South Africa: High Courts - Gauteng Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Courts - Gauteng >> 2007 >> [2007] ZAGPHC 285

| Noteup | LawCite

S v Van Niekerk (A215/2007) [2007] ZAGPHC 285 (28 November 2007)

Download original files

PDF format

RTF format



IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN TRANSVAAL

(TRANSVAAL PROVINSIALE AFDELING)


Saak nr: A215/2007

Datum: 28/11/2007

ONRAPORTEERBAAR


In die saak tussen:


HK VAN NIEKERK Appellant



en



STAAT Respondent


UITSPRAAK


  1. Die appellant is in die Streekshof te Klerksdorp skuldig bevind op twee aanklagtes van onsedelike aanranding en is gevonnis tot korrektiewe toesig van 3 jaar. Die Verhoorhof het verlof tot appèl teen die skuldigbevindings toegestaan.


  1. Die wesenlike feite in hierdie saak is kortliks die volgende: die appellant is ‘n 42 jarige onderwyseres by ‘n hoërskool in ‘n dorp in Gauteng en sy is daarvan aangekla dat sy die klaer, ‘n seun van 15 jaar, en wat een van haar leerlinge was, gedurende die tydperk Februarie tot April 2003 onsedelik aangerand het deur hom op ongeveer vier geleenthede, en tussen periodes, teen haar vas te druk, sy geslagsdele bo-oor sy klere te betas en haar hand in sy broek te druk en sy geslagsdele te betas. Die tweede klagte van onsedelike aanranding was dat die appellant gedurende April en Mei 2003 die klaer sou betas het en met hom gemeenskap sou gehou het. Hierdie voorval het volgens die Staat op 7 April 2003 plaasgevind direk nadat die klas vir die laaste periode van die betrokke dag verdaag het. Weereens sou dit plaasgevind het in die appellant se klaskamer nadat al die ander leerlinge uit die klas was en sy die deur gesluit het.


  1. Volgens die getuienis van die klaer het die appellant op vier geleenthede voor die April vakansie hom teruggeroep nadat die kinders aan die einde van ‘n periode die klas verlaat het en dan het sy hom omhels en by geleentheid bo-op sy broek aan die voorkant aan hom gevat. Die laaste geleentheid het plaasgevind op die eerste dag van die tweede kwartaal naamlik 7 April 2003 toe hy aan die einde van die dag se periode by die appellant aangegaan het om ‘n handboek te kry. Volgens die klaer het die appellant die deur gesluit en toe al haar klere, dit wil sê haar broek, hemp, skoene en onderklere uitgetrek en toe nakend na hom gekom het. Sy het toe sy broek se ritssluiter oopgemaak en met sy privaatdele begin speel. Hierna het sy op haar lessenaar gaan lê en ook met haar eie privaatdele gespeel. Hierna het sy hom nader getrek en hulle het gemeenskap gehad. Op ‘n stadium het die klaer opgehou en die appellant het verder met sy privaatdele gespeel en hy het op haar ejakuleer. Volgens die klaer het al hierdie gebeure ongeveer 7 minute geduur.


  1. Die klaer het verder getuig dat hy te skaam was om vir enigiemand oor die voorvalle te vertel maar dat na die laaste voorval hy nie bereid was om weer skool toe te gaan nie. Hy het teenoor sy ouers voorgehou dat hy wel skool toe gaan maar sy ma het begin agterdogtig raak en vier dae na die laaste voorval het sy hom skool toe gevat. Op pad soontoe het hy egter uit die kar geklim en weggehardloop. Sy ma en die polisie het feitlik die hele dag na hom gesoek en hy is uiteindelik opgespoor waar hy in ‘n sleepwa by sy ouerhuis weggekruip het.


  1. Die appellant het die bewerings teen haar in totaliteit ontken. Volgens haar het sy skaars die klaer geken. Hy was slegs vanaf die begin van die betrokke skooljaar in die skool en was boonop ‘n stil en skaam leerling gewees. Sy was meer as ‘n maand na die voorval naamlik op 20 Mei 2003 eers oor die aangeleentheid gekonfronteer en het dit van meet af aan ontken.


  1. Wat betref die laaste beweerde voorval op 7 April 2003 het die appellant in besonder getuig dat sy saam met twee ander dames wat ook onderwysers is aan dieselfde skool, in ‘n ryklub is wat beteken dat hulle soggens en smiddae saam ry vanaf ‘n naburige dorp waar hulle woonagtig is. Behalwe wanneer hulle in die middae buitemuurse aktiwiteite moes aanbied, het hulle as ‘n reël direk na die laaste periode na die motor beweeg en het dit nooit gebeur dat daar noemenswaardig vir die een of ander van hulle gewag moes word nie. Op die betrokke dag was daar dan ook geen oponthoud nie. In teendeel, so het die appellant getuig, en in hierdie verband is sy deur een van die onderwysers ondersteun, het een van die ander onderwyseres vir die eerste keer teruggekeer na die skool na sy op kraamverlof was. Hulle het die oggend gepraat dat hulle haastig was sodat daardie ander onderwyseres kon terugkeer huistoe om haar baba te gaan versorg wat op die betrokke oggend nie wou bottel drink nie en dus aangewese sou wees op borsmelk. Dit was dan ook die appellant en die ander onderwyseres se getuienis dat hulle letterlik ‘n paar minute na die skool uitgekom het, by die voertuig was en teruggery het huistoe.


  1. Uit die voorgaande is dit reeds duidelik dat die hof gekonfronteer was met twee weder-uitsluitende weergawes en dat die geloofwaardigheid van die klaer en die appellant onderskeidelik beoordeel moes word. Ter aanvang is dit nodig om te konstateer dat dit nie nodig is vir ‘n hof om die staat se saak te verwerp ten einde ‘n beskuldigde vry te spreek nie. ‘n Hof is verplig om ‘n beskuldigde vry te spreek as daar ‘n redelike moontlikheid is dat sy getuienis waar mag wees. Dit is hoe swaar die onus is wat op die Staat rus. Selfs al word die getuienis wat die Staat aanbied nie verwerp nie, is die beskuldigde geregtig op sy vryspraak indien sy weergawe nie bewys word as vals te wees bo redelike twyfel nie.


  1. ‘n Verdere faktor om in ag te hou is dat wat betref die gebeure self, die klaer ‘n enkel getuie is en dat dit boonop getuienis is van ’n jong persoon en verder dat dit ‘n seksuele misdryf is waaroor die verrigtinge gegaan het. Al drie hierdie faktore noop tradisioneel ‘n hof om baie versigtig te wees in sy beoordeling van die feitelike posisie.


  1. Om terug te keer tot die feite van die saak: die klaagster se ma het ook getuig en volgens haar het sy en haar eggenoot, die vader van die klaer, agtergekom dat die klaer probleme het by die skool waar hy was. In die eerste plek het hy akademies besonders swak gevaar en het hy ook gereeld stokkies gedraai. Op haar eie weergawe het sy en haar man “vreeslik baklei” met die klaer en gedreig om hom na ‘n verbeteringskool te stuur. Volgens haar het die klaer se pa hom baie keer ‘n pak slae gegee. Dit was onwillekeurig die indruk dat die klaer se ouers uiters aggressief en dreigend teenoor die klaer opgetree het oor ‘n lang tydperk.


  1. Sy getuig verder dat op ‘n stadium sy agtergekom het dat hy weer waarskynlik stokkies draai en sy het toe die hoof van die skool gaan sien. Dit het blykbaar op meer as een geleentheid gebeur en ook haar eggenoot was by die skoolhoof gewees. Die skoolhoof het hulle egter verseker dat alles goed gaan met die seun en dat daar geen probleme is nie en dat die seun aan sport deelneem en dat die hoof in die algemeen tevrede is met die omstandighede.


  1. Die klaer se ma het verder getuig dat na die skool vakansie die klaer gesê het dat hy nie weer skool toe gaan nie. Die klaer was in trane en uiteindelik het sy hom in die kar gelaai om hom skool toe te neem. Hy het egter uitgeklim en weggehardloop. Nadat hy opgespoor is het sy en die klaagster se pa weer met hom gepraat en uiteindelik, getuig sy, het die klaer gesê dat die “juffrou het aan hom geraak het en hy bang is”. Hy wou nie weer teruggaan skool toe nie. Volgens haar was die klaer baie emosioneel en huilerig en het sy uiteindelik hom die volgende dag na ‘n maatskaplike werkster geneem. Die klaer wou nie veel praat nie en uiteindelik is hy geneem na ‘n kliniese sielkundige.


  1. Die kliniese sielkundige het ook getuig en dit blyk dat sy vyf keer met die klaer konsulteer het en dit was met verloop van tyd wat hy meer en meer oor die aangeleenthede vertel het en meer detail beskikbaar gestel het. Uiteindelik, op advies van die kliniese sielkundige, is die aangeleentheid by die polisie aangegee.


  1. Volgens die getuienis van die kliniese sielkundige, wat namens die Staat getuig het, het die klaer op daardie stadium terapeutiese hulp nodig gehad wat sy aan hom verleen het. Sy het hom beskou as ‘n introvert wat gereserveer is en sukkel om te kommunikeer en sy emosies te identifiseer en te verbaliseer. Hy was besonder angstig en het tekens van angs, aggressie en hulpeloosheid ervaar. Dit is nie nodig om na die res van haar getuienis te verwys nie behalwe om te sê dat haar waarneming van die klaer gestrook het met dit wat sy in haar ervaring beleef het van persone, en in besonder kinders, wat seksueel gemolesteer was. Volgens haar was sy tevrede dat dit wel met die klaer gebeur het en dat hy terapie daarvoor moes ontvang.


  1. Dit was, onder andere, namens die appellant aangevoer dat die klaer se weergawe totaal vals en opgemaak is en dat hy nie ‘n geloofwaardige getuie is nie. In besonder is daar gepoog om te toon dat hy gereeld blootgestel was aan pornografiese video en tydskrif materiaal en dat hy in alle waarskynlikheid op seks gefikseerd was en daarom ‘n weergawe voorgehou het wat hy elders waargeneem het eerder as wat dit met homself gebeur het. Hierdie bewerings is deur die klaer ontken. ‘n Getuie wat namens die verdediging in hierdie verband getuig het, een van die klasmaats van die klaer, se getuienis is egter, en tereg ook, deur die hof a quo verwerp. Namens die verdediging is ook aan die klaer gestel dat hy ‘n aksie teen die appellante sou gehad het omdat sy baie met hom geraas het oor sy swak werk en hom ook uit die klas sou gejaag het. Hierdie stellings aan die klaer het uiteindelik geen water gehou nie.


  1. ‘n Groot deel van die saak namens die appellant was gerig op die feit dat sy ‘n vel siekte het wat veroorsaak het dat daar groot wit vlekke regoor haar lyf is wat die klaer sou waargeneem het indien die voorval op 7 April 2003 wel gebeur het soos wat die klaer getuig het. Daar was aan die hand gedoen dat die sketse wat die klaer geteken het waarop hy hierdie vlekke op haar lyf aangetoon het, heeltemal verskil van die sketse wat deur die mediese dokter en ginekoloog voorberei was oor waar hierdie vlekke werklik op die appellant se liggaam was.


  1. In haar uitspraak het die landdros in redelike groot besonderhede uitgebrei oor die psige van ‘n gemolesteerde persoon en veral van ‘n kind in daardie posisie en ook na navorsing in hierdie verband verwys. Die landdros het bevind dat die klaer se getuienis, en as’t ware sy hele respons teenoor die deskundiges wat hom na die beweerde voorval ondersoek en behandel het, in pas by die profiel van die gemolesteerde kind. Die landdros het gevolglik die klaer se getuienis as geloofwaardig en betroubaar bevind.


  1. Wat betref die vlekke op die appellant se liggaam het sy bevind dat daar geen manier was wat die klaer hierdie vlekke sou uitgewys het indien hy dit nie gesien het terwyl die appellant sonder klere was nie. Wat betref die ander letsels op haar liggaam wat hy nie raakgesien het nie, vind die landdros dat dit nie vreemd is dat die klaer dit in die omstandighede nie sou kon doen nie. Sy vind in besonder dat die optrede van die klaer na die voorval inpas by sy getuienis oor die voorvalle wat hy deurgegaan het.


  1. Wat betref die appellant het die landdros bevind dat sy ontwykend was ten aansien van aspekte van haar getuienis en dat die feit dat sy ‘n privaat speurder aangestel het om haar in die ondersoek te help om haarself te verweer, ‘n vraagteken plaas op haar geloofwaardigheid. Sy vind ook dat die appellant nie so ‘n goeie onderwyseres is as wat sy wou uitmaak nie en het in die algemeen haar getuienis as onbevredigende aangemerk.


  1. In betoog voor die hof is namens die appellant verwys na etlike verskille in die getuienis van die klaer en van sy moeder en met wat sy weergawes aan die polisie en die kliniese sielkundige was. Daar is inderdaad sulke verskille maar na my mening is dit nie nodig om in besonder daarna te verwys nie. Die belangrikste verskil slaan op die datum waarop hierdie laaste voorval na bewering sou geskied het. Ek het reeds aangedui dat volgens die klaer daar geen twyfel was dat dit op die eerste skooldag van die tweede kwartaal naamlik 7 April 2003, plaasgevind het nie. Hy was eweneens beslis daaroor dat hy vir vier dae niks gesê het nie en nie skool toe gegaan het nie en toe eers deur sy ma uitgevang is en dat alles toe op die lappe gekom het. Daarna is hulle onmiddellik na die maatskaplike werkster en kliniese sielkundige en uiteindelik na die polisie.


  1. Volgens die getuienis van die klaer se moeder het die klaer egter eers die openbaring aan haar en haar man gemaak die aand van 24 April 2003, dit wil sê ongeveer twee weke na die geleentheid wat die klaer beskryf het. Pogings om die klaer se ma se getuienis met die van die klaer te laat ooreenstem, was vrugteloos en sy het by haar weergawe gehou. Namens die staat is daar ook geen ander getuienis aangebied wat ten opsigte hiervan van hulp kon wees, byvoorbeeld oor wanneer die klaer vir die eerste keer na die maatskaplike werker of die polisie geneem is of wanneer die polisie na hom help soek het nie.


  1. Die voormelde verskil in getuienis, wat die voorval van die beweerde ontug betref, is wesenlik. In die eerste plek het die staat sterk gesteun op die feit dat die klaer vir twee dae weggebly het van die skool as gevolg van die voorval alvorens sy ouers hom gedwing het om met die waarheid uit te kom. Die landdros het ook sterk gesteun op hierdie feite as ondersteunend van ‘n seksuele molestasie. Indien die moeder se weergawe egter aanvaar word, het daar ‘n tydperk van ‘n verdere twee weke verloop. Indien dit so is, ontstaan die vraag of die klaer inderdaad weer terug skool toe is of inderdaad vir twee weke stokkies gedraai het, wat beide aspekte is wat wesenlik is ten opsigte van ‘n beoordeling van wat die waarheid is in hierdie saak. Dit is natuurlik ook belangrik vir die beoordeling van die vraag of die klaer inderdaad opgetree het soos verwag kon word van ‘n gemolesteerde kind, of nie.


  1. ‘n Tweede rede waarom hierdie aspek van wesenlike belang is, is dat die klaer haar verdediging gerig het op wat na bewering op 7 April 2003 sou gebeur het. Die staat het hierdie datum as die datum van die beweerde ontug aanvaar en die hele verhoor was op daardie basis gedryf. Indien dit nou gesê word dat die beweerde ontug op of ongeveer 21 April 2003 sou plaasgevind het, soos wat dit sou wees aldus die klaer se moeder, dan sou die appellant klaarblyklik haar saak anders voor die hof geplaas het en in besonder sou konsentreer het op die feitelike posisie van daardie dag. Namens die Staat is tereg toegegee dat die appellant in die omstandighede nie aan ontug wat op ongeveer 21 April 2003 kon plaasgevind het, skuldig bevind kan word nie. In hierdie verband het advokaat de la Rey, namens die appellant, betoog dat die hof nie die klaer se moeder se getuienis kan ignoreer nie en gevolglik dat hierdie verskil in die getuienis sodanig is dat daar ernstige twyfel bestaan in die geloofwaardigheid en betroubaarheid van die klaer se getuienis en die Staat se saak in die algemeen. Ek stem met hierdie betoog saam.


  1. Namens die appellant is verder betoog dat die landdros nie genoegsame versigtigheid aan die dag gelê het in die beoordeling van die klaer se getuienis nie. Meer in besonder is betoog dat die klaer klaarblyklik gereeld stokkies gedraai het en op 8 en 9 April 2003 klaarblyklik weer stokkies gedraai het en toe deur sy moeder uitgevang is. Volgens die moeder se eie getuienis was die klaer gereeld aan fisiese aanranding van ten minste sy vader bloot gestel asook aan dreigemente dat hy na ‘n verbeteringskool gestuur sou word. Dit was aan die hand gedoen dat dit ewe moontlik en waarskynlik is dat die klaer in hierdie omstandighede, en veral in hierdie dreigende omstandighede, ‘n valse rede vir sy optrede voorgehou het naamlik dat hy nie wil skool toe gaan nie omdat ‘n skool juffrou “aan hom vat”. Dit mag ook wees, aldus die betoog van advokaat de la Rey, dat die klaer op daardie stadium nie beoog het om bewerings van ontug te maak nie maar dat toe hy dit later van tyd wel gedoen het, dit inderdaad gedoen was as gevolg van die volgehoue druk op hom om met meer en meer feite vorendag te kom. Dit is verder aan die hand gedoen dat die sielkundige die klaer behandel het asof die klaer inderdaad seksueel gemolesteer was en dat die simptome waarmee die kind presenteer het, naamlik angstigheid, teruggetrokkenheid, ensovoorts, waarskynlik dieselfde simptome is as wat hy sou openbaar het indien hy byvoorbeeld slegs deur mede leerlinge of selfs ‘n onderwyser, afgeknou was. Hierdie aspekte is nie met die deskundiges tydens die verhoor opgeneem nie, maar dit kan ook nie op die getuienis voor die hof eenvoudig verwerp word nie. Dit is inderdaad so dat die klaer aanvanklik geen woord oor seksuele omgang gerep het nie en eers heelwat later dit sou gedoen het.


  1. Dit kan geredelik aanvaar word dat dit soms nodig is om ‘n slagoffer, veral ‘n jong slagoffer, met allerhande metodes te oorreed om met die volle waarheid uit te kom en dat feite van ‘n aanval of molestering nie altyd met die eerste geleentheid alles na vore kom nie. Wanneer die slagoffer egter aan geweld en dreigemente onderwerp word verhoog dit egter die moontlikheid dat die slagoffer met ‘n valse storie na vore sal kom bloot om die geweld en dreigement teen hom of haar af te weer.


  1. Na my mening was daar in hierdie saak sodanige geweld en dreigement teenoor die klaer toegepas deur sy ouers dat daar besonder versigtig te werk gegaan moet word met sy weergawe. Dit is dan ook insiggewend dat die klaer nie aanvanklik, en vir ‘n redelike tyd daarna, gemeld het dat hy en die appellant gemeenskap gehad het nie. Die vraag is derhalwe onwillekeurig of die klaer nie aanvanklik, om uit die moeilikheid te kom, slegs genoem het dat die appellant aan hom geraak het en nooit bedoel het om so ver te gaan as om te beweer dat hulle gemeenskap gehad het nie en dat hy slegs daartoe oorgegaan het nadat hy daarna onder konstante druk was om meer en meer “feite” te openbaar.


  1. n Verdere belangrike aspek van die saak is die tydsduur waarin die beweerde ontug sou plaasgevind het. Die getuienis dat die klaer deel van ‘n ryklub was en dat daar geen oponthoud was na die klok vir die laaste periode gelui het en sy by haar vriendinne aangesluit het nie, was nie in geskil nie. Volgens die klaer het die hele episode ongeveer sewe minute geduur. Dit is duidelik dat, indien dit plaasgevind het, dit nie langer kon geduur het nie anders sou die appellant se vriendinne onraad vermoed het en haar desnoods gaan soek het. Teen hierdie agtergrond moet die gebeure, soos deur die klaer getuig, ontleed word. Ek het reeds hierbo daarna verwys. Wat opval is die eienaardigheid, indien nie die onwaarskynlikheid, dat die appellant juis hierdie dag sou gekies het om seksueel met die klaer te verkeer nie. Dit is naamlik ‘n dag waar sy weet sy deel is van die ryklub en haar vriendin boonop haastig is om by die huis te kom. Sy sou dus hoogstens enkele minute hê om met die klaer te verkeer. Teen hierdie agtergrond is dit nog meer eienaardig dat sy dan al haar klere sou uittrek, daarna op die tafel gaan lê en haarself bevredig en daarna die ander dinge doen waaroor die klaer getuig het. Dit blyk onwaarskynlik te wees dat al hierdie handelinge sou kon plaasvind in die kort tydsbestek wat beskikbaar was maar dit is nog meer onwaarskynlik dat die appellant dit sou doen wetende dat sy maar enkele minute het alvorens sy by haar vriendinne moes aansluit.


  1. Die landdros het ten opsigte van hierdie aspek aangemerk dat dit ‘n uiterse kort tydsbestek was maar dit genoem as motivering waarom die klaer se getuienis aanvaar behoort te word. Die landdros het naamlik gekonstateer, onder andere, dat die klaer sou besef het dat “hierdie ‘n uiters kort tydsbestek was en hy sou definitief sy weergawe hiervolgens aangepas het want hy sou besef het dat dit gaan gesien word dat hy getuienis fabriseer en dat die voorval nie in daardie kort tydsbestek kan plaasvind nie”. Dit blyk dus inderdaad dat die landdros ook van mening was dat alles wat die klaer oor getuig het, nie in daardie kort tydsbestek kon plaasgevind het nie. Dit is egter onduidelik hoe die landdros dit dan juis gebruik om die klaer se geloofwaardigheid bo redelike twyfel te bevind. Ek stem saam met die betoog van advokaat de la Rey dat hierdie bevinding of opmerking van die landdros eerder ‘n bevinding ondersteun dat daar twyfel bestaan oor die geloofwaardigheid van die klaer se getuienis.


  1. Volgens die appellant se getuienis, wat nie betwis was nie, moes sy soms na skool bly vir buitemuurse aktiwiteite. Dit sou sekerlik meer waarskynlik gewees het indien sy so ‘n middag, wanneer sy nie van die ryklub gebruik maak nie, sou gebruik om die klaer te verlei indien dit haar bedoeling was.


  1. ‘n Verdere aspek in hierdie verband is dat volgens die klaer se getuienis het die appellant tot op daardie stadium nog net voor op sy broek aan hom gevat en niks meer nie. Dit sou beteken dat, op die klaer se weergawe, die appellant moes besluit het om op hierdie besondere dag van 7 April 2003, en terwyl sy slegs enkele minute beskikbaar gehad het, ‘n geweldige sprong vorentoe te gee wat betref haar proses van verleiding van die klaer, deur al haar klere uit te trek, haarself voor die klaer te bevredig en hom te oorreed om met haar gemeenskap te hê. Op die klaer se getuienis het hy op geen stadium voor hierdie dag enigiets teenoor die appellant gesê wanneer sy hom betas het nie en het hy geen bydrae gelewer nie.

  1. Dit is natuurlik moeilik om die optrede van ‘n molesteerde te voorspel maar ek vind dit nogtans hoogs onwaarskynlik dat die appellant tot hierdie ekstreme optrede sou oorgegaan het sonder enige aanleiding daartoe en boonop terwyl sy slegs enkele minute tot haar beskikking gehad het. Ek vind dat die weergawe soos getuig deur die klaer op die oog af onwaarskynlik is. Dit kan verder opgemerk word dat volgens die klaer se getuienis daar ook nooit sprake was dat die appellant aan hom sou gesê het om die gebeure tussen hulle stil te hou of dat dit hulle geheim is nie.


  1. Ek het reeds hierbo aangedui dat dit nie vir hierdie hof nodig is om te bepaal wat die waarheid werklik is nie. Dit is ook nie nodig om die getuienis wat namens die staat aangebied is, te verwerp nie. ‘n Beskuldigde is op sy vryspraak geregtig indien daar ‘n redelike moontlikheid bestaan dat sy getuienis waar mag wees of, anders gestel, indien die weergawe van die beskuldigde nie bewys is as vals bo redelike twyfel te wees nie.


  1. In die onderhawige geval is daar aspekte in die staat se saak wat wesenlike vraagtekens daarstel. Daar is ander aspekte wat gering onwaarskynlik is maar ander wat erg onwaarskynlik is.


  1. Wat betref die appellant se getuienis oor die vlekke op haar liggaam is duidelik uit een van die foto’s voor die hof dat die vlekke onder die appellant se arms, wat kennelik afloop teen haar sye, duidelik waarneembaar is terwyl sy geklee is. Indien dit vergelyk word met die skets wat deur die klaer geteken is, dan blyk dit dat hy waarskynlik slegs na daardie vlekke onder haar arms en af teen haar sye, verwys het. Hy het nie na enige vlekke op haar maag verwys soos wat die landdros bevind het nie. Dit staan dus vas, na my mening, dat die klaer nie die vlekke en ander tekens op die applikant se liggaam, getoon het wat hy slegs sou kon sien indien sy nakend voor hom was nie. Die vraag of die klaer noodwendig, indien hy inderdaad getraumatiseer was, sulke aspekte sou opgemerk het, is natuurlik ‘n ander saak. Na my mening is dit nie nodig om daaroor ‘n bevinding te maak nie.


  1. Wat betref die appellant se getuienis word haar getuienis en haar karakter deur die landdros kritiseer omdat sy ‘n privaat speurder aangestel het, of laat aanstel het, wat ondersoek namens haar sou kon doen. Die landdros sê dat sy uiters ontwykend ten aansien van hierdie aspek was. Na my mening is hierdie kritiek totaal ongeregverdig. In elk geval, daar is niks verkeerd om iemand aan te stel om bewysmateriaal in te samel wat in belang van die verdediging in ‘n strafsaak gebruik kan word nie. Die bevinding dat daar dus ‘n vraagteken op die beskuldigde se geloofwaardigheid is vanweë die feit dat sy ontwykend was oor hierdie aspek, is nie geregverdig nie.


  1. Die appellant is verder kritiseer dat sy inderdaad nie so ‘n uitstekende onderwyseres is as wat voorgehou is namens haar nie aangesien dit geblyk het dat sy die klaer nie eers goed geken het nie terwyl sy hom sou moes geken het omdat hy so baie van die skool afwesig was en nie goed gedoen het in haar vak nie. Die landdros verwyt derhalwe die klaer dat sy nooit probeer uitvind het wat die kind se probleem is en dit met hom opgeneem het nie. Die landdros het die appellant ook gekritiseer vanweë die feit dat stellings namens haar in kruisverhoor gemaak is oor wat getuies sou kom sê wat uiteindelik nie getuig het nie. Die kritiek teen die appellant in hierdie verband is nie geregverdig nie.


  1. Alles in ag genome is ek van mening dat die kritiek teen die appellant se getuienis, selfs die aspekte wat tot ‘n mate geregverdig was, hoegenaamd nie refleksie op haar geloofwaardigheid werp nie en dat nie gesê kan word dat haar weergawe nie redelik moontlik waar is nie.


  1. Ek herhaal, die vraag wat ‘n hof in omstandighede soos die onderhawige moet vra, is nie of die appellant se weergawe die waarheid is nie maar bloot of dit redelik moontlik waar kan wees. Na my mening behoort die appellant, in die lig van al die omstandighede, die voordeel van die twyfel te kry en word die volgende bevel gemaak:

  1. Die appèl teen skuldigbevinding slaag;

  2. Die skuldigbevinding en vonnis van die hof a quo word ter syde gestel en vervang met ‘n bevinding van onskuldig.





C.P RABIE

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF


Ek stem saam




A LEDWABA

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF



SAAKNOMMER: A215/06

SAAK AANGEHOOR OP: 19 NOVEMBER 2007

VIR DIE APPELLANT: ADV J De la Rey

INSTRUKSIE GEGEE DEUR: R LIPPI PROKUREURS

VIR DIE RESPONDENT: ADV DE MEYER

INSTRUKSIE GEGEE DEUR: DIREKTEUR VAN OPENBARE VERVOLGING