South Africa: High Courts - Gauteng

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Courts - Gauteng >>
2007 >>
[2007] ZAGPHC 374
| Noteup
| LawCite
S v Scannell (CC543/2007) [2007] ZAGPHC 374 (22 October 2007)
Download original files |
IN DIE NOORD-GAUTENGSE HOOGGEREGSHOF
VAN SUID-AFRIKA
PRETORIA
SAAKNR: CC543/2007
DATUM: 2007-10-22
In die saak tussen:
DIE STAAT
en
T. A. SCANNELL.............................................................................Beskuldigde
UITSPRAAK
C. J. CLAASSEN R:
[1] Die beskuldigde is aan twee ernstige misdade skuldig bevind en dit is nou hierdie hof se taak om ‘n gepaste vonnis op te lê. ‘n Gepaste vonnis beteken dat die hof na alle relevante omstandighede moet kyk en veral na die misdaad, die misdadiger en die gemeenskap se belange. En dan daarby, moet die hof ook ‘n mate van genade openbaar, sodat ‘n gevonnisde beskuldigde altyd die hoop sal hê om deur rehabilitasie homself weer deel kan maak van ‘n verantwoordelike gemeenskap in die land. Daar moet dus altyd vir hom/haar hoop wees. Dit is dus belangrik om die moontlike positiewe gevolge van rehabiliterende aktiwiteite tydens die uitdiening van ‘n vonnis in ag te neem. Dit is ook so dat ‘n vonnis geïndividualiseer moet word. Dit beteken dat ‘n hof selde of ooit ‘n standaard vonnis kan oplê vir alle beskuldigdes wat aan soortgelyke misdade skuldig bevind is. Die omstandighede waarin ‘n misdaad gepleeg word, veskil van geval tot geval. En die hof is dus verplig om die betrokke omstandighede van elke geval in ag te neem.
[2] Nou dit is gemeensaak dat in hierdie geval ‘n langtermyn vonnis opgelê moet word. Die vraag is, hoe moet ‘n langtermyn vonnis in hierdie geval getemper word om al hierdie faktore wat ek nou genoem het, in ag te neem.
[3] Eerstens die aard van die misdaad. Mnr Kriel, namens die beskuldigde, het nie gepoog om die wreedheid van die misdaad te verbloem nie. Dit skrei ten hemele. Uit die nadoodse verslag, die verslag van die kriminoloog, Dr Irma Louise Labuschagne, BEWYSSTUK H, asook die beskuldigde se eie pleitverduideliking, BEWYSSTUK A, blyk die wreedheid waarmee die twee misdade gepleeg is.
[4] Die onsedelike aanranding het tot erge beserings gelei, soos aangedui in die nadoodse verslag. Die beskuldigde erken dat hy die oorledene ongeveer 20:00 die vorige aand onsedelik aangerand het, en haar in die kar gelos het tot 06:00 die volgende oggend. Daarna het hy besluit om haar dood te maak. Toe hy haar gedra het na haar graf toe, wat hy vir haar gegrawe het, kon sy nie loop nie. Hy moes haar dra. Sy moes erge pyn die hele nag verduur het. Sy was ook nie in staat om weg te hardloop of om hulp te gaan soek nie, want sy kon nie loop nie.
[5] Die moord was ook wreed en koelbloedig gepleeg. Die beskuldigde het eers haar graf gaan grawe en haar soontoe gedra. Hy het haar toe met ‘n hamer verskeie kere teen die kop geslaan, selfs nadat sy in die graffie geval het.
[6] Die misdaad word vererger deur verdere verswarende omstandighede:
Die beskuldigde het probeer om sy dade te verbloem en sy spore uit te vee.
Dit was uitgevoer op ‘n weerlose 10-jarige dogtertjie wat haar vertroue volkome in die beskuldigde geplaas het om haar te versorg en te beskerm. Daar was dus ‘n ernstige vertrouensbreuk wat hierdie beskuldigde misbruik het tot nadeel van die oorledene.
Die beskuldigde was reeds 41 jaar oud tydens die pleeg van die misdade. Hy het dus as ‘n volwasse persoon van beter geweet.
Hy het ‘n vorige veroordeling van aanranding wat gedurende Julie 1999 gepleeg is. Dit is sewe jaar voor hierdie wrede moord en onsedelike aanranding. Hy is beboet met R800 of vier maande gevangenisstraf wat opgeskort is vir vyf jaar op voorwaarde dat hy nie weer skuldig bevind word aan aanranding met die opset om ernstig te beseer gepleeg gedurende die tydperk van opskorting nie.
[7] Daar is wel ‘n element van versagting ten opsigte van die onsedelike aanranding wat die vorige aand plaas gevind het. Dit blyk dat alkohol wel ‘n rol gespeel het en die hof moet dit in aanmerking neem. Die verslag, BEWYSSTUK H van Dr Irma Labuschagne is ‘n baie volledige en insiggewende verslag. Dit blyk daaruit dat die beskuldigde se agtergrond struktureel abnormaal en hoogs disfunksioneel was. Hy het sy pa twee keer in sy lewe gesien tot op ouderdom 18. Daarna het hy vier keer vir hom gaan kuier in ‘n alkoholisme inrigting in Johannesburg. Sy ma het hy gesien toe hy 6 jaar oud was, weer op 8-jarige ouderdom en toe weer op 17-jarige ouderdom. Hy het grootgeword in ‘n weeshuis. Tussen sy negende en veertiende jaar het die ander seuns hom gemolesteer. Sy weeshuisouers het hom mishandel en erge lyfstraf toegedien. Vanweë hierdie mishandeling het hy nooit geleer om respek te hê vir die teenoorgestelde geslag nie. Hy het eers vir die eerste keer getrou toe hy 41 jaar oud was. Dit was verlede jaar.
[8] Ek is bereid om te aanvaar in die beskuldigde se guns dat daar tog ‘n element van berou is oor wat hy gedoen het. In hierdie opsig sê hy aan Dr Irma Labuschagne op bladsy 9 van BEWYSSTUK H:
“Ek was onder die invloed van alkohol, dat die duiwel my in my swakheid gebruik het. Ek het nog nooit so iets gedoen nie, en was bevrees vir die skande, dalk oor eensaamheid, ek is ‘n sondaar.”
Die berou in hierdie geval het natuurlik te laat gekom.
[9] Hy het aanvanklik alle betrokkenheid by die verdwyning van die oorledene ontken. Later toe hy met die feite gekonfronteer is, was daar vir hom geen verdere uitkoms nie en hy het toe erken wat hy gedoen het. Daarna het hy saam met die polisie gewerk en vrywilliglik ‘n uitwysing gaan doen waar die liggaam van die oorledene gevind is.
[10] Alkohol kan egter nie ‘n versagtende rol speel by die klag van moord op die oorledene nie. Die besluit om haar te vermoor is gedoen nadat die effek van alkohol reeds uitgewerk was, naamlik die volgende oggend. Verder is die moord gepleeg met die uitsluitlike bedoeling om die skande van sy dade te probeer verberg. Hy het eers die gat gaan grawe terwyl sy hulpeloos in die kar bly lê het. Hy het haar toe na die graf gedra en haar toe op wreedaardige manier vermoor. Hy het die gat toegegooi en probeer verberg. Dit alles het hy gedoen op ‘n stadium toe hy by sy volle positiewe was en presies geweet het wat hy gedoen het.
[11] Op 41-jarige ouderdom moes hy baie, baie deeglik bewus gewees het van die verkeerdheid en moreel blaamwaardige aard van sy optrede. Dit wat betref die misdaad en die misdadiger.
[12] Die gemeenskap waarin ons vandag leef het ook behoefte aan beskerming en die howe is verplig om met groot omsigtigheid en verantwoordelikheid vonnisse op te lê wat vertroue by die gemeenskap sal inburger. Die howe moet ook daarop bedag wees om met die vonnisse te poog om die gemeenskap te beskerm teen die vlaag van misdaad wat die land getref het. Die howe sal dus fouteer as hierdie tipe ernstige misdade ligtelik opgeneem word.
[13] Ek is terug by die vraag: Wat is dan ‘n gepaste vonnis in hierdie geval? In die eerste instansie is dit so dat die algemene Regswysigingswet 105 van 1997 van toepassing is by die oplegging van die vonnis in hierdie geval. Laasgenoemde wet skryf minimum vonnisse voor. In die geval van klag 1, die onsedelike aanranding, is die minimum vonnis 10 jaar gevangenisstraf. Wat betref die beplande moord is die minimum vonnis lewenslange gevangenisstraf. Hierdie minimum vonnisse moet opgelê word tensy die hof kan bevind dat daar wesenlike en dwingende omstandighede is wat die hof magtig om af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnis.
[14] Is daar sodanige wesenlike en dwingende omstandighede aanwesig wat my bevoegd sou maak om ‘n diskresie uit te oefen in die guns van die beskuldigde, en dienooreenkomstiglik ‘n mindere vonnis as die voorgeskrewe vonnis op te lê? Vonnis bly maar altyd een van die moeilikste take wat voor die deur van ‘n hof gelê word, omdat daar so baie faktore is wat in ag geneem moet word.
[15] Ek dink dit blyk duidelik uit die bogenoemde opsomming van die feite dat die versagtende omstandighede slegs maar die volgende is:
1. Die beskuldigde het skuldig gepleit.
Hy het ‘n mate van berou getoon deur self walging uit te spreek.
Hy het ‘n disfunksionele agtergrond.
4. Hy was bereid om saam te werk met die polisie om die saak gou en eenvoudig op te los nadat hy aanvanklik betrokkenheid in die misdade ontken het.
[16] Die vraag is of dit kumulatief beskou wesenlik en dwingend omstandighede daarstel? Die verswarende omstandighede is dat die beskuldigde nie ‘n jeugdige is nie. Hy was 41 jaar oud toe die misdaad gepleeg is. Hy moes absoluut van beter geweet het. Hy het die vertroue wat hierdie jong kind in sy beskerming geplaas het, gruwelik misbruik ter bevrediging van sy eie wellustige drange. Die kind is wreed en pynlik aangerand op die agterste sitplek van ‘n voertuig. Hy het haar net so in haar pyn gelos vir die hele nag. Hy is nooit beweeg deur empatie, of volwasse en ouerlike sorg om te probeer om die kind se pyn te verlig nie. En daarna, nadat hy genoeg tyd gehad het om ontslae te raak van enige nadelige invloed wat sy alkohol inname mee- gebring het, het hy oorgegaan tot die koelbloedige beplanning van hierdie kind se einde. Nie net alleen was die onsedelike aanranding wreed en gevoelloos nie, maar die moord was ewe wreed en gevoelloos. Hy het haar gedra en haar voor haar graf geplaas. ‘n Mens kan maar net wonder wat in die arme kind se gemoed moes deurgaan toe sy sien dat sy nou voor haar eie graf staan. En daar is sy van agter af met ‘n hamer aangeval, wat hy voorheen in sy beplanning daar gelaat het met die doel om die moord af te handel.
[17] As ‘n mens na hierdie feite kyk dan skree dit ten hemele. Ek het tot ‘n gevolgtrekking gekom dat die verswarende omstandighede by verre die versagtende omstandighede oorskrei. Ek is dus verplig om die minimum vonnis op te lê wat betref aanklag 2, die moord.
[18] Wat betref aanklag 1, is ek bereid om sy verwarde seksuele drange en disfunksionele agtergrond in ag te neem. Moontlik het dit gelei tot die verwronge uiting van sy seksuele drange daardie aand. Myns insiens vorm dit wesenlike en dwingende omstandighede om ‘n mindere vonnis op te lê. Ek moet daarby sê, ek doen dit bloot uit genade. Ek dink dit is die enigste area waar hierdie hof genade kan betoon. Ek is ook bereid om te aanvaar dat sy oordeel nadeliglik beïnvloed is deur sy alkohol inname. Dit kan as ‘n versagtende omstandigheid aangemerk word by die onsedelike aanranding. Ek sal ook in ag neem dat die beskuldigde moontlik rehabiliteerbaar is, alhoewel die verslag van Dr Irma Labuschagne geen melding daarvan maak nie. Die beskuldigde is waarskynlik iemand wat nie noodwendig permanent uit die gemeenskap verwyder moet word nie. Ek lê die volgende vonnis op:
Klag 1: Onsedelike aanranding, 9 jaar gevangenisstraf en
Klag 2: Moord, lewenslange gevangenisstraf.
[19] Ek wil dadelik byvoeg dat ek wel ‘n aanbeveling maak dat die beskuldigde nie in aanmerking gebring word vir parool voor uitdiening van ten minste 20 jaar gevangenisstraf nie. Dit is bloot net ‘n aanbeveling.
ALDUS GEDOEN EN GETEKEN TE JOHANNESBURG OP HIERDIE DAG VAN JUNIE 2011.
________________________
C.J.CLAASSEN
REGTER VAN DIE HOËRHOF
NAMENS DIE STAAT: ADV KOTZE
NAMENS DIE BESKULDIGDE: ADV KRIEL
____________________