South Africa: High Courts - Gauteng Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Courts - Gauteng >> 2008 >> [2008] ZAGPHC 140

| Noteup | LawCite

S v De Clercq en Andere (CC247/2006) [2008] ZAGPHC 140 (7 May 2008)

Download original files

PDF format

RTF format


Gelewer: 7 Mei 2008 /bh


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)


Saak nommer: CC247/2006



In die saak tussen:


DIE STAAT


VERSUS


GERHARDUS ANTONIA PETRUS DE CLERCQ BESKULDIGDE 1

JOHAN PIETER MYBURGH BESKULDIGDE 2

CHARLES MOORE EDWARDS BESKULDIGDE 3


UITSPRAAK

VAN DER MERWE, R



In hierdie uitspraak sal na mnr. Gerhardus Antonia Petrus De Clercq verwys word as beskuldigde 1, na mnr. Johan Pieter Myburgh as beskuldigde 2 en mnr. Charles Moore Edwards as beskuldigde 3. Voordat hierdie verhoor ’n aanvang geneem het op 28 Januarie 2008 is beskuldigde 2 gedurende Desember 2007 oorlede. Die verhoor het gevolglik net teen beskuldigde 1 en beskuldigde 3 voortgegaan. Beskuldigde 1 staan tereg op 12 aanklagte en beskuldigde 3 op 13 aanklagte. Beskuldigde 2 was ook ten opsigte van al 13 aanklagte aangekla. Die aanklagte is:


1. Een aanklag van oortreding van artikel 424(3) van Wet 61 van 1973 (roekelose bestuur van maatskappy).


2. Een aanklag van oortreding van artikel 38(3)(a) soos gelees met artikels 38(1) en (2) en artikel 441(1)(e) van Wet 61 van 1973. (Slegs ten opsigte van beskuldigde 3.)


3. Een aanklag van diefstal.


4. Tien aanklagte van bedrog.


Beskuldigde 1 is regsverteenwoordig deur adv. J G Cilliers, S C en beskuldigde 3 deur adv. T W Beckerling, S C en adv. E du Toit.


Beide beskuldigdes 1 en 3 het onskuldig gepleit op al die aanklagte wat hulle ten laste gelê is. Beskuldigde 1 het ’n pleitverduideliking verskaf, die inhoud waarvan nie nou ter sake is nie. Beskuldigde 3 het van sy swygreg gebruik gemaak.


Beskuldigde 1 is op 1 Julie 1998 by Saambou Bank Beperk (SB) aangestel as Bestuurder: Groepsfinansies, en vanaf 1 April 1999 as Hoof: Groepsfinansies, tot 1 Februarie 2001 toe hy verplaas is na die afdeling: Strategiese Alliansies. Beskuldigde 2 was ter alle relevante tye ’n Uitvoerende Direkteur van Saambou Beherend Beperk (SH) en SB asook die Hoof Uitvoerende Beampte van beide instellings. Beskuldigde 3 is op 1 Mei 1991 aangestel as Hoof Bestuurder: Finansies by SB. Vanaf 1 April 1993 is hy bevorder tot Senior Hoof Bestuurder en het van tyd tot tyd verskillende verantwoordelikhede in SB gedra. Hy was te alle relevante tye ’n Uitvoerende Direkteur van SH en SB.


SH is ’n publieke maatskappy en in terme van die bepalings van die Bankwet, 94 van 1990 (die Bankwet) geregistreer as ‘n beherende maatskappy ten opsigte van ’n bank. SB op sy beurt is ook ’n publieke maatskappy wat ingevolge die Bankwet as ’n bank geregistreer is.


Weens redes wat later hierin bespreek sal word het die Minister van Finansies, op aanbeveling van die Registrateur van Banke (registrateur) en met instemming van die voorsitter van die Raad van Direkteure van SB, ’n kurator oor SB aangestel op 9 Februarie 2002.


Die aangestelde kurator, mnr. T J Louw (Louw), ’n Direkteur van KPMG Inc., ’n firma van geoktrooieerde rekenmeesters (KPMG), het sekere bedrywighede en transaksies geïdentifiseer wat verdere ondersoek regverdig en dienooreenkomstig aan die registrateur rapporteer.


Volgens ’n verslag (bewysstuk 9) en die getuienis van ’n forensiese rekenmeester van KPMG, mnr. Johan van der Walt (Van der Walt), is die aspekte wat Louw onder die aandag van die registrateur gebring het en wat verdere ondersoek sou regverdig, die volgende:


1. ’n Sogenaamde aandele-aansporingsskema wat deur SB gedurende 1993 geïmplementeer is;


2. ’n Aandele-leningsskema wat uit die gemelde aandele-aansporingsskema voortgevloei het;


3. ’n Sogenaamde skim aandeleskema;


4. ’n Verdere aandele-aansporingsskema wat uit die skim aandeleskema voortgevloei het; en

5. Sekondêre kapitaal transaksies van SB gedurende 1998 en 1999.

Op 7 Maart 2002 is ’n sekere Herman de Beer (De Beer) van KPMG as inspekteur aangestel in terme van die bepalings van artikel 6 van die Bankwet soos gelees met artikel 2 van die Wet op Inspeksie van Finansiële Instellings, 80 van 1998 (die Finansiële Instellingswet).


Dit blyk uit Van der Walt se verslag dat behoudens die aspekte wat Louw van mening was ondersoek moes word, De Beer dit verder nodig gevind het om ook ondersoek te doen na ’n sogenaamde aandele beskermingsmeganisme wat ’n integrale deel van die 1998 sekondêre kapitaal transaksie uitgemaak het, die 1999 primêre kapitaal transaksie wat deel uitgemaak het van die 1999 sekondêre kapitaal transaksie sowel as ’n belegging van R24,7 miljoen wat Primevest Holdings (Pty) Ltd (PVH) gedurende 1999 gemaak het in sekere SH voorkeur aandele. Volgens Van der Walt was De Beer deur die registrateur opgedra om spesifieke ondersoeke te doen ten opsigte van die aspekte na verwys. Die omvang van De Beer se opdrag vanaf die registrateur blyk uit bewysstuk 54. Dit is nie nodig dat ek in meer detail daarna verwys nie.


In terme van die Finansiële Instellingswet is die ondersoek van die inspekteur (De Beer) en sy verslag geheim en kan die inhoud daarvan net onder sekere omstandighede bekend gemaak word. De Beer se verslag is aan die verdedigingsadvokate beskikbaar gestel en gedeeltes daarvan is in kruisverhoor gebruik sommige waarvan ingehandig was as bewysstukke. Die verslag is nie aan die hof beskikbaar gestel nie.


De Beer se verslag is onder die aandag van die nasionale vervolgingsgesag (NV) gebring wat op sy beurt op 22 September 2004 vir KPMG aangestel het om die Direkteur van Spesiale Operasies (DSO) by te staan in ’n ondersoek na sekere transaksies wat plaasgevind het in SH en SB. Van der Walt is saam met D Friedman en C Hoffmann op 18 November 2004 aangestel om die DSO by te staan in ’n ondersoek na sekere oortredings met betrekking tot spesifieke transaksies van SH en SB. Onder andere moes die volgende ondersoek word:


6. Insider trading in contravention of Section 2 of the Insider Trading Act, 135 of 1998 in that senior executives of the Bank sold shares held in Saambou Holdings Limited on the strength of price sensitive information at their disposal; and


7. Share price manipulation in contravention of Section 40 of the Stock Exchanges Control Act, 1 of 1985, as amended;” (Vergelyk bewysstuk 60.)


Hierdie twee aspekte vind direk en indirek ook weerklank in die opdrag van De Beer soos blyk uit bewysstuk 54.


Soos uit die voorgaande blyk was die ondersoek deur De Beer reeds afgehandel en sy verslag beskikbaar toe die verdere opdrag deur die NV aan KPMG gegee is en wat deur Van der Walt uitgevoer is. Ten opsigte van die prosedures wat Van der Walt gevolg het asook sy benadering sê hy die volgende in vol 1 van sy verslag op bladsye 10 en 11 daarvan (bewysstuk 9):


The reports together with the support, generated by Herman de Beer in his capacity as inspector were at our disposal and available to us following our appointment by the Directorate of Special Operations. In order to avoid duplication of work and to carry out the investigations required by the Directorate of Special Operations we used those as a basis for completion of the work required in this part of the investigation.


It is evident in the approach adopted by Herman de Beer as inspector that he was required to consider oral evidence obtained during the inquiries. For purposes of this report we excluded reference to any oral evidence. The contents of the reports generated by Herman de Beer were considered by us insofar as it concerns reliance on documentary evidence collated by him.


We proceeded to, as far as possible, extract the original documents of the copies on which Herman de Beer relied on from the relevant parties who had access to and were the original custodians of such documents.


As part of our mandate with the Directorate of Special Operations we were also requested to assist during Section 28 enquiries conducted under the control and guidance of the Directorate of Special Operations. As part of the enquiries, documents were handed in by the respective witnesses. These were also considered by us for purposes of completing this investigation as mandated by the Directorate of Special Operations.


Furthermore, documents were seized by the Directorate of Special Operations during official search and seizure proceedings. The searches were carried out at various venues and the documents so obtained were also considered by us for completing this investigation.”


Daar sal later gehandel word met die wyse waarop Van der Walt omgegaan het met De Beer se verslag. Van der Walt was teenwoordig tydens die sogenaamde artikel 28 ondervraging na verwys, naamlik ’n ondervraging in terme van artikel 28 van Wet 32 van 1998, die Wet op Nasionale Vervolgingsgesag (Vervolgingsgesagswet). Veel debat is ook gevoer rondom die dokumente waarop beslag gelê is ingevolge lasbriewe, dokumente wat verkry is by die artikel 28 ondersoek of as gevolg van die gemelde ondersoek. Vir huidige doeleindes is dit nie nodig om verdere aandag aan daardie debat te gee nie.


Van der Walt het in sy verslag die volgende bedrywighede van SH en SB ondersoek en oor verslag gedoen:

1. Aandele-aansporingsskemas wat bestaan uit:


1.1 die aandele-leningsskema;

1.2 die skim aandeleskema;

1.3 die aandele-aansporingsskema. (Met hierdie skemas word gehandel in volume 2 van die verslag.)

2. Die 1998 sekondêre kapitaal transaksie wat insluit die openbaarmaking van die skema in die finansiële jaarstate van SH en SB en die effek van die transaksie. (Vergelyk volume 3 van Van der Walt se verslag.)


3. Die 1999 primêre kapitaal transaksie wat insluit die openbaarmaking van die skema in die finansiële jaarstate van SH en SB en die effek van die transaksie. (Vergelyk vol 4 van Van der Walt se verslag.)


4. Die 1999 sekondêre kapitaal transaksie wat insluit die befondsing daarvan asook die openbaarmaking daarvan in die finansiële jaarstate van SH en SB. (Vergelyk vol 5 van Van der Walt se verslag.)


5. Die belegging van SB in PVH. (Vergelyk vol 6 van Van der Walt se verslag.)


6. Die effek en implikasies van die onderskeie transaksies insluitend die leningsrekening van SH in SB. (Vergelyk vol 7 van Van der Walt se verslag.)


Van der Walt is deur die Staat as ’n sleutel getuie geroep en het die totaal van sy verslag bestaande uit die sewe volumes reeds na verwys in die oorkonde in gelees as deel van sy getuienis in hoof.


In die algemeen oor Van der Walt se getuienis kan gesê word dat in die proses van ondersoek en verslagdoening Van der Walt die onderskeie skemas en transaksies volgens hom in diepte ondersoek en in besonder daarop gekonsentreer het om dokumentêre stawing vir feitelike bewerings in sy verslag te bekom. Sogenaamde hoorsê getuienis – volgens Van der Walt dit wat deur getuies gesê is aan De Beer, aan homself en wat hy by die artikel 28 ondervraging hierbo na verwys gehoor het - het hy buite rekening gelaat in sy verslag. Uit sy verslag blyk dit dan ook dat Van der Walt die skemas en transaksies in hulle onderskeie samestellende komponente gedissekteer het en ’n mening oor elkeen van die komponente gegee het.


Later in hierdie uitspraak sal in meer detail na Van der Walt se getuienis en sy verslag verwys word.


Buiten Van der Walt het die Staat nog 21 ander getuies geroep en etlike duisende bladsye bewysstukke ingedien. Daar sal mettertyd na die getuienis en relevante bewysstukke verwys word.


Aan die einde van die Staat se saak is aansoeke om ontslag in terme van die bepalings van artikel 174 van Wet 51 van 1977 namens beide beskuldigdes 1 en 3 gebring.


Artikel 174 lui soos volg:


Indien die hof, by afsluiting van die saak vir die vervolging by ’n verhoor, van oordeel is dat daar geen getuienis is dat die beskuldigde die in die aanklag bedoelde misdryf of ’n misdryf waaraan hy op die aanklag skuldig bevind kan word, gepleeg het nie, kan hy ’n uitspraak van onskuldig lewer.”


Die bepalings van hierdie artikel het oor vele jare aanleiding gegee tot ’n groot aantal uitsprake van howe en debatte deur akademici. ’n Bepaling in artikel 174 van die gemelde wet waaroor daar nie verskil word nie is dat die verwysing na “geen getuienis” beteken geen getuienis op grond waarvan ’n redelike mens sou kan skuldig bevind. (“A reasonable man might convict.”) Vergelyk S v Heller (2) 1964 1 SA 534 W; R v Herholdt 1956 (2) SA 722 W; S v Bouwer 1964 (3) SA 800 (O) en S v Khanyapa 1979 (1) SA 824 (A).


Wat betref die vraag of ’n verhoorhof verplig is om ’n beskuldigde te ontslaan waar daar “geen getuienis” gelewer is op grond waarvan ’n beskuldigde op die ten laste gelegde aanklag of ’n bevoegde uitspraak skuldig bevind kan word en of die verhoorhof bloot ’n diskresie het om hom te ontslaan al dan nie het oor die jare veel verskil van mening opgelewer. In hierdie verband is rigting gegee deur die Hoogste Hof van Appèl in die uitspraak in die saak van S v Lubaxa 2001 (4) SA 1251. Ek sal later in hierdie uitspraak in meer detail verwys na verskillende dicta in die Lubaxa saak supra.


In Hiemstra, Suid-Afrikaanse Strafproses, 6de uitg. op bl. 451 handel die geleerde skrywer soos volg met die Lubaxa saak:


Die Hoogste Hof van Appèl het toe in S v Lubaxa 20001 (4) SA 1251 (HHA) sy steun verleen aan die eerste van die twee gedagteskole: Waar daar ’n enkele beskuldigde is en daar is by die afsluiting van die staatsaak geen moontlikheid van ’n skuldigbevinding tensy die beskuldigde selfinkriminerend sou getuig nie, is die versuim om te ontslaan desnoods mero motu ’n verbreking van die grondwetlike waarborg van billikheid (paragraaf 18) wat gewoonlik sal lei tot vernietiging van ’n skuldigbevinding wat berus op die selfinkriminerende getuienis alleen.


Daar word bygevolg aan die hand gegee dat die artikel ’n waardevolle doel dien én grondwetlik aanvaarbaar is. Die Strafproseswet streef na ordelike en billike strafregpleging. Hoofstuk 22 daarvan orden stap vir stap die verhoorprosedure. Die normale prosedure is dat die staat sy getuienis aanbied en daarna die verdediging. Artikel 174 kom numeries én inhoudelik teen die einde van die hoofstuk. Dit skep ’n uitsondering op die normale verhoorprosedure, primêr om ’n verhoorhof te verlos van die verpligting om meganisties te volhard met ’n futiele verhoor waar dit duidelik is dat daar tog nie ‘n skuldigbevinding kan wees nie. Die onderliggende doel is om tyd en moeite te bespaar, nie om die hof se taak te bemoeilik nie. Die bewoording van die artikel is eenvoudig en die betekenis ondubbelsinning. Die hof word beklee met die bevoegdheid om by die afsluiting van die saak vir die vervolging daar en dan ’n uitspraak van onskuldig te lewer. Daar is egter ’n jurisdiksionele voorvereiste tot die bevoegdheid om aldus te ontslaan. Dit is naamlik dat die hof van oordeel moet wees dat daar geen getuienis is waarop ’n skuldigbevinding redelikerwys ingebring kan word nie. Daar is dus twee weliswaar verwante maar nietemin onderskeibare besluite wat geneem moet word: (i) bestaan die gebrek aan getuienis en, indien wel, (ii) behoort ontslag gelas te word? Eersgenoemde behels hoofsaaklik ’n kliniese opweging van die bewyswaarde van die getuienis; laasgenoemde verg ’n gesonde oordeel in die lig van al die omstandighede van die besondere saak. Na luid van die artikel is daar geen verpligting om te ontslaan nie maar ’n bevoegdheid: die hof “kan” ontslaan, nie “moet” nie. Ook na luid van die artikel, word daar geen kwalifikasies of kriteria aan die uitoefening van die bevoegdheid gekoppel nie. Op algemene beginsel moet die hof dus regterlik, met gesonde oordeel en in belang van geregtigheid optree. Daar word met eerbied saamgestem met Nepgen R in S v Manekwane 1996 (2) SASV 264 (OK) op 267j dat dit verkeerd is “om te probeer om voorskriftelik te wees oor presies wanneer en onder watter omstandighede hierdie diskresie ten gunste van ’n beskuldigde uitgeoefen behoort te word. Of dit gedoen moet word, sal afhang van die feite van die besondere saak.” Die permutasies en kombinasies van omstandighede wat in die praktyk kan ontstaan is letterlik oneindig, so ook hul nuanses, en dit sou dwaas wees om enige uitputtende lys faktore te probeer opstel of prioritiseer. Om dieselfde rede is dit onwys om te veel klem te lê op wat regter A in saak A te sê gehad het oor die faktore en/of maatstawwe wat in daardie saak voorrang moes kry. Dit is en bly ’n feitegebonde oordeel waarby die hele spektrum omstandighede ’n rol speel, sommige of talle waarvan moontlik nie in die uitspraak genoem word nie. Daar word met eerbied ter oorweging gegee dat selfs die uiterstes van die spektrum, soos Mall, Kritzinger, Herholdt, Heller en Shuping, elk beoordeel in die samehang van sy eie unieke feitekompleks, tog nie só onversoenbaar is nie. Regterlike opmerkings oor feitevrae, ongeag die universaliteit van die taal waarin hul verwoord word, is nie beginsels nie. Nog minder is hul bindende presedent. Op die sterkste is hulle nuttige analoë aanduiders van wat in vergelykbare sake gedoen is.”


Vergelyk ook die volgende standpunt van die gemelde skrywer op bladsy 453:


Waar daar werklik geen rede bestaan om versterking van die saak teen die beskuldigde te verwag nie, behoort ontslag normaalweg toegestaan te word. Maar waar daar inderdaad rede bestaan om te verwag dat die staat se saak wel versterk sal word, sal dit nie verkeerd wees om ontslag te weier nie.”



Vir ’n ietwat meer rigiede benadering oor die toepassing van die bepalings van artikel 174 en die effek van die Lubaxa saak supra, vergelyk The South African Law of Evidence, Zeffertt et al, bladsye 161 tot 164.


Ten einde te bepaal of die aangebode getuienis aan die drempelwaarde voldoen soos in artikel 174 van Wet 51 van 1977 uiteengesit is en bespreek is in die Lubaxa saak supra, moet, na my oordeel, allereers na die akte van beskuldiging gekyk word ten einde te bepaal wat die beskuldigdes ten laste gelê is. Dit sal om die getuienis sinvol te kan ontleed en te verstaan en bepaal of daardie getuienis die bewerings in die akte van beskuldiging ondersteun.


Alvorens met daardie oefening begin word moet die aandag net weereens op die volgende gevestig word. De Beer het die verslag vir die registrateur opgestel. Mnr. D Friedman het hom met die opstel van daardie verslag gehelp. Die sogenaamde artikel 28 ondersoek word gehou waar mnr. Friedman hoofsaaklik die getuienis lui en die ondervraging doen. Van der Walt is grootliks betrokke of is ten minste teenwoordig by hierdie artikel 28 ondervraging. Op die stadium van hierdie artikel 28 ondervraging moes daar kennelik reeds besluit gewees het dat die drie beskuldigdes aangekla sou word van sekere strafregtelike oortredings. Van der Walt stel sy verslag op na bestudering van De Beer se verslag, na aanhoor van die getuienis in die artikel 28 ondervraging en die uitskakeling van die sogenaamde hoorsê getuienis. Dit is gemeensaak dat Van der Walt se verslag gebaseer is op De Beer se verslag en dat met sekere aanpassings dit feitlik woordeliks ’n herhaling is van De Beer se verslag. Van der Walt het selfs van De Beer se foute net so oorgeskryf. Die opdrag aan De Beer en die opdrag aan Van der Walt kom natuurlik uit verskillende oorde en is gegee met verskillende oogmerke. Dit is gemeensaak dat mnr. D Friedman die opsteller van die akte van beskuldiging is. Dit is verder gemeensaak dat Van der Walt se verslag nie opgestel is ten einde ’n deskundige opinie te gee oor die feitelike bewerings wat in die akte van beskuldiging gemaak is nie. In teendeel, anders as wat ’n mens sou verwag, sien Van der Walt se verslag die lig voor die akte van beskuldiging.


In die lig van die voorgaande is daar dus geen sin in om allereers die getuienis te ontleed, dan die verslag van Van der Walt tesame met die getuienis van ander getuies en dan te bepaal of aan die drempelwaarde van artikel 174 van Wet 51 van 1977 voldoen is nie. Veel eerder moet allereers na die akte van beskuldiging gekyk word en daarna na die aangebode getuienis.


Die akte van beskuldiging is verdeel in deel A, ’n algemene inleiding, en deel B, die spesifieke aanklagte.


Die algemene inleiding verwys in detail na die verskillende rolspelers waarna verwys word in die akte van beskuldiging. Wanneer met die spesifieke aanklagte gehandel word en die bespreking van die getuienis sal die rolspelers ook geïdentifiseer word. ’n Afdeling van die algemene inleiding word gewy aan die skets van ’n sogenaamde agtergrond tot sekere transaksies. In hierdie agtergrondskets word na feite en transaksies verwys wat later meer volledig bespreek sal word.


Aanklag 1 is ’n aanklag van oortreding van die bepalings van artikel 424(3) van Wet 61 van 1973, d.w.s. die roekelose bestuur van ’n maatskappy.


Alvorens met die spesifieke bewerings gehandel word is dit nuttig om te let op ’n baie verstaanbare uiteensetting van sekere aspekte met betrekking tot die roekelose bestuur van ’n maatskappy soos vervat in Commentary on the Companies Act, Blackman et al, vol 3, 14-534 en verder waar die geleerde skrywers die volgende sê:


In the context of s 424 ‘recklessly’ is used in contradistinction to the term ‘fraudulently’. ‘Recklessness” in this context is a serious departure from the standard of care that would be observed by a reasonable businessman in conducting the company’s business in similar circumstances. It connotes not mere negligence but at the very least gross negligence or culpa lata; and it is not limited to dolus eventualis, i.e. it covers gross negligence without conscious or wilful or wanton disregard of the consequences or risk-taking. Gross negligence includes an attitude or state of mind characterised by ‘an entire failure to give consideration to the consequences of one’s actions, in other words, an attitude of reckless disregard of such consequence’. Thus, the concept of ‘recklessness’ entails ‘the involvement of risk whether or not the doer realises it’.

The ‘test for recklessness is objective insofar as the defendant’s actions are measured against the standard of conduct of the notional reasonable person’. A director’s honest belief as to the prospects of payment of a claim when due, ‘while critical in a case of alleged fraudulent trading, is not in itself the determinant of whether he was reckless, for [i]t will be irrelevant if a reasonable person of business in the same circumstances would not have held that belief’. Although there may also be a subjective element present if the defendant is conscious of the risk-taking, that ‘is not an essential component of recklessness and its existence is no impediment to the application of the objective test’, for ‘risk-consciousness in the realm of recklessness does not amount to or include that foresight of the consequences which is necessary for dolus eventualis’.

The test is however ‘subjective in so far as one has to postulate that notional being as belonging to the same group or class as the defendant, moving in the same sphere and having the same knowledge or means to knowledge’. This subjective consideration ‘requires that regard should also be had to any additional knowledge, experience or qualification that the evidence reveals that director to possess and which is relevant to the question whether recklessness has been proved’. …

Where ‘the crucial decisions in a given case were made by unanimous decision of the board of directors and it is those directors, or some of them, who are the defendants, the question referred to can simply be posed in respect of the board’s decision’, i.e. ‘it is that decision which must be subjected to the necessary objective test’.

In determining whether the business of the company has been conducted recklessly, the court will take into account, inter alia, the scope of the operations of the company, the functions and powers of the directors, its assets and liabilities, working capital, cash flow, access to capital, the extent of the company’s financial difficulties, the amount of the debt, the prospects of payment when particular debts were incurred and, if any, of the company’s recovery. When determining on the facts whether a particular person has been reckless, his functions within the company are relevant. For example, while executive and non-executive directors are subject to the same test, the fact that a particular director was or was not involved in the day-to-day management of the company will of course be relevant when determining whether, in the particular circumstances of the case, that director’s conduct amounted to recklessness. The court will however always be careful in adjudging conduct with the wisdom of hindsight, and recklessness will not lightly to be found.”



Met die voorgaande en in besonder die beginsels neergelê in die Lubaxa saak (supra) in gedagte kan gekyk word na die inhoud van die akte van beskuldiging.


Aanklag 1 is ’n tipiese voorbeeld van hoe groot en ingewikkelde skemas en transaksies gedissekteer is, onder die vergrootglas geplaas is en afleidings gemaak is dat die beskuldigdes roekeloos opgetree het wat betref die bestuur van SH en SB sonder dat na die groot geheel van die skemas en transaksies gekyk is.


Aanklag 1 bestaan uit nege onderafdelings.


Die eerste afdeling van aanklag 1, paragrawe 3-6 daarvan, handel met die sogenaamde aandele- verskansingsmeganisme.

Dit is gemeensaak dat daar ’n sogenaamde skim aandeleskema bestaan het en dat met die 1998 sekondêre kapitaal transaksie gepoog was om SB en uiteindelik dan ook SH te beskerm teen die effek van die skim aandeleskema.


Die kern van die aanklag teen die beskuldigdes onder hierdie afdeling word soos volg verwoord in paragrawe 4 en 5 van aanklag 1:


4. The share hedge mechanism was a one sided hedge that only protected SB in the event of SH’s listed ordinary share price rising and not when such share price drops below a certain level.


5. The Accused had knowledge of the risk set out at 4 supra and, despite such knowledge, Accused 1 did nothing to mitigate such risk and Accused 2 and Accused 3 approved and/or authorised the share hedge mechanism. Accused 2 furthermore had a reckless attitude towards the size of the phantom share scheme in terms of which the share hedge mechanism applied in order to mitigate the effect of income tax on the phantom share scheme payouts.”


In paragraaf 6 van aanklag 1 word dan beweer dat toe die aandele prys van SH gedaal het gedurende die latere gedeelte van 2001 en die begin van 2002, die aandele verskansingsmeganisme ‘n verlies vir SB en uiteindelik vir SH tot gevolg gehad het wat vererger was deur die sogenaamde aandele-ruilskema wat deel uitgemaak het van die 1999 kapitaal skema, waarna later verwys sal word.


Afdeling 2 van aanklag 1, paragrawe 7 tot 10 daarvan, handel met ’n sogenaamde aandeel leningsskema. Dit is gemeensaak dat hierdie skema reeds gedurende 1993 geïmplementeer is en dat die terme en voorwaardes van hierdie aandele leningsskema van tyd tot tyd gewysig is.


Die kern van hierdie grond van beweerde roekelose bestuur is saamgevat in paragrawe 8.10 en 9 van die akte van beskuldiging wat soos volg lui:


8.10 The recoverability of the loans was dependent upon the performance of the share price of SH. The Accused hoped that the share price of SH would continue a rising trend to the extent that the increases in the outstanding loan balances, due to capitalised interest would be matched to maintain the 50% ratio of outstanding loan balances to security. Due thereto that the share price of SH did not rise as expected during the 2000 and 2001 financial years of SH and SB, and in fact declined significantly from September 2001 onwards, the ratio of outstanding debt to security increased significantly in excess of 50%.


9. The Accused had knowledge of the risk set out at 8 supra and, despite such knowledge, Accused 1 did nothing to mitigate such risk and Accused 2 and Accused 3 approved and/or authorised the share loan scheme.”


Die bewering word dan gemaak dat toe die aandele prys van SH gedaal het dit ’n verlies vir SB en uiteindelik vir SH tot gevolg gehad het.


Die derde afdeling van aanklag 1 word vervat in paragrawe 11 tot 14 daarvan en handel met ’n sogenaamde aandele aansporingskema.


Na vele samesprekings, onderhandelinge en regsmenings, waarna later meer breedvoerig verwys sal word, is hierdie aandele aansporingskema finaal geïmplementeer gedurende Maart 2001.


Die kern van hierdie bewering van roekelose bestuur word saamgevat in paragrawe 12 en 13 van aanklag 1 wat soos volg lui:


12. The repayment of the loan could only be funded by the Incentive Trust in the event of the price of the listed ordinary shares of SH being at the same level as when the initial loan proceeds were used to purchase the said listed ordinary shares in SH.


13. The Accused had knowledge of the risk set out at 12 supra and, despite such knowledge, Accused 1 implemented the share incentive scheme and Accused 2 and Accused 3 approved and/or authorised the share incentive scheme and implemented same.”


Weereens word beweer dat toe SH se aandele gedaal het dit ’n verlies vir SB en SH meegebring het.


Die vierde afdeling van aanklag 1 word mee gehandel in paragrawe 15 – 18 daarvan en handel met ’n belegging wat SB gemaak het in Primevest Equity Trading no. 2 (Pty) Ltd (PVET 2).


Die kern van hierdie beweerde roekelose optrede is vervat in paragrawe 16 en 17 van aanklag 1 wat soos volg lui:


16. PVET 2 had no financial ability to redeem the preference shares to SB.


17. The Accused had knowledge of the risk set out at 16 supra and, despite such knowledge, Accused 1 signed the relevant agreements and Accused 2 and Accused 3 approved and/or authorised the investment in PVET 2’s redeemable preference shares and performed those unlawful actions, set out at Count 3, to mitigate such risk.”


Soos uit die voorgaande blyk het hierdie afdeling van aanklag 1 nie te doen met die standhoudendheid van SH se aandeelprys nie maar met die betaal vermoë van PVET 2. Hierop sal later in detail teruggekeer word.


Die bewering word gemaak dat die onvermoë van PVET 2 om sy verpligtinge teenoor SB na te kom toe dit opeisbaar geword het ’n verlies vir SB meegebring het.


Die vyfde afdeling van aanklag 1 is vervat in paragrawe 19 tot 22 van aanklag 1 en het te doen met sogenaamde onderskrywingskommissies of deposito’s wat deur SB en SH onderskeidelik in die bedrae van R23 miljoen en R24 miljoen aan Primevest Equity Investments (Pty) Ltd (PEI), voorheen bekend as Uniquity Investments (Pty) Ltd, betaal is.


Die kern van die bewerings is vervat in paragrawe 20 en 21 van aanklag 1 en lui soos volg:


20. The deposits would be recoverable to the extent that the SH share price performed as at 31 October 2004, the deposit being not recoverable if the SH share price was below R11,50 at such date, partially and proportionately recoverable to the extent that the SH share price ranged between R11,50 and R13,80 at such date and fully recoverable if the SH share price exceeded R13,80 at such date.


21. The Accused had knowledge of the risk set out at 20 supra and, despite such knowledge, Accused 1 effected and caused to be recorded as assets of SH and SB the deposits and Accused 2 and Accused 3 approved and/or authorised the payment of such deposits.”


Weereens word die bewering gemaak dat toe die aandeleprys van SH gedaal het SB, en uiteindelik SH, ’n verlies gely het.


Afdeling 6 van aanklag 1 is vervat in paragrawe 23 tot 26 daarvan en handel met ’n lening wat SB aan PEI gemaak het in die bedrag van R12,5 miljoen.


Die kern van die aanklag is vervat in paragrawe 24 en 25 daarvan wat soos volg lui:


24. The terms of the loan agreement required SB to lend R12,5 million to PEI, which loan was repayable at the option of PEI any time after 31 October 2004.


25. The Accused had knowledge of the facts set out at 24 supra and, despite such knowledge, Accused 1 signed the relevant loan agreement and Accused 2 and Accused 3 approved and/or authorised the loan.”


Soos uit die voorgaande blyk is hierdie bewering van roekelose bestuur nie gebaseer op die daling in die aandeelprys van SH of die onvermoë van ’n skuldenaar om te betaal nie maar op die keuse van die skuldenaar om te betaal al dan nie.


Die bewering word dan gemaak dat nadat SB onder kuratele geplaas is die lening nie opgeroep kon word nie omdat daar geen verpligting op die skuldenaar was nie en daar gevolglik deur SB en SH skade gelei is.


Afdeling 8 van aanklag 1 kom voor in paragrawe 27 tot 29 daarvan en handel met ’n bewering dat Swiss Re Southern Africa Limited (Swiss Re) ’n bedrag van R247 027 865,68 belê het in promesses wat SH uitgereik het ter gedeeltelike fasilitering van die 1999 kapitaal transaksie. Die kern van die aanklag is geleë in paragrawe 28 en 29 van aanklag 1 wat soos volg lui:


“28. The effect of the Swiss Re investment included the following:


28.1 R247 027 865,68 of the insurance funds of SB was invested in the credit risk of SH and SB and, hence, the risk in the holding of the promissory notes has been transferred from SB to SB; and


28.2 Whereas the full EAB had to be readily available over a five year period, the different maturity dates of the promissory notes impeded on such availability.


29. The Accused had knowledge of the risks set out at 28 supra, yet they proceeded with the transaction.”


In hierdie geval word daar nie ’n bewering gemaak van finansiële verlies nie maar is die bewerings daarop afgestem om aan te toon dat daar roekeloos gehandel is deur die beskuldigdes deur bloot met ’n transaksie voort te gaan.


Afdeling 8 van aanklag 1 handel met die leningsrekening wat bestaan het tussen SB en SH, welke leningsrekening nie rentedraend was nie. Die kern van die aanklag is dat SH nie sekere transaksies self finansier het nie maar dat dit gedoen is deur SB en aangetoon is as ’n leningsrekening in die boeke van SB sonder dat daardie verpligting rentedraend is. Op die wyse het SB dan rente inkomste verbeur wat dit op sy beurt ’n laer winsmarge en ’n laer likiditeitsvlak gegee het, faktore wat vertroue in SB laat daal het gedurende 2001 en 2002.


Afdeling 9 van aanklag 1 word vervat in paragrawe 36-40 daarvan en is daarop gebaseer dat SB die 1998 en 1999 kapitaal transaksies finansier het wat daarop sou neerkom dat SB se fondse vir die verdien van inkomste verminder het en uiteindelik aanleiding gegee het tot ’n verlies van winsgewendheid en likiditeit en aldus die vertroue van beleggers laat afneem het.


Aanklag 2 het net betrekking op beskuldigde 3 en handel met ’n oortreding deur hom van die bepalings van artikel 38 van Wet 61 van 1973 deurdat daar na bewering lenings deur SB aan werknemers van E W Balderson (Pty) Ltd (Balderson) gemaak was om aandele op te neem in die aandele leningsskema waarna reeds verwys is.


Ten opsigte van die gebeure wat aanleiding gegee het tot hierdie aanklag is daar ’n veelvoud van feite, onderhandelinge en regsmenings wat in ag geneem moet word. Dit sal mettertyd in meer detail hierin bespreek word.


Aanklag 3 is ’n aanklag van diefstal ingevolge waarvan beweer word dat die beskuldigdes ’n bate van SB nl. 5 935 000,00 gewone SH aandele wat deur CMI gehou was van SB gesteel het alternatiewelik van CMI. Die diefstal sou gepleeg gewees het deur die beskuldigdes wat in gemeenskaplike doel en opset opgetree het saam met Brand en/of Robinson waarna later ook meer breedvoerig verys sal word.


Die kern van die aanklag word uiteengesit in paragrawe 6-9 van die klagstaat en lui soos volg:


6. On 11 October 1999, Accused 2, Accused 3, Brand and Robinson, in their capacity of directors of CMI, resolved that CMI enter into the share exchange.


7. Neither Accused 2, nor Accused 3, were authorized by the directors of SH and SB to make the decision, referred to at 6 supra.


8. On 4 February 2000, Accused 1, on behalf of SH consented to CMI performing the share exchange and, on behalf of SB, consented to releasing CMI from a cession of the shares, referred to at 10 infra, in favour of SB.


9. The directors of SH and SB did not authorize Accused 1 to enter into the agreements, referred to at 8 supra.


Hierbo het ek reeds by afdeling 1 van aanklag 1 in die verbygaan verwys na die aandele ruil transaksie wat deel van die 1998 kapitaal transaksie was en wat na bewering ’n addisionele verlies vir SB en SH teweeg gebring het toe die SH aandele prys gedaal het. Hierdie aanklag het dan pertinent te doen met die aandele ruiltransaksie. Aanklag 3 is dan ook geformuleer op die basis dat daar diefstal van die aandele plaasgevind het op die basis dat dit SB ontneem het van ’n bron van inkomste naamlik die 5 935 000.00 aandele wat CMI in SH gehou het, in welke aandele SB ’n eksklusiewe reg gehad het. In die eerste alternatief is beweer dat hierdie aandele van CMI besteel is en in die tweede alternatief is aangevoer dat hierdie optrede ten opsigte van die aandeel ruiltransaksie neerkom op roekelose bestuur van ’n maatskappy, soos reeds tevore vermeld is.


Aanklagtes 4-13 is almal aanklagtes van bedrog. Dit is almal aanklagtes wat te doen het met die feitelike bewerings in aanklagte waarna ek reeds verwys het. Dit is onnodig dat ek die feitelike basis telkens weer uiteensit. Wanneer daar uiteindelik met die individuele klagtes gehandel word sal die pertinente bewerings van welke aspekte nie in die finansiële state geopenbaar is nie of in welke opsigte dit valslik gereflekteer is in besonder behandel word. Wanneer aanklagtes 4-13 behandel word sal die feite reeds duidelik wees weens die bespreking van die voorafgaande aanklagte. Al wat nou nodig is is om aan te dui hoe die aanklagte verband hou met die voorafgaande aanklagte.


Aanklag 4 het te doen met die belegging van SB in PVET 2 in die bedrag van R115 miljoen in PVET 2 voorkeur aandele. (Vergelyk afdeling 4, paragrawe 15-18 van aanklag 1.)


Aanklagte 5 en 6 het betrekking op die aandele ruiltransaksie. (Vergelyk afdeling 1, paragrawe 3-6, in besonder paragraaf 6 van aanklag 1.)


Aanklagtes 7 en 8 het te doen met die sogenaamde onderskrywingskommissies wat deur SB en SH aan PEI betaal is in ’n totale bedrag van R47 miljoen. (Vergelyk afdeling 5, paragrawe 19-22 van aanklag 1.)


Aanklag 9 het te doen met die lening wat SB aan PEI gemaak het in die bedrag van R12,5 miljoen. (Vergelyk afdeling 6, paragrawe 23-26 van aanklag 1.)


Aanklag 10 het te doen met die aandele leningsskema, (vergelyk afdeling 2, paragrawe 7-10 van aanklag 1.), aanklag 11 met die aandele aansporingstrust (vergelyk afdeling 3, paragrawe 11-14 van aanklag 1) en aanklag 12 met die aankoop van die promesses deur Swiss Re. (Vergelyk afdeling 7, paragrawe 27-29 van aanklag 1.)


Aanklag 13 is ’n samevatting van die onderskeie transaksies waarna reeds verwys is, in besonder die 1999 kapitaaltransaksie.


Uit die voorgaande bespreking van die akte van beskuldiging sowel as uit die inhoud van die forensiese verslag van Van der Walt, blyk dit dat die staat se saak inderdaad op 5 hoof komponente berus. In wat volg sal ek daardie hoof momente bespreek en uiteen sit welke afdelings van aanklag 1 en ander aanklagte op hierdie komponente betrekking het. Die hoof komponente is dan soos volg:


1. Die aandele verskansingsskema.

Afdeling 1 van aanklag 1 her hierop betrekking. Aanklag 3 het ook hiermee te doen in soverre dit betrekking het op die aandele ruil transaksie wat weer deel uitmaak van die 1999 kapitaal transaksie.


2. Die aandele leningsskema.

Afdeling 2 van aanklag 1 het hierop betrekking asook aanklagte 2 en 10.


3. Die aandele aansporingskema.

Afdeling 3 van aanklag 1 het hierop betrekking asook aanklag 11.


4. Die 1998 sekondêre kapitaal transaksie.

Afdelings 8 en 9 van aanklag 1 het hierop betrekking asook aanklag 3 in soverre dit betrekking het op die aandele beskermingskema en die aandele ruil transaksie van die 1999 kapitaal transaksie.


5. Die 1999 primêre en sekondêre kapitaal transaksie.


Afdelings 4, 5, 6 en 7 van aanklag 1 het betrekking op hierdie transaksie asook aanklagte 4, 5 en 6 in soverre dit te doen het met die aandele ruil transaksie en aanklagte 7, 8, 9 en 12.


Weens die formulering van aanklag 13 het verskeie fasette daarvan ook betrekking op sommige van hierdie komponente.


Daar is reeds hierbo daarop gewys dat Van der Walt die verskillende transaksies en daarom ook die hoof komponente van die aanklagte teen die beskuldigdes gedissekteer het om ’n veelvoud van transaksies wat die geheel van die komponente uitmaak te bespreek en te ontleed. Hierdie wyse van optrede van Van der Walt het aanleiding gegee tot ’n forensiese verslag wat uit sewe volumes bestaan en wat onderskraag word deur duisende dokumente. Soos later ook hierin sal blyk behels hierdie ondersteunende dokumente nie alle relevante dokumente nie en sal dit ook blyk dat Van der Walt belangrike dokumente of nie raak gesien het nie of weens een of ander rede geïgnoreer het. Ek het ook reeds vroeër hierin daarop gewys dat ’n aanvanklike verslag deur De Beer opgestel is vir die registrateur na aanleiding van ’n besondere opdrag en dat Van der Walt, nadat hy ’n verdere opdrag met ’n ander oogmerk ontvang het, hoofsaaklik gebruik gemaak van De Beer se verslag. Ek het ook reeds daarop gewys dat Van der Walt se verslag die lig gesien het klaarblyklik voordat die akte van beskuldiging opgestel is. Dit bring mee dat Van der Walt se verslag in menigte opsigte detail bevat wat totaal en al irrelevant is by die beoordeling van die aanklagte in die akte van beskuldiging en dus detail bevat wat nie nodig is om te bespreek of te herhaal in ’n uitspraak nie.


In die bespreking van die hoof komponente van die staat se saak sal tot die mate wat dit nodig is verwys word na Van der Walt se verslag en die getuienis van sommige getuies. Sodra die nodige agtergrond vir hierdie hoof komponente geskets is sal ek daartoe oorgaan om die getuienis te oorweeg met betrekking tot elke besondere aanklag en die beweerde betrokkenheid van beskuldigdes 1 en 3 daarin.


In vol. 2 van sy verslag het Van der Walt gehandel met drie sogenaamde aansporingsskemas wat bestaan het uit die aandele leningskema, die skim aandeleskema en die aandele aansporingsskema.


Dit blyk gemeensaak te wees dat daar reeds jare gelede met ’n aansporingsskema begin was by SB wat uit ’n sogenaamde aandele trust bestaan het. Dit het tot ’n einde gekom gedurende 1991 toe die skim aandeleskema die lig gesien het. Die skim aandeleskema is deur die raad van direkteure op 3 Desember 1992 goedgekeur en deelnemers daaraan is toegelaat vanaf 1 April 1993. Die skim aandeleskema was gebaseer op die aandele prys van SH. As gevolg van die styging in die prys van die aandele van SH moes SB in die jare 1997 en 1998 aansienlike bedrae aan die deelnemers aan hierdie skim aandeleskema uitbetaal.


Dit is gemeensaak dat SB voor die 1998 sekondêre kapitaal transaksie kapitaal toereikendheidsdruk ervaar het. Dit het meegebring dat die 1998 sekondêre kapitaal transaksie uiteindelik die lig gesien het. Hierdie transaksie het uit twee bene bestaan naamlik die voorsiening van kapitaal aan SB deur ’n sogenaamde verpligte aflosbare lening en ’n aandele verskansingsskema wat SB sou beskerm teen die effek van die skim aandeleskema. Die 1998 sekondêre kapitaal skema is ontwerp en voorgelê aan SB en SH deur Primevest. Ek sal later hierin ietwat meer breedvoerig verwys na die getuienis in verband met hierdie 1998 sekondêre kapitaal transaksie.


’n Aandele leningsskema was reeds gedurende 1993 in werking gestel toe SB lenings aan senior personeel beskikbaar gestel het ten einde aandele in SH te bekom. Van meet af was regsmenings van ervare regslui ingewin om te bepaal of die aandele leningsskema ’n oortreding van die bepalings van artikel 38 van die Maatskapyewet, 61 van 1973 kon meebring. Tot die mate wat dit nodig mag wees sal daar later hierin baie kortliks na van die regsmenings verwys word.


Van die begin van die aandele leningsskema was daar reëls en regulasies in werking gestel wat behels die finansiering van die aankoop van aandele, sekuriteit en terugbetaling van leningsbedrae. Die bepalings van die skema is op verskeie geleenthede daarna gewysig soos onder andere in Augustus 1995, November 1995 en Januarie 1996. Gedurende 1998 is die aandele leningsskema aangepas en is nuwe reëls ingestel wat gedurende November 2001 weer gewysig is.


Van der Walt het die aandele leningsskema ondersoek met verwysing na die reëls en regulasies, sekere regsmenings wat verkry is, die koop en verkoop van SH aandele en tot die gevolgtrekking gekom dat waar die aandele leningskema oorspronklik bedoel was om aan senior bestuurslede die vermoë te verskaf om aandele in SH te koop dit deur senior bestuurslede en uitvoerende direkteure misbruik is vir hulle eie persoonlike voordeel. Hulle het volgens Van der Walt gevolglik voordeel uit die skema getrek in die lig van voordelige sekuriteit-, rente- en ander betalingsvoorwaardes. Van der Walt het ook tot die gevolgtrekking gekom dat SB onnodiglik finansieel blootgestel was. Verder het Van der Walt bevind dat lenings wat verleen is aan die Balderson personeel in stryd was met artikel 38 van die Maatskappyewet.


Ek sal later daarop wys dat Van der Walt tydens kruisverhoor verplig was om feitlik al hierdie aantygings terug te trek.


Die aandele aansporingsskema het die skim aandeleskema gedurende Junie 2000 vervang. Soos reeds hierbo aangedui het die raad van direkteure reeds sover terug as 1997 aandag daaraan gegee dat die skim aandeleskema vervang moes word weens die koste daaraan verbonde.


Die aandele aansporingsskema was deur Decimax (Pty) Ltd (Decimax) ontwikkel. Na aanleiding van die betrokke voorstel was verskeie regsmenings daaroor bekom, pertinent met die oog op die vraag of dit ’n oortreding van artikel 38 van die Maatskappyewet kon meebring al dan nie. So is opinies ontvang van adv. Meyerowitz SC, adv. D M Fine SC, en mnr. Izak de Villiers Lessing (Lessing) van Gildenhuys van der Merwe.


Van der Walt het ernstige kritiek uitgespreek teen die aandele aansporingskema as gevolg waarvan daar dan ook aanklagte daarop gebaseer is.


Wanneer die besondere aanklagte bespreek word sal weer kortliks terug verwys word na Van der Walt se standpunt en getuienis wat daaromtrent deur die staat aangebied is.


Sowel die 1998 sekondêre kapitaal transaksie as die 1999 primêre en sekondêre kapitaal transaksies is ontwerp en ontwikkel deur Primevest. Die konsep het sy oorsprong by mnr. D Brand (Brand) tesame met sy personeel wat onder andere bestaan het uit mnr. S R Robinson (Robinson) (wat getuig het en verantwoordelik was vir die implementering van die transaksies) en mnr. J L van Zyl wat ook getuig het. Die 1998 sekondêre kapitaal transaksie het meegebring dat ’n sogenaamde een doel voertuig (“special purpose vehicle”) naamlik CMI, tot stand gekom het. Die 1999 primêre en sekondêre kapitaal transaksie was ’n veel ingewikkelder transaksie en het verskeie ander regsentiteite waarna in die akte van beskuldiging verwys word betrek, soos onder andere PVET 2, PEI, PVS, Swiss Re, Primevest Securities no 1 (Pty) Ltd (PS 1) Veurus Township (Pty) Ltd (Veurus) en Fedsure Holdings Limited (Fedsure).


Beide Brand en Robinson, asook Van Zyl, het in groot detail die konsep van die kapitaal transaksies beskryf asook die implikasies daarvan. Dit is gemeensaak, en ook die getuienis van elke getuie wat oor die kapitaal transaksies getuig het, dat dit ingewikkelde gestruktureerde finansiële transaksies is wat besondere kennis en ervaring benodig het om dit tot stand te bring. Dit was ook insiggewend gewees dat slegs Van der Walt van al die getuies wat oor die kapitaal transaksies getuig het ’n negatiewe standpunt daaroor nagehou het. Iedere en elke ander getuie was van mening dat die kapitaal transaksies oordeelkundig en tot groot voordeel van SB saamgestel was. Brand het in sy getuienis gesê dat ’n paneel van deskundiges saamgestel kan word om met hom die kapitaal transaksies te debatteer en hy in staat sal wees om die voortreflikheid daarvan te kan verdedig.


Dit is duidelik dat die negatiewe standpunt oor die kapitaal transaksies kom uit die oorspronklike verslag van De Beer wat volgens getuienis ’n regsgeleerde is. Van der Walt wat ’n geoktrooieerde rekenmeester is en homself tans beskryf as ’n forensiese rekenmeester het gesê dat hy self nie kennis van gestruktureerde finansiële transaksies het nie. Desnieteenstaande aanvaar hy De Beer se verslag, maak dit volgens hom sy eie en kritiseer die kapitaal transaksies. Wanneer die betrokke aanklagte bespreek word sal ek verwys na Robinson se reaksie op De Beer se aanvanklike verslag en sy kritiek daarop.


Na my oordeel is dit nie nodig om op hierdie stadium in enige verdere detail te verwys na die kapitaal transaksies nie.


Dit is vervolgens nodig om die aanklagte in die akte van beskuldiging te oorweeg in die lig van die aangebode getuienis.


Op hierdie stadium is nog net die getuienis namens die staat voor die hof. Dit is al bewysmateriaal wat oorweeg kan word. Geen weersprekende getuienis bestaan nie. Geloofwaardigheid speel op hierdie stadium van die verrigtinge ’n baie geringe rol. Alhoewel kritiek teen Van der Walt se getuienis uitgespreek is, is daar nie namens die beskuldigdes betoog dat enige van die getuies se getuienis so ongeloofwaardig is dat dit summier verwerp en/of buite rekening gelaat kan word nie.


Ek het reeds vroeër in hierdie uitspraak daarna verwys dat wat betref die kapitaal transaksies, slegs Van der Walt ’n negatiewe standpunt daaroor huldig. Dit is dan ook so dat verskeie getuies wat namens die staat getuig het ernstige probleme het met en beswaard is oor die vervolging wat ingestel is teen die twee beskuldigdes en wyle mnr. Myburgh. Nie-uitvoerende direkteure wat verantwoordelike besluite moes neem namens SH en SB het ook getuig. Dit moet gevolglik uit die aard van die saak oorweeg word of van hierdie getuies nie moontlik gunstige getuienis vir die beskuldigdes aflê in ’n poging om hulself van enige blaam te onthef nie.


Dit is ook duidelik dat ’n veeltal van die staatsgetuies nie getuienis so gunstig vir die staat afgelê het as wat die staat verwag het nie. In hierdie verband verwys ek byvoorbeeld na die getuienis van Brand wat betref die voorlegging van die 1999 kapitaal transaksie op 28 Oktober 1999. Verder kan verwys word na die getuienis van Lessing oor die vraag of daar inderdaad magtiging was om die 1999 kapitaal transaksie goed te keur. In soverre as wat nodig mag wees sal verdere voorbeelde in hierdie verband vermeld word.


Die posisie van beskuldigdes 1 en 3 verskil van mekaar. Ek het reeds by die aanvang van hierdie uitspraak daarop gewys dat beskuldigde 1 op 1 Julie 1998 by SB aangesluit het en verskillende posisies in die afdeling groep finansies gevul het tot hy op 1 Februarie 2001 na die afdeling strategiese alliansies verplaas is en Hoffmann by hom oorgeneem het. Ek het ook daarop gewys dat beskuldigde 3 te alle relevante tye ’n uitvoerende direkteur van SH en SB was.


In die getuienis was daar ook talle verwysings na besluite wat geneem is deur die raad van direkteure van SH asook ander komitees in SH en SB. Tot die mate wat dit nodig mag wees sal ook na die werkswyse van die raad van direkteure en ander komitees verwys word.


Die afdeling groep finansies was verantwoordelik vir die interne oudit werk by SB en SH. Daardie afdeling was ook verantwoordelik vir die opstel van die state wat ge-oudit is deur die eksterne ouditeure. Te alle relevante tye was Price Waterhouse Coopers die ouditeure van SH en SB en vanaf die finansiële jaar wat geëindig het 31 Maart 2001 was Ernst & Young gesamentlike ouditeure van SH en SB. Die rol van die eksterne ouditeure en die advies wat telkens van hulle gevra is en hulle insette is ook van groot belang in die oorweging van hierdie aangeleentheid.


Tydens die kruisverhoor namens beskuldigde 1 van in besonder Van der Walt het dit duidelik na vore gekom dat beskuldigde 1 nie betrokke was by verskeie van die gebeure wat van die aanklagte ten grondslag lê nie. Ek is dus van voorneme om allereers te handel met beskuldigde 1 se betrokkenheid by van die onderliggende gebeure.


Daar is reeds vroeër hierin daarna verwys dat die skim aandele skema aanleiding gegee het tot die aandele verskansingsskema en uiteindelik plek gemaak het vir die aandele aansporingskema. Die skim aandeleskema is in 1992 en in 1993 geïmplementeer soos reeds aangedui. Reeds in 1997 het wyle mnr. Myburgh opdrag gegee aan die menslike hulpbronne komitee dat die skim aandeleskema vervang moet word met ’n ander aandele aansporingsskema.


Tydens kruisverhoor het Van der Walt toegegee dat beskuldigde 1 nie betrokke was by die daarstelling van die skim aandeleskema of ooit daaraan deelgeneem het nie.


Soos ook reeds aangedui het die aandele leningsskema so vroeg as 1993 in werking getree. Van der Walt het ook toegegee dat beskuldigde 1 nie betrokke was by die besluit om die skema te implementeer of by die werklike implementering daarvan nie.


In kruisverhoor het Van der Walt gepoog om beskuldigde 1 te betrek by die administrasie van die aandele leningskema nadat hy op 1 Julie 1998 by SB in diens getree het. Die inhoud van vol. 2 p 36 van Van der Walt se verslag is egter onder sy aandag gebring waar hy die volgende gesê het:


It therefore appears that finance department was only responsible for processing accounting entries based on information received from secretariat. We could find no indication that the finance department performed any administrative and/or managerial function.”


Op sterkte van hierdie gedeelte in sy verslag het Van der Walt toegegee dat beskuldigde 1 nie betrokke was by die administrasie van die aandele leningskema nie.


Ek het reeds hierbo daarop gewys dat Van der Walt die mening toegedaan was dat senior personeel en uitvoerende direkteure die aandele leningskema misbruik het om geld te onttrek vir doeleindes anders as om aandele in SH te koop.


Ten opsigte van beskuldigde 1 het Van der Walt onomwonde toegegee dat hy verkeerd is en dat dit duidelik blyk dat beskuldigde 1 betalings in die aandele leningskema gemaak het ten einde sy rente verpligtinge te verminder en slegs met toestemming van die bestuur van SB fondse wat hy aldus inbetaal het weer onttrek het. Dit is dus duidelik dat Van der Walt geen bewys kon vind dat beskuldigde 1 hoegenaamd die aandele leningskema misbruik het nie.


Soos reeds vermeld was in 1997 voorgestel dat die skim aandeleskema vervang moes word. Decimax wat spesialiseer in die strukturering van aandele aansproringskemas het die betrokke skema ontwerp en voorgelê aan SB. Uiteindelik, na vele regsmenings en beraadslagings, het Lessing, wat SB se prokureur op die relevante stadium was, toegesien tot die opstel van die relevante dokumentasie wat deur dr. P B Botha (Botha) ’n direkteur van SB en SH onderteken is op 28 Junie 2000. Van der Walt het onder kruisverhoor toegegee dat beskuldigde 1 ook hoegenaamd nie betrokke was by die aandele aansporingskema nie.


Ten opsigte van die 1998 kapitaal transaksie het Van der Walt onmiddellik tydens kruisondervraging toegegee dat die skema oor besluit en geïmplementeer is nie later as 25 Maart 1998 nie. Hy het onmiddellik toegegee dat dit gevolglik gebeur het voor beskuldigde 1 by SB werksaam was.


Wat betref die 1999 kapitaal transaksie is dit gemeensaak dat die behoefte daarvoor geïdentifiseer is gedurende 1998 voordat beskuldigde 1 by SB werksaam was. Van der Walt het ook toegegee dat beskuldigde 1 nie teenwoordig was by die direksie vergadering van 10 Februarie 1999 toe die besluit geneem is oor die kapitaal transaksie nie.


Beskuldigde 1 was wel teenwoordig by sommige vergaderings wat gevolg het op die 10 Februarie 1999 vergadering en het dan ook dokumente onderteken met betrekking tot hierdie kapitaal transaksie. Wanneer spesifieke klagtes later behandel word sal meer aandag aan beskuldigde 1 se betrokkenheid met hierdie transaksie bespreek word.


Dit is vervolgens nodig om besondere aandag te gee aan die individuele aanklagte en die bewerings teen die twee beskuldigdes.


Ten opsigte van aanklag 1, ’n aanklag van oortreding van artikel 424 van Wet 61 van 1973, is hierbo reeds uitvoerig verwys na die benadering ten opsigte van die oortreding van hierdie artikel soos dit voorkom in die werk van Blackman et al. Uit die aangehaalde gesag is dit duidelik dat die roekeloosheid van die twee beskuldigdes moet neerkom op ’n wesenlike afwyking van die sorgsaamheidsplig wat ’n redelike besigheidsman aan die dag moet lê in die bedryf van ’n maatskappy se sake. By ’n ontleding van aanklag 1 en in besonder die 9 onderafdelings daarvan is dit duidelik dat afdelings 1, 2, 3, 5 en 7 daarvan daarop gebaseer is dat die sukses al dan nie van verskillende skemas en transaksies afhanklik was van die aandeelprys van SH. Ook afdelings 4, 6, 8 en 9 van aanklag 1 hou sydelings verband met die aandeelprys van SH. In die breë is die verwyt wat die beskuldigdes ten laste gelê word dat hulle roekeloos was om te aanvaar dat die aandeelprys van SH konstant sou bly of sou styg. In teendeel wil dit voorkom asof die lotgevalle van SH se aandeelprys aan die hart van hierdie hele saak lê. Tydens Van der Walt se getuienis en reeds op ’n vroeë stadium het ek dit gewaag om die stelling aan hom te maak dat indien SH se aandeleprys nooit gedaal het nie hierdie saak nooit aanhangig gemaak sou gewees het nie. Van der Walt het met daardie stelling saamgestem.


Uitgaande van die standpunt dat dit wel so is dat die skemas en transaksies na verwys in aanklag 1 gebaseer is op die standhoudendheid van die aandeleprys van SH is die vraag of dit onredelik van die beskuldigdes en ander betrokkenes in die sake van SB en SH was om vertroue te hê in die aandele prys van SH.


Mnr P J Strydom, ’n vennoot in die ouditeursfirma Ernst & Young wat vanaf die 2001 finansiële jaar saam met Price Waterhouse Coopers die ouditeure van die SH groep van maatskappye was getuig dat hy as tweede vennoot verantwoordelik vir die oudit werk, tevrede was dat daar ’n opwaartse neiging in die aandeleprys van SH was aan die einde van die 2001 finansiële jaar.


Robinson se getuienis met verwysing na die voorlegging deur Primevest in verband met die 1998 sekondêre kapitaal transaksie, waarby ingesluit is die aandele verskansingsskema, is dat die aandeelprys van SH in ag geneem is in hulle voorlegging maar dat daar tot die gevolgtrekking gekom is dat dit onwaarskynlik is dat die aandeelprys sou daal. Brand in sy getuienis bevestig ook die inhoud van die Primevest voorlegging en Robinson se getuienis.


Mnr. M I Sacks (Sacks), ’n nie uitvoerende direkteur van SH en SB en ook ’n lid van die direksie van Fedsure, getuig ook dat die aandeleprys goed presteer het. Hy verwys in sy getuienis na die notule van ’n spesiale direksie vergadering wat plaasgevind het op 5 Maart 1998 waartydens die 1998 sekondêre kapitaal transaksie bespreek is. Tydens hierdie vergadering was die risiko verbonde aan die aandeelprys pertinent bespreek en is die volgende genotuleer:


“’n Risiko wat in gedagte gehou moet word is dat indien Saambou Beherend se aandeelprys benede die basis prys (by ’n toekenning) sou daal in die periode vanaf ’n toekenning tot wanneer die insentief betaalbaar sal wees, die trust, onvoldoende fondse met die verkoop van aandele sal genereer om die leningspaaiement aan Saambou Bank te kan betaal. Die huidige winsgewendheidsvlak van Saambou maak dit egter ’n berekende en onwaarskynlike risiko.”


Hierdie sentiment word ook ondersteun deur die getuienis van mnr. D J Reyneke (Reyneke) die vennoot by Ernst & Young verantwoordelik vir die oudit van die Saambou groep van maatskappye se finansiële state en dr. P B Botha (Botha) ’n nie uitvoerende direkteur van SH en SB. Botha se standpunt is duidelik dat alhoewel die risiko van ’n daling van die aandeelprys aanvanklik in aanmerking geneem is, dit nooit by die direksie opgekom het dat so iets sou gebeur nie.


Tot die mate wat die bewerings van roekeloosheid in aanklag 1 gebaseer is op die moontlike daling van die aandeelprys van SH word dit deur die staat se eie getuies uitdruklik weerlê.


Slegs Van der Walt het in sy verslag kritiek teen die optrede van die direksie van SB en SH gehad in hierdie verband. Onder kruisverhoor moes hy noodgedwonge toegee dat die betrokke direkteure vertroue gehad het in die aandeleprys en dat hulle met reg sodanige vertroue kon gekoester het in die lig van hulle konserwatiewe hantering van die finansies van die saambou groep van maatskappye en die groei wat oor jare plaasgevind het.


Namens die staat is aangevoer dat die sterk aandeleprys oorweging geniet het teen die agtergrond van die impak van ’n moontlike daling in die aandeelprys op die aandele verskansingsskema. Dit staat het aangevoer dat dit nie oorweeg is teen die agtergrond van die impak daarvan op die geheel van die 1998 sekondêre kapitaal transaksie nie.


Ten opsigte van die 1999 kapitaal transaksie het die staat aangevoer dat ten minste wat betref die verhaalbaarheid van die onderskrywingsdeposito’s van R24 miljoen en R23 miljoen daar oorweging geskenk is aan die nie-verhaalbaarheid daarvan aan die einde van die transaksie termyn indien die aandeelprys ’n waarde onder R11,50 sou hê nie.


Die staat voer aan dat die direksie en ander rolspelers nie ’n absolute geloof gehad het dat die aandeelprys van SH sou styg nie maar ook ’n daling daarvan benede sekere vlakke voorsien en oorweeg het.


Namens beskuldigde 3 was aangevoer dat daar geen getuienis voorgelê was om aan te toon wat die posisie in die aandelemark as geheel was ten opsigte van aandeel pryse op gegewe stadia en ook wat die aandeelprys van die bank sektor in besonder was nie. Daar is namens beskuldigde 3 betoog dat die prys van aandele en skommelinge wat plaasgevind het, niks oor gesê is in die staat se saak nie. So is aangevoer dat dit algemene kennis is dat besondere voorvalle en gebeurtenisse die aandeleprys kan affekteer.


Indien na die getuienis as geheel gekyk word is dit duidelik dat die direkteure van SH en SB ’n vertroue in die aandeelprys van SH gehad het. Kundige persone, ervare besigheidsmense en ouditeure het die moontlike daling van SH se aandeelprys oorweeg en tot die gevolgtrekking gekom dat dit redelik is om te verwag dat die aandeelprys sou styg.


Ek is dus steeds van mening, ten spyte van die staat se betoog, dat daar met reg vertrou kon word op die standhoudendheid van SH se aandeelprys.


In afdeling 1 van aanklag 1 word ook beweer dat die sogenaamde aandele ruiltransaksie die verlies van SB vergroot het. Die aandele ruil transaksie het deel gevorm van die 1999 kapitaal transaksie.


Ek sal later handel met die verskillende notules wat die 1999 kapitaal transaksie goedgekeur het. Genoegsaam om tans daarop te wys dat die krediet en risiko komitee op 28 Oktober 1999 die Primevest voorlegging finaal goedgekeur het. Deel daarvan was die aandele ruilskema. Dit is ’n duidelike komponent van die transaksie wat deur die krediet en risiko komitee goedgekeur is en uiteindelik deur die volle direksie bekragtig is. Tydens Van der Walt se kruisverhoor was ook verwys na bewysstuk 24(1), 24(2) en 24(3). Dit is e-posse wat gewissel is tussen Hoffmann, Primevest en beskuldigde 1. Dit is nie nodig dat ek op die detail daarvan ingaan nie. Genoegsaam om te sê dat Van der Walt uiteindelik onder kruisverhoor toegegee het dat beskuldigde 1 niks te doen gehad het met CMI se versuim om in terme van die aandele verskansingsskema te presteer nie. Daardie besluit was uiteindelik deur Hoffmann geneem.


Dit is duidelik dat die aandele ruiltransaksie behoorlik oorweeg en goedgekeur is deur die verantwoordelike komitee en die direksie.


In die lig van die voorgaande is daar geen getuienis ingebring teen beskuldigde 1 en beskuldigde 3 ten opsigte van roekeloosheid wat betref afdeling 1 van aanklag 1 nie.


Afdeling 2 van aanklag 1 handel met die aandele leningsskema.


Soos reeds hierbo aangetoon was beskuldigde 1 nie werksaam by SB toe die besluit oor hierdie skema geneem is nie. Dit is ook duidelik dat hy nie betrokke was by die wysigings van die reëls en regulasies met betrekking tot hierdie skema nie. Van der Walt het toegegee dat die akte van beskuldiging in paragraaf 8.8 daarvan verkeerd is deur die sê dat die afdeling groep finansies verantwoordelik was vir die administrasie van hierdie skema. Dit is beskuldigde 1 ook ten laste gelê dat hy nie die volle feite en omvang van die risiko van die skema onder die aandag van die direksie gebring het en/of voorstelle en aanbevelings gemaak het hoe om die risiko te verander nie of om die volle omvang van die risiko aan aandeelhouers te openbaar nie.


Wat betref beskuldigde 3 word beweer dat hy roekeloos was deur die aandele leningskema goed te keur en te magtig.


Ek het hierbo reeds volledig gehandel met die direksie se vertroue op die aandeleprys van SH en die redelikheid daarvan. Ek het ook volledig gehandel met die getuienis wat die staat in daardie verband aangebied het.


Na my oordeel weerlê die staat se eie getuies die bewerings van roekeloosheid aan die kant van beskuldigde 1 en 3 in hierdie opsig.


Afdeling 3 van aanklag 1 handel met die aandele aansporingskema. Die bewering van roekeloosheid is weereens gebaseer op die aandeleprys van SH.


Beskuldigde 1 was nie betrokke by die aanvanklike implementering van hierdie skema nie. Tot die mate wat beskuldigde 1 betrokke was by die administrasie van die skema maak dit hom nie roekeloos in die lig van wat reeds hierbo gesê is aangaande die aandeleprys van SH nie.


Tot die mate wat dit nodig mag wees sal later verwys word na die getuienis van Lessing en die regsmenings wat bekom is voor die implementering van hierdie skema.


Ook wat hierdie bewering van roekeloosheid betref word dit weerlê deur die getuienis wat deur die staat aangebied is.


Afdeling 4 van aanklag 1 handel met ’n belegging ten bedrae van R115 miljoen wat SB gemaak het in PVET 2 voorkeur aandele. Hierdie belegging vorm deel van die 1999 kapitaal transaksie waaroor Brand en Robinson volledig getuig het, uit welke getuienis dit duidelik blyk dat daar geen meriete in hierdie aanklag is nie.


Die bewering teen beskuldigde 1 is dat hy roekeloos was deur die relevante ooreenkomste te teken. Uit nadere besonderhede wat namens beskuldigde 1 gevra is blyk dit dat die staat se saak daarop gebaseer is dat die beskuldigde moes geweier het om die ooreenkomste te teken en dat hy ’n regsplig gehad het om te weier. Die basis daarvoor blyk uit Van der Walt se verslag naamlik dat die transaksie wat beliggaam is in die ooreenkomste wat beskuldigde 1 geteken het op geen stadium deur die direksie goedgekeur was nie. Die bewering teen beskuldigde 3 is dat hy roekeloos was deur die transaksie goed te keur en/of te magtig.


’n Tweede been van die beweerde roekeloosheid is geleë in die beweerde onvermoë van PVET 2 om die bedrag van R115 miljoen aan SB terug te betaal.


Wat betref die tekening van die ooreenkomste en die goedkeuring van die transaksie wat uiteindelik in die ooreenkomste beliggaam is die volgende.


Op 12 Augustus 1999 is ’n spesiale raadsvergadering van die raad van direkteure van SH gehou. Op hierdie vergadering was Brand ook op uitnodiging teenwoordig. Die doel van die vergadering was om die raad se goedkeuring te verkry vir die verhoging van die kapitaal van SB en die finansiële instrumente om daardie doel te bereik. Dit blyk dat Brand ’n volledige voorlegging aan die raad gedoen het. Hy bevestig dit dan ook in sy getuienis. Die raad besluit dan uiteindelik soos volg:


The board approved the raising of additional capital in principal. A committee, consisting of Mr J L van den Berg (as convenor), Dr. B P Botha and Mr. R P Derman were appointed to make a final recommendation for validation by die board, to approve both the transaction and the circular to shareholders with the proposed changes to the articles and memorandum of association of Saambou Holdings.”


Op 27 Augustus het die raad van direkteure van SH weer vergader waar verteenwoordigers van Primevest ook teenwoordig was. Die 1999 kapitaal transaksie was weer onder bespreking, nuwe voorstelle was goedgekeur onderhewig aan sekere voorvereistes naamlik dat Primevest se vergoeding her-bedeel moes word en dat die registrateur en die eksterne ouditeure die transaksie moet goedkeur.


Op 28 Oktober 1999 vind ’n spesiale krediet en risiko komitee vergadering van SH plaas. Die doel van die vergadering word soos volg beskryf:


The purpose of the meeting was to finalise the capital raising transaction and to inform members of the status of the New Republic Bank transaction. The credit and risk committee was mandated by the board to finalise the above mentioned transactions.”


Dit is inderdaad so dat die krediet en risiko komitee die opdrag gekry het om die kapitaal transaksie te finaliseer.


Die besluit van die komitee is soos volg genotuleer:


Following the discussion, the committee approved and noted that all necessary documentation could be finalised on 29 October 1999.”


Dit is Van der Walt se saak dat dit wat deur die krediet en risiko komitee goedgekeur is ’n transaksie is wat verskil van wat oorspronklik deur die raad op 12 Augustus goedgekeur is. Hierdie getuienis van Van der Walt is weerlê deur die getuienis van Brand. Brand het op 12 Augustus 1999 ’n volledige voorlegging aan die raad gemaak. ’n Verdere voorlegging is deur hom gemaak volgens ’n dokument wat ’n datum 27 Oktober 1999 dra. Tydens kruisondervraging het Brand konklusief aangetoon dat hy hierdie voorlegging slegs op 28 Oktober 1999 kon gedoen het. Indien na die geheel van Brand se getuienis gekyk word is daar geen rede waarom hierdie standpunt van hom enigsins betwyfel kan word nie. Dit staan dus vas dat wat die krediet en risiko komitee gemagtig was om goed te keur die 1999 kapitaal transaksie was soos dit geïmplementeer is en wat hierdie R115 miljoen belegging van SB in PVET 2 insluit.


Op 8 November 1999 is ’n spesiale raadvergadering van SH gehou waar die volle direksie teenwoordig was uitgesonderd Sacks en van den berg. Die notule van die krediet en risiko komitee se vergadering van 28 Oktober 1999 was voor die raad. Die notule lui ten opsigte daarvan soos volg:


The draft minutes of the committee meeting held on 28 October 1999 were noted.”


Van der Walt het gepoog om aan te voer dat die woord “noted” nie beteken dat die raad die besluit wat deur die krediet en risiko komitee geneem is goedgekeur het of dat daar ingegaan is op die detail van dit wat die krediet en risiko komitee goedgekeur het nie. Dit is ’n onsinnige, onlogiese en verkeerde benadering in die lig van die getuienis.


Ten opsigte van die kapitaal transaksie is besluit dat die optrede van beskuldigde 1 om namens SH te teken “be confirmed, ratified and approved”.


Van der Walt se standpunt was gewees dat daar geen magtiging van die raad van direkteure van SH gegee was om die 1999 kapitaal transaksie soos dit geïmplementeer is goed te keur nie en dat die raad ’n ander transaksie goedgekeur het wat voorgelê was op 12 Augustus 1999.


Die staat het mnre. Sacks en Van den Berg, die enigste twee direkteure wat nie by die vergadering van 8 November 1999 was nie geroep in ’n poging om Van der Walt se getuienis te versterk. Sacks ondersteun Van der Walt hoegenaamd nie. Ongelukkig moet ek sê dat Van den Berg alles behalwe ’n indrukwekkende getuie was. Dit wil voorkom asof Van den Berg probeer het om homself te distansieer van die 1999 kapitaal transaksie sonder enige sukses.


Soos ook reeds aangetoon is die getuienis van Brand uitdruklik dat dit wat uiteindelik geïmplementeer is die transaksie is wat voor die krediet en risiko komitee gedien het op 28 Oktober 1999 toe hy dit aan hulle verduidelik het en dat al daardie dokumentasie weer voor die volle raad was op 8 November 1999.


Ten opsigte van die 1999 kapitaal transaksie was die staat geforseer deur die getuienis van Brand om nie ernstig te betoog dat die transaksie nie behoorlik goedgekeur is nie. Daarom het die staat ietwat van front verander en twee verdere aspekte vermeld. Die eerste is dat dit ’n vereiste was dat die Registrateur die transaksie moet goedkeur en die tweede was dat die eksterne ouditeure dit moes goedkeur.


Na my oordeel is daar geen meriete in hierdie betoog nie. Soos tereg namens beskuldigde 1 betoog is, was daar verskeie vergaderings met die Reserwe Bank en is verskillende briewe gewissel tussen die Reserwe Bank en SB. Goedkeuring was verleen vir die transaksie. Op geen stadium was dit die getuienis van die getuie Nayger dat daar nie behoorlike goedkeuring vir die transaksie verleen was nie.


Die ouditeur Van Jaarsveld was bewus van die vereistes gestel in die notules vir die goedkeuring van die kapitaal transaksie. Sy getuienis is tot die effek dat die ouditeure tevrede was met die 1999 kapitaal transaksie. Daar was ook kontak tussen beskuldigde 1 en Van Jaarsveld en ander ouditeure om leiding te kry oor hoe die finansiële inskrywings gehanteer moes word. Daar kan geen ander gevolgtrekking gemaak word as dat die ouditeure ook die transaksie goedgekeur het nie.


Ten opsigte van die vraag of PVET 2 oor die vermoë beskik het om die R115 miljoen aan SB te betaal wanneer die verpligting ontstaan het, het Van der Walt verskeie feite uit die oog verloor. Volgens hom was die deposito van PVET 2 in SB van R57,9 miljoen vir ’n termyn van vyf jaar nie voldoende om PVET 2 se verpligting te delg nie. Die getuienis is duidelik dat in die periode van vyf jaar die rente opbrengs saam met die kapitaal voldoende sou wees om die R115 miljoen terug te betaal. Bo en behalwe hierdie belegging het PEI ook ’n borgstelling geteken teenoor SB vir die nakoming van PVET 2 se verpligtinge teenoor saambou en is daar ’n sessie gedoen van PEI se regte in 8 665 000,00 SH voorkeur aandele wat PEI besit het. Op daardie wyse is die verpligtinge van PVET 2 teenoor SB ook verseker. Op die stadium toe beskuldigde 1 die ooreenkomste geteken het was die waarde van daardie aandele R99,6 miljoen. Wat ook uit die oog verloor is, is dat PEI ’n vorderingsreg van ongeveer R6 miljoen teen Fedsure ook as sekuriteit aan SB sedeer het vir die behoorlike nakoming van PVET 2 se verpligtinge.


Lessing is ’n senior en ervare prokureur wat kennis dra van gestruktureerde finansieringstransaksies. In teendeel dit is waarmee hy tans hoofsaaklik sy brood en botter verdien. Hy het al die kontrakte in verband met die 1999 kapitaal transaksie op kort kennisgewing nagegaan en inderdaad ’n reëling getref dat indien daar enige aspek is wat hy te eniger tyd na 28 Oktober 1999 wou verander die partye daartoe sou toestem. Dit het gebeur. Sekere bepalings in die ooreenkomste is inderdaad gewysig en geteken op die datum wat die wysigings aangebring is.


Lessing het getuig dat hy tydens konsultasie met die staatsadvokate gevra is of daar goedkeuring van die 1999 kapitaal transaksie plaasgevind het. Lessing het onomwonde gesê dat hy tevrede was dat dit wel goedgekeur is. Dit is die prokureur wat spesifiek versoek is om behulpsaam te wees met die finalisering van al die dokumentasie oor die 1999 kapitaal transaksie.


Dit is ondenkbaar dat daar in besonder wat die PVET 2 transaksie betref asook die 1999 kapitaal transaksie in geheel ooit ’n suggestie kon wees dat daar nie behoorlike goedkeuring was nie.


Die getuienis van die staat toon duidelik dat wat afdeling 4 van aanklag 1 betref daar geen meriete in die bewerings van roekeloosheid is nie.


Afdeling 5 van aanklag 1 handel met die sogenaamde onderskrywingsdeposito’s wat betaal is deur SB en SH in ’n totale bedrag van R47 miljoen. Hierdie onderskrywingsdeposito’s maak ook deel uit van die 1999 kapitaal transaksie wat behoorlik goedgekeur is. Die betaalbaarheid van hierdie deposito’s is ook afhanklik van die aandeleprys van SH waarmee reeds hierbo gehandel is. Dit is ook so dat die ooreenkomste wat wel gesluit is in verband met hierdie deposito’s nie strook met die bewerings in die akte van beskuldiging nie, maar dit is nie nodig dat ek in detail daarna verwys nie. Feit is dat daar nie gesê kan word dat beskuldigdes roekeloos was deur te steun op die aandeelprys van SH nie.


Afdeling 6 van aanklag 1 handel met ’n lening van R12,5 miljoen wat SB aan PEI gemaak het.


Hierdie lening vorm deel van die 1999 kapitaal transaksie wat behoorlik goedgekeur is en wat hierdie lening insluit. Waar die akte van beskuldiging aanvoer dat beskuldigde 1 die leningsooreenkoms geteken het is dit verkeerd. Daar bestaan geen skriftelike ooreenkoms in hierdie verband nie. Van der Walt het dit ook toegegee. Daar bestaan net ’n brief ter bevestiging van die reëlings.


Verder meer is die staat heeltemal verkeerd geadviseer deur Van der Walt. Die agterliggende feite is dat die R12,5 miljoen deel gevorm het van ’n bedrag van R24,7 miljoen wat deur PVH op belegging by SB geplaas is na die aankoop van ’n 26% belang deur SH in PVH. ’n voorwaarde van hierdie belegging was dat PVH onderhewig aan sekere voorwaardes kon voorskryf aan wie SB die geld kon uitleen en ook op welke voorwaardes. Die volle risiko vir die opbrengs en/of die verlies van die lening deur SB aan wie ookal PVH voorskryf sou gedra word deur PVH en het SB geen risiko van enige aard opgedoen nie.


In die lig van die voorgaande is daar geen getuienis deur die staat gelewer wat roekeloosheid bewys ten opsigte van hierdie besondere aspek nie.


Afdeling 7 van aanklag 1 handel met ’n belegging van R247 027 865,68 wat Swiss Re belê het in promesses van SH ter gedeeltelike fasilitering van die 1999 kapitaal transaksie.


Hierdie bewering van roekelose optrede hou weereens verband met die aandeleprys van SH in die opsig dat beweer word dat die belegging van Swiss Re onderhewig geraak het aan die krediet risiko’s wat op SB en SH van toepassing was en dat dit ’n sogenaamde “experience account balance” (EAB) nadelig kon beïnvloed. (Dit is nie nodig dat in detail op die sogenaamde EAB ingegaan hoef te word nie. Die definiëring van die sogenaamde EAB kom voor in bewysstuk 98, p 12 en in besonder p 15 daarvan. In kort kom dit daarop neer dat dit ’n balans bedrag is wat beskikbaar is aan Swiss Re as versekeraar om ’n vordering van die versekerde te betaal.)


Indien SH of SB of enige direkteur of amptenaar wat insluit die twee beskuldigdes Swiss Re sou oorreed het om die belegging te maak stel dit nie roekelose optrede daar nie. Soos reeds aangedui was daar goeie redes waarom geglo kon word dat die aandeleprys van SH positief sou groei.


n Verdere beginsel probleem wat die staat in hierdie verband het is die volgende.


Bewysstuk 98 p 12 is ’n sogenaamde Combined Finite Risk xl Insurance Treaty gesluit tussen SB en National Insurers Limited (NI). ’n Verdere soortgelyke ooreenkoms is gesluit tussen NI en Swiss Re. Die fondse wat Swiss Re in die promesses belê het was deel van premies wat deur SB aan NI betaal is vir versekeringsdekking. Die geld is weer deur NI oorbetaal aan Swiss Re in ’n herversekeringsooreenkoms tussen NI en Swiss Re. Die premies wat aldus oorbetaal is aan die versekeraar of verder aan die herversekeraar is nie die eiendom van die versekerde nie. Die versekerde kan gevolglik ook nie aan die versekeraar of herversekeraar voorskryf hoedanig met daardie versekeringspremie gehandel moet word nie. Die belegging van Swiss Re in die promesses van SH is dus ’n belegging wat Swiss Re gemaak het. Die standpunt wat deur Van der Walt ingeneem is, is dat Swiss Re deur hierdie belegging die EAB wat voorsiening moes maak om eise uit te betaal, verminder het en die geld op risiko geplaas het en dat op hierdie wyse op ’n roekelose wyse opgetree is. Wat egter uit die oog verloor is, is dat bo en behalwe die belegging daar nog meer as R300 miljoen beskikbaar was vir die dekking en hantering van enige eise wat ingestel kon word. Verder meer het SB ses maandeliks enige eise hanteer en was versekeringspremies oorbetaal wat volgens die getuie A N Tennick (Tennick), in elke geval enige eis oorskry het.


Dit is nie nodig dat ek in detail op Tennick se getuienis ingaan nie. Dit is duidelik uit sy getuienis dat Swiss Re verder aanspreeklik was om tot ’n bedrag van R130 miljoen uit eie fondse meer as wat in die EAB beskikbaar was te voorsien ingeval van ’n eis.


Dit blyk ook dat aan die einde van die versekeringsperiode meer as R550 miljoen uit die EAB aan SB oorbetaal is.


Na my oordeel is daar geen meriete in die bewering dat die beskuldigdes roekeloos opgetree het op die basis dat Swiss Re ’n belegging in SH promesses gemaak het nie.


Afdeling 8 van aanklag 1 handel met die leningsrekening tussen SB en SH wat nie rentedraend was.


Volgens Van der Walt het dit meegebring dat SB verpligtinge van SH gefinansier het en in die proses inkomste verdienste verbeur het.


Van der Walt se eie getuienis was dat hierdie tipe van lenings in ’n groep van maatskappye niks vreemd is nie. Verder verloor in besonder Van der Walt uit die oog dat volgens alle getuienis wat die staat voorgelê het die kapitaal transaksies wat aangegaan is groot voordeel vir SB ingehou het. Daar is na my oordeel geen meriete in die bewering van roekeloosheid teen die beskuldigdes in hierdie afdeling van aanklag 1 nie.


Afdeling 9 van aanklag 1 handel met die bewering dat SB die 1998 en 1999 kapitaal transaksies gefinansier het en dat dit meegebring het dat fondse wat inkomste moes genereer gebruik is as kapitaal. Op daardie wyse word aangevoer het die beskuldigdes roekeloos opgetree.


Dit is duidelik dat die raad van direkteure deurentyd die transaksies goedgekeur het en dat die eksterne ouditeure bewus was van die transaksies en nogtans die finansiële state gesertifiseer het.


Die bewerings is ook daarop gebaseer dat die kapitaal wat wel deur SB voorsien is net ‘n negatiewe effek gehad het. Dit is, in die lig van die geheel van die getuienis, totaal en al verkeerd. Ek sê dit onder meer op grond van die getuienis van Robinson, Brand en Lessing, afgesien daarvan dat direkteure van SH en SB wat getuig het ook van mening was dat die transaksies goed oorweeg was en voordelig was.


Robinson het op 23 Mei 2002 ’n brief gerig aan KPMG vir aandag mnr. Herman de Beer. Daarin spreek hy die standpunt van KPMG, en in besonder dan mnr. De Beer oor die kapitaal transaksies aan. Hierdie brief is ingehandig as bewysstuk 69 en gaan ek dit nie in detail behandel nie. Wat Robinson egter duidelik aantoon is dat De Beer, en tot ’n baie groot mate dan ook Van der Walt, net negatiewe faktore in verband met die kapitaal transaksies in aanmerking geneem het. Geen positiewe aspekte is na gekyk nie. So sê Robinson onder andere op p 2440 van die oorkonde:


... I look at this transaction and we can debate this transaction and analyse this transaction. Primevest fundamentally believed that the October 1999 transaction was the best we could put up to Saambou Bank and Saambou Holdings at that point in time and that this transaction was a beneficial transaction. It was not designed to be penal to Saambou Bank and I think on the KPMG report it does sometimes happen when you get a forensic auditor to look at something he is looking for fault. He is not really looking for positives here. … I could come to no other reasonable conclusion in looking at his report that he purposely ignored or did not take into account the positive elements of this transaction.”


Brand getuig oor dieselfde aspek. Die volgende vraag was aan hom gevra:

“ ’n Verdere aspek op hierdie punt, mnr. Brand, u het dit verskeie kere genoem en dit is ook my indruk van die transaksie, dat hierdie transaksie in sy geheel was so voordelig vir Saambou dat dit ondenkbaar was in elk geval dat enige iemand teen enige faset daarvan ’n beswaar sou kon maak?” Die antwoord is: “Dit is my gevoel, u edele, ek bedoel ons kry baie kritiek op hierdie transaksie en ek het self gedink ... gevra het, u kan selfs ’n paneel van deskundiges hier kry en ons kan weer deur hierdie transaksie werk, want dit is maklik vir almal, hulle kritiseer die transaksie, maar dit is soos, u weet, ek kom en ek ontwerp ’n pragtige enjin vir ’n BMW, u weet, en dan kom een ou en dan sê hy vir jou maar die ‘piston’ werk nie en die ander ou sê vir jou maar daardie ding, die enjin kan nie werk nie, ek bedoel vir my, ek glo vandag nog in hierdie transaksie, en ek, soos ek sê, ek is selfs bereid om te sê u kan vandag ’n klomp deskundiges daar neersit, en soos ek sê, die een grys area wat daar is, is die krediet risiko, maar hierdie transaksie was absoluut voordelig vir Saambou en na al hierdie ondervragings die afgelope tyd gaan ’n mens ook deur ’n sielewroeging om te kyk het jy ’n fout gemaak en jy word getoets en gekyk van alle kante af het jy ’n fout gemaak. ... As u gaan ontleed en sien hoe goed hierdie transaksie vir Saambou is dan, daar is geen twyfel daaroor nie.” (Bladsye 3162 en 3163 van die oorkonde.)


Ook Lessing het oor hierdie aspek getuig. Insiggewend is dat Lessing getuig het oor die aandele aansporingsskema, die regsmenings wat verkry is, sy opinie wat teenoorstaande dié van senior advokate was en sy volharding om toe te sien dat daar nie ’n oortreding van artikel 38 van die maatskappyewet is nie. Uiteindelik, sê Lessing, het hy sy sin gekry en is die ooreenkomste in verband met die aandele aansporingsskema gewysig na sy sin en het hy die goedkeuring van die Suid-Afrikaanse Inkomste Diens gekry. Op die stadium wat De Beer se verslag saamgestel is was Lessing ondervra deur De Beer en sê hy onder andere die volgende: “So ek het ’n persoonlike belang daarby gehad dat hier nie oortreding moet wees van artikel 38 nie, want ek kan tog nouliks ’n ferm regsmening uitreik en dan die volgende dag deelneem daaraan, want dan raak ek, ek sou waarskynlik dan die enigste een wees wat krimineel aangekla kon word op hierdie klagte omdat ek met volle kennis daaraan deelgeneem het en in die eerste ondervraging by die Reserwe Bank was die ondervragers baie vrolik daaroor gewees dat hulle nou my uitgevang het en dat ek my aan so ’n onnoselheid skuldig gemaak het en hulle was baie teleurgesteld toe hulle hoor dat ek daardie spesifieke probleem aangespreek het en die ontvanger gekry het om uiteindelik dit te assesseer. ... Hy (De Beer) het gesê dit is mense soos ek wat sy lewe moeilik maak, want hy sê hy het, hulle het, dit was ’n groot aanvalspunt gewees en hulle het een persoon afgesonder om hierdie wonderlike happie wat hulle nou hier, sappige happie van hierdie absolute onwettigheid van oortreding van artikel 38, want hier is my opinie dan wat sê ... Ja, ek is mos, hier is, ek is nou deel, ek word nou ondervra en ek is nou party tot hierdie partytjie.” (Vergelyk bladsye 2529 en 2530 van die oorkonde.)


Tydens verdere ondervraging deur die hof self sê Lessing dat De Beer se reaksie die volgende was: “Hy het vir my gesê, hy sê dit is mense soos ek wat sy lewe vir hom moeilik maak, u weet, daar is ’n uitdrukking wat sê ’n forensiese ouditeur hou nie van goeie nuus nie. En dit was goeie nuus en hy het nie daarvan gehou nie.” (Vergelyk bladsy 2530 van die oorkonde.)


Verder in besonder oor die transaksies het Lessing die volgende gesê:


Daar is geen kwessie daaroor nie dat hierdie transaksies buitengewoon innoverend en kompleks was maar daar is nie iets onbehoorlik in enige van hierdie transaksies nie. Dit is juis die terrein van kommersiële prokureurs en ‘structured finance advisors’ soos wat PrimeVest was om met innovering binne die raamwerk van die regsreëls met strukture vorendag te kom wat vir deelnemer daaraan die beste moontlike, na- belasting en ander opbrengste lewer en as u kyk na die voorleggings wat hulle gemaak het het hulle deur hierdie strukture daarin geslaag om die fondse en befondsing teen ‘n relatiewe lae koers te kry. Dit is waaruit hierdie industrie sy bestaan regverdig is om met innoverende strukture binne die raamwerk van die reg en dit is die verskil tussen ‘tax avoidance’ en ‘tax’ wat is die ander een? Vermyding en - ontduiking en vermyding. Dit is die verskil. Die mense wat in hierdie industrie werksaam is, is hoogs begaafd en staat om baie innoverende strukture mee vorendag te kom, maar dit is ’n span wat daarna kyk. Daar is regsadviseurs, daar is gestruktureerde finansieringsadviseurs en die hoofdoel daarvan is om binne die bepalings van die reg met iets vorendag te kom wat innoverend is en wat ’n goeie resultaat skep vir die deelnemer aan die skema en dit is hoe ek hierdie skema sien. Dit is niks onbehoorlik, onwettig of verkeerd hiermee nie. Ek kan nie met u saamstem op die algemene stelling nie maar dit is wat ek bereid is om te sê. ... So ek was besig om seker te maak dat dit wat gedoen was behoorlik gedoen is en dat die Saambou groep se belange, tot die mate wat die transaksie reeds plaasgevind het, nog verder beskerm word. Derhalwe die voorstelle rondom die waarborgaktes van PEI ensovoorts, ensovoorts.” (Vergelyk bladsye 2559 en 2560 van die oorkonde.)


Na my oordeel het die staat geen getuienis voorgelê wat enige roekelose optrede van die beskuldigdes bewys ten opsigte van hierdie afdeling van aanklag 1 nie.


In die algemeen ten opsigte van aanklag 1 is namens beskuldigde 1 aangevoer dat elkeen van die besluite wat ter sprake is was geneem nadat die direksie of die tersaaklike komitee die transaksie sorgvuldig ondersoek en oorweeg het aan die hand van deskundige advies en leiding en raadpleging met onder andere die eksterne ouditeure, die Reserwe Bank en die kundige personeel van Fedsure. Ek stem saam met hierdie betoog.


Dit is ook duidelik dat alle inligting wat tot die kennis van beskuldigde 1 en 3 was tot die kennis van die direksie en die ouditeure was.


Die getuienis van die eksterne ouditeure was ook duidelik dat hulle volle samewerking gehad het van die direksie en personeel van SH en SB en dat daar op geen stadium enige tersaaklike inligting verberg of weerhou was of dat hulle op enige wyse beïnvloed was om finansiële state te sertifiseer nie.


Daar was in die getuienis van mnr. D M Lawrence (Lawrence) gepoog om getuienis voor te lê oor gebeure na die aanstelling van die kurator. Dieselfde het gebeur toe die kurator, Louw, getuig het. Heeltemal tereg is beswaar gemaak teen daardie getuienis. Die getuienis was daarop gemik om inligting te verskaf oor die uiteindelike lot van die transaksies na die intrede van kuratorskap. Heeltemal tereg is namens die verdediging aangevoer dat roekeloosheid waarna verwys word in aanklag 1 nie gemeet word aan die hand van enige ingetrede gevolg , of die afwesigheid daarvan nie, maar aan die hand van wat ’n redelike direksie, gegee die maatskappy se posisie ten tye van die neem van die besluite, met in agname van die feite soos hulle toe bestaan het, sou gedoen het. Verder meer is aangevoer dat die oorsake van SB se ondergang ingewikkeld is en onverwant is aan die transaksies of hulle effek. In hierdie verband is die staat se saak juis nie dat die transaksies die oorsaak van die bank se ondergang en kuratorskap was nie. Dit is aangevoer dat die uiteindelik lot van die transaksies die direkte gevolg is van die kuratorskap en die onvermydelike voortydige beëindiging van die transaksies anders as in hulle bestemde loop.


Ek stem met hierdie standpunt heelhartig saam. In besonder is dit ’n aspek wat Van der Walt nie in aanmerking geneem het nie.


Verder meer is die getuienis oorweldigend dat die direksie en personeel van SH en SB elkeen van die transaksies met nougesetheid en toewyding oorweeg het. Geen steen is onaangeroer gelaat om die korrekte advies te kry nie. Talle regsmenings is verkry, deskundiges is geraadpleeg en die eksterne ouditeure was gevra hoe met transaksies en boekinskrywings omgegaan moet word. Daar is geen getuienis aangebied om aan te toon dat óf beskuldigde 1 óf beskuldigde 3 hoegenaamd die bedoeling gehad het om SB of SH te benadeel en/of om hulleself te bevoordeel soos gesuggereer word in die akte van beskuldiging nie.


Na my oordeel is daar geen getuienis aangebied op grond waarvan die beskuldigdes skuldig bevind kan word op aanklag 1 nie.


Aanklag 2 is slegs ingebring ten opsigte van beskuldigde 3.


Die getuienis toon aan dat na ’n lang en sorgvuldige proses waartydens indringend aandag gegee is aan die bepalings van die aandele leningsskema en die bepalings van artikel 38 van die maatskappyewet die direksie van SH op 28 Maart 1996 besluit het om die aandele leningsskema in die lewe te roep. Dit is korrek, soos aangevoer is namens beskuldigde 3, dat die lenings, die bedrae daarvan, die feit dat dit gemaak is aan persone wat nie werknemers van SB of SH was nie, nie in geskil is nie. Die akte van beskuldiging maak egter die bewering dat die persone “were not employees of SB and/or SH and/or the Saambou Group of Companies” nie. Dit is kennelik nie korrek nie. Die getuienis is dat SH ’n 26% aandeel in Baldersons opgeneem het. Baldersons is dus deel van die Saambou groep van maatskappye en is die persone aan wie die geld geleen is werknemers in die Saambou groep van maatskappye.


Artikel 38(2)(a) van die Maatskappyewet bepaal onder andere dat:

die bepalings van subartikel (1) word nie uitgelê nie as ’n verbod op –

(a) die uitleen van geld in die gewone loop van sy besigheid deur ’n maatskappy wat die uitleen van geld as hoof besigheid het.”


Dit is duidelik uit die getuienis dat die hoof besigheid van SB as ’n bank is om geld uit te leen.


Heeltemal korrek is aangetoon dat ten einde te kan slaag met aanklag 2 die staat moes aantoon dat die lenings wat gemaak is nie in die gewone loop van SB se besigheid gemaak is nie.


Dit is gemeensaak dat SB lenings gemaak het aan personeel. Geen poging was aangewend om aan te toon dat die lenings in die aandele leningsskema op ander terme en voorwaardes plaasgevind het as ander lenings aan die personeel nie. Dit is duidelik dat Van der Walt nie na sodanige ander lenings gekyk het om die bepalings van artikel 38 te oorweeg nie en bestaan daar dus geen getuienis van die oortreding van artikel 38 nie.


Dit is so, soos aangevoer namens beskuldigde 3, dat Van der Walt gepoog het om te sê dat die lenings ten opsigte van die aandele leningsskema vergelyk moet word met lenings aan ander kliënte van SB. Selfs al is dit so is daar geen getuienis aangebied om die verskil in verskillende lenings aan te toon nie. Hierdie gebrek aan getuienis affekteer die aandele leningsskema met al sy wysigings daartoe.


Regsmenings was bekom oor die geldigheid van die aandele leningsskema. Dit is op meerdere geleenthede deur die lede van die direksie oorweeg. Uiteindelik het die direksie tot die gevolgtrekking gekom dat die lenings in die gewone loop van besigheid van SB is. Hierdie standpunt is ook deur Sacks bevestig en het hy gesê dat dit die bona fide oortuiging van die direksie was dat die lenings in die aandele leningsskema lenings in die gewone loop van besigheid was.


Selfs al word aanvaar dat die personeel van Baldersons nie personeel van die Saambougroep van maatskappye is nie, is daar geen getuienis deur die staat aangebied dat die lenings aan die Balderson personeel nie in die gewone loop van die besigheid van SB gemaak was nie.


Na my oordeel is daar geen getuienis aangebied op grond waarvan beskuldigde 3 skuldig bevind kan word op aanklag 2 nie.


Alvorens met aanklagtes 3-13 individueel gehandel word moet aandag geskenk word aan die bewering dat aanklagte 3-13 telkens plaasgevind het afgesien van elke beskuldigde se eie handeling en skuld, met ’n gemeenskaplike opset. Dit is juis die gemeenskaplike opset of dan beweerde gemeenskaplike oogmerk wat nou beoordeel moet word. Die gemeenskaplike oogmerk volgens die akte van beskuldiging is die beweerde assosiasie van die beskuldigdes met mekaar en in sommige gevalle met andere om die handelinge en/of versuime wat in aanklagte 3-13 uiteengesit is te verrig. Soos reeds aangetoon is klagte 3 ’n aanklag van diefstal met alternatiewe en aanklagte 4 – 13 aanklagte van bedrog met alternatiewe aanklagte.


Die gewone wyse waarop gemeenskaplike opset of gemeenskaplike oogmerk bewys word is die bewys van ’n voorafgaande afspraak deur en onder die beskuldigdes en hulle beweerde medepligtiges betreffende die handelinge of nalate wat die onderwerp van die aanklagte vorm.


In paragraaf 12.10 van afdeling A van die akte van beskuldiging word die gemeenskaplike oogmerk soos volg geformuleer:


12.10 The Accused, having performed the reckless acts set out at Count 1 in Part B hereto and being exposed to the various incentive schemes conducted by SB, associated themselves with one or all of them to perform some or all of the unlawful acts, set out at Counts 3 to 13 in Part B hereto, in furtherance of a purpose common to them, such purpose including the prevention of information regarding the risks and/or losses and/or weaknesses in the financial position of SB, and consequently SH, being disclosed to stakeholders and/or becoming necessary to be disclosed.”


Met ‘n beroep op die welbekende uitspraak in die saak van S v Mgedezi 1989 (1) SA 687 A het die konstitusionele hof in S v Thebus and Another [2003] ZACC 12; 2003 (6) SA 505 op 532H-I die volgende gesê aangaande gemeenskaplike oogmerk:


If the prosecution relies on common purpose, it must prove beyond a reasonable doubt that each accused had the requisite mens rea concerning the unlawful outcome at the time the offence was committed. That means that he or she must have intended that criminal result or must have foreseen the possibility of the criminal result ensuing and nonetheless actively associated himself or herself, reckless as to whether the result was to ensue.”

Dit beteken dat die staat moet bewys dat daar ’n gemeenskaplike oogmerk tussen die beskuldigdes bestaan het wat slaan op die pleging van ’n onwettige handeling.


Tereg is aangevoer dat die vraag of daar ’n gemeenskaplike oogmerk bestaan al dan nie en of ’n besondere beskuldigde hom daarmee vereenselwig al dan nie is feitevrae. Indien omstandigheidsgetuienis voorgelê word soos die staat in in casu gepoog het om te doen geld die beginsels wat neergelê is in R v Blom 1939 (AD) 188.


Aanklag 3 verskil van aanklagte 4-13. Daar sal dus eerstens gehandel word met die gemeenskaplike oogmerk wat betref aanklagte 4-13. Aanklagte 4-13 is aanklagtes wat gefundeer is op die beweerde bedrieglike wanvoorstellings deur middel van of beweerde verswyging of weglating van feite of inligting in die finansiële jaarstate van onderskeidelik SH en SB. Dit slaan ook op sogenaamde valse inskrywings.


Beskuldigde 1 was tot 1 Februarie 2001 betrokke by afdeling groep finansies. Hy was dus nie betrokke by die samestelling van die finansiële jaarstate vir die jaar 2001 nie. Beskuldigde 3 was nie betrokke by die opstel van die finansiële jaarstate nie maar was wel betrokke by die goedkeuring en in sommige gevalle met die ondertekening van die finansiële jaarstate.


Die getuienis is duidelik dat die finansiële inskrywings en finale finansiële jaarstate in alle gevalle in die gewone gang van sake opgestel is en op die gewone wyse nagesien, gewysig en goedgekeur is. Die getuienis is dat die eksterne ouditeure te alle tye volle en onbelemmerde toegang tot die direksie, personeel, die oudit komitee van SH en SB gehad het asook enige dokumente wat hulle benodig het. Dit is duidelik uit die getuienis van die eksterne ouditeure dat daar op geen stadium enige inligting van hulle weerhou is nie. Op geen stadium het enige van die eksterne ouditeure gemeld dat hulle mislei is nie. Die teendeel is waar. Volle samewerking was telkens aan die eksterne ouditeure verleen. Die getuienis is verder dat die personeel van SH en SB en in besonder beskuldigde 1 op ’n gereelde grondslag advies ingewin het by die eksterne ouditeure oor hoe boek inskrywings gehanteer moet word. Daar is getuig dat daardie advies telkens gevolg is anders sou dit in die finale jaarstate opgemerk gewees het. Ook was gebruik gemaak van regsadvies oor die korrektheid van inskrywings in die finansiële state. Hierdie advies is telkens ingewin vanaf onafhanklike persone. Die eksterne ouditeure wat getuig het het ook getuig dat daar op geen stadium enige druk op hulle uitgeoefen was om inskrywings op ’n spesifieke manier te doen of dat hulle enigsins beïnvloed was deur enige iemand verbonde aan SH of SB nie.


Die lede van die oudit komitee was hoogs gekwalifiseerde, baie ervare syfervaardige persone in die sakewêreld. Hulle was nie uitvoerende direkteure. Die prosedure wat gevolg was deur die oudit komitee was ’n openlike gesprek voering. Geleenthede was geskep vir werknemers en lede van die direksie om apart met die oudit komitee te praat. Eksterne ouditeure was teenwoordig by vergaderings van die oudit komitee. Nadat die oudit komitee in samewerking met al die gemelde persone die state goedgekeur het is dit aan die volle direksie voorgelê. Weereens was die state daar bespreek en was daar soms wysigings aangebring en is dit daarna goedgekeur. Die getuienis is ook dat die goedkeuring gepaard gegaan het met ’n opdrag aan die ondertekenaars van die finansiële jaarstate om dit te onderteken. Wie die ondertekening moes doen is nie vas bepaal nie en kon enige van die lede van die direksie daardie opdrag kry.


In soverre die finansiële jaarstate en inskrywings te doen het met kapitaal transaksies en ander skemas, het dit gevolg na die advies van kundige mense. In hierdie verband word verwys na die kundigheid van Decimax en van Primevest. Geeneen van hierdie deskundige groepe was beïnvloed of gemanipuleer deur enige lid van die direksie of personeel van SH of SB nie.


In die proses hierbo na verwys bestaan daar eenvoudig net geen ruimte dat ’n gemeenskaplike oogmerk of opset gevorm kan word deur twee of drie individue nie.


Na my oordeel het die staat net eenvoudig nie daarin geslaag om enige gemeenskaplike oogmerk ter pleging van enige van die misdrywe na verwys in aanklagte 3 tot 13 en in besonder dan ook aanklagte 4 tot 13 te bewys nie.


Ten opsigte van aanklag 3, die aanklag van diefstal, met die alternatiewe daartoe het die staat na my oordeel nie sy bewyslas gekwyt nie en wel om die volgende redes.


Hierdie aanklag het te doen met die sogenaamde aandele ruiltransaksie. Dit het deel gevorm van die 1999 kapitaaltransaksie. Die aandele ruiltransaksie is reeds vermeld in die dokumentasie wat voor die krediet en risiko komitee op 28 Oktober 1999 gedien het. Ek het reeds verwys na die voorlegging van Brand op daardie dag en vorm hierdie ruiltransaksie deel van sy voorlegging. Die krediet en risiko komitee het die transaksie goedgekeur en opdrag gegee dat onmiddellik voortgegaan moet word met die finalisering van dokumentasie. Op 8 November 1999 het die volle direksie van SH die transaksie geratifiseer soos ook reeds vermeld.


Die toestemming aan CMI om die aandele ruil skema deur te voer is deur beskuldigde 1 onderteken op 4 Februarie 2000. Hy was teenwoordig tydens die vergadering van 28 Oktober 1999 en het gevolglik geweet van die toestemming van die krediet en risiko komitee om met die transaksie voort te gaan. Beskuldigde 1 was ook bewus van die ratifikasie van daardie besluit op 8 November 1999.


Prokureur Lessing het op 28 Oktober 1999 begin om die relevante dokumentasie na te gaan en het gereël dat hy geregtig sou wees om wysigings tot die dokumentasie aan te bring soos reeds voormeld. Klaarblyklik omdat ’n wysiging aangebring is, is die dokument eers in Februarie 2000 deur beskuldigde 1 onderteken.


Heeltemal tereg is namens beskuldigde 1 daarop gewys dat vir ’n suksesvolle vervolging op hierdie aanklag die staat wederregtelikheidsbewussyn aan die kant van beskuldigde 1 moet bewys. Dit is nie moontlik in die lig van dit wat reeds hierbo uiteengesit is nie.


Dit is so dat die aandele van CMI na PVET 2 oorgedra is voor die besluit van die krediet en risiko komitee op 28 Oktober 1999. Robinson het getuig dat hy instrumenteel was daartoe en hy was oortuig daarvan dat die transaksie goedgekeur sou word wat dan ook gebeur het. Sou die transaksie op 28 Oktober 1999 nie goedgekeur gewees het nie kon die aandele eenvoudig net terug gegee gewees het aan CMI.


Beide Robinson en Brand het getuig dat daar geen bedrieglike opset aan hulle kant was om die aandele te steel nie. In teendeel Brand was onthuts oor die aanklag en die feit dat hy en Robinson daarby betrek is en sê dat hy die aanklag as verregaande beskou na al die verduidelikings wat hy reeds ten tye van ondervragings verskaf het.


In soverre daar beweer word dat hierdie aandele ruiltransaksie SB van ’n sogenaamde “resource” ontneem het is dit eenvoudig net nie waar nie. Gewone aandele was geruil vir voorkeur aandele.


Tot die mate wat die aandele gebruik sou word deur CMI om verpligtinge teenoor SB na te kom is die getuienis oorweldigend dat daar verskillende wyses was waarop CMI steeds sy verpligtinge teenoor SB kon nakom.


Na my oordeel is daar geen getuienis voorgelê op aanklag 3 op grond waarvan die beskuldigdes skuldig bevind kan word nie.


Aanklag 4 behels ’n bewering van ’n wanvoorstelling in die 2000 en 2001 finansiële state van SB dat dit ’n bate van R115 miljoen gehad het. Dit is dieselfde R115 miljoen waarna reeds tevore verwys is naamlik die aflosbare voorkeur aandele wat SB by PVET 2 gekoop het ingevolge die 1999 kapitalisasie transaksie.


In paragraaf 11 van aanklag 4 word gesê dat die aandele ruiltransaksie ’n onwettige transaksie was en dat PVET 2 nie aanspraak kon maak op die opbrengs van die verkoop van aandele wat PVET 2 aldus verkry het nie. Dit kan slegs slaan op Van der Walt se bewering dat daar nie magtiging was vir die 1999 transaksie nie. Ek het reeds tevore gewys op die foutiewe standpunt van Van der Walt in hierdie verband.


Van der Walt se standpunt was dat hierdie bedrag van R115 miljoen foutiewelik as ’n bate in die finansiële state aangedui was en dat daar voorsiening daarteen gemaak moes word. Die rede daarvoor was omdat PVET 2 na bewering nie oor voldoende fondse beskik het om die R115 miljoen aan SB terug te betaal nie.


Ek het reeds tevore daarop gewys dat hierdie standpunt van Van der Walt heeltemal verkeerd is.


Behoudens die verkeerde standpunt van Van der Walt word hy ook nie ondersteun deur die eksterne ouditeure nie. Van Jaarsveld het getuig dat hy tevrede was met die feit dat die R115 miljoen as ’n bate in die finansiële state gereflekteer word. Reyneke, ’n eksterne ouditeur wat ook namens die staat getuig het, het presies dieselfde standpunt ingeneem. So ook Strydom.


Lessing wat betrokke was by die skikking van die onderskeie ooreenkomste het volledig verduidelik welke sekuriteite SB gehou het vir die betaling van die bedrag van R115 miljoen.


Selfs Van der Walt was aan die einde van sy kruisverhoor skynbaar tevrede dat sy aanvanklike standpunt verkeerd is. So is aan hom gevra: “maar dan is enige suggestie van kritiek dat die R115 miljoen as ’n bate gelys is, is mos dan absurd, mnr. Van der Walt. Dit sal u sekerlik nou met my saamstem?”


Van der Walt se antwoord was: “Edele, as ’n mens so na die feite kyk stem ek saam.”


Die volgende vraag is insiggewend: “Die, so na die feite kyk, is die korrekte manier na die feite kyk.”


Hiermee het Van der Walt saamgestem.


Ek het reeds hierbo ook verwys na die argument namens die staat dat daar nie goedkeuring gegee is vir die 1999 transaksie deur die Registrateur of dan die Reserwe Bank en die eksterne ouditeure nie. Daar is geen meriete in daardie argument nie.


Daar is na my oordeel geen getuienis voorgelê op grond waarvan die beskuldigdes op hierdie aanklag skuldig bevind kan word nie.


Aanklag 5 handel met ’n beweerde wanvoorstelling toe in die 2001 finansiële jaarstate aangetoon is dat CMI ’n debiteur van SB is in die bedrag van R24 190 350,00. Hierdie aanklag het betrekking op die aandele verskansingskema wat deel uitmaak van die 1998 kapitaal transaksie en die latere aandele ruiltransaksie wat deel uitmaak van die 1999 kapitaal transaksie.


Op die stadium toe CMI aandele moes verkoop in terme van die aandele verskansingskema het die ruil van die aandele reeds plaasgevind en het CMI nie presteer nie. Terselfdertyd het SB ’n vaste verpligting gehad om na te kom van R30 miljoen en is die verpligting van CMI wat nie nagekom is nie bloot daarvan afgetrek en is daar ’n tekort van R6 miljoen wat openbaar is in die finansiële state.


Soos reeds tevore op gewys was al die transaksies wat aanleiding gegee het tot die aandele verskansingskema en die aandele ruiltransaksie behoorlik goedgekeur. Al die feite was deurentyd openbaar. So het die eksterne ouditeur Reyneke bevestig dat die bedrag van R24 190 350,00 as ’n bate afgetrek is van SB se verpligting van R30 miljoen rand en dat hy tevrede is dat dit so geopenbaar is in die finansiële state.


Ek stem saam met die argument dat alle belanghebbendes, insluitende die oudit komitee wat bestaan uit verskeie geoktrooieerde rekenmeesters, die eksterne ouditeure en die direksie volle kennis gehad het van die feite en dat almal tevrede was dat die verpligting van CMI as ’n bate beskou moes word en aldus in die state gereflekteer moes word.


Daar was ’n poging aan die kant van Van der Walt om te sê dat daardie “bate” aangetas moes word. Ook dit is verkeerd omdat Van der Walt uit gegaan het van die standpunt dat CMI hoegenaamd nie kon presteer nie terwyl dit volgens die getuienis kennelik verkeerd is.


Ek is tevrede dat die staat geen saak op aanklag 5 teen die beskuldigdes uitgemaak het nie. In ieder geval het Hoffmann getuig dat beskuldigde 1 nie meer betrokke was by die 2001 finansiële jaarstate nie en is dit inderdaad Hoffmann wat toestemming gegee het dat CMI nie presteer nie of ten minste nie aangedring het daarop dat CMI presteer nie.


Aanklag 6 handel met die sogenaamde uitstaande vaste verpligting van SB ten opsigte van vooruit gedateerde tjeks wat die vaste verpligting teenoor CMI verteenwoordig in terme van die aandele verskansingskema. Die bedrag uitstaande op 31 Maart tot aan die einde van die termyn van die verskansing het die bedrag van R69 713 046,00 beloop.


Die beskuldigdes word van bedrog aangekla deurdat hulle op 22 Mei 2001 ’n wanvoorstelling gemaak het deur nie in die finansiële state te openbaar dat SB hierdie finansiële verpligting het nie.


Hierdie aanklag moet gesien word in die lig van aanklag 5 en wat daaromtrent reeds hierin uiteengesit is.


Die staat se benadering is dat die aandele ruiltransaksie CMI se totale vermoë om te presteer in terme van die aandele verskansingskema uitgewis het en dat SB se vaste verpligting ’n las geword het wat nie verhaal sou kon word nie.


Die getuienis is duidelik dat CMI nie presteer het nie. Dit is ook duidelik dat in die voorgaande finansiële jaar ’n reëling met die Saambou Pensioen Fonds getref is in terme waarvan gewone aandele aan CMI geleen was wat in die mark verkoop kon word om in terme van die aandele verskansingskema te presteer.


Die getuienis is duidelik dat daar gewag was om te kyk of die aandeleprys van SH sou styg voordat stappe geneem sou word deur CMI om sy verpligtinge na te kom.


Dit is korrek dat beide beskuldigde 1 en beskuldigde 3 bewus was van die aandele ruiltransaksie en die probleme wat rondom die prestasie van CMI ontstaan het maar dit is ten ene male nie korrek om te sê dat CMI totaal onvermoënd was om te presteer nie.


Na my oordeel is daar geen bedrog gepleeg deur enige van die twee beskuldigdes nie en was daar ook nie valse inskrywings in die finansiële state van SH en SB aangebring nie. Daar is dus geen getuienis op grond waarvan die beskuldigdes op hierdie aanklag skuldig bevind kan word nie.


Aanklagte 7 en 8 kan gerieflik saam behandel word. Beide hierdie aanklagte handel met die sogenaamde onderskywingsdeposito’s van R23 miljoen en R24 miljoen gemaak deur SH en SB met betrekking tot die 1999 kapitaal transaksie. Dit is die staat se saak dat bedrog gepleeg is deur nie die onderskeie bedrae as bates in die finansiële state aan te tas nie. In die alternatief word gesteun op ’n valse inskrywing.


Die staat se saak is dat die ooreenkoms ten opsigte van die onderskeie bedrae afgestem is alleenlik ten opsigte van belasting implikasies. Die staat se saak is dat rekenkundig die bedrae nie as bates tot die volle omvang in die finansiële state aangetoon kon word nie. Ter onderskraging van hierdie standpunt word dan grootliks gesteun op die getuienis van Robinson en tot ’n mindere mate ook Brand. Brand het heeltemal korrek in sy getuienis aangetoon dat hy op ’n stadium die mening gehuldig het dat die twee bedrae in die finansiële state aangetas moes wees maar dadelik ook toegegee dat hy nie ’n kundige op daardie gebied is nie.


Uit die getuienis is dit duidelik dat beskuldigde 1 advies ingewin het oor hoe die bedrae in die finansiële state hanteer moet word. Die eksterne ouditeure het aanvanklik die standpunt ingeneem dat die bates wel aangetas moes word maar daardie standpunt later terug getrek en ’n nuwe voorstel gemaak op advies van die ouditeur Le Roux dat die ooreenkoms aangepas moet word sodat dit as ’n bate aangetoon kon word. Die getuienis van die eksterne ouditeure was dan ook by monde van Reyneke dat hy ten volle bewus was van al die relevante feite rondom hierdie twee bedrae en dat hy tevrede was en steeds is dat die betrokke deposito’s wel as bates van SH en SB gereflekteer moes word in die finansiële jaarstate. Dit is dan ook die getuienis van Strydom dat hy ook op hoogte was van alle feite en tevrede was dat die bedrae as bates aangetoon word. Ook Van Jaarsveld, die ander eksterne ouditeur het hierdie getuienis bevestig. Na my oordeel is daar geen saak uitgemaak teen die beskuldigdes op grond waarvan ’n hof hulle skuldig kan bevind op hierdie aanklagte nie.


Aanklag 9 handel met die beweerde lening van R12,5 miljoen deur SB aan PEI en die feit dat dit as ’n bate in die finansiële state aangetoon is. In die alternatief tot die klagte van bedrog word beweer dat ’n valse inskrywing gemaak is.


Daar is reeds hierbo gehandel met die aankoop deur SH van ’n 26% belang in PVH en die belegging van R24,7 miljoen.


Ek het reeds tevore hierin verwys na die ooreenkoms tussen SB en PVH en die feit dat PVH kon voorskryf aan wie die lening gemaak moes word, in hierdie geval PEI.


Die essensie van die staat se saak is skynbaar dat daar geen terugbetalings datum bepaal was vir hierdie lening nie en dat die finansiële inskrywings daarom of vals is of ’n bedrieglike inskrywing daarstel.


Robinson het verduidelik waarom die lening gestruktureer is soos dit gedoen is en verder getuig dat dit altyd PEI se bedoeling was om die bedrag aan SB terug te betaal. Uit die getuienis van Reyneke en Strydom is dit duidelik dat hulle op hoogte was van al die feite aangaande hierdie lening en tevrede was oor die wyse waarop dit in die finansiële state gereflekteer was.


Ook wat hierdie aanklag betref is daar na my oordeel geen getuienis deur die staat voorgelê waarop ’n hof die beskuldigdes skuldig kan vind nie.


Aanklag 10 handel met die aandele leningsskema en die hantering daarvan in die finansiële state van SB en SH. Die staat voer aan dat die insluiting van hierdie leningsbedrae onder die algemene hoof “advances” in die finansiële state ’n wanvoorstelling daarstel. Dit is die staat se saak dat daar ’n behoorlike openbaarmaking moes gewees het.


Dit is natuurlik so dat die direksie in 1996 die aangeleentheid oorweeg het en dat daar ’n besluit geneem is:


Na oorweging van die verskeie regsmenings en verklaring deur die ouditeure in die verband, ... vervolgens word ook besluit dat geen aandeelhouers magtiging of spesiale openbaarmaking in die finansiële state van hierdie aandele aankoop skema nodig is nie.”


Die eksterne ouditeure asook die oudit komitee was ten volle op hoogte van die feite en was tevrede dat die lenings nie in die finansiële state openbaar hoef te gewees het nie. Hierdie lenings is natuurlik ook gekoppel aan die aandeleprys van SH. Ek het reeds tevore daarop gewys dat die direkteure redelik opgetree het deur te vertrou op die aandeleprys van SH. Verder meer was daar deurentyd voldoende voorsiening vir enige slegte skuld wat ook uit hierdie skema kon voort spruit.


Aanklag 11 handel met die onversekerde rente vrye lening vanaf SB aan die aandele aansporingsskema ten einde die gemelde skema te befonds om aandele in SH te bekom. ’n Lening van R96 003 041,09 was gemaak. Die staat voer aan dat die verhaalbaarheid van hierdie lening afhanklik was van die aandeleprys van SH.


Die staat se beswaar is dat die lening bloot net openbaar is onder “advances”.


Die staat voer verder aan dat in die omsendskrywe aan die deelnemers tot hierdie aandele aansporingsskema dit voorsien was dat die trust wat gestig is vir hierdie skema, befonds sou word uit verskillende moontlike bronne. Die staat bekla hom daaroor dat dit nie in die state aangedui is dat die befondsing vanaf SB bekom is en dat SB dus die risiko gedra het van die nie-verhaling of die onderverhaling van die lenings in die geval van ’n daling in SH se aandeleprys nie.


Die eksterne ouditeure het oor hierdie skema getuig. Reyneke se getuienis was dat die eksterne ouditeure spesifiek die trust wat gebruik was vir hierdie skema en die maatskappye geoudit het. Die onderliggende ooreenkomste was tot die beskikking van die ouditeure gestel en hulle was tevrede met die rekenkundige hantering van die finansiële implikasies in die finansiële state.


In ieder geval was Hoffmann verantwoordelik vir die finansiële state waaroor hierdie aanklag handel naamlik vir die jaar geëindig 31 Maart 2001. Nóg beskuldigde 1 nóg beskuldigde 3 was betrokke by die opstelling van die state.


Ek het reeds hierbo verwys na die proses waardeur die finansiële state gegaan het voordat dit deur die volle direksie goedgekeur is met die opdrag aan beskuldigde 3 om die state te onderteken.


Dit is duidelik dat die aard van die risiko van die skema ten volle geopenbaar was in die omsendskrywe aan aandeelhouers wat Lessing met groot omsigtigheid opgestel het.


Twee stelle eksterne ouditeure was tevrede met die finansiële state en het aan die oudit komitee aangedui dat hulle dit ongekwalifiseerd sou teken.


Lessing se standpunt was in ieder geval dat daar niks onbehoorlik, niks onwettig of iets verkeerd was met die aansporingskema nie en dat die befondsingsmeganisme doodgewoon was.


Ook die nie uitvoerende direkteur Botha was tevrede dat hierdie betrokke skema ’n goeie skema was.


Uit die getuienis van Lessing is dit ook duidelik dat die effektebeurs hierdie skema moes goedkeur en wel goedgekeur het.


Na my oordeel is daar geen getuienis voorgelê op grond waarvan die beskuldigdes op hierdie aanklag skuldig bevind kan word nie.


Aanklag 12 handel met bedrog deurdat na bewering ’n wanvoorstelling in die 2000 finansiële jaarstate gemaak was deur nie te openbaar dat ’n bedrag van R148 534 076,24 van die bedrag van R531,3 miljoen van die versekeringsdekking by Swiss Re blootgestel was aan die krediet risiko’s van SB nie.


Daar is reeds hierbo met hierdie aangeleentheid gehandel. Dit hou verband met die 1999 kapitaal transaksie toe Primevest promesses van SH by Swiss Re geplaas het alvorens dit in die mark verhandel is.


n Belangrike faktor is natuurlik dat die geld wat in die promesses belê is nie SB se geld is nie maar Swiss Re se geld. Die klagte behels nie ’n onvermoë van Swiss Re om enige versekeringsdekking te kan betaal nie. Die keuse was natuurlik ook die van Swiss Re om die geld te belê waar dit wou.


Daar is reeds vroeër hierin daarop gewys dat Swiss Re te alle tye oor voldoende kapitaal beskik het om enige versekeringseis te kon dek. Verder meer was die instel van versekeringseise en die betaling van premies om die sogenaamde EAB te befonds totaal en al binne die diskresie van SB.


Die getuienis van Tennick is dan ook tot die effek dat daar inderdaad deurentyd voldoende fondse was om enige versekeringseis te dek.


Dit gaan verder moeilik te begryp hoe beskuldigdes 1 en 3 ’n gemeenskaplike oogmerk kon gehad het om te bedrieg of ’n valse voorstelling te maak waar die finansiële jaarstate telkens goedgekeur is op die wyse soos reeds hierbo vermeld.


Na my oordeel is daar geen rede waarom die beskuldigdes op hulle verdediging geplaas moet word op hierdie aanklag nie.


Aanklag 13 het te doen met verskeie van die skemas en transaksies reeds na verwys en word beweer dat die beskuldigdes bedrog gepleeg het deur in die 2000 en 2001 finansiële state voor te gee dat SH se aandeelhouersfondse verhoog is, dat SB se kwalifiserende primêre kapitaal verhoog is en dat 20 miljoen voorkeur aandele deur SH uitgereik is en deur PVET 2 opgeneem is.


Dit is die staat se standpunt dat indien die kapitaal transaksies behoorlik ontleed word dit nie waar is dat die gemelde aandeelhouersfondse en kapitaal verhoog is nie. Dit is verder aangevoer dat die opneem van die voorkeur aandele deur SB self befonds is.


Ek het reeds tot ’n voldoende mate met elkeen van die komponente tevore hierin gehandel. Wat duidelik is, is dat Robinson onmiddellik na die oorspronklike verslag van De Beer beskikbaar geraak het, ernstig van hom verskil het waar dieselfde standpunt ingeneem is as deur Van der Walt en vervat is in hierdie aanklag. Robinson het so vroeg as Februarie 2002 daarop gewys dat daar slegs negatiewe faktore in aanmerking geneem is om te besluit of daar ’n verhoging van kapitaal was en dat die positiewe invloei van kapitaal totaal buite rekening gelaat is. Ek stem ook saam met die argument namens die beskuldigdes dat soos die aanklag geformuleer is dit die bestaan van regsentiteite in die kapitaal transaksies totaal ignoreer.


Die kapitaal transaksies was ontwikkel deur kundige persone. Dit is nagegaan deur regsgeleerdes en deur kundiges op die oudit komitee en die direksie van SH. Die onbetwiste getuienis van verskeie staatsgetuies was dat daar werklike kapitaal geskep is en dat die transaksies inderdaad voordelig vir SB was. Vergelyk byvoorbeeld die getuienis van Lessing soos hierbo aangehaal.


Na my oordeel is daar geen meriete in hierdie aanklag teen die beskuldigdes nie en is daar geen rede om hulle op hulle verdediging te plaas nie.


Tydens die verhoor asook tydens betoog was ’n sterk aanval geloods op Van der Walt, sy getuienis en die waarde daarvan. Ek het reeds in sommige opsigte hierbo verwys na Van der Walt se getuienis.


Namens die staat is aangevoer dat dit wil voorkom asof namens die beskuldigdes op hierdie stadium van die verrigtinge gevra word dat die getuienis van Van der Walt verwerp moet word as synde ongeloofwaardig. Dit is nie soos ek die aanval op Van der Walt se getuienis ervaar nie. Geloofwaardigheid speel op hierdie stadium nie ’n groot rol nie tensy die getuienis so onbetroubaar is dat daar hoegenaamd nie daarop gesteun kan word nie. Die vraag is egter of daar met vertroue gesteun kan word op Van der Walt se getuienis.


Ek het reeds daarop gewys dat Van der Walt se verslag gebaseer is op die van De Beer. De Beer is nie ’n geoktrooieerde rekenmeester nie maar ’n regsgeleerde. Hy het sy verslag opgestel vir ’n doel anders as wat Van der Walt gevra is om sy verslag te lewer. Dit is gemeensaak dat daar foute in Van der Walt se verslag voorkom wat hy net so oorgeneem het uit De Beer se verslag. Dit is gemeensaak dat daar verskillende dokumente aan Van der Walt getoon is wat hy nooit onder oë gehad het met die opstel van sy verslag nie en wat ’n wesenlike invloed op die gevolgtrekkings in sy verslag het. Dit is ook gemeensaak dat Van der Walt verskillende dokumente verkeerd geïnterpreteer het. Om maar net ’n enkele voorbeeld te noem. Van der Walt het die standpunt ingeneem dat senior personeel en lede van die direksie die aandele leningsskema misbruik het. Tydens kruisverhoor is aan hom getoon dat hy verkeerd is ten opsigte van beide beskuldigdes 1 en 3 en moes hy die toegewing maak. Ander voorbeelde blyk uit wat reeds hierbo gesê is.


Indirek is deur ander staatsgetuies ook kritiek uitgespreek teen Van der Walt. As voorbeeld kan die getuienis van Brand genoem word ten opsigte van aanklag 3. Dit is gemeensaak dat Brand ondervra was voordat die akte van beskuldiging opgestel is. Brand het gesê dat dit verregaande is om na sy verduidelikings ’n aanklag van diefstal te formuleer en te beweer dat hy en Robinson ’n gemeenskaplike oogmerk gehad het om te steel. Lessing het ook getuig dat toe hy ’n behoorlike verduideliking aan De Beer gegee het oor die stappe wat geneem is om ’n oortreding van artikel 38 van die Maatskappywet te vermy met die tot stand bring van die aandele aansporingskema, De Beer gesê het dat dit mense soos Lessing is wat die lewe vir hom moeilik maak. Lessing se verduideliking is reeds op rekord. Van der Walt het egter nie in hierdie opsig afgewyk van De Beer se verslag nie. Ook Robinson het gesê dat forensiese rekenmeesters net kyk na slegte nuus en die negatiewe en nie na goeie nuus en die positiewe nie.


By die beoordeling van die getuienis en gevolglik ook die van Van der Walt moet na die getuienis van al die getuies wat namens die staat getuig het gekyk word. Hierdie is nie ’n geval waar daar voorkeur verleen kan word aan die een of die ander getuie bloot omdat die een ’n forensiese rekenmeester of ’n geoktrooieerde rekenmeester of moontlik ’n eksterne ouditeur of lid van die direksie is nie. Daar moet sinvol gekyk word na wat die staat voorgelê het om die aanspreeklikheid van die beskuldigdes ten opsigte van sekere pertinente misdrywe te bewys.


Ek het vroeg in hierdie uitspraak daarop gewys dat daar onder andere ondersoek ingestel was na sogenaamde binne handel en die manipulasie van die SH aandeleprys. Met die aanvang van hierdie verhoor op 28 Januarie 2008 was daar ook berig dat dit die begin is van die grootste binne handel saak in die geskiedenis van die land. Dit was en is ’n totale miskonsepsie wat bestaan het vandat SB probleme ervaar het. Van der Walt het uitdruklik getuig dat daar geen bewyse gevind kon word van sogenaamde binne handel of die manipulering van die aandeleprys van SH nie.


’n Aspek wat ook reggestel moet word is dat dit nooit die staat se saak was dat enige van die kapitaal transaksies of skemas waarna verwys is in die akte van beskuldiging en in hierdie uitspraak die oorsaak was dat SB onder gegaan het nie. Hierdie verhoor het nie gegaan oor die vraag oor waarom SB onder gegaan het nie. Daar was wel sydelings verwys na negatiewe beriggewing in die pers wat aanleiding gegee het tot grootskaalse onttrekking van deposito’s deur deposante. Botha se getuienis was dat geen kapitaal voorsiening, hoe groot ookal, ’n bank onder sodanige omstandighede kon red nie.


Die bevindinge wat in hierdie uitspraak gemaak is ten opsigte van beskuldigdes 1 en 3 geld ook vir wyle mnr. Myburgh, die voormalige beskuldigde 2.


Ek het vroeër hierin verwys na die saak van S v Lubaxa 2001 (4) SA 1251 (HHA) en gesê dat ek na sekere detail sal verwys.


In die loop van die uitspraak het waarnemende appèl regter Nugent (soos hy toe was) verwys na artikel 174 van Wet 51 van 1977 en sy voorgangers en soos volg gesê:


[10] Section 174 of the Act repeats in all material respects the terms of its predecessors in the 1917 and 1955 Criminal Codes. It permits a trial court to return a verdict of not guilty at the close of the case for the prosecution if the court is of the opinion that there is no evidence (meaning evidence upon which a reasonable person might convict: S v Khanyapa 1979 (1) SA 824 (A) at 838F-G) that the accused committed the offence with which he is charged, or an offence which is a competent verdict on that charge.


[11] If, in the opinion of the trial court, there is evidence upon which the accused might reasonable be convicted, its duty is straightforward – the accused may not be discharged and the trial must continue to its end. It is when the trial court is of the opinion that there is no evidence upon which the accused might reasonable be convicted that the difficulty arises. The section purports then to give the trial court a discretion – it may return a verdict of not guilty and discharge the accused there and then; or it may refuse to discharge the accused thereby placing him on his defence.”


Die geleerde regter het daarna verwys na verskille van mening oor hoe die artikel toegepas moet word en onder watter omstandighede ’n diskresie uitgeoefen kon word om ’n beskuldigde se aansoek om ontslag te weier.


Van belang is egter die volgende opmerking van die geleerde regter op p 1257 paragraaf 19 wat soos volg lui:


The right to be discharged at that stage of the trial does not necessarily arise, in my view, from considerations relating to the burden of proof (or its concomitant, the presumption of innocence) or the right of silence or the right not to testify, but arguably from a consideration that is of more general application. Clearly a person ought not to be prosecuted in the absence of a minimum of evidence upon which he might be convicted, merely in the expectation that at some stage he might incriminate himself. That is recognised by the common-law principle that there should be “reasonable and probable” cause to belief that the accused is guilty of an offence before a prosecution is initiated (Beckenstrater v Rottcher and Theunissen 1955 (1) SA 129 (A) at 135C-E), and the constitutional protection afforded to dignity and personal freedom (s10 and s12) seems to reinforce it. It ought to follow that if a prosecution is not to be commenced without that minimum of evidence, so too should it cease when the evidence finally falls below that threshold. That will pre-eminently be so where the prosecution has exhausted the evidence and a conviction is no longer possible except by self-incrimination. A fair trial, in my view, would at that state be stopped, for it threatens thereafter to infringe other constitutional rights protected by s 10 and s 12.”


Hierna het die geleerde regter die posisie oorweeg waar meerdere beskuldigdes saam aangekla word soos in die onderhawige geval. Die staat het toegegee dat daar geen moontlikheid in die onderhawige geval is dat beskuldigdes 1 en 3 mekaar sal inkrimineer nie en gevolglik is die opmerkings van die Hoogste Hof van Appèl oor ’n aansoek om ontslag waar meerdere beskuldigdes tereg staan nie van toepassing nie. Die standpunt uiteengesit in paragraaf 19 op bladsy 1257 van die Lubaxa saak is dus ook in casu van toepassing.


Ek is van oordeel dat in die onderhawige geval ’n skuldigbevinding op enige van die 13 aanklagte nie teen enige van die twee beskuldigdes kan slaag tensy hulle hulself sou inkrimineer nie, wat in ieder geval onwaarskynlik blyk te wees, en is ek van oordeel dat hulle op hierdie stadium geregtig is op hulle ontslag.


Beskuldigdes 1 en 3 word op al 13 aanklagte onskuldig bevind en ontslaan.



____________________

W J VAN DER MERWE

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF