South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria >> 2016 >> [2016] ZAGPPHC 722

| Noteup | LawCite

Monsanto South Africa (Pty) Ltd v Vectobiz (Pty) Ltd and Another (20699/2015) [2016] ZAGPPHC 722 (18 August 2016)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOë HOF VAN SUID-AFRIKA

(GAUTENG AFDELING, PRETORIA)


SAAK NOMMER: 20699/2015

Datum: 18/8/2016

Reportable: No

Of interest to other judges: No

Revised.

In die saak tussen:

MONSANTO SOUTH AFRICA (PTY) LTD EISER

EN

VECTOBIZ (PTY) LTD EERSTE VERWEERDER

JOHAN MARTIN LIEBENBERG TWEEDE VERWEERDER


UITSPRAAK

TOLMAY,R:


INLEIDING:

[1] Die eiser (Monsanto), ‘n maatskappy wat spesialiseer in die verskaffing van mieliesaad aan boere, eis betaling van ‘n bedrag van R1 097 855-48 plus rente en koste op ‘n skaal soos tussen prokureur en kliënt van die verweerders.

[2] Eerste verweerder (“Vectobiz”) is ‘n maatskappy wat sedert ongeveer Desember 2011 mielieboerdery aktiwiteite bedryf en wat verskeie mieliesaadbestellings geplaas het by die eiser deur sy gemagtidge verteenwoordiger die tweede verweerder (“Mnr Liebenberg”). Vectobiz het deel gevorm van die sogenaamde Profert groep. Ramiscene (Pty) Ltd (Ramiscene) en Sceniblox (Pty) Ltd (Sceniblox) was ook maatskappye in die groep.Ramiscene het ‘n naamsverandering ondergaan en het later bekend gestaan het as Waltpro (Pty) Ltd (Waltpro). Al hierdie maatskappye het boerdery aktiwiteite bedryf en saad bestel by Monsanto. Die meesterbrein van die groep was Mnr Abrie van der Walt. Mnr Liebenberg was die skoonseun van Mnr van der Walt. Mnr van der Walt is egter intussen oorlede.Waltpro het 51% aandele in Vectobiz gehou en Mnr Shawn Pretorius het 49% aandele in Vectobiz gehou.

[3] Mnr Liebenberg word as borg aangespreek vir die beweerde verskuldigheid van Vectobiz aan die eiser.

[4] Die eiser beweer dat saad bestel en gelewer is aan Vectobiz en dat Vectobiz versuim het om die verskuldigde bedrag te betaal. Die verweerders ontken dat die saad gelewer is aan Vectobiz. Die verweerders beweer dat die saadbestelvorm geteken op die naam van Vectobiz deur Mnr Shawn Pretorius, (“Mnr Pretorius”), slegs ten doel gehad het om saad te reserveer, nie vir Vectobiz nie, maar vir die boerderyaktiwiteite van Mnr Pretorius, wat sy boerderyaktiwiteite beoefen het in die entiteit bekend as Shawn Pretorius Beesboerdery Bk.

[5] Die verweerders betwis nie dat Mnr Pretorius in die naam van Vectobiz ‘n bestelling kon plaas nie, maar voer aan dat dit goed verstaan was dat hierdie bestelling niks meer sou wees as ‘n tydelike reservering van saad nie. Die verweerders voer aan dat daar ‘n vaste praktyk was dat alle bestellings finaal bekragtig moes word voor lewering en dat lewering van saad alleen kon plaasvind ooreenkomstig Mnr Liebenberg se instruksies. Die verweerders voer aan dat die eiser nie geregtig was om leweringsinstruksies van Mnr Pretorius te aanvaar nie.

[6] Mnr Liebenberg voer aan dat hy nie gebonde is aan die borgstelling waarop die eiser staatmaak nie. Die borgstelling is vervat in ‘n kredietaansoek wat Mnr Liebenberg op 23 Augustus 2012 namens Vectobiz geteken het. Hy beweer dat hy geen bedoeling gehad het om enigiets meer te doen as om namens Vectobiz ‘n kredietaansoek te teken nie.


DIE GETUIENIS:

[7] Namens die eiser het Mnr Mann en Mnr Reichel getuig.

[8] Mnr Mann het getuig dat hy as verteenwoordiger vir eiser gewerk het. Vectobiz het deel gevorm van die sogenaamde Profert Groep wat klaarblyklik ‘n groot rolspeler in boerdery aktiwiteite in die Ventersdorp – Potchefstroom area was. Die eiser het groot besigheid met die groep gedoen. Mnr Liebenberg was volgens Mnr Mann die persoon waarmee hy geskakel het vir bestellings van Vectobiz sowel as ander maatskappye in die Profert groep.Mnr Liebenberg het bestellings geplaas, en kredietaansoeke geteken. Hy het getuig dat daar in 2012 aansienlike uitbreiding in die Profert groep voorsien is wat sou insluit dat ander boere betrek sou word. Twee aspekte is volgens my belangrik in die verband. Eerstens, Mnr Shawn Pretorius is volgens Mnr Mann glad nie op hierdie stadium as een van daardie boere geïdentifiseer nie en daar was tweedens ook geen getuienis dat die gemagtigde persoon om bestelling te plaas namens die Profert groep iemand anders as Mnr Liebenberg sou wees nie, ten spyte van die uitbreiding van die boerderyaktiwiteite van die groep.

[9] Mnr Mann het getuig dat dit die praktyk van die eiser was dat bestellings vir saad deur kliënte geplaas sou word op ‘n voorlopige basis. Vectobiz en ander maatskappye in die Profert groep en ook ander kliënte sou so ‘n bestelling plaas. Hierdie bestellings was egter net om eiser in staat te stel om ‘n raming van die saad wat gelewer sou moes word in ‘n seisoen te maak. Die bestelling sou bevestig word voordat lewering plaasvind. Geen aanspreeklikheid het gevolg uit die eerste bestelling nie en dit kon te enige tyd kanselleer word. Hy het getuig dat die bestellings deur Mnr Liebenberg geteken is ten spyte daarvan dat daar verskeie bestuurders op die verskillende plase van Vectobiz en die res van die Profert groep was. Geen lewering sou plaasvind volgens hom alvorens Mnr Mann nie weer met Mnr Liebenberg gepraat het en hy die bestelling bevestig het nie. Kredietaansoeke sou voltooi word deur kliënte nadat die voorlopige bestellings ontvang is. Mnr Liebenberg het die kredietaansoek namens Vectobiz geteken.

[10] Gedurende die betrokke seisoen was die aanvanklike bestellings van Vectobiz vir saad groot aangesien voorsien is dat sekere staatsgronde gehuur sou word om bewerk te word. Hierdie het egter nie realiseer nie en die bestellings is op die ou einde nie uitgevoer nie.

[11] In die kredietaansoeke wat deur Mnr Liebenberg onderteken is en wat volgens Mnr Mann by hom afgelewer is en ‘n paar dae later terug ontvang is, is ‘n klousule vervat waarin die ondertekenaar namens die entiteit wat aansoek doen vir krediet homself as borg verbind.

[12] Mnr Mann het getuig dat op die stadium toe Mnr Liebenberg bestellings geplaas het, hy glad nie bewus was van enige betrokkenheid van Mnr Shawn Pretorius by Vectobiz nie.

[13] Die bestelling waaroor hierdie saak gaan se oorsprong was egter nie by Mnr Mann of Mnr Liebenberg nie. Mnr Mann getuig dat hy op ‘n dag deur Mnr Reichel ‘n verteenwoordiger van Monsanto in die Lichtenburg area, gebel is, wat hom gevra het of hy Mnr Liebenberg ken want hy moet hom gaan sien. Volgens Mnr Reichel het ‘n kliënt van hom, Mnr Pretorius, ‘n aanduiding gegee dat hy saad deur Vectobiz gaan aankoop. Mnr Reichel het hom versoek om saam met hom na Mnr Liebenberg te gaan. Hy het telefonies ‘n afspraak met Mnr Liebenberg gerëel.Hy en Mnr Reichel het Mnr Liebenberg by Profert se kantore in Potchefstroom gaan sien. Volgens hom het Mnr Liebenberg by die geleentheid gesê dat Mnr Pretorius saad deur Vectobiz kan aankoop en ook daarvoor kan teken. Volgens Mnr Mann het daar behalwe vir bogenoemde geen verdere bersprekings op die dag plaasgevind nie. Ek vind die getuienis vreemd want volgens Mnr Mann self moes alle ander bestellings deur Mnr Liebenberg goedgekeur word en is hierdie proses nougeset gevolg en mens sou verwag dat daar ten minste ‘n verduideliking sou wees vir die afwyking van die algemene gebruik en dat die terme en voorwaardes waarop Mnr Pretorius bestellings kon plaas bespreek sou word.Hy getuig dat as gevolg van die feit dat Mnr Pretorius, wat Mnr Reichel se kliënt was, ‘n bestelling sou plaas deur Vectobiz wat groter was as die wat deur Mnr Liebenberg geplaas is, sou Mnr Mann ook die voordeel van Vectobiz se bestellings as deel van sy portefeulje verloor. Dit sou egter later blyk dat die Vectobiz bestelling wat deur Mnr Liebenberg op daardie stadium, geplaas was, veel groter was as dié van Mnr Pretorius. Gevolglik weerspreek die feite die korrektheid van Mnr Mann se getuienis.

[14] Mnr Reichel, eiser se verteenwoordiger in die Lichtenburg area het getuig dat hy 14 jaar ‘n verteenwoordiger van die eiser is. Mnr Pretorius wat op die stadium ‘n groot en bekende boer in die Lichtenburg omgewing was het onder die naam Shawn Pretorius Bees Boerdery Bk geboer. Mnr Pretorius het ook die Massey Ferguson agentskap in Lichtenburg gehad. Hy het ‘n kredietaansoek by eiser ingevul vir die bestelling van saad toe hy met eiser begin besigheid doen het gedurende Augustus 2010. Uit hoofde van die aansoek is krediet aanvanklik aan Mnr Pretorius verleen en het hy inderdaad saad van die eiser aangekoop vir die 2011/2012 seisoen.

[15] In 2013 het Mnr Pretorius ‘n voorlopige bestelling vir saad by eiser geplaas, maar hy het nie sy rekening by eiser vir die vorige jaar se saad vereffen nie. Hy moes gevolglik ‘n skulderkenning teken waarin sekere betalings voorwaardes vervat was. Die skulderkenning wat deur Mnr Pretorius geteken is, was vir die bedrag van ± R2.5 miljoen. Mnr Pretorius het nie sy verpligting teenoor eiser in terme van die skulderkenning nagekom nie en die tjeks wat deur hom gegee is ter betaling daarvan is gedishonereer. As gevolg van Mnr Pretorius se wanbetaling kon hy geen verdere saad op krediet van eiser aankoop nie Toe Mnr Reichel Mnr Pretorius meedeel dat geen verdere krediet aan hom toegestaan sou word nie, het Mnr Pretorius hom meegedeel dat hy daardie jaar deur Vectobiz saad sou koop. Mnr Pretorius het hom versoek om Mnr Liebenberg te skakel om die reëling te bevestig. Die streeksverteenwoordiger, Mnr Engelbrecht het Mnr Reichel meegedeel dat Mnr Liebenberg Mnr Mann se kliënt was. ‘n Afspraak is toe gemaak om Mnr Liebenberg in Potchefstroom te gaan sien.Op daardie stadium, het hy nie enige kennis van Vectobiz gehad nie.

[16] Mnr Reichel, Mnr Engelbrecht en Mnr Mann is toe na Potchefstroom om Mnr Liebenberg te gaan sien. Volgens hom het Mnr Mann die afspraak met Mnr Liebenberg gemaak. Hulle is na Potchefstroom waar Mnr Liebenberg tydens die vergadering gesê het dat Mnr Pretorius die grootste bestelling van Vectobiz gaan plaas en dat bestellings vir Vectobiz voortaan deur Mnr Pretorius geplaas moes word. Volgens hom was daar ook ‘n ander persoon van die Oos-Transvaal teenwoordig wie se besigheid ook deur Mnr Mann hanteer is. Mnr Mann het in sy getuienis niks oor die teenwoordigheid van of Mnr Engelbrecht of hierdie persoon gesê nie, en ook nie dat Mnr Liebenberg sou gesê het dat Mnr Pretorius die grootste bestelling sou plaas nie en in die toekoms bestellings vir Vectobiz sou plaas nie. Die feite sou toon dat dit ook nie korrek was nie. Mnr Liebenberg se bestellings was op daardie stadium groter en is eers heel later kanselleer.

[17] In opvolging van bogenoemde gesprek is Mnr Reichel terug na Mnr Pretorius en is die bestelling op 11 September 2012 onderteken deur Mnr Pretorius en daar is uitvoering aan die bestelling gegee. Die saad is aan Mnr Pretorius gelewer in Lichtenburg by sy Massey Ferguson agentskap. Die woorde “Shawn se eie lande” is in manuskrip op die bestelling aangebring nadat hierdie bestelling nie betaal is nie het Mnr Reichel geen verdere besigheid met Vectobiz of Mnr Pretorius gedoen nie.

[18] Die beskrywing op die bestelling naamlik “Shawn se eie lande” kom vreemd voor as die weergawe van Mnr Reichel aanvaar word. As Mnr Pretorius namens Vectobiz boer, soos Mnr Reichel getuig het, waarom is hierdie nota enigsins nodig? Mnr Reichel kon geen aanvaarbare verduideliking vir hierdie nota gee nie.

[19] Onder kruisverhoor sê hy dat tydens die gesprek in Potchefstroom bespreek is dat Mnr Pretorius voortaan die boerdery van Vectobiz sou hanteer. Die getuienis klop nie met Mnr Mann se getuienis nie en strook nie met die feit dat Mnr Mann na hierdie gesprek nog bestellings vir Vectobiz geplaas het onder instruksie van Mnr Liebenberg nie. Mnr Mann het ook nie getuig dat al Vectobiz se besigheid voortaan deur Mnr Pretorius hanteer sou word nie. Dit is verder uiters onwaarskynlik dat Mnr Liebenberg dit sou gesê het veral gesien in die lig van die feit dat Verctobiz klaarblyklik op verskeie plase geboer of beoog het om te boer, waar Mnr Pretorius glad nie betrokke was nie.

[20] Hierna getuig Mnr Liebenberg namens die verweerder. Hy getuig dat hy ‘n direkteur van Vectobiz was, asook van die maatskappye Ramiscene (wat later Waltpro geword het), en Seniblocks wat almal deel van die Profert groep gevorm het. Tydens sy betrokkenheid by Vectobiz en die ander 2 maatskappye was sy funksie om operasioneel in beheer van die doen en late op die verskillende plase te wees. Daar was bestuurders op die verskillende plase wat omgesien het na die dag tot dag bedrywighede op die plase, maar hulle het instruksies van hom ontvang ten aansien van wat gedoen moes word. Hy was beslis dat niemand behalwe hyself saad bestellings geplaas het of gemagtig was om saad bestellings te plaas nie. Sy getuienis was ook dat Mnr Abrie van der Walt streng kontrole oor die aktiwiteite van die maatskappye en oor sy handelinge gehou het.

[21] Hy getuig dat Mnr Pretorius ‘n 49% aandeel in die maatskappy Vectobiz gehad het en Waltpro het ‘n 50% aandeel gehad. Die Profert groep het ‘n 50% aandeel in Waltpro gehad en ‘n entiteit genaamd Hamwalt het die ander 50% aandeel in Waltpro gehou. Hy het getuig dat Mnr Shawn Pretorius huurkontrakte gehad het ten aansien van sekere staatsgronde en die idee was dat Vectobiz via Mnr Pretorius op die staatsgronde sou boer. Daar is gevolglik ‘n aandeelhouersooreenkoms tussen Mnr Pretorius en Ramiscene (later Waltpro) aangegaan wat tot gevolg sou hê dat Vectobiz op hierdie gronde sou boer. In terme van die aandeelhouersooreentooms sou Mnr Liebenberg die van dag tot dag bestuur onder toesig van die direksie uitoefen. Die ooreerkoms bepaal ook dat besluite van die direkteure slegs van krag sal wees indien dit goedgekeur is deur ‘n meerderheid van die direkteure. Mnr Pretorius het egter geen rol gespeel in die bestuur van Vectobiz nie en het ook geen rol gespeel in die besluitneming ten aansien van die boerderyaktiwiteite op die plase nie. Hy het wel geboer in die naam van Shawn Pretorius beesboerdery, maar nie Vectobiz of Mnr Liebenberg het enige rol in daardie boerdery gespeel nie.

[22] Mnr Liebenberg sê dat hy van ongeveer 2005/2006 bekend was met Mnr Mann. Hy getuig dat ten spyte van die feit dat daar ander persone was wat op die plase geboer het en dat byvoorbeeld Mnr Marius Cornelius wat ‘n landboukundige en boer was en ook betrokke was in die Profert groep en ‘n bestuursposisie in een van die maatskappye beklee het, het hy wat Mnr Liebenberg was alle bestellings vir saad geplaas en was niemand anders gemagtig om dit te doen nie. Die proses was dat as ‘n plaasbestuurder byvoorbeeld saad benodig sou daar ‘n aanvraag of rekwisisie wees en hy sou dit dan goedkeur of nie. Daar sou konsultasie met die betrokke plaasbestuurder wees oor die hoeveelheid en tipe kultivar maar dan sou Mnr Liebenberg met Mnr Mann konsulteer en die bestelling plaas en teken. Voor aflewering sou Mnr Mann hom kontak en sê dat die saad reg is en vra of Monsanto dit kan aflewer.

[23] Hy getuig dat ten aansien van die 2012 bestellings hy bestelling 35246 vir saad geteken het. Die bestelling was vir R3 436 234-86 en is geteken op 19 Julie 2012 vir die maatskappy Sceniblox.Op dieselfde dag teken hy bestelling 35247 vir Vectobiz in die bedrag van R1 681 291-20. Op 20 Augustus 2012 teken hy bestelling 35315 vir Vectobiz vir ‘n bedrag van R5 304 798-10. Op hierdie bestelling word aangedui dat die bestelling die vorige bestelling 35241 vervang en dit word 2 keer geteken deur hom. Hy getuig dat die verwysing na no 35241 verkeerd is aangesien daar nie so ‘n bestelling vir Vectobiz was nie en dat dit inderdaad bestelling 35247 vervang het. Die groot bestelling was geplaas omdat op daardie stadium voorsien is dat sekere staatsgronde in die Brits omgewing bekom sou word waarop Vectobiz sou boer. Dit is belangrik om te let daarop dat hierdie feite Mnr Mann se getuienis dat Mnr Pretorius se bestelling die grootste was as onwaar bewys.

[24] Dit is op hierdie stadium wat Mnr Liebenberg die kredietaansoek geteken het wat die klousule bevat het wat hom as borg aanspreeklik maak. Hy getuig dat hy nie die dokument enigsins gesien het as ‘n borgkontrak wat hom aanspreeklik sou maak vir die skuld van Vectobiz nie.

[25] Hy getuig dat hy geen kennis gedra het van die bestelling wat op 11 September 2012 deur Mnr Shawn Pretorius in die bedrag van R3 966 138-00 in die naam van Vectobiz geplaas is nie.

[26] Hy het wel geweet dat Mnr Shawn Pretorius dalk ‘n bestelling in die naam van Vectobiz kon plaas, maar hy gee ‘n agtergrond tot hierdie bestelling wat direk teenstrydig is met die getuienis van Mnr Mann en Mnr Reichel.Hy getuig dat gedurende laat Augustus of vroeg September 2012 hy ‘n oproep van Mnr Mann ontvang het. Mnr Mann het Mnr Liebenberg meegedeel dat hy ‘n gesprek met Mnr Reichel gehad het en dat Mnr Reichel gesê het dat Mnr Pretorius in die proses is om krediet by Monsanto te kry en hulle wil, klaarblyklik voor die aansoek goedgekeur is, vir hom saad reserveer en of hulle Vectobiz kan gebruik om solank die saad te reserveer. Sodra sy rekening goedgekeur is sal die saad oorgedra word na Mnr Pretorius se rekening. Mnr Liebenberg het nie ‘n probleem met die rëeling gehad nie, aangesien hy geweet het dat geen aanspreeklikheid voortvloei uit die reservering van die saad nie, maar het spesifiek gesê dat die saad op Mnr Pretorius se rekening gelewer moet word sodra sy rekening goedgekeur is. Niemand het hom laat weet dat die bestelling van 11 September 2012 geplaas is en dat die saad gelewer is aan Mnr Pretorius nie. Niemand het ook gesê dat daar moontlik probleme met die goedkeuring van die krediet sou wees nie of dat Mnr Pretorius se tjeks by meerdere geleenthede gedishonoreer is nie. Dit is belangrik om daarop te let dat nie Mnr Reichel of Mnr Mann getuig het dat Mnr Liebenberg op enige stadium ingelig is oor Mnr Pretorius se wanbetalings en swak krediet rekord by Eiser nie. Mnr Liebenberg getuig dat, as hy bewus was van die stand van sake, sou hy nie toestemming gegee het dat die saad op Vectobiz se naam gereserveer word nie.

[27] Op 25 September 2012, dus na Mnr Pretorius se bestelling onder bestelno 35667, word ‘n bestelling geplaas op Vectobiz se naam en deur Mnre Mann en Liebenberg geteken vir R1 084 490-00. Op hierdie bestelling word dit aangedui dat die bestelling alle vorige bestellings vervang. Die rede waarom die bestelling aangepas is, was omdat die plan om op staatsgronde in die Brits omgewing aan te plant nie gerealiseer het nie. Hierdie bestelling is ook eventueel gekanselleer omdat die grond waarop die saad geplant sou word nie beskikbaar geword het nie. Hy getuig dat hy nooit deur Mnr Mann ingelig is van Mnr Pretorius se bestelling of dat Vectobiz nou onder Mnr Reichel val nie. Die feit dat hierdie bestelling geplaas is weerspreek Mnr Reichel se getuienis dat Mnr Pretorius Vectobiz se boerdery sou hanteer. Dit is ook eers op hierdie stadium wat die bestelling van 20 Augustus 2012 vir R5 304 798-10 gekanselleer is, dus kon Mnr Pretorius nie voor hierdie datum die groter bestelling gehad het wat die verskuiwing van Vectobiz na Mnr Reichel sou regeverdig nie.

[28] Mnr Liebenberg getuig dat Vectobiz nooit engie huurkontrakte met Mnr Pretorius aangegaan het om op sy grond in die Lichtenburg area te boer nie.

[29] Volgens die aandeelhouersooreenkoms het Mnr Pretorius nooit verteenwoordigheidsbevoegdheid namens Vectobiz gehad nie. Mnr Liebenberg het ook daarvolgens nie die bevoegdheid gehad om Mnr Pretorius te magtig om Vectobiz te bind nie.

[30] Mnr Liebemberg was nie bewus dat enige saad op Vectobiz se naam aan Mnr Pretorius gelewer is nie. Hy het vir die eerste keer hiervan bewus geword gedurende Maart/April 2013. Hy het bewus geword van die rekening toe Mnr Mann hom skakel en sê dat daar nog bedrae uitstaande is ten aansien van Ramiscene en Sceniblox en dat hulle dit moet bespreek. Hy het dit nie verstaan nie, maar het ingestem om dit by Mnr Andrew Maher wat ook by Monsanto in diens was, te bespreek. Volgens hom was die streeksbestuurder Mnr Engelbrecht, Mnr Mann, Mnr Maher, hyself en ‘n finansiële persoon van Monsanto wat hy nie kon identifiseer nie, teenwoordig by die vergadering. Hy het sy rekonsiliasiestate van Ramiscene en Sceniblox by hom gehad en is dit bespreek. Aan die einde van die gesprek is gesê dat daar ook nog Vectobiz se rekening was. Hy was stomsgeslaan aangesien, volgens hom al Vectobiz se bestellings gekanselleer was. Hy is toe meegedeel dat daar ongeveer R3 miljoen uitstaande was. Hy het gesê dat dit nie sy saad is nie, maar Mnr Pretorius se saad. Mnr Maher het toe aangedui dat dit niks met hom te doen het nie. Die vergadering het klaarblyklik geen oplossing gebring nie en Mnr Liebenberg getuig dat hy uiters onsteld daar weg is.

[31] Die Profert groep het nog in 2013 met Monsanto besigheid gedoen, maar daarna glad nie as gevolg van die feit dat Vecobiz en Mnr Liebenberg toe aansgespreek is vir die uitstaande rekening ten aansien van die saad gelewer aan Mnr Pretorius. Mnr Mann en die nuwe streeksbestuurder het Mnr Liebenberg in 2014 besoek en wou besigheid met hom doen maar Mnr Liebenberg het as gevolg van die insident geweier om verder met Monsanto besigheid te doen.

[32] Tydens kruisverhoor het Mnr Barrie namens die eiser baie klem gelê op die verhouding wat Mnr Pretorius met die Profert groep gehad het. Die doel daarmee was klaarblyklik om ‘n basis vir die bewys van oënskynlike magtiging te lê. Mnr Liebenberg het egter volhard met sy weergawe dat niemand behalwe hy bestellings kon plaas en bekragtig nie. Daar is ook getuienis gelei dat Mnr Opperman, Mnr Pretorius en Mnr Liebenberg direkteure van Vectobiz was, maar beide Mnr Liebenberg en Mnr Mann het getuig dat alle bestellings deur Mnr Liebenberg hanteer is en niemand anders nie. Daar kan dus nie sprake wees dat Monsanto onder die indruk was dat Mnr Pretorius in sy hoedanigheid as direkteur bestellings kan plaas nie, hierdie saak staan of val volgens my by die vraag of of die vergadering in Potchefstroom plaasgevind het en of magtiging gegee is dat Mnr Pretorius bestellings kon plaas.

[33] Daar word in kruisverhoor aan Mnr Liebenberg gestel dat sy vorige prokureurs van rekord by ‘n voorverhoor erken het dat Vectobiz die saad by Monsanto bestel het en aan Vectobiz gelewer is. Hy volhard dat dit nie korrek is nie en dat die prokureurs nie met hom gekonsulteer het ten aansien van die antwoorde nie. Die getuienis van al die getuies van die eiser was dat die saad bestel is deur Mnr Pretorius, weliswaar in die naam van Vectobiz. Ek aanvaar Mnr Liebenberg se getuienis dat die erkenning nooit deur hom gemaak is nie.

[34] Dit blyk dat 3 betalings van R500 000-00 elk gemaak is ten aansien van die aanvanklike verskuldigde bedrag en dit het die eisbedrag verminder tot die bedrag in die pleitstukke. Volgens Mnr Liebenberg is die betalings deur Mnr Pretorius in die naam van Shawn Pretorius Beesboerdery Bk gedoen. Dit is nie deur die Monsanto betwis nie. Hy getuig dat Vectobiz se direkteur, Mnr Opperman en prokureur Sias van Rensburg Profert se prokureur in opdrag van Mnr van der Walt gepoog om die slegte skuld van Vectobiz se naam af te kry, dit verduidelik volgens hom die korrespondensie en verwysings na Vectobiz gedurende hierdie tyd en die pogings van Vectobiz se verteenwoordigers om die saak op te los. Dit het die getuienis in hierdie saak afgesluit.


DIE TOEPASLIKE REGSBEGINSELS

[35] Dit is gemeensaak dat die eiser die bewyslas dra. Dit is ook gemeensaak dat Vectobiz aansoek om krediet by die eiser gedoen het en dat krediet toegestaan is. Die vraag is of die eiser bewys het dat Mnr Shawn Pretorius die nodige volmag hetsy uitdruklik of oënskynlik gehad het om Vectobiz te bind.

[36] Die aandeelhouers stel dit duidelik dat besluite deur ‘n meerderheid

van direkteure geneem moet word. Dit bepaal ook dat Mnr. Liebenberg die bestuur behartig onder toesig en beheer van die direksie. Daar was geen getuiens gelei dat ‘n meerderheid van direkteure magtiging verleen het dat Mnr. Pretorius bestellings kon plaas nie. Mnr Liebenberg kon dus nie volmag verleen nie en gevolglik moet Monsanto oënskynlik volgmag bewys.

[37] Wanneer bepaal moet word of eiser daarin geslaag het om die bestaan van oënskynlike volmag te bewys moet noodwendigerwys na die weergawes van die eiser en verweerder gekyk word. Eerstens moet bepaal word of eiser oënskynlike volmag op ‘n oorwig van waarskynlikhede bewys het. In hierdie geval is daar twee direk teenstrydige weergawes. Aan die een kant het Mnr Mann en Mnr Reichel getuig dat die volmag vir Mnr Pretorius om bestellings namens Vectobiz te plaas by die vergadering wat na bewering in Potchefstroom plaasgevind het gegee is. Aan die ander kant het Mnr Liebenberg ontken dat daar enigsins so ‘n vergadering was en dat hy op enige stadium volmag verleen het dat Mnr Pretorius bestellings kon plaas. Die saak staan of val by die vraag of die Eiser se getuienis aanvaar kan word dat die vergadering in Potchefstroom plaasgevind het en dat Mnr. Liebenberg by die vergadering magtiging verleen het.

[38] Mnr Mann getuig dat hy sy beste kliënt kwyt is as gevolg van Mnr Pretorius se groter bestelling by Vectobiz. Hierdie getuienis kan nie waar wees nie, want op die stadium toe Mnr Pretorius sy bestelling plaas was daar ‘n bestaande bestelling van Mnr Liebenberg vir Vectobiz van meer as R5 miljoen teenoor Mnr Pretorius se bestelling van net meer as R3 miljoen. Die bestellings van Mnr Liebenberg namens Vectobiz is eers na die beweerde vergadering in Potchefstroom gekanselleer soos reeds hierbo uiteengesit. Gevolglik moet Mnr Mann se getuienis in hierdie verband verwerp word.

[39] Mnr Mann en Mnr Reichel se weergawes verskil ten aansien van wat presies by die beweerde vergadering in Potchefstroom plaasgevind het. Volgens Mnr Mann is net gesê dat Mnr Pretorius bestellings op Vectobiz se naam kan plaas, terwyl Mnr Reichel sê dat Mnr Pretorius voortaan Vectobiz se boerdery sou behartig. Die getuienis van Mnr Reichel en Mnr Mann word weerspreek deur die feite. Mnr. Mann en Mnr. Reichel verskil ook ten aansien van wie by die vergadering teenwoordig was. Die eiser se getuienis gee dus botsende weergawes ten aansien van wat in Potchefstroom gebeur het en wie daar was. Dit veroorsaak dat ek die Eiser se getuienis ten aansien van die vergadering in Potchefstroom moet verwerp.

[40] In die lig van al die getuienis vind ek dit onwaarskynlik dat Mnr Liebenberg sonder meer en sonder behoorlike bespreking sou toestem dat Mnr Pretorius voortaan bestellings namens Vectobiz sou kon plaas. Dit was direk teenstrydig met die gebruik wat deur die jare gegeld het en die onbetwiste getuienis dat ten spyte van die feit dat daar verskeie persone betrokke was in die verskillende entiteite wat deel gevorm het van die Profert groep, slegs Mnr Liebenberg bestellings kon plaas. Dit is ook teenstrydig met wat beide Mnr Mann en Mnr Liebenberg getuig het oor Mnr van der Walt se beheer oor die groep se aktiwiteite. Ek kan nie sien dat Mnr Liebenberg sondermeer magtiging aan Mnr Pretorius sou gee sonder Mnr van der Walt se goedkeuring nie, veral in die lig daarvan hy volgens die aandeelhouers ooreenkoms nie die magtiging gehad het om dit te doen nie.

[41] Op die bestelling in Vectobiz se naam wat deur Mnr Shawn Pretorius geteken is kom die woorde “Shawn se eie lande” voor. Dit blyk dus duidelik dat hierdie saad nie bedoel was vir Vectobiz se boerdery nie en was Mnr Reichel duidelik bewus daarvan. Mnr Reichel kon ook nie in sy getuienis ‘n bevredigende verduideliking vir die aantekening gee nie.

[42] Wat die waarskynlikhede verder in die guns van die verweerder laat kantel is die feit dat nie Mnr Mann of Mnr Reichel ooit Mnr Liebenberg ingelig het oor Mnr Pretorius se swak betalingsrekord nie. Mens sou verwag dat in die lig van die jarelange verhouding met die Profert groep ten minste Mnr Mann oop kaarte sou speel met Mnr Liebenberg.

[43] Ek vind Mnr Liebenberg se weergawe meer waarskynlik naamlik dat hy gevra is om saad te laat reserveer onder Vectobiz se naam. Hy het geweet dat dit nie bindend is nie en die feit dat Mnr Pretorius ‘n direkteur van Vectobiz was en bande met die Profert groep gehad het verduidelik waarom hy bereid was om in te stem dat die saad gereserveer word.

[44] Die blote feit dat Mnr Pretorius bande met die groep gehad het en aandele van 49% in Vectobiz gehou het beteken nie dat hy daarom gemagtig of oënskynlik gemagtig was om bestellings namens Vectobiz te plaas nie. Daar is geen getuienis voor my gelei wat sodanige afleiding sou regverdig nie. Dit is ook teenstrydig met die terme van die aandeelhouersooreenkoms.

[45] Na my mening het die eiser nie geslaag om oënskynlike volmag te bewys nie. Die vereistes vir oënskynlike volmag is in ‘n aantal sake van die Hoogste Hof van Appèl uiteengesit . In die lig egter dat ek die weergawe van die eiser verwerp is dit na my mening nie nodig om met die vereistes te handel nie. Ek bevind dus dat die vergadering in Potchefstroom nie plaas gevind het nie en dat geen voorstelling gemaak is deur Mnr Liebenberg dat volmag verleen is aan Mnr Pretorius om bestellings te plaas nie.

[46] Ek is van oordeel dat ek hierdie saak op die waarskynlikhede moet beslis . In die lig van die feite heirbo uiteengesit moet die eiser se weergawe verwerp word as onwaarskynlik. Die eiser se getuies het mekaar weerspreek ten aansien van wat in Potchefstroom gebeur het, en die feite soos openbaar in die bestellings weerspreek die eiser se weergawe. Ek bevind dus dat geen vergadering soos deur eiser se getuienis beweer in Potchefstroom plaasgevind het nie. Aan die ander kant is Mnr Liebenberg se weergawe meer waarskynlik en het hy nooit van sy weergawe afgewyk nie. Ek aanvaar sy getuienis dat daar nie ‘n vergadering in Potchefstroom was nie.

[47] In die lig van my bevinding is dit nie vir my nodig om met die borgskap te handel nie.


GEVOLGTREKKING:

[48] In die lig van die feite en die bevindings waartoe ek geraak het moet die eiser se eis van die hand gewys word.

[49] In die lig van voormelde maak ek die volgende bevel:

49.1 Die eiser se eis teen die verweerders word van die hand gewys; en

49.2 Die eiser word gelas om die verweerders se koste te betaal wat insluit die koste van twee advokate.


____________________

R G TOLMAY

REGTER VAN DIE HOë HOF


DATUM VAN VERHOOR: 26 MEI – 1 JUNIE 2016

DATUM VAN UITSPRAAK: 18 AUGUSTUS 2016

PROKUREURS VIR EISER: SMIT SEWGOOLAM INC

ADVOKAAT VIR EISERS: ADV BARRIE (SC)

PROKUREURS VIR VERWEERDERS: WILLEM COETZEE ATTORNEYS

ADVOKAAT VIR VERWEERDERS: ADV M VAN DER MERWE (SC)

ADV DE BEER