South Africa: High Courts - Gauteng

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Courts - Gauteng >>
2007 >>
[2007] ZAGPHC 228
| Noteup
| LawCite
Van Wyk v Schmidt (A705/06) [2007] ZAGPHC 228 (5 October 2007)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)
NIE RAPPORTEERBAAR DATUM: 5/10/2007
In die saak tussen: SAAK NOMMER A705/06
LOUIS VAN WYK APPELLANT
En
V SCHMIDT RESPONDENTE
UITSPRAAK
PRELLER R:
Die respondente het die appellant aangespreek in die landdroshof van Pretoria vir skadevergoeding van R100 000,00 weens verkragting. In haar besonderhede van eis soos aangevul deur nadere besonderhede beweer die eiseres dat die verweerder haar by twee geleenthede, naamlik op 2 Junie en 14 Julie 2000 verkrag het in sy besigheidsperseel in Wapadrand, Pretoria. Die verweerder het ‘n kantoor bedryf vanuit sy woning en dit is waar die beweerde insidente plaasgevind het. In sy pleit beweer die verweerder dat hy ‘n seksuele verhouding met die verweerderes gehad het tussen Mei en ongeveer 18 Junie 2000 en hy ontken die res van die bewerings.
Die eiseres het self getuig en daarna is haar saak gesluit. Benewens die verweerder se eie getuienis is die getuienis van vier getuies aangebied ter ondersteuning van sy saak. Die landdros het al die getuienis oorweeg en haar gevolgtrekking was: “Hierdie hof is meer as tevrede dat die oorwig van waarskynlikhede die saak van die eiseres steun en verwerp dus die verweer van die verweerder.” Die appèl is in wese gemik teen hierdie bevinding.
Ter inleiding van sy betoogshoofde het mnr Kemp SC wat namens die appellant verskyn het, soos volg gefilosofeer:
“Rape is a particularly scary accusation. The difference between a heinous crime, conduct which evokes great revulsion in the community, and an ordinary activity in which billions engage every day, lies in the psyche of the two participants engaging in this, usually in privacy. There may be nothing objective to support whether the mental states were ‘yes, no, maybe, indifferent’ or varied between these at various stages. In such cases the legal process is such that it is the better performing witness who often carries the day, even if he or she is only a better actor. It is for this reason that our legal system has always emphasised the very great importance of facts outside the interaction of the parties or other outward manifestations consistent with their versions such as signs of violence, consistency of complaint, improbabilities in reaction, etc.”
Die moontlikheid van die verskyningsvorm van toestemming wat beskryf word as “varied between [yes and no] at various stages” moet in die huidige saak in gedagte gehou word.
Oor die brandende vraag van toestemming is daar in hierdie saak net twee getuies en hulle weerspreek mekaar direk. In die strafprosesreg het daar oor die jare sekere hulpmiddels uitgekristalliseer om die hof te help om te beslis of die staat in ‘n gegewe saak sigself van die bewyslas gekwyt het. Hoewel daar ‘n ander bewyslas ter sake is in ‘n siviele saak is daardie beginsels eweseer van toepassing waar dit gaan oor verkragting in ‘n siviele konteks. Dit is nie nodig om die beginsels of die beslissings hier op te noem nie maar ek sal sommige daarvan in die loop van hierdie uitspraak in meer besonderhede oorweeg.
Die geleerde landdros het in haar baie volledige uitspraak verwys na die beginsel wat so duidelik geformuleer is in National Employees General Insurance v Jagers, 1984 4 SA 437 op 440F en I dat by oorweging van die vraag of die party wat die bewyslas dra hom daarvan gekwyt het, die vraag van die geloofwaardigheid van getuies onlosmaaklik verweef is met die waarskynlikhede van die saak en dat die twee aspekte saam oorweeg moet word. Sien ook Dreyer v AXZS Industries 2006 5 SA 548 (HHA) te par [30]. Dit moet die korrekte benadering wees in die beoordeling van hierdie saak.
In haar beoordeling van die getuienis van die eiseres begin die landdros met die opmerking dat die eiseres die hof beïndruk het as ‘n geloofwaardige en eerlike getuie op wie se getuienis die hof kan staatmaak. Ek dink nie daar steek soveel in hierdie inleidende opmerking soos wat mnr Kemp namens die appellant aangevoer het nie. Dit volg nie noodwendig dat dit ‘n aparte besluit is wat die landdros geneem het aan die begin van die beoordelingsproses en dat sy toe die waarskynlikhede van die saak oorweeg het in die lig van ‘n aanvanklike geloofwaardigheidsbevinding nie.
Die eiseres se weergawe is kortliks soos volg:
Tydens die voorval het die eiseres en haar man nog saam gewoon, maar hulle was besig om te onderhandel oor die terme van hulle egskeidingsooreenkoms. Die egskeiding is eers in Desember van daardie jaar afgehandel. Hierdie aspek is nie in kruisondervraging verder ondersoek nie, maar dit lyk nie of betrekkinge tusen hulle te sleg kon gewees het nie. Toe die verweerder, wat sy toe al vir ‘n paar jaar geken het, eendag haar man bel in verband met besigheid, het sy hom gevra of hy nie vir haar werk het nie. Sy het kort daarna by hom begin werk as sekretaresse. Sy gewese vrou wat tevore die pos beklee het, het nog van tyd tot tyd ingekom om te help. Die eiseres het daagliks van Randburg na die ooste van Pretoria gery om by die werk te kom, wat na my skatting ‘n afstand van meer as sestig kilometer moet wees.
Die partye was op 'n redelik informele voet en het met mekaar grappies gemaak, dikwels met ‘n suggestie van ‘n seksuele konnotasie, hoewel dit waarskynlik meer van die kant van die verweerder gekom het. Die verweerder beweer dat daar ‘n verhouding tussen hulle aan die ontwikkel was en dat sy hom op die oggend van die eerste insident gebel het toe sy op pad werk toe was en hom meegedeel het dat as sy daardie dag by die werk opdaag in ‘n sweetpak, dit sou beteken dat sy nie onderklere dra nie. Hierdie bewerings van die verweerder is ten sterkste ontken deur die eiseres. Kort na haar aankoms by die werk het die verweerder toe seksueel met haar verkeer – volgens die verweerder met haar volle toestemming en samewerking, terwyl die eiseres beweer dat dit niks anders as ‘n verkragting was nie. Die insident het plaasgevind in 'n spaarkamer wat net langs haar kantoor was.
Die eiseres beweer (en dit is nie deur die verweerder ontken nie) dat omdat die huishulp op die betrokke dag nie by die werk was nie, daar geen sin in sou gewees het om te skree nie omdat niemand haar sou gehoor het nie. Die huis is redelik afgesonder van die bure en van toegang van die straat se kant af. Sy het ook nie eintlik fisies weerstand gebied nie omdat sy in tydskrifte gelees het dat dit tot gevolg sou kon hê dat sy ernstig beseer word.
Na die tyd het die verweerder aan haar gesê dat sy nie moet sê dat sy dit nie net soveel as hy geniet het nie en dat hulle altwee dit eweveel nodig gehad het. Sy het haarself gaan skoonmaak in die aangrensende badkamer en daarna gewoon by haar rekenaar gaan sit en aangegaan met haar werk. Daar was ‘n ongelooflike woede in haar en sy was kwaad vir haarself. Sy voer aan dat sy nog nooit in haar lewe iets aangepak het waarvan sy nie ‘n sukses gemaak het nie en dat sy ‘n geweldige verantwoordelikheid gevoel het teenoor die kunstenaars namens wie die verweerder opgetree het en daarom nie net kon loop nie – sekere kontrakte moes klaar gemaak word, en die telefoon moes geantwoord word, anders sou die kunstenaars geld verloor. Die verweerder sou ook altyd daarop aandring dat ‘n telefoon wat lui dadelik geantwoord moet word om te verhoed dat enige moontlike besigheid verloor word. In kruisondervraging (p.103) verduidelik sy verder dat die werk wat sy klaar gemaak het, vir haar ‘n “coping mechanism” was, en dat as sy nie die werk gedoen het nie, “die kantoor” geld sou verloor het.
Sy het nie dadelik vertrek huis toe nie, omdat sy bang was dat sy die verweerder elders in die huis sou raakloop op pad uit. Sy is eers weg teen ongeveer 12:00 nadat hy vertrek het na Wolmaransstad. Volgens haar het die verweerder haar gebel toe sy op pad huis toe was en gevra of sy “okay” is, en haar ook gewaarsku om nie iets dom te doen soos om haar man te bel en te vertel wat gebeur het nie.
Nadat sy tuis gekom het, het sy nie ‘n stortbad geneem en haarself geskrop nie, omdat sy vasberade was dat die verweerder nie ‘n patetiese verkragtingslagoffer van haar sou maak nie, maar het ‘n gewone bad geneem. Sy het ook nie haar man of enigiemand anders vertel wat gebeur het nie omdat niemand haar sou glo nie en sy bang was dat hulle sou sê dat hulle haar mos gewaarsku het teen die verweerder en sy nie wou luister nie.
Die insident was op ‘n Vrydag en sy is die Maandag terug werk toe, waar alles net aangegaan het soos normaal, asof niks gebeur het nie. Volgens haar is sy ‘n baie sterk persoon “binne–in my” en sy het haarself oor die naweek voorberei om op die Maandag weer te kon gaan werk. Sy was vasberade om ‘n sukses van die werk te maak en nie net haar goed te vat en te loop nie. Sy het egter dadelik begin om ander werk te soek, wat sy op die eerste dag gekry het. Die nuwe pos was eers beskikbaar vanaf die einde van Julie. Dit sou wees teen ‘n salaris van R2 000,00 per maand minder as wat sy by die verweerder verdien het.
Die verweerder getuig dat hy Sunette Bridges oor die naweek van 16 Junie ontmoet het en dat daar feitlik onmiddellik ‘n verhouding tussen hulle ontstaan het. Hy het haar vertel dat hy ‘n verhouding met sy sekretaresse gehad het, en hulle het ooreengekom om die verhoudings waarin beide van hulle tot in daardie stadium betrokke was, te beëindig. Die Maandag het die verweerder die eiseres vertel van sy nuwe verhouding en dat dit beteken dat hulle verhouding daarmee tot ‘n einde gekom het. Volgens hom het hulle na die eerste geleentheid nog ‘n paar keer intiem verkeer maar daarna nie weer nie. Dit alles is natuurlik ontken deur die eiseres. Sy sê dat na die eerste insident daar niks tussen hulle gebeur het nie, omdat sy gesorg het dat sy nooit alleen saam met hom in die huis is nie – sy het gedurig kunstenaars oorgenooi vir tee, en sy gewese vrou was ook nog dikwels daar om te help om die gemors uit te sorteer wat gelaat was deur sy vorige sekretaresse.
Die eiseres getuig dat sy op Vrydag 14 Julie die verweerder en sy nuwe vriendin op die lughawe moes gaan ontmoet toe hulle met sy kinders teruggekeer het van ‘n vakansie in Phuket. Hulle is almal na sy woning waar verweerder se gewese vrou die kinders kom haal het. Me Bridges het net haar goed bymekaar gekry en vertek. Toe die twee van hulle alleen in die huis oorgebly het, het hy haar ontbied na sy kantoor op die boonste vloer van die huis om verslag te doen oor wat gebeur het in sy afwesigheid. Die huishulp was wel in die huis, hoewel die eiseres nie geweet het presies waar sy was nie. Sy het geen onraad verwag nie, weens die hegte verhouding wat hy met sy nuwe vriendin gehad het en saam met wie hy so pas van ‘n vakansie teruggekeer het.
Toe sy halfpad met die trappe op was, het die verweerder haar aan die arm gegryp en haar gesleep tot bo waar hy haar in sy slaapkamer net langs sy kantoor, ingesleep het. Daar het hy weer met haar gemeenskap gehad. Sy getuig dat sy drie dinge gedoen het om hom te probeer keer:
Eerstens het sy hom gevra wat hy besig is om te doen, in die lig van sy verhouding met sy nuwe vriendin, waarop hy geantwoord het dat hy haar (die eiseres) gemis het.
Tweedens het sy aan hom gesê dat sy besig is om te menstrueer, omdat sy gewese vrou haar blykbaar vertel het dat dit die manier is om hom te stop. Dit het egter geen effek op hom gehad nie.
Derdens het sy probeer om hom van haar af weg te stoot, maar hy was te sterk vir haar.
Drie dinge is opvallend omtrent hierdie insident: sy het nie om hulp geskree nie, hoewel sy moes besef het wat aan die kom was toe hy haar op die trappe beetpak en die huishulp haar moes kon hoor as sy sou skree. Sy verduidelik dat dit weer die vrees vir besering is wat haar daarvan weerhou het. Tweedens is dit opvallend dat sy nooit in haar getuienis met verwysing na die voorval die woord “verkragting” gebruik nie, maar bloot praat van “intercourse”. Derdens het sy nooit getuig dat sy uitdruklik vir hom “nee” gesê het nie, selfs nie toe sy die geleentheid gebied is met ‘n direkte vraag oor die onderwerp nie (p.53 reël 10 – 15).
Die verweerder ontken dat daar so ‘n voorval plaasgevind het of dat hulle ooit gemeenskap gehad het nadat sy verhouding met me Bridges begin het.
Direk na die voorval het sy haar goed gevat en huis toe gery. Sy getuig verder dat sy nie ‘n klagte by die polisie gaan lê het nie omdat sy nie kans gesien het vir die mediese ondersoek nie, en ook nie om wat met haar gebeur het met ‘n vreemdeling te bespreek nie. Sy het dit ook nie met enigiemand anders bespreek nie.
Weer eens het sy die Maandag na die voorval soos gewoonlik gaan werk en sake het hulle verloop geneem asof daar niks tussen hulle gebeur het nie. Sy getuig dat as hy dit weer met haar sou probeer, sy hom ernstig te lyf sou gaan. Sy het weer eens seker gemaak dat daar altyd ander mense in die huis was, en het verweerder op die Maandag meegedeel dat sy bedank. Hy was volgens haar in “absolute skok” oor die nuus maar hy was slegs begaan oor wat die mense sal dink as daar weer ‘n sekretaresse van hom bedank na ‘n kort tydjie. Hy het haar gevra om as verskoning aan te voer as sy gevra sou word waarom sy bedank het, dat sy nie elke dag so ver kon ry nie.
Byna drie jaar later, in Mei 2003, is die dagvaarding uitgereik. Sy het weliswaar aan haar prokureur gemeld dat sy die eis wil instel nadat haar egskeiding in Desember 2000 afgehandel was, maar sy het toe nog nie sterk genoeg gevoel om dit te doen nie. Haar moeder was toe ook ernstig siek en sy wou haar nie ontstel deur haar van die insident te laat agterkom nie. Haar moeder is oorlede in Maart 2003. Verder het sy en haar gewese man versoen geraak op ‘n datum wat nie vermeld word nie. Sy het hom toe vertel wat gebeur het en op sy aandrang het sy berading ondergaan. Dit het uiteindelik daartoe gelei dat sy sterk genoeg gevoel het om die saak aanhangig te maak. Laastens het sy eendag in die pers verneem dat ‘n ander dame ‘n eis teen die verweerder ingestel het weens een of ander vorm van seksuele molestering en dit het haar die laaste bietjie moed gegee om met die saak te begin.
Haar kruisondervraging het nie veel opgelewer wat noemenswaardig is nie. Ek noem net ‘n paar aspekte:
Aanvanklik was sy baie seker dat die voorval op 14 Julie plaasgevind het. Na ‘n debat in haar teenwoordigheid oor die implikasies daarvan as sy die datum verkeerd het, het sy toegegee dat sy daarmee ‘n fout kon gemaak het. Daar draai egter nie veel om daardie vergissing op sigself nie, omdat sy daarop bly staan het dat dit plaasgevind het op die dag toe sy die verweerder en sy geselskap op die lughawe gaan ontmoet het. Die enigste effek daarvan is dat mens blykbaar oor die algemeen nie veel peil kan trek op haar getuienis wanneer sy beweer dat sy seker is oor ‘n datum sonder dat sy dit aan ‘n voorval kan koppel nie.
Dit het uit haar kruisondervraging geblyk dat nadat sy op ‘n Vrydag haar laaste dag by die verweerder gewerk het en die volgende Maandag in haar volgende betrekking sou begin, sy hom op Saterdag 29 Julie vrywillig en sonder dat dit deel was van haar werksverpligtinge, gaan help het met ‘n optrede by Carnival City.
Verder het sy haar weerspreek oor haar pratery met die pers toe daar berigte oor haar klagte verskyn het kort voor betekening van die dagvaarding, en eers kon sy nie onthou nie maar het later ontken dat sy met die getuie Breytenbach gepraat het oor ‘n verhouding wat sy met ‘n ander man gehad het. Sy weerspreek haarself ook in twee opeenvolgende vrae oor die vraag of sy die gemelde Breytenbach goed geken het of nie (p.74).
Ek het redelik volledig gehandel met die getuienis van die eiseres en het reeds tot ‘n groot mate die verweerder se weergawe op rekord geplaas waar hy van haar verskil. By die beoordeling van sy weergawe moet ‘n mens in gedagte hou dat hy eers drie jaar later, toe hy die dagvaarding ontvang het, vir die eerste keer nodig gehad het om weer aan die voorval te dink. Dit is dus goed te verstane dat hy heelwat van die insidente daaromheen sou vergeet het. Dieselfde geld in nog ‘n groter mate vir die getuies wat namens hom getuig het. Behalwe vir me Bridges wat ‘n nouer verbintenis met die verweerder gehad het, het sy ander getuies geen rede gehad om in besonder kennis te neem van die tersaaklike insidente nie. Wat hulle na drie jaar sou kon onthou was dus bloot toevallig en hulle kan nie verkwalik word as hulle herinnering vaag is nie.
Aan die ander kant was die eiseres van die begin af van plan om ‘n aksie in te stel en het waarskynlik oor die drie jaar wat verloop het die gebeure gereeld in haar gedagtes herroep. Verder is sy waarskynlik in die proses van die berading wat sy ontvang het verskeie kere deur die hele voorval geneem en miskien selfs aangemoedig om besonderhede wat sy nie kan onthou nie, in te vul.
‘n Kompliserende faktor was die feit dat ‘n deel van die opname van die verweerder se getuienis baie swak was en heelwat dele daarvan in die rekord as onhoorbaar aangedui word. Ek het dit opgeneem met beide advokate en is meegedeel dat die bande nie meer beskikbaar is om ‘n verbeterde rekord te probeer saamstel nie. Beide was tevrede dat daar niks van wesenlike belang verlore gegaan het nie en dat ons kan voortgaan om die saak te beoordeel op die rekord soos dit is.
Die verweerder het getuig dat die eiseres op die nag van Vrydag 9de Junie by hom oorgeslaap het omdat hulle vroeg die volgende dag sou begin om opnames te maak. Hoewel hulle die nag saam geslaap het, is sy vroeg die oggend uit na die spaarkamer omdat hulle nie wou gehad het dat die televisiespan moes weet dat sy daar geslaap het nie. Die getuie Breytenbach getuig dat hy die oggend daar was vir die opname en dat hy opgemerk het dat dit nie gelyk het of sy die oggend vroeg genoeg opgestaan het om nog van Randburg af oor te gery het nie. Toe hy daaroor ‘n opmerking gemaak het teenoor haar, het sy hom meegedeel dat sy die nag daar geslaap het. Sy sou ook by ‘n ander geleentheid aan hom gesê het dat die werk haar pas omdat sy “by die baas slaap”. Hierdie bewerings is betwis in kruisondervraging.
Die verweerder het met verwysing na sy kredietkaartstaat probeer aantoon dat hy in Margate was en nie in Pretoria kon gewees het op 14 Julie toe die eiseres beweer dat hy haar verkrag het nie. In kruisondervraginig was daar ‘n lang en onsinnige debat in ‘n poging om aan te toon dat nadat hy na Margate gereis het, hy die volgende dag teruggekom het na Pretoria om die eiseres te verkrag, omdat daar ‘n debiet van ‘n tolhek op sy staat verskyn het wat dit sou aantoon. Dit het blykbaar by niemand opgekom dat die datum wat op die staat aangetoon word die datum is waarop die betrokke handelaar die debiet by die bank aanbied, en nie die datum van die transaksie nie.
Ook die huishulp is geroep as getuie. Sy het deur ‘n tolk getuig. Die belangrikste gedeelte van haar getuienis was dat sy nog onthou dat die eiseres in die huis oorgeslaap het die nag voordat die televisiemense vroeg die oggend daar aangekom het en dat sy die oggend vir die eiseres koffie in die bed gebring het. Sy het haar weerspreek oor die kwessie of sy in staat is om ‘n Engelse koerant te lees en ook oor wie by ander geleenthede in die huis oorgeslaap het. Die verhoorhof het haar getuienis redelik kort en klaar afgemaak met die opmerking dat sy ‘n ongunstige indruk op die hof gemaak het en dat die hof haar nie ervaar het as ‘n eerlike getuie nie.
Wat hierdie getuie betref moet mens in gedagte hou dat sy klaarblyklik nie ‘n besonder gesofistikeerde persoon is nie. Sy kon ook vir die eerste keer eers drie jaar na die insident daarna uitgevra gewees het en sy kan nie verkwalik word as haar herinnering daaromtrent vaag is nie. Dit verduidelik bes moontlik ook haar houding dat sy nie verdere vrae wou beantwoord nie. Die volgende opmerking van HARMS AR in Body Corporate of Dumbarton Oaks v Faiga 1999 1 SA 975 (A) op 979 is ook vanpas:
“To decide a case on demeanour where the evidence is interpreted from one language to another, requires a brave adjudicator.”
Me Christina de Klerk het getuig dat sy vir die verweerder gewerk het in Johannesburg en dat sy geen klagtes gehad het oor die verweerder se optrede teenoor haar nie. Sy het by die verweerder se gewese vrou oorgeneem wat voor haar daar gewerk het en die eiseres het haar opgevolg. Sy het bedank toe hy met sy besigheid na Pretoria getrek het omdat sy nie kans gesien het om daagliks van Johannesburg na Pretoria te reis nie. Die doel van haar getuienis was klaarblyklik om die eiseres se suggestie te weerspreek dat daar voor haar ‘n lang rits jong dames vir die verweerder gewerk het wat almal sy diens verlaat het weens sy seksuele teistering van hulle.
Die laaste getuie wat die verweerder geroep het, was me Sonet Bridges. Dit blyk dat sy met die verweerder getroud is op 18 Julie 2003 en ‘n jaar later van hom geskei is. Die verhoor het op 29 Junie 2004 begin en sy het op 6 September 2005 getuig. Tersaaklike bewerings deur haar was die volgende:
- Sy bevestig die verweerder se weergawe dat hulle verhouding begin het feitlik onmiddellik nadat hulle mekaar oor ‘n naweek ontmoet het, en dat die verweerder teenoor haar onderneem het om sy verhouding met die eiseres die volgende Maandag te beëindig;
- Die eiseres was van die begin af vyandig teenoor haar. Die eiseres se getuienis en sekere stellings wat namens haar gemaak is in die kruisondervraging van me Bridges staaf dat die twee glad nie met mekaar klaargekom het nie;
- Die eiseres was na haar mening onbehoorlik intiem met die verweerder in haar teenwoordigheid;
- Die eiseres was onnodiglik uitlokkend geklee en het die verweerder gesoengroet toe sy hulle op die lughawe ontmoet het;
- Die eiseres het SMS-boodskappe aan die verweerder gestuur wat daarop gedui het dat sy graag haar verhouding met hom sou wou voortsit.
Dit is van belang dat sy getuig het dat sy kort nadat die dagvaarding aan die verweerder beteken is, gekonsulteer het met sy prokureurs en dat sy toe alles aan hulle vertel het waaroor sy in die hof getuig het. Nogtans is haar getuienis omtrent die SMS-boodskappe en die soengroet nie aan die eiseres gestel in kruisondervraging nie. Ook het die verweerder self nie daaroor getuig nie. Daar is ‘n effense verduideliking vir die versuim om dit aan die eiseres te stel, naamlik dat die verweerder se advokaat nie van voorneme was om me Bridges as getuie te roep nie en daarom nie haar getuienis aan die eiseres gestel het nie. Dit word gestaaf deur sy advokaat se mededeling aan die hof aan die begin van die saak dat hy beoog om net een of moontlik twee getuies te roep en dat die saak binne een dag afgehandel kan word. Dit was kort voor die verweerder en me Bridges se egskeiding en dit is goed verstaanbaar dat die aanduidings toe was dat sy nie beskikbaar sou wees as ‘n getuie nie. Dit verduidelik egter nog nie die verweerder se versuim om oor hierdie belangrike aspek, waarvan hy moes geweet het, te getuig nie. Ek is nie seker wat die gevolg is van hierdie twee belangrike versuime nie. Dit is duidelik dat ek die getuienis nie teen die eiseres kan gebruik nie en ek sal dit dus ignorer. Die effek daarvan op me Bridges se geloofwaardigheid en die waarde van haar getuienis sal ek in ag neem by die oorweging van haar getuienis.
In haar beoordeling van die getuienis wat namens die verweerder gelewer is het die verhoorhof opgemerk dat met die uitsondering van Breytenbach (verkeerdelik na verwys as Du Preez), al die getuies wat namens hom getuig het, op hoorsê gebaseer is. Breytenbach is uitgesonder omdat hy getuig het van twee erkennings wat die eiseres aan hom sou gemaak het.
Hierdie siening van die verhoorhof is verkeerd. Me De Klerk het getuig dat sy in Januarie 1999 vir die verweerder begin werk het nadat hy geskei is van sy vorige eggenote, wat voor haar vir die verweerder gewerk het. Die bron van hierdie kennis van haar is nie getoets nie en ‘n bevinding dat haar getuienis op hoorsê gebaseer is, is nie geregverdig nie. Haar getuienis oor die behandeling wat sy van die verweerder gekry het is sekerlik nie hoorsê nie. Verder getuig sy dat die eiseres haar opgevolg het na die einde van April toe sy weg is uit die verweerder se diens. Hierdie getuienis van haar is nie in kruisondervraging betwis nie en vir sover dit die saak verder neem, staan dit.
Die getuienis van die huishulp is eweneens op eie kennis gebaseer en daar is geen sprake van dat dit hoorsê is of op hoorsê gebaseer is nie. As dit so is dat sy op die oggend van die opname vir die eiseres koffie (of miskien tee) in die bed gebring het, is dit iets wat binne haar eie kennis val.
Ek dink ook nie die hof se kritiek op die getuienis van Breytenbach is geregverdig nie. In paragraaf 3.1.1 van die uitspraak meld die hof dat hy uiters selektief is in sy geheue, dat sy getuienis vaag is en dat hy tot totaal ongefundeerde gevolgtrekkings kom. Die hof het gevolglik geen problem gehad om sy getuienis te verwerp nie.
Dit moet in gedagte gehou word dat die getuie geen rede gehad het om dinge rondom sy verbintenis met die eisers te onthou nie. Die hof kritiseer hom omdat hy goeie vriende met haar sou wees en persoonlike geheime met haar sou gedeel het, maar nie kon onthou of hy ooit by haar aan huis was nie. Hy het haar by haar werkplek leer ken waar die meeste interaksie tussen hulle plaasgevind het. Dit was waarskynlik vir hom belangrik om ‘n goeie verhouding op te bou met die sekretaresse van die man van wie hy moontlik kon werk kry en sy aandag en gevolglik ook sy herinnering sou dus meer toegespits gewees het op wat by haar werkplek gebeur het. Nogtans het hy in kruisondervraging onthou van ‘n funksie in ‘n markiestent wat hy bygewoon het maar hy kon nie onthou dat dit by die eiseres se huis was nie. Ek vind dit ook glad nie vreemd nie dat hy nie in staat was om plekke en datums te noem van geleenthede waar hy die eiseres en die verweerder saam gesien het buite werksverband nie – klaarblyklik was hy meer ingestel op die gesprekke wat hy met haar gehad het by haar werk en die dinge wat sy hom daar vertel het. Die enigste denkbare ongefundeerde gevolgtrekking waarna in die uitspraak verwys word is die hof se opmerking dat die getuie van die eiseres se vars voorkoms op die oggend van die televisieopname afgelei het dat sy die nag in die verweerder se huis geslaap het. Dit was egter nie ‘n afleiding wat hy gemaak het nie. Sy getuienis was dat hy teenoor die eiseres opgemerk het dat sy vars lyk en dat sy toe aan hom gesê het dat sy die nag daar oorgeslaap het. Die res van die vaaghede in sy getuienis waarna die hof verwys is heeltemal verstaanbaar in die lig dat die meeste van die onderwerpe waaroor hy uitgevra is, niks te doen het met dit waaroor hy getuig het en waarskynlik met die verweerder se regspan bespreek het in konsultasie nie. Dit strook vir my heeltemal met wat ‘n mens sou verwag as iemand vir die eerste keer na meer as vier jaar gevra word oor dinge wat hy geen besondere rede gehad het om te onthou nie. Daar is geen objektiewe standaard van watter dinge mense moet onthou en watter nie. Dit is maar ‘n eenvoudige feit dat sekere dinge vir sekere mense belangriker is as vir ander en dat verskillende mense verskillende dinge sal onthou.
Die getuienis van me Bridges is in hierdie opsig die belangrikste. Dit is so dat dele daarvan op hoorsê gebaseer is, veral miskien die verweerder se mededeling aan haar gedurende die naweek toe hulle verhouding begin het, dat hy betrokke was in ‘n verhouding met sy sekretaresse. Hoewel dit hoorsê is sover dit die eiseres betref, kan dit tog nie gesê word dat hy toe al besig was om ‘n verweer te beplan vir die dag wanneer die eiseres ‘n aksie teen hom sou instel nie. Dit moet minstens toelaatbaar wees vir sover dit toon wat sy siening van die verhouding tussen hom en die eiseres in daardie stadium was, maar dit is nie van veel belang nie. Van veel meer belang is die houding van die twee dames teenoor mekaar en die waarskynlikhede wat daaruit volg. Dit is nodig om in meer besonderhede daarna te kyk.
In haar hoofgetuienis het die eiseres nie getuig oor die aard van die verhouding tussen haar en me Bridges nie. In kruisondervraging is dit aan haar gestel dat sy ‘n slegte verhouding met me Bridges gehad het. Sy het dit ontken en gesê dat hulle seker in totaal nie meer as tien minute in mekaar se geselskap deurgebring het nie en dat daar geen verhouding tussen hulle bestaan het nie. Die getuie sou haar hanteer het soos enige ander kunstenaar van die verweerder. (Sien rekord p.129.5 en 130.12.) In die kruisondervraging van me Bridges (p.413.20 – 414.9) is dit aan haar gestel dat hulle nie ‘n goeie verhouding gehad het nie en dat die rede daarvoor die feit was dat die getuie die eiseres onbeleefd behandel het. Op p.436 - 438 (en sien ook 461.1-5) word dit aan haar gestel dat hulle verhouding baie gespanne en katterig was en dat dit begin het op die eerste dag wat hulle mekaar ontmoet het toe die getuie op ‘n hovaardige manier aan die eiseres opdrag gegee het om vir haar (die getuie) en ‘n vriendin reisreëlings te tref. Die eiseres sou geantwoord het dat sy nie vir vriendinne van kunstenaars reëlings tref nie. Die getuie ontken dat sy ooit enige opdragte aan die eiseres gegee het, maar stem saam dat die verhouding tussen hulle gespanne en katterig was. Die rede daarvoor is volgens haar die vorige verhouding wat daar tussen eiseres en verweerder bestaan het.
Die getuie se houding teenoor die eiseres deurgaans en ook haar moontlik oordrewe jaloesie oor die eiseres se aantreklike voorkoms die dag toe sy die geselskap op die lughawe gaan haal het, strook volkome daarmee dat sy geglo het dat daar tevore ‘n seksuele verhouding tussen die eiseres en die verweerder was en dat sy die eiseres as ‘n bedreiging vir haar verhouding met hom gesien het. As die eiseres ‘n verkragtingslagoffer was, sou ‘n mens verwag dat daardie houding van haar mettertyd sou verander het omdat sy sou agtergekom het dat die eiseres ‘n afkeer het aan die nabyheid van die verweerder en nie ‘n bedreiging was vir haar verhouding met hom nie. Aan die ander kant sou ‘n mens verwag het dat die eiseres verlig sou gewees het dat die verweerder eindelik ‘n vaste verhouding aangeknoop het met ‘n vrou wat hy liefhet, omdat dit haar beste versekering sou gewees het teen sy verdere attensies. Ook om daardie rede sou sy die getuie eerder wou aanmoedig om soveel tyd as moontlik by die verweerder se huis deur te bring, en sou dit vir haar ‘n plesier gewees het om vir die getuie klein gunsies te bewys soos om haar en ‘n vriendin te help met hulle reisreëlings. Die aard van die verhouding tussen hulle en die dinamika daaragter was gemeensaak tussen die partye en kan beskou word as ‘n objektiewe feit wat volkome strook met die verweerder se weergawe en eenvoudig nie te versoen is met die eiseres se saak nie.
Afgesien van die onverklaarde en onverklaarbare versuim om die belangrikste dele van me Bridges se getuienis aan die eiseres te stel, moet ek sê dat ek haar as getuie indrukwekkend gevind het. Sy het alle vrae wat aan haar gestel is volledig en pront geantwoord sonder om enige daarvan te probeer ontduik. Daar is geen weersprekings of enige inherente onwaarskynlikhede in haar getuienis nie. Die belangrikste faktor in haar guns is die feit dat sy ‘n onwillige getuie was wat gedagvaar moes word om te getuig. Sy getuig dat sy reeds agtien maande geskei was van die verweerder en sedertdien geen kontak met hom gehad het nie. Die mense met wie sy haar lewe in daardie stadium gedeel het wou bitter graag gehad het dat sy nie in die saak betrokke moet wees nie. Hierdie getuienis is nie weerspreek of aangeval nie en geen rede is gesuggereer waarom sy valse getuienis sou gee ten einde die verweerder te help nie. Sy het getuig dat die mediadekking van die saak vir haar professionele skade berokken het en dat dit nie vir haar lekker was om daar te wees nie. Sy het telkens wanneer enige aspek van haar getuienis betwis is, retories gevra watter rede sy sou hê om te lieg. Daarop is geen antwoord gegee of gesuggereer nie. Dit is nie duidelik waarom die getuie, soos die hof in paragraaf 4.2.8 van die uitspraak bevind, in die omstandighede ‘n wrewel teen die eiseres sou koester “en nou nog koester” tot die mate dat sy bereid sou wees om meinedige getuienis teen haar af te lê nie. In dieselfde paragraaf vind die hof dat dit onwaarskynlik is “dat die eiseres doodgewoon sou aangaan met haar werk indien die verweerder ‘n verhouding met haar sou beëindig en sy nuwe liefde pas daar naby haar werksplek instap”. Dit is egter presies wat die effek van die eiseres se getuienis was. Ek vind dit meer onwaarskynlik dat sy doodgewoon sou aangaan met haar werk as die verweerder haar twee keer na mekaar by haar werksplek sou verkrag het. As ‘n mens die getuie se uitdruklike getuienis in ag neem dat sy die eiseres gesien het as ‘n bedreiging vir haar verhouding met die verweerder is dit nie te regverdig om haar getuienis te beskryf as grensende aan die belaglike as sy die eiseres se kleredrag as “doelbewus ‘sexy’“ sou sien nie. Bowendien is dit goed moontlik vir ‘n vrou om óf uitlokkend, óf doodgewoon te lyk in ‘n denimbroek, bloes en leerbaadjie, afhangende van hoe die klere haar pas en hoe goed sy versorg is.
Opsommend meen ek dat die landdros se kritiek op die getuienis van me Bridges heeltemal ongegrond is.
Die hof opper dieselfde kritiek teen die verweerder as teen Breytenbach, naamlik dat sy geheue selektief is. Weer eens het die hof nie ag geslaan op die feit dat die verweerder eers drie jaar na die tyd enige rede gehad het om terug te dink oor die saak en dat dit nie van hom verwag kan word om net soveel besonderhede van die saak te onthou as die eiseres, wat van die begin af voorbereid was op ‘n hofsaak nie. Veral die bevinding dat dit veelseggend is dat hy nie kan onthou wat die eiseres sou gesê het tydens die eerste insident nie, is om dieselfde rede as hierbo genoem, ongeregverdig. Dieselfde geld vir die verskille wat daar is tussen die getuienis van veral die verweerder en me Bridges. Dit sou trouens verdag gewees het as hulle getuienis in alle opsigte geklop het.
Die enigste ander kritiek wat ek in die uitspraak vind teen die verweerder, is die feit dat hy in sy aanvanklike pleit die bewering van verkragting ontken het en kort voor die verhoor sy pleit gewysig het deur te beweer dat hy ‘n seksuele verhouding gehad het met die eiseres en uitdruklik te ontken dat hy na die naweek van 16 Junie weer met haar gemeenskap gehad het. ‘n Blote ontkenning van verkragting is nie nooodwendig ‘n ontkenning van konsensuele gemeenskap nie en die effek van die wysiging was maar net dat gemeenskap op die eerste geleentheid erken is en ontken is op die tweede geleentheid. Daar is niks buitengewoon aan ‘n wysiging van hierdie aard nie en geen ongunstige afleiding kan daarvan gemaak word teen die verweerder nie.
Die eiseres was ‘n enkelgetuie. Daar moes stawende getuies beskikbaar gewees het van die organisasie waar sy berading ontvang het, al was dit net om te verduidelik hoe die proses werk waardeur sy gegaan het om haar te verander van iemand wat te swak was om ‘n saak aanhangig te maak tot die sefversekerde getuie wat haar beweerde verkragter in die hof gekonfronteer het, wat haar gemoedstoestand was toe sy die eerste keer om hulp aangeklop het, ens. Die invloed van die berading op haar woordkeuses en die terme wat sy gebruik het in haar getuienis is vir my duidelik. Haar verduideliking dat om aan te gaan met haar werk na die eerste verkragting ‘n “coping mechanism” was klink na iets wat sy van ander gehoor het.
Die hof het die waarde van haar getuienis nie objektief oorweeg nie, maar haar bloot aanvaar as ‘n “geloofwaardige en eerlike getuie op wie se getuienis hierdie hof kan staatmaak”. Talle onbevredigende aspekte in haar getuienis is eenvoudig misgekyk. Ek verwys slegs na die volgende:
Op p.70.4 – p.72.10 is ‘n reeks vrae aan haar gestel oor haar versuim om met mense te praat, wat ‘n herhaling van die eerste verkragting kon voorkom. Sy het feitlik elkeen van daardie vrae ontwyk.
Ek het reeds gehandel met die fout wat eiseres gemaak het omtrent die datum van die tweede voorval waarvan sy aanvanklik “honderd persent oortuig” was. Die hof vergelyk dit met die verweerder se foute wat hy gemaak het met datums, maar daar is ‘n verdere implikasie.
Die eiseres getuig dat die tweede voorval ook op ‘n Vrydag plaasgevind het en vertel dan dat sy die volgende Maandag die verweerder meegedeel het dat sy bedank wat hom “in absolute skok” gelaat het. Op haar weergawe was daar dus ‘n naweek tussenin waartydens sy haar posisie kon oorweeg. Dit blyk egter dat hy nie die Maandag op kantoor was nie, maar in Margate. Nadat dit aan haar uitgewys was dat die verweerder die Maandag in Margate was, getuig sy dat sy nie kan onthou of hy die Maandag op kantoor was nie, ten spyte van haar aanvanklike herinnering van haar bedanking en die effek wat dit op hom gehad het. Dit is dus duidelik dat ook wanneer sy haar herinneringe aan spesifieke insidente koppel, dit nie betroubaar is nie. Mnr Kemp wat namens die appellant verskyn het doen aan die hand dat dit tipies is van die soort verwarring wat voorkom as ‘n weergawe gefabriseer is, en dit is ‘n moontlikheid wat oorweging verdien;
Sy het haar weerspreek omtrent haar pratery met die pers en ook oor die vraag of sy met Breytenbach gepraat het oor haar ander verhouding: eers kan sy dit nie onthou nie (p.127.21) en dan ontken sy dit (p.128.7).
As die eiseres se weergawe gemeet word teen die algemene waarskynlikhede skiet dit in verskeie opsigte tekort. Ek verwys weer na enkele voorbeelde:
Die feit dat sy by veral die tweede geleentheid nie geskree het toe die verweerder haar halfpad teen die trap op beetgepak het nie, terwyl sy geweet het dat die huishulp in die huis was. Haar verskoning dat die huishulp niks sou kon doen as die verweerder haar eers in die kamer gehad het en die deur gesluit het, gaan nie op nie: sy kon die huishulp gevra het om die bure of die polisie te ontbied, wat tog seker die verweerder in sy spore sou gestuit het;
Dat die verweerder haar halfpad teen die trap op sou ontmoet het as hy van plan was om haar met geweld die kamer binne te sleep en te verkrag. Hy sou moes weet dat sy haar sou kon teësit en so tyd sou wen waarin die huishulp sou kon hulp ontbied. As sy in elk geval op pad was na sy kantoor kon hy net sowel gewag het totdat sy self op die trapportaal net buite sy slaapkamer opgedaag het. Die ontmoeting op die trap pas veel beter in by twee mense wat nie kan wag om konsensuele gemeenskap met mekaar te hê nie;
Dat sy die verkragting aan niemand gerapporteer het nie omdat mense haar nie sou glo nie en omdat sy nie wou hoor dat hulle aan haar sê dat hulle haar mos gewaarsku het nie. Juis die feit dat hulle haar gewaarsku het teen die verweerder sou dit meer waarskynlik maak dat hulle haar sou glo as hulle voorspelling dan bewaarheid sou word. Aan die anderkant sou dit presies die reaksie wees van mense wat haar gewaarsku het dat die verweerder ‘n “womaniser” is, as sy agterna gaan kla het dat sy haar deur hom laat verlei het;
Haar versuim om die verkragting te rapporteer aan haar man, van wie sy weliswaar besig was om te skei. Hulle het nog saam gewoon en voortgegaan om dit te doen vir nog ses maande na die voorval, en hulle was besig om self te onderhandel oor die terme van hulle egskeiding. Sy sou sekerlik in die omstandighede met hom kon ooreenkom om haar ‘n bietjie langer finansieel te ondersteun totdat sy ‘n ander werk kon kry as sy dadelik die verweerder se diens verlaat het;
Haar stilswye na die tweede voorval is nog minder verklaarbaar: niks sou meer effektief ‘n einde maak aan sy onwelkome attensies as ‘n klagte by sy nuwe geliefde nie, selfs al het sy nie die hele storie aan haar vertel nie, maar net gekla oor onwelkome intimiteit;
Ek het reeds gehandel met die dinamika agter die swak verhouding tussen die eiseres en me Bridges – haar optrede teenoor laasgenoemde strook nie met wat ‘n mens sou verwag van die slagoffer van ‘n verkragting nie. Die landdros se bevinding (paragraaf 4.2.8) dat sy ‘n wrewel teenoor die eiseres gekoester het kan aan geen ander rede toegeskryf word nie as dat sy jaloers was op die man in haar lewe se vorige minnares. Dit pas volkome in met die weergawe dat hulle ‘n verhouding met mekaar gehad het en dat dit nie verkragting was nie. Ek vind ook die hof se bevinding onverstaanbaar dat dit onwaarskynlik is dat sy doodgewoon met haar werk sou aangaan as die verweerder sy verhouding met haar afgebreek het en sy nuwe minnares pas daarna by haar werksplek instap. Dit is presies wat sy sou doen as daar ‘n vorm van ‘n liefdesverhouding tussen hulle was wat sy nog probeer red het en dit pas nog minder in by wat ‘n mens sou verwag van die slagoffer van ‘n herhaalde verkragting;
Dat sy die Maandag na die eerste voorval, en nadat sy die naweek gehad het om die voorval te oorweeg en in die lig van die feit dat sy so ‘n sterk persoon is, doodgewoon aangegaan het met haar werk asof niks gebeur het nie, en die verweerder nie gewaarsku het dat daar nie ‘n herhaling moes wees nie;
Op haar weergawe het die verweerder haar na die insident gebel en gewaarsku dat sy nie iets dom moet doen soos om haar man te bel en te vertel wat gebeur het nie: in die eerste plek het hy dus aanvaar dat sy nog op kantoor sou wees (vandaar die vermelding van “bel”), wat nie die geval sou gewees het as dit verkragting was nie, en tweedens was hy bekommerd oor haar man en nie die polisie nie. Hy het dus op haar weergawe duidelik die voorval gesien as owerspel en nie verkragting nie;
Haar verhouding met die verweerder was nog so goed dat sy hom vrywillig gehelp het met ‘n vertoning op die Saterdag na haar laaste werksdag. Dit sou ‘n mens nie verwag van iemand wat wou wegkom van ‘n verkragter nie.
Die landdros het haar oor verskeie aspekte wanvoorgelig. In die eerste plek was haar versuim om die twee stelle getuienis teen mekaar op te weeg in die lig van die waarskynlikhede fataal. (Sien Faiga (supra) op 979B-I.) Dit was ook ‘n wesenlike wanvoorligting om die getuienis van Bridges, De Klerk en die huishulp af te skryf as gebaseer op hoorsê sonder om die inhoud daarvan behoorlik te oorweeg. Verder het die landdros blykbaar die feit dat die eiseres bereid was om ‘n ander betrekking te aanvaar teen ‘n salaris van R2 000,00 per maand minder as wat die verweerder haar betaal het, gesien as stawing van die feit dat iets gebeur het wat dit vir haar onmoontlik gemaak het om langer in sy diens te bly. ‘n Daaglikse rit van 120km van Randburg na Pretoria en terug beteken in ‘n maand van twee en twintig werksdae ‘n afstand van 2 640km. Selfs teen so min as ‘n koste van R1 per km. is dit meer as R2 000,00 per maand, afgesien van die reistyd wat bespaar word.
Dit is dus nodig dat ons die meriete van die bevinding heroorweeg. Dit is nie moontlik om suiwer op die getuienis van die eiseres gesien teen dié van die verweerder, soos gestaaf deur die getuies wat namens hom getuig het, op ‘n oorwig van waarskynlikhede ‘n bevinding te maak of daar ‘n verkragting gepleeg is al dan nie. Hierdie saak moet beslis word aan die hand van die vraag of die eiseres die bewyslas wat op haar rus gekwyt het. Ek meen dat sy duidelik nie daarin geslaag het nie, en dat die appèl gevolglik gehandhaaf moet word. Ek stel die volgende bevel voor:
Die appèl slaag met koste;
Die landdros se bevel word tersyde gestel en vervang met die volgende:
“Absolusie van die instansie met koste.”
_____________
F.G. PRELLER
REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF
Ek stem saam.
____________
S. SAPIRE
WNDE REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF
DATUM AANGEHOOR:
VIR DIE APPELLANT:
IN OPDRAG VAN:
VIR DIE RESPONDENTE:
IN OPDRAG VAN: