South Africa: High Courts - Gauteng Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Courts - Gauteng >> 2008 >> [2008] ZAGPHC 458

| Noteup | LawCite

Pretorius v Pretorius and Others (18611/07) [2008] ZAGPHC 458 (16 February 2008)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOË HOF VAN SUID-AFRIKA

(WITWATERSRANDSE PLAASLIKE AFDELING)

Saaknommer : 18611/07

Datum:16/02/2008

In die saak tussen:


JOHANNES ADAM PRETORIUS.........................................................................Eiser

en

HENDRIK JOHANNES JACOBUS PRETORIUS...........................Eerste Verweerder

H&H MAILING BK........................................................................Tweede Verweerder

BUSINESS GENETICS (EDMS) BEPERK......................................Derde Verweerder

ZAKTER PROPERTIES 103 BK.....................................................Vierde Verweerder



MEYER, R


[1] Die eiser en die verweerder is pa en seun. Die bestaan al dan nie van ‘n vennootskap tussen hulle vanaf ongeveer Februarie 1996 tot April 2007 is in geskil. In bede 1 van sy besonderhede van vordering vorder die eiser ‘’n bevel dat die vennootskap tussen die Eiser en die Eerste Verweerder (‘die vennootskap’) beeïndig is’. Tydens sy sluitingsbetoog het Adv Geyer namens die eiser versoek dat bede 2 van die eiser se besonderhede van vordering gewysig word na ‘’n bevel dat 50 persent van die vierde verweerder se ledebelang ‘n bate van die vennootskap is’ of so geag word. Adv van der Merwe het aangedui dat die verweerders geen beswaar teen soadanige wysiging het nie. Dit is gemenesaak dat verskeie onroerende eiendomme op naam van die vierde verweerder, Zakter Properties 103 CC (“Zakter”), registreer is en dat Zakter nie enige ander besigheid bedryf nie.


[2] Terwyl die eiser onder kruisverhoor was, het Adv Geyer aansoek gedoen vir die wysiging van die eiser se besonderhede van vordering ten einde dit in ooreenstemming met die eiser se getuienis te bring. Die aansoek is gebring op Vrydagoggend, 6 Februarie 2009. Die aansoek is geopponeer. Op versoek van Adv van der Merwe het ek die saak laat afstaan na Maandagoggend, 9 Februarie 2009, ten einde die regsverteenwoordigers van die verweerders die geleentheid te gun om met hulle kliënte te konsulteer en vir die verweerders om hulle posisie verder daaromtrent te oorweeg. By hervatting van die verrigtinge was die voorgenome wysiging steeds bestrede. Adv van der Merwe het aangedui dat die verweerders nie voornemens was om hulle pleitstukke aan te pas indien die wysiging toegestaan word nie. Die magtiging van die voorgenome wysiging het geen benadeling vir die verweerders ingehou nie. Hulle het voldoende tyd gehad om daaromtrent te konsulteer en die eiser was steeds onder kruisverhoor. Ek het die aansoek toegestaan en die eiser gelas om die koste wat daardeur veroorsaak is, te betaal.


[3] Na sluiting van die eiser se saak het Adv van der Merwe namens die verweerders aansoek gedoen om absolusie van die instansie. Die gronde aangevoer ter ondersteuning daarvan was dat dit ‘onduidelik’ uit die eiser se getuienis was of die ooreenkoms waarop die eiser steun ‘n vennootskapsooreenkoms is of ‘n ooreenkoms om ‘n beslote korporasie te stig; dat die essentialia van ‘n vennootskapsooreenkoms nie deur die eiser bewys is nie, aangesien die eiser, so was betoog, geen bydrae gelewer het tot die vennootskap insoverre dit die derde en die vierde verweerders aanbetref nie; en dat die eiser se getuienis so onbevredigend was dat dit verwerp behoort te word. Ek was van mening dat daar geen meriete in enige van die geopperde gronde was nie en bygevolg het ek die aansoek om absolusie van die instansie met koste geweier.


[4] ‘n Groot gedeelte van die getuienis was of onbetwis of gemenesaak. Gedurende ongeveer Februarie 1996 het die eerste verweerder aan die eiser voorgestel dat hulle saam ‘n besigheid begin. Die eiser was op daardie stadium ongeveer 45 jaar oud en werksaam vir Abacor. Die eerste verweerder was 24 jaar oud en werksaam vir Nedcor Bpk. Die besigheidskonsep wat die eerste verweerder aan die eiser voorgelê het was dié van ‘n sogenaamde ‘mailing house’ en hy het geglo dat hy en die eiser baie geld daaruit sou maak. Fakture en maandelikse state sou namens kliënte gevou, in koeverte geplaas, en gepos word. ‘n Meer akkurate en vinniger diens as wat voornemende kliënte binneshuis kon verrig, sou aangebied word. Die eiser het ingestem. Hulle het ooreengekom dat die eiser verantwoordelik sou wees vir die dag tot dag produksie en die eerste verweerder vir die administrasie en bemarking.


[5] Pa en seun is deur ‘n rekenmeester aanbeveel om die besigheid deur middel van ‘n beslote korporasie te bedryf. Die tweede verweerder is vir hierdie doel gestig. Die afkorting ‘H&H’ in die naam ‘H&H Mailing’ verteenwoordig hulle noemname, Hans en Henk. Elk het ‘n 50 persent ledebelang in die tweede verweerder verkry. Die besigheid het klein begin. Pa en seun het vir eers hulle voltydse betrekkings behou. Die eiser was die eerste om sy betrekking by Abacor te verlaat ten einde voltyds vir die eerste verweerder te werk. Hy was op daardie stadium reeds ongeveer 35 jaar werksaam by Abacor en hy was nie welaf nie. Vanaf 15 Januarie 2000, en op ‘n stadium toe die eerste verweerder reeds die posisie van bestuurder in die administratiewe afdeling van American Express by Nedcor Bpk bereik het, het hy ook sy betrekking bedank. Die besigheid het oor tyd gegroei en kon later spog met 'n aantal groot korporatiewe kliënte en 'n omset van etlike miljoen per jaar. Gedurende April 2007 het die eerste verweerder vir die eiser van die besigheidsperseel van die tweede verweerder weggejaag en vir hom gesê dat hy nie weer sy voete daar moet sit nie. Die eerste verweerder is onder voorlopige likwidasie geplaas op 12 Julie 2007 en die bevel is bekragtig op 12 Desember 2007.


[6] Die eiser voer aan dat die ooreenkoms tussen hulle ‘n vennootskapsooreenkoms was en dat ‘n vennootskap vanaf ongeveer Februarie 1996 tot April 2007 tussen hom en die eerste verweerder bestaan het. Die tweede verweerder was bloot die voertuig wat gebruik was om die bepaalde besigheid te bedryf. Volgens die eiser is ooreengekom dat hulle 50/50 vennote sou wees en hulle sou in gelyke dele in die winste deel. Die winste sou nie verdeel word nie, maar op ‘n later stadium aangewend word om ander besighede te begin en eiendomme aan te koop. In hierdie verband het die eiser getuig dat hulle ooreengekom het om soos wat die besigheid groei die winste aan te wend om saam ander besighede en belange ‘onder die Pretorius naam’ te begin. Daar was volgens die eiser se getuienis ‘n absolute vertrouensverhouding tussen hom en sy seun. Die eiser was uitsluitlik en sonder inmenging van die eerste verweerder in beheer van produksie en die eerste verweerder op sy beurt uitsluitlik en sonder inmenging van die eiser in beheer van alle finansiële aspekte, bestuur, administrasie en bemarking van die besigheid. Die eiser het geen finansiële agtergrond nie en hy was nie instaat om finasiële state te lees nie.


[7] Dit is dan die eiser se saak dat Zakter so ‘n verdere uitbreiding van die vennootskapsbesigheid is. Zakter is onder andere die geregistreerde eienaar van ‘n onroerende eiendom waarna tydens die verhoor verwys is as ‘Tulbagh Nr 38, Florida’ (‘die Florida eiendom’). Die eiser het getuig dat die eerste verweerder voorgestel het dat hulle hierdie eiendom deur middel van Zakter aankoop en op naam van Zakter registreer. Die eerste verweerder het volgens die eiser se getuienis na Zakter verwys as die ‘Pretorius Familietrust’. Zakter is ook die geregistreerde eienaar van ‘n aantal erwe in Gansbaai. Met betrekking tot die aankoop van hierdie eiedomme het die eiser getuig dat die eerste verweerder voorgestel het dat hulle na Gansbaai toe gaan. Daar aangekom het die eerste verweerder vir hom gesê: ‘Pa ons gaan standplase koop, want hierdie plek is besig om te ontwikkel.’ Volgens die eiser het hulle toe vyf standplase aangekoop. Die eerste verweerder het hom meegedeel dat die standplase onder die familietrust aangekoop word.


[8] Die eerste verweerder ontken die aangaan van ‘n vennootskapsooreenkoms of die terme daarvan soos deur die eiser beweer. Hy het getuig dat hy en sy pa net die bedoeling gehad het en alleen ooreengekom het om die enkele besigheid te begin en om dit te bedryf as ‘n beslote korporasie waarin elk ‘n 50 persent belang sou hê. Hy ontken gevolglik die bestaan van ‘n vennootskap tussen hulle.


[9] Die eiser het maar eenvoudig in die getuiebank voorgekom. Sy taalvaardigheid in sy moedertaal was swak. Hy het duidelik gesukkel om homself behoorlik uit te druk. Wat die wesentlike geskilpunte aanbetref het hy egter konsekwent by sy weergawe gebly en daarmee volhard. Adv van der Merwe het tydens sy sluitingsbetoog tereg verwys na sekere teenstrydighede in en onbevredigende aspekte van sy getuienis wat insluit die wysiging in sekere opsigte van sy besonderhede van vordering. My geheelindruk van die eiser se optrede in die getuiebank en van die inhoud van sy getuienis gemeet in die konteks van al die getuienis is dat sodanige onbevredigende aspekte nie aan enige oneerlikheid aan sy kant toegeskryf kan word nie.


[10] Daarteenoor het die eerste verweerder my voorgekom ‘n baie intelligente en ambisieuse persoon te wees. Hy het onbevredigend in die getuiebank voorgekom en sy geloofwaardigheid is twyfelagtig. Die eiser het sy brood en botter verdien uit die besigheid. Nieteenstaande het die eerste verweerder sy pa gedurende April 2007 met krutaal van die besigheidsperseel weggejaag. Daarna het hy op 5 Julie 2007 ‘n eedsverklaring afgelê ter ondersteuning van sy aansoek vir die likwidasie van die tweede verweerder waarin hy beweer het dat sy pa ‘has absconded’ en dat hy ‘refuses to return to work.’ Onder kruisverhoor het die eerste verweerder erken dat hy geweet het dat die woord ‘abscond’ ‘dros’ beteken, dat sy pa nie gedros het nie maar deur die eerste verweerder weggejaag is met krutaal en dat sy voormelde weergawe soos vervat in sy eedsverklaring ‘n leuen is. Onder herondervraging is ‘n poging aangewend om sy leuenagtigheid aan te suiwer. Hy getuig toe dat sy begrip van die woord ‘abscond’ is dat die ‘weknemer gaan nie weer terugkom nie.’ Ek hoef nie verdere voorbeelde te verskaf nie. Die eerste verweerder se weergawe op die aspekte in geskil word weerlê deur die onbetwisde feite en die waarskynlikhede waarna ek hieronder verwys.


[11] Die eerste verweerder het in sy hoofgetuienis getuig dat hy en die eiser nooit die bedoeling gehad het om ‘n vennootskap te stig nie, want ‘die risiko was te hoog.’ Daarom het hulle ooreengekom om die besigheid deur middel van 'n beslote korporasie te bedryf. Onder herverhoor het hy getuig dat die eiser eers sy finale besluit om die besigheid saam met hom te begin geneem het nadat hulle die rekenmeester gaan spreek het. Hierdie weergawe is na my mening onwaarskynlik. Op die eerste verweerder se eie weergawe was die rede waarom hulle albei die rekenmeester gaan spreek het om advies in te win oor hoe hulle die besigheid moes bedryf.


[12] Die besluit om die besigheid deur middel van ‘n beslote korporasie te bedryf weerlê nie die eiser se weergawe van die totstandkoming en die bestaan van ‘n vennootskap tussen pa en seun nie. Daar bestaan regtens geen beletsel waarom ‘n vennootskapsooreenkoms, uitdruklik of stilswyend, nie mag bepaal dat vennootskapsondernemings deur middel van beslote korporasies of maatskappye bedryf sal word nie [vgl. Stewart v Schwab 1956 (4) SA 791 (T)].


[13] Die bestaan van ‘n vennootskap word ondersteun deur die wyse waarop die besigheid van die tweede verweerder bedryf is. Die eiser en die eerste verweerder het elk ‘n gelyke belang in die besigheid van die tweede verweerder gehad. Die eiser se bankrekening is aangewend vir die besigheid van die tweede verweerder om bankkoste en uitgawes te bespaar. Die eiser het persoonlik betaal vir die aankoop van die masjiene vanaf Nedbank wat aangewend is in die besigheid. Sodanige betaling het deel gevorm van sy bydrae. Op ‘n stadium is die besigheid bedryf uit die motorhuis van die eerste verweerder se ouerhuis en later is die hele perseel daarvoor aangewend. Eers in November 2005 het die besigheid na ‘n besigheidsperseel te Laser Square 1A, Honeydew verskuif.


[14] Die eerste verweerder se woning wat geleë is te Leicesterweg 156 in die residensiële landgoed bekend as Featherbrook Estates (‘die Featherbrook eiendom’) is te alle relevante tye op naam van die vierde verweerder, Zakter, geregistreer. Gedurende Maart 2002 het die eerste verweerder die totale ledebelang in Zakter aangekoop vir die bedrag van R1, 150, 000.00 en sedertdien het die eerste verweerder en sy eggenote elk ‘n 50 persent belang in Zakter. Die aankoop is hoofsaaklik gefinansier deur ‘n verbandlening wat deur Zakter verkry is. Gedurende Augustus 2005 is ook die Florida eiendom deur Zakter aangekoop en op naam van Zakter geregistreer. Betaling van die koopprys vir hierdie eiendom is ook deur ‘n verbandlening wat namens Zakter verkry is, gefinansier. Dit is gemenesaak dat hierdie eiendom deur die eerste verweerder se ouers uitgekies is as 'n nuwe woning vir hulle, dat die eerste verweerder se instemming tot die aankoop daarvan verkry is en dat dit op instansie van die eerste verweerder deur Zakter gekoop en op naam van Zakter geregistreer is. Gedurende 2005 het Zakter ses erwe in Gansbaai aangekoop. Betaling van die koopprys is deur ‘n verbandlening wat namens Zakter verkry is, gefinansier. Dit is gemenesaak dat pa en seun saam na Gansbaai gegaan het om die erwe voor die aankoop daarvan te besigtig. Die eerste verweerder en sy eggenote het borg gestaan ter versekering van al die verbandlenings wat namens Zakter verkry is. Die eerste verweerder het getuig dat sy ‘pa was naby sestig en om hom te vra om borge te teken was absurd.’


[15] Die tweede verweerder se winste is nooit uitbetaal nie. Die tweede verweerder se beskikbare fondse is onder andere aangewend om al die maandelikse verbandpaaiemente ten aansien van al die onroerende eiendomme wat op naam van Zakter geregistreer is, maandeliks by wyse debietorderaftrekking teen die tweede verweerder se bankrekening te betaal. Wat die Florida en die Gansbaai eiendomme aanbetref was dit die geval sedert hulle oordrag op naam van Zakter gedurende 2005 en wat die Featherbrook eiendom aanbetref was dit die geval sedert ongeveer Augustus 2005 toe die eerste verweerder die verband vanaf R1, 15 miljoen na R1,9 miljoen verhoog het en die maandelikse paaiemente gevolglik na ongeveer R19 000.00 per maand verhoog het. ‘n Leningsrekening vir Zakter is geskep in die boeke van die tweede verweerder en debiteer met die bedrae wat die tweede verweerder maandeliks ten aansien van sodanige verbandpaaiemente betaal het. Zakter se leningsrekening is nooit voor die likwidasie van die tweede verweerder terugbetaal nie.


[16] Nadat die eerste verweerder vir die eiser gedurende April 2007 weggejaag het, het die tweede verweerder nie meer die vierde verweerder se verbandpaaiemente ten aansien van al die onroerende eiendomme betaal nie, is die tweede verweerder se besigheid deur die eerste verweerder na die derde verweerder oorgeplaas, en is die eerste verweerder onder likwidasie geplaas.


[17] Die eerste verweerder het ontken dat die eiser enige arbeid en dienste gelewer het met betrekking tot Zakter. Sy weergawe in hierdie verband is duidelik verkeerd. Zakter is bloot ‘n voertuig waarbinne eiendomme geregistreer en gehou word. Al Zakter se verbandpaaiementverpligtinge is uit die tweede verweerder se beskikbare fondse betaal. Sodanige fondse is genereer deur die besigheid wat die eiser en die eerste verweerder deur middel van die tweede verweerder bedryf het. Die eiser het daagliks ‘n aktiewe rol in die besigheid en gevolglik in die generering van die fondse gespeel wat onder andere aangewend is vir die betaling van die eiendomme.


[18] Die eiser se weergawe is redelik volledig uiteengesit in ‘n skrywe van sy prokureurs gedatteer 20 Februarie 2007. Die eerste verweerder het getuig dat by ontvangs van die skrywe het hy sy rekenmeester geskakel en op sy advies het hulle ‘n prokureur gaan spreek. Onderhandelings het daarop gevolg. Die inhoud van die eiser se voormelde prokureursbrief is egter nooit beantwoord en betwis nie. Geen redelike verduideliking vir sodanige versuim is verskaf nie. ‘n Verwerping van die inhoud daarvan insoverre dit teenstrydig is met die weergawe wat die eerste verweerder in hierdie verrigting voorgedra het sou in die omstandighede redelikerwys verwag word. Hoewel die versuim om daarop te antwoord nie opsigself deurslaggewend is nie, is dit tog ‘n faktor wat die eiser se weergawe verder ondersteun [sien bv.: Benefit Cycle Works v Atmore 1927 TPD 524 op 530 - 1; Sun Radio and Furnishers v republic Timber and hardware (Pty) Ltd 1969 (4) SA 378 (T); McWilliams v First Consolidated Holdings (Pty) Ltd 1982 (2) SA 1 (A) op 10E-H; Hamilton v Van Zyl 1983 (4) SA 379 (E) op 388E – H]. Dit is ook insiggewend dat Zakter in die tweede verweerder se finansiële state as ‘n ‘associated company’ beskryf word.

[19] Die eerste verweerder ontken die repudiasie van die vennootskapsooreenkoms en die ontbinding van die vennootskap omdat hy die aangaan en bestaan daarvan betwis. Die vennootskap was duidelik ontbind toe die eerste verweerder vir die eiser gedurende April 2007 met krutaal weggejaag het.


[20] Die gevolg van die voorgaande is dat die eiser in my oordeel sy weergawe van die bestaan en die ontbinding van die vennootskap bewys het. Die ooreenkoms tussen die eiser en die eerste verweerder kan objektief gesproke net as ‘n vennootskapsooreenkoms vertolk word. Die vereistes van ‘n vennootskapsooreenkoms is op ‘n oorwig van waarskynlike bewys [sien: Loots v Nieuwenhuizen en ‘n Ander 1997 (1) SA 361 (TPA), op 367H – 368B]. Die eiser vorder net ‘n verklarende bevel ten aansien van 50% van die vierde verweerder se totale ledebelang.


[21] Ek bevind gevolglik dat daar vanaf ongeveer Februarie 1996 tot April 2007 ‘n vennootskap tussen die eiser en die eerste verweerder bestaan het en dat die 50 persent ledebelang van die eerste verweerder in die vierde verweerder ‘n bate van die vennootskap is.


[22] Adv Geyer het namens die eiser bedes 3 en 4 van die besonderhede van vordering prysgegee en versoek dat die volgende regshulp onder die bede vir ‘verdere en/of alternatiewe regshulp’ verleen word:

- ‘n bevel dat die eerste verweerder aan die eiser ‘n rekening lewer van alle vennootskapstransaksies ten opsige van die vierde verweerder vir die tydperk Maart 2003 tot April 2007 behoorlik gestaaf deur ondersteunende dokumentasie;

- ‘n bevel dat die partye sodanige rekening debatteer;

- ‘n bevel dat die eerste verweerder aan die eiser sodanige bedrae betaal as wat aan die eiser verskuldig mag wees.


Hierteen het Adv van der Merwe namens die verweerders beswaar aangeteken. Hy het betoog dat sodanige regshulp vir die lewering en die debattering van ‘n rekening nie deur die eiser gepleit is nie en dat dit nie die saak was wat die verweerders in hierdie verrigtinge beantwoord het nie.


[23] Ek is nie oortuig dat alle aspekte met betrekking tot die aangevraagde regshulp vir die lewering en debattering van ‘n rekening [sien: Doyle and Another v. Fleet Motors P.E. (Pty) Ltd 1971 (3) SA 760 (A), op 762E – 763D] tydens die verhoor ten volle uitgepluis is nie [vergelyk: Loots v Nieuwenhuizen en ‘n Ander (supra)]. Bygevolg is ek van mening dat sodanige regshulp nie toegestaan behoort te word nie.


[24] In die gevolg maak ek die volgende bevel:

  1. Dit word verklaar dat:

1.1 die vennootskap tussen die eiser en die eerste verweerder (‘die vennootskap’) ontbind is;

1.2 die eerste verweerder se 50 persent ledebelang in die vierde verweerder ‘n bate van die vennootskap is.

  1. Met die uitsondering van die koste wat die eiser alreeds beveel is om te betaal, word die eerste verweerder gelas om die koste van hierdie geding te betaal.







P.A. MEYER

REGTER VAN DIE HOË HOF


16 Februarie 2008