South Africa: High Courts - Gauteng Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Courts - Gauteng >> 2007 >> [2007] ZAGPHC 73

| Noteup | LawCite

S v Moloi (A389/2007) [2007] ZAGPHC 73 (6 June 2007)

Download original files

PDF format

RTF format


Nie rapporteerbaar


1IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID AFRIKA


(TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)


Saak nommer: A389/2007

Datum: 6 June 2007







In die saak tussen:


VUSI MUSIE MOLOI Appellant

en


DIE STAAT Respondent



UITSPRAAK

______________________________________________________________


PRETORIUS R,

Hierdie is ‘n appel teen die weiering van borg vir die appellant deur die agbare Landdros. Hierdie hof moet in terme van artikel 65(4) van die Strafproseswet oortuig wees dat die besluit van die landdros verkeerd was om borg te weier.


Die appellant is reeds op 26 of 26 Julie 2006 arresteer op ‘n klagte van roof met verswarende omstandighede. Die roof is gepleeg te Eerste Nasionale Bank, Brooklyn waar R1678649.00 geroof is, ‘n verdere klagte van roof van vuurwapens en selfone van die veiligheidswagte by genoemde bank is bygevoeg.


In die eerste borgaansoek op 10 Augustus 2006 het die appellant sy persoonlike omstandighede as volg voorgehou in ‘n beëdigde verklaring:

Die meenthuis is aangekoop vir ‘n bedrag van R680 000.00 en ek betaal ‘n bedrag van R6 000.00 per maand terug op die verband. Ek was voor dit woonagtig in ‘n ander meenthuis in dieselfde straat en voorstad vir ‘n tydperk van 2 jaar.

Ek is ‘n taxi eienaar en besit drie taxi’s met ‘n waarde van ongeveer R90 000.00. Ek verdien ongeveer R12 000.00 tot R15 000.00 per maand uit die taxi’s. Ek is ook die eienaar van TVM Trucking. Ek bedryf die vervoer besigheid self en my inkomste is ongeveer R40 000.00 per maand. Sedert my aanhouding het my inkomste ongeveer 80 persent gedaal omdat ek nie meer daar is om die kontrakte aan te gaan en toe te sien dat die voertuie loop nie. Die voertuie is ongeveer R300 000.00 werd.

Alhoewel ek nie getroud is nie het ek twee kinders met ouderdomme 5 en 13 jaar. Ek betaal R1 500.00 per maand aan kleuterskool uitgawes vir die jongste een en R4 500.00 per maand aan skoolgeld vir die privaatskool waarin die oudste kind is. Ek onderhou ook die moeders van my kinders.

My ouers is beide afgetree en is woonagtig te Hlisostraat 2388 Orlando Oos, Soweto vir ongeveer 40 jaar. Ek het ook by die adres grootgeword. Ek onderhou ook op die stadium beide my ouers.

Ek bevestig dat ek geen vorige veroordelings het nie. Ek is ook nie uit op borgtog in ander sake nie. Ek besit ‘n paspoort, maar dit is in Kemp se besit.”


Die staat het ‘n beëdigde verklaring van sersant Kalis ingehandig om die borgaansoek teen te staan op grond daarvan dat daar ‘n artikel 204 getuie te wete Phillip Lekgau teen die appellant en sy mede-beskuldigdes sal getuig.


Daar is ook staat gemaak op ‘n verklaring van Faith Mthimkulu wat die volgende ten opsigte van die appellant verklaar:

My defence in the matter will be that I was requested by a boyfriend of mine, some time last year to do a soft lock on a cell number provided by him. I carried out the request... His name is Torris, I am unable to point him out to the investigation officer.”


Verder is die hof a quo meegedeel dat daar verskeie ander sake teen die beskuldigdes is en dat die appellant en sy mede-beskuldigdes as ‘n bende opgetree het. Verder het hy beweer dat die uitslae van DNA-toetse afgewag word. Die hof het bevind dat daar nie buitegewone omstandighede is nie, dat daar slegs bespiegelings was dat Phillip Lekgau nie sou getuig nie en het derhalwe borg geweier.


Op 14 Februarie 2007 word ‘n verdere borgaansoek geloods op nuwe feite voor landdros Johnson. Die nuwe feite wat aan die hof voorgehou is, is vervat in ‘n beëdigde verklaring van die appellant. Die nuwe feit is dat die artikel 204 getuie, Phillip Lekgau, nie meer gaan getuig teen die appellant en sy mede beskuldigdes nie. Die verdere getuie, Henry Waldeck, wat appellant met die misdryf sou verbind , se getuienis verbind nie die appellant op hierdie klagte nie. Die staat het weer gesteun op ‘n verklaring van sersant Kalis waarin hy onder andere as volg beweer:

Dat D P Lekgau wat voorheen 204 staatsgetuie was nie meer namens die staat wil getuig nie, nadat ‘n ander regs span hom genader het en hom oortuig het om nie meer vir die staat te getuig nie. Dit het egter gebeur nadat die applikant voor die hof, se borg geweier is. D P Lekgau het egter die applikant as ‘n prominente rolspeler in die pleging van die misdryf uitgemaak. Die staat erken ook dat ‘n ander 204 staatsgetuie Henry Waldeck nie vir die applikant in sy verklaring impliseer nie. Dit is egter nie een van die redes hoekom sy borg voorheen geopponeer is nie.”


Sersant Kalis meld dan ook dat appellant verbind word met ander sake te Germiston en Mtubatuba.


Die agbare landdros weerspreek homself in die uitspraak waar hy die volgende sê:

Die hof sal in die beskuldigde se guns in aanmerking neem teenstrydig met wat die aanklaer betoog het dat daar nie selfoon rekords is wat hom met hierdie misdrywe verbind nie maar daar is ander feite wat belangrik is.”


Haar getuienis word blykbaar gestaaf deur selfoon rekords wat bekom is wat die beskuldigde met die misdaad verbind. Die hof is van oordeel dat in die lig van die feite dat dit nie in belang van geregtigheid is dat hy op borg vrygelaat word nie.


In St v Barber 1979(4) SA 218 (D & CLD) op 219 H bevind Hefer R as volg:

It thus appears that, altough the Court is generally disposed to grant bail and will even lean in favour of the liberty of the subject, there is always the important condition that it is to be clear that the interests of justice will not be prejudiced thereby.”


Artikel 60(11)(a) van die Strafproseswet 51 van 1977 bepaal:

Ondanks enige bepalinge van hierdie Wet, waar ‘n beskuldigde aangekla word van ‘n misdryf bedoel-

(a) in Bylae 6, moet die hof gelas dat die beskuldigde in bewaring aangehou word totdat daar met hom of haar ooreenkomstig die reg gehandel is, tensy die beskuldigde, nadat hy of sy ‘n redelike geleentheid daartoe gebied is om dit te doen, getuienis aanbied wat die hof oortuig dat daar buitegewone omstandighede bestaan wat sy of haar vrylating in die belang van geregtigheid veroorloof;”


Dit is duidelik dat die getuienis van die artikel 204 getuie die belangrikste faktor, indien nie die enigste faktor was in die eerste borgaansoek vir die agbare landdros om borg te weier vir die appellant.


Die nuwe feit wat die verdediging voor die hof geplaas het, is dat die getuie nie meer gaan getuig nie en die staat dus nie kan staatmaak dat hy die appellant impliseer nie.


Hierdie hof moet ‘n waarde-oordeel maak om vas te stel of die bewese omstandighede van so ‘n aard is, dat dit as buitegewoon aangemerk kan word. Sien S v Botha en ‘n ander 2002(1) SACR 222 HHA waar Vivier WnAHR op p 230 g-h bevind:

“Na my mening sou bewys deur ‘n beskuldigde dat hy waarskynlik onskuldig bevind sal word, wel as ‘buitegewon omstandighede’ kon dien.”


Die getuienis teen appellant is slegs die van Me Mtimkulu wat moontlik as mede-beskuldigde sal getuig dat appellant aan haar nommers gegee het om te sluit ten tye van die roof. Dit is die getuienis wat die geleerde landdros bevind het nie bestaan nie. Die staat gee toe dat geen selfoonrekords beskikbaar is op hierdie stadium nie.


Dit is duidelik uit die geleerde landdros se uitspraak dat hy borg geweier het op grond van die saak wat in Germiston uitstaande is en ‘n lasbrief van Mtubatuba wat sedert 2006 nog nie uitgevoer is nie.


Die getuienis van die mede-beskuldigde val weg en die landdros aanvaar dat die selfoon rekords die appellant nie verbind nie.


Die hof moet dus oordeel of daar buitengewone omstandighede is, in die lig daarvan dat daar tans baie min getuienis is wat die appellant met die misdaad verbind.


In Porthen and Others 2004(2) SACR 242(C) het die hof op p249 par 15 bevind:

“Accordingly, in a case like the present where the magistrate refused bail because he found that the appellants had not discharged the onus on them in terms of s 60(11)(a) of the CPA, if this Court, on its assessment of the evidence, comes to the conclusion that the applicants for bail did discharge the burden of proof, it must follow (i) that the lower court’s decision was ‘wrong’ within the meaning of s 65(4) and (ii) that this Court can substitute its own decision in the matter.”


Tydens argument het me van Basten namens die staat voorgehou dat DNA-toetse moontlik ‘n rol kan speel. Hierdie toetse is al in Julie of Augustus 2006 aangevra en die uitslag is steeds nie bekend nie.


In die lig van die getuienis tans beskikbaar is die saak teen appellant van so ‘n aard dat die staat moeilik sy betrokkenheid by die voorval sal kan bewys.


Ek is van oordeel dat die appellant buitegewone omstandighede bewys het, deurdat hy bewys het die artikel 204 getuie gaan nie meer getuig nie en deurdat die landdros bevind het dat die selfoonrekords hom tans nie met die misdaad verbind nie.

Ek maak derhalwe die volgende bevel:


  1. Borg word aan die appellant toegestaan in die bedrag van R20 000.00 op voorwaarde dat:-

    1. Die appellant twee keer ‘n dag, dit wil sê tussen 07:00 en 08:00 soggens en 17:00 en 18:00 saans by die Sandton polisie stasie aanmeld;

    2. Die appellant mag geensins op enige wyse met enige staatsgetuie kontak maak nie;

    3. Die appellant mag nie Gauteng verlaat sonder skriftelike toestemming van die ondersoekbeampte nie;

    4. Die appellant moet sy paspoort aan die ondersoek beampte oorhandig.



______________________

Regter Pretorius


Saak nommer : A389/2007

Gehoor op :

Vir die Appellant : Adv Potgieter

Opdrag deur : Groenewalt Prokureurs

Vir die Respondent : Adv van Basten

Opdrag deur : Direkteur van openbare vervolging

Datum van Uitspraak :