South Africa: High Courts - Gauteng Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Courts - Gauteng >> 2007 >> [2007] ZAGPHC 55

| Noteup | LawCite

Prokureursorde van die Noordelike Provinsies v Malan en 'n Ander (24335/2002) [2007] ZAGPHC 55 (17 May 2007)

Download original files

PDF format

RTF format


NOT REPORTABLE


DELIVERED 17 MAY 2007


/LVS

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA


(TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)



SAAKNOMMER: 24335/2002









In die saak tussen:



DIE PROKUREURSORDE VAN DIE

NOORDELIKE PROVINSIES APPLIKANT



EN


ANDRÉ MALAN EERSTE RESPONDENT

FRANCOIS MALAN TWEEDE RESPONDENT


______________________________________________________________

UITSPRAAK


BOTHA R:


Dit is `n aansoek om die skrapping van die name van die eerste respondent en die tweede respondent van die rol van prokureurs. Daar word ook gevra dat die eerste respondent as `n aktevervaardiger en notaris en die tweede respondent as `n aktevervaardiger geskrap word.


Op 10 September 2002 is die eerste en tweede respondent geskors kragtens `n bevel deur DE VOS, R uitgereik. Mnr Johan van Staden is aangestel as die kurator van hulle praktyk.


Die eerste respondent is op 4 Augustus 1987 as prokureur toegelaat en die tweede respondent op 16 Oktober 1990. Die eerste en tweede respondent het as vennote gepraktiseer te Alberton onder die naam Malan en vennote.


Die aansoek het sy oorsprong in klagtes wat ontvang is dat vals derde party eise deur die respondent se kantoor geprosesseer is. Dit is gemene saak dat daar sulke eise was, honderd agt en dertig in totaal en dat die respondente se kantoor bestuurder, mnr Kobus Wilken vir die valse eise verantwoordelik was. Mnr Wilken het `n verklaring gemaak waarin hy die respondente onthef van aanspreeklikheid vir die valse eise. Mnr Wilken is op 20 Junie 2002 oorlede. Na aanleiding van die klagtes oor die vals eise het die applikant mnr Arthur van Rooyen gestuur om die respondente se praktyk te ondersoek.


Na drie besoeke het mnr van Rooyen `n verslag gedateer 23 Augustus 2002 voortgebring. Daarna is hierdie aansoek voorberei en op 10 September 2002 is `n bevel ingevolge Deel A van die kennisgewing van mosie verkry vir die skorsing van die respondente. Deel B van die kennisgewing van mosie, waarin om die skrapping van die respondente gevra word, is by drie geleenthede uitgestel: op 27 Junie 2003, op 14 September 2004 en weer op 13 Maart 2006.


Op 10 Maart 2006 is die antwoordende verklarings van die respondente geliasseer.


Kragtens die bevel van 10 September 2002 het die applikant beslag gelê op die boeke van die respondente. Dit was egter net die boeke wat nie voorheen deur die Skerpioene in beslag geneem is nie. Later het die Skerpioene van die boeke van die respondente aan die applikant beskikbaar gestel maar daar was `n restant van rekenkundige aantekeninge wat nooit deur die Skerpioene vrygestel is nie.


Die respondente het `n Reël 35(12) aansoek aan die applikant beteken waarin hulle sekere dokumentasie aangevra het. Dit was deel van die hofbevel waarkragtens die saak op 14 September 2004 uitgestel is dat die applikant op die Reël 35(12) kennisgewing moes antwoord. Verdere dokumente is verskaf. Volgens die respondente het hulle uiteindelik in totaal 4671 bladsye ontvang. Die respondente bekla hulle egter daaroor dat die dokumente aan hulle verskaf onvolledig was en dat hulle nie die aantygings teen hulle behoorlik kon beantwoord nie.


Die saak van die applikant teen die respondente berus in die eerste plek op die beweringe van mnr van Rooyen. Dit kan as volg opgesom word:

(a) Dat die respondente derde partye eise gewerf en gekoop het.

(b) dat die respondente mnr Wilken, `n ongekwalifiseerde persoon, aangestel het om derde party eise te hanteer.

(c) dat die respondente hulle fooie met mnr Wilken gedeel het.

(d) dat 138 valse eise deur die respondente se firma by die Padongelukkefonds (POF) ingedien is.

(e) dat die respondente se Nedbank Trustrekening (een van vier) op 13 Junie 2001 met R43 486,45 oortrokke was en dat die tekort uitgewis is onder andere deur die deponering van `n ronde bedrag van R200 000,00 op 14 Junie 2001 uit `n ander trust rekening.

(f) dat vyf toonder tjeks op hierdie rekening getrek is.

(g) dat die Eerste Nasionale Bank trust rekening op 21 Junie 2001 met R26 597,75 oortrokke was en dat die tekort op 22 Julie 2001 uitgewis is deur die deponering van `n ronde som van R200 000,00 uit `n ander trust rekening.

(h) dat die Standard Bank trust rekening op 16 Julie 2007 met R195,03 oortrokke was.

(i) dat die Absa trust rekening op ses verskillende dae oortrokke was met bedrae wat wissel van R5 577,33 op 19 Mei 2000 tot R110 255,10 op 1 Februarie 2001.

(j) dat die respondente die praktyk gevolg het om oorplasings van ronde bedrae van die Absa trust rekening na die besigheidsrekening te doen.

(k) dat daar ook toonder tjeks op die Absa rekening getrek is.

(l) dat beleggings namens kliënte by banke gemaak nie soos voorgeskryf in Artikel 78(2A) van Wet 53 van 1979, `n verwysing na die artikel bevat nie.

(m) dat die laaste trust krediteure lys op 28 Februarie 2001 voorberei is.

(n) dat in die geval van BA Clark en Longo Aat `n foutiewe besigheidskrediet eers na 17 maande reggestel is.

(o) dat in die geval van J.A de Wet en C de Villiers `n besigheidskrediet van R250,00 nie reggestel is nie.

(p) dat in die geval van M.I Kahn die respondente op 28 Februarie 2001 `n sluitingsoordrag van R4 090,00 gedoen het in stryd met Reël 68.6.1.

(q) dat besigheidsdebiete oor lang tydperke in die firma se boeke bly voortbestaan het, wat `n aanduiding is dat trust geld op besigheid ontvang word.

(r) dat in die geval van D.A Smith is `n bedrag van R1 800,00 as fooi gedebiteer en oorgeplaas van die trust na die besigheidsrekening voordat enige fondse van die POF ontvang is.

(s) dat daar ook nie behoorlik deur D.A Smith verreken is nie omdat `n bedrag van R2 076,45 op 9 April 2002 nog tot sy krediet was.

(t) dat die laaste uitbetaling van rente aan die applikant op 4 Oktober 2000 gemaak is. Die firma het later twee betalings ten aansien van rente aan sy ouditeur gemaak:   R82 943,48 en R28 070,95. Die bedrag van R111 041,43 is egter nog nie deur die applikant ontvang nie.

(u) dat daar onreëlmatighede in verskillende derde partye sake was. Dokumente was gebrekkig. Konsultante is R800,00 per derde party eis betaal.

(v) dat die respondente `n rekening genaamd Third Party Malan & Malan gebruik het vir algemene regstellings en dat trust en besigheidsfondse na behoefte daarna en daarvandaan oorgeplaas is met `n gevolglike vermenging van trust- en besigheidsgeld.

(w) dat die respondente in die geval van A Klein die kliënt uitoorlê het deur net R2 000,00 aan hom uit te betaal nadat R6 448,39 van die POF ontvang is.

(x) dat in die geval van B.P Thusi het die POF R2 000,00 betaal, maar het die kliënt niks gekry nie.

(y) dat in die geval van H.E de Beer net 42% van `n bedrag van R12 948,43 aan die kliënt uitbetaal is.

(z) dat in die geval van T.M Dlamini was daar `n krediet balans van R18 000,00 op 31 Januarie 2002, wat wys dat daar nie aan die kliënt verreken is nie.

(aa) dat in die geval van R Meyer was daar `n trust debiet van       R1 700,00 nadat `n skikkings fooi van R3 260,00 gedebiteer is.

(bb) dat in die geval van D.H Barnard is `n dubbele betaling van die POF ontvang waarvoor 2 kwitansies uitgereik is.

(cc) dat omdat die boeke nie op datum opgeskryf was nie, kon die trust posisie nie bepaal word nie, maar op vyf geselekteerde datums is die posisie as volg vasgestel:

Februarie 2001 R1 710,27 surplus

Julie 2001 R304 618,26 surplus

Augustus 2001 R23 817,87 surplus

Junie 2002 R1 182,49 tekort

Februarie 2002 R176 258,58 tekort.


Die punt word gemaak dat ofskoon die Reël 70 oudit verslag wat op 21 Augustus 2001 ingedien is, ongekwalifiseerd was, moet dit onder verdenking wees.


In paragraaf 8.80 van die funderende verklaring word al die artikels en reëls deur die respondente oortree, uiteengesit.


Dan word daar verwys na die beëdigde verklaring van mnr M.J van Coller, `n skoolhoof en ex officio kommissaris van ede wat getuig het dat hy derde party eise namens die firma gewerf het teen betaling van R400,00 per eis en dat hy R5,00 per beëdiging betaal is. Hy beweer dat hy meegedeel is dat deponente nie tydens die beëdiging teenwoordig hoef te wees nie. Hy het getuig dat hy direk met die tweede respondent en `n mev Leona Malan geskakel het.


Verder is daar `n verwysing na die beëdigde verklaring van mnr van Dyk, `n forensiese ondersoeker wat die valse eise ondersoek het. Hy het `n ontleding van `n aantal vals eise gemaak.


In `n aanvullende verklaring het die applikant verwys na twee gevalle waar die respondente nie behoorlike instruksies van die derde party kliënte bekom het nie.


Die eerste respondent verduidelik in sy antwoordende verklaring dat hy die administrasie van die praktyk hanteer het, dat hy alle betalings gedoen het en dat die tweede respondent die derde party werk behartig het. Om daardie rede sou hy die klagtes oor boekhouding en die trust tekort hanteer en die tweede respondent die klagtes oor die derde party eise.


Hy het verduidelik dat hy en die tweede respondent op 30 Augustus 2002 al hulle derde party eise aan prokureur J.H van der Merwe oorgedra het.


Op 2 September 2002 het die Skerpioene op hulle dokumente beslag gelê.


Op 5 September 2002 is die aansoek aan hulle beteken. Hy en die tweede respondent het net verklarings gemaak waarin hulle gesê het dat hulle te getraumatiseerd was om iets te sê.


Op 10 September 2002 is daar uit hoofde van die hofbevel beslag gelê op die orige dokumente.


Hy het beskryf hoe hy met moeite daarin geslaag het om 4671 bladsye se dokumente uit die applikant te kry.


Die harde skyf wat die firma se finansiële inligting bevat het, is beskadig.


Hy het daarop gewys dat mnr van Staden nie `n rekonstruksie van trust krediteure gedoen het nie.


Vanweë die gebrek aan dokumente het hy nie die gevalle van DA Smith, JM Dlamini en A Klein behandel nie.


In die geval van B.D Thusi was daar nie `n oorskot om die kliënt te betaal nie.


In die geval van A.M Barnard is dit nie korrek dat die POF twee betalings gemaak het nie. Die dokument genommer 1769 is nie `n kwitansie nie.


Dan het hy twintig gevalle behandel waar eise teen die Getrouheidswaarborgfonds (die Fonds) ingestel is. In elke geval het `n mev van Rensburg `n beëdigde verklaring gemaak waarin sy sê dat die kliënt geen geld ontvang het nie ofskoon die POF `n betaling aan die firma gemaak het. Hy het verwys na aanduidings dat betalings wel aan die kliënt gemaak is, soos nota’s op die lêer omslag, briewe wat betaling vergesel, tjek nommers ens. Hy het ontken dat hy en die tweede respondent die kliënte se geld gesteel het.


Benewens die twintig gevalle, almal gevalle wat deur sy prokureur in `n brief behandel is, het hy na drie soortgelyke gevalle verwys, naamlik die van L Reddy, E.L Steyn en P Khoza.


Ten aansien van die beweerde trust tekort het hy daarop gewys dat die laaste twee bedrae in die vyf geselekteerde trust posisies vermeld in paragraaf 8.76 van die funderende verklaring ook trust surplusse verteenwoordig. In die verband het hy verwys na die twee dokumente op pp 449 en 450 van volume drie.


Die verduideliking vir kortstondige oortrekkings van die trust rekening was as volg: die vier dames by die aktes afdeling het elkeen `n spesifieke trust rekening gebruik; `n kliënt kon bel om die nommer van `n rekening te kry vir `n betaling en kon dan die verkeerde trust rekening se nommer verkry het; of die kliënt het transaksies by verskillende dames, maar betaal alles net by een dame in. Die oorbetalings wat dan ontstaan het, is dan dadelik reggestel.


Laat in 2001 het die firma se rekenaar weens weerlig in duie gestort. Data op die hardeskyf is uitgewis en moes herkonstrueer word. Dit het ses maande geduur.


Die feit dat `n trust krediteure lys nie gedruk het nie, is te wyte aan die feit dat mev Steyn, die boekhoudster, weens `n familie krisis dit nie op 28 Februarie 2002 gedoen het nie. Daarna kon dit vanweë programmering nie terugwerkend gedoen word nie.


Hy het erken dat hy versuim het om `n verwysing na artikel 78(2A) op beleggingstate aan te bring. Nadat hy daarop attent gemaak is, het hy dit reggestel.


Hy het erken dat daar toonder tjeks uitgereik is. Die tjeks is deur mev Steyn onderteken. In sommige gevalle het kliënte dit gevra omdat hulle nie bank rekeninge gehad het nie. Een geval was dié van ene Gaspar. Hy het daarop gewys dat geeneen van die tjeks `n kontant tjek was nie.


Oorplasings van ronde bedrae van die trust rekenings na die besigheidsrekening het plaasgevind na die in duie storting van die rekenaar. Tydens die tydperk van rekonstruksie kon die presiese bedrae van oorplasings nie bereken word nie.


In die geval van Clark en Longo Aat het dit gegaan om `n foutiewe krediet van R50,00.

In die geval van De Wet en De Villiers gaan dit om een kwitansie wat foutiewelik twee keer gepos is. Sonder die oorspronklike rekords kan hy nie sê wat gebeur het nie.


Die posisie in verband met die rente aan die applikant verskuldig is dat die formule waarvolgens dit bereken is, verander het. Hy het sy ouditeur om advies genader en op sy advies die nodige bedrae aan hom betaal. Dit is uiteindelik deur sy ouditeur aan die applikant betaal.


Hy het laastens verwys na die strafsaak teen hom en die tweede respondent. Op 27 Junie 2003 het die landdros `n verdere uitstel aan die staat geweier. Daarna is die saak teruggetrek. Op 19 Maart 2004 moes hulle weer in die hof verskyn. Na uitstelle is die saak op 26 Julie 2004 van die rol geskrap. Daarna het hulle nie weer van die saak gehoor nie.


Die tweede respondent het verduidelik dat hy net gewerk het met derde party eise in die landdros hof. Hy het 6000 – 7000 lêers gehad. Hy het van verskeie ondersoekers gebruik gemaak en eise gekoop. Hulle is met `n standaard fooi vergoed.


Hy aanvaar dat die firma pro-aktiewe werwing van werk bedryf het, maar hy het dit nie so gesien nie. Hy was naïef. Dan was dit so dat ander prokureurs dieselfde gedoen het. Hy het verwys na `n paragraaf in die Satchwell verslag waarin gesê word dat werwing algemeen voorkom.

Mnr Cobus Wilken was een van sy ondersoekers. In September 2000 het hy hom aangestel as Administrateur, Nuwe Eise. In Augustus 2001 het hy hom gevra om te bedank nadat hy agtergekom het dat hy meer aandag aan sy eie eise bestee.


In September 2001 het mnr Wilken se opvolger, mnr Strydom, hom op sekere inligting attent gemaak. Hy het mnr Wilken gekonfronteer. Mnr Wilken het erken dat hy vals eise aan die firma verkoop het. Hy het hom gevra vir `n lys van sulke sake. Mnr Wilken het hom verseker dat die vervalsings net die laaste twee maande gedoen is. Mnr Wilken het hom ontwyk.


Omdat hy oortuig was van die firma se beperkte blootstelling het hy `n indemniteit aan die POF aangebied. Later het dit geblyk dat daar 138 valse eise was.


Hy het verduidelik hoe hy met die POF geskakel het.


Op 4 Maart 2002 was daar `n poging om sy kantoor uit te brand. Hy het `n klag van huisbraak en brandstigting teen mnr Wilken gelê. Niks het daarvan gekom nie omdat mnr Wilken oorlede is voor die saak afgehandel is.


Hy en die eerste respondent het op die ou einde hulle eie forensiese ondersoekers aangestel. Dit het daartoe gelei dat hulle 611 derde party eise teruggetrek het.


Ten aansien van mnr van Coller het hy daarop gewys dat hy bewus moes gewees het van sy verpligtinge. Hy het ontken dat hy hom ooit oorreed het om beëdigings in die afwesigheid van deponente te doen.


Hy het ontken dat hy mnr van Coller in 1998 ontmoet het. Hy het hom eers in 1999 ontmoet. Hy ontken dat hy mnr van Coller vir beëdigings betaal het.


In die repliserende verklaring word die punt gemaak dat albei respondente die blaam moet dra vir wat in die praktyk gebeur het.


Daar word beweer dat mnr van Staden die verrekening gestaak het weens `n tekort aan fondse. Wat hy ingesamel het het hy aan die Fonds oorgedra.


Die applikant het al die dokumente in sy besit aan die respondente beskikbaar gestel. Die applikant het nie beslag gelê op dit waarop die Skerpioene beslag gelê het nie. Die Skerpioene het later lêers beskikbaar gestel, maar daar is nog `n restant van dokumente in hulle besit.


Die twintig eise teen die Fonds wat die respondente se prokureur behandel het, is behandel. In die geval van 14 van hulle is daar beweer dat die eise nie uitbetaal is nie en dus nie relevant is nie. Waar die eerste respondent beweer dat skikkings met die kliënt aangegaan is of tjeks getrek is, was die bewering dat dit nie bewys dat die kliënt betaal is nie.

Ook in die gevalle van Reddy en Steyn, wat addisioneel tot die 20 gevalle deur die eerste verweerder genoem is, is die eise nie uitbetaal nie.


Die prosedure wat die fonds gebruik het om die eise te verifieer is beskryf. Daar word daarop gewys dat die respondente die geleentheid gebied is om insette te maak en dat hulle geen samewerking verleen het nie.


Die bewering word gemaak dat `n sogenaamde afgeleide trust tekort van R2 093 785,56 bewys is op grond van die feit dat die Fonds in totaal eise ter waarde van R3 193 401,43 uitbetaal het en net R1 099 616,87 van mnr van Staden ontvang het. In totaal is 135 eise uitbetaal. Daar word betoog dat almal nie verkeerdelik uitbetaal kon gewees het nie. Die punt word gemaak dat die eise wat uitbetaal is toeëiening bewys. Die eise direkteur van die Fonds, mnr du Plessis, het in `n afsonderlike beëdigde verklaring die bewerings wat die Fonds raak, bevestig.


Daar word voorts in die hoof repliserende verklaring aanvaar dat mnr van Rooyen in sy vyf geselekteerde trust posisies surplusse in al vyf gevalle gevind het, of moes gevind het, maar die punt word gemaak dat trust surplusse ook nie aanvaarbaar is nie.


Ten aansien van die verduidelikings oor die toonder tjeks en die trust krediteure lys word daar beweer dat die eerste respondent toesig oor mev Steyn moes gehou het.


Wat betref die oorplasings van ronde bedrae, word daarop gewys dat dit al plaasgevind het van 30 Augustus 2000 en nie net in 2001 nie.


Ten aansien van die tweede respondent se verklaring word die punt gemaak dat die respondente nie verantwoordelikheid vir mnr Wilken se optrede kan vermy nie. Hulle moes toesig oor hulle personeel gehou het. Hulle het regswerk pro-aktief gewerf, hulle het regswerk aan `n ongekwalifiserende persoon toevertrou, hulle het nie behoorlike toesig gehou nie, en hulle het hulle fooie met `n nie-praktisyn gedeel.


Die punt word gemaak dat die respondente te blameer is vir die wanpraktyke deur mnr van Coller gepleeg.


Dit is duidelik dat daar feite geskille op die stukke is. Wat dit betref moet die benadering uiteengesit in Plascon-Evans Paints Ltd v Van Riebeek Paints (Pty) Ltd 1984(3) SA 623 op 634 E-I toegepas word. Sien Prokureursorde van Transvaal v Kleynhans 1995(1) SA 839 T op 852 H-I.


Ofskoon die praktyk van die respondente in twee gedeel is, selfs in twee geboue versprei was, is dit korrek dat elkeen van die twee vennote, tweeling broers, verantwoordelikheid moet aanvaar vir wat in die ander vennoot se afdeling gebeur het. Die respondente het self nie in hulle beëdigde verklarings beweer dat dit anders moet wees nie.


Daar is drie aangeleenthede wat ter sprake is by die vraag of die respondente van die rol geskrap moet word:

(a) hulle rekenkundige oortredings;

(b) die wanpraktyke rondom die derde party praktyk en

(c) die beweerde trust tekort.


Die rekenkundige oortredings word meesal verduidelik op `n wyse wat die optrede van die respondent nie verontskuldig nie, maar tog in `n beter lig stel. In `n paar gevalle het die respondente aangedui dat hulle weens `n gebrek aan inligting nie behoorlik kon antwoord nie. In een geval is daar egter geen antwoord nie. Dit gaan oor die gebruik van die rekening onder die naam Third Party Malan & Malan. Mnr van Rooyen beweer dat hy die rekening bespreek het met die tweede respondent na aanleiding van die geval van SP Apple. Die tweede respondent het vir hom verduidelik dat die rekening van 7 Augustus 1998 gebruik is en dat dit gebruik is om uitgawes ten aansien van die konsultante (die werwers) polisie verslae, mediese verslae en mediese praktisyn te betaal. Volgens hom was die gebruik van die rekening hoogs onreëlmatig omdat dit gebruik is vir algemene regstellings, sluitingsoordragte na POF lêers, uitbetalings aan mediese praktisyns, trust oorplasings van en na besigheid en uitbetalings aan konsultante. Hy voeg by dat die rekening by verskeie geleenthede tussen Maart 1999 tot April 2002 in debiet was. Daar word beweer dat die wyse waarop die rekening gebruik is as `n algemene rekening waarna en waarvandaan fondse na willekeur oorgeplaas is, neergekom het op `n vermenging van besigheid en trust geld en dat dit hoogs onreëlmatig was. Daardeur is Reëls 69.3 en 68.6.1 oortree.

Dit was gemene saak dat die derde party praktyk omgewe was van wanpraktyke. Wat betref die bedrog deur mnr Wilken gepleeg, moet die respondente se weergawe dat hulle nie daarvan bewus was nie, aanvaar word. Wat natuurlik relevant is, is dat hulle dit vir mnr Wilken moontlik gemaak het om onder hulle vaandel te vaar en dat hulle nie behoorlike toesig oor hom gehou het nie.


Vir die beweerde trust tekort moet die applikant steun op die bewerings in die repliserende verklaring dat daar `n afgeleide tekort is vanweë die verskil tussen die bedrae deur die Fonds uitbetaal en die bedrae deur mnr van Staden geïn.


Die trust posisies deur mnr van Rooyen bepaal bewys, soos deur die applikant toegegee, nie trust tekorte nie, maar inderdaad trust surplusse. Na my mening behoort die hof nie die getuienis ten aansien van die afgeleide trust tekort te aanvaar nie. In die eerste plek, is dit vir die eerste maal in die repliserende verklaring aangebied. Dan is dit so dat dit uiteindelik op hoorsê getuienis berus: naamlik bewerings van of namens kliënte dat hulle geen uitbetalings ontvang het nadat betalings ten opsigte van hulle eise deur die POF aan die respondente se firma gemaak is. Daar is geen basis gelê vir die aanvaarding van hierdie getuienis ingevolge die Wysigingswet op Bewyslewering, 1988 (Wet 45 van 1988) nie.


Daar is geen twyfel dat die respondente hulle skuldig gemaak het aan wangedrag soos hierbo uiteengesit, wat insluit die bedryf van `n aparte rekening om werwers te betaal.


Mnr de Koning wat met me Veldsman namens die respondente verskyn het, het betoog dat die respondente hulle nie aan oortredings wat oneerlikheid behels het, skuldig gemaak het nie. Hy het verwys na Law Society, Cape of Good Hope v Berrangé 2005 (5) 160 K 160 waar die hof `n prokureur wat aan werk werwing skuldig bevind is vir twee jaar geskors het. Hy het betoog dat die respondente reeds vir vier jaar en sewe maande geskors is en as’t ware reeds hulle straf weg het. Die hof is ook verwys na Law Society of the Nothern Provinces v Summerley 2006(5) SA 613 SCA en daar is betoog dat die uiterste straf vir oortredings wat oneerlikheid behels, gereserveer moet word. Hy het egter aangedui dat dit nie onvanpas sou wees as hierdie hof `n verdere skorsing vir `n beperkte periode oplê nie.


Die saak van Berrangé is na my mening `n minder ernstige geval as hierdie. Daar het `n prokureur ooreenkomste met eiendomsagente gehad dat hulle oordragte van eiendom na hom sou kanaliseer. Die werk is dan deur aktevervaardigers verrig.


Hierdie geval is meer vergelykbaar met Cirota and Another v Law Society Transvaal 1979 (1) SA 1979 (171) AA. Dit was ook `n geval waar derde partye werk op`n groot skaal gewerf is. Dan was daar boekhoukundige oortredings sonder dat daar bevind is dat daar `n trust tekort was. Die hof het die kombinasie van oortredings as ernstig genoeg beskou om `n skrapping te regverdig.


Hierdie geval is in `n belangrike opsig erger. In Cirota se geval was daar nie sprake daarvan dat kliënte benadeel is en dat hulle nie behoorlike professionele diens gekry het nie.


In hierdie geval het die respondente `n ongekwalifiseerde persoon aangestel om regswerk te verrig. Hulle het ook hulle fooie met daardie persoon gedeel (dit is`n bewering wat nooit deur die respondente aangespreek is nie). Hulle het geen behoorlike toesig oor die ongekwalifiseerde persoon gehou nie met die gevolg dat 138 eise wat verskillende grade van vervalsing bevat, aan die lig gekom het. Die feit dat die respondente na hulle eie ondersoek 611 eise teruggetrek het, wys dat die omvang van die wanpraktyke groter was as deur mnr van Dyk bevind. Dit alles wys wat die skade is wat die optrede van die respondente aan kliënte aangerig het en wat die risiko was waaraan die POF blootgestel was.


Die Reël van die applikant teen pro aktiewe werwing is duidelik. Cirota se saak was algemene kennis. Dit is onmoontlik om te glo wat die tweede respondent sê naamlik dat hy dit nie indertyd ingesien het dat wat hy gedoen het, verkeerd was nie. In die Satchwell verslag waarna hy verwys, word juis die punt gemaak dat die eis werwers van die groot bronne is van bedrieglike derde party eise.


Daar was `n poging van die respondente om hulle werwing van eise te verskoon deur te verwys na ander firmas wat dieselfde doen. Dit is hoe morele waardes verval: wanneer mense wat oortree hulle daarop beroep dat ander mense dieselfde doen.


Die respondente het duidelike voorskrifte oor werwing getrotseer en hulle het dit gedoen vir gewin. Dit alles is aanduidend van `n ingesteldheid teenoor neergelegde norme en waardes wat onheilspellend is.


Daar is geen aanduiding van `n behoorlike besef by die respondente van die erns van die oortredings wat hulle begaan het nie.


By `n oorweging van al die omstandighede is ek van oordeel dat die wangedrag waaraan die respondente hulle skuldig gemaak het van so `n ernstige aard is dat dit hulle skrapping van die rol regverdig.


Summerley se saak beklemtoon dit dat elke geval op sy eie meriete behandel moet word. Sien 62 A-B.


Mnr Lamey wat namens die applikant verskyn het, het `n konsep bevel ingehandig wat die situasie dek as die hof sou besluit om die respondente te skrap. Die bevel vra ook dat die koste van die uitstelle op 10 September 2002, 27 Junie 2003, 24 September 2004 en 13 Maart 2006 deur die respondente betaal moet word. Dit blyk dat daar wel `n koste bevel op 27 Junie 2003 gemaak is.

10 September 2004 was die dag toe die saak die eerste keer voor die hof gedien het en die respondente geskors is. Mnr de Koning het betoog dat die saak by wyse van dringendheid voor die hof gebring is en dat die dringendheid berus het op die foutiewe bewering dat daar `n trust tekort was. Na my mening was dit noodwendig dat die respondente geskors moes word. Hulle is dus aanspreeklik vir die koste van die eerste verskyning.


Op 14 September 2004 is die saak uitgestel om die respondente in staat te stel om hulle antwoordende verklarings te liasseer en om die applikant in staat te stel om op die respondente se Reël 35(12) kennisgewing te antwoord. Die respondente beweer dat daar na die beëdigde verklaring in antwoord op die Reël 35(12) kennisgewing nog verdere dokumente aan hulle verskaf is. Die bewering moet aanvaar word. Die respondente se aansoek om uitstel is gedateer 13 September 2004. Dit is voorafgegaan deur `n skrywe gedateer 6 September 2004 waarin `n uitstel gevra is en die redes daarvoor uiteengesit is. As die applikant daartoe ingestem het, kon die koste van die verskyning op 14 September 2004 vermy gewees het. Om daardie rede behoort die applikant die koste verbonde aan die uitstel op 14 September 2004 te betaal.


Die uitstel op 13 Maart 2003 is veroorsaak deur die feit dat die respondente `n aansoek wou bring vir kondonasie van die laat liassering van hulle antwoordende verklarings. So `n aansoek is nooit geliasseer nie. Onder die omstandighede behoort die respondente die koste van hierdie uitstel te betaal.

Onderhewig aan wat ek hierbo gesê, sal ek mnr Lamey se konsep as model gebruik.


Gevolglik word `n bevel verleen:

1.1 dat die naam van die eerste respondent van die rol van prokureurs, transportbesorgers en notarisse en die naam van die tweede respondent van die rol van prokureur en transportbesorgers van hierdie Agbare Hof geskrap word;

1.2 dat die regshulp uiteengesit in paragrawe 1.1 tot en met 1.10 van die hofbevel gedateer 10 September 2002 van krag bly;

1.3 dat die respondente beveel word om:

1.3.1 die koste verbonde aan die ondersoek van hulle rekenkundige aantekeninge, en `n geskrewe verslag daaraangaande, ingevolge artikel 78(5) van Wet No 53 van 1979 te betaal;

1.3.2 die redelike gelde en uitgawes van die kurator te betaal;

1.3.3 die redelike gelde en uitgawes van enige persoon of persone wat deur die kurator soos vermeld gekonsulteer of aangestel is, te betaal;

1.3.4 die koste van hierdie aansoek asook die koste in verband met die verskynings op 10 September 2002 en 13 Maart 2006 op die skaal soos tussen prokureur en kliënt te betaal.

1.4 dat die applikant die koste verbonde aan die uitstel op 14 September 2004 betaal op die skaal soos tussen party en party.




_______________________

C. BOTHA

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF.


Ek stem saam




________________________________

J.R MURPHY

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF


DATUM AANGEHOOR: 14 Mei 2007

VIR DIE APPLIKANT: MNR LAMEY

IN OPDRAG VAN: ROOTH & WESSELS INC

VIR DIE RESPONDENTE: ADV DE KONING

ADV VELDSMAN

IN OPDRAG VAN: BUITENDAG’S PROKUREURS