South Africa: High Courts - Gauteng

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Courts - Gauteng >>
2007 >>
[2007] ZAGPHC 240
| Noteup
| LawCite
Jevon v Kleingbiel (A627/06) [2007] ZAGPHC 240 (23 October 2007)
Download original files |
IN DIE HOOGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)
SAAKNR. A627/06
DATUM: 23/10/2007
W JEVON APPELLANT
v
G A R KLEINGBIEL RESPONDENT
UITSPRAAK
Gelewer op:…………….
R D CLAASSEN R:
1 In die hof a quo was die appellant die verweerder, en respondent die eiser. Daar sal na die partye verwys word soos in die hof a quo.
2 Eiser het die verweerder gedagvaar op ‘n skulderkenning gedateer 4 September 1998. Daarin het verweerder erken dat hy die bedrag van R320 000,00 aan eiser skuld. Dis gemeensaak dat eiser die geld voorgeskiet het nog voordat die skulderkenning geteken is. Kort na die laaste betaling aan verweerder, van R120 000,00, het eiser toe aangedring op die opstel van die skulderkenning, omdat die bedrag toe te groot geword het na sy sin.
3 In die Besonderhede van Eis, vorder eiser ‘n bedrag van R604 717,03 in terme van ‘n sertifikaat wat hy self uitgereik het soos voorsien in die erkenning. Dit bepaal verder dat die verweerder dan die onus het om die teendeel te bewys.
4 Terugbetaling van die skuld word voorgeskryf deur klousule 2 van die aanhangsel tot die erkenning. Dit lui soos volg:
Die hoofskuld en rente moet betaal word in paaiemente van R25 000 elk, en die eerste daarvan moet betaal word op die laaste dag van die maand waartydens hierdie dokument geteken word, en daarna op die laaste dag van elke daaropvolgende maand totdat die hoofskuld en rente vollediglik betaal is. Die partye kom verder ooreen dat die maandelikse paaiemente afhanklik is van die wisseling in rentekoerse in die mikroleningsbedryf.
5. Eiser het ook rektifikasie van gemelde klousule geëis om voorsiening te maak daarvoor dat rente betaalbaar was teen 8% per maand, alternatiewelik moratore rente teen die vasggestelde koers. Die hof a quo het die alternatiewe bede toegestaan. Daar is geen appèl daarteen nie, dus word dit nie aangespreek nie.
6 Verweerder het die volgende verwere geopper teen die eis:
6.1 Daar was geen ooreenkoms ten opsigte van rente nie, alternatiewelik was dit hoogstens 3% per maand.
6.2 Hy het reeds meer as die volle bedrag betaal, en
6.3 Hy stel ‘n teeneis in vir die bedrag te veel betaal.
6.4 Eiser se eis het reeds verjaar.
7. Die partye het aanvanklik die hof gevra om die kwessies van aanspreeklikheid en quantum te skei. Dit was gedoen, maar na die uitspraak op die meriete, wat ten gunste van eiser was, en waarskynlik na aanleiding daarvan, het die partye die eisbedrag geskik op R417 682,70, wat toe ‘n bevel van die hof gemaak is. Appellant appelleer nou na hiedie hof teen daardie bevindings, asook teen die afwysing van sy verjaringspleit.
8 Voor die begin van die verhoor het die partye sekere samesprekings gevoer, waar seker geskille opgeklaar is. Die wesentlike aspekte is die volgende:
8.1 Dit word erken dat verweerder 7 betalings aan eiser gemaak het na datum van die erkenning in ‘n totale bedrag van R179 300,00.
8.1 Dit word erken dat 4 verdere betalings is gemaak ten bedrae van R251 400,00. Die dispuut is dat verweerder beweer dit is almal gemaak ten opsigte van die skulderkenning, terwyl eiser beweer dit was betalings ten opsigte van ander lenings.
9 Die betwiste betalings is die volgende:
Op 14/9/99 R100 000,00
Op 8/4/00 R 5 200,00
Op 7/11/00 R 5 200,00
Op 17/9/02 R150 000,00
R260 400,00
10.1 Met betrekking tot bg bedrag van R100 000 beweer eiser dat dit betrekking het op ‘n spesifieke lening aan verweerder wat eiser toe later spesifiek opgeëis het omdat hy dit nodig gehad vir verbouings aan sy huis. Verweerder erken dat eiser die bedrag geëis het, maar beweer dat dit deel was van die R320 000. Hy erken ‘n ander lening van R100 000, maar sê dit was reeds afbetaal.
10.2 Die twee betalings van R5 200 elk, beweer eiser was rentebetalings op die lening van R150 000. Dit moes eintlik R5250 gewees het, maar verweerder het telkens kort betaal. Verweerder beweer dit was ook deel van die R320 000.
10.3 Die bedrag van R150 000 is geld wat ene Kol. Henn aan eiser gegee het om namens Henn te belê. Eiser het dit toe by verweerder belê. Verweerder ontken enige sodanige lening, maar erken die terugbetaling daarvan. Hy sê dit was ‘n betaling op die lening van R320 000.
11 Die agtergrond van die skulderkenning is dat eiser en verweerder baie goeie vriende was. Verweerder het ‘n mikro uitleenbesigheid bedryf waaruit hy baie goeie rente verdien het. Dit is dan ook gemeensaak dat die twee partye op goeie voet verkeer het en mekaar ten volle vertrou het. Eiser het toe die drie paaiemente aan verweerder geleen. Soos gesê is die skulderkenning toe by afgee van die laaste tjek van R120 000 deur eiser vereis omdat die bedrag toe baie groot geword het. Dit was aan verweerder gegee op lg se versoek om sy besigheid te kon uitbrei. Dit is ook gemeensaak dat daar bo en behalwe hierdie lenings ook ander lenings was wat van tyd tot tyd gemaak en afbetaal is. Die uitstaande kenmerk van al die ander transaksies was dat alles in harde kontant gemaak is, behalwe sekeres nl:
Die 3 tjeks wat eiser aan verweerder gegee het t o v die R320 000, en die betaling en terugbetaling van ‘n bedrag van R100 000.
12 In haar redes vir die uitspraak het die agbare landdros onder andere die volgende uitlatings gemaak:
12.1 Die eiser het ‘n goeie indruk op haar gemaak, en die verweerder ‘n swak indruk. Op p 210 sê sy die volgende:
Hy was vaag en het die hof soms met die indruk gelaat, dat hy nie oop kaarte speel nie. Die verweerder as besigheidsman en werksaam in die tipe bedryf waarin hy himself bevind, behoort tog alle transaksies met meer duidelikheid en omsigtigheid te kan aantoon en verduidelik. Dit het egter nie gebeur nie en word die hof gelaat met leemtes ten aansien van sy getuienis in ‘n geheel.(sic)
12.2 Verweerder moes die betalings bewys, asook hoe dit deur eiser aangewend was. Hy het totaal daarin gefaal.
12.3 Daar was ‘n duidelike mondelingse erkenning van skuld (ten opsigte van die skulderkenning) teenoor eiser gemaak deur verweerder. Om daardie rede kon die verweer van verjaring nie slaag nie.
13 Al hierdie kwessies draai eintlik om die geloofwaardigheid van die twee partye en Kol Henn, juis omdat daar geen konkrete bewyse voor die hof was nie. Daar was wel die erkende betalings en terugbetalings, maar dit bewys nie waarop alles betrekking gehad het nie. Wat wel duidelik is, is dat alles op ‘n kontant- en vertrouensbasis geskied het. Mens kan maar net in die stilligheid bespiegel dat dit alles gedoen is om belasting te ontduik!
14. By die nalees van die oorkonde en die getuienis in besonder, is ek dit eens met die agbare landdros se bevinding oor geloofwaardigheid. In daardie opsig wil ek net na enkele aspekte verwys:
14.1 Alhoewel verweerder se besigheid dié is van geld leen en uitleen, het hy geen boekstawing gehad van enige van die transaksies nie. Hy het nie eers gepoog om enige berekenings aan die hof voor te lê om sy bewerings te staaf nie. Daar kon dus geen peil getrek word op sy bewerings nie. Daarenteen het eiser darem ‘n getuie gehad wat sy weergawe oor die R150 000 lening kon staaf. Daar is geen rede op die rekord om lg (Kol. Henn) se geloofwaardigheid in twyfel te trek nie, alhoewel dit natuurlik nóu saamhang met eiser se geloofwaardigheid.
14.2 Dit is opmerklik dat eiser praat van twee addisionele lenings, nl R100 000 en R150 000. Hierdie twee lenings het hy om baie spesifieke redes opgeëis. Twee van die betwiste terugbetalings stem dan ook presies ooreen met hierdie kapitale bedrae. Al die ander betalings op die skulderkenning is egter, op verweerder se eie weergawe, op baie lukrake wyses gemaak, en glad nie in afgeronde bedrae nie.
14.3 Verweerder sê dat hy deurgaans maandeliks bedrae aan eiser gemaak het, in harde kontant, selfs nog voordat die skulderkenning aangegaan is! Nogtans teken hy die skulderkenning vir die VOLLE bedrag, sonder om enigsins die ander betalings te opper. Dit was dan ook nog in ‘n tyd toe hulle op goeie voet met mekaar verkeer het.
14.4 In samehang met bg aspek, sê verweerder dat hy geregtig was om die betalings se bedrae te wissel na gelang die rentekoers in die uitleenbedryf verander. Dis gemeensaak hy het nooit eenvormige bedrae betaal nie, maar daar is ook geen woord gerep oor hoe en wanneer die rentekoerse verander het nie.
14.5 Verweerder se hele argument ten opsigte van die geskil oor die toepaslike rentekoers (10% of 3%) is nooit in konteks behoorlik aan eiser gestel nie. In getuienis het eiser deurgaans van 8% gepraat. In verweerder se getuienis kom die 10% eers ter sprake.
15 As na al die bg aspekte gekyk word, is dit duidelik dat verweerder se weergawe vol gate en tekortkominge is. Verder is ‘n hof van appèl traag om in te meng met die geloofwaardigheidsbevindings van die hof a quo, juis omdat daardie hof die geleentheid gehad het om die getuies self te sien. In argument kon Mnr Hirschenson namens die verweerder ook geen spesifieke mistasting of ander fout van die agbare landdros uitwys nie. Daar is dus geen rede om met daardie aspek in te meng nie. As dit dan so is, speel dit klaar met die kwessies van die rentekoerse, die bedrae wat geleen is, asook die terugbertalings, en meer spesifiek waarvoor dit aangewend is. Omdat eiser telkens gesê het welke lening hy opeis, lê dit nie in verweerder se mond om nou (d.w.s in die hof) aan te dring op delging van bepaalde skulde van sy keuse nie. Hy het geweet waarvoor dit geëis word. As hy dan ‘n beswaar daaroor gehad het, moes hy dit gesê het en dan aangedring het op delging van ‘n sekere skuld, of weier om die bedrag te betaal. Hy het nie een gedoen nie.
16 Enkele ander aspekte is in argument voor ons geopper. Daar is eerstens verwys na die feit dat eiser in die nadere besonderhede tot die Besonderhede van Eis, gemeld het dat hy 11 betalings op die betrokke lening ontvang het van die verweerder. By die voorvehoor het hy egter sy standpunt verander en toe slegs die 7 betalings erken, as betalings op die skulderkenning. Die appellant betoog nou dat eiser gebind is aan daardie feite en op die beste vir eiser moes hy sy pleitstukke gewysig het, wat nie gedoen is nie. Mnr Bosman namens eiser het betoog dat die daadwerlike feite soos ooreengekom by die voorverhoor, inderdaad die pleitstukke vervang het en dat die partye op basis van daardie notule hof toe is. Ek stem daarmee saam. Dit is ook duidelik uit die voer van die verhoor dat dit die partye se benadering was.
17 Wat betref bg. aspek, het eiser ook betoog dat daardie verandering van standpunt nadelig inwerk op eiser se geloofwaardigheid. Soos Mnr Bosman myns insiens tereg uitwys, het eiser ‘n heel geloofwaardig verduideliking gegee vir sy veranderde standpunt. Dit was bloot dat nadat hy met sy regsverteenwoordigers gekonsulteer het, het hy agtergekom dat hy daar ‘n fout begaan het. Hy was deurgaans bewus van die drie afsonderlike lenings, maar het die betalings by die veskaffing van die nadere besonderhede met mekaar verwar.
18 Ter opsomming kan met gerustheid gesê word dat verweerder ‘n onwillige betaler was, en dat dit duidelik uit die getuienis geblyk het.
Om daardie redes moet die hof a quo se bevinding oor geloofwaardigheid ondersteun word. Soos gesê bepaal dit dan al die ander geskilpunte ook.
Die volgende bevel word dus gemaak:
Die appèl word afgewys met koste.
____________________________________
R D CLAASSEN
REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF
Ek stem saam.
_____________________________________
T M MAKGOKA
Wn REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF