South Africa: High Courts - Gauteng

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: High Courts - Gauteng >>
2008 >>
[2008] ZAGPHC 184
| Noteup
| LawCite
Engelbrecht v Pienaar (34247/07) [2008] ZAGPHC 184 (20 June 2008)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA /ES
(TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)
SAAK NO: 34247/07
DATUM: 20/6/2008
NIE RAPPORTEERBAAR
IN DIE SAAK TUSSEN
MNR SCHALK WILLEM ENGELBRECHT EISER
EN
MNR J J S PIENAAR VERWEERDER
UITSPRAAK
PRINSLOO, R
Kort samevatting van waaroor die saak gaan:
[1] Die eiser vorder R100 000,00 en rente van die verweerder. Hy sê dat hy in Augustus 2004 hierdie bedrag aan die verweerder, op laasgenoemde se advies, betaal het sodat die verweerder dit in laasgenoemde se vader se naam by Nedbank kon belê. Die geld met die rente opbrengs sou na 'n jaar terugbetaalbaar wees aan die eiser.
[2] Die verweerder het hierdie belegging voorgestel omdat hy, as 'n goeie vriend van die eiser, laasgenoemde, wat besig was met 'n egskeiding, geadviseer het om hierdie "neseier" eenkant te sit ingeval hy sy bates, of minstens 'n groot deel daarvan, sou verloor in die egskeiding.
[3] Dit is gemene saak dat die eiser die R100 000,00 in Augustus 2004 aan die verweerder betaal het. Die betaling het op 'n ietwat onortodokse manier geskied: die eiser het een van sy skuldenaars opgedra om laasgenoemde se skuld aan die eiser direk per tjek aan die verweerder te betaal. Dit was ongeveer R107 000,00. Dit is ook gemene saak dat die verweerder toe die ongeveer R7 000,00 "balans" aan die eiser terugbetaal het.
[4] Waar die verweerder ontvangs erken van die betaling van R100 000,00 in Augustus 2004, pleit hy dat hierdie gelde aan hom betaalbaar was as huurgeld ten opsigte van twee plase wat die eiser by hom gehuur het teen R50 000,00 per jaar vanaf 1 Augustus 1998. Dit was R25 000,00 per plaas per jaar vir twee jaar.
[5] Die eiser erken dat hy die plase by die verweerder gehuur het maar hy lê 'n skriftelike huurkontrak, gedateer Julie 1999, voor waaruit dit blyk dat hy die plase vir net R7 500,00 per plaas per jaar vir vier jaar gehuur het.
[6] Die verweerder erken dat hy hierdie kontrak aangegaan het maar sê dat dit geskied het nadat die eerste kontrak, waarop die verweerder steun, "verval" het omdat die verweerder nie die huur betaal het nie.
[7] Die verweerder sê die eerste kontrak, waarop hy steun in sy verweer om hom van aanspreeklikheid te onthef, het weggeraak. Hy het self die kontrak laat tik. Hy het ook 'n tweede oorspronklike aan die eiser oorhandig. Die tikster is nie geroep as 'n getuie nie. Net die eiser en die verweerder het getuig. Die eiser ontken die bestaan van die beweerde "eerste kontrak". Die verweerder weet nie wat van die kontrak geword het nie.
[8] Dit lê op my weg om, op die waarskynlikhede, te probeer bepaal of die R100 000,00 in 2004 oorbetaal is aan die verweerder om dit vir die eiser te belê en of dit aan die verweerder betaal is in die vorm van huurgeld voortspruitend uit die "eerste kontrak" wat volgens die eiser nie bestaan nie en wat volgens die verweerder weggeraak het.
Sake wat irrelevant is wat te berde gekom het:
[9] In die verhoor is daar oor 'n paar sake getuig wat, op albei partye se weergawe, nie relevant is tot die eis soos ek dit beskryf het nie.
[10] Die belangrikste hiervan het te doen met 'n kontrak wat die eiser in Februarie 2006 met JJS Boerdery Familie Trust, waarin die verweerder 'n belang het, gesluit het. Hierdie kontrak kom eintlik neer op 'n skulderkenning waarin die trust belowe om die bedrag van R100 000,00 aan die eiser te betaal in opeenvolgende maandelikse paaiemente van R10 000,00 vanaf Maart 2006.
[11] Dit blyk dat die verweerder nie die paaiemente stiptelik betaal het nie, maar tog uiteindelik die volle bedrag betaal het. Dit het te doen met werk wat die eiser vir die verweerder gedoen het in 'n kontrak wat laasgenoemde met Telkom gehad het. Dit het te doen gehad met die lê of identifisering van optiese vesel kabels.
[12] Waar beide partye, tereg, aanvoer dat hierdie kontrak niks te doen het met die saak as sodanig nie, behoef dit nie verdere kommentaar nie.
[13] 'n Ander, minder belangrike, onderwerp wat die eiser se prokureur in aanmaningsbriewe aan die verweerder aangeroer het, het te doen met 'n beweerde skuld van R48 000,00 deur die verweerder aan die eiser ten opsigte van "sekere insette en dienste verrig met betrekking tot 'n projek in Limpopo". Besonderhede ten opsigte van hierdie beweerde eis het nooit werklik na vore gekom tydens die verhoor nie en ek gaan nie verder aandag daaraan skenk nie.
Die bewyslas:
[14] Die eiser moet sy saak bewys.
[15] Alhoewel daar nie 'n bewyslas op die verweerder is nie, is dit tog so dat die betaling van R100 000,00 aan hom in hierdie ietwat eienaardige saak nie in geskil is nie. Myns insiens volg dit dat dit sake vir die eiser behoort te vergemaklik as die verweerder se aanspraak op die huurkontrak van R100 000,00, wat nooit tasbaar die lig gesien het tydens die verhoor nie en die bestaan waarvan in geskil is, nie op die waarskynlikhede aanvaar word nie.
[16] Die regsposisie ten opsigte van die bewyslas op die eiser in 'n siviele saak waar twee direk teenstrydige weergawes aangebied word, word soos volg gestel in National Employers' General Insurance v Jagers 1984 4 SA 432 (OK) op 440D G:
"It seems to me, with respect, that in any civil case, as in any criminal case, the onus can ordinarily only be discharged by adducing credible evidence to support the case of the party on whom the onus rests. In a civil case the onus is obviously not as heavy as it is in a criminal case, but nevertheless where the onus rests on the plaintiff as in the present case, and where there are two mutually destructive stories, he can only succeed if he satisfies the court on a preponderance of probabilities that his version is true and accurate and therefore acceptable, and that the other version advanced by the defendant is therefore false or mistaken and falls to be rejected. In deciding whether that evidence is true or not the court will weigh up and test the plaintiff's allegations against the general probabilities. The estimate of the credibility of a witness will therefore be inextricably bound up with the consideration of the probabilities of the case and, if the balance of probabilities favours the plaintiff, then the court will accept his version as being probably true. If however the probabilities are evenly balanced in the sense that they do not favour the plaintiff's case anymore than they do the defendant's, the plaintiff can only succeed if the court nevertheless believes him and is satisfied that his evidence is true and that the defendant's version is false."
[17] Sien ook Stellenbosch Farmers' Winery Group Ltd and Another v Martell et Cie and 0thers 2003 1 SA 11 (HHA) op 14H 15E.
Die getuienis:
[18] Net die eiser en die verweerder het getuig.
[19] Die geskilpunt en die getuienis wat deur die onderskeie partye aangebied is, is reeds kortliks opgesom.
[20] Dit lê nietemin op my weg om die getuienis van die eiser en die verweerder kortliks onder die loep te neem.
[21] Die eiser sê dat hy in 2004, terwyl hy naby Balfour geboer het, besig was om van sy eggenote te skei. Die verweerder was 'n goeie vriend en het hom genader en aangebied om die "neseier" met behulp van die verweerder se vader by Nedbank te belê om voorsiening te maak vir die gevaar dat die eiser dalk bedroë van die egskeiding kan afkom.
[22] Dit was 'n mondelinge ooreenkoms.
[23] Die eiser het die daad by die woord gevoeg deur 'n skuldenaar, Nanel Voere, wat hom R107 000,00 vir honderd ton mielies geskuld het, op te dra om die geld direk aan die verweerder te betaal. Dit is gedoen. Die verweerder het ook die ongeveer R7 000,00 oorskot aan die eiser terugbetaal. Dit is alles gemene saak. Die gelde sou aanvanklik vir ses maande (tot Februarie 2005) belê word teen "beleggings rente". Die rentekoers is nooit genoem nie. Dit was eintlik maar 'n losse reëling omdat die partye destyds baie goeie vriende was.
[24] Die eiser het die verweerder in Februarie 2005 genader, toe sê laasgenoemde hy het eintlik 'n fout gemaak en die belegging strek oor 'n jaar tot September 2005. Die eiser het die verweerder gereeld mondelings aangemaan, ook na September 2005, maar tot datum is die geld nie betaal nie.
[25] Intussen is die egskeiding laat in 2005 afgehandel en is die kontrak, supra, ten opsigte van die Telkom kabels ook in Februarie 2006 gesluit. Dit was die skulderkenning van R100 000,00 deur die verweerder se trust ten gunste van die eiser.
[26] Die eiser sê dat die verweerder telkens belowe het om die beleggingsgeld van R100 000,00 terug te betaal sodra die Telkom gelde betaal is.
[27] Toe die verweerder ook versuim om die R10 000,00 paaiemente voortspruitend uit die skulderkenning gereeld te betaal, het die eiser sy prokureur geraadpleeg.
[28] In November 2006 het die eiser se prokureur toe die eerste van minstens drie aanmaningsbriewe aan die verweerder gestuur. Hierdie briewe is deel van die rekord. Hulle is gedateer 20 November 2006, 1 Februarie 2007 en 5 April 2007 onderskeidelik. Dit is gemene saak dat hulle na die verweerder se korrekte posadres in Drie Riviere, Vereeniging gestuur is. Die verweerder sê hy het die briewe nie ontvang nie maar uiteindelik is die oorspronklike briewe, wat wel toe ontvang is, deur die verweerder blootgelê vir doeleindes van hierdie verhoor. Die verweerder sê dat hy as 'n kontrakteur dikwels uitstedig was. Sy eggenote, ook sy sekretaresse, het die posbus leeggemaak en sy sou enige belangrike pos aan sy prokureur oorhandig vir aandag.
[29] Ek vind dit gerieflik om grepe uit die eerste aanmaningsbrief van 20 November 2006 aan te haal:
"i/s USELF / JJS BOERDERY FAMILIE TRUST / ONS KLIëNT : MNR SWB ENGELBRECHT
0ns bevestig, soos telefonies met u bespreek op Vrydag 17 November 2006 dat ons Mnr Engelbrecht bystaan met betrekking tot sekere aangeleenthede. 0ns is deur Mnr Engelbrecht meegedeel dat:
1. [Hierdie deel van die aanmaning het te doen met die R100 000,00 skulderkenning, waaroor ek my nie verder hoef uit te laat nie vir die redes wat gemeld is.]
2. 0ns kliënt het verder gedurende Augustus 2004 'n bedrag van R100 000,00 aan u oorbetaal, welke bedrag u op belegging sou plaas te Nedbank. Laasgenoemde bedrag sou na verstryking van 'n jaar tesame met rente daarop aan ons kliënt terugbetaal word. 0ns verneem graag wanneer ons kliënt hierdie bedrag tesame met die opbrengs daarop vanaf u Mnr Pienaar kan terug ontvang.
3. [Hierdie het te doen met die beweerde eis van R48 000,00 ten opsigte van die projek in Limpopo, en behoef ook nie verdere kommentaar nie.]
Byvoorbaat dank."
[30] Dit is gemene saak, soos ek gesê het, dat die eiser wel hierdie brief ontvang het maar nooit daarop gereageer het nie. Dit blyk ook uit die aanhef van die brief, soos aangehaal, dat die prokureur die saak telefonies met die verweerder bespreek het voordat hy die brief geskryf het.
[31] Die volgende brief is gedateer 1 Februarie 2007. In die eerste paragraaf word verwys na ongereelde betalings van R10 000,00 ten opsigte van die R100 000,00 skulderkenning. Die laaste paragraaf van die brief lees soos volg:
"Met betrekking tot die uitstaande gelde soos aan ons kliënt verskuldig en soos uiteengesit in paragraaf 2 en paragraaf 3 van ons skrywe van 20 November 2006 verneem ons nou graag dringend van u, by versuim waarvan ons sal voortgaan om regsaksie teen u in te stel.
Die uwe."
[32] Hierop het die verweerder ook nie gereageer nie. Dit is gemene saak dat hy, of minstens sy eggenote, die brief ontvang het want die oorspronklike is blootgelê.
[33] Die laaste aanmaning is gedateer 5 April 2007. Dit is ook ontvang en die oorspronklike is blootgelê. Dit lees soos volg:
"0ns verwys na bogemelde aangeleentheid. 0ns verwys ook na die telefoniese gesprek tussen u Mnr Pienaar en skrywer hiervan op 3 April 2007. U het aan ons gemeld dat u 'n bedrag van R10 000,00 aan ons kliënt sal betaal sodra u betaling vanaf Telkom ontvang. Dit was voorsienbaar dat hierdie betaling gedurende April 2007 sal plaasvind.
Met betrekking tot die JJS Boerdery Familie Trust aangeleentheid het u aan ons gemeld dat met verwysing na die bedrag van R100 000,00 soos aan u betaal gedurende Augustus 2004, hierdie gelde volgens u nie aan ons kliënt verskuldig is nie. U het gemeld dat ons aan ons kliënt moet meld dat laasgenoemde bedrag aan u verskuldig is uit hoofde van ons kliënt se huur van twee van u eiendomme, bekend as Verris Farms. 0ns is onseker oor die spelling van laasgenoemde en u kon ons ook nie van die regte spelling voorsien nie. 0ns onderneem om instruksies in die verband vanaf ons kliënt te bekom.
'n Ander aspek [dit het te doen met die beweerde R48 000,00 eis voortspruitend uit die Limpopo projek].
Die uwe."
[34] Die prokureur, met alle respek teenoor hom, het die kat aan die stert beet gehad toe hy verwys het na die Augustus 2004 betaling van R100 000,00 wat te doen het met die JJS Boerdery Familie Trust. Laasgenoemde trust was die skuldenaar uit hoofde van die R100 000,00 Telkom skulderkenning. Verris Farms was ook die finansier wat inset-gelde aan die eiser voorgeskiet het toe hy die plase by die verweerder gehuur het en nie die eienaar van die verweerder se plase nie.
[35] Dit blyk egter uit hierdie brief asook uit die getuienis van die eiser dat die verweerder vir die eerste keer die verweer geopper het dat die R100 000,00 betaling van Augustus 2004 eintlik ten opsigte van huurgeld was toe die eiser se prokureur uiteindelik in April 2007 met hom oor die saak gepraat het. Dit was bykans drie jaar nadat die gelde betaal is.
[36] Toe die verweerder hierdie houding inneem, waarmee die eiser natuurlik nie saamstem nie, het hy sy prokureur opdrag gegee om te dagvaar. Daar is in Julie 2007 gedagvaar, nie lank voordat die eis van R100 000,00 sou verjaar nie.
[37] In sy hoof getuienis is die eiser gevra om kommentaar te lewer oor die verweerder se bewering dat die R100 000,00 eintlik ten opsigte van huurgeld betaal is en nie met die oog op 'n belegging nie. Die eiser het erken dat hy die plase by die verweerder gehuur het, maar hy het verwys na die huurkontrak, bewysstuk "A1", wat deur die verweerder en sy eggenote as verhuurders onderteken is en deur die eiser as huurder. Dit verwys na dieselfde plase wat die verweerder sê hy vir R100 000,00 oor twee jaar verhuur het. Dit is behoorlik onderteken voor getuies. Dit is gedateer Julie 1999. Dit bepaal 'n vier jaar huurtermyn vanaf September 1999 tot Augustus 2003 en 'n jaarlikse huurgeld van R7 500,00 per plaas. Dit is minder as 'n derde van die R25 000,00 per plaas wat die verweerder sê hy die plase voor verhuur het in Julie of Augustus 1998.
[38] In sy hoof getuienis het die eiser erken dat hy nie hierdie huurgelde kon betaal nie weens droogte en misoeste. Hy het net vir die eerste twee jaar, 1999 en 2000, gehuur. Hy kon toe ook nie meer finansiering kry by Verris Farms nie. By ooreenkoms met die verweerder is die huurkontrak toe gekanselleer net nadat die eiser aan die einde van Augustus 2000 die oes gestroop het.
[39] In kruisondervraging het die eiser gesê dat hy die bestaan van die "neseier" aan sy eggenote openbaar het ten tye van die egskeiding. Hy het oop kaarte met haar gespeel. Dit blyk egter nie dat die "neseier" in berekening gebring is vir doeleindes van die berekening van die aanwas van die boedels nie.
[40] In kruisondervraging het die eiser gesê dat hy vir die huur van 1999 en 2000 betaal het deur 'n vrag mielies op die verweerder se folio nommer by die koöperasie in te ry en die volgende jaar het hy sy stropers en trekkers en sleepwaens aangewend om die verweerder se oes te stroop en weg te ry. Dit sou dan dien as vergoeding of betaling van die R15 000,00 per jaar vir die eerste twee jaar wat die huurkontrak inderdaad van krag was.
[41] Hierdie getuienis van die eiser is nie betwis toe hy dit aangebied het nie.
[42] Die stelling in kruisondervraging ten opsigte van die beweerde bestaan van 'n vorige huurkontrak wat huurgeld van R25 000,00 per plaas per jaar sou bepaal het is deur die eiser ontken.
[43] Dit is aan hom gestel dat toe hy nie die beweerde eerste kontrak se bepalings kon nakom nie die tweede kontrak (bewysstuk "A1" wat erken is) aangegaan is teen 'n mindere huur. Hierdie bewering is ook ontken. Volgens die eiser was dit die enigste huurkontrak.
[44] In kruisondervraging het die eiser volgehou dat die R100 000,00 in die naam van die verweerder se vader by Nedbank belê sou word. Elke keer as hy die verweerder aanmaan vir die geld sê die verweerder dat hy sal betaal sodra die Telkom gelde vereffen is.
[45] Die eiser het beklemtoon dat toe die Telkom gelde nie gereeld betaal word nie en die verweerder die houding inneem dat die R100 000,00 eintlik te doen het met huurgeld, hy besluit het om te prosedeer.
[46] 0p 'n stadium het die eiser ook die verweerder gekonfronteer met die vraag of hy ooit werklik die gelde belê het. Die verweerder het toe erken dat hy dit nie gedoen het nie maar gebruik het vir die Telkom kontrak. Die eiser was egter op daardie stadium geduldig genoeg om te wag vir betaling tot na afhandeling van die Telkom verpligtinge.
[47] In herondervraging het die eiser ook gesê dat dit totaal onrealisties sou wees om op daardie stadium, 'n dekade gelede, 'n plaas te huur teen R25 000,00 vir 114 hektaar. Hy het gesê dat dit ekonomies geen sin sou maak nie en dat hy nooit finansiering daarvoor sou kry nie. Hy het gesê dat selfs teen vandag se huur tariewe sulke gelde buitensporig hoog sou wees.
Alhoewel hierdie getuienis in herondervraging geopper is, is dit nie betwis nie.
[48] Die eiser het 'n goeie indruk op my gemaak. Hy het eerlik voorgekom en myns insiens nie gewankel onder die deurtastende kruisondervraging van mnr Mills wat vir die verweerder verskyn het nie. Mnr Ferreira het op die eerste dag van die verhoor vir die eiser verskyn, en mnr Els op die tweede dag.
[49] Die verweerder, in sy getuienis, het bevestig dat hy en die eiser goeie vriende was.
[50] Hy het volstaan daarby dat daar 'n beweerde eerste kontrak was wat huurgeld van R25 000,00 per plaas per jaar voorgeskryf het. Hy het dit self opgestel en sy tikster het dit getik. Hy het 'n getekende "oorspronklike" vir die eiser ook gegee. Hy kan nie verklaar wat daarvan geword het nie.
[51] Ek voeg by dat die verweerder ook nie byvoorbeeld sy prokureur opgedra het om in terme van reël 35(3) te vra vir die eiser se afskrif van die beweerde kontrak nie. In billikheid moet gesê word dat die eiser se prokureur ook nie vir die verweerder in terme van reël 35(3) hiervoor aangemaan het nie. Dit is miskien omdat die eiser se saak is dat die kontrak nie bestaan nie.
[52] Die verweerder sê dat die eiser toe nie die beweerde R50 000,00 vir die eerste jaar betaal het nie, waarop die tweede kontrak, bewysstuk "A1", vir R15 000,00 per jaar (vir albei plase) aangegaan is. Soos ek reeds gesê het is die bestaan van hierdie kontrak nie in geskil nie.
[53] Die verweerder voer aan dat toe die huurgeld vir die tweede kontrak ook nie betaal is nie, het die beweerde eerste kontrak "herleef" sodat die verweerder weer geregtig geword het op betaling van die R100 000,00. Hierdie konstruksie is natuurlik nie gepleit nie. Myns insiens is dit ook regtens onhoudbaar.
[54] Later in sy kruisondervraging het die verweerder ook toegegee dat, op sy eie weergawe, die eiser hom eintlik net R65 000,00 skuld, te wete R50 000,00 vir die eerste jaar van die beweerde eerste kontrak en R15 000,00 vir die eerste jaar van "A1".
[55] Die verweerder is ook daarop gewys dat die beweerde huurgeld van R100 000,00, op sy eie weergawe, vir meer as vier jaar agterstallig was voordat dit uiteindelik in Augstus 2004 (op sy weergawe) betaal is. Eintlik het die eis verjaar. Die verweerder het gesê dat die eiser altyd die verskoning gehad het dat hy 'n swak oes gehad het wanneer hy mondelings aangemaan is. Daar is geen bewys van formele aanmanings, soos byvoorbeeld met behulp van 'n prokureur, vir hierdie huurgeld voordat die eis sou verjaar nie.
[56] In kruisondervraging het die verweerder erken dat hy inderdaad nog sy vader in lewe het. Dié is 'n pensioenaris en 'n deeltydse boer. Toe hy gevra is of sy vader die gelde sou belê, het hy gesê hy weet nie want hy het dit nie met hom bespreek nie maar hy neem aan sy vader sou minstens 'n gedeelte van die rente wou hê. Hy het bevestig dat hy die R100 000,00 in sy rekening gedeponeer het en nie belê het nie. Hy bank inderdaad by Nedbank in Drie Riviere, Vereeniging.
[57] Die verweerder het bevestig dat die aanmaningsbriewe aan die korrekte posadres gerig was. Sy getuienis dat hy dit nie ontvang het nie het ek nie oortuigend gevind nie. Soos ek gesê het, is dit inderdaad ontvang want die oorspronklikes is blootgelê.
[58] Wat die beweerde eerste kontrak betref, is die eiser ook nooit in kruisondervraging gevra wat hy met sy afskrif gemaak het nie. Die verweerder sê dat sy vorige prokureur die eiser hierom telefonies gevra het. Hy het gesê dat die vorige prokureur kan getuig. Laasgenoemde is egter nie geroep as 'n getuie nie. Ek het ook reeds gesê dat die tikster wat die beweerde kontrak getik het ook nie getuig het nie. Toe die eiser getuig het is hy ook nie gekonfronteer met die bewering dat die vorige prokureur hom telefonies daaroor sou aangespreek het nie.
[59] Waar die verweerder in sy opponerende eedsverklaring tot die eiser se summiere vonnis-aansoek en ook in sy pleit beweer dat daar 'n huurkontrak vir R100 000,00 was, steun hy ook nie op 'n beweerde skriftelike kontrak nie. Daar is ook teenstrydighede in die twee weergawes wat hy onderskeidelik aanbied in die eedsverklaring en in die pleit.
[60] Die verweerder se argument, in sy getuienis, dat die beweerde eerste kontrak sou herleef toe die tweede kontrak, "A1", se gelde nie betaal is nie, is, soos ek reeds gesê het, onhoudbaar en, myns insiens, onoortuigend. Dit is ook nêrens gepleit nie.
[61] In kruisondervraging het die verweerder ook gesê dat die huurkontrak, "A1", wat hy erken, eintlik deel is van 'n langer dokument wat uit meerdere bladsye bestaan. Dit is eintlik 'n krediet aansoek by Verris Farms. Hierdie bewerings is nie teenoor die eiser gemaak in kruisondervraging nie. 0p die oog af is "A1" kennelik 'n huurkontrak. Voordat die verweerder onder kruisondervraging geneem is, is die bestaan en geldigheid daarvan nie betwis nie.
[62] In kruisondervraging het die verweerder wel ontken dat die eiser die huurgeld ten opsigte van "A1" betaal het deur mielies in die naam van die verweerder by die koöperasie te stoor en die oes te stroop. Soos ek gesê het, is die eiser se getuienis in hierdie verband egter onbetwis.
[63] Ek moet ongelukkig sê dat ek die verweerder se getuienis minder indrukwekkend gevind het. Hy was by tye ontwykend en soms ook aggressief teenoor die kruisondervraer. Ek het reeds gewys op aspekte van sy getuienis wat my nie oortuig het nie.
Is die bewyslas gekwyt? Die toets ten opsigte van inherente waarskynlikhede en geloofwaardigheid:
[64] Ek het die regsposisie aangehaal soos dit uitgespel word in die saak van Jagers, supra.
[65] Na oorweging van die getuienis is ek van oordeel dat die oorwig van die waarskynlikhede ten gunste van die eiser se saak is:
1. 0p die verweerder se weergawe, beteken dit dat die eiser se getuienis oor die belegging 'n totale versinsel is. Eintlik is dit 'n feëverhaal. Ek vind dit inherent onwaarskynlik dat die eiser, soos ek hom in die getuiebank opgesom het, so ver sal gaan om 'n blatante leuen uit te dink en 'n storie te bewimpel oor 'n beweerde belegging wat geen greintjie waarheid in het nie. Nog minder sou hy, na my oordeel, dapper genoeg wees om dieselfde storie vir sy prokureur te vertel en dit dan nog onder eed in die hof ook te kom herhaal. Dit is nog meer onwaarskynlik as in gedagte gehou word dat die betaling in Augustus 2004 gemaak is toe die partye nog goeie vriende was.
Die feit dat die "neseier" geskep is om die nadelige gevolge van die egskeiding die hoof te bied verleen geloofwaardigheid aan die eiser se weergawe, alhoewel die taktiek wat gevolg is nie goedgepraat kan word nie. Die eiser sê egter dat hy oop kaarte met sy eggenote gespeel het.
2. Die beweerde kontrak waarop die verweerder steun, en waarsonder hy nie 'n saak het nie, omdat hy erken dat hy die betaling ontvang het en, by ontstentenis aan die beweerde huurkontrak, nie kan verduidelik wat hy met die geld gedoen het nie, is skoonveld. Dit is inherent onwaarskynlik dat hy so 'n belangrike dokument sou verloor het en dat die eiser, wat na bewering ook 'n getekende oorspronklike ontvang het, syne ook sou verloor of die bestaan daarvan onder eed sou ontken. Die tikster wat dit na bewering getik het, het nie getuig nie. Die vorige prokureur wat die eiser na bewering telefonies daaroor uitgevra het, het ook nie getuig nie al het die verweerder gesê dat die prokureur kan getuig.
Dit is in elk geval inherent onwaarskynlik dat daar 'n tweede kontrak ("A1") aangegaan sou gewees het as die eerste kontrak bestaan het. Die aangaan van 'n tweede kontrak maak nie op vir die feit dat die gelde in terme van die eerste kontrak nie betaal is nie.
In elk geval, is die eiser se getuienis (alhoewel in herondervraging) dat die beweerde huurgelde in terme van die eerste beweerde kontrak buitensporig en onrealisties hoog is onbetwis. Die gelde wat in "A1" beding is verleen stawing vir hierdie getuienis.
Die eiser se getuienis dat hy die eerste twee jaar van die huur in terme van "A1" "betaal" het deur mielies in die naam van die verweerder by die koöperasie te stoor en ook te help om die oes af te haal is onbetwis. 'n Hof moet traag wees om onbetwiste getuienis te verwerp. As die getuienis aanvaar word, is daar in elk geval geen ruimte vir 'n beweerde verdere eis vir huurgeld ten gunste van die verweerder nie. Die argument van die verweerder dat die eerste beweerde kontrak "herleef" het, is sinneloos en regtens onhoudbaar. Dit is ook nie gepleit nie.
3. Dit is inherent onwaarskynlik dat die verweerder, as die R100 000,00 aan hom verskuldig was, meer as vier jaar sou gewag het vir betaling, sonder om 'n poging aan te wend om te prosedeer. In elk geval is die uitstaande bedrag net R65 000,00 op sy eie weergawe, soos ek aangedui het.
4. Die feit dat die verweerder eers die bestaan van die beweerde kontrak geopper het toe die eiser se prokureur hom aangemaan het (na die derde aanmaning) plaas die verweerder se weergawe nog verder onder verdenking.
[66] Wat geloofwaardigheid betref, het ek ook aangedui dat ek die eiser se getuienis meer indrukwekkend en geloofwaardig gevind het as dié van die verweerder.
[67] Uit hoofde van die voorgaande volg dit dat die eis behoort te slaag.
[68] Wat die beweerde "beleggings-rente" betref, het die eiser geen getuienis aangebied wat 'n basis kan vorm vir die vasstel van 'n persentasie nie. Daar is geen rede waarom die eiser nie die nodige moeite kon doen om sodanige getuienis aan te bied nie. Ek is nie bereid om hieroor te spekuleer nie. Al wat oorbly is mora rente van 15,5% vanaf datum van dagvaarding (te oordeel aan die datumstempel 24 Julie 2007) tot datum van betaling. Ek het dit oorweeg om mora rente te laat loop vanaf die datum van die prokureur se aanmanings, maar dit blyk uit die laaste aanmaning van 5 April 2007 dat die eiser se prokureur op daardie stadium nog onderneem het om verdere instruksies te neem ten opsigte van die beweerde uitstaande huurgeld geopper deur die verweerder.
[69] Ek maak die volgende bevel:
1. Vonnis word toegestaan ten gunste van die eiser teen die verweerder vir betaling van die bedrag van R100 000,00.
2. Die verweerder word gelas om rente op die genoemde bedrag te betaal teen 15,5% per jaar bereken vanaf 24 Julie 2007 tot datum van betaling.
3. Die verweerder word gelas om die eiser se koste te betaal.
W R C PRINSLOO
REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF 34247-2007
DATUM AANGEHOOR: 2 & 3 JUNIE 2008
NAMENS DIE EISER: ADV J E FERREIRA (DAG 1) EN A P J ELS (DAG 2)
IN OPDRAG VAN: COUZYN HERTZOG & HORAK
NAMENS DIE VERWEERDER: PROKUREUR G P MILLS
IN OPDRAG VAN: MILLS & GROENEWALD