South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria >> 2009 >> [2009] ZAGPPHC 97

| Noteup | LawCite

Van Der Sandt en 'n Ander v Padongelukfonds (11775/04) [2009] ZAGPPHC 97 (22 July 2009)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID AFRIKA

(NOORD GAUTENG, PRETORIA)

Saaknommer: 11775/04

Datum aangehoor:28/04/2009

Datum van uitspraak: 22/7/2009

NIE RAPPORTEERBAAR


In die saak tussen:


W.F.S. VAN DER SANDT EERSTE EISER

J.J. VAN DER SANDT TWEEDE EISER


en


PADONGELUKFONDS VERWEERDER

________________________________________________________________


UITSPRAAK

________________________________________________________________


DU PLESSIS R:

Op 31 Augustus 2002, toe hy 17 jaar oud was, was die tweede eiser as passasier in ‘n motorbotsing betrokke. Saam met hom in die voertuig was drie van sy vriende. Al drie die vriende is as gevolg van die botsing oorlede terwyl die tweede eiser beseer is. Die eerste eiseres is die tweede eiser se moeder. Die twee eisers het teen die verweerder aksie ingestel vir skadevergoeding voortspruitend uit die tweede eiser se beserings.


Die eerste eiseres se eis is tussen die partye afgehandel en hierdie uitspraak handel dus slegs met die tweede eiser se eis. Ek sal na hom as die eiser verwys. Die verweerder het toegegee dat dit vir 90% van die eiser se bewese skade verantwoordelik is. Die verweerder het voorts reeds aan die eiser ‘n sertifikaat ingevolge art. 17(4)(a) van die Padongelukkefondswet, 55 van 1996 aangebied vir sy toekomstige mediese koste. Die aanbod is aanvaar. In die loop van die verhoor het die partye ooreengekom dat die eiser as gevolg van sy beserings reeds R170 000 verlies aan verdienste gely het. Dit is nie in geskil dat die eiser as gevolg van die botsing in die toekoms verdere verlies aan verdienste sal ly nie, maar die omvang daarvan is in geskil. Verder is die omvang van die eiser se eis vir algemene skadevergoeding ook nog in geskil. Daar is nog ‘n geskilpunt: die eiser voer aan dat die verweerder moet betaal vir die administrasie van enige toekenning wat aan hom gemaak word.


Die eiser self, sy moeder, sy suster, sy swaer en sy toesighouer by die werk het namens hom feitelike getuienis gegee. Die verweerder het geen feitelike getuienis aangebied nie. Vir die eiser het sewe en vir die verweerder twee deskundiges getuig. Uiteindelik verskil die partye egter nie wesenlik oor wat die eiser se beserings en die gevolge daarvan is nie. Wat algemene skade betref, verskil hulle oor die gepaste bedrag. Wat die eiser se toekomstige verlies aan verdienste betref, verskil die partye oor sy potensiaal voor die botsing. Die eiser voer aan dat hy waarskynlik gr. 12 of ‘n soortgelyke kwalifikasie sou behaal het en dat sy potensiële verdienvermoë voor die botsing daarvolgens beoordeel moet word. Die verweerder voer aan dat die eiser waarskynlik nie tot gr. 12 sou gevorder het nie. Alhoewel hulle dit nie eens is oor hoe gebeurlikhede dit sal affekteer nie, is die partye dit eens oor wat die eiser se huidige verdienpotvermoë is. Hulle verskil egter oor die ouderdom waarop hy waarskynlik vanweë sy beserings sal moet aftree. Die eiser voer aan dat hy waarskynlik op 50-jarige ouderdom reeds sal moet aftree terwyl die verweerder dit op 60 stel.


In die lig van die relatief beperkte geskilpunte vind ek dit onnodig om die getuienis in die geheel op te som. Ek is van voorneme om die ter saaklike feite soos dit uit die getuienis blyk chronologies weer te gee en om, soos ek aangaan, op geskille te wys.


Voor die botsing


Die eiser is op 12 Februarie 1985 gebore. Deskundiges wat hom na die botsing getoets het, is dit eens dat hy gemiddeld tot hoog-gemiddeld intelligent is en dat dit waarskynlik voor die botsing dieselfde was. Fisies was hy voor die botsing heeltemal gesond.

Oor die eiser se laerskoolloopbaan is daar min objektiewe feite voor die hof geplaas. Toe hy in ongeveer gr 1 en 2 was, het sy ouers huweliksprobleme gehad maar daar is geen getuienis dat dit die eiser op ‘n manier geraak het wat tans ter sake is nie. Daar is getuienis dat hy in die loop van sy laerskoolloopban sielkundig geëvalueer is omdat hy in die skool baie woelig was. Dit het van die deskundiges laat wonder of hy dalk afwykend aandag-afleibaar of hiperaktief is. Sy moeder het egter getuig dat die sielkundige destyds vir haar gesê het daar skort niks met die eiser nie. Vir die huidige doeleindes moet dus, by gebrek aan verdere getuienis, aanvaar word dat daar inderdaad in daardie opsig niks met die eiser geskort het nie. Opgesom moet op die getuienis aanvaar word dat die eiser binne normale perke op laerskool presteer het. Uit sy eie en sy moeder se getuienis blyk dit dat die eiser reeds van baie jongs af ‘n entoesiastiese rugbyspeler was en op laerskool goed in die sport gevaar het.


Die eiser is ‘n lang, atleties geboude persoon. Op hoërskool in Stilfontein, waar die gesin gewoon het, het hy aan verskillende sportsoorte deelgeneem, maar hy het veral op rugby gekonsentreer. Sy moeder het getuig dat hy ‘n besonder talentvolle rugbyspeler was. Hy is, het sy getuig reeds in gr 9 vir die skool se eerste span gekies. Hy het ook ‘n meriete-toekenning en later erekleure vir rugby gekry. Sy het getuig dat hy ook tot in die derde rondte van die proewe vir die O/19 span van die Noord-Wes provinsie deurgedring het en dat ‘n klub hom genooi het om vir hulle te gaan rugby speel. Die eiser se suster het in breë trekke beaam dat hy op hoërskool goed rugby gespeel het, maar sy het gesê dat hy nie vir die skool se eerste span gespeel het nie. Die eiser se swaer het getuig dat hy saam met die gesin na die eiser se rugbywedstryde gaan kyk het, maar hy kon nie sê vir watter span of in watter posisie die eiser gespeel het nie. Die eiser self het getuig dat hy van laerskool af goed rugby gespeel het. Nadat hy in gr. 8 en 9 vir toepaslike ouderdomspanne gespeel het, het in gr. 10 vir die eerste span gespeel. Hy het, soos sal blyk, gr 10 gedruip. Die tweede jaar in gr 10 het hy ook eerste span gespeel. Hy wou toe vir ‘n klubspan gaan speel omdat hy gehoor het hulle kort spelers. Origens het die eiser sy moeder se getuienis oor sy rugbyloopbaan beaam.


Ten spyte van sy intellektuele vermoëns, het die eiser op hoërskool akademies swak gevaar. In 1999, toe hy in gr 8 was, was sy gemiddelde punte 38,63%, in 2000 (gr 9) was dit 31,75% en in 2001 (gr.10) was dit 28,32%. Hy het gr 10 gedruip en dit in 2002 begin herhaal. Aan die einde van die tweede termyn van 2002, kort voor die botsing is hy egter uit die skool uit. Die eiser se jonger broer, Dawie, en ‘n vriend wat by die gesin loseer het is saam met die eiser uit die skool uit. Die drie het as kelners by Norman’s Pub & Grill gaan werk en ten tye van die botsing het die eiser nog daar gewerk.


Die eiser se moeder het getuig dat sy self matriek geslaag het, verpleegkundige opleiding gehad het en ook relatief senior administratiewe poste beklee het. Sy het op ‘n stadium haar eie besigheid gehad. Sy het verder getuig dat die eiser se vader ook gr12 (st 10) geslaag het, maar daar is op die getuienis onsekerheid daaroor. Vir sommige deskundiges is gesê dat hy st 8 geslaag het. Mnr Van der Sandt het in die mynbedryf gewerk, ondermeer as hyser-operateur en tegnikus. Die eiser se ouer suster het gr 12 geslaag en sy het daarna verdere in-diensopleiding gehad. Die laaste lid van die gesin, die eiser se broer, het tot gr 9 op skool gevorder.


Wat die eiser se skoolverlating betref, het hy, sy moeder en sy suster getuig dat hy uit die skool is om op rugby te konsentreer met die oog daarop om uiteindelik professioneel rugby te speel. Die gemelde getuies het verder gesê dat hy van plan was om na sy skoolverlating gr 12 of ‘n soortgelyke kwalifikasie deeltyds aan ‘n tegnikon te verwerf. Vir daardie doel het sy saam met hom gegaan om inskrywingsvorms vir die tegnikon te kry. Toe mev Van der Sandt in kruisverhoor uitgevra is oor die eiser se besluit om die skool te verlaat, het dit geblyk dat sy en haar eggenoot nie met die besluit tevrede was nie maar “om verdere konflik te vermy” toegestem het. Die eiser se suster, Karin, het ook getuig dat sy ouers nie wou hê hy moet die skool verlaat nie, maar dat hy hulle oortuig het met ‘n belofte dat hy deeltyds sou gaan studeer vir gr 12. Die eiser self het bevestig dat hy uit die skool uit is omdat hy op rugby wou konsentreer. Dit het egter ook uit sy getuienis geblyk dat hy dissipline-probleme gehad het: Onderwysers het hom aangesê om agter in die klas te gaan sit omdat hy in elk geval nie aandag gee nie. Hy het getuig dat hy gevind het onderwysers wil hom nie help nie.


Die eiser wou op die langer termyn ook sport sy loopbaan maak deur professioneel af te rig of met sport-beserings te werk. Sy ander belangstelling was kook en die gasvryheidsbedryf was ook vir hom ‘n opsie.


Volgens die feitelike getuienis was die eiser voor die botsing hoegenaamd nie aggressief nie. Inteendeel, hy was die vredemaker in die gesin en volgens sy moeder ‘n “soentjies en drukkies persoon”. Hy was gewild onder sy skoolmaats en hy was nie bakleierig nie. Hy was ook lief vir lees en het ‘n wye leessmaak gehad.


Dit sal later blyk dat die eiser sedert die botsing dwelms gebruik. Mev Van der Sandt het getuig dat sy baie seker is dat hy nie voor die botsing dwelms gebruik het nie. Die eiser self en sy suster het dit beaam alhoewel laasgenoemde getuig het dat sy van een keer weet wat hy met dwelms geëksperimenteer het. Uit die verslae van sommige deskundiges blyk dit dat die eiser wel moontlik voor die botsing dwelms gebruik het. Omdat daar geen verdere getuienis van dwelmgebruik voor die botsing is nie, gaan ek voort op die grondslag dat die eiser waarskynlik nie voor die botsing dwelms gebruik het nie en dat hy hoogstens daarmee geëksperimenteer het.


Die botsing, die beserings en die korttermyn gevolge


Die eiser is aan die einde van Julie 2002 uit die skool uit. Die botsing het omtrent ‘n maand daarna, in die vroeë oggendure op 31 Augustus, plaasgevind terwyl die eiser en sy vriende van die werk af op pad was.

Dit is nie meer in geskil dat die eiser die volgende beserings opgedoen het nie:

  • n Sagteweefselbesering van die regteroog;

  • snywonde aan die voorkop en aan die kant van die kop, albei binne-in die haarlyn;

  • n oop fraktuur van die linker hakskeenbeen;

  • n perforasie van die dunderm;

  • n fraktuur aan die werwelkolom op die T9/T10 vlak;

  • frakture aan die L3-werwel, insluitende ‘n kompressiefraktuur van die werwel self;

  • n diskusskeur op die L2, 3 en 4 werwelvlakke;

  • ligte tot matige harsingskudding wat waarskynlik ‘n ligte tot matige verspreide breinletsel tot gevolg gehad het;

  • verskeie skraap- en kneuswonde en ‘n sagteweefselbesering van die linker elmboog.

Met die botsing is die eiser uit die motor geslinger. Hy is per ambulans na ‘n hospitaal in Klerksdorp toe geneem. Hy het baie pyn gehad en was rusteloos tot die mate dat ‘n antipsigotiese middel sowel as ‘n susmiddel toegedien is. ‘n Breinskandering is gedoen wat getoon het dat die brein geswel was. Die eiser is teater toe geneem waar die fraktuur van die hakbeen met twee skroewe geheg is, sy wonde versorg en toegewerk is en die perforasie van die dunderm herstel is. Daarna was die eiser vir omtrent een dag in intensiewe sorg. Na sy ontslag uit die intensiewe sorgeenheid was hy tot 12 September in ‘n gewone saal.


Na sy ontslag uit die hospitaal is die eiser, wat nog vir groot dele van die dag bedlêend was, tuis in ‘n leefkamer versorg. Hy het erge hoofpyn, rugpyn, buikpyn en pyn in die hakskeen gehad. Die eiser en sy moeder het getuig dat die pyn so erg was dat hy, benewens voorgeskrewe pynstillers, letterlik honderde pynpille per week geneem het. Die eiser se huisdokter het hom na ‘n neurochirurg in Pretoria, dr Nel, verwys. Dr Nel het aan die begin van Oktober 2002 ‘n fusie van die L2, 3 en 4 werwels gedoen. In die proses is ‘n been-oorplanting ook gedoen. Na die fusie het die eiser eers met ‘n rolstoel en toe met krukke beweeg. Hy was teen Maart 2003 weer op die been.



Na die botsing


Die eiser se moeder het getuig, en hy het bevestig, dat hy na die botsing soos handomkeer verander het. Hy was, anders as voor die botsing, erg depressief, opvlieënd, angstig en asosiaal. Hy kon nie genoeg konsentreer om ‘n boek te lees nie. Hy het gebeure nie altyd akkuraat weergegee nie. Die feitelike getuies het hierdie waarnemings met voorbeelde toegelig.

In ongeveer Maart 2003 is die eiser van die leefkamer af terug na sy eie kamer toe. Hy was toe depressief tot die mate dat hy sy hele kamer swart gemaak het en self swart klere gedra het omdat dit is hoe hy gevoel het. Hy het hom vir lang tye in die kamer afgesonder. Hy was ontoepaslik aggressief en as hy hom vererg het, het hy uit die geselskap gestorm. Soms het hy deure stukkend geslaan en soms het hy buite teen ‘n slaansak gaan slaan. Verskeie deskundiges het in hulle verslae gemeld dat sy hande stukkend was soos wat hy voorwerpe geslaan het. Toe hy begin uitgaan het, het hy ook, anders as voorheen, in vuisgevegte betrokke geraak.


Kort nadat hy weer begin uitgaan het, het die eiser uitermatig drank begin gebruik. Hy het ook dwelms gebruik. Sy moeder het getuig dat hy dagga, mandrax, Exstacy en selfs heroïne gebruik het. Volgens die eiser self het hy dagga begin gebruik maar het hy slegs kortstondig met elkeen van mandrax en Exstacy geëksperimenteer. Die getuienis is voorts dat die eiser in omtrent Februarie 2008 sy drankgebruik beter begin beheer het. Hy het sy gebruik van dagga tot omtrent twee maal per week verminder. Die eiser se getuienis was onbetwis dat hy die dagga begin gebruik het omdat pynpille onvoldoende was en hy gevind het dat dit vir die pyn help.


Sedert die botsing tot aan die begin van 2008 het die eiser ‘n besonder swak werkrekord gehad. Hy het meer as tien betrekkings gehad en die werk telkens vir baie kort tydjies gehou. Daar is geen patroon in sy werksrekord in die sin dat hy in ‘n bepaalde rigting geneig het nie. Die eiser se swaer het ‘n besigheid gehad wat elektroniese toerusting installeer het. Op versoek van die eiser se suster het sy swaer, mnr Jan le Roux vir hom werk aangebied. Die eiser het by sy swaer en suster in die huis gaan woon. Mnr Le Roux het getuig dat die eiser ‘n besonder swak werknemer was. Hy wou nie altyd opstaan om werk toe te gaan nie. Hy was onbetroubaar en het soms eenvoudig verdwyn in plaas daarvan om sy werk te doen. Dit is egter ook so dat mnr Le Roux getuig het dat die eiser op daardie stadium, ongeveer 2006, maklik vriende gemaak het en met Jan en alleman geselsies aangeknoop en gekuier het. Die eiser het ook saans tot laat rondgekuier. Na drie maande is die eiser by sy swaer weg, en laasgenoemde het getuig dat hy hom nie weer sal werk gee nie.


Aan die begin van 2008 het die eiser aansoek gedoen vir werk by ‘n sekuriteitsonderneming wat uitgang- en toegangbeheer by die Klerksdorpse depot van ABI, ‘n koeldrankverspreider, behartig. Die eiser se direkte toesighouer, mnr Rossouw, het getuig dat die werk eintlik ‘n gr. 12 kwalifikasie vereis. Die eiser het, vals soos dit nou blyk, voorgegee dat hy gr. 10 geslaag het maar hy het so goed tydens die werksonderhoud en voorlopige toetsing gedoen dat hy die werk nogtans gekry het. Die eiser werk 12 uur skofte, drie dae dagdiens, drie dae nagdiens en dan is hy drie dae af. Skofte duur van 06h00 tot 18h00 en andersom.


Die werk behels dat die eiser saam met ‘n ander beampte in ‘n kantoor sit. Wanneer vragmotors vol koeldrank by die perseel uit moet gaan, stap die eiser sowat 40 tree tot by die vragmotor en dan teen ‘n skuins loopvlak op tot min of meer op die hoogte van die vragmotor se bak. Hy tel dan die koeldrank wat op die vragmotor is en vul die besonderhede op vorms in. Soms is dit nodig dat hy kratte moet verskuif om behoorlik te kan tel en af en toe moet hy pakke met plastiek-gebottelde water dra. Vir laasgenoemde taak kan hy trollies gebruik, maar die eiser het getuig dat hy dit onnodig vind. As die eiser die vragmotor klaar nagegaan het, lewer hy die vorms by ‘n nabygeleë kantoor af en dan gaan hy terug na sy kantoor toe waar hy vir die volgende vrag wag. Op wesenlik dieselfde manier gaan die eiser vragte van inkomende vragmotors na. Mnr Rossouw het getuig dat die besige tye by die hek van 05h00 tot 07h30 in die oggend en van omtrent 14h00 in die middag is wanneer vragmotors onderskeidelik uitgaan en begin terugkom. Tussenin is daar min te doen en dan sit die eiser meestal rekenaarspeletjies en speel. Die eiser self het getuig dat hy genoeg tyd het om dan te studeer. Daar is egter besige tye, veral in Desember, wanneer die eiser vir agt tot tien ure besig is.


Mnr Rossouw het ook getuig dat hy al by herhaling die probleem gehad het dat die eiser laat kom vir werk. Dit het daartoe gelei dat hy aan die eiser ‘n finale skriftelike waarskuwing gegee het wat ten tyde van die verhoor reeds verstryk het. Die eiser het ook al by herhaling sy werk nalatig gedoen en daarvoor het hy ook ‘n finale waarskuwing gekry wat ten tye van die verhoor nog hangende was. Volgens mnr Rossouw het die eise al meermale by rusies met kollegas betrokke geraak. Volgens Rossouw het hy egter nog nooit ondervind dat die eiser teenoor sy meerderes aggressief is nie. Een maal het hy wel geweier om bykomende werk sonder bykomende betaling te doen.


In die algemeen blyk dit uit die feitelike en ook uit die deskundige getuienis dat die eiser tans minder depressief is, minder angs het en sy aggressie beter beheer. Die feit dat hy tans ‘n vaste verhouding met ‘n jong dame het dra volgens die getuienis tot sy groter stabiliteit by. Hy het egter nog nie psigoterapie ondergaan nie. Volgens hom het hy nog steeds hoofpyn, rugpyn, buikpyn en pyn in die hakskeen.


Langtermyngevolge van die beserings


Die verweerder het die deskundige verslag van dr Birrel, ‘n ortopediese chirurg, erken. Daarvolgens het die eiser waarskynlik vir sowat vyf tot sewe dae na die botsing akute pyn gehad en vir omtrent ses tot agt dae matige pyn. Nadat hy die fusie ondergaan het, sou die eiser weer vir omtrent vier tot vyf dae akute pyn gehad het. Dr Birrell aanvaar die eiser se klagte dat hy steeds kroniese hoof-, rug- en nekpyn verduur. Sy hak gee ook las. Dr Birrel is van mening dat die probleem met die hak verlig kan word indien ‘n knop op die hak chirurgies verklein word.


Volgens dr Birrel is die eiser se deelname aan sport drasties ingekort en is rugby buite die kwessie. Die eiser sal rug- en nek-higiëne moet toepas en sal nie swaar voorwerpe kan optel nie.


Dr Birrel meen dat die eiser sowat 15% van sy verdienvermoë verloor het. Die verlies sal egter algaande vergroot. Mettertyd sal hy nie alleen die chirurgie aan die hakskeen benodig nie, maar waarskynlik ook verdere chirurgie aan die werwels omliggend aan die fusie. Op die lang duur sal die eiser nie werk wat lang ure van staan, loop en buk behels kan doen nie. Hy sal nie werk kan behartig wat die optel van swaar voorwerpe behels nie. Indien die eiser werk doen wat heeldag loop of staan behels en wat verg dat hy hoegenaamd goed optel, sal hy waarskynlik nie langer as ouderdom 50 kan werk nie. As hy ligte werk kan vind wat nie optel, lang ure staan en loop en baie buk behels nie, kan hy tot ouderdom 60 werk.


Alhoewel dit nooit pertinent namens die verweerder erken is nie, kan aanvaar word dat die ligte tot matige harsingskudding wat die eiser opgedoen het, tot ‘n ligte tot matige verspreide aksonale breinbesering aanleiding gegee het. Dit beteken, soos ek die neurochirurg dr Du Plessis verstaan, dat alhoewel geen breinbesering gelokaliseer kan word nie, aanvaar moet word dat die brein se vermoë om senuprikkkels te verwerk en oor te dra, êrens ingekort of op die een of ander manier aangetas is.


Dr Du Plessis het wel die harsingskudding in sy aanvanklike verslag gemeld maar nie die breinbesering nie. In sy getuienis namens die eiser het hy verduidelik dat hy die bestaan van die besering hoofsaaklik daarvan aflei dat die eiser kort na die botsing psigoties opgetree het en dat X-strale getoon het dat sy brein geswel was. Dat die eiser psigoties opgetree het, lei die dokter daarvan af dat hy kort na die botsing ‘n anti-psigotiese middel saam met ‘n susmiddel toegedien is, iets wat nie normaalweg gedoen word nie. Die spraakheelkundige, dr Guy, het gevind dat die eiser woordvindignsprobleme het en is van mening dat dit die gevolg van ‘n breinbesering is. Alhoewel sy mening meestal op mededelings van die eiser en sy moeder gebaseer is, was die psigiater, dr Shevel, ook van mening dat die eiser simptome toon van ‘n breinbesering. Dr Mazabow, ‘n neuro-sielkundige het op grond van kliniese waarneming, psigometriese toetse en mededelings oor die eiser se gedrag ook tot die gevolgtrekking gekom dat die eiser so ‘n besering het. Ek moet daarop wys dat die deskundiges dit eens was dat so ‘n breinbesering hoofsaaklik op grond van omringende getuienis gediagnoseer kan word.


Dr Mazabow het verduidelik dat die eiser as gevolg van sy beserings uit ‘n neuro-sielkundige oogpunt hoofsaaklik twee soorte gevolge ervaar: psigies en kognitief. Psigies ervaar hy depressie en angs maar hy ly nie aan ‘n post traumaties stres afwyking nie. Daardie simptome is reeds grootliks onder beheer en kan met psigoterapie verder onder beheer gebring word.


Die breinbesering het kognitiewe inkortings te weeg gebring. Die eiser het ‘n verminderde vermoë om impulse te beheer en om te konsentreer. Dr Mazabow het ook ‘n verminderde vermoë om uit sy foute te leer genoem, maar dit is eintlik ‘n simptoom van die genoemde twee probleme. Gedragsgewys manifesteer die inkortings in ontoepaslike aggressie, impulsiewe optrede soos bv om laat te kom net omdat hy op die oomblik nie lus voel om op te staan nie. Die eiser kan wel impulse beheer, maar tog kan die verminderde vermoë daartoe ernstige sosiale gevolge inhou. Spesifiek wat sy werk betref, het die arbeidsterapeut, me Randall, daarop gewys dat hy maklik sy werk kan verloor omdat hy nie noukeurig is nie. Dr Shevel het daarop gewys dat ‘n mens die eiser se eie getuienis versigtig moet oorweeg omdat hy, juis vanweë sy inkortings nie altyd insig in sy probleme sal toon nie. Die kans dat die gevolge van die inkortings met terapie sal verbeter is “guarded” het dr Mazabow getuig.


Verlies aan verdienvermoë


Die bedryfsielkundiges, mev Donaldson en mnr Wessels, het ‘n gesamentlike verslag geskryf. Daarin het hulle sekere punte van verskil en ook punte van ooreenkoms uiteengesit. Wat laasgenoemde betref, het die partye die korrektheid van die twee deskundiges se eenstemmige mening aanvaar. Teen daardie agtergrond is dit nie in geskil dat die eiser se verdienvermoë deur sy beserings en die gevolge daarvan ingekort is nie. Oor die mate van inkorting en dus die omvang van die eiser se gevolglike skade is daar egter nie eenstemmigheid nie. Vir redes wat later sal blyk, kon die partye egter aktuariële berekeninge aan die hof voorlê wat, afhangende van die hof se bevindings, gekapitaliseerde waardes van die eiser se verdienste weergee, eerstens asof die botsing nie plaasgevind het nie en, tweedens, in die lig van die botsing se gevolge.


In die lig van die voorgaande is dit dus gepas om in hierdie geval die eiser se verlies aan verdienvermoë te bepaal deur die gekapitaliseerde inkomste na die botsing af te trek van die een wat die posisie weergee asof die botsing nie plaasgevind het nie.


Albei die gemelde syfers is natuurlik onakkuraat. In ‘n poging om vir die wis en die onwis voorsiening te maak, moet die syfers verstel word. Soms word dit gedoen deur van die verskil tussen die twee syfers ‘n persentasie vir gebeurlikhede af te trek of so ‘n persentasie daar by te tel. Vir redes wat sal blyk, meen ek dat die onsekerhede wat op die eiser se verdienvermoë voor die botsing ingewerk het wesenlik verskil van dié wat nou daarop inwerk. Gevolglik is ek van voorneme om die gebeurlikhede voor die botsing afsonderlik van dié na die botsing te oorweeg. (Vgl. Southern Insurance Association Ltd v Bailey NO 1984 (1) SA 98 (A) op 116A tot 117H; Botha en ‘n Ander v Santam Bpk. (Corbett and Honey, Vol V, B4-39 op 44 en 45)


Verdienvermoë voor die botsing


Die kerngeskil oor die eiser se verdienvermoë voor die botsing is of hy ‘n kwalifikasie gelykwaardig aan graad 12 op skool (geriefshalwe sal ek na so ‘n kwalifikasie as “matriek” verwys) sou behaal het as dit nie vir die botsing was nie. Die bedryfsielkundiges, mev Donaldson en mnr Wessels, het albei getuig en uiteenlopende menings daaroor uitgespreek. Mev Mills vir die verweerder, ‘n opvoedkundige sielkundige, het ook ‘n mening uitgespreek. Die deskundiges se menings oor wat waarskynlik is, is natuurlik van hulp. Op die ou einde is dit egter die hof se funksie om op die getuienis, insluitende die deskundige getuienis, te beslis of die eiser bewys het dat hy waarskynlik matriek sou geslaag het.


Die vraag of die eiser matriek sou gemaak het hang af, eerstens van sy intellektuele vermoëns en tweedens van sy motivering om daardie vermoëns aan te wend om matriek te maak. Die getuienis toon onomwonde dat die eiser oor die intellektuele vermoë beskik het, en nog beskik, om matriek te slaag. Ek oorweeg dus vervolgens sy motivering.


Die objektiewe getuienis wat lig werp op die eiser se motivering om uiteindelik matriek te slaag is, eerstens, sy besonder swak punte in gr 8, 9 en veral 10. In die tweede plek is daar sy besluit om die skool met slegs ‘n gr 9 agter sy naam te verlaat. Hierdie feite moet natuurlik oorweeg word in die lig van die feitelike getuienis wat sy besluit verduidelik en die deskundige menings oor die besluit. Derdens moet die eiser se motivering om matriek te slaag ook oorweeg word in die lig van omgewingsfaktore soos sy gesinslede se akademiese prestasies.


Dit is ‘n deurlopende tema van die eiser se saak dat sy swak prestasie op hoërskool deur sy rugbyprestasies verduidelik kan word. Alhoewel aanvaar kan word dat die eiser goed rugby gespeel het en baie tyd daaraan spandeer het, meen ek dat hy en, veral, sy moeder, sy rugbyprestasies oorbeklemtoon het. Mev Van der Sandt se getuienis dat ‘n klub hom genooi het om vir hulle te speel is nie korrek nie. Mev Le Roux se getuienis plaas selfs ‘n vraagteken daaroor of die eiser inderdaad vir die skool se eerste span gespeel het. As die eiser se rugbyprestasies werklik uitsonderlik was, sou die Le Roux egpaar na my mening meer besonderhede daarvan kon verskaf het. Ten beste vir die eiser kan aanvaar word dat hy in gr 10 vir die eerste span van ‘n relatief klein hoërskool gespeel het. Dit kan ook aanvaar word dat hy provinsiale proewe gespeel het vir ‘n toepaslike ouderdomsgroep. Kortweg, die eiser se rugbyprestasies was goed maar nie so buitengewoon dat dit op sigself toon dat hy nie tyd vir studeer gehad het en dus sy swak prestasie verduidelik nie. In elk geval het die eiser self gesê dat sy swak prestasie ten minste deels aan swak dissipline te wyte was.


Vir die redes wat ek reeds genoem het meen ek ook nie dat die eiser bewys het dat sy rugbyprestasies sy besluit om die skool te verlaat ten volle verduidelik nie. Die eiser self het die besluit gedeeltelik aan swak dissipline toegeskryf. Die feit dat die eiser se broer en vriend saam met hom uit die skool is dui eerder op ‘n gebrek aan dissipline as op ‘n oorwoë en ingeligte besluit om ‘n rugbyloopbaan te volg. Tot die mate dat die eiser subjektief gedink het hy gaan hom op rugby toespits, was die besluit om vir daardie doel die skool te verlaat onrealisties. Die gevolgtrekking word ondersteun deur sy ouers se teenkanting teen die besluit.


Ek aanvaar die getuienis van die eiser, sy moeder en sy suster dat die eiser se ouers na aanvanklike teenstand ingewillig het dat hy die skool verlaat op voorwaarde dat hy deeltyds matriek maak. Ek aanvaar ook dat mev Van der Sandt inskrywingsvorms vir daardie doel by kolleges gekry het. In die lig van die eiser se gebrek aan motivering en dissipline meen ek egter dat die verwagting dat hy verder sou studeer onrealisties was. Alhoewel mev Van der Sandt matriek geslaag het en die eiser se suster gr 12, meen ek nie dat dit voldoende rede bied om te aanvaar dat sy gesinsagtergrond self die eiser sou motiveer nie. Die gesinsopset is nie, om dit breed te stel, akademies georiënteerd nie.


Dit is korrek, soos betoog is, dat die eiser nie finaal beoordeel moet word op grond van besluite wat hy op 17-jarige ouderdom geneem het nie. Aan die anderkant moet in ag geneem word dat baie sewentienjariges met soortgelyke keuses gekonfronteer word en nogtans die motivering en dissipline het om matriek te slaag. Na my oordeel moet die eiser se verdienvermoë voor die botsing bepaal word op die grondslag dat hy waarskynlik nie matriek sou maak nie. Die bevinding is en bly egter niks anders as ‘n, hopelik, ingeligte raaiskoot oor wat in die toekoms sou gebeur het as die botsing nie plaasgevind het nie. Die moontlikheid bestaan dat die eiser wel matriek sou geslaag het of dat hy sonder matriek in elk geval buitengewoon hoë vlakke van inkomste sou bereik het. Die eiser het in die getuiebank beïndruk as ‘n persoon met ‘n besonder aanvaarbare voorkoms wat homself goed kan uitdruk. Dit is trouens ook die indruk wat verskeie deskundiges en sy toesighouer, mnr Rossouw, van hom gekry het. Ek meen dus dat daar by die bepaling van die eiser se waarskynlike inkomste as dit nie vir die botsing was nie voorsiening gemaak moet word vir die moontlikheid dat hy beter sou verdien as die gemiddelde persoon met ‘n gr 9 kwalifikasie.


Die bedryfsielkundiges was dit eens, en die partye het aanvaar, dat as die eiser nie matriek sou maak nie, sou hy, as dit nie vir die botsing was nie, begin werk het op die Patterson A1 of A2 posgradering. Hy sou dan gevorder het tot op die Patterson B1 of B2 posgradering. (Ter verduideliking, die Patterson posgraderings is ‘n metode wat gebruik word om werksgeleenthede volgens aard en inkomste te gradeer. Vanweë die benadering wat die partye gevolg het, is dit onnodig om in meer detail op die graderings in te gaan.)


In opdrag van die verweerder het die aktuaris, mnr Whittaker, met in agneming van gewone gebeurlikhede twee berekeninge gedoen wat nou ter sake is. Die eiser het nie met die berekeninge twis nie. Die verskil tussen die twee berekeninge (waarna Whittaker in sy verslag as “Scenario 1A” en “Scenario 1B” verwys) is bloot dat daar in die een aanvaar word dat die eiser tot in die boonste kwartiel van die Patterson B2 gradering sou vorder en in die ander dat hy êrens tussen die boonste kwartiel van B1 en B2 sou eindig. Die advokate was dit eens dat, as bevind word dat die eiser waarskynlik nie matriek sou gemaak het nie, dit billik sal wees om te aanvaar dat as dit nie vir die botsing was nie, sy gekapitaliseerde inkomste die gemiddeld van die twee syfers (Scenario 1A en 1B) sou wees. Whittaker het die inkomste in sy “Scenario 1A” op R2 170 588 bereken. Die syfer ooreenkomstig Scenario 1B is R2 260 854. Die gemiddeld is R2 215 721.


Met sy berekeninge het mnr Whittaker reeds voorsiening genaam vir gebeurlikehede soos inflasie en die risiko van vroeë afsterwe. Normaalweg sou ‘n hof vir verdere gebeurlikhede soos werkloosheid, siekte en so meer voorsiening maak deur van die berekende verdienvermoë ‘n gebeurlikheids-persentasie af te trek. Ek het egter reeds daarop gewys dat daar ook voorsiening gemaak moet word vir die moontlikheid dat die eiser, as die nie vir die botsing was nie, beter sou vaar as wat ek as waarskynlik bevind het. Om daardie rede moet daar dan weer ‘n gebeurlikheidspersentasie bygetel word. Alles in ag genome meen ek dat mnr De Waal namens die eiser korrek is dat die negatiewe en positiewe gebeurlikhede mekaar in hierdie geval uitkanselleer en dat geen persentasie dus afgetrek of bygetel moet word nie.


Mnr De Waal het voorts aangevoer dat, ten einde voorsiening te maak vir die moontlikheid dat die eiser wel matriek sal maak, die gekapitaliseerde waarde van sy inkomste in daardie geval ook in berekening gebring moet word. Ek stem nie daarmee saam nie. Ek het reeds bevind dat die eiser waarskynlik nie matriek sou maak nie. Vir die moontlikheid dat ek verkeerd is, is na my oordeel reeds hierbo voldoende voorsiening gemaak deur geen gebeurlikheid af te trek nie.


Die eiser se verdienvermoë voordat die botsing plaasgevind het word dus bepaal op R2 215 721.



Verdienvermoë na die botsing


Die bedryfsielkundiges was dit eens oor die eiser se huidige verdienpotensiaal en gegrond daarop het die partye aan mnr Whittaker opdrag gegee om sy huidige verdienpotensiaal te bereken. Die partye verskil egter oor die vraag of die eiser op die ouderdom van 50 of 60 sal aftree. In hierdie verband steun die eiser op dr Birrel se getuienis dat, as die eiser werk doen wat heeldag loop, staan of buk behels en wat verg dat hy hoegenaamd goed optel, sal hy waarskynlik nie langer as ouderdom 50 kan werk nie. By oorweging van die eiser se aftreeouderdom moet in ag geneem word dat die bedryfsielkundiges dit eens is dat, in die lig van sy kwalifikasies, die eiser waarskynlik sal meeding om werk met ‘n wesenlike komponent van fisieke aktiwiteit of arbeid. Só beskou is ‘n aftreeouderdom van 50 beslis ‘n moontlikheid. Aan die anderkant is dit geen uitsonderlike prestasie, selfs vir ‘n persoon met ortopediese tekortkominge, om tot op die ouderdom van 60 te werk nie. Dit is ook moontlik dat die eiser, vir die redes wat ek reeds genoem het, daarin slaag om beter te doen as om mee te ding om werk wat fisiese arbeid behels. Dan sal hy waarskynlik tot op die ouderdom van 60 of selfs ouer kan bly werk. Ek meen dat mnr De Klerk namens die verweerder se oplossing om met ‘n aftreeouderdom van 55 te werk, gepas is.


Mnr Whittaker het bereken dat, indien die eiser op 50 aftree, sy gekapitaliseerde verdienste R1 225 344 is. As hy op 60 sou aftree is dit R1 587 721. Die gemiddeld tussen die twee is R1 406 532.50 wat dan sy verdienste weergee op die grondslag dat hy op ouderdom 55 sal aftree. Anders gestel, dat hy miskien op 50 en miskien op 60 sal aftree.


Soos met die eiser se verdienvermoë voor die botsing, moet hier ook vir die wis en die onwis van die toekoms voorsiening gemaak word. Mnr De Waal het my verwys na die beslissings in Botha en ‘n Ander v Santam Bpk. (supra) en Coetzer v Road Accident Fund (TPA, saaknommer 215156/2001) en betoog dat die gebeurlikhede in hierdie saak êrens tussen dié wat in daardie sake toegelaat is, val. Ek stem nie saam nie. Die sake waarna die advokaat verwys het se feite, en in besonder die voorsienbare gebeurlikehede, verskil heeltemal van die onderhawige. Ek is ook verwys na die sake van Smit NO v The Road Accident Fund (C&H, Vol V, B4-251) en Mance v Road Accident Fund (C&H, Vol V, J2-10) maar vir dieselfde rede meen ek nie dat dit in hierdie geval leiding verskaf nie behalwe dat die sake breë riglyne gee van hoe gebeurlikhede aktuariële berekeninge beïnvloed.


Die grondslag vir Whittaker se berekeninge van die huidige verdien-potensiaal was die ooreenkoms tussen die bedryfsielkundiges oor watter vlakke van verdienste die eiser sal bereik as hy optimaal op behandeling reageer. Daardie aanname is egter aan heelwat gebeurlikhede onderworpe.


In die eerste plek meen die ter saaklike deskundiges dat die eiser se prognose, wat die psigiese gevolge van sy breinbesering betref, swak is. Daardie gevolge, sy impulsiwiteit in besonder, kan maklik veroorsaak dat hy sy werk verloor of dat hy nie na wense vorder nie. As gevolg van sy ortopediese beserings is die eiser se beroepskeuses beperk. As hy dus sy werk verloor sal hy waarskynlik meer as die volgende persoon sukkel om weer geskikte werk te kry. Die gevolge van die eiser se beserings kan ook tot gevolg hê dat hy stadiger vorder as wat volgens die berekeninge voorsien word.


Aan die anderkant, vir die redes hierbo genoem, kan die eiser veel beter doen as wat verwag word. Ek meen egter dat die negatiewe moontlikhede wesentlik swaarder weeg as die positiewe. Alles in ag genome sou ek van die berekende verdienvermoë nog 30% gebeurlikhede aftrek. Dit bring die eiser se huidige verdienvermoë op R984 573 te staan (R1 406 532,50 – 421 959.75 (30%)).


Dit is nodig om daarop te wys dat ek nie die eiser se dwelmmisbruik en sy oormatige drankgebruik in ag geneem het nie. Ek het dit nie gedoen nie omdat, aan die een kant, daardie gewoontes van hom moontlik ongeag die botsing na vore kon gekom het. Aan die anderkant kan dit ten minste gedeeltelik te wyte wees aan sy pogings om selfmedikasie toe te pas. Die twee moontlikhede kanselleer mekaar uit. Alhoewel sy gewoontes dalk sy loopbaan kan beïnvloed (niemand het daaroor getuig nie) is dit op grond van die benadering wat ek volg eintlik ‘n neutrale faktor.


Die partye het ooreengekom dat die eiser reeds R170 000 verlies aan verdiendte gely het. Met dit in gedagte word die eiser se verlies aan verdienvermoë as gevolg van sy beserings dus bepaal op R1 401 148 (R2 215 721 – R984 573 + R170 000)


Algemene skade


Ek het die eiser se beserings, die korttermyn- en die langtermyngevolge daarvan hierbo uiteengesit. By oorweging van die bedrag algemene skade moet in gedagte gehou word dat ‘n mens te make het met ‘n atletiese jong man wat baie entoesiasties oor sy sport was. Alhoewel die jongste deskundige verslae daarop dui dat hy hom met sy fisiese tekortkominge begin versoen, bly dit so dat sy beserings ernstig inbreuk gemaak het op sy lewensgenot en sy emosionele welsyn. Sy ideale, realisties of nie, lê aan skerwe. Sy fisiese vermoëns is drasties ingeperk en hy moet met pyn saamleef. Sy breinbesering het waarskynlik psigiese letsels gelaat wat sy sosiale funksionering nadelig raak. Dit lê aan die wese van psigiese letsels dat die persoon wat dit opdoen nie die effek daarvan goed verstaan nie wat weer verdere nadelige effekte meebring.


Ek is in betoog verwys na my eie beslissing in die saak van Lyndy-Lee Green and another v Road Accident Fund (TPA saaknommer 30840/2000) waar algemene skade met ‘n huidige waarde van R1 miljoen toegeken is vir breinbeserings wat baie ernstiger was as die eiser se beserings in hierdie saak, en waar die gevolge ook baie ernstiger was. Ek meen nie dat die Green-beslissing tans van hulp is nie. In die beslissing van Trublet-Raoul (WLD saakno. 18968/04) het die eiser breinbeserings sowel as ortopediese beserings opgedoen wat wesenlik ernstiger was as die eiser se beserings en waarvan die gevolge ook meer ingrypend was. Die huidige waarde van die bedrag wat daar toegeken is, is R817 000. In De Jongh v Du Pisani NO (C&H, Vol V,J2-103) het die beserings wat die eiser opgedoen het nogal met die huidige ooreengestem. Die gevolge van die breinbeserings in daardie saak was egter meer ingrypend: die beseerde persoon (Rabe) het heelwat van die simptome ervaar wat die eiser in hierdie saak ervaar, sy persoonlikheid was ingrypend anders en sy intellek is merkbaar ingekort. Ek meen dat Rabe se ortopediese beserings weer minder ingrypend was as die eiser s’n. Algemene skadevergoeding met ‘n huidige waarde van R387 000 is toegeken. In Benjamin NO v Road Accident Fund (C&H, Vol V, B4-205) is die huidige ekwivalent van R535 000 toegeken vir ‘n ernstige breinbesering met meer ingrypende gevolge as in hierdie geval.


Mnr De Waal het betoog dat algemene skadevergoeding van R600 000 toegeken moet word. In die lig van die parameters wat na my oordeel uit die bogemelde sake blyk, is dit te veel. Vir die verweerder het mnr De Klerk aangevoer dat ‘n bedrag tussen R400 000 en R450 000 toegeken moet word. Teen die agtergrond van die gemelde beslissings en die ander waarna die advokate my verwys het, meen ek dat R450 000 gepas is.


Die koste om die skadevergoeding wat die eiser ontvang te administreer


In sy besonderhede van vordering beweer die eiser dat hy as gevolg van die beserings wat hy opgedoen het, beskerming benodig “van enige bedrag skadevergoeding wat aan hom toegeken mag word” (“die toekenning”). Hy beweer verder dat die beskerming bewerkstellig moet word “deur middel van die oprigting van ‘n trust met die uitsluitlike doel om enige sodanige toekenning aan die eiser te beheer, te beskerm en te bestuur”. Gevolglik vra die eiser in sy bedes ‘n verklarende bevel dat die koste verbonde aan so ‘n trust deel sal vorm van die koste betaalbaar ingevolge die sertifikaat wat ingevolge artikel 17(4)(a) van die Padongelukkefondswet uitgereik moet word. Die eiser vra ook ‘n bevel dat die beperking van 90% (d.w.s. die ooreengekome verdeling) nie op die koste van die trust toegepas moet word nie. Die verweerder ontken die bewerings.


In betoog het mnr De Waal uitgebrei op die bede dat die verweerder vir die administrasie van die toekenning moet betaal. Aan die hand van ‘n konsep-trustakte en ‘n konsepbevel is betoog dat die eiser se prokureurs gelas moet word om die trust ooreenkomstig die konsep op te rig. Opsommend kom die bevel wat aangevra is verder daarop neer dat die toekenning nie aan die eiser betaal mag word nie, maar aan die trust betaal moet word. As die trust nie opgerig word nie, moet die hof volgens die konsepbevel weer genader word vir opdragte. Mnr De Waal het betoog dat die verweerder moet betaal vir die oprigting van die trust en vir die administrasie daarvan vir so lank as wat die eiser leef. Wat die administrasiekoste betref, is betoog dat dit deel moet vorm van die art. 17(4)(a)-sertifikaat. Die betoog was egter dat die gemelde koste nie aan die ooreengekome verdeling van skade onderhewig moet wees nie. Waarom dit so moet wees, het nie uit die betoog geblyk nie.


In sy betoog het mnr De Klerk die verweerder bereid verklaar om te betaal vir administrasiekoste tot ‘n maksimum gelykstaande aan die koste van ‘n kurator bonis. Daardie aanbod het mnr De Waal nie aanvaar nie. Hy het trouens in aanvullende betoogshoofde aangevoer dat as die koste van ‘n trust nie toegestaan word nie, geen bevel ter beskerming van die fondse wat die eiser toekom, gemaak moet word nie.


Mnr De Waal se betoog was, soos ek hom verstaan het, op twee bene gegrond. Hy het betoog dat die noodsaak om die toekenning te beskerm die gevolg van die eiser se breinbesering is en dus, so is betoog, deel van die skadevergoeding waarvoor die verweerder aanspreeklik is. Die advokaat het egter ook betoog dat, ongeag of die eiser se onvermoë deur sy breinbesering veroorsaak is, die verweerder in elk geval vir die koste van die trust moet betaal omdat die eiser “’n kwesbare individu is van wie dit nie verwag kan word om ‘n substansiële toekenning na behore in sy eie belang te kan beveilig en te bestuur nie”. Ter ondersteuning van die laasgenoemde betoog is die hof verwys na die beslissing in Van Deventer v Premier of Guateng (C&B, Vol. V, E2-1 op 21). Ek sal die twee bene van die betoog afsonderlik oorweeg. Ek begin met die betoog dat die breinbesering die beskerming van die toekenning genoodsaak het.


Dr Du Plessis en dr Shevel het albei gesê dat die eiser hulp met die administrasie van die toekenning sal benodig. Ek meen nie dat hulle daarmee bedoel het dat dit juis die gevolg van sy breinbesering is nie, maar eerder dat dit so is vanweë die eiser se intellek, sy agtergrond en sy vlak van ontwikkeling. Ek sê dit omdat nie een van die gemelde twee deskundiges die eiser getoets het om sy vlak van funksionering vas te stel nie. Ek sal nogtans aanvaar dat die impulsiwiteit wat een van die gevolge van die breinbesering is, tot gevolg het dat die eiser iemand sal moet kry om hom te help om die toekenning te bestuur. Ek moet egter dadelik byvoeg dat die meeste mense hulp en advies moet inwin om groot bedrae geld te bestuur.


Daar is, volgens die getuienis, met die eiser se intellek niks verkeerd nie. Daar is geen rede om aan te neem dat hy nie self weet dat hy hulp en advies moet kry om die toekenning te bestuur nie. Dit staan trouens vas dat die eiser nie handelingsonbevoeg is nie. Opgesom is die eiser dus ‘n persoon wat vanweë sy breinbesering moontlik sy geld by tye onverantwoordelik sal aanwend, maar hy is terselfdertyd ‘n persoon wat die intellek en insig het om dit te weet.


Tydens betoog het ek vir mnr De Waal gevra of die eiser pertinent geraadpleeg is daaroor dat sy reg om met die geld te handel drasties ingeperk word. Hy is nie. Hy het ook nie pertinent tot die bevel toegestem wat sy handelingsvryheid inkort nie. Ek meen ook nie dat die algemene volmag aan die eiser se prokureur om skadevergoeding te verhaal, ‘n volmag insluit om ‘n bevel te bekom wat die eiser se vryheid om met sy geld te handel beperk nie.


Ek sal vir doeleindes van die oorweging van die eerste been van mnr De Waal se betoog aanvaar dat die koste van hulp en advies om die eiser se toekenning te administreer regtens die gevolg is van die versekerde bestuurder se nalatigheid. (Vgl. oor die verskil tussen feitelike oorsake en regsoorsake S v Mokgethi en Andere 1990 (1) SA 32 (A) op 39D en verder.) Ek meen egter dat, sonder bewys dat die eiser tot die bevel toegestem het, die bevel nie binne die hof se bevoegdheid lê nie. Vryheid van die persoon, wat vryheid van keuse insluit, is een van die fundamentele regte wat in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 beskerm word (Art. 12). Met daardie reg kan die hof inmeng as die betrokke persoon nie in staat is om self sy eie sake te hanteer nie of as die persoon daartoe instem. In hierdie geval word ‘n bevel gevra wat die eiser se reg om met sy toekenning te handel feitlik uitsluit. Daar is geen getuienis dat hy daartoe toestem nie en hy is ten volle handelingsbevoeg.


Daar is nog ‘n rede waarom die bevel wat namens eiser aangevra is nie gegee kan word nie. Op die veronderstelling dat die nodige kousale verband bestaan waarna ek verwys het, moes die eiser ook bewys dat die koste van juis ‘n trust kousaal aan die onregmatige daad verbonde is, dat dit die redelike manier is om die toekenning te beskerm. Daar is geen getuienis voor die hof geplaas dat ‘n trust die redelike manier is om die toekenning te beskerm nie of dat dit selfs een van meerdere redelike maniere is om dit te doen nie. Dit is trouens uit die betoë van sowel mnr De Waal as mnr De Klerk duidelik dat die trust ‘n taamlike duur manier is om die toekenning te administreer. Daar is geen getuienis om aan te toon dat die eiser nie bv. na ‘n bank of ‘n ander finansiële diensverskaffer toe kan gaan en daar goedkoper of selfs verniet die nodige hulp en beskerming kan kry nie. Gevolglik, al word aanvaar dat die koste om die toekenning te administreer regtens deel van die eiser se skade vorm, het die eiser nie die omvang van daardie skade-element bewys nie.


Die tweede been van mnr De Waal se betoog gaan uit van die standpunt dat die breinbesering nie die eiser se onvermoë veroorsaak het nie maar dat hy na sy aard in elk geval nie so ‘n groot bedrag geld effektief kan administreer nie. In die Van Deventer-beslissing waarna ek hierbo verwys het, is geredeneer dat die koste van ‘n trust in so ‘n geval redelik is omdat “you must take your victim as you find him/her”. Ek meen met eerbied dat sulke koste, waar dit nie deur die liggaamlike besering self te weeg gebring is nie, te ver verwyderd van die onregmatige daad is om regtens as ‘n gevolg daarvan beskou te word. Dit is egter nie nodig om dit te beslis nie omdat die probleme wat ek hierbo genoem het ook in hierdie geval in die eiser se weg staan.


Die eiser se bede ten aansien van die oprigting en bestuur van ‘n trust kan dus nie slaag nie.


Koste


Die eiser is klaarblyklik geregtig op die koste van die geding. Mnr De Waal het egter aangevoer dat dit gepas is om die verweerder te beveel om koste te betaal soos tussen prokureur en kliënt, of selfs soos tussen prokureur en eie kliënt. Ter ondersteuning hiervan het mnr De Waal eerstens aangevoer dat, omdat die verweerder aanspreeklikheid vir 90% van die eiser se skade aanvaar het, die verweerder die hele saak moes geskik het. In plaas daarvan, het die betoog gelui, het die verweerder bloot formalisties van die eiser geverg om sy skade te bewys. Aansluitend hierby het mnr De Waal in die tweede plek daarop gewys dat die verweerder geen aanbod by wyse van ‘n inbetaling by die hof gemaak het nie.


By oorweging van mnr De Waal se betoog moet natuurlik in gedagte gehou word dat dit die hof se funksie is om geskille op te los na die oorweging van getuienis en argumente. Dit moet verder in gedagte gehou word dat elke party tot ‘n geskil die reg het om daardie geskil deur die hof te laat bereg. Tot die mate dat die betoog daarop neerkom dat daar in hierdie geval in werklikheid geen geskil was om op te los nie, kan ek nie daarmee saamstem nie. Die kruisverhoor van die eiser se getuies deur mnr De Klerk het heelwat nuwe insigte gebring. Dieselfde geld vir die getuienis wat namens die verweerder aangebied is en vir die betoog wat namens die verweerder gevoer is. Ek meen dat dit uit die bevel wat ek beoog om te maak blyk dat die verweerder se verweer nie sonder meriete was nie en ook dat die eiser nie bloot formalisties sy skade moes bewys nie.


In die lig van sy toegewing van aanspreeklikheid kan die verweerder se versuim om by wyse van ‘n inbetaling ‘n aanbod te maak inderdaad gekritiseer word. So ‘n inbetaling kon, en niemand weet of dit sou nie, die verweerder teen heelwat koste gevrywaar het. In daardie sin kan gesê word dat die vereerder openbare geld gemors het, maar dit het nie die eiser geraak nie. Slegs as boonop gesê kan word dat die eiser die aanbod sou aanvaar het, kan gesê word dat hy deur die gebrek daaraan benadeel is. In die lig van die betoë wat ek namens die onderskeie partye aangehoor het, meen ek in elk geval nie dat dit waarskynlik is dat die eiser die verweerder se aanbod sou aanvaar het nie.


Mnr De Waal het verder daarop gewys dat ‘n gewone kostebevel die effek sal hê dat die eiser sekere uitgawes uit sy toekenning sal moet betaal. Dit is ‘n oorweging wat ter sprake kom as die hof meen dat die verweerder se optrede ‘n spesiale kostebevel verg. Dit is egter nie ‘n oorweging wat op sigself ‘n spesiale kostebevel regverdig nie.


Alles in ag genome meen ek nie dat ‘n spesiale kostebevel gepas is nie.


Die eiser se advokaat het verder betoog dat sy kliënt geregtig is op ‘n bevel dat die verweerder die koste moet betaal van alle deskundige regsmediese verslae wat die eiser bekom het, ongeag of die betrokke deskundige getuig het of nie. Dit is by oorweging van die betoog belangrik om daarop te let dat dit nie gaan om gespesifiseerde deskundiges nie. Mnr De Waal se betoog was dat die bevel in die algemene terme hierbo verleen moet word sonder verwysing na wie die deskundiges is. Dit is so dat kwalifiserende gelde van deskundige soms toegestaan word al het die betrokke deskundige nie inderdaad getuig nie. Die vraag is telkens of die betrokke kwalifiserende gelde redelik aangegaan is. Die algemene reël is egter dat, “(i)n the absence of any explanation, the failure to call the person as a witness would generally lead to the inference that the payment of fees was not reasonably necessary.” (Stauffer Chemical Co and Another v Safsan Marketing and Distribution Co (Pty) Ltd and Others 1987 (2) SA 331 (A) op 355E tot H; Cassel and Benedick NNO v Rheeder and Cohen NNO [1991] ZASCA 25; 1991 (2) SA 846 (A) op 853B tot I) Dit volg dat ‘n algemene bevel in die terme wat die advokaat gevra het nie gemaak kan word nie. Die hof moet immers ‘n diskresie uitoefen voordat gelas word dat die kwalifiserende gelde van deskundiges deur die ander party betaalbaar is. Sonder om te weet wie die deskundiges is en wat die aard en inhoud van hulle verslae is, kan die diskresie natuurlik nie uitgeoefen word nie.


Ek is nogtans van oordeel, en mnr De Klerk het nie anders betoog nie, dat die kwalifiserende gelde van deskundiges waarvan kennis gegee is dat hulle sou getuig toegelaat moet word. Die party het soos die verhoor aangegaan het verskeie geskilpunte uit die weg geruim en dit het tot gevolg gehad dat deskundiges wat andersins sou getuig, nie geroep hoef te gewees het nie. Ek meen verder dat die kwalifiserende gelde van deskundiges wie se verslae deur die verweerder erken is, ook toegelaat moet word. Die name van die betrokke deskundiges verskyn in die bevel hieronder.


In Mei 2007 is die saak uitgestel, ondermeer omdat dit te lank sou duur om op die gewone verhoorrol afgehandel te word. Die koste van die uitstel is voorbehou, en daar is geen rede waarom dit nie die uitslag van die saak as geheel moet volg nie.


Namens die eiser is ook betoog dat die koste van betoogshoofde toegelaat moet word. Die betoogshoofde wat deur mnr De Waal voorberei is was onteenseglik van hulp. Ek meen egter dat dit onnodige inmenging in die funksie van die takseermeester sou wees om hom of haar te gelas om die koste toe te laat. Hy of sy moet eie diskresie daaroor uitoefen. Dieselfde geld vir mnr De Waal se versoek dat die hof die verweerder moet gelas om die eiser se redelike vervoerkoste te betaal vir vervoer na en van konsultasies met die partye se deskundiges: Daaroor moet die takseermeester beslis en ek spreek bewustelik geen mening daaroor uit nie.


Mnr De Waal het in terme van die konsep-bevel versoek dat die verweerder gelas moet word om rente te betaal op die toekenning teen 15,5% per jaar vanaf 14 dae na datum van die bevel. Die datum is ietwat later as die datums wat deur die Wet op die Voorgeskrewe Rentekoers, 55 van 1975 bepaal word. (Vgl. artikels 1 en 2A van die gemelde wet.) Die koers is die voorgeskrewe een. Omdat ek nie verder oor die rente toegespreek is nie, gee ek aan mnr De Waal se versoek gevolg. In ooreenstemming met die wet het mnr De Waal ook rente op koste versoek.


Namens die eiser het mnr De Waal versoek dat die bedrag wat aan die eiser betaalbaar is in sy prokureurs se trustrekening inbetaal word. Die versoek is redelik.


In die lig daarvan dat die verweerder aanspreeklik is vir 90% van die tweede eiser se skade, word die volgende bevel gemaak:

  1. Vonnis word toegestaan teen die verweerder ten gunste van die tweede eiser vir betaling van die bedrag van R1 666 033.20 plus rente daarop teen ‘n koers van 15,5% per jaar bereken vanaf 14 dae na datum van hierdie bevel tot datum van betaling.

  2. Die verweerder word gelas om aan die tweede eiser ‘n onderneming te gee ingevolge artikel 17(4)(a) van die Padongelukkefondswet, 56 van 1996 vir betaling van 90% van die koste vermeld in die gemelde subartikel wat voortspruit uit die beserings wat die tweede eiser opgedoen het in die botsing wat op 31 Augustus 2002 plaasgevind het.

  3. Die verweerder word gelas om die eisers se koste te betaal welke koste sal inlsuit:

    1. Die koste wat voorbehou is op 22 Mei 2007;

    2. Die koste van ‘n senior advokaat

    3. Die kwalifiserende gelde van die volgende deskundige getuies:

      1. Me BA Donaldson;

      2. me BL Purchase;

      3. d DA Birrell;

      4. dr JJ du Plessis;

      5. dr M Mazabow;

      6. dr DA Shevel;

      7. mnr J Truter;

      8. me L Randall;

      9. dr O Guy;

      10. mnr G Whittker.

      11. dr BL Mackenzie;

      12. dr P Gous;

      13. dr B White;

      14. dr B Barnetson;

  4. Die verweerder word gelas om rente te betaal op die koste verskuldig aan die eisers teen ‘n koers van 15,5% per jaar vanaf die datum 14 dae na taksasie van die koste tot datum van betaling.

  5. Die verweerder word gelas om die bedrag vermeld in paragraaf 1 hierbo en die koste aan die eisers se prokureurs, Adams & Adams te betaal deur dit in te betaal in die prokureurs se trustrekening gehou te Nebank, Pretoria-tak (takkode 1604 4500), rekeningnommer 1604 431 8902.



BR du Plessis

Regter van die Hooggeregshof

Namens die eisers: Adams & Adams

Adams & Adams Place

1140 Prospect Street

Hatfield

Pretoria


Adv: W.P. de Waal SC


Namens die Verweerder: Gildenhuys Lessing Malatji inc.

2de Vloer, Brooklyn Court

361 Veale Street

Brooklyn

Pretoria


Adv: M.C.C. de Klerk