South Africa: High Courts - Gauteng

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Courts - Gauteng >>
2007 >>
[2007] ZAGPHC 51
| Noteup
| LawCite
Doubell v Padongelluke Fonds (10696/2005) [2007] ZAGPHC 51 (9 February 2007)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID AFRIKA
(TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)
Saaknommer: 10696 / 2005
Datum aangehoor: 08/02/2007
Datum van uitspraak: 09/02/2007
ONRAPORTEERBAAR
In die saak tussen:
BAREND STEPHANUS DOUBELL APPLIKANT
en
DIE PADONGELUKKE FONDS RESPONDENT
UITSPRAAK
DU PLESSIS R:
Om ongeveer 11h30 op 27 Desember 2003 was die eiser met ʼn Opel Astra motor op pad tussen Platjan en Tolwe in Limpopo. Hy het met ʼn bakkie wat deur mnr. M.F. Mashamahiti bestuur is, gebots. Die eiser beweer dat hy in die botsing beseer is en eis skadevergoeding van die verweerder op grond daarvan dat die botsing hetsy heeltemal of gedeeltelik deur Mashamahiti se nalatigheid veroorsaak is. By ooreenkoms is die geskilpunte geskei sodat die verhoor slegs vir beslissing van die meriete voortgegaan het.
Die eiser het getuig dat hy voor die botsing aan die regterkant ( sy verkeerde) kant van die pad gery het omdat die pad, ʼn grondpad, erg sinkplaat was aan die anderkant. Toe hy op ʼn hoogte in die pad kom, het hy die bakkie van voor af sien kom. Die bakkie was aan die korrekte kant van die pad. Volgens die eiser het hy in sy truspieël gekyk om te sien of daar verkeer agter hom is. Daar was nie en hy het na sy korrekte kant toe begin beweeg om uit die bakkie se pad te kom. Die bakkie het egter na regs (die bakkie se verkeerde kant) geswaai en die voertuie het mekaar in die middel van die pad getref. Uit foto’s wat na die botsing geneem is, blyk dit dat die motors aan die eiser se verkeerde kant en aan Mashamahiti se korrekte kant van die pad tot stilstand gekom het. Die eiser het getuig dat die bakkie sy voertuig soontoe gestamp het. Die foto’s waarna ek verwys het toon dat die botsing min of meer bo-op ʼn bult plaasgevind het sodat elkeen van die voertuie direk voor die botsing teen ʼn steilte opgery het. Die eiser het getuig dat hy die bakkie eers sowat 100 meter van die punt van botsing af kon sien. Voor dit kon hy slegs stof sien. Wat sy getuienis oor die 100 meter betref, moes die eiser egter in kruisverhoor toegee dat hulle mekaar eers kon sien toe albei bo-op die bult kom.
Nadat die eiser getuig het, is sy saak gesluit en die verweerder het toe slegs die getuienis van die versekerde bestuurder aangebied. Hy het getuig dat hy teen sowat 70 tot 80 kph gery het. Hy het stof aan die oorkant van die bult gesien maar kon nie daaruit sien dat die eiser se voertuig aan die verkeerde kant van die pad aankom nie. Toe hy so halfpad teen die bult uit is, het die eiser se voertuig aan die verkeerde kant van die pad oor die bult gekom. Hulle was toe so naby aan mekaar dat hy (Mashamahiti) niks meer kon doen as om te probeer rem nie. Die voertuie het mekaar aan Mashamahiti se korrekte kant van die pad, omtrent 2,9 meter van die kant van die pad af, getref. Die pad is ongeveer 8 meter breed. Mashamahiti het getuig dat hy deurgaans voor die botsing sowat 1 tot 1,5 meter van die kant van die pad af gery het.
Die eiser moes toegee dat sy getuienis dat hy die bakkie ongeveer 100 meter voor die botsing kon sien, nie korrek is nie. Sy verdere getuienis dat Mashamahiti na regs geswaai het kan ook nie waar wees nie. Die voertuie het aan Mashamahiti se korrekte kant van die pad tot stilstand gekom na die botsing. Dit is nie moontlik dat dit kon gebeur het as die momentum van die voertuie, en spesifiek die versekerde voertuig voor die botsing in presies die teenoorgestelde rigting was soos die eiser beweer het nie.
Uit die getuienis blyk dit dus dat die eiser voor die botsing aan sy verkeerde kant van die pad besig was om oor ʼn blinde hoogte te ry. Van die anderkant af het die versekerde voertuig die hoogte aan sy korrekte kant van die pad genader. Die bestuurders kon wel stof sien, maar kon mekaar nie tot baie kort voor die botsing sien nie. Op daardie stadium was dit te laat om iets te doen om die botsing te vermy.
Daar is geen twyfel dat die eiser se nalatigheid in die omstandighede die botsing veroorsaak het of wesentlik daartoe bygedra het nie. Die vraag is of die eiser bewys het dat die versekerde bestuurder nalatig was.
Voor die botsing kon Mashamahiti wel stof sien aan die anderkant van die blinde hoogte. Hy het getuig dat hy nie kon sien watter kant toe of watter kant van die pad die voertuig wat die stof maak, ry nie. Daar is geen rede om dit te betwyfel nie: As hy die voertuig nie kon sien nie, kon hy die bron van die stof nie sien nie en moes hy die stof noodwendig gesien het nadat ʼn ent in die lug getrek het. Op daardie stadium kon die stof natuurlik, afhangende van die wind, in enige rigting beweeg het van die bron af.
Mnr Horak vir die eiser het betoog dat Mashamahiti nalatig was deur nie, toe hy stof anderkant die blinde hoogte gewaar, meer na links te hou nie. In die eerste plek is daar geen basis om te bevind dat, as hy dit gedoen het, Mashamahiti die botsing sou kon vermy nie. In elk geval kon hy nie redelikerwys voorsien dat die motor wat die stof maak, heeltemal aan die verkeerde kant van die pad ry teen die blinde hoogte op nie. Dit is na my oordeel nie onredelik vir ʼn bestuurder om ʼn blinde hoogte oor te steek aan die korrekte kant van die pad in die vertroue dat daar nie aan die anderkant ʼn onredelike bestuurder is wat aan die verkeerde kant ry nie.
Na my oordeel het die eiser nie daarin geslaag om te bewys dat die versekerde bestuurder nalatig was nie.
Die eiser se eis word van die hand gewys met koste.
B. R. DU PLESSIS
Regter van die Hooggeregshof
Advokaat vir die Eiser: Adv. A. G. Horak
Klagsbrun de Vries & van Deventer
012 362 5966
Advokaat vir die Verdediger: Adv. Coetzee
T.M. Chauke Prok.