South Africa: High Courts - Gauteng Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Courts - Gauteng >> 2007 >> [2007] ZAGPHC 371

| Noteup | LawCite

Wakeford v S (A1228/2005) [2007] ZAGPHC 371 (17 November 2007)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Witwatersrand Plaaslike Afdeling)









NIE RAPPORTEERBAAR NIE

Saak Nr.: A1228/2005



In die saak tussen:



WAKEFORD, JACOBUS JOHANNES....................Appellant

en


DIE STAAT..........................................................Respondent


___________________________________________________________


UITSPRAAK


___________________________________________________________


WILLIS R:


[1] Die appellant, het as beskuldigde 2 tesame met Sarel Johannes Huysamen as beskuldigde 1 in die streekhof Krugersdorp tereg gestaan op ’n aanklag van moord.


[2] In die klagstaat word dit beweer dat beide beskuldigdes op 31 Julie 2003 by die ,,Fascist” Nagklub te Krugersdorp wederregtelik en opsetlik vir Johan Weber gedood het deur hom te skiet en/of hom met ’n skerp voorwerp te steek.


[3] Dit is gemeensaak dat die oorledene onmiddelik voordat hy oorlede is twee ernstige wonde opgedoen het: eerstens ’n skietwond en tweedens ’n steekwond, wat heel waarskynlik deur ’n mes veroorsaak is. Dr Mosau Morule die distriksgeneesheer watdie lykskouing op die oorledene gedoen het, het getuig dat die skietwond nie die dood van die oorledene kon veroorsaak het nie, aangesien dit nie ver genoeg gepenetreer het nie. Sy onbetwiste getuienis was dat die steekwond die oorledene se dood veroorsaak het. Nadat die skoot afgevuur is, het die oorledene se neef, Pieter Skead, die oorledene uit die kroeg geneem waar hy (die oorledene) waarskynlik buite die kroeg op die gras beswyk het.



[4] Dit is ook gemeensaak dat laat in die aand gedurende 31 Julie 2002 daar in die kroeg, nadat baie gedrink was, ’n bakleiery tussen beskuldigde 1, die oorledene, die oorledene se broer en hulle vriende ontstaan het. Die Staat het getuienis gelei dat ongeveer twee weke vantevore die oorledene en sy vriende probleme by die klub veroorsaak het. Hulle het, onder andere, ’n baksteen deur die klub se venster gegooi. Tydens die bakleiery is beskuldigde 1 oorrompel. Hy het ’n skoot met ‘n vuurwapen afgevuur waarin die oorledene ’n vleiswond opgedoen het. Beskudigde 1 se verweer is dat hy in noodweer opgetree het. Die geleerde landros het hierdie pleit aanvaar en beskudigde 1 is op die aanklag van moord heeltemaal vrygespreek.


[5] Op 11 Junie 2003 het die geleerde landdros beskuldigde 2 (die appellant) onskuldig bevind op die aanklag van moord, maar hom wel skuldig bevind op die mindere bevoegde uitspraak van strafbare manslag. Die appellant is op 31 Julie 2005 tot vier jaar gevangenisstraf gevonnis waarby die bepalings van artikel 276 (1) (i) van die Strafproseswet Nr. 51 van 1977 van toepassing verklaar is. Die appellant kom nou in hoër beroep teen dié skuldigbevinding.


[6] Blykens die geleerde landdros se uitspraak is die skuldigbevinding op die volgende gebaseer:

(i) Roslyn Dick, ’n staatsgetuie wat op die tersaaklike tyd ’n werknemer by die klub was, het getuig dat kort nadat die oorledene ernstig beseer is, die appellant gesê het: “Johan sal meer as ’n ambulans nodig hê, hy sal ’n naald en garing nodig hê. Ek het hom gesteek.”

(ii) Dick het verder getuig dat nadat die skoot afgevuur is, die appellant die kroeg verlaat het (een van die oorledene se vriende, Korrie Blignaut wat ook ‘n staatsgetuie is, het die appellant se verloofde gestamp en sy optrede was gemik teen dié persoon)1;

(iii) Dit is gemeensaak dat die appellant gedurende die betrokke aand sy verloofde se mes gebruik het om biltong mee te sny;

(iv) Die waarskynlikheid dat niemand anders as die appellant die dodelike steekwond toegedien het;

(v) Die appellant) se “vertoning as getuie” wat as “swak” beskryf is.”


[7] Die appellant het ontken dat hy sou gesê het: ,,Johan sal meer as ’n ambulans nodig hê, hy sal ’n naald en garing nodig hê. Ek het hom gesteek.” Hy het verder ontken dat hy die kroeg verlaat het nadat een van die oorledene se vriende sy (die appellant se) verloofde gestamp het.


[8] Tydens die verhoor en ook op hierdie appél het die verdediging gesteun op verskeie weersprekings in die getuienis van die staatsgetuies. Die geleerde landdros was wel deeglik bewus hiervan. Hy het nietemin opgemerk dat “Dit moet in gedagte gehou word dat die hof hier te doen het met ’n bewegende toneel. Die hof het hier te doen met ’n voorval wat redelik vinnig moes plaasgevind het en dit is ook duidelik dat die hof hier te doen het met getuies wat die voorval uit verskillende oogpunte of hoeke waargeneem het.”


[9] Dit is vervolgens nodig om die getuienis in meer besonderhede te ontleed.


[10] Dick se getuienis rakende die “naald en garing” gedeelte lees soos volg:


One of these guys came in and they asked if we had a telephone so we could phone an ambulance because one of their friends had been injured.

Yes – And the next minute Kobus (die appellant) was sitting right next to me at the bar and he said he is going to need more than just an ambulance because he has been stabbed.

What did he, did he say this in English or Afrikaans? – No he said it in Afrikaans.

Can you remember the words that he used? - Hy het gesê “Hy gaan meer as ’n ambulans nodig het, hy gaan ‘n naald en garing nodig het want ek het hom gesteek.”

Dit is opvallend dat sy aanvanklik, toe sy spontaan haar getuienis in haar moedertaal weergee het, geen melding gemaak van die besonder belangkrike woorde “Ek het hom gesteek” nie.

Later, onder kruisverhoor, was haar weergawe in hierdie verband soos volg:

One of the deceased’s friends walked into the bar and he asked do you have a telephone. Ek sal dit in Afrikaas sê: ,,Het julle ’n telefoon om ‘n ambulans te ontbied? En toe sit ons vir die terug, toe sit ,,accused 2” langs my toe sê hy vir my:,,Hy gaan meer as ’n ambulans nodig het, hy het naald en garing nodig want ek het hom gesteek. Ek het hom gelem.”


Dat die appellant gesê het die appellant gesê het “Ek het hom gelem.” kom nie in haar getuienis-in-hoof voor nie.


Dick se getuienis dat die appellant ná die bakleiery na buite gegaan het en weer ingekom het word in ’n mate gestaaf deur die getuienis van the staatsgetuie André Rossouw.


[11] Leon Weber, die oorledene se broer, het getuig:


Hy (Pieter Skead, ook bekend as Piet) het ons almal by die plek, by die deure uitgetrek toe sê hy daar is ’n geweerskoot wat nou net afgegaan het, toe trek hy ons almal by die plek uit. En toe ek nou buite kom toe sê ek: ,,My broer is nog daar binne!” Toe hardloop hy terug toe gaan haal hy hom. Toe hy uitkom was my broer klaar basies geskiet maar toe weet ek glad geensins van die steekwond nie.”


En later:

Waar het u broer beswyk? Kom ek vra vir u so het Piet hom uit die nagklub uitgebring? – Ja, ek was basies op pad terug toe sê hy vir my nee, bly buite en toe hardloop hy en toe kom, toe het hy basis my broer om die, die hand om die nek hierso toe dra hy hom uit.

Het u broer nog geloop op daardie stadium? – Ja, so half ,,gemink” geloop. Nie eintlik heeltemaal kon self loop nie

En is hy daarbuite oorlede of op ’n ander plek? – Nee, hy het buite op die gras gelê toe is hy oorlede daar.

Behalwe, u wys ’n wond aan die voorkant van u bors uit, het u enige ander wonde waargeneem aan u broer? – Kyk, daar is daai wat ek nou-nou gesê het van die skietwond, dit mag dalk ’n skietwond gewees het. Dit was soos ’n, dit het gelyk soos ’n snymerk maar dit mag dalk die skietwond gewees het. Ek kan dit nie eintlik identifiseer nie want ek ken nie hoe lyk dit eintlik om die waarheid te sê nie


Die getuienis van Weber rakende die rol wat Pieter Skead in die bebeure gespeël het, word bevestig deur die staatsgetuie, Korrie Blignaut.


Onder kruisverhoor getuig Weber verder:

So soos ek sê Piet het teruggegaan. Hy het hom uitgehelp daar met die arm, my broer se arm om sy nek het hy hom gedra. My broer kon nie eers behoorlik loop nie.”


Weber het bevestig dat hy op geen stadium die betrokke aand die appellant gesien het nie.


[12] Dit is gemeensaak is dat die appellant voorheen ’n mes gebruik het om biltong mee te sny. Dick is nietemin pertinent gevra:

In this argument, did you see anybody with a knife there? – No, no. Then I did not.”

Inderdaad het niemand die mes gedurende die bakleiery gesien nie. Beide die staatsgetuies Korrie Blignaut en André Rossouw het pertinent ontken dat hulle die appellant met ’n mes tydens die bakleiery gesien het. Dick het tewens nog verder gegaan deur te getuig dat die steekwond met die mes slegs buite die kroeg toegedien kon gewees het.


[14] Dick het getuig dat toe die bakleiery ontstaan het, die appellant tussen beide getree het ten einde dit te probeer verhoed.


[15] Dat die gebeure wel in ’n bewegende toneel daargestel het en uiteraard redelik vinnig moes plaasgevind het is, na my mening, ’n tweesnydende swaard. Enersyds, soos tereg deur die streeklanddros bevind is mag dit ’n verduideliking vir die teenstrydighede in die staatsgetuies se getuienis verskaf, terwyl andersyds die getuies, alhoewel heeltemal eerlik, foutiewelik die feite in sulke omstandighede kon weergegee het.


[16] Soos deur die geleerde landdros opgemerk is, was Dick se getuienis rakende die “naald-en-garing” opmerking van wesenlike belang. Daarteenoor, soos ek reeds na verwys het, het die getuie haarself weerspreek. Daarby moet in berekening gebring word dat sy aanvanklik nie getuig het dat die appellant erken het dat hy die oorledene gesteek het nie.


[17] Op die getuienis as geheel het niemand die toediening van die messtekery gesien nie. Volgens Dick moes dit buite die kroeg plaasgevind het. Die oorledene se broer daarenteen het getuig dat die oorledene die meswond kon opgedoen het voordat hy die kroeg verlaat het. Die weergawe van die oorledene se broer dat hy gesien het dat sy broer buite die kroeg geneem is en dat hy hom daar sien beswyk het, asook dat hy die appellant nie gesien het nie, sluit die moontlikheid uit dat die appellant die oorledene buite die kroeg gesteek het. Hierdie feite moet uiteraard in die guns van die appellant tel.


[18] Die appellant was duidelik nie ’n besondere goeie getuie nie. Daarteenoor kan sy getuienis egter nie as ’n blote versinsel verwerp word nie. Selfs leuenagtige getuienis regverdig nie altyd die uiterste afleiding nie. Die gewig wat daaraan verleen word, moet met die omstandighede van elke geval verband hou. Hierdie benadering is in die volgende sake bevestig:


S v Mtsweni 1985 (1) SA 590 (A) op 593I-594D;

S v Steynberg 1983 (3) SA 140 (A) op 146A -148D;

R v Mlambo 1957 (4) SA 727 (A) op 738B-D; en

Goodrich v Goodrich 1946 AD 390.


[19] Die moontlikheid kan nie uitgesluit word dat iemand anders – dalk ’n lid van die oorledene se groep – die mes gebruik het nie. Dié persoon kon met die opset gehad om òf beskuldigde 1 òf beskuldigde 2 daarmee te steek, die oorledene in die verwarring wat tydens diebakleiery ontstaan het per abuis daarmee gesteek het.


[20] Of iemand die appellant se verloofde gestamp het of nie stel geen bewys daar dat die appellant die oorledene gesteek het nie. Soortgelyke oorwegings geld ten aansien van die appellant se gebruik van ’n mes om biltong mee te sny.


[21] Alles in ag genome moet die voordeel van die twyfel die appellant toekom. Die redelike moontlikheid dat hy nie die oorledene met die mes gesteek het nie, kan na my mening nie uitgesluit word nie.


[22] Die benadering van Nugent R, soos hy toe was, in S v Van der Meyden 1999 (2) SA 79 (W); 1999 (1) SACR 447 (W) waar hy die belangrikheid beklemtoon dat daar na die getuienis as geheel gekyk moet word is met eerbied van toepassing in ’n saak soos die onderhawige. Dié uitspraak is in die Hoogste Hof van Appél bekragtig. (Sien S v Van Aswegen 2001 (2) SACR 97 (HHA) at 101a-f.) (Sien ook R v Hlongwane 1959 (3) SA 337 (A) op 340H-341B; S v Hlapezula & Others 1965 (4) SA 439 (A) op 442F; en S v Khumalo & Others [1991] ZASCA 70; 1991 (4) SA 310 (A) op 327H-I.)


[23] Daar word as volg beveel:

  1. Die appèl word gehandhaaf;

  2. Die skuldigbevinding en vonnis in die Hof a quo word tersyde gestel.


GEDATEER TE JOHANNESBURG HIERDIE DAG VAN FEBRUARIE 2007.




N.P. WILLIS


REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF



Ek stem saam.





C.G. LAMONT


WAARNEMENDE REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF




Advokaat vir die Appellant: H.J.Prinsloo

Attorney for the Appellant: Swart, Redelinghuys, Nel en Vennote


Advokaat vir die Staat:



Verhoordatum: 21 Februarie, 2007

Datum van Uitspraak: Februarie 2007




1 Maar die staatsgetuie André Rossouw het getuig dat dit die oorledene was wat die appellant se veloofde gestamp het.