South Africa: High Courts - Gauteng Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Courts - Gauteng >> 2008 >> [2008] ZAGPHC 46

| Noteup | LawCite

Van Staden NO en 'n Ander v Visscher en Andere (3753/2007) [2008] ZAGPHC 46 (21 February 2008)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)


Datum: 2008-02-21

Saaknommer: 3753/2007

ONRAPORTEERBAAR


In die saak tussen:


PETRUS JACOBUS MARYN VAN STADEN N.O.

(in sy hoedanigheid as kurator in die insolvente

boedel van Jean Lategan Strydom) Eerste Eiser/Respondent


NAKEDI MATHEWS PHOSA N.O.

(in sy hoedanigheid as kurator in die insolvente

boedel van Jean Lategan Strydom) Tweede Eiser/Respondent


en


VISSCHER, JOHANNA FRANCINA Eerste Verweerder/Eksepiënt


VISSCHER, CHRISTOFFEL Tweede Verweerder/Eksepiënt


GDG PROPERTIES JEFFREYS BAY

(EDMS) BPK Derde Verweerder/Eksepiënt


P W HANCKE EN KIE PROKUREURS Vierde Verweerder



UITSPRAAK


SOUTHWOOD R


[1] Die eisers, die kurators in die insolvente boedel van Jean Lategan Strydom (‘die insolvent’), eis -


(1) ‘n bevel dat die oordrag van die aandele van die insolvent aan die eerste en tweede verweerders tot niet gemaak word in terme van artikel 32 saamgelees met artikel 26, alternatiewelik, artikel 30 van die Insolvensiewet, 24 van 1936 (‘die Wet’) en daarop- volgens:


(2) ‘n bevel dat die eerste en tweede verweerders elk R158 226,34 aan die eisers betaal.


[2] Die eerste, tweede en derde verweerders teken eksepsie aan teen die eisers se gewysigde besonderhede van vordering op grond daarvan dat dit beweringe mis wat nodig is om die eis vir betaling van R158 226,34 van elkeen van die eerste en tweede verweerders te staaf. Daar is geen beswaar teen die formulering van die eisoorsaak wat betref die eis vir die tot niet maak van die vervreemding nie. In wese is die beswaar dat die gewysigde besonderhede van vordering beweringe mis wat noodsaaklik is in terme van artikel 32(3) van die Wet indien die eisers geldelike eise wil instel. Alhoewel die kennisgewing van eksepsie ietwat lomp opgestel is en miskien vatbaar is vir beswaar is die meriete van die eksepsie volledig geargumenteer en die punt van die verweerders se beswaar was duidelik identifiseer. Ek sal bygevolg die meriete van die eksepsie beslis.


[3] ‘n Eksepsie dat ‘n eiser se besonderhede van vordering beweringe mis wat nodig is om die aksie te staaf is ‘n beswaar in regte teen die pleitstuk. Die beswaar is gerig teen ‘n inherente gebrek in die pleitstuk. Dit aanvaar dat al die bewerings daarin vervat korrek is maar voer desondanks aan dat die pleitstuk nie ‘n gedingsoorsaak openbaar nie. Die korrektheid van die feite in die besonderhede van vordering word aanvaar maar die regskonklusie word betwis. Om so ‘n eksepsie te vermy moet die gedingvoerder toesien dat die wesenlike feite (d.w.s die facta probanda en nie facta probantia of getuienis ter bewys van die fact probanda nie) van sy eis met voldoende duidelikheid en volledigheid uiteengesit word dat indien die bestaan van sodanige feite aanvaar word, dit sy regskonklusie staaf en hom in regte sou moet laat slaag ten aansien van die regshulp of uitspraak wat hy aanvra – sien Makgae v Sentraboer (Ko-operatief) Bpk 1981 (4) SA 239 (T) te 244H-245A en 245D-E. In Mckenzie v Farmers Co-operative Meat Industries Ltd 1922 AD 16 te 23 het die hof ‘cause of action’ soos volg omskryf –


Every fact which it would be necessary for the plaintiff to prove, if traversed, in order to support his right to the judgment of the Court. It does not comprise every piece of evidence which is necessary to prove each fact, but every fact which is necessary to be proved.’


Dit is geykte reg dat die plig op die eksepiënte rus om die hof te oortuig dat elke vertolking wat die hof redelikerwys aan die besonderhede van vordering kan heg, vatbaar is vir eksepsie – sien Theunissen en Andere v Transvaalse Lewende Hawe Ko-op Bpk 1988 (2) SA 493 (A) te 500E: Lewis v Oneanate and Another [1992] ZASCA 174; 1992 (4) SA 811 (A) te 817F-G.


[4] Die feite wat die hof moet aanvaar kan soos volg saamgevat word:


(1) Die insolvent en die eerste en tweede verweerders was aan- deelhouers in die derde verweerder. Die insolvent het 500 aandele gehou en elkeen van die eerste en tweede verweerders 250 aandele.


(2) Op of ongeveer 12 Julie 2003 het die insolvent sy 500 aandele in die derde verweerder aan die eerste en tweede verweerders oorgedra, 250 aan elke verweerder.


(3) Ten tyde van die oordrag van sy aandele was die insolvent ‘n onbekende bedrag aan die eerste en/of tweede verweerder ver- skuldig synde die insolvent se onbetaalde bydrae tot die ver- bandpaaiemente verskuldig deur die derde verweerder.


(4) Ten tyde van die oordrag van sy aandele was die insolvent feite- lik insolvent deurdat sy laste sy bates oorskry het.


(5) Die insolvent het geen vergoeding ontvang vir die waarde van sy aandele wat hy aan die eerste en tweede verweerders oorge- dra het nie.


(6) Die oordrag van die insolvent se aandele aan die eerste en tweede verweerders was ter delging van die insolvent se skulde aan die eerste en/of tweede verweerder en is gemaak met die bedoeling om aan die eerste en/of tweede verweerder voorkeur te verleen bo die insolvent se ander skuldeisers op die tydstip toe die insolvent se skulde sy bates te bowe gegaan het.


(7) Die derde verweerder was die eienaar van ‘n onroerende eien- dom te Jeffreys Baai (‘die eiendom’).


(8) Op of ongeveer 23 Junie 2004 het die derde verweerder die eiendom verkoop vir R1 420 000.


(9) Die netto opbrengs uit die verkoop van die eiendom het R632 905, 33 beloop.


(10) Die insolvent is op 31 Augustus 2004 voorlopig en op 12 Okto- ber 2004 finaal gesekwestreer.


(11) Die waarde van die insolvent se aandele in die derde verweer- der wat aan die eerste en tweede verweerders oorgedra is het ten tyde van die oordrag van die aandele R316 452,67 beloop synde ‘n bedrag gelykstaande aan die helfte van die netto waar- de van die eiendom.


(12) Die aandele is tans minder werd of waardeloos aangesien die derde verweerder die eiendom verkoop het en oor minder of geen ander bates beskik nie.


(13) Die derde verweerder het met die verkoop van die eiendom dor- mant geraak aangesien die doel van die derde verweerder tot ‘n einde gekom het.


(14) Die insolvent en die eerste en tweede verweerders sou met die beëindiging van die derde verweerder se besigheid geregtig ge- word het op die uitbetaling van die netto opbrengs van die ver- koop van die eiendom in verhouding tot hulle aandeelhouding as dividend.


(15) Die netto opbrengs uit die verkoop van die eiendom van R632 905,33 is in gelyke dele van R316 452,67 of ‘n ander verhouding onbekend aan die eisers deur die derde verweerder aan die eer- ste en tweede verweerders oorbetaal.


[5] Op grond van dié feite beweer die eisers dat hulle in terme van artikel 32 gelees met artikel 26 alternatiewelik artikel 30 van die Wet geregtig is op ‘n bevel dat die vervreemding van die aandele tot niet gemaak word en ‘gevolglik’ dat hulle geregtig is om vanaf elkeen van die eerste en tweede verweerders die bedrag van R158 226,34 te vorder.


[6] Die bewering wat die woord ‘gevolglik’ volg neem nie in ag die bewoording van artikel 32(3) van die Wet nie. Die subartikel lui as volg:


Wanneer die hof kragtens een van voormelde artikels ‘n vervreemding van goed tot niet maak, dan verklaar die hof dat die kurator geregtig is om die vervreemde goed, of by gebreke van daardie goed, die waarde daarvan op die dag van die vervreemding of op die dag waarop die vervreemding tot niet gemaak word (na gelang die een of die ander meer is), in te vorder.’


Die woorde ‘by gebreke van’ het hulle gewone betekenis en maak dit duidelik dat die kurator slegs geregtig is om die goed, of die waarde van die goed, te vorder. Voordat die kurator die waarde van die goed kan vorder moet hy bewys dat dit onmoontlik is om dit terug te gee of dat dit nie bestaan nie – sien Meyer v Transvaalse Lewendehawe Koöperasie Bpk 1982 (4) SA 746 (A) te 769G-770E; Mars The Law of Insolvency in South Africa 8 uitgawe De la Rey 241 en die sake daar aangehaal.


[7] Die eisers se advokaat het betoog dat dit is, in effek, wat die gewysigde besonderhede van vordering beweer. Hy het verwys na die aard van ‘n aandeel – sien Standard Bank of South Africa Ltd v Ocean Commodities Inc 1983 (1) SA 276 (A) te 288H-289B: Liquidators Union Share Agency v Hatton 1927 AD 240 en Borland’s Trustee v Steel Brothers & Co Ltd [1901] 1 Ch 279 – en beklemtoon dat die doel van die artikels in die Wet is om krediteure van die insolvent te beskerm deur voorsiening te maak vir tersydestelling van bepaalde ongeoorloofde transaksies – sien Estate De Jager v Whitaker 1944 AD 246. Hy het aangevoer dat die bevel vir die tersydestelling van die vervreemding terugwerkende effek het en dat met ontvangs van die d dividend die verweerders die vorderingsreg, wat verteenwoordig word deur die aandele, uitgeoefen het en die derde verweerder se verpligting in dié verband uitgewis is. Derhalwe, volgens die argument, by die tersydestelling van die ongeoorloofde vervreemding van die aandele moet die eerste en tweede verweerders ook terugbetaal dit wat hulle ontvang het deur die uitoefening van regte wat hulle bekom het in terme van die ongeoorloofde vervreemding van die aandele. Volgens die argument sou dit absurd wees om die eerste en tweede verweerders toe te laat om as’t ware die vrugte van die ongeoorloofde transaksie te hou in omstandighede waar die transaksie self ter syde gestel word.


[8] Ek kan nie met die betoog saamstem nie. Dit neem nie in ag die feit dat die eisers in terme van ‘n statutêre eisoorsaak ageer en dat die statuut bepaal waarop hulle geregtig is en onder watter omstandighede. Ek stem met die verweerder se advokaat saam dat die bepalings van die Wet streng toegepas behoort te word. Die eisers moet beweer en bewys dat die aandele nie meer bestaan nie of dat dit onmoontlik is om hulle terug te gee. Na my mening is die gewysigde besonderhede van vordering nie vatbaar vir so ‘n interpretasie nie. Die eksepsie moet derhalwe slaag.


[9] Die kennisgewing van eksepsie vra dat die eisers se geldelike eise teen die eerste en tweede verweerders van die hand gewys word. Die verweerders se advokaat het toegegee dat daardie bevel nie vanpas is nie. Die eerste, tweede en derde verweerders teken eksepsie aan teen die besonderhede van vordering omdat dit nie ‘n eisoorsaak vir die geldelike eise teen die eerste en tweede verweerders openbaar nie: d.w.s. dat die beweringe nie die eise staaf nie. Dit moet onderskei word van ‘n geval waar die verweerders eksepsie aanteken teen een van meerdere eise wat voortspruit uit een eisoorsaak nie – sien Dharumpal Transport (Pty) Ltd v Dharumpal 1956 (1) SA 700 (A) te 705A-D: Saffer Clothing Industries (Pty) Ltd v Worcester Textiles (Pty) Ltd 1965 (2) SA 424 (C) te 429E-430B. By gebreke van die bewerings hierbo na verwys is die eisoorsaak teen die eerste en tweede verweerders onvolledig en gebrekkig en dit moet ter syde gestel word.


Bevel


[10] (1) Die eksepsie word gehandhaaf en paragrawe 8-18 van die ge- wysigde besonderhede van vordering word ter syde gestel;


(2) Die eisers (die respondente in die eksepsie) word gelas om die koste van die eksepsie te betaal;


(3) Daar word aan die eisers verlof verleen om hulle gewysigde be- sonderhede van vordering ooreenkomstig Reël 28 binne 20 dae van hierdie bevel te wysig.






___________________

B.R. SOUTHWOOD

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF


DATUM VAN VERHOOR: 2008-02-15


NAMENS DIE EERSTE EISER/RESPONDENT EN TWEEDE EISER/RESPONDENT: ADV. J.F. STEYN

IN OPDRAG VAN: Mnr. B. Pattison van Gerings Prokureurs


NAMENS DIE EERSTE TOT DERDE VERWEERDER/EKSEPIëNT: ADV. J. DANIELS

IN OPDRAG VAN: Mnr. E.E. Wessels van Wessels & Genote


DATUM VAN UITSPRAAK: 2008-02-21