikte bedrag ten aansien van toekomstige verlies aan inkomste as ‘n korrekte bedrag aanvaar moet word en dat geen party die reg het om te betoog dat dit ‘n konserwatiewe of liberale bedrag is nie, dit juis die advokaat vir die verweerder was wat ’n soortgelyke beswaar gehad het toe die advokaat vir die eiser wou betoog dat die bedrag waarop ooreengekom is, ‘n konserwatiewe bedrag is. Dit was toe juis Adv Delport se betoog dat waar daar nie ‘n ooreenkoms tussen die partye is oor ‘n besondere bedrag nie, daar wel geargumenteer kan word of dit konser­watief of liberaal is, maar waar die partye op ‘n bedrag ooreengekom het, is daardie vraag irrelevant en is dit nie oop vir enige van die partye om te beweer dat dit konserwatief of liberaal was of nie.


  1. Die doel waarom partye poog om ooreenkomste te bereik is om geskil­punte te verminder en so regskoste te bespaar. Op die keper beskou sal dit in die meeste gevalle futiel wees om op ‘n bedrag ooreen te kom maar terselfdertyd aan te dring om die hof te oorreed om daarbenewens ‘n gebeurlikheidsaftrekking te maak. Veral ten opsigte van items wat ter sprake is by toekomstige mediese uitgawes en byvoorbeeld ook by ‘n toekomstige verlies aan verdienste, sou getuienis en meestal deskundige getuienis, aangewese wees om ‘n hof te help om oor die kwessie van gebeurlikhede te kan beslis. In ‘n geval soos die onderhawige skik die partye ‘n geskilpunt op die oog af maar hou die deur tog sodanig oop dat bykans dieselfde getuienis in elke geval nodig is om die kwessie van gebeurlikhede te kan beslis. Inteendeel, ‘n party wat weet dat sy opponent voluit gaan om gebeurlikhede te probeer aantoon sal waarskynlik juis nie toegewings maak ten opsigte van bedrae wat hy eis nie. Dit is immers inherent aan ‘n skikking dat partye toegewings maak en dat hulle vir doeleindes van daardie toegewings juis sekere gebeurlikhede in ag hou. Indien ‘n hof dus gevra word om gebeurlikhede te bepaal ten aansien van ‘n bedrag wat reeds tussen die partye geskik is en dit onbekend is waarom en op watter grondslag en met inaghouding van welke faktore, daardie skikkingsbedrag bereik is, sal die hof in die afwesigheid van volledige getuienis oor al hierdie aspekte, die gevaar loop om ‘n totaal verkeerde beslissing te vel. Die hof kan byvoorbeeld op ‘n aspek steun ter regverdiging van ‘n gebeurlikheidsaftrekking terwyl een of albei die partye dit reeds in ag gehou het vir doeleindes van bereiking van die skikking. Die omgekeerde is natuurlik ook ewe moontlik.


  1. Ek is geneig om met Adv Mullins saam te stem dat alhoewel die verweerder tydens die voorverhoor konferensie hom hierdie reg voorbehou het, daardie reg as’t ware sonder inhoud is in ‘n geval soos die onderhawige. Adv Mullins het verder betoog dat in ‘n geval soos die onderhawige ‘n eiser as’t ware in ‘n lokval gelei word in die sin dat hy onder die indruk is dat ‘n item geskik is en daarom nie die nodige getuienis voor die hof plaas nie en dan aan die einde van die verhoor konfronteer word met ‘n argument dat sekere aspekte deur die hof in ag gehou moet word en dat op sterkte daarvan ‘n gebeurlikheidsaftrekking gemaak moet word. Ek stem in beginsel met hierdie betoog saam. Die dilemma van ‘n eiser, en natuurlik ook ‘n verweerder, is in so geval voor die hand liggend. Indien partye so ‘n proses beoog sou hulle uitdruklik in ‘n voorverhoor konferensie of by wyse van versoek om besonderhede vir doeleindes van verhoor, die kwessies behoorlik moet aanspreek sodat die onderskeie partye presies sal weet watter feitelike aangeleenthede steeds in geskil sal wees (vir doeleindes van die debat oor gebeurlikheidsaftrekkings) en sodat hulle derhalwe genoegsame getuienis voor die hof kan plaas ten einde behoorlik ten aansien daarvan te kan argumenteer en die hof in die posisie te kan plaas om sinvol daaroor ‘n beslissing te kan maak.


  1. Ek verwys vervolgens na die eerste item wat ter sprake is naamlik ten opsigte van psigoterapie (item 4 op aanhangsel H) wat die partye ooreengekom het ‘n bedrag van R35 000.00 beloop. Adv Delport het verwys na die verslag van die verweerder se deskundige wat aanvanklik aangedui het dat ‘n bedrag wat op R21 792.00 aktuarieel bereken is, toegeken behoort te word. Hy het aan die hand gedoen dat die betrokke deskundige van die verweerder ‘n baie ervare deskundige is. Tweedens het Adv Delport betoog dat dit “verder algemeen bekend (is) dat persone dikwels huiwerig is om hul aan psigoterapie te onderwerp”. Hy het derhalwe betoog dat daar ‘n wesenlike moontlikheid is dat die ooreen­gekome bedrag van R35 000.00 te ruim is en dat die psigoterapie inderdaad nie ondergaan sal word nie en gevolglik dat om vir daardie gebeurlikhede voorsiening te maak, ‘n aftrekking van 10% gemaak behoort te word.


  1. Namens die eiser het Adv Mullins aan die hand gedoen dat daar geen rede is waarom ‘n gebeurlikheidsaftrekking op die ooreengekome syfers vir mediese koste toegepas behoort te word nie. Eerstens het hy daarop gewys dat die kans van vroeë afsterwe reeds in berekening gebring is in die aktuarieel berekende bedrae soos ek reeds hierbo na verwys het. Tweedens het hy aan die hand gedoen dat die ooreengekome onkoste uiteindelik netsowel duurder mag wees in die toekoms as wat dit goedkoper mag wees. Dit is verder aan die hand gedoen dat die kans of hierdie behandeling gevolg gaan word of nie, in elk geval reeds in ag geneem is en dat die skikking wat bereik is of altans die grondslag waarop die skikking bereik is, net so seer pessimisties kan wees as wat dit uiteindelik mag blyk optimisties te gewees het, en andersom.


  1. Ek is van mening dat ten opsigte van psigoterapie daar nie gebeurlikheids­aftrekking gemaak behoort te word nie, veral vanweë die feit dat dit ‘n bedrag is wat tussen die partye op ooreengekom is en omdat die grondslag daarvan en die faktore wat in ag gehou was, nie aan die hof bekend is nie. (Sien in hierdie verband Wessels vs AA Onderlinge Assuransie Assosiasie 4 Corbett en Honey A3-19 (T) op A3 - 33). Selfs op die verweerder se uitgangspunt, met ander woorde dat daar na die deskundiges se verslae gekyk word, is dit duidelik dat hierdie item nie maklik berekenbaar is nie juis omdat daar soveel veranderlikes en gebeurlikhede bestaan. Dit is duidelik uit die verslae dat die deskundiges juis hierdie aspekte in ag gehou het alvorens hulle uitgekom het by die ooreenge­kome bedrag. Daar kan dus nie gesê word dat enige gebeurlikheid, ook dit wat namens die verweerder voorgehou was tydens betoog, nie reeds inag gehou was nie.


  1. Die volgende item is item 6 op bewysstuk “H” wat slaan op paragrawe 15 tot 31 van appendix A tot die aktuariële berekenings. Die aktuarieel berekende bedrag waarop die partye ten opsigte van hierdie items ooreengekom het, beloop die bedrag van R31 737.00. Hierdie is alles items wat die lewe vir B sal makliker maak en hom in staat sal stel om beter te kan funksioneer. Namens die verweerder is betoog dat dit betwyfel word of al hierdie items ooit deur B aangekoop sal word. In besonder is betoog dat items 17, 18, 19, 20, 21, 24 en 25 waarskynlik deur die inrigting voorsien sal word waar hy sal tuis gaan. Hierdie items verwys na ‘n badmatjie, reëlings om aan vas te hou, ‘n handskoen om homself mee te was, ‘n tipe hak en ‘n bankie waarop hy sit as hy stort of bad, en dies meer. In die eerste plek is daar geen getuienis dat die inrigting waar B in die toekoms sal wees wel al hierdie items sal voorsien nie. Inteendeel, alle aanduidings was juis tot die teendeel behalwe miskien ten opsigte van sekere daarvan. Wat hierdie argument egter uit die oog verloor is dat B nie konstant in die inrigting is nie en van tyd tot tyd huis-toe gaan en daar hierdie items sal nodig hê. Dit is derhalwe noodsaaklike items waarvoor B vergoed behoort te word.


  1. Dit is verder namens verweerder betoog dat ten aansien van sommige ander items dit langer mag hou as wat voorsiening gemaak is of dalk nog goedkoper aangekoop sal kan word. In die lig daarvan is voorgehou dat ‘n gebeurlikheids­aftrekking van 20% gemaak kon word maar aangesien daar reeds deur die partye ‘n 10% aftrekking gemaak is, behoort hierdie hof slegs ‘n verdere gebeurlikheids­aftrekking van 10% te maak.


  1. Hierdie argument namens die verweerder toon duidelik die onhoudbaar­heid van die gedagte dat daar in ‘n saak soos die onderhawige, waar bedrae geskik is en as gevolg daarvan getuies nie geroep is om te getuig nie, van die hof verwag kan word om desnieteenstaande ‘n gebeurlikheids­aftrekking te maak. Dit is duidelik dat die partye tydens hulle onderhande­lings ‘n wye verskeidenheid van faktore in ag gehou het, insluitende juis die tipe faktore waarna nou verwys word ter ondersteuning van die argument dat ‘n gebeurlikheidsaftrekking gemaak moet word. Boonop het die partye reeds ‘n gebeurlikheid van 10% in ag geneem. Dit beteken dat die verweerder tans van die hof verwag om ‘n streep deur die partye se­ skikking te trek en as’t ware ‘n nuwe ooreenkoms vir hulle te bereik. Dit sou verkeerd wees van hierdie hof om in sulke omstandighede naamlik waar daar geen getuienis voor die hof was nie, geen kruisverhoor van getuies plaasgevind het nie en waar dit onbekend is wat reeds deur die partye in ag gehou is om by hulle skikking uit te kom, boonop sekere gebeurlikhede uit die lug te gryp en aan die hand daarvan ‘n aftrekking te maak en die partye se skikking te “vervang”. Bygevolg is ek van mening dat geen gebeurlik­heidsaftrekking ten aansien van hierdie items gemaak behoort te word nie.


  1. Item 7 en 8 op bewysstuk “H” slaan op spraakterapie en sekere remediële items en ortopediese items wat die deskundiges nodig geag het in die omstandighede. Hierdie items en die bedrae ter sprake was ook deur die partye geskik voor die verhoor. Ten aansien hiervan het Adv Deplort in sy hoofde van argument die submissie gemaak dat, met inagneming van al die gebeure wat in Du Pisanie NO vs De Jong Corbett en Honey Volume 5, B 4 -137 tot B 4-139 behandel is, hierdie bedrag met ‘n gebeurlikheids­aftrekking van 10% verminder behoort te word. Dit is nie nodig dat ek na al hierdie faktore verwys nie. Om dieselfde redes as hierbo vermeld is ek van mening dat daar nie ‘n saak uitgemaak is wat ‘n verdere gebeurlikheids­aftrekking regverdig nie en ook dat hierdie hof in elk geval nie in staat is om ‘n aftrekking te maak weens faktore wat waarskynlik wel reeds deur die partye in ag gehou is vir doeleindes van die bepaling van die ooreenge­kome bedrag nie. Bygevolg is ek van mening dat geen verdere aftrekking gemaak behoort te word nie.


  1. Volledigheidshalwe sal ek kortliks verwys na ‘n onderafdeling van item 7 op bewysstuk H wat slaan op ‘n sake bestuurder (“case manager”) wat die partye ooreengekom het aangestel behoort te word. Die bedrag ter sprake waarop die partye ooreengekom ten opsigte van die res van B se lewe is die bedrag van R255 833.00. Ten spyte van die partye se ooreenkoms het Adv Delport betoog dat ‘n gebeurlikheidsaftrekking van 30% deur die hof gemaak behoort te word. As grondslag vir die betoog het hy verwys na die inhoud van die deskundige verslae wat, volgens die betoog, toon dat die bedrag verkeerd bereken is deurdat daar ten opsigte van B se leeftyd tot 18 jaar, ‘n tien maande tydperk verkeerdelik in ag gehou is. Hierdie kwessie word veroorsaak deur die tydsverloop tussen die datum van die verslae en die datum van die verhoor. Tweedens het Adv Delport voorgehou dat die kwessie van ‘n sake bestuurder ‘n nuutjie is en dat daar twyfel behoort te bestaan of so ‘n persoon wel aangestel sal word. Laastens is voorgestel dat die ooreengekome bedrag uiters ruim is.


  1. Om dieselfde redes as hierbo vermeld kan ‘n hof nie inmeng met ‘n ooreenkoms wat die partye in omstandighede soos hierdie bereik het nie. In elk geval is dit duidelik dat B inderdaad ‘n sake bestuurder sal benodig. Hy sal nie self sy finansiële en persoonlike sake kan hanteer nie. Hy sal nie self insig in sy probleme hê nie en sal geen bydrae kan maak oor welke mediese of ander behandeling, terapie, sorg en hulpmiddels hy sal benodig nie. Die bystand wat B in hierdie verband vir die res van sy lewe nodig sal hê sal multi-dissiplinêr van aard wees. Sy moeder het klaarblyklik nie die vermoë om hierdie koördine­rings­rol te vervul nie. Daar kan nouliks van sy curator bonis verwag word om ook hierdie rol te vervul. Na my mening sal die kurator wys optree deur wel so ‘n persoon aan te stel wat deurgaans en met kundigheid die vinger op die pols van hierdie aspekte van B se behoeftes sal hou. Te oordeel aan die ure per jaar wat die betrokke deskundige antisipeer nodig sal wees om hierdie rol te vervul, en wat gebruik is om by die partye se ooreenge­kome bedrag uit te kom, is ek van mening dat dit hoegenaamd nie as ruim aangemerk kan word nie. Die teendeel is eerder waar. In al die voor­noemde omstandighede is daar geen regverdiging om enigsins ‘n vermindering te gelas van die bedrag waarop die partye reeds ooreengekom het nie.


Gebeurlikheidsaftrekking ten opsigte van die verlies aan verdienste en verdien vermoë:

  1. Soos reeds hierbo vermeld is dit gemene saak dat B nooit in die toekoms die arbeidsmark sal kan betree of enige vorm van inkomste sal kan verdien nie. Die partye het verder ooreengekom dat die aktuarieel berekende bedrag van R2 000 000.00 B se verlies in hierdie verband verteenwoordig. Tydens die verhoor het die partye ‘n verdere skikking bereik wat soos volg lees:

Die partye het, na bespreking, ooreengekom om ’n bruto syfer van R2 miljoen te gebruik as basis syfer voor voorsiening vir gebeurlikhede en verder om dit te boekstaaf dat hierdie syfer van R2 miljoen gebaseer is op scenarios 1 tot 6 soos deur die aktuarisse bereken en die onderliggende scenario van die twee bedryfsiel­kundiges wat daarin vervat is. Die partye was dit gevolglik eens dat getuienis slegs nodig sal wees tot die mate wat dit slaan op die gebeurlikhede.”


  1. Die partye het hierdie skikking bereik na aanleiding van die dispuut wat ontstaan het, waarna ek hierbo verwys het, nadat verweerder se advokaat beswaar gemaak het teen eiseres se advokaat se aanduiding dat betoog gaan word dat die bedrag van R2 miljoen ‘n konserwatiewe bedrag is. Hierdie ooreenkoms was derhalwe bereik om die groter dispuut uit die weg te ruim wat gegaan het oor die vraag of B in die toekoms, as dit nie vir die ongeluk was nie, slegs standerd 8 sou geslaag het, of matriek sou geslaag het, of verdere kwalifikasies sou behaal het en, gevolglik, watter tipe werk en watter inkomste hy in al daardie scenarios sou verdien het. Dit is dan ook scenarios 1 tot 6 waarna in die skikking verwys is. Beide partye was dit dus eens dat vir doeleindes van ‘n bepaling van ‘n gebeurlikheids­aftrekking ten opsigte van hierdie item, daar nie verwys mag word na B se moontlike verdere opleiding en die beroepe wat hy moontlik kon volg nie, dit wil sê of die bedrag van R2 miljoen konserwatief of liberaal bereken is nie.


  1. Die partye was dit ook eens dat die moontlikheid dat B tot ‘n vroeër afsterwe mag kom, reeds in berekening gebring is in die aktuariële berekening en derhalwe nie afsonderlik as ‘n gebeurlikheids­faktor in ag gehou kan word nie. Dit het beteken dat die partye hulle bepaal het tot ander moontlike gebeurlikheids­faktore.


  1. Namens die eiser is aan die hand gedoen dat, gegewe B se ouderdom, dit aanvaar kan word dat ‘n gepaste gebeurlikheidsaftrekking om voorsiening te maak vir die “vicissitudes of life” (sien Southern Insurance Association Ltd vs Bailey NO 1984 (1) SA 98 (A) te 116 G tot 117 D), of te wel die “onsekere omstandighede van die lewe met betrekking tot gebeure, toestande, siektes of ongelukke wat die verdienvermoë, lewenskwaliteit en/of lewensverwagting van ‘n persoon kan beïnvloed en sodoende ‘n nadelige of gunstige uitwerking op die omvang van sy of haar skade kan hê” (sien Loma Steynberg, “Omvattende omskrywing van gebeurlikhede in die skadevergoedings­reg”, 2005 THRHR, p638 te p645), tussen 15% en 20% sou lê. Adv Mullins het ‘n lang lys van sake tydens sy argument voorgehou ter ondersteuning van sy submissie. In die twee sake waar 25% gebeurlik­heidsaftrekking toegepas is het hy na die besondere feite verwys en in besonder ten aansien van Nanile vs Minister of Post and Telecommuni­ca­tions 4 Corbett en Buchanan A4 -30 (E) daarop gewys dat geen getuienis aangebied was oor die minderjarige se werksmoontlikhede indien hy nie beseer was nie en verder dat die hof self die aktuariële berekening gedoen het en daarin geen voorsiening gemaak het vir die statistiese kanse van afsterwe nie. In teendeel, soos dit blyk op p A 4 - 36 is die moontlikheid van vroeë afsterwe juis as een van die hoof gebeurlikhede genoem. Daarom het Adv Mullins aan die hand gedoen dat ‘n gebeurlik­heidsaftrekking van 25% vir ‘n jong kind soos B dus beskou kan word as ‘n hoogwatermerk wat nie in ‘n geval soos die onderhawige van toepassing is nie.


  1. Vanweë die partye se skikking tydens die verhoor ten aansien B se pre-morbiede verdienvermoë het daar weinig gebeurlikheidsfaktore oorgebly aan die hand waarvan die oorgekome syfer aangepas kan word. Namens die verweerder het. Adv Delport aangevoer dat daar drie faktore is wat in ag geneem moet word. Dit is, eerstens, die feit dat B so ‘n jeugdige ouderdom het, tweedens, dat hy in die toekoms nooit in die huwelik sal tree nie en, derdens, dat hy die res van sy lewe in ‘n inrigting sal deurbring. Vanweë hierdie faktore, het Adv Delport betoog, behoort ‘n gebeurlikheidsaftrekking van 55% gemaak te word. Namens die eiseres het Adv Mullins betoog dat ‘n gebeurlikheidsaftrekking van 15% toepaslik sal wees. Ek sal vervolgens na die bogenoemde drie aspekte verwys aan die hand waarvan die partye (en in besonder die verweerder) hulle onderskeie sake betoog het.


Die jeugdigheid van B:

  1. Adv Delport het aangevoer dat dit ‘n erkende beginsel is dat hoe langer die tydperk is waaroor ‘n eiser aan die risiko van teëspoed blootgestel is, hoe hoër die gebeurlikheidsfaktor is wat in ag gehou behoort te word. Beide Adv Delport en Adv Mullins het heelwat beslissings aan my voorgehou en die gebeurlikheids­aftrekkings wat in daardie beslissings gemaak is, bespreek. Dit is nie nodig om na al die beslissings te verwys wat die advokate na verwys het nie en ek sal, as breë agtergrond, slegs kortliks verwys na daardie gevalle waar jong kinders ter sprake was. In Mautla vs Road Accident Fund, Corbett & Honey Volume 5 B3-1 het ‘n vier en ‘n half jaar oue kind ernstige breinskade tydens ‘n botsing opgedoen. Die hof het ‘n gebeurlikheidsaftrekking van 20% ten opsigte van toekomstige verlies aan inkomste toegepas. In Oberholzer vs National Employers’s General Insurance Company Limited, C&H Volume 4 A3-1 (C) het die hof ‘n gebeurlik­heidsaftrekking van 25% gemaak ten opsigte van ‘n sestienjarige parapleeg. In Nanile vs Minister of Post and Telecommunications, C&H Volume 4 A4-30 (E) het die hof ‘n 25% gebeurlikheidsaftrekking toegepas ten opsigte van ‘n drie jaar oue kind. In Southern Insurance Association vs Bailey NO 1984 (1) SA 98 (A) het die hof ‘n 25% gebeurlikheidsaftrekking toegepas ten opsigte van ‘n twee jarige kind. In Bartlett vs Mutual and Federal, C&H Volume 4 A2 tot 20 (T) is ‘n 15% gebeurlik­heids­aftrekking toegepas in die geval van ‘n sewentien jarige seun. In Botha en ‘n ander vs Santam Beperk, C&H Volume 5 B4-39 (T) het die hof ‘n gebeurlikheids­aftrekking van 20% gemaak ten opsigte van ‘n twintig maand oue baba. In Thafeni vs Road Accident Fund, C&H Volume 5 D4-1 het De Swardt SC op arbitrasie ‘n 15% pre-morbiede gebeurlikheidsaftrekking toegepas in die geval van ‘n nege jarige kind.


  1. n Paar opmerkings is nodig om die bogenoemde gebeurlikheidsaftrekkings in perspektief te plaas. In die ­eerste plek is elke saak op sy eie meriete en aan die hand van die omstandighede van daardie saak beslis. Verder is die omstandig­hede van die geval en in besonder die toekennings wat onder die verskillende hoofde gemaak is, veral byvoorbeeld ten opsigte van ‘n verlies aan lewens­genietinge, in samehang met mekaar beoordeel en het die een die ander soms wesenlik beïnvloed. Die indruk is ook onwillekeurig dat in die gevalle waar die hof self die aktuariële berekenings gemaak het, daar gebeurlikheidsaanpassings met groter vrymoedig­heid gemaak is. In meeste van die gevalle is daar veral twee aspekte wat wesenlik die hof se benadering beïnvloed het. Eerstens is dit die moontlikheid van vroeë afsterwe van die slagoffer en, tweedens, is dit die onsekerheid oor welke beroep die slagoffer uiteindelik sal volg en/of wat die inkomste sal wees wat in die toekoms verdien sal word. So byvoorbeeld het dit in SIA Limited vs Bailey NO (supra) geblyk dat vanweë die lae inkomste wat vir die eiseres voorsien was, ‘n blote R10 per week verhoging in haar inkomste, ‘n verhoging van 25% van haar inkomste sou bedra. Die berekening van ‘n 25% gebeurlikheidsfaktor in daardie saak het seer sekerlik van hierdie feit kennis geneem.


  1. Hoewel Adv Delport betoog het dat die blote feit dat B jonk is en dus vir ‘n lang tyd aan die negatiewe gevolge van gebeurlikhede blootgestel sou wees, kry ek nie die indruk dat hierdie aspek opsigself werklik ‘n wesenlike rol speel in die bepaling van wat ‘n billike gebeurlikheidsaftrek­king in ‘n bepaalde geval behoort te wees nie. Inteendeel, indien die beslissings waarna die advokate my verwys het en ander wat ek self nagegaan het, ontleed word en faktore soos die moontlikheid van ‘n verkorte lewensduur, of die moontlikheid van alternatiewe betrekkings en inkomstes, alles wat in die onderhawige geval nie ter sprake is nie vanweë die partye se skikking, uit die oorwegings weggelaat word, sou daar waarskynlik ‘n bitter klein gebeurlikheidsaftrekking gemaak gewees het, indien enige.


  1. Die feit dat die jong slagoffer langer aan die gebeurlikhede van die lewe, en dus ook die negatiewe gebeurlikhede, blootgestel is as die ouer slagoffer, is natuurlik waar, en dit moet in berekening gebring word. Na my mening is dit egter van geen waarde om bloot die verskil tussen ouder­doms­groepe te gebruik en by wyse van ‘n wiskundige formule verskillende persentasie-aftrekkings vir gebeurlikhede vir elke ouderdomsgroep te maak nie. Dit dra in werklikheid niks tot die debat by nie. Die ouderdom van die persoon moet in samehang met die ander feite van die betrokke geval oorweeg en beslis word.


  1. Dan is daar natuurlik ook positiewe gebeurlikhede wat ook nie uit die oog verloor behoort te word nie. In hierdie verband is dit na my mening nie onvanpas om byvoorbeeld daarop te wys dat tye verander het en dat faktore wat vroeër jare bloot aanvaar was, nie noodwendig meer geldig is nie. Ek sal kortliks daarna verwys.


  1. As wegspringplek word in ag gehou dat die pasiënt vergoed moet vir sy verlies aan die vermoë om ‘n inkomste in die toekoms te verdien. Die berekening word gewoonlik gedoen met verwysing na die verdienste wat hy van ‘n werk sou verkry wat hy sou gedoen het of sou kon doen. Van hierdie bedrag word afgetrek die verdienvermoë van die pasiënt met inagneming van sy beserings. Dit is bekend dat hierdie berekenings nouliks met matematiese presiesheid gemaak kan word. Veranderlikes en gebeurlikhede kan die gevolg hê dat die aanvanklike aannames of veronderstellings uiteindelik verkeerd blyk te gewees het. Siekte en tydperke van werkloosheid kan intree, die waarde van geld kan afneem of toeneem, onverwagte uitgawes kan voorkom, en dies meer. Dit is dan juis om hierdie redes dat sogenaamde gebeurliksheidaftrekkings of gebeurlik­heids­byvoegings gemaak word. Faktore wat relevant geag mag word kan ook nouliks apart bereken word as gebeurlikhede. So byvoorbeeld word die feit dat ‘n pasiënt ‘n huis sal koop, homself en andere sal onderhou, ensovoorts, nie apart bereken ten opsigte van sy pre-morbiede of sy post-morbiede toestand nie. Die gedagte, soos ek dit sien, is dat hierdie faktore in werklikheid meestal onmoontlik is om te bepaal, en in elk geval mekaar in meeste gevalle uitkanselleer.


  1. Wat ook nie apart in berekening gebring word nie is wat ‘n persoon byvoorbeeld met sy inkomste sou gedoen het. Sou hy getrou het en kinders gekry het en sy spaargeld onder die bed gebêre het, of sou hy ongetroud gebly het en met sy spaargeld gewoeker het, en indien wel, hoe suksesvol sou hy gewees het. Of sou hy al sy geld uitgedobbel het. Dit is in meeste gevalle onmoontlik om eers naastenby te weet wat die finansiële posisie van ‘n persoon deur sy lewe of aan die einde daarvan sou gewees het.


  1. Aan die ander kant moet gewaak word teen ‘n blote blinde raaiskoot. Sovêr moontlik moet die hof ‘n berekening probeer maak wat baseer is op aannames wat op getuienis berus of ten minste op aannames wat die hof as algemeen aanvaarbaar ten opsigte van die betrokke geval bevind en wat nie té spekulatief van aard is nie.


  1. In die nie te verre verlede nie, altans in hierdie land, het sekerlik die grootste gros van die werkende bevolking in redelik gestruktureerde beroepe met redelike vaste inkomste-patrone inbeweeg. Selfs studie­rigtings in tersiëre inrigtings was stereotiep en redelik beperk in omvang. Daar was altyd die intrepeneur-tipe wat kanse gewaag het maar dit sou meer die uitsondering as die reël gewees het. Ek verstout my om die mening te waag dat dit nie vandag meer die geval is nie en dat die hof daarvan behoort kennis te neem. Besigheidsgeleenthede en werksmoont­lik­hede het vermenigvuldig. Tersiëre instellings bied ‘n magdom tipe kursusse aan wat voorheen totaal onbekend was. Selfs op skole word deesdae sogenaamde intrepeneurskap as vak aangebied. Jong mense wat die beroeps­wêreld betree is baie beter ingelig oor beroepsmoontlik­hede en besigheidsmoont­lik­hede as wat met hulle voorgangers die geval was en is baie beter toegerus om uit die stereotipe beroepe van hulle voorvaders te beweeg. Boonop het die wêreld die rekenaar-era betree. Baie, indien nie die meeste huishoudings beskik oor persoonlike rekenaars. Meeste is gekoppel aan die internet. Die wêreld is waarlik deesdae die sogenaamde “global village” en ons land is deel daarvan. Besigheidsgeleenthede is derhalwe vir alle praktiese doeleindes letterlik op die vingerpunte van baie vir wie dit voorheen totaal onbekend was. Veral met die aankoms van die sogenaamde nuwe demokrasie in ons land het die klem op werkskeppende aktiwiteite geval, juis in die privaat-sektor, en beleggingsmoontlik­hede het vermenigvuldig. Ek is van mening dat ek ook kan kennis neem van die feit dat daar seker nie ‘n wooneenheid in gevestigde gebiede in die land is wat in die laaste enkele jare nie in waarde meer as verdubbel of verdriedubbel het nie. Selfs op ‘n konserwatiewe beskouing is daar dus nie net ‘n moontlikheid dat die gewone salaristrekker sy inkomste sal kan aanvul deur met sy spaargeld te woeker nie maar is die kanse goed dat kapitale bates in waarde kan toeneem en dat sulke bates gebruik kan word om toegang tot verdere fondse te verkry.


  1. Natuurlik is die prentjie nie altyd so rooskleurig nie maar wat nie ignoreer kan word nie is dat die siening van ‘n persoon se toekomstige finansiële lotgevalle baie moeilik met enige mate van sekerheid bepaal kan word, en veral dat tradisionele sienings en aannames van ‘n paar jaar gelede, dalk nie meer ewe geldig is in vandag se tyd nie.


  1. In die onderhawige saak is ‘n faktor wat normaalweg vir doeleindes van ‘n pre-morbiede gebeurlikheid in ag gehou kon word, naamlik die moontlik­heid dat B ‘n ander of beter of swakker beroepsinkomste sou verdien het, nie ter sake nie. Sy moontlike verkorte lewensduur is ook as ‘n gebeurlikheidsfaktor uitgeskakel. Maar wat na my mening ook in ag gehou moet word is die moontlikheid dat B met gespaarde uitgawes sou kon woeker of dat byvoorbeeld onroerende eiendom wat hy in die normale loop van sake sou aangekoop het, drasties in waarde sou kon toeneem en daarom op sigself vir hom ‘n finansiële voordeel sou inhou of ten minste sou veroorsaak dat fondse aan hom beskikbaar sou word om mee te woeker wat andersins nie die geval sou gewees het nie.


  1. Ek is gevolglik nie oortuig dat die gebruiklike pessimistiese beskouing ten opsigte van gebeurlikheidsaftrekkings meer noodwendig in alle gevalle geldig is nie. Wat dit ook moontlik mag meebring is dat die beskouing dat ‘n groter aftrekking geregverdig is ten opsigte van ‘n jong persoon omdat die persoon soveel langer aan die negatiewe faktore van die lewe blootgestel sal wees, as wat die geval is met ‘n ouer persoon, in ‘n gegewe geval teengewerk word, of selfs oorskadu word, deur die ander positiewe faktore wat ek hierbo na verwys het. Die geleenthede wat vandag vir die jonger persoon beskikbaar is, is ‘n faktor wat baie meer positiewe vooruitsigte daarstel as vir die ouer persoon wat reeds in ‘n gevestigde beroep is en waarskynlik daar sal bly. Na my mening is die aanmerkings van Sy Edele Nicholas AR in Southern Insurance Association Ltd v Bailey NO 1984 (1) SA 98 (A) op p117 vandag meer geldig as ooit. Vanaf p116 in fin het die geleerde regter soos volg na die aangeleentheid verwys:

The amount of any discount may vary, depending upon the circumstances of the case. See Van der Plaats v South African Mutual Fire and General Insurance Co Ltd 1980 (3) SA 105 (A) at 114   5. The rate of the discount cannot of course be assessed on any logical basis: the assessment must be largely arbitrary and must depend upon the trial Judge's impression of the case.

The appellant's counsel strongly attacked the discount of 10% which Vos J made for contingencies. He submitted that a factor of 50% would have been appropriate in the circumstances, especially in view of the fact that Danderine was a young child with virtually her whole life before her, so that she would have been exposed for a very long time to the vicissitudes of life.

It is, however, erroneous to regard the fortunes of life as being always adverse: they may be favourable. In dealing with the question of contingencies, WINDEYER J said in the Australian case of Bresatz v Przibilla [1962] HCA 54; (1962) 36 ALJR 212 (HCA) at 213:

It is a mistake to suppose that it necessarily involves a 'scaling down'. What it involves depends, not on arithmetic, but on considering what the future may have held for the particular individual concerned... (The) generalisation that there must be a 'scaling down' for contingencies seems mistaken. All 'contingencies' are not adverse: All 'vicissitudes' are not harmful. A particular plaintiff might have had prospects or chances of advancement and increasingly remunerative employment. Why count the possible buffets and ignore the rewards of fortune? Each case depends upon its own facts. In some it may seem that the chance of good fortune might have balanced or even outweighed the risk of bad.’"


  1. In die lig van wat ek hierbo gesê het, is ek wel deeglik bewus daarvan dat die moontlikheid van vroeë afsterwe reeds in hierdie saak verdiskonteer is sowel as die aard en omvang van B se toekomstige beroep en inkomste indien hy nie beseer was nie. Waarop ‘n premie geplaas moet word is dus die ander tipe gebeurlikhede waarna ek hierbo verwys het.


Gespaarde uitgawes vanweë geen huwelik:

  1. Namens die verweerder is betoog dat vanweë die feit dat B nooit in die toekoms in die huwelik sal tree nie, hy daarvanweë, en dus as gevolg van sy beserings, die baie groot onkoste wat ‘n huwelik na bewering meebring, sal spaar. Volgens die verweerder was hierdie ‘n belangrike aspek wat ‘n groot gebeurlik­heids­aftrekking regverdig. As gesag is na die beslissing van Reid v South African Railways and Harbours 1965(2) SA 181 (D&K) op p190F-G verwys.


  1. Namens die eiser is ek, onder andere, verwys na die saak van General Accident Insurance Co SA Ltd v Summers; Southern Versekeringsassosi­asie Bpk v Carstens NO; General Accident Insurance Co SA Ltd v Nhlumayo 1987 (3) SA 577 (A) waar Sy Edele Rabie Wn HR (met wie Jansen AR, Viljoen AR, Hoexter AR en Botha AR saamgestem het), op p617B-H dieselfde tipe argument in die volgende terme verwerp het:

Die verweerder maatskappy (nou die appellant) het betoog dat aangesien Clive se toestand as gevolg van sy beserings sodanig was dat hy na alle waarskynlikheid nooit sou kon trou en kinders hê nie, dit vir hom 'n groot besparing sou meebring. Daar is betoog dat die betrokke bedrag, gekapitaliseer soos op die datum van die delik, R17 661 was en dat die skadevergoedingsbedrag waarop hy andersins geregtig sou wees met hierdie bedrag verminder moet word. Die Verhoorregter het die betoog nie aanvaar nie, hoofsaaklik omdat, soos dit in sy uitspraak gestel word,

'(t)he various matters assumed by Mr Koch are in my judgment far too speculative to allow of any accurate quantification'

en hy het gevolglik besluit

'to approach this aspect on a more generalised basis and to include this as one of the factors to be taken into account when making a deduction for general contingencies'.

(Kyk op 1024D   F.)

Afgesien van die rede waarom die Verhoorhof nie die appellant se betoog aanvaar het nie, is daar die vraag of dit hoegenaamd geoorloof sou wees om die bedrag wat iemand skade ly deurdat sy verdienvermoë vanweë beserings vernietig is te verminder omdat hy in die toekoms nie sal trou nie en nie kinders sal hê nie en dus die geld wat hy aan 'n vrou en kinders sou bestee het, bespaar. Die appellant beroep hom op Reid v South African Railways and Harbours 1965 (2) SA 181 (D) F , waar Fannin R gesê het (op 190F   H):

'The plaintiff's physical condition and in particular the total loss of his sexual and procreative functions render it unlikely that he will ever marry. While this factor is to be taken into account in estimating the damages suffered by him as a result of loss of amenities of life, it should, I think, also be taken into account in estimating the compen­sation to be awarded to him for his loss of earning capacity. This is so because if he does not marry he will not have to maintain a wife or children, and if he does marry he will not have any natural children to maintain.'

Ek vind dit moeilik om hierdie siening van die aangeleentheid te aanvaar. As 'n besering iemand se verdienvermoë vernietig en hy as gevolg daarvan R50 000 verloor wat hy sou verdien het indien hy nie beseer is nie, dan   so kom dit my voor   beloop sy skade R50 000, of hy daarna trou of nie. Dit mag wel wees dat indien so iemand nie trou nie hy minder uitgawes sal hê as wat hy sou gehad het indien hy getrou het, maar hoe dit kan beteken dat die verlies van sy verdienvermoë minder as R50 000 is en dat dié bedrag derhalwe verminder moet word, is vir my nie duidelik nie. Maar hoe dit ook al sy, dit is nie nodig om 'n finale mening oor hierdie aangeleentheid te gee nie. Aaron Wn R het, soos hierbo aangetoon is, 'n toelating gemaak vir die waarskynlikheid dat Clive nie sou trou nie, en ek vind my nie bereid om te sê dat sy besluit gewysig moet word nie.”


  1. Hoewel hierdie bevinding obiter was, dra dit om klaarblyklike redes groot gewig. Hierbenewens stem ek met eerbied met die bevinding saam vanweë die logika daarvan vir die rede genoem in die aangehaalde passasie. Hierbenewens hou ek in ag dat ‘n huwelik ook nie noodwendig ‘n groter uitgawe vir die betrokke individu meebring as die uitgawes van ‘n enkellopende nie, en indien wel in ‘n bepaalde geval, dat die uitgawes wat “gespaar” sou word in elk geval so onseker en hipoteties en onbepaalbaar is dat dit nouliks as ‘n werklike voordeel aangemerk kan word. (Cf Visser en Potgieter, Law of Damages (2de Uitgawe) op 220 vtn 118). Boonop is dit in vandag se tyd eerder die reël as die uitsondering dat vrouens ook werk en bydra tot die huishouding, wat outomaties die bedrag van die manlike eggenoot se gespaarde inkomste verhoog. Die getroude man se gespaarde inkomste kan ewe seer, vanweë sy huwelik, die gespaarde inkomste van die enkellopende persoon oorskry.


  1. Wat nog swaarder weeg is die feit dat hierdie argument namens die verweerder impliseer dat die beseerde persoon wel sou trou indien hy of sy nie die beserings opgedoen het nie. Dit is sekerlik nie ‘n aanname wat in vandag se tyd sondermeer ‘n noodwendig­heid is nie. Wat by my egter die swaarste oorweging geniet is my twyfel in die morele regverdiging van hierdie betoog. Dit kom uiters opportunisties voor om ‘n voordeel te probeer beding uit die aard en erns van die besering self. Indien daar by wyse van ‘n toekenning duidelik, pertinent en apart voorsiening gemaak is vir die verlies aan die betrokke lewens­genieting, mag daar moontlik in bepaalde gevalle regverdiging wees vir ‘n aftrekking ten opsigte van die uitgawes wat moontlik gespaar sou word vanweë daardie verlies. In casu is daar geen ruimte vir ‘n aftrekking op hierdie basis nie.


Institusionalisering - duplisering van toekennings:

  1. Die derde faktor waarna Adv Delport verwys het is die feit dat B vir die res van sy lewe in ‘n inrigting sal deurbring, waarvoor hy apart deur die respondent vergoed sal word, en dat daar gevolglik ‘n besparing van uitgawes vir hom sal wees. Anders gestel, indien ‘n aftrekking met verwysing na huisvesting en voeding nie gemaak word nie, sal dit, aldus die betoog, tot ‘n oorvleueling van toekennings lei.


  1. In hierdie verband is verwys na die aangeleentheid van Kontos v General Accident Insurance Company SA Ltd (Corbett & Honey, Volume V), A2-1 op A2-4 tot A2-6 waar Sy Edele van der Merwe R die volgende gesê het:

“ ‘ The present matter is not one in which adjustments should be made only for the “normal” factors and contingencies. If only “normal” factors and contingencies were to be taken into account I would have made but only a small adjustment, particularly in view of the fact that a relatively short period of time is involved. In words of Corbett and Buchanan op cit p 72, this is the type of case which call for an orthodox treatment. The same line of approach was followed in Roberts NO v Northern Assurance Ltd 1964 (4) SA 531 (D) at 537B-H (Vol I 573 at p 579) where BURNS J said the following:

The conclusion to which I have come is that I should award one lump sum to cover all aspects of the claim for general damages. I consider it wholly inappropriate, in the circumstances of the present case, to endeavour to put a separate money value on the claim for loss of future earnings along the lines suggested my Mr Broome. In the main, I have two reasons for this view. The first is that I consider it fallacious to say, on the facts of this case, that David’s patrimonial loss, in respect of the money which he would have earned, is the gross present-day value of such money. Nor do I think the fallacy is removed by the nation that deductions for contingencies should be made. In the case of the ordinary working man, who has settled employment and who is faced with the normal expenditure that goes with life, it is, I think, logical to say, that if he is prevented by injuries which he has received from earning money which he would otherwise have earned, he has suffered patrimonial loss in the sum total of his lost earnings. And, even if the injuries are such that he will be prevented for a long time, even perhaps for years, from earning money, the court does not, as a rule, have any difficulty in regarding his loss of earnings, subject to suitable deductions, as a direct patrimonial loss. But, in such cases, the man’s normal expenditure continues during the time he is prevented from earning money, and it is only just that the person who has caused the injuries should (subject to appropriate deductions for contingencies) be responsible for the loss of earnings. The present case, however, is totally different from the normal case. Indeed, there seems to be no comparable case to be found in the law reports of this country. For the present, I leave out of account the fact that, at the time of the accident, David had no settled employment and was still in school. But, apart from that, the case is unique in the respect that the very injuries which have prevented David from earning money, have also had the result that it will never be necessary for him to attempt to earn any. His life will continue without any need for the expenditure of money on any of the normal items which fact the ordinary man, except the few items mentioned by Dr Patterson. In such circumstances, it seems to me that the view that all one need look at is the amount of money which David will be prevented from earning is a fallacious view. It ignores the consideration that he will be relieved of almost all the ordinary expenses of living.”


I associate myself fully with this approach. I also associate myself with the comments of Corbett and Buchanan op cit p 73 on the Roberts case, supra, where the learned authors say:

Not to make an allowance in this manner results in overlapping of awards.”

See also Southern Insurance Association Ltd v Bailey NO 1984 (1) SA 98 (A) at 113F, Fletcher v Autocar and Transport Ltd 1968 (1) A11 ER 726 at 734 A-G and 737 D-H. See also Lim poh Choo v Camden & Islington Area Health Authority 1979 (2) A11 ER 910 at 922A-C.

Whether an award in particular case would result in overlapping or duplication of awards depends entirely on the facts of a particular case. In the present matter I am satisfied that, if the defendant pays amounts in terms of the certificate for future medical and hospital expenses and I do not provide for a deduction in the respect of expenses saved, there will be a duplication of compensation awarded.

Both counsel were in agreement that a great number of uncertainties around the question of the saving of expenses. That is indeed so. It is clear, however, that the plaintiff will inter alia be able to order himself food of his own liking from a restaurant, or from family and friends. Furthermore, although it may be possible only on rare occasions, he will be able to visit a restaurant. Indeed the plaintiff will be able to bring some homely pleasures with its expenses to his hospital bed.

In all the circumstances, I am of the opinion that the percentage contingency deduction in respect of both past and future loss of income should be 50 per cent.

Sien ook Dyssel NO v Shield Insurance Co Ltd 1982 (3) SA 1084 (K) op p1086A.


  1. Namens die eiser het Adv Mullins verwys na die aangeleentheid van Bobape v President Insurance Co Limited 4 C&B A4-43 (W) waar die verweerder argumenteer het dat omdat die kind Lawrence geïnstitusionali­seer sou moes word, sou hy “forever be provided with a roof and with food and possibly also some of the other minor necessities of life” (A4-54), en dat daar om hierdie rede ‘n gebruiklikheidsaftrekking toegepas behoort te word op die syfer vir verlies aan verdienvermoë. Die verweerder het in daardie saak ook die voormelde huweliks-argument geopper. Levy WnR het hierdie argumente in die volgende terme op A4-54 verwerp:

I have been pressed also with the submission that Lawrence if he reached adulthood and became employed would have had to maintain himself out of his earnings and that if he is placed in a home such as Little Eden he will forever be provided with a roof and with food and possibly also some of the other minor necessities of life, whereas if he were left to his own devices he would be obliged to maintain a home, probably become married and have children and so be obliged to maintain his family and provide a home for them. It is said therefore that in the end without any substantial deduction being made for these off-setting factors that Lawrence would be unduly benefitted by an award based upon the actuarial calculation of his loss of income. I cannot agree...How Lawrence would have spent his money when he would have earned it is his choice and decision...That he will be given free alimentation is also not to be taken into account. It is what defendant offer in lieu of leaving him at home to fend for himself...”


  1. Adv Mullins het ook verwys na die bevinding van Sy Edele Hartzenberg R in Delport NO v Road Accident Fund, 5 C&B A4-1 (T) op A4-6 tot A4-7 wat soos volg lees:

Ek wil net op hierdie stadium meld dat ek definitief verskil van Mnr Delport wat aanvoer dat daar op ‘n manier ‘n vermindering van die pasiënt se skade moet wees omdat sy nou bedgekluister is en gevolglik nie meer mooi kan aantrek nie, nie kan reis nie en nie geld kan uitgee op vermaaklikheid nie. Dit lê nie in die mond van die persoon wat verantwoordelik is vir die pasiënt se toestand om ‘n voordeel te wil beding vir hierdie gevolg, wat myns insiens niks met die deliktepleger te doen het nie.”


  1. Die uitspraak in die Delport NO saak is op appél bevestig. Zulman AR (met wie Van Heerden en Ponnan ARR saamgestem het), het in paragraaf [20] van die appéluitspraak (Road Accident Fund v Delport NO 2006 (3) SA 172 (SCA)) gesê dat dit

is not necessary to express a view on the correctness or otherwise of the learned judge’s...statement.... This is so as no evidence whatsoever was led by the appellant as to the nature or extend, if any, of such savings. Nor was this aspect canvassed during the cross-examination of the respondent’s witnesses. In those circumstances, it can hardly be contended that the learned judge erred....”


  1. Sien ook Visser en Potgieter Law of Damages (2de uitgawe) p.220:

Our law has refused to deduct a plaintiff’s savings on normal living expenses from a claim for hospital costs [fn.103: See Palmer v SA Mutaul & Fire General Insurance Co. Limited Corbett and Buchanan 1 327; cf. generally on this Luntz, Damages 48-50 and Shearman v Folland [1950] 2 KB 43 (CA) plaintiff saved on expenses for hotel accommodation while hospitalised - this benefit not taken into account). In Ngubane v SA Transport Services [1990] ZASCA 148; 1991 (1) SA 756 (A) at 782 the court, for lack of evidence, rejected an argument that the savings caused by the fact that the plaintiff would stay in a cheap area should be deducted from his claim for loss of earning capacity.].”


  1. In D'Ambrosi v Bane And Others 2006 (5) SA 121 (C) het Sy Edele van Zyl R ook geweier om ‘n aftrekking of ‘n aanpassing te maak vir die verhoogde lewenskoste waarmee die eiser belas sou wees indien hy sy inkomste in London sou verdien het, soos wat vir doeleindes van die berekening aanvaar was.


  1. Die eerste wat opval van die argument namens die verweerder is dat aangeneem word dat B vir die res van sy lewe geen ander huisvesting sal benodig as die inrigting waarin hy gaan wees nie en geen ander kos sal eet as wat deur daardie inrigting aan hom verskaf word nie. Dit was nie die feite voor hierdie hof nie en hierdie aannames is verkeerd. B is inderdaad erg gestrem, maar hy is heeltemaal bewus van wat om hom aangaan. Hy besoek tans naweke sy familie waar hulle woon, hy gaan op uitstappies en in die algemeen kan hy die lewe en dit wat die lewe in die form van ontspanning en vermaak bied, geniet. Al wat B in hierdie opsigte anders maak is dat sy belangstellings kinderlik van aard is en dat hy altyd onder toesig sal moet wees. Hy is in staat om ‘n lewe buite die inrigting te hê en hy is ook geregtig daarop. Benewens huisvesting en voedsel, sal hy inderdaad addisionele uitgawes hê in die vorm van vervoer en ook toesig wanneer hy die inrigting verlaat.


  1. Tans besoek B sy familie waar hulle tuisgaan, maar dit is nie te sê dat hy nie geregtig is om eendag sy eie huisvesting buite die inrigting te hê nie. Veral as sy ma eendag nie meer daar is of hom kan inneem nie, is hy sekerlik geregtig om aanspraak te maak op sy eie huisvesting buite die inrigting waar hy tye kan spandeer. B sal dus in elk geval uitgawes ten aansien van huisvesting, voedsel, vervoer en ander aangeleenthede wat gewoonlik met huisvesting assosieer word, moet aangaan. Sy institusionalisering sal dus nie wesenlik ‘n besparing van uitgawes meebring nie.


  1. n Verdere aspek wat relevant is, is dat daar geen getuienis voor die hof geplaas was oor wat die beweerde gespaarde uitgawes gaan behels en wat die omvang daarvan gaan wees nie. Adv Delport het ook geen bedrag probeer koppel aan hierdie “gespaarde uitgawes” nie. Daar is ook geen poging aangewend om enige aanduiding te gee van wat byvoorbeeld B se geskatte huisvesting en voedsel uitgawes sou wees en om dit te vergelyk met die waarde van sy institusionalisering nie. Wat wel vasstaan is dat die kwaliteit van huisvesting en voedsel wat B sou geniet het, hoegenaamd nie vergelyk­baar is met dit waarmee hy in die inrigting tevrede sal moet wees nie. Watter waarde moet op hierdie verskil in kwaliteit geplaas word? Om ‘n gebeurlik­heids­aftrekking ten opsigte van hierdie aspek te maak is dus baie moeilik maar dit is duidelik dat selfs indien waardes gekoppel kan word aan hierdie items wat op die oog af oorvleuelings behels, dit nie met rekenkundige presiesheid gedoen behoort te word nie aangesien die voornoemde verlaging in kwaliteit, waarvoor die verweerder aanspreeklik is, sekerlik in berekening gebring behoort te word.


  1. Ek is gevolglik van mening dat die mate wat daar wel ‘n potensiële duplisering van toekennings kan wees, en waarteen uiteraard gewaak moet word, dit nie aangetoon is dat dit enigiets anders as relatief gering van aard in die besondere omstandighede van hierdie saak is nie.


  1. Alles in ag genome is ek derhalwe van mening dat addisioneel tot daardie gebeurlikhede wat reeds in die bestaande berekenings verdiskonteer is, ‘n gebeurlikheids­aftrekking van 20% ten opsigte van B se verlies aan verdienvermoë aangewese sal wees in die onderhawige geval.


Opsomming:

  1. Ter opsomming is die skade wat die eiseres gely het, die volgende:

(1) In haar persoonlike hoedanigheid, ten opsigte van gelede mediese koste, R118 336,00.

(2) In haar verteenwoordigende hoedanigheid, ten opsigte van:

(a) Toekomstige hospitaal-, mediese- en verwante uitgawes,

R1 506 035,00, bestaande uit die volgende komponente:

(i) Ooreengekome toekomstige mediese uitgawes, R658 576,00.

(ii) Arbeidsterapie, R47 906,00.

(iii) Koste van institusionalisering, R799 553,00.


(b) Verlies aan verdienste en verdienvermoë, (R2 000 000,00 min 20%), R1 600 000,00.

(c) Algemene skadevergoeding, R650 000,00.

(d) Koste van die curator bonis, (7,5% van die somtotaal van R3 756 035,00 bestaande uit toekomstige hospitaal-, mediese en

verwante uitgawes van R1 506 035,00 soos per paragraaf (a) hierbo,

verlies aan verdienste en aan verdienvermoë van R1 600 000,00 soos

per paragraaf (b) bierbo, en algemene skadevergoeding van R650 000,00 soos per paragraaf (c) hierbo), R281 702,63.


Die somtotaal van die eiseres se skade in haar verteenwoordigende hoedanigheid beloop derhalwe R4 037 737,63.


  1. Soos voormeld het die partye ooreengekom dat die verweerder slegs aanspreeklik is vir 90% van eiseres se skade. Met inagneming van ‘n 10% vermindering is die verweerder derhalwe aanspreeklik teenoor die eiseres in haar persoonlike hoedanigheid in die bedrag van R106 502,43 en in haar verteen­woordigende hoedanigheid in die bedrag van R3 633 963,87.


Die Curator Bonis:

  1. Die partye is dit eens dat ‘n curator bonis vir B aangestel moet word en beklee moet word met sekere magte, bevoegdhede en pligte. Ek is tevrede dat ‘n behoorlike saak hiervoor uitgemaak is. Wat betref die identiteit van die curator bonis het die eiseres voorgestel dat Mnr Charles Harold van Breda aangestel word. Mnr van Breda is ‘n senior praktiserende prokureur en senior direkteur van die firma Van der Spuy en Vennote in Kaapstad. Mnr van Breda se curriculum vitae het voor my gedien saam met sy skriftelike toestemming tot aanstelling. Ek is tevrede dat dit gepas sal wees om Mnr van Breda as B se curator bonis aan te stel en hom te beklee met die magte, bevoegdhede en pligte wat in hierdie hof se bevel uiteengesit word.

Koste:

  1. Die verweerder het onderneem om die koste aangegaan ten aansien van deskundiges te betaal soos uiteengesit in hierdie hof se bevel. Die partye was dit ook eens dat die aanstelling van twee advokate in die omstandighede van hierdie saak geregverdig was. Ek stem daarmee saam.


Bygevolg word die volgende bevel gemaak:


1. Die verweerder word gelas om die bedrag van R106 502,43 aan die eiseres se Prokureurs van Rekord te betaal ten opsigte van die eiseres se eis in haar persoonlike hoedanigheid, tesame met rente daarop teen 15,5% per jaar vanaf datum van hierdie bevel tot datum van betaling.


2. Die verweerder word gelas om die bedrag van R3 633 963,87 aan die eiseres se Prokureurs van Rekord te betaal ten opsigte van die eiseres se eis in haar verteenwoordigende hoedanigheid namens Johannes Gerhardus Joubert (“B”), tesame met rente daarop teen 15,5% per jaar vanaf datum van hierdie bevel tot datum van betaling. Die eiseres se voormelde Prokureurs van Rekord is gemagtig om die prokureur-en-kliënt fooie en uitgawes ten opsigte van die aangeleentheid uit die kapitale bedrag te neem alvorens die balans aan die curator bonis, waarna hieronder verwys word, oorbetaal word.


3. Die verweerder word gelas om die eiseres se koste tot op datum te betaal, welke koste die volgende sal insluit:

(a) die koste van twee advokate;

(b) die koste verbonde aan die verkryging van die verslae van die volgende deskundiges: Mnr Ben Moodie se verslae onderskei­delik gedateer 30/05/2001 en 03/11/2006; Dr Kobus Truter se verslae onderskeidelik gedateer 25/11/2006 en 02/11/2006; Prof JC Peter se verslag gedateer 3/10/2006; Dr MM Lippert; Mev Wilma van der Walt; Dr Juan Bornman; Dr Gian Marus; Dr Theo Le Roux; WellsFaber-Human & Morris Aktuarisse.

(c) die koste verbonde aan die voorbereiding deur, en die kwalifise­rende en reserveringsfooie (indien enige) van, die volgende deskundiges: Mnr Ben Moodie; Mnr Kobus Truter; Dr Gian Marus; Dr Juan Bornman; Mev Wilma van der Walt; Dr W Hartman; Dr Theo Le Roux.


4. B word onbevoeg verklaar om sy eie finansiële sake te hanteer.


5. Mnr Charles Harold van Breda word hiermee aangestel as curator bonis van B se boedel, en hy word beklee met die volgende magte, bevoegdhede en pligte:

(a) Om B se bates in ontvangs te neem, om daarvoor te sorg en om sodanige bates te beheer en te administreer;

(b) Om enige bedryf, besigheid of onderneming van B voort te sit of te beëindig, onderhewig aan enige paslike wetsbepaling;

(c) Om enige eiendom, hetsy roerend of onroerend, vir die voordeel van B te bekom hetsy deur dit te koop of andersins;

(d) Om enige eiendom wat aan B behoort of waarin hy ‘n belang mag hê te verhuur, te verruil, te verdeel en/of te vervreem vir enige regtens-geoorloofde doel, of om sodanige eiendom met verband te beswaar of te verpand;

(e) Om uitvoering te gee aan enige ooreenkoms wat B mag aangegaan het voor B se onbevoegdheidsverklaring;

(f) Om, waar B steeds beklee is met enige bevoegdheid om enige handeling te verrig, en waar die handeling tot voordeel van B is of sal wees, toestemming daartoe te verleen en om sodanige handeling namens B uit te voer;

(g) Om fondse ter onderhouding van B, hetsy teenswoordige of toekomstige onderhoud of ter onderhouding van B se eiendom of ander eiendom wat hy mag bewoon of andersins tot sy voordeel mag wees, te bekom by wyse van beswaring van enige van sy eiendom;

(h) Om enige gelde ter onderhouding of andersins tot voordeel van B aan te wend;

(i) Om gelde aan te wend ter verbetering van B se eiendom of van eiendom deur B bewoon, hetsy deur aanbouing of andersins;

(j) Om gelde wat aan B behoort aan te wend ten aansien van die onderhoud, die opvoeding of die vooruitgang van enige familielid of enige ander persoon wat in die geheel of gedeeltelik van hom afhanklik is en waar B, indien hy self daartoe bevoeg was, dit sou gedoen het;

(k) Om sodanige gelde waaroor B mag beskik en wat nie onmiddellik vereis word vir die doeleindes beoog in Artikel 82(c) van die Boedelwet, Wet 66 van 1965, te belê of te herbelê tot voordeel van B;

(l) Om enige verrigtinge in te stel of te verdedig wat nodig mag wees in die belang van B of in die belang van die behoorlike hantering van sy eiendom of belange of boedel;

(m) Om, sover moontlik, te verseker dat B deur die betaling van die kapitale bedrag toegeken soos hierbo, tesame met enige ander bedrae betaalbaar in terme van hierdie bevel, en deur die aanwending van sodanige betaling, beskerm word teen die gevolge van die beserings opgedoen deur hom in die tersaaklike voorval en sover moontlik daardeur in staat gestel word om sodanige finansiële voordeel te behaal as wat hy sou behaal het as dit nie vir die voorval was nie;

(n) Om onkostes aan te gaan ten einde te verseker dat B behoorlik versorg is.


6. Die voormelde aanstelling van die curator bonis is onderhewig aan die volgende:

(a) Dat die curator bonis sekuriteit verskaf tot die bevrediging van die Meester van die Hooggeregshof; en

(b) Dat die uitoefening deur die curator bonis van sy voormelde magte en bevoegdhede en pligte onderhewig is aan die beheer van die Meester van die Hooggeregshof.





C.P. RABIE

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF

22 Augustus 2007





NAMENS EISERES: ADV JF MULLINS SC

ADV CM DREDGE


IN OPDRAG VAN: VAN ZYL LE ROUX EN HURTER



NAMENS VERWEERDER: ADV PP DELPORT


IN OPDRAG VAN: MACROBERT ING


DATUM VAN VERHOOR: FEBRUARIE 2007


DATUM VAN UITSPRAAK: 22 AUGUSTUS 2007