South Africa: High Courts - Gauteng Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Courts - Gauteng >> 2009 >> [2009] ZAGPHC 3

| Noteup | LawCite

Van Coller v Cemforce BK (4549/2004) [2009] ZAGPHC 3 (19 January 2009)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA


(TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)



SAAKNR.: 4549/2004

In die saak van


VAN COLLER, ADOLF JOHANNES Eiser


en


CEMFORCE BK. Verweerder


CORAM: EBERSOHN WR.

AANGEHOOR OP 21, 24, 25 en 26 November 2008

UITSPRAAK AFGEGEE OP 19 JANUARIE 2009


__________________________________________________________________


UITSPRAAK

__________________________________________________________________


EBERSOHN WR.

[1] In hierdie aksie dagvaar die eiser die verweerder vir die betaling van 'n bedrag uit hoofde van 'n beweerde ooreenkoms.


[2] Adv. Greyling het namens die eiser verskyn en adv. Theron namens die verweerder.


[3] Die beweerde ooreenkoms het ingehou dat die eiser as fasiliteerder sou optree tussen die eiser en 'n hoofkontrakteur, ene Blue Pointer, soos verteenwoordig deur ene Spencer Venter, wat getender het vir die verskaffing van Ventilated Improved Pit ("VIP") toilette aan die Johannesburgse Waterraad. Die verweerder het deur die fasilitering van die eiser opdrag gekry om 2 900 (2600 + 300) Easy lOO VIP toilette te vervaardig en dit namens die hoofkontrakteur aan die Johannesburgse Waterraad te lewer. Die eiser beweer dat die verweerder die toilette teen R1 900 elk sou lewer en aan die eiser kommissie betaal teen R130 per gelewerde toilet. Die eiser beweer dat hy ten volle presteer het.


[4] Nadat die dagvaarding beteken is, het die verweerder nie verset aangeteken nie en die eiser het verstekvonnis teen die verweerder verkry. Die verweerder het daarna die tersydestelling van die verstekvonnis by wyse van 'n substansiele hofansoek verkry.


[5] Die eiser het getuig dat hy in 2002 'n ontmoeting gehad het met 'n sekere Spencer Venter, verbonde aan 'n firma bekend as Blue Pointer Trading.


[6] Venter het hom daartydens meegedeel dat hy moontlik 'n kontrak kan bekom vir die lewering van VIP toilette en hy het die eiser vir 'n kwotasie daarvoor gevra. Die eiser is verbonde aan 'n firma wat self toilette vervaardig en verkoop maar nie die VIP tipe nie. Die VIP toiletstelsel behels dat 'n gat in die grond gegrawe word en die VIP struktuur dan oor die gat geplaas word. In die geval van sanderige grond moet 'n kraag om die boonste gedeelte van die gat se wand geplaas word om te voorkom dat die sand in die gat val.


[7] Die eiser was bewus daarvan dat die verweerder sulke VIP toilette vervaardig en hy het vir Diedericks van die verweerder geskakel, hom ingelig oor die moontlike kontrak en hom vir 'n kwotasie gevra. Die aantal toilette is nie gespesifiseer nie. Hy het getuig dat Diedericks daarna aan hom 'n kwotasie gefaks het wat die prys vir 'n enkele VIP toitet struktuur soos opgerig, aangee as R1 700. Die kwotasie lees soos volg:


"Single pit VIP Toilet structure complete with 40mm GRF

roof & wall panels, 75mm GRC floor slab, pivot type

galvanised steel door, VIP pedestal & double flap toilet

seat and 110mm vent pipe including construction but

excluding all excavations and trimming of excavated material R1700,00


250mm Pit lining for VIP Toilet (optional) or R300,00

500mm Pit lining fir VIP toilet (optional) R400,00

(Excluding installation)"



[8] Die eiser het voorts getuig dat hy daarna aan Venter 'n prys van R1 900 per eenheid gekwoteer het. Hy het getuig dat hy by die bedrag van R1700, wat Diedericks hom gegee het, 'n bykomene bedrag van R200 as sy wins/kommissie bygevoeg het.


[9] Die eiser het getuig dat hy in Januarie 2003 'n oproep ontvang het van Venter waartydens hy genooi was om 'n vergadering met die Johannesburgse Waterraad by te woon. Die vergadering het plaasgevind. Die Johannesburgse Waterraad het belang gestel in die bostruktuur van die VIP toilet soos vervardig deur die verweerder maar wou eers 'n werklike wergawe daarvan sien. Die eiser het daarop vir Diedericks geskakel en Diedericks het 'n monster gestuur welke monster opgerig is in die perseel van die Johannesburgse Waterraad. Lg. het ingenome gelyk met die produk.


[10] Die eiser het vir Diedericks geskakel en hom ingelig van die gebeure en aan Diedericks gestel dat as die tender gefinaliseer sou word Cemforce Bk R200 per toilet wat die verweerder uit hofde daarvan sou lewer, aan eiser sou moes betaal. Diedericks het ingestem daartoe.


[11] Die tender is toe aan Blue Pointer Trading van Venter toegeken. Die eiser het dit toe nie meer nodig geag dat Venter en Diedericks uit mekaar gehou moes word nie en hy het hulle identiteite aan mekaar openbaar.


[12] Na 'n terreininspeksie het Diedericks en die eiser 'n verdere gesprek gehad waartydens Diedericks die eiser meegedeel het dat die terrein waar die toilette opgerig moes word nie alles "greenfields", bedoelende oop grond is nie maar dat dit opgerig moes word tussen bestaande eiendomme en dat dit die koste verhoog want dit het meegebring dat die oprigter nie meer met 'n groot vragmotor 'n groot vrag toilette op een plek aflaai en dit oprig nie maar met kleiner ligte aflewerings voertuie moes inbeweeg word tussen wonings om by elkeen 'n toilet af te lewer en te installeer. Die eiser het vir Diedericks gevra wat die ekstra koste sou wees en Diedericks het geantwoord dat dit R70 per toilet sou beloop. Die eiser het toe die aanbod gemaak aan die verweerder dat die R70 afgetrek moes word van die R200 kommissie wat Cemforce Bk aan die eiser moes betaal per toilet en dat sy kommissie derhalwe na R130 per toilet verminder word. Diedericks, handelende namens Cemforc Bk., het dit aanvaar en die eiser beweer dat die kontrak in daardie opsig gewysig is.


[13] Daarna is 'n vergadering gehou te Bedfordview waarop die eiser, Diedericks en Venter teenwoordig was. Op hierdie vergadering het Diedericks die R130 kommissie wat aan die eiser deur Cemforce Bk betaalbaar is opgehaal waarop Venter aggressief geraak en die houding ingeneem het dat dit nie soveel kon wees nie. Die eiser het vir Venter daarop gewys dat dit sy ooreenkoms met Cemforce Bk was. Diedericks het probeer om die gemoedere te kalmeer deur aan die hand te doen dat die partye saam iets eet. Die eiser het egter standpunt ingeneem en hulle meegedeel dat hy sy eetlus verloor het en die eiser is toe weg. Die hof handel later weer met hierdie vergadering.


[14] Daarna het die eiser verskeie kere met Diedericks oor die telefoon in verbinding gekom en Diedericks het hom ingelig dat die kontrak goed vorder en gepraat van dat die eiser se kommissie betaal sou word wanneer die kontrak uit die "rooi" beweeg. In Junie 2003 het die eiser 'n oproep van Diedericks ontvang waarin hy gevra was om 'n faktuur aan Cemforce Bk. te stuur. Die eiser het hom gevra vir hoeveel hy die faktuur moes maak want die eiser het aangeneem dat op daardie stadium slegs 'n gedeelte van die kommissie betaal sou word. Diedericks het geantwoord dat dit vir R100 00,00 moes wees. Die eiser het die faktuur uitgemaak vir:


"PART OF PAYMENT DUE FOR SERVICES RENDERED

R100 00,00."


Cemforce Bk. het die bedrag van R100 000 sonder enige kommentaar en sonder betwisting van die feit dat dit "part of (a) payment" was aan die eiser betaal.


[15] Later het die eiser weer met Diedericks oor die foon gepraat. Diedericks het aan hom bevestig dat die kontrak afgehandel was en dat die kontrak toe nie net vir 2 600 toilette was nie maar dat die Johannesburgse Waterraad inderdaad nog 300 toilette ekstra gevra het en dat die getal inderdaad dus 2 900 was waarop die eiser hom gevra het vir betaling van die balans verskuldig. Diedericks het hom versoek om 'n faktuur te stuur. Diedericks wou weet hoe die eiser die balans verskuldig bereken en die eiser het die gevoel gekry dat Diedericks nie geneë was om te betaal nie en om dit vir Cemforce Bk aanloklik te maak om spoedig te betaal het hy Diedericks meegedeel dat hy die getal toilette op 2 600 sal hou en die ekstra 300 toilette wat addisioneel bstel was deur die Johannesburgse Waterraad, ignoreer en dat hy sy kommissie sal verminder na R100 per toilet. Diedericks het nie te kenne gege dat die aanbod ter vermindering aanvaar word nie. Met hierdie aspek handel die hof later weer. Die eiser het die faktuur toe opgestel en aan die verweerder gefaks op 8 September 2003. Dit is soos volg bewoord:


"FULL AND FINAL SETTLEMENT FOR SERVICES RENDERED REFER -TENDER JHB WATER JANUARY 2003 R160 000,00".



[16] Tesame met die faktuur het die eiser ook 'n skrywe aan die verweerder gefaks wat soos volg lees:



"8/9/2003

CEMFORCE

KIMBERLEY

VIR AANDAG: MNR. W. DIEDERICKS


MENEER,


I.S. JHB WATER TENDER - JANUARIE 2003


FAKTUUR VIR UITSTAANDE BEDRAG VERSKULDIG DEUR U.


BEDRAG SOOS VOLG BEREKEN:


2600 X EASY LOO VIP TOILETTE @ R100,00= R260 000


BEDRAG VAN R100 000 ONTVANG IN JUNIE 2003 BAIE DANKIE!


UITSTAANDE R160 000,00"



[17] Per ongedateerde skrywe het Cemforce Bk. soos volg aan die eiser in skrif gereageer op die eiser se faktuur en skrywe:


"Dolf van Collar(sic)


JHB Water Tender

Dit spyt my om u mee te deel dat daar geen verdere kommisie(sic) vir bg

projek aan u uitbetaal gaan word nie. Cemforce was verantwoordelik om die

waarborge te voorsien, die toilette te lewer en op te rig, asook die lopende

projek te finansier en die retensie te dra. U het geen inset ten opsigte van die

bestuur van die projek, finansiering of finansiële risiko gedra nie. Daarom is

dit ons mening dat die vergoeding reeds aan u uitbetaal (R100 000) 'n billike

vergoeding vir u inset was."



[18] Op 12 September 2003 het die eiser soos volg aan die verweerder gskryf:


"CEMFORCE cc

EDISONSTRAAT

ASHBURNHAM

KIMBERLEY

Vir aandag : HJ Diedericks


Erken hiermee ontvangs van u skrywe van September 2003 per faks. Met

verbasing verneem ek en ek haal aan "Daarom is dit ons mening dat die

vergoeding reeds aan u uitbetaal (R100 000-00) 'n billike vergoeding vir u inset

was."


Alvorens die projek waarna u verwys toegeken is, het Mnr. Wicus Diedericks

met my 'n mondelinge oorenkoms aangegaan dat CEMFORCE cc aan my 'n

bedrag van R200,00 per Easy Loo VIP Toilet sou betaal, indien die tender vir 2

600 Easy Loo VIP Toilette, waarmee ek hom genader het, toegeken word en

indien CEMFORCE cc 'n party tot sodanige ooreenkoms sou word. Die

R200.00 per Easy Loo VIP Toilet soos ooreengekom was op geen stadium

gekoppel of onderworpe aan enige voorwaardes soos bv.


. Waarborge te voorsien

. Toilette te lewer en op te rig

. Lopende projek koste te finansier

. Retensie te dra nie.


Ek was per slot van sake nie die tenderaar nie. Aangesien u en ek bewus is van

ons ooreenkoms, asook die aanpassings en toegewings wat gemaak is, versoek

ek u vriendelik dog dringend dat die bedrag verskuldig, gemeld in my

belastingfaktuur no.57, binne 7 dae van datum van die skrywe vereffen sal

word.


U samewerking in die saak sal hoog op prys gestel word en ek speek die

vertroue it dat ons verhouding en toekomstige samewerking nie hierdeur

beïnvloed sal word nie.


Die uwe

DOLF VAN COLLER"



[19] Aangaande die moontlike toekomstige samewerking het die eiser getuig dat hy en sy onmiddellike hoof, mnr. Naas van Niekerk, van Echosand, in Diedericks se kantoor te Kimberley was om te poog om die verspreidingsregte vir die toiletbostukke wat Cemforce Bk vervaardig, te versprei. Die ooreenkoms tussen Echosand en Cemforce Bk het egter nie gerealiseer nie. Die eiser het getuig dat hy vir 'n salaris werk by Echosand en dat Echosand bewus is van die ooreenkoms tussen die eiser en Cemforce Bk.


[20] Die eiser het getuig dat hy toe na Botha & Human Prokureurs, is vir hulp. Hulle het op 8 Oktober 2003 'n brief aan die verweerder gestuur. Mnr. Theron het op hierdie stadium beswaar gemaak teen die toelaatbaarheid van die skrywe op grond daarvan dat daar geen bewys voor was dat die verweerder dit ontvang het nie. Mnr. Diedericks het reg agter sy advokaat gesit toe die advokaat die beswaar geopper het en Diedericks het die beswaar gehoor en hom klaarblyklik met die ongegronde beswaar vereenselwig. Diedericks het in sy getuienis egter self die ontvangs van die betrokke brief erken en erken dat hy en die eiser se prokureurs 'n telefoniese gesprek oor die saak gevoer het daarna. Die brief is aan Diedericks en die verweerder gerig en lees soos volg:


"I/s DOLF VAN COLLER/USELF


Ons rig hierdie skrywe in opdrag van ons kliënt, meneer Dolf van Coller. Die

faktuurnommer 57 dateer 4 September 2003, asook u skrywe gerig aan meneer

van Coller en dateer 11 September 2003 verwys.



Die aanbod vervat in genoemde faktuur word hiermee teruggetrek, in die lig

van u bogenoemde skrywe.



Die ooreenkoms tussen Cemforce cc en ons kliënt was dat u R130 per eenheid

gelewer as fasiliteitsfooi aan meneer van Coller sou betaal. Daar is 2 900

eenhede gelewer en die totale bedrag daarvoor verskuldig beloop R377 000.

Ons instruksies is dat u reeds 'n bedrag van R100 000,00 aan meneer van

Coller oorbetaal het. Die restant verskuldig beloop dus R277 000.00.


Die uitstaande bedrag moet binne 14 dae aan ons kantore betaal word. Indien

u versuim om te betaal soos hierbo ge-eis, beskik ons oor instruksies om aksie

vir invordering van die bedrag in die Hooggeregshof in te stel. 'n Gepaste

kostebevel sal ook teen u versoek word.


Die uwe


BOTHA & HUMAN INGELYF"



[21] Die effek van die gemelde skrywe van prokureurs is dat die aanbod van die eiser om 'n mindere bedrag te neem verval het. Die eiser se eis soos in die dagvaarding vervat is vir 2 900 eenhede teen R130 per eenheid.


[22] Die eiser het ook getuig dat 'n subpoena gestuur was aan die Johannesburgse Waterraad om hulle lêer beskikbaar te hê by die hof en dat 'n persoon van die Johannesburgse Waterraad wel teenwoordig was by die hof met die lêer. Mnr. Theron het voorlopig beswaar gemaak teen die gebruik van die inhoud alvorens dit nie behoorlik bewys is nie.


[23] Dit is egter gemeensaak dat minstens 2 900 VIP Toilette wel verskaf is deur Cemforce Bk aan die Johannesburgse Waterraad.


[24] Die eiser het voorts gehandel met aanhangsel "L", soos opgestel deur Diedericks vir gebruik in die aansoek vir tersydestelling waarin die verweerder uiteensit dat die verweerder inderdaad niks aan die eiser verskuldig is nie maar die eiser wel 'n bedrag aan die verweerder verskuldig is.

Dit lees soos volg:



"BEREKENING VAN BEDRAG BETAALBAAR AAN DOLF VAN

COLLER


ADDISIONELE INANSIERINGS EN OOHOOFSE BESTUURSKOSTE


Waarborg R369 000 R15 000,00

Geleentheidskoste @ 10%

bereken vir vyf maande

(Let wel, 10% is ongeveer

die bedrag soos bereken

deur myself wat Applikant

vir fondse wat hy by banke

belê gedurende die tydperk

in dispuut kon kry)


RetensieR334 932,00

Renteverlies @ 10% bereken

vir twaalf maande R33 492,00


Oorhoofse projek bestuur


HL Diedericks - 8 uur per

week vir die duur van die

projek @ R200 per

uur vir 22 weke R35 200,00


Jan Louw (Terreinbestuurder)

toedeling van sy salaris

van R10 000,00 per maand.

Mnr. Louw het ook sekere

werk verrig wat in elk geval

van hom verwag sou word sou

Kwotasie (Aanhangsel "F")

net so aanvaar word en is

hierdie R8 500,00 'n

billike toedeling geoordeel

aan ander projekte.

Die R10 000,00 per maand

word bereken op sy "costs

to Company" en het hy 'n

bruto salaris van ongeveer

R5 100,00 ontvang plus 'n

maatskappyvoertuig,

selfoon en dies meer. Ek

tender egter om die

uitgawes na behore bloot te

lê tydens die aksie. R42 500,00

_________________

Totaal R126 192,00


Totale ekstra finansierings

en oorhoofse koste

per toilet (3 200 toilette) R39,44


ADDISIONELE ARBEIDSKOSTE

Installasie van kraag @

een mandag per toilet R60,00

"Trimming of excavated

material" @ 0,5 mandag

per toilet R30,00

___________

Totale ekstra arbeidskoste per

toilet (3 200 toilette) R90,00

___________


Totale ekstra koste per toilet R129,44


BEDRAG VERSKULDIG AAN DOLF VAN COLLAR

Kommissie R160,00

Minus ekstra koste R129,44

____________

Totale bedrag verskuldig per toilet R30,56

Dus totale bedrag verskuldig vir

3 200 toilette R97 792,00

Min R100 000,00 rees betaal -R100 000,00

____________

Bedrag dus te veel betaal -R 2 208,00"



[25] Wat opvallend is, is dat die verweerder op sy eie weergawe erken dat die verweerder R160 per toilet vir 3200 toilette aan die eiser verskuldig is. Daarteen opper die verweerder dan sekere koste naamlik waarborgkoste, renteverlies, oorhoofse projekbestuur en addisionele arbeidskoste, latende op die verweerder se berekening dat die verweerder alreeds R2 208,00 te veel aan die eiser betaal het. Dit word opgemerk dat geen teeneis daarvoor egter deur die verweerder ingestel is teen die eiser nie.


[26] By die hervatting van die verhoor op Maandag 24 November 2008 het mnr. Theron steeds met sy beswaar teen die behandeling van dokumente uit die bundel van die Johannesburgse Waterraad volgehou nieteenstaande hy die bundel alreeds oor die naweek te siene gehad het.


[27] Die eiser het na die koste soos dit op aanhangsel L verskyn verwys en getuig dat daar nie ooreengekom was tussen hom en die verweerder dat die betrokke items aftrekbaar was nie. Die eiser het voorts na die bedrag van sy eis, soos dit verskyn in die dagvaarding, naamlik R277 000,00 verwys en getuig dat hy hou by sy vordering van R130 vir 2 900 eenhede en het erken dat hy self nie geweet het dat dit uiteindelik 3 200 eenhede sou wees nie. Daar was nie 'n aansoek deur die eiser vir wysiging van sy eis om voorsiening te maak vir 3 200 eenhede nie.


[28] Dit dien hier vermeld te word dat die eiser 'n eienaardige manier aan die dag gelê het om homself uit te druk, hy sou blitsvinnig op vrae antwoord soms met 'n teenvraag of teenstelling of hy sou nie sy sinne voltooi nie en sekere aspekte waaroor hy uitgevra word in die lug te laat hang so asof hy sy antwoord voldoende gegee het. Dit het vir die hof voorgekom asof dit maar die manier was waarop die eiser gepraat het en nie 'n manier was om vrae te ontduik nie. Die hof het dit aan hom uitgewys en aan hom verduidelik dat as hy nie 'n vraag volledig beantwoord nie dit talle verdere ophelderende vrae ten gevolge sou hê. Die eiser het daaraan gehoor gegee en sy manier van antwoord aangepas. Nodeloos om te se dat mnr.Theron aan die einde van die verhoor geargumenteer het dat die eiser daardeur 'n ongeloofwaardige getuie was. Die hof verskil. Die hof het die eiser ervaar as 'n eerlike, betroubare en geloofwaardige getuie en maak so 'n bevinding.


[29] Die eiser is breedvoerig gekruisvra deur mnr. Theron. Veel van die vrae het egter gehandel met algemeenhede en om die eiser se geheue en algemene geloofwaardigheid te toets.


[30] In antwoord op 'n vraag van mnr. Theron het die eiser getuig dat Diedericks vir hom gesê het van die aanvanklike verdere 300 eenhede wat by die tender bygevoeg was. Die eiser het ook getuig dat hy nie weet hoe Venter op R2 200 per eenheid gekom het nie, met 'n kraag ingesluit, in sy tender nie en dat hy reken Venter het verkeerd getender.


[31] Een aspek wat nie opgeklaar is in getuienis nie, maar wat eintlik weinig, indien enigiets, te doen het met die beslegting van die geskil voor die hof was hoe die belastingbesonderhede en agtergrondinligting van die verweerder opgeneem kon word in die tender wat Venter alreeds in Desember 2002 ingedien het terwyl die eiser vir Diedericks en Venter eers in Januarie 2003 bymekaar uitgebring het. Die eiser het getuig dat hy nie weet nie. Die verweerder het erken dat hulle met Venter gekonsulteer het maar hulle het hom nie as 'n getuie geroep nie. Vdenter sou klaarblyklik dit kon oplos. Nieteenstaande die voorgaande het mnr. Theron baie op hierdie punt bly hamer maar die eiser het bloot volhard dat hy nie weet waar Venter die betrokke inligting vandaan gekry het nie.


[32] In antwoord op 'n vraag van mnr. Theron oor hoekom die eiser 'n toegewing gemaak met die bedrag kommissie van R200 na R130 per eenheid, het die eiser geantwoord dat hy dit op versoek van mnr. Diedericks gedoen het en omdat hy, die eiser, 'n redelike persoon is.


[33] Die eiser het ook getuig dat sy prokureur in haar brief aan die verweerder die aanbod om slegs R100 per toilet te neem teruggetrek het en dat hy nou staan by sy eis van R130 per toilet.


[34] Dit is deur mnr. Theron aan die eiser gestel dat Diedericks sal getuig dat hy by die vergadering tussen die eiser, Diedericks en Venter, vir die eiser sou gesê het dat die aanvanklike kommissie nie van toepassing en betaal sou kon word nie want daar was baie ander goed wat nie ingesluit was nie, daar moes 'n kraag bykom en die grond wat uitgegrawe was, moes verwyder word, welke nie in die aanvanklike kwotasie ingesluit was nie. Die eiser het ontken dat dit aan hom gesê was en hy het ook ontken dat hy die wysiging waarop gesinspeel was in die vraag aan hom, aanvaar het.


[35] In herondervraging het die eiser getuig dat hy die indruk gekry het Diedericks wou hom nie verder betaal nie daarom het hy in sy twede faktuur 'n vermindering angebring en aan die verweerder gestuur maar dat hy en Diedericks nie oor die verminderde bedrag onderhandel het nie.


[36] Die tweede getuie vir die eiser was mnr. Enos Mudau, 'n beampte in diens van die Johannesburgse Waterraad. Hy het hulle lêer geïdentifiseer en getuig dat hyself geen eerstehandse kennis oor die saak het nie en eers later by die Johannesburgse Waterraad in diens getree het.


[37] Die eiser het daarna sy saak gesluit en die verweerder het aansoek gedoen vir absolusie van die instansie, welke aansoek geweier was.


[38] Die enigste getuie vir die verweerder was mnr. Diedericks. Hy het getuig dat die verweerder toilette vervaardig en dit installeer en by benadering alreeds 200 000 toilette reg deur die land opgerig het. Hy het getuig dat hy die eiser by 'n skou in Botswana ontmoet het en dat die eiser hom in Desember 2002 geskakel het en hom meegedeel het dat hy 'n prys soek op VIP toilette en dat hy die prys toe aan die eiser gefaks het.


[39] Hy het getuig hy en die eiser daarna nog 'n paar keer oor die telefoon gesels het. In Januarie 2003 het die eiser hom meegedeel dat hy 'n prys "upmark" op die prys soos deur Cemforce Bk gekwoteer, aan 'n ander party gekwoteer het en dat hierdie persoon op 'n kortlys geplaas is en 'n voorbeeld van die VIP toilette verlang word en dat hy toe een na die Rand gestuur het. Hy het later van die eiser verneem dat die kontrakteur, wat later geblyk het te wees Blue Pointer Trading van Venter, die tender gekry het. Daar het toe 'n terreinvergadering plaasgevind waar hy vir die eerste keer gehoor het dat 2 600 toilette volledig geinstalleer moes word met 'n kraag. Hy het getuig dat hy uit Venter se gepraat afgelei het dat Blue Pointer eintlik niks besit nie en ook nie ondervinding in hierdie betrokke veld het nie. Hy het getuig dat hy uit die aanvanklike gesprekke net die eiser afgelei het dat net toilette opgerig moes word maar by die terreinvergadering vasgestel het dat krae ook geinstalleer moes word.


[40] 'n Vergadering is toe gereël om plaas te vind by 'n kafee te Bedfordview. Teenwoordig was die eiser, Venter en die getuie. Die eiser en Venter het in 'n heftige gesprek getree oor of die kraag ingesluit was by die prys van R1 900 wat die eiser aan Venter gekwoteer het, aldan nie. Die getuie het getuig dat hy hulle meegedeel het dat as hy die volle projek moes doen die verweerder se prys dan R2 260 per eenheid sou wees as hy terreinwerk moes doen en ook die installasie van die kraag. Hy het getuig dat Venter kwaad was want dit was meer as wat die eiser vir Venter gekwoteer het. Hy het getuig dat Venter onder groot druk was want Johannesburg Waterraad wou van hom sekere goed hê. Venter het toe ingestem om die verweerder R2 660 te betaal per eenheid. Daarop het die eiser gevra wat van sy kommissie. Venter het toe gese dat daar nie 'n manier is wat hy nog iets ekstra kan betaal sodat iets aan van Coller betaal kon word nie.


[41] Die getuie Diedericks het toe getuig dat hy toe probeer het om die saak te beredder - uit die R160 sal hy dan die eiser akkommodeer en betaal. Die omvang van die bedrag betaalbaar aan die eiser kon nie daardie tyd bepaal word nie. Die getuie het getuig dat hy dit so aan die eiser gestel het waarop die eiser geantwoord het dat hy dit maar sal moet aanvaar en die eiser het toe die vergadering verlaat. Van kardinale belang is dat hierdie weergawe van die getuie nie in kruisondervraging aan die eiser gestel was nie. As synde 'n ervare sakeman sou mens ook verwag het dat Diedericks hierdie verwikkellinge en die finansiële gevolge daarvan rakende die bedrag wat aan die eiser betaalbaar sou val, so gou moontlik op skrif aan die eiser sou stel, maar hy het nie.


[42] Diedericks het verder getuig dat Venter toe 'n kontrak gekry het vir 2 600 toilette en later vir nog 300 toilette en toe vir nog 'n verdere 300 toilette.


[43] Diedericks het ook getuig dat hy die besonderhede van die verweerder gesien het op die tenderdokumente wat Venter ingedien het. Dit is ook nie aan die eiser gestel nie. Die vraag ontstaan nou waarom die verweerder, juis terwyl hulle voorberei vir die verhoor en vir Venter konsulteer en toegang tot hom het, hulle hom nie gevra het waar hy die inligting oor die verweerder gekry het om dit in die tenderdokumente te sit nie of om hom te roep as getuie om Diedericks se weergawe te staaf nie, al was sy weergawe nie aan die eiser gestel nie.


[44] Die getuie het getuig dat Venter tog 'n wins sou maak uit die komponent bekend as "Preliminaries and General" soos na verwys word in die kontrak wat Blue Pointer met die Johannesburgse Waterraad gesluit het.


[45] Diedericks het daarna getuig hoekom hy sekere items afgetrek het van wat hy andersins aan die eiser sou betaal het, bv. addisionele finansiering en oorhoofse koste. Ten aansien van die rente het hy dit bereken teen 10% per jaar vir 5 maande wat die waarborg van krag was, met ander woorde toe die kontrak afgeloop het, en ten aansien van die retensie het hy ook rente daarop bereken teen 10% per jaar. Ten aansien van die oorhoofse bestuur het hy 85% van die koste van 'n werknemer, Jan Louw, gedebiteer teen R200 per uur oor 22 weke. Van belang is dat hierdie getuienis van Diedericks ook nie in kruisverhoor aan die eiser gestel was nie.


[46] Onder kruisondervraging het mnr. Greyling aan Diedericks gestel dat die eiser oor die telefoon hom meegedeel het dat hy 'n "markup" bygesit het op die kwotasie wat die verweerder verskaf het en dit het Diedericks nie ontken nie.


[47] In kruisondervraging het Diedericks getuig dat alreeds voor die vergadering by die kafee te Bedfordview plaasgevind het, hy geweet het wat Blue Pointer getender het. Net daarna, toe die implikasie van wat hy pas gesê het by hom ingesink het, het hy omgespring en getuig dat hy nie voor die vergadering geweet het wat Blue Pointer voor getender het nie en dit het hy eers op Vrydag 21 November 2008 gesien by die hof toe die dokumente deur die getuie van die Johannesburgse Waterraad aan hulle beskikbaar gestel is.


[48] Diedericks is toe omvattend gekruisvra oor die funderende verklaring wat hy gemaak het ter ondersteuning van die aansoek vir die tersydestelling van die verstekvonnis wat in die guns van die eiser teen die verweerder verleen was welke dokument as bewysstuk voor die hof geplaas is en dit een dokument was waarteen mnr. Theron nie beswaar gemaak het nie.


[49] In die eerste en laaste sinne van paragraaf 16 daarvan het Diedericks die volgende gesê:


"'n Paar weke later het die Respondent my geskakel en my meegedeel dat hy 'n

hoër prys vir 'n derde party (Blue Pointer Trading) gekwoteer het en dat die

derde party vir 'n sanitasieprojek getender het."

"Dit is aanvanklik so met die Respondent ooreengekom dat die verskil aan

hom oorbetaal sou word, as kommissie."



[50] Diedericks beweer in paragraaf 21 van die eedsverklaring dat daar tydens die vergadering in die kafee nog geen bestelling geplaas was nie en dat die bestelling later geplaas was.

[51] In paragraaf 22 van due eedsverklaring erken Diedericks onomwonde die bestaan van die ooreenkoms tussen die eiser en die verweerder oor die betaal van kommissie deur die verweerder aan die eiser. Die betrokke passasie word onderstreep in die paragraaf wat volledig hieronder aangehaal word:


"22. Die respondent en Blue Pointer Trading het my versoek om Blue Pointer direk te faktureer en dat ek dan aan hom 'n kommissie moes oorbetaal. Hierdie gespek het plaasgevind in die teenwoordigheid van mnr. Spencer Venter. Ons het nie ooreengekom oor die bedrag van die kommissie nie. Ons het ooreengekom dat ek hom 'n kommisie sou betaal. Ons aanvanklike ooreenkoms oor welke bedrag kommisie ek hom toe moes betaal is tydens die vergadering in die restaurant gewysig. Die omvang van die kommissie kon op daardie tydstip nie presies bepaal word nie, aangesien nie een van die partye geweet het wat die koste vir die administrering en finansiering van die projek, en addisionele werk, wat nou deur die Applikant gedoen moes word, sou beloop nie. Die koste sou per ons ooreenkoms van die Respondent se kommissie verhaal word."




[52] Dit is duidelik dat die verskil naamlik R200 per eenheid die oorspronklike kommissie sou wees. Daarna is dit verminder soos die eiser getuig het na R130 per eenheid. Waar Diedericks tydens die verhoor te kenne wou gee dat daar nie op 'n bedrag kommissie per eenheid ooreengekom is nie, fouteer hy en weerspreek hy wat hy gesê het in paragraaf 37 van die tersydestellingsverklaring naamlik:


"Aanvanklik sou die applikant aan die respondent die verskil in kommissie tussen applikant se tender aan respondent aan Blue Pointer Trading, wat R160,00 per eenheid beloop het, betaal."



[53] Die getuienis van Diedericks het deurmekaar begin raak namate hy probeer het om sinvolle redes te verskaf oor hoekom hy die eiser nie sy volle kommissie betaal het nie. Hy het toegegee dat die eiser alles gedoen het wat hy moes doen om sy kommissie te kry en dat, omdat die verweerder Blue Pointer tegemoet gekom het, die verweerder nou dit voorhou as rede hoekom hy nie die eiser betaal nie. Voorts het Diedericks ook erken dat nadat die eiser die kafee te Bedfordview verlaat het hy en Venter alleen gesit en planne maak het om die transaksie te beredder, hulle planne het uitgeloop op 'n reëling tussen hulle twee waarmee die eiser niks te doen het nie en dit raak nie die eiser en sy eis teen die verweerder nie.


[54] Aan die einde van die saak was daar twee onderling vernietigende weergawes voor die hof. Die een was die eiser se duidelike en gestaafde weergawe oor die kommissieooreenkoms en dat die bedrag per eenheid verminder was by wyse van onderlinge ooreenkoms na R130 welke weergawe op die waarskynlikhede waar is. Daarteenoor was daar die weergawe van Diedericks, wat 'n baie swak en ongeloofwaardige getuie was wat sy eie getuienis in die hof en sy eedsverklaring tot die tersydestellingsaansoek weerspreek het op kardinale aspekte. Voorts was Diedericks se totale onwaarskynlike weergawe (sien African Eagle Life Assurance Co Ltd. v Cainer 1980(2)SA 234 (WLD) en die gesag daarin na verwys) in geen opsig gestaaf nie en dit is boonop in wesenlike opsigte nie aan die eiser in kruisondervraging gestel nie. Voorts het die verweerder ook nie vir Venter, wat op hul eie erkenning deur die verweerder se raadsmanne gekonsulteer was, geroep as getuie om Diedericks se weergawe oor wat in die kafee gebeur het, te staaf nie. Daar was geen verduideliking hoekom hy nie geroep was nie. Die enigste afleiding in hierdie verband, en wat noodwendigerwyse gemaak word, is dat Venter nie Diedericks se weergawe sou staaf nie. Vir soverre die verweerder die bestaan van die kommissieooreenkoms waarop die eiser steun, erken het, soos uitgewys hierbo, rus die bewyslas op die verweerder ten aansien van die beweerde wysiging daarvan en die hof bevind dat die verweerder hom nie van die bewyslas daaromtrent gekwyt het nie. Hierdie is dus 'n klassieke geval waarin die verweerder in effek die relevante feite wat die eiser beweer, erken oor die aanvanklike kommissieooreenkoms maar poog om die regsgevolge daarvan te vermy deur te poog om ander feite te opper en te bewys, wat as dit bewese bevind word, wat die hof in hierdie geval bevind as nie bewese te wees nie, die effek sal hê van so 'n vermyding. (Sien Frenkel v Ohlsson's Cape Breweries 1909 TS op 961 and Coch v Lichtenstein NO 1910 AD 178; Klaassen v Benjamin 1941 TPD 80; Stocks & Shares (Pty) Ltd v T J Daly & Sons (Pty) Ltd. 1979 (3) SA 754 (AD)).

[55] Die hof het geen onsekerheid op die waarskynlikhede en op die getuienis dat die eiser bewys het dat hy sy verpligtinge nagekom het en dat hy geregtig is op betaling van die res van sy kommissie deur die verweerder in die bedrag van R277 000,00 met moratore rente en dat dit op Diedericks se eie weergawe voor die hof en in sy gemelde eedsverklaring, opeisbaar en betaalbaar was toe die dagvaarding uitgereik was.


[56] Die koste wat in die verlede voorbehou was, word ingesluit by die kostebevel.


[57] Die volgende bevel word gevolglik gemaak:


1. Vonnis word verleen ten gunste van die eiser teen die verweerder in die bedrag van R277 000,00 met moratore rente daarop teen 15.5% per jaar bereken vanaf 4 Junie 2003, bereken tot datum van betaling van die R277 000,00.


2. Die verweerder word gelas om die koste van die geding, wat alle voorbehoue koste in die verlede insluit, te betaal en die eiser word as 'n nodige getuie verklaar.


_____________________________________

P.Z. EBERSOHN

WAARNEMENDE REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF


Eiser se advokaat Adv. J. Greyling


Eiser se prokureurs Botha & Human Ing.

Verw. CV0141 Tel. 012x323-5633

Verweerder se advokaat Adv. E. Theron


Verweerder se prokureurs S. Gerber Prokureurs

Verw. S. Gerber/CV 1272 Tel. 012x328 5512