South Africa: High Courts - Gauteng Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Courts - Gauteng >> 2008 >> [2008] ZAGPHC 259

| Noteup | LawCite

Coetzee v Minister van Veiligheid en Sekuriteit (39553/2005) [2008] ZAGPHC 259 (21 August 2008)

Download original files

PDF format

RTF format


                  /SG
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID AFRIKA
(TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)

                                    Datum: 21/08/2008
                                    Saak No: 39553/2005
ONRAPORTEERBAAR









In die saak tussen:


JOHANNES STEFANUS COETZEE                          EISER


En


MINISTER VAN VEILIGHEID EN SEKURITEIT             VERWEERDER




UITSPRAAK

PRINSLOO, R

[1]      Die eiser dagvaar die verweerder op grond van onwettige arrestasie van die eiser deur polisie offisiere wat binne hulle diensbestek met die verweerder opgetree het.

[2]      Die voorval
het in Julie 2004 plaasgevind. Ondertussen het die partye ‘n deel van die saak geskik deurdat die verweerder aanspreeklikheid toegegee het. Al wat oorbly is om die quantum van die eiser se vordering vas te stel. Die verhoor om laasgenoemde doel te bereik het voor my gedien. Mnr. G ldenpfennig het vir die eiser verskyn en mev. Snyman het vir die verweerder verskyn.

[3]      Blykens die
besonderhede van vordering word die eis soos volg saamgestel:

1.       Regskoste ten opsigte van die borgaansoek en verskynings in die strafhof (die strafsaak is teruggetrek) R6 250.00;

2.      
Mediese uitgawes R6 000.00;

3.      
Beraamde toekomstige mediese uitgawes R6 000.00;

4.       Geld wat gesteel is tydens aanhouding R1 000.00;

5.      
Verlies aan inkomste R47 281.77;

6.       Algemene skade vir pyn en l
yding, contumelia, ontneming van vryheid, posttraumatiese stres en trauma R200 000.00. Totaal R266 531.77

Die getuienis

[4]      Dr Clive Leonard Landman is ‘n algemene praktisyn. Hy is in 1987 gekwalifiseer.

[5]     
Op 15 Julie 2004 het die eiser en sy vrou die getuie kom konsulteer. Hy is meegedeel van ‘n onwettige arrestasie wat ‘n dag of twee tevore plaasgevind het en wat daartoe gelei het dat die eiser die nag in die tronk moes deurbring. Die getuie kon sien dat die eiser getraumatiseer is. Hy was senuweeagtig en gespanne. Dit het gelyk asof hy aan angs ly.

[6]      Die dokter het posttraumatiese stres (“PTS”) gediagnoseer
. Hy het sterk medikasie in die vorm van ‘n antidepressant en ‘n kalmeer middel voorgeskryf. Hy het ook in ‘n mediese sertifikaat verklaar dat die eiser nie sal kan werk vir ongeveer 14 dae nie (vanaf 15 Julie 2003 tot 30 Julie 2004).

[7]      Die getuie het ook
die eiser se vrou behandel met ‘n kalmeerpil en antiinflammatoriese middels vir spierspasma.

[8]      Die eiser, Johannes Stefanus Coetzee, was die volgende getuie. Hy is ‘n meganiese
ingenieur wat, ten tye van die voorval, reeds 30 jaar gepraktiseer het. Hy het hom toegespits op die voedselbedryf en meer in die besonder die suiwelbedryf. Hy het sy eie praktyk bedryf as ‘n spesialis proses ingenieur. Hy het vir kli nte projekte voorberei teen ‘n bepaalde tarief vir beplanning, ontwerp en projek uitvoering. In die loop van sy werk het hy ook in die buiteland gepraktiseer. Dit was onder andere in Israel en Madagaskar. Hy is geregistreer as ‘n ingenieur wie se kwalifikasies internasionaal erkenning geniet.

[9]      Op 12 Julie 2004, terwyl die eiser besig was om met ‘n kli nt te konsulteer, het hy ‘n telefoon oproep
ontvang van ene Sersant Makena van Pretoria Sentraal Polisie Stasie, wat hom gevra het om ‘n besoek daar af te l aangesien hy ‘n saak teen die eiser ondersoek.

[10]    
Die eiser was verbaas om die tyding te hoor en het sekere navrae gerig aan Sersant Makena. Dit het geblyk dat die vermeende verdagte ‘n meubel handelaar was. Dit was duidelik die verkeerde verdagte wat Sersant Makena beetgehad het. Daar is afgespreek dat Makena die eiser op 14 Julie sou besoek.

[11]     Op 13 Julie was die eiser egter in die stad en het hy ‘n besoek afgel by Pretoria Sentraal, homself ge dentifiseer en gevra om Sersant Makena te sien. Dit was ongeveer 14:00. Makena was aanvanklik nie daar nie
maar die eiser het met Inspekteur Ndukula gepraat. Die saaknommer wat Makena oor die telefoon verskaf het, het die eiser vir die inspekteur gegee en die l er is getrek. Makena is geskakel. Hy sou binne 15 minute sy opwagting maak maar dit het nie gebeur nie. Ndukula het die eiser toe verder ondervra en ook die klaer gebel. Aan die hand van wat die klaer na bewering ges het, het Ndukula besluit dat die eiser die persoon is na wie hulle soek. Die eiser is toegelaat om sy prokureur te skakel. ‘n Voorstel om ‘n borgaansoek te loods het die eiser van die hand gewys want hy was oortuig daarvan dat die misverstand opgeklaar sou word.

[12]     Later het
Makena opgedaag. Hy het die eiser uitgevra wat ontken het dat hy ‘n meubel handelaar is of iets met die saak te doen het. Sy werksbesonderhede het hy aan Makena verskaf. Hy het ook sy besondere inskrywing in die telefoonboek aan Makena getoon.

[13]     In bre trekke kan ges word dat Makena
toe verdwyn het met die dossier in sy besit. Sy selfoon het hy afgeskakel want daar kon nie met hom in verbinding getree word nie. By die polisie stasie is die eiser se vingerafdrukke toe geneem en die eiser is ook aanges om sy persoonlike besittings, lyfband en skoenveters in te gee vir bewaring. Die prokureur kon nie daarin slaag om ‘n borgaansoek te re l nie omdat Makena verdwyn het.

[14]     Die eiser is toe alleen in ‘n sel geplaas maar die deur van die sel is nie gesluit nie.
Dit was in die middel van die winter maar die venster kon nie toegemaak word nie. Dit was bitter koud. Die eiser het ‘n slapelose nag deurgemaak. Hy was erg getraumatiseer en was ook bevrees dat hy gesodomiseer kon word. Hy het verneder gevoel en was verslae oor wat met hom gebeur het.

[15]     Die volgende oggend is hy in die teenwoordigheid van sy prokureur na die hof geneem. Hy is in die hofselle toegesluit. Daar is hy
deur ‘n aantal medeverhoorafwagtendes gekonfronteer en gedreig. Hy moes sy horlosie en beursie aan hulle oorhandig. Sy ring kon hy nie van sy vinger af kry nie. ‘n Bedrag van R1 020.00 is uit sy beursie verwyder. Hy het by die polisie gaan kla wat die diewe gekonfronteer het en R720.00 by hulle teruggekry het.

[16]    
Daarna is die eiser geboei en saam met twee medeverhoorafwagtendes, wat ook geboei is, deur die hofgebou geneem tot by die betrokke hof. Hy het erg vernederd gevoel en was bevrees dat iemand wat hom ken hom daar sou sien.

[17]     Borg is toegestaan
. Later moes die eiser by vier geleenthede in die hof verskyn (twee keer in Julie en twee keer in September). By die laaste verskyning is die saak sonder meer teruggetrek.

[18]     In totaal was die eiser vir ongeveer 22 uur in aanhouding. Twee dae nadat hy
ontslaan is uit aanhouding het hy dr. Landman gespreek. Daarna het hy self die trauma probeer verwerk en hy het ook met sy predikant gepraat.

[19]     Op advies van sy predikant het hy ongeveer ‘n jaar later die sielkundige, mev. Opperman, gaan spreek. Hy het verskeie konsultasies met haar gehad.

[20]     Die gebeure het ‘n blywende effek op hom gehad. Hy voel steeds ontsteld en verslae. Die voorval het ‘n ingrypende impak op sy
lewe gehad en sy sienswyse in ‘n groot mate verander. Sy kantoor roetine het ook verander. Hy het begin om meer in die nag te werk. Dit was ‘n abnormale leefwyse. Dit het daartoe gely dat hy ook nie vroeg die volgende oggend met kli nte kon konsulteer nie. Sy sienswyse van die polisie het ook verander.

[21]    
Die gebeure by die selle het hom absoluut verneder en onmenswaardig laat voel.

[22]     Hy is tans nie op medikasie nie
. Hy het ook nie dr. Landman se aanvanklik voorskrif herhaal nie. Hy probeer om self die gebeure te verwerk.

[23]     Die derde
en laaste getuie was mev. Carol-Ann Opperman. Sy is ‘n raadgewende sielkundige. Sy praktiseer reeds vir ongeveer 16 jaar. Sy is ‘n geregistreerde sielkundige by die mediese raad en ook by die Sielkundige Vereniging van SuidAfrika. Sy werk aan ‘n doktorsgraad in trauma en mishandeling.

[24]    
Die eiser het haar die eerste keer in die middel van 2005 kom spreek en weer vir doeleindes van ‘n opvolgverslag in Julie van hierdie jaar. By die eerste geleentheid het sy reeds ‘n posttraumatiese stres versteuring gediagnoseer. In haar Engelse verslag word dit beskryf as “post-traumatic stress disorder” (“PTSD”). Sy stem ook saam met die onmiddellike diagnose van PTS wat dr. Landman gemaak het. Die toestand word later kronies. Dan word dit PTSD. Dit word as ‘n re l nie oor die lang termyn behandel nie maar die simptome kan hulleself herhaal. Verdere simptome wat hieruit voortvloei is slaapversteuring wat ook kronies van aard kan wees.

[25]    
In haar opvolgverslag van ‘n maand gelede het sy die aanvanklike diagnose van PTSD herbevestig. Sy voel dat die eiser, vanwe sy besondere persoonlikheid, probeer om die simptome af te maak omdat hy dit self onder beheer wou bring. Huidige simptome sluit egter die volgende in: nagmerries, kroniese moegheid, konsentrasie probleme, korttermyn geheue probleme en veranderings in leefstyl en gewoontes.

         Hierdie is simptome van PTSD. Die simptome het kronies van aard geword. Dit het lang termyn negatiewe gevolge vir die eiser teweeggebring.

Die subhoofde van die quantum

(i)      Regsonkoste

[26]     Bewysstuk D is die rekening van die prokureur. Dit het te doen met die aanvanklike onderhandelinge met die polisie, die borgaansoek en opwagtings met die polisie in die hof. Daar is ‘n verdere fooi vir die opwagtings vir doeleindes van die strafverhoor. Dit was nadat borg toegestaan is. Die rekening van R6 250.00 is billik. Mev. Snyman, namens die verweerder, het, tereg, hierdie toegewing gemaak.


(ii)     Mediese onkostes

[27]     Bewysstuk B en bewysstuk C is twee rekeninge van mev. Opperman. Die totale bedrag beloop R3 049.80. Hierdie bedrag is ook nie in geskil nie en behoort toegelaat te word.

(iii)   
Geraamde toekomstige mediese koste

[28]     Die eis hiervoor is laat vaar.

(
iv)     Gesteelde geld

[29]     Die getuienis toon dat die eiser die meeste van sy geld wat in die selle gesteel is met behulp van die polisie teruggekry het. Slegs R300.00 het verdwyn. Die vordering hiervoor moet toegelaat word.

(v)     
Verlies aan inkomste

[30]     Bewysstuk A47 is ‘n uiteensetting wat die eiser self saamgestel het om sy verlore inkomste te bewys. Volgens hom het hy vir die tydperk van tien maande tussen Maart 2004 en Desember 2004 ‘n bruto inkomste van R531 919.88 gehad. Dit beteken ‘n gemiddelde inkomste per dag van R2 955.11. Vir die sestien werksdae wat hy afwesig moes wees kom dit neer op ‘n verlies van R47 281.77.

[31]     Mev. Snyman, tereg na my mening,
het uitgewys dat daar ‘n verskil is tussen hierdie uiteensetting en die uiteensetting van die eiser se eie ouditeure wat bewysstuk A46 is. Daarvolgens het die eiser oor ‘n langer periode (Maart 2004 tot Februarie 2005) net R445 270.00 aan bruto inkomste verdien. As dieselfde proses ten opsigte van hierdie syfer toegepas word, naamlik om die daaglikse verlies te bepaal en met sestien te vermenigvuldig, is die resultaat R39 579.00. Alhoewel die eiser ‘n verduideliking hiervoor gegee het naamlik dat die mindere bedrag wat die ouditeure vasgestel het nie die verlies insluit nie, en dat slegte skuld ook ‘n rol kan speel, is ek nie oortuig dat die eiser se beraming die mees realistiese een onder die omstandighede is nie.

        
Ek meen dat mev. Snyman se sommetjie van R39 579.00 toegelaat behoort te word.


(vi)    
Algemene skade

[32]     In sy volledige betoog het mnr. G ldenpfennig my herinner aan die trauma wat die eiser deurgemaak het. Hy het ook die moeite gedoen om my na ‘n aantal sake te verwys waar vergelykbare toekennings gemaak is. Die sake is die volgende:

1.       May v Union Government 1954 3 SA 120 (N) waar ‘n advokaat verkeerdelik gearresteer is en vir ‘n paar uur aangehou is. Sy destydse toekenning van R2 000.00 word met inflasie aangepas na R123 000.00.

2.       In Areff v Minister van Polisie 1977 2 SA 900 (A) het die Hoogste Hof van App l R1 000.00 toegeken aan ‘n 41 jarige besigheidsman wat vir twee ure aangehou is na ‘n arrestasie. Die inflasie gewysigde toekenning is R26 000.00.

3.      
Lui Quin Pin v Akani Egoli (Pty) Ltd 2000 4 SA 68 (W) waar R16 000.00 toegeken is aan ‘n besigheidsman wat onwettig aangehou is. Die tydperk van aanhouding was drie ure.

4.       In
Seria v Minister of Safety and Security and Others 2005 5 SA 130 (K) is R50 000.00 toegeken aan ‘n professionele man wat gearresteer is en vir ongeveer 24 uur aangehou is.

5.       In
Heyns v Venter 2004 3 SA 200 (T) is R50 000.00 toegeken nadat die eiser vir ‘n paar uur aangehou is.

6.       Ek is ook verwys na
Osche v King Williams Town Municipality 1990 2 SA 855 (OK) en Gambie v Die Minister van Polisie en ‘n Ander 1976 4 SA 759 (A).

[33]     Gegewe die feit dat die eiser erg verneder en getraumatiseer is, vir ‘n relatiewe lang tyd in aanhouding was en permanente nagevolge in die vorm van PTSD opgedoen het, het mnr. G ldenpfennig aan die hand gedoen dat ‘n toekenning van R75 000.00 billik sou wees.

[34]     In haar ewe volledige betoog het mev. Snyman my ook verwys na
sekere onlangse beslissings:

1.       In Louw and Another v Minister of Safety and Security and Others 2006 (2) SASV 178 (T) is R75 000.00 skadevergoeding toegeken aan ‘n staatsaanklaer wat voor sy kollegas verneder en gearresteer is. Hy is vir twintig ure aangehou.

2.      
In Gellman v Minister of Safety and Security 2008 (1) SASV 446 (W) is R80 000.00 as algemene skade toegeken aan ‘n man wat vir 48 uur aangehou is saam met potensieel gevaarlike medegevangenis. Hy is ook voor sy kollegas gearresteer.

[35]     Mev. Snyman het betoog dat ‘n toekenning van R75 000.00 billik sal wees, veral met inagneming van die permanente nagevolge van die PTSD wat gediagnoseer is.

[
36]     In mnr. G ldenpfennig se repliek het hy daarop gewys dat die eisers in die twee sake wat mev. Snyman na verwys het nie die permanente nagevolge van PTSD oorgehou het nie.

[37]     Ek is, met respek, die mening toegedaan dat beide advokate se beraming van R75 000.00 in die kol is.

[38]     Ek is dus voornemens om ‘n toekenning van R124 178.80 te maak wat soos volg saamgestel is:

        
Regskostes                         R 6 250.00
         Mediese koste             R 3 049.80
         Gesteelde geld            R 300.00
        
Verlies aan inkomste     R 39 579.00
         Algemene skade            R 75 000.00     
         Totaal                              R124 178.80     

[39]    
Wat koste betref behoort dit die kwalifiserende fooie van die twee mediese deskundiges in te sluit.

[40]     Ten opsigte van rente het mnr. G ldenpfennig my meegedeel dat ‘n vorige vordering van rente vanaf datum van aanmaning laat vaar word. Rente sal dus loop vanaf die datum van hierdie bevel. Ek maak die volgende bevel:

1.       Vonnis word toegestaan teen die verweerder ten gunste van die eiser vir betaling van die bedrag van R124 178.80.

2.       Die verweerder
word gelas om rente op die vonnisbedrag te betaal teen 15,5% per jaar bereken vanaf datum van hierdie bevel tot datum van betaling.

3.      
Die verweerder word gelas om die eiser se koste te betaal wat sal insluit die kwalifiserende fooie van die deskundiges Landman en Opperman.

                                                               W R C PRINSLOO
                                            
REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF
39553/2005

Vir die Eiser:   Adv.S G ldenpfennig
Opdrag deur:     Mnre.N van der Merwe Prokureurs, Pretoria
Vir die Verweerder:      Adv. F Snyman
Opdrag deur:     Die Staatsprokureur
Datum van verhoor:       14/02/2008
Datum van Uitspraak:     21/08/2008