South Africa: North West High Court, Mafikeng

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: North West High Court, Mafikeng >>
2007 >>
[2007] ZANWHC 1
| Noteup
| LawCite
Lichtenburg Graan Trustrees (Edms) Bpk v PJ & ILM Boerdery (75/04) [2007] ZANWHC 1 (15 January 2007)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(BOPHUTHATSWANA PROVINSIALE AFDELING)
SAAKNOMMER: 75/04
In die saak tussen:
LICHTENBURG GRAAN TRUSTEES APPLIKANT
en
PJ & ILM BOERDERY RESPONDENT
UITSPRAAK
LANDMAN R:
[1] Lichtenburg Graan Trustees (Edms) Bpk (“LGT”) het op 22 Januarie 2004 vir die voorlopige likwidasie van PJ en ILM Boerdery (Edms) Bpk (die respondent) aansoek gedoen. Die aansoek het voor Mokgoatlheng WR gedien. Hy het die aangeleentheid na getuienis verwys. Ek het die getuienis aangehoor. In die loop hiervan het LGT aansoek gedoen-
(a) vir die uitbreiding van die geskilpunte wat na getuienis verwys is;
(b) vir inspeksie van die respondent se bates (“Reel 36(6) aansoek”); en
(c) om verdere blootlegging.
[2] Op sy beurt het die respondent ʼn tussentydse aansoek gebring om LGT te verhoed om met die likwidasie-aansoek voort te gaan hangende die afhandeling van twee aksies. Die aksies is naamlik die askies wat LGT teen die respondent onder saaknommer 1155/06 ingestel het en LGT se aksie teen Thaba Phephu Trust (“TPT”) (saaknommer 716/03). Die aansoek is van die hand gewys. Daarop het die respondent aansoek om verlof om te appelleer gedoen. Ek het hierop uitspraak voorbehou. Die respondent het toe aansoek vir ʼn uitstel hangende ʼn aansoek na die Hoogste Hof van Appèl gedoen. Ek het die aansoek van die hand gewys en aangedui dat ek my redes later sal verskaf.
Die inhoud van hierdie uitspraak
[3] Hierdie uitspraak handel met die volgende aangeleenthede:
(a) is LGT ʼn skuldeiser?
(b) is die skuld opeisbaar of ten minste ʼn voorwaardelike eis?
(c) het die respondent 4000 ton mielies gelewer of steek die respondent die mielies weg?
(d) is die respondent in staat om sy skulde te betaal?
(e) moet ʼn likwidasiebevel toegestaan word en, indien wel, moet dit ʼn voorlopige of ʼn finale bevel wees?
(f) verdere redes vir die inspeksiebevel.
(g) redes vir die weiering van die aansoek om die verrigtinge op te skort.
(h) uitspraak op die aansoek om verlof om te appelleer en
(i) die koste van:
(i) die hoofaansoek en voorbehoue koste.
(ii) die uitbreidingsbevel.
(iii) die inspeksiebevel.
(iv) die weiering van die aansoek om die verrigtinge op te skort.
(v) die aansoek om verlof tot appèl.
(vi) die aansoek om uitstel.
Die hoofaansoek
Geskilpunte
[4] Mokgoatlheng WR het die volgende geskilpunte na getuienis verwys:
“(a) whether or not the applicant is a creditor of the respondent;
(b) whether or not the debt in excess of R5.9 million is due and payable; and
(c) whether or not the respondent did not deliver or is concealing 4000 tons of maize.”
Gedurende die loop van getuienis het ʼn aansoek voor my gedien vir die uitbreiding van die bogemelde geskilpunte. Die aansoek is soos volg toegestaan:
“[5] Derhalwe word die volgende bevel verleen:
1. Die bevel van waarnemende Regter Mokgoatlheng in saaknommer 75/2004, in gevolge waarvan sekere geskilpunte na getuienis verwys is, word uitgebrei om ook in te sluit die vraag of die respondent sy skulde kan betaal.
2. Onderworpe aan die voorskrifte vervat in paragrawe (d) – (g) op bladsye 25 – 26 van Mokgaotlheng WR se voormelde bevel word die partye toegelaat om getuienis aan te bied om aan te toon of die respondent op die stadium toe likwidasie geloods is in staat was om sy skulde te kan betaal al dan nie soos beoog in Artikel 345 gelees met artikel 344(f) van die Maatskappywet 61 van 1973.
3. Onderworpe aan para 2 hierbo word ook toestemming verleen om mondelinge getuienis ten opsigte van die huidige vermoë van die respondent om sy skuld te betaal, verleen.”
Die reg
[5] Die bewyslas berus op LGT om te bewys dat dit ʼn skuldeiser van die respondent is. Sien Commonwealth Shippers Ltd v Maryland Properties (Pty) Ltd 1978 (1) SA 70 (D). Dit is voldoende indien LGT kan bewys dat hy ʼn voorwaardelike skuldeiser is. So ʼn skuldeiser volgens Meskin Henochsberg on the Companies Act Vol 1 bls 7 losblad (uitgawe 22) is:
“one which by reason of an existing vinculum juris between the creditor and the company, may become an enforceable liability on the happening of some future event.”
[6] Likwidasie verrigtinge is nie ʼn gepaste proses vir die invordering van ‘n skuld (die bestaan waarvan bona fide en op redelike gronde betwis word) nie. Sien Badenhorst v Northern Construction Enterprises (Pty) Ltd 1956 (2) SA 346 (T) op 347–348. Die bestaan van hierdie reël is in Kalil v Decotex (Pty) Ltd 1988 (1) SA 943 (A) op 980 erken.
[7] Mnr Van der Merwe het tereg betoog dat die toets en die bewyslas by ʼn likiwidasie aansoek soos volg opgesom kan word:
(a) Die onus is op die applikant om prima facie die bestaan van ʼn skuld te bewys.
(b) Slaag die applikant daarin om die bestaan van die skuld prima facie te bewys moet die respondent aantoon dat daardie skuld bona fide en op redelike gronde betwis word.
Sien Meyer N.O v Bree Holdings (Pty) Ltd 1972 (3) SA 353 (T) op 354 – 355 en Hülse-Reutter v HEG Consulting Enterprises (Pty) Ltd 1998 (2) SA 208 (C).
[8] Meskin, met verwysing na gesag, sê in hierdie verband:
“It is admitted that, where this onus is discharged, the application should fail even if it appears that the company is nevertheless unable to pay its debts.”
Sien Henochsberg, Vol 1 694(1). Sien ook Mann v Goldstein 1968 (2) All ER 769 (Ch) op 773 – 775.
[9] Meskin gaan voort en doen aan die hand dat:
“where the debt is disputed and hence the Applicant’s locus standi as a creditor, the application will be dismissed (if the dispute is bona fide and on reasonable grounds), not because the Applicant lacks locus standi, but because winding-up proceedings are inappropriate for the purpose of determining whether or not he does.”
Sien Vol 1 bls 694(1).
LGT ʼn skuldeiser?
[10] Is LGT ʼn skuldeiser en, indien wel, het die respondent prima facie ʼn verweer daarteen? Om die vraag te beantwoord moet die skriftelike ooreenkoms wat LGT en die respondent op 15 Oktober 2002 aangegaan het, tot die mate wat die partye se uitlegte daarvan verskil, ontleed word.
[11] Voordat die ooreenkoms ontleed word is dit egter raadsaam om die standpunte van die partye duidelik uit te stip.
[12] Mnr B Roux SC (saam met mnr J H F Pistor SC) wat namens LGT verskyn het, (Mnr De Bruin SC het aanvanklik die span gelei) het dit so gestel dat:
“Die Applikant beweer dat die Applikant ʼn skuldeiser is van die Respondent op grond daarvan dat die Applikant aan die Respondent ʼn lening gemaak het, wat op 14 Junie 2006 ʼn bedrag van R8 587 958.96 daarstel (moratore rente tot op daardie datum ingesluit), soos meer volledig hieronder uiteengesit. Sou moratore rente tot 14 November 2006 bygereken word, stel dit ʼn verdere bedrag van ongeveer R550 000.00 daar, wat die skuld bring na ongeveer R9 miljoen. (Daar word later gehandel met die mees gunstige benadering en word dit in verrekening gebring.) Die presiese bedrag is in ʼn groot mate irrelevant aangesien die respondent ʼn onvermoë het om selfs die helfte daarvan te betaal indien al sy eiendom gerealiseer word.”
[13] Mnr Van der Merwe (saam met mnr Els), namens die respondent, doen op sy beurt aan die hand dat:
“Die Applikant se verpligtinge in terme van die ooreenkoms is om die bedrae beskikbaar te stel wat die Respondent nodig gehad het om die oes te verbou. In ruil daarvoor en as teenprestasie vir die Applikant se prestasie moet die Respondent sy volle oes òf aan die Applikant lewer, òf aan een van die Applikant se goedgekeurde kopers lewer.”
en
“Die bovermelde aspekte omlyn mooi wat presies is die somtotaal van die boer se verpligting. Sy verpligting is om sy totale oes in te lewer te behoewe van die goedgekeurde koper waarmee hy ʼn kontrak moes sluit, op aandrang van die Applikant natuurlik.”
en
“Slegs as ʼn boer bedrog pleeg en byvoorbeeld ʼn gedeelte van sy oes steel en nie inlewer nie, dan kan daar denkbaar geargumenteer word dat die boer nie sy kontraktuele verpligtinge nagekom het nie, deurdat hy nie die totaal van sy oes gelewer het nie. Die kontrakbreuk waarop die Applikant hom kan beroep is die boer se nalate om sy volle oes in te lewer.”
Die ooreenkoms
[14] Die ooreenkoms bestaan uit die volgende dele naamlik:
Bylaag A, Die kontrakteursooreenkoms en huurooreenkoms (bls 180 van Bundel 6 vol 1);
Bylaag B, Die standaard terme en voorwaardes;
Bylaag C, Die produksie-ooreenkoms, wat bestaan uit;
9.4.2.1 Deel 1 (die huurooreenkoms):
9.4.2.2 Deel 2 (die kontrakteursooreenkoms);
Bylaag D, Die bestuursooreenkoms;
Bylaag E, wat sekere administratiewe aangeleenthede reguleer.
Die ooreenkoms bepaal dat die verskillende gedeeltes en die aansoek om by die skema aan te sluit saamgelees moet word.
[15] Mnr D J Kruger, wat betrokke was by die ontstaan van LGT, het verduidelik waarom die skema of onderneming in die lewe geroep is. LGT was bewus van die behoefte van veral saaiboere om finansiering te bekom. LGT het dit ten doel gestel om aan die behoefte te voldoen en om daaruit ʼn wins te maak. Die wins sou bestaan uit:
(a) ʼn administrasiefooi van 1.5% (huidiglik 2%) op die gewaarborgde versekerde bedrae van die oes;
(b) 1.5% van die aankope van insette wat die boer benodig. Insetverskaffers was bereid om laasgenoemde te betaal aangesien hulle normaalweg sou moes wag totdat die oeste afgehaal is voordat hulle betaal sou word. LGT se skema het verskaffers die voordeel van vroeë betaling aangebied; en
(c) LGT sou ook ʼn wins maak uit kommissies betaalbaar vir verpligte versekering.
[16] Die skema is geskoei op kollektiewebedinging. Hierdeur sou die beste pryse en diens van Standard Bank en die insetverskaffers verkry word. Die boer sou by die bank aansoek doen om oortrokke fasiliteite. Die oortrokke lening sou deur LGT en die boer gesamentlik bestuur word. Dit sou vir inset benodigdhede of insetkoste, soos in die ooreenkoms omskryf, aangewend word.
[17] ʼn Kontrole meganisme is daar gestel. LGT en die boer se handtekening was benodig om die oortrokke fasiliteite te bestuur. Bylaag “C” (die produksie ooreenkoms) stel dit so:
“INLEIDING EN DOEL
Die partye tot hierdie ooreenkoms wil met mekaar saamwerk om ʼn geïntegreerde risikobestuurstelsel daar te stel ingevolge waarvan LGT sal optree as huurder, prinsipaal, bestuurder en administreerder om mielies, sonneblom, koring, graansorghum en soja (na gelang van die geval) te bekom. DIE VERHUURDER sal optree as verhuurder van die plaas of die lande, en ook as boer en kontrakteur om die oes te verbou.
Hierdie ooreenkoms het ten doel om die kontrakspartye in staat te stel om optimaal en tot voordeel van beide kontrakspartye mielies, sonneblom, koring, graansorghum en soja (na gelang van die geval) te verbou, te bekom, te verkoop en alle ander aksies wat daarmee verband hou (insluitende sekere administratiewe, risiko sowel as finansiële aksies) na te kom en uit te voer. Daarom is dit wesentlik dat die eiendomsreg van die oes ten gunste van LGT bekom moet word om laasgenoemde in staat te stel om die kontrakspartye se regte en verpligting te beskerm en uit te voer, gebruik te maak van kollektiewe bedinging, en gunstige koerse vir finansiering en kredietvoorsiening te bekom.”
Dit kom voor dat soms sou LGT self die geld vir insetkoste voorskiet en nie die bank nie.
[18] LGT, waarskynlik om homself te beskerm, het pogings aangewend om eienaarskap van die gewasse en die oeste te bekom. Of die maatreëls doeltreffend was verg nie ondersoek nie omdat die respondent erken het dat die graan aan LGT behoort totdat dat dit aan LGT of ʼn goedgekeurde koper gelewer word.
[19] LGT het die lande van die boer “gehuur”. Die boer is aangestel as die “kontrakteur” om die gewasse te verbou.
[20] Klousule 7 van Bylaag “C” bepaal dat die kontrakteur sal:
“7.1 Boerderybedrywighede volgens aanvaarde landbou-kundige maatstawwe of standaarde op die grond verrig, tot die beste van sy vermoë, om die daarstelling van die oes en gewasse te verwesentlik;
7.2 Verantwoordelik wees vir die totale verbouing van die gewasse binne die termyn van hierdie ooreenkoms, die gewas sowel as alle insetmateriaal en roumateriale te berg, te beskerm en aan te wend en die grond tydig voor te berei. DIE KONTRAKTEUR sal alle arbeid, masjinerie, toerusting, brandstof, buitekontrakteurs, produksie-middele en kundigheid wat nodig is om die gewasse aan te plant, te onderhou en te oes, op eie koste voorsien en die oes vestig in korrek voorbereide grond;
7.3 Aangeplante grond skoon te hou en voldoende onkruidbestryding en bespuiting, skoffel van lande (en op ander wyses) doen, plaagbeheer toepas en tydig die gewasse/oes op eie koste aan LGT of sy genomineerde aflewer. Verder sal DIE KONTRAKTEUR/LGT of sy genomineerde, toelaat om die kontraksteursbedrywig-hede van tyd tot tyd te monitor, aanbevelings te maak en voorskrifte uit te reik. DIE KONTRAKTEUR sal ook hoegenaamd nie die oes vervreem of aan enige ander party enige voorstellings maak dat die oes (welke die eiendom van LGT is) enigsins aan DIE KONTRAKTEUR behoort of dat hy regte daartoe het nie. DIE KONTRAKTEUR sal alle samewerking verleen om LGT in staat te stel om die administrasie en bestuur soos in die Bestuursooreenkoms bepaal, na te kom;
7.4 DIE KONTRAKTEUR sal in besonder enige skade of verlies, abnormale toestande of gebeure wat die gewasse/oes affekteer onmiddellik aan LGT rapporteer per skriftelike insidentverslag.”
Die boer is verantwoordelik vir die insetkoste/produksiekoste vir die verbouing van die gewasse. Sien klousule 6.4 van die verhurings en kontrakteur se ooreenkoms wat met die omskrywing van produksiekoste in die standaard-terme en voorwaardes saamgelees moet word.
[21] Klousule 6.4 lees soos volg:
“DIE KONTRAKTEUR sal die lening by LGT gebruik om die insetkostes en produksiekostes te verskaf ooreenkomstig die hoeveelhede en vir die waardes soos aangedui in bylaes “E3” en “E7”. LGT sal die reg hê om, in samewerking met DIE KONTRAKTEUR en waartoe DIE KONTRAKTEUR hom ook bereid verklaar, finansiering by ʼn goedgekeurde handelsbank te bekom teen markverwante koerse en betalingsooreenkomste met verskaffers te beding, en die betaling daarvan te bestuur en gemelde finansiering sowel as die kostes en rente daaraan verbonde, in aanmerking te bring en af te trek van die uiteindelike inkomste wat DIE KONTRAKTEUR sal ontvang, en wel op die basis soos in bylaag “E7” en soos in hierdie ooreenkoms uiteengesit. DIE KONTRAKTEUR sal aanspreeklik wees vir enige werklike kostes wat die ooreengekome kostes oorskry en dit self betaal. LGT sal ʼn bestuursrekening vir DIE KONTRAKTEUR daarstel en bestuur, maar dit word ooreengekom dat DIE KONTRAKTEUR se handtekening egter as mede-tekenmagtigde benodig sal word op enige tjeks of enige rekwissie die handtekening van die Kontrakteur sal benodig vir die maak van enige uitbetalings daarteen, die uitreiking van enige tjeks of enige elektroniese oorplasings teen hierdie rekening. DIE KONTRAKTEUR magtig ook hiermee LGT om, soos en wanneer betalings moet geskied, voorkeur te verleen aan betaling van bankkostes, rente van die fasiliteit in LGT se naam, sessies ontvangs, verskansingskostes,versekeringspremies,administrasiefooi en skriftelike ondernemings, alvorens enige betalings aan DIE KONTRAKTEUR self gemaak sal word.”
Produksiekoste word in die ooreenkoms soos volg omskryf:
“Die insetkostes vir die verkryging van sekere produksiemiddele, (beperk tot saad, kunsmis, onkruid-en insekdoder, versekeringspremies van insetversekering, koste van finansiering, rente op lening op oortrokke fasiliteite vir insetkostes, en verskansingskostes) plus BTW.”
Die ooreenkoms maak voorsiening vir ʼn lening aan die boer om die insetkoste (soos omskryf) te betaal. Ander insetkoste, bv arbeid, is ook vir die rekening van die boer en word nie deur middel van ʼn lening betaal nie.
[22] Die lening word gebruik om die insetkoste te betaal. Klousule 4.2 van Bylaag “D” lees volg:
“Oorbetaling van insetkoste soos bepaal en soos wat redelikerswys nodig mag wees om die opbrengs/oes te bewerkstellig (en op die tye en of op die wyses soos voorsien in die ooreenkoms wat hierdie bestuurs-ooreenkoms voorafgaan) aan te vra en te bekom.”
[23] Bylaag “E7” bepaal wanneer of onder watter omstandighede die lening uitbetaal word. Dit lees soos volg:
“A – Datum Gewysig
B – Hektare onder produksie – H/A – 45.13
B1 – Versekerde tonne (LGO) – T/Ha – 1.40
B2 – Koëfisënt van Variasie (KV) x......y% - 0
B3 – Verpligte bybetaling - % - 40
C – LGO x (100 – B3) % Gewaarborgde tonne (Gelykgebreek) – T/Ha – 0.840
D – Minimum Versekerde Prys/Ton BTW uitgesluit – R – R2.800
E – B x C x D (Versekerde waarde) BTW uitgesluit – R – R106 146
F – Verskansde Prys/Ton – BTW uitgesluit – R _____________
G – B x C x F (Verskansde waarde) BTW uitgesluit – R____________
Voordat enige lenings beskikbaar word moet die produksiekontrak en alle dokumentasie volledig en onderteken wees en omvattende oesversekering tot by gelykbreek in plek wees.
Die begrote leningswaarde is R____________106146
In die praktyk geld ‘n limiet op die kontrakteurslenings. Onderhewig aan goedkeuring groei die limiet stapsgewys na die begrote leningswaarde, as volg:
● Aanvanklike limiet (LO) op die kontrakteurslening
= 20% van die begrote leningswaarde
= R 21229
● Voor die plantverslag en na verskansing of vooruitkontrakte is die limiet:
= (Kleinste van D of F) x 40% (VEERTIG PERSENT) vir die jongste datum in bogenoemde tabel
= R___________________
● Na die plantverslag en na verskansing of vooruitkontrakte is die limiet
= (Kleinste van D of F) x 80% (TAGTIG PERSENT) vir die jongste datum in bogenoemde tabel
= R__________________
Die kontrakteurslening maak voorsiening vir die volgende betalings:
a. Premie vir insetversekering en haeldekking = 9.00% van versekerde waarde =R 10890.54
(BTW ingesluit)
b. Administrasiefooi = 2.00% van versekerde waarde (BTW ingesluit) =R 2420.12 c. Groepsreserwe = 5.00% van versekerde waarde (BTW uitgesluit) =R 5307.28
40% (VEERTIG PERSENT) van die kontrakteurslening sal vir primêre bewerkingskoste en insetkostes (beperk tot saad, diesel, kunsmis, onkruid- en insekdoder) beskikbaar wees indien verskansing (deur bemiddeling van slegs LGT) en/of ‘n goedgekeurde vooruit-koopkontrak in plek is. Andersins sal slegs 20% (TWINTIG PERSENT) beskikbaar wees vir primêre bewerkingskoste alleen op faktuurbasis. Na indiening en aanvaarding van ʼn behoorlik geverifieerde plant–en opkomsverslag sal die balans van die kontrakteurslening beskikbaar gestel word. (Indien DIE KONTRAKTEUR egter reeds ‘n goedgekeurde vooruitkontrak voorsien het, is hy nie verplig om aan verskansing deel te neem nie);
DIE bydrae tot die groepsreserwe van 5% (VYF PERSENT) wat verwys na alle onversekerde risiko’s wat ontstaan en nie andersins gein word nie (soos omskryf in “E17”), sal op ‘n proporsionele basis aangewend word tot die totaal van alle produksiekontrakte deur LGT vir die betrokke produksiejaar aangegaan;
(As deel van LGT se strewe na goeie dienslewerign is ‘n vooruit-koopkontrak {fisiese leweringskontrak} met verskeie opsies vir DIE KONTRAKTEUR beskikbaar. Die aangaan hiervan is egter na die KONTRAKTEUR se eie keuse. Die KONTRAKTEUR moet wel ʼn vooruit-koopkontrak vir nie minder is as die kontrakteurslening wat hy wil opneem, aangaan en dit aan LGT vir goedkeuring voorlê, of ‘n sogenaamde “put” – opsie moet DIE KONTRAKTEUR verder, ten aansien van mielies, ʼn deur- LGT- goedgekeurde vooruit-koopkontrak aangaan nie later nie as vier maande na die plant- en opkomsdatum, en ten aansien van sonneblom nie later nie as drie maande na die opkomsdatum {soos in die plant- en opkomsverslag bepaal}. Indien DIE KONTRAKTEUR nie sodanig optree nie, sal LGT self sodanige vooruit-koopkontrak aangaan waarvoor hierdie dokument en ondertekening daarvan deur DIE KONTRAKTEUR ook die nodige magtiging is.)
DIE KONTRAKTEUR stem hiermee in dat LGT sessie mag lewer van alle regte ingevolge die huur/produksiekontrak ten gunste van ‘n finansieringsinstelling om finansiering te bekom;
1. Met verwysing na die tabelle hieronder, het die kontrakteurslening dus die volgende toedeling: X + Y, of X + Z.
X:
-
Administratiewe fooi
2%
Bydrae tot groepreserwe
5%
Bedrag begroot vir versekerings-
premies, rente vir krediet en
finansiering
±13%
Y:
-
Bedrag beskikbaar vir
produksie-/insetmiddele
Waar vooruit-kontrak of
veskansing in plek is
40%
Met vooraf
goedkeuring
Balans beskikbaar vir
produksie-/insetmiddele
by aanvaarding van
plant-en opkomsverslag
±40%
Met vooraf
goedkeuring
OF
Z:
-
Bedrag beskikbaar vir
Primêre bewerkingskoste
waar produksie-kontrak
en versekering in plek is
20%
Met vooraf
Goedkeuring
Bedrag beskikbaar vir
produksie-/insetmiddele
by aanvaarding van
plant- en opkomsverslag
±60%
Met vooraf
Goedkeuring
[24] Klousule 6 van Bylaag “D” handel met die eiendomsreg van die oes en die aanspreeklikheid vir laste. Dit lees soos volg:
“Die eiendomsreg van die oes en die fondse welke LGT by wyse van finansiering in LGT se naam bekom het, setel deurentyd in LGT en nie in DIE KONTRAKTEUR nie. LGT is nie aanspreeklik vir enige laste wat DIE KONTRAKTEUR self aangegaan het of wat LGT as gemagtigde namens DIE KONTRAKTEUR aangegaan het nie.”
[25] Die voordeel vir die boer is dat hy finansiering vir sy insetkoste ontvang asook die moontlikheid van huurgeld vir die gebruik van sy lande en die moontlikheid van ʼn wins indien die inkomste uit die oes die insetkoste oorskry – dws die sogenaamde bo-produksie. Klousule 3.3 van Bylaag “B” lees:
“Die huurbedrag betaalbaar deur DIE HUURDER aan DIE VERHUURDER vir die grond sal ʼn bedrag wees gelykstaande aan R200.00 (TWEEHONDERD RAND) per hektaar plus BTW daarop per produksiejaar, onderhewig dat daar nie enige huurgelde betaalbaar sal wees as daar geen bo-produksie is nie. DIE KONTRAKTEUR sal geregtig wees op die netto bo-produksieopbrengs van die oes minus (plus) die huurgeld. Hierdie bedrae sal, onderhewig aan klousules 6.3 en 6.9 hiervan, gesamentlik betaalbaar wees op 31 Augustus van die betrokke produksiejaar of die lewerinsdatum van die oes, welke die laaste plaasvind en na inagneming van enige vooruitbetalings, sessies, lenings en nakoming van alle uitstaande verpligting deur DIE VERHUURDER en DIE KONTRAKTEUR teenoor LGT.”
[26] Versekering teen sekere risiko was ʼn baie belangrike deel van die skema. Klousule 8.2 van Bylaag “B” lees:
“LGT en DIE KONTRAKTEUR sal meewerk om genoegsame insetkostesversekering oor die gewasse/oes-opbrengs te bekom welke as deel van die insetkostes geag sal word en in verrekening gebring sal word teen die uiteindelike bedrag wat DIE KONTRAKTEUR ontvang. Beide partye sal toesien dat die bepalings van die versekeringsooreenkoms nie oortree word nie en dat daar geen verhoging in risiko toegelaat sal word wat die regte van die een of ander party mag affekteer nie.”
[27] Net so belangrik was die opbou van ʼn fonds ten opsigte van onversekerde risikos wat inderdaad self ʼn soort van versekering daargestel het. Klousule 9.5 van Bylaag “B” lees:
“Die 5% (VYF PERSENT) aftrekking ten aansien van onversekerde risikos soos waarna verwys word in bylaag “E7” (klousule 4) en soos omskryf in bylaag “E17”, sal deur LGT bestuur word in ʼn gesamentlike groepsreserwe en uitbetaalbaar wees nie later nie as 2 (TWEE) maande na afsluiting van die betrokke produksiejaar. LGT sal geregtig wees om enige onversekerbare risikos wat nie andersins ge-in word nie, teen hierdie heffing af te sit.” (My onderstreping)
[28] Die finale berekening van die boer se huurgeld en vergoeding word gedoen sodra die oes op of voor 31 Augustus gelewer is. Sien klousule 6.9 van Bylaag “B” asook klousules 4.3 van Bylaag “D” wat soos volg lees:
“Verslagdoening en afrekening teen voltooiing van LGT se mandaat aan te vra, te ontvang en te debatteer, maar:
Eiendomsreg van die sowel as eiendomsreg van enige fondse vestig deurentyd in LGT. LGT onderneem om geen ongemagtigde uitbetaling van fondse welke LGT beheer en hanteer te maak tensy dit ooreenstem met die mandaat wat LGT vanaf DIE KONTRAKTEUR hou nie en sal LGT ten alle tye noukeuring die terme van sy mandaat uitvoer. Enige surplusfondse welke LGT namens DIE KONTRAKTEUR oor beskik, sall teen afhandeling van die mandaat deur LGT aan DIE KONTRAKTEUR of sy skriftelike genomineerde oorbetaal word.”
[29] Mnr Van der Merwe voer aan dat die ooreenkoms tussen die partye ʼn gesimuleerde kontrak is en doen aan die hand dat:
29.1 Die werklike doel van die ooreenkoms is dat LGT fondse aan ʼn boer voorsien om ʼn oes mee te vestig. Gevolglik is LGT se verpligtinge om die boer se insetkoste, en ander verwante koste om die oes te vestig, te betaal; en om versekering te hanteer en in te dien.
29.2 Aan die ander kant is dit die boer, of dan wel, die respondent in die onderhawige geval, se verpligting om die oes te vestig en in stand te hou, om die oes te stroop en om die oes aan LGT of aan een van LGT se goedgekeurde kopers te lewer.
29.3 Die boer, soos die respondent in die onderhawige geval, moes sy reg, om betaling van die goedgekeurde koper te ontvang, aan LGT sedeer. Die goedgekeurde koper betaal gevolglik LGT en sodoende word die verpligting afgelos.
29.4 Met die oes word LGT gevolglik vergoed vir die bedrae wat LGT aan die boer voorgeskiet het.
29.5 As die opbrengs van die oes, as gevolg van natuurrampe of ander versekerbare risikos, te klein is om die volle bedrag goed te maak wat LGT ten behoewe van die boer betaal het, dan tree die versekering in en is daar ʼn versekeringseis. Dit is gemenesaak in die onderhawige geval, gebaseer op die getuienis van mnr Corrie Fourie, LGT se versekerings-bestuurder, dat die plig op LGT rus om die versekering behoorlik te administreer. LGT moet die eis indien en namens die boer die eis prosesseer en voortsit.
29.6 As die oes, as gevolg van ʼn swak mielieprys, nie voldoende is om die bedrag goed te maak nie, dan gebruik LGT die opsies wat hy op die boer se rekening aangekoop het by die termynbeurs van die Suid-Afrikaanse Sekuriteitebeurs om vir die swak prys te vergoed.
29.7 As daar dan ondanks die moontlike goedmaak deur versekering en ook ondanks die goedmaak van ʼn vasgestelde prys op die termynbeurs steeds ʼn tekort bestaan, dan word die tekort uit die noodfonds gedelg.
Ekstrinsieke getuienis
[30] Mnr Roux het aangevoer dat insoverre ekstrinsieke getuienis ten opsigte van die ooreenkoms toelaatbaar is, wat hy meen nie die geval is nie, het die getuienis daaromtrent die respondent nie gehelp nie.
[31] Menere Kruger en Venter, wat namens LGT getuig het, het die bestaan van die lening bevestig.
[32] Mnr Lombaard, wat namens die respondent getuig het, het dit duidelik gestel dat die ooreenkoms, soos voorgehou deur LGT, ʼn lening aan die produsent was vir inset-of produksiekoste met die oes as sekuriteit.
[33] Menere Peet Nortje, Gert Els en Johan Else het nie getuig nie. Gevolglik het die respondent versuim om getuienis voor die hof te plaas oor hoe die respondent die ooreenkoms sou verstaan het en wat aanleiding gegee het tot die respondent se begrip van die ooreenkoms. Dit het die gevolg dat stellings wat namens die respondent in kruisverhoor gemaak is, nie verhef kan word tot bewysmateriaal nie. Die versuim van die respondent om die getuienis van Peet Nortje, Gert Els en Johan Else voor te lê, maak ʼn einde aan enige moontlike argument oor die toelaatbaarheid en gevolg van ekstrinsieke getuienis ten aansien van die respondent se begrip van die ooreenkoms.
Gevolgtrekking ten opsigte van die aard van ooreenkoms
[34] Ek is tevrede dat LGT geld aan die respondent geleen en voorgeskiet het. Die respondent ontken nie dat sekere insetkoste deur LGT betaal is nie. Die respondent ontken egter dat dit die vorm van ʼn lening aangeneem het (sekere items word wel bevraagteken). Die standpunt ignoreer die spesifieke bepalings van die ooreenkoms. Dit veronderstel dat LGT, ten einde om rente, administrasiefooie en versekeringskommissie te verdien, bereid was om, as ek dit so mag stel “pa te staan” vir die insetkoste, sodat die respondent ʼn oes kan verbou en indien die prys vir die oeste die insetkoste oorskry, die respondent ʼn wins sou maak. LGT sou nie in die wins deel nie. Maar as die onderneming ʼn verlies maak is dit vir die rekening van LGT, tot die mate dat die 5% heffing vir onversekerde items en versekeringsuitbetalings die verlies nie verminder of uitwis nie.
Dit kom my nie voor dat ʼn sake onderneming so ʼn risiko sou onderneem nie. LGT het inderdaad nie onderneem om so ʼn risiko te loop nie. Ek is van mening dat die respondent, wat die geld geleen het, aanspreeklik daarvoor bly totdat die skuld afgelos is. Die respondent kon egter staatmaak op die voordeel van enige versekeringspolisuitbetaling en die kollektiewe fonds bestaande uit die 5% heffing vir onversekerde items.
Die lening was prima facie opeisbaar en betaalbaar toe die aansoek om likwidasie geloods is. Volgens die respondent se eie weergawe het die respondent nie al die mielies gelewer nie. Al was die skuld nie opeisbaar en betaalbaar nie, was die skuld ʼn voorwaardelike een omdat die respondent daarvoor aanspreeklik sou wees al was daar die moontlikheid van betaling deur lewering van die oes of by die plaasvind van ʼn ander gebeurlikheid.
Lewering van die mielies
[35] Een verpligting staan uit soos ʼn paal bo water. Die respondent was verplig om die mielies aan TPT te lewer. Die vraag wat beantwoord moet word is of die respondent die mielies aan TPT gelewer het (die mielies is nie aan LGT gelewer nie). Dit is egter onnodig om te bepaal of die respondent die mielies wegsteek. Die volle antwoorde tot die vrae berus binne die bestek van die respondent se direkteure, amptenare of werknemers.
[36] Op 20 Augustus 2002 sluit die respondent en TPT (met die goedkeuring van LTG) ʼn koopooreenkoms vir die verkoop van 840 ton witmielies en 722 ton geelmielies vir lading by die Oppaslaagte silo. In die koopooreenkoms word dit gestel dat 3.7 ton per hektaar witmielies en 3.2 ton per hektaar geelmielies verwag word. Ten minste nog ʼn koopooreenkoms is daarna gesluit vir die verkoop van LGT se mielies aan TPT.
Die respondent se rekenskap tov die mielies
[37] Mnr Peet Nortje en mev Ingrid Nortje as direkteure (en volgens die ooreenkoms met LGT en in hulle persoonlike hoedanighede) is verplig om rekenskap te gee oor hoeveel mielies geoes is en waar dit gelewer is, tesame met genoegsame detail daarvan.
[38] Die respondent (deur middel van mnr Peet Nortje en mev Ingrid Nortje) het die volgende rekenskap gegee:
(a) In die Trust-saak beweer mnr Gert Els dat, benewens die ongeveer 300 ton mielies (wat later blyk 283 ton te wees) wat aan TPT deur die respondent gelewer is, die respondent geen ander mielies aan TPT gelewer het nie vanweë die bestaan van ʼn dispuut tussen die respondent en LGT.
(b) Peet Nortje sê hy weet nie hoeveel mielies gelewer is nie.
(c) In die Trust-saak bevestig mnr Peet Nortje en mev Ingrid Nortje, op 21 Oktober 2003, Gert Els se weergawe wat hierbo uiteengesit is.
(d) In sy repliserende eedsverklaring in die Trust-saak sê mnr Gert Els:
“Die 1079.27 ton waarna verwys word in aanhangsel “N” is hoegenaamd nie graan wat deur PJ en ILM aan die trust gelewer is nie. PJ en ILM se trokke is bloot gebruik om mielies van ander kliënte van die trust by die silos in te lewer.
Van hierdie mielies is ook deur Mnr Nortje, in sy persoonlike hoedanigheid aan die trust gelewer.”
(e) In die likwidasie aansoek sê mnr Peet Nortje dat, toe hy en mev Ingrid Nortje, die eedsverklaring van mnr Gert Els in die Trust-saak bevestig het, was hulle ingelig wat mnr Gert Els se weergawe was. Hulle het met hierdie weergawe saamgestem, as gevolg waarvan hulle bevestigende eedsverklarings afgelê het.
(f) In die ABSA-saak herhaal mnr Peet Nortje die bewerings wat deur hom in die Trust-saak gemaak is.
(g) In die uitbreidingsaansoek beweer mnr Peet Nortje dat hy nie sy bevestigende eedsverklaring in die Trust-saak deurgelees het nie. Hy sê hy het nie geweet wat daarin staan nie en goedgelowig staatgemaak op wat Mnr Gert Els vir hom gesê het.
(h) Mnr Peet Nortje sê egter nie wat mnr Gert Els aan hom voorgehou het nie. Menere Nortje en Els het ook nie in die aansoek getuig nie. Mnr Nortje wend nie pogings aan om bewerings in sy opponerende eedsverklaring in die likwidasie aansoek te wysig of terug te trek nie.
(i) In die likwidaise aansoek beweer die respondent dat sy witmielies slegs ongeveer 0,3 ton per hektaar opgelewer het en sy geelmielies minder as een ton per hektaar.
(j) Die respondent beweer dat hy 729,74 hektaar witmielies en 810,89 hektaar geelmielies geplant het. (Bereken op die tonnemaat hierbo beweer, sou die respondent slegs ongeveer 219 ton witmielies geoes het maar ʼn misoes het plaasgevind. Tog beweer die respondent dat hy ten minste 283 ton geelmielies aan TPT gelewer het).
(k) LGT het daarin geslaag om lewering van 1 079 ton geelmielies en ongeveer 1 878 ton witmielies deur die respondent aan TPT op te spoor. Die respondent verander toe sy benadering of verweer. Die “misoes”-verweer word stilweg laat vaar. Die respondent poog ook nie om die bestaande eedsverklaring, waarin die misoes verkondig is, te verduidelik nie.
(l) Die respondent se direkteur het nie, ter weerspreking van sy opponerende eedsverklaring, aangevoer dat die lewering van die ongeveer 1 870 ton witmielies en 1 079 ton geelmielies ingevolge die ooreenkoms (of sessie) gelewer is nie.
(m) Mnr Buks Olivier het getuig dat hy tot en met Mei 2006 die depot- bestuurder van die Oppaslaagte Silo van NWK was. Hy het die ontvangsleweringsbewyse wat in die blootgelegde dokumentasie verskyn nagegaan en bevestig dat dit inderdaad die ontvangs-leweringsbewyse is wat deur die Oppaslaagte Silo van NWK uitgereik is.
(n) Mnr Olivier het verder getuig dat slegs die respondent, wat betref die bepaalde Oppaslaagte Silo, graan ingelewer het op die naam van TPT. Geen ander boer het graan aan die Oppaslaagte Silo ingelewer op TPT se naam nie.
(o) Mnr Olivier het verder bevestig dat al die graan wat by Oppaslaagte Silo ingelewer is, met die respondent se transport ingery is. Wat verder van die graan geword het, weet hy nie.
(p) Mnr Olivier het voorts ook getuig dat hy by geleentheid sy kinders by die skool moes gaan oplaai en aflaai en het gesien dat mnr Peet Nortje, direkteur van die respondent, self die landerye stroop. Dit het gebeur in tydstip toe die graan ingery is.
(q) Mnr Olivier het verder getuig dat volgens sy waarnemings die respondent nie sy transport of toerusting aan ander boere uitleen om graan mee te lewer nie.
(r) Hy het gedurende kruisondervraging getuig dat inligting met betrekking tot hoeveel mielies gelewer is, slegs deur die persoon in wie se naam die graan ingery is, vasgestel kan word. So byvoorbeeld het hy getuig dat mnr Gert Els van TPT teenwoordig moes wees en toestemming aan mnr Peet Nortje moes verleen alvorens die inligting aan die respondent bekend gemaak sou kon word.
(s) Mnr Elias Letsabo het getuig dat hy vir ongeveer 10 jaar by mnr Peet Nortje gewerk het. Hy is op 5 Februarie 2005 uit die diens van mnr Nortje ontslaan.
(t) Mnr Letsabo het by mnr Nortje as ʼn trekkerbestuurder gewerk. As trekkerbestuurder het hy ʼn trekker, wat ʼn sleepwa gesleep het, bestuur en fisies die mielies na die silo by Oppaslaagte vervoer het.
(u) Hy het getuig dat al die mielies wat gestroop is op die plaas, bekend as Goedgedacht en op die plaas waar mnr Nortje woon, na Oppaslaagte Silo ingery is. Hy het getuig dat geen mielies na enige ander plek toe gery is nie.
(v) Mnr Letsabo, en ander bestuurders wat hy opgenoem het, het almal die mielies wat op die landerye van die respondent gestroop is, na die silo aangery.
(w) Hy sou geweet het as ʼn trekker en sleepwa aan ander boere uitgeleen was. Dit het nie gebeur nie.
Respondent se betoog tov lewering
[39] Die volgende betoog is namens die respondent gelewer:
39.1 Die saak wat LGT teen die respondent probeer uitmaak, in die funderende beëedigde verklaring, is dat die respondent nagenoeg 4 000 ton geoes het. Die respondent het egter met mnr Gert Els van TPT saamgespan en ‘n deel van die oes versteek.
39.2 Gevolglik was dit LGT se saak dat die oes voldoende was om die lening ten volle te vereffen.
39.3 Ten einde aan te toon dat die respondent inderdaad ʼn oes van by die 4 000 ton moes afgehaal het, het LGT swaar op die getuienis van mnr F H van Niekerk gesteun. Mnr Van Niekerk was die betrokke groepleier van die groep boere waaronder die respondent geressorteer het.
39.4 Volgens die oesskattings wat mnr Van Niekerk gemaak het sou die respondent geelmielies van nagenoeg 2 624 ton en witmielies van nagenoeg 3 150.20 ton kon stroop.
39.5 In kruisondervraging het mnr Van Niekerk toegegee dat die beste en akkuraatste wyse om ʼn oesbepaling te doen ʼn stropertaksasie is. Hy het aanvaar dat die stropertaksasie van 1.75 ton op die plaas Goedgedacht korrek is en verder ook erken dat die stropertaksasie van 0.68 ton per hektaar ten aansien van die plaas Doornpoort korrek is.
39.6 (Dit is op hierdie stadium dienstig om die opsomming van mnr Van Niekerk se getuienis kortliks te onderbreek en daarop te wys dat die persoon wat die stropertaksasies gedoen het, ook getuienis afgelewer het. Hy het inderdaad die vermelde stropertaksasies, waarmee mnr Van Niekerk in kruisondervraging mee gekonfronteer is, as akkuraat beskryf.)
39.7 Mnr Van Niekerk het nie die stropertaksasies betwis nie. Mnr Van Niekerk het gevolglik erken dat sy oesskatting in die een geval 61% verkeerd was en in die ander geval 30% verkeerd was.
39.8 Mnr Van Niekerk is toe in kruisondervraging daarop gewys dat, indien sy oesskattings aangepas word (aan die hand van dit wat die stropertaksasies aan die lig gebring het) klop dit bykans met die inleweringsstrokies wat deur LGT blootgelê is. Die inleweringsstrokies is die ontvangsbewyse wat aan ʼn bepaalde trekker of vragmotorbestuurder oorhandig word ter bevestiging van die ontvangs van ʼn hoeveelheid mielies.
39.9 Namens die respondent word aan die hand gedoen dat die saak, wat LGT in die eedsverklaring probeer uitmaak het, naamlik dat daar ʼn oes van by die 4 000 ton was, heeltemal deur die mondelinge getuies en die kruisondervraging van die getuies weerlê is.
[40] Mnr Van der Merwe het verder aan die hand gedoen dat:
40.1. Sommige feite dui aan dat die oes heelwat kleiner was as mnr Van Niekerk se skatting. Aan die ander kant is daar ander getuienis wat daarop dui dat die respondent sy volle oes aan TPT gelewer het.
40.2 Die leweringsstrokies dui aan dat ʼn somtotaal van 2 957,29 ton geelmielies en witmielies deur vragmotors en/of trekkers met sleepwaens van die respondent ingelewer is. In ʼn eedsverklaring in die Trustsaak, is ʼn bewering gemaak dat die respondent sy transport- toerusting aan ander boere uitgeleen het. Die boere sou hulle graan met die toerusting na die silo kon aanry.
40.3 Mnr Letsabo het ook uitdruklik getuig dat niks van die graan wat op die bepaalde landerye verbou is, op die plaas agtergebly het nie. Die graan is ook nie na enige ander plek toe behalwe as na Oppaslaagte Silo geneem nie. Mnr Letsabo was voorheen ʼn werknemer van die respondent. Hy werk nie meer vir die respondent nie en het geen baat te vind by die uitslag van hierdie verrigtinge nie. Hy het trouens getuig dat hy uit die diens ontslaan is nadat iemand hom met onreëlmatighede ten opsigte van diesel gevang het.
40.4 Die getuienis wat derhalwe deur menere Olivier en Letsabo aangebied is, het gevolglik aangetoon dat die weergawes van TPT in die Trust-saak (wat ook die respondent se weergawes is) dat graan deur ander boere met die respondent se transport gelewer is, vals is.
40.5 Die tweede aspek wat derhalwe staaf dat die respondent sy volle oes gelewer het op naam van TPT is die getuienis van mnr Letsabo wat onbetwis voor die Hof staan.
40.6 Die derde aspek wat ook hierdie bepaalde feit staaf is die getuienis van mnr Buks Olivier wat ook onbetwis staan.
40.7 Verskeie ander getuies wat deur LGT geroep is, het ook in kruisondervraging bevestig dat, in soverre dit hulle waarnemings aanbetref, al die graan van die respondent na die graansilos ingelewer is. Geeneen van die getuies het suspisieuse omstandighede gesien wat daarop sou dui dat daar graan op die plaas agtergebly het of dat graan van die plaas verdwyn het nie.
40.8 Verskeie ander getuies kan as ʼn algemene vierde grondslag aangestip word waarop die respondent steun as synde ʼn aanduidende feit dat hy sy volle oes gestroop het, nie weggesteek het soos LGT beweer nie, en inderdaad aan die TPT gelewer het.
40.9 Die volgende vraag wat geneutraliseer of uitgeskakel moet word is of die getuienis enigsins aan die lig gebring het dat die graan wat deur die respondent gelewer is op naam van TPT op die een of ander slinkse wyse weer teruggekanaliseer is na die respondent.
40.10 Daar is geen sodanige getuienis voor die hof nie. Trouens, daar is getuienis tot die teendeel. Die getuie, mnr Jacques Zietsman, synde die kredietbestuurder in diens van die NWK, het getuig dat die graan wat vir die bepaalde seisoen ingelewer is, verhandel is vir TPT en dat daar nie van daardie graan teruggekanaliseer is na die respondent nie.
40.11 Die voormelde getuienis toon derhalwe aan dat, anders as wat LGT in die eedsverklarings gesuggereer het (en ook anders as wat LGT by die beregting van die aansoek, voor die verwysing na mondelinge getuienis geargumenteer het) dat daar geen sprake is dat die respondent ʼn groter oes gehad het as 2 900 ton nie. Dit klop bykans identities met die wiskundige berekeninge wat gedoen kan word aan die hand van die stropertaksasies. Daar is ook die onbetwiste getuienis dat al die graan van die respondent se landerye ingelewer is op die naam van TPT.
40.12 Gevolglik was daar geen sprake van bedrog of samespanning tussen die respondent se mnr Peet Nortje en die TPT se mnr Gert Els om die oes weg te steek nie.
Evaluasie
[41] Dit sal dienstig wees om die respondent se verwere en stellings, ten opsigte van sy verpligting om die mielies te lewer, neer te stip:
(a) Die respondent het 283 ton mielies aan TPT by die Melidora Silo gelewer.
(b) Die restant is nie gelewer nie aangesien die respondent in ʼn geskil met LGT gewikkel is.
(c) Die lande waarop LGT se mielies geplant is, was die onderwerp van ‘n misoes.
(d) Die respondent weet nie hoeveel ton mielies, wat aan LGT behoort, gelewer is nie.
(e) Die respondent het sy eie mielies asook die van LGT verbou en verkoop.
(f) Mnr Peet Nortje het ook sy eie mielies verbou.
(g) Mielies van ander boere is Silo toe gery in die respondent se waens.
(h) Al LGT se mielies is aan TPT gelewer.
[42] Ter inleiding moet ek dit boekstaaf dat mnr Van der Merwe se betoog grootliks uit pogings om sy kliënt se stellings af te skiet bestaan het. Die gevolge hiervan word ondersoek.
[43] Ek is van voorneme om elkeen van die verwere of stellings in die lig van die getuienis wat voor my gedien het, te evalueer.
(a) Melidora se 283 ton graan.
Ek aanvaar dat die mielies wat die respondent gelewer het, deel is van LGT se mielies. Ek moet noem dat die stelling dat die respondent “nie op die mielies aanspraak het nie” vreemd op die oor val.
(b) Die beweerde geskil met LGT
Die bewering dat ʼn gedeelte van die oes wat namens LGT verbou is, weerhou is omdat die respondent in ʼn geskil met LGT gewikkel is, verskyn in die stawende eedsverklaring van mnr en mev Nortje in die Trust-saak. Hulle het onder eed verduidelik hoe dit gebeur het dat die bewerings gemaak is. Die direkteure het egter nie in die loop van die huidige aansoek getuig nie. Die verweer is ook nie in die loop van kruisondervraging geopper nie.
(c) Beweerde misoes
Aansienlike tyd is op die beweerde misoes of beskadigde oes gespandeer. Op ʼn stadium wou dit voorkom asof daar meriete in die verweer is. Die leweringsstrokies wat LGT gevind het, sou die bewering kon staaf. Toe verdere leweringsstrokies ontdek en blootgelê is, het die aanslag gekwyn en is dit nie in die finale argument deur die respondent se regsverteenwoordiger te berde gebring nie. Na my mening is mielies, wat op sekere lande geplant is, wel beskadig. Dit het egter nie gelei tot ʼn misoes nie.
(d), (e), (f), (g) en (h) Onkunde, eie mielies, ens
Die bewering dat die respondent ook sy eie mielies verbou het bo en behalwe die mielies wat vir LGT verbou is, is nie teruggetrek nie. Dieselfde geld vir die bewering dat mnr Peet Nortje persoonlik sy eie mielies verbou het wat hy aan TPT verkoop het. Die moontlikheid bestaan dat deel van die mielies wat aan TPT gelewer is, die respondent se eie mielies is en/of dié van mnr Peet Nortje.
[44] Die respondent het die getuienis van mnre Olivier en Letsabo gelei. Nóg mnr Olivier nóg mnr Letsabo kon sê dat ʼn deel van die mielies nie aan mnr Peet Nortje in sy persoonlike naam verbou is nie. Mnr Peet Nortje sou waarskynlik die respondent se waens gebruik om sy eie mielies in te ry. Die respondent nog so meer. Die getuies sou ook nie kon sê hoeveel mielies deur die respondent in sy eie naam (en hoeveel mielies namens LGT) verbou is nie. Die bewering deur die direkteure dat die respondent ander boere se mielies met die respondent se waens silo toe aangery is, is nie teruggetrek nie. Tog is hierdie twee getuies deur die respondent geroep om die bewering te ondermyn.
[45] Die gevolg hiervan is dat ek nie op grond van die getuienis in staat is om te bevind dat die respondent al LGT se mielies aan TPT gelewer het nie.
[46] Hierdie aansoek is egter nie ʼn aansoek vir die lewering en debattering van die respondent se besit van LGT se mielies nie. Dit is ook nie ʼn aksie vir die invordering van skuld nie. Die respondent dra geen bewyslas, in hierdie onderhawige likwidasie aansoek, om aan te toon dat die mielies daadwerklik gelewer is nie. Dit is voldoende indien die locus standi van LGT in twyfel getrek word deur aan te toon dat die respondent ʼn bona fide en redelike verweer het ten opsigte van LGT se eis. Ek het deeglik besin of die respondent ʼn prima facie verweer het wat bona fide is, geopenbaar. By die oorwegings van die aspek het ek dit ook in gedagte gehou dat ʼn bona fide verweer wel mag bestaan al het ‘n party twyfel ten opsigte van sy bona fides laat ontstaan.
[47] Daar is ʼn moontlikheid dat al die mielies wat aan TPT gelewer is die van LGT is. Maar om dit te bepaal moet die respondent hierdie hof inlig dat die bewering dat ʼn sekere hoeveelheid mielies aan die respondent en of aan mnr Peet Nortje behoort en die bewering dat die respondent se waens ander boere se oeste ingery het vals en onwaar is. ʼn Blote bewering deur ʼn direkteur van die respondent dat al LGT se mielies aan TPT gelewer is, in die omstandighede van hierdie geval is onvoldoende om ʼn bona fide verweer daar te stel.
Sessie
[48] Die onderhawige sessie het geen invloed op die respondent se verpligting om LGT te betaal nie. Insoverre daardie verpligtinge nie deur betaling uitgewis word nie, bly dit die respondent se verpligting.
[49] Die betrokke sessie het die respondent se vorderingsreg (om betaling vanaf TPT te ontvang) aan LGT oorgedra. Dit het nie LGT se vorderingsreg (om betaling vanaf die respondent te ontvang) geraak nie. Gevolglik en totdat betaling deur LGT ontvang word, bly LGT se vorderingsreg teen die respondent staan.
Bates
[50] Die respondent noem in sy beantwoordende eedsverklaring die bates van die respondent op:
(a) Roerende goedere onderhewig aan ʼn notarieële verband. Die respondent waardeer hulle teen R8 miljoen. Die Balju dui aan dat die bates R5.2 miljoen op ʼn veiling sal haal.
(b) Mielies (2004/2005 seisoen), wat op die land gestaan het, ter waarde van R6 938 167.52.
(c) Lewende hawe (468 (teelkoeie) teen R3 762 elk; 116 groot speenkalwers teen R1 900 elk en 8 groot bulle teen R15 000 elk). Ander lewende hawe ter waarde van R50 000.
(d) R100 000 in kontant.
(e) Voorrade ter waarde van R15 000.
Die respondent skat dat sy skulde, insluitend die van LGT, op R9 569 613.09 beloop.
[51] Ek het reeds gemeld dat ek enkele aansoeke toegestaan het. Een aansoek het die partye toegelaat om getuienis ten opsigte van, onder andere, die respondent se huidige bates te lewer. Ek het ook die aansoek vir die inspeksie van sekere bates toegestaan. Sien my uitspraak in die verband.
[52] Getuienis is gelei dat die volgende bates gevind en soos volg gewaardeer is:
(a) Die roerende goedere word deur mnr Thomas op R2 389 755 gewaardeer (die veilingswaarde). Ek meen dat die veilingswaarde die waarde is wat by likwidasie in ag geneem moet word.
(b) Geen getuienis is ten opsigte van die waarde van die mielies wat in 2003/2004 geplant is of wat van die opbrengs geword het, gelewer nie.
(c) Die lewende hawe, wat uit beeste bestaan, is deur mnr Labuschagne op R1 524 900 gewaardeer.
(d) Die oesskatting deur mnr De Villiers vir 2004/2005 was onderskeidelik: vir mielies, R336 622.00; vir sonneblom op Haakboslaagte R557 942.00 en vir ander sonneblomme wat laat aangeplant is R242 264.00
(e) Geen getuienis is aangebied dat die die respondent huidiglik enige kontant het nie.
(f) Geen getuienis is gelewer ten op sigte van voorrade nie.
(g) Die 283 ton mielies by Melidora word op R356 580 waardeer. Die respondent het geen getuienis ten op sigte van sy bates gelewer nie. Die huidige bates van die respondent beloop ʼn totaal van R3 189 961.00.
[53] ʼn Inspeksie is uitgevoer en getuienis daaromtrent is gelei. Dit was onrusbarend om te verneem dat die respondent se verteenwoordigers handelinge gepleeg het-
(a) wat die waarde van respondent se bates sou vergroot; en
(b) wat die hof sou mislei het.
Ek bespreek hierdie twee gevalle meer volledig hieronder.
Die verloop van die inspeksie
A Oeste
[54] Die volgende getuienis is ten opsigte van die inspeksie ter sprake:
(a) Ondanks ʼn voorstel dat die respondent ʼn deskundige waardeerder van sy eie keuse laat meedoen aan die ondersoek, neem die respondent nie die aanbod aan nie.
(b) Mnr Johan Else, in die teenwoordigheid van die respondente se prokureur, mnr Jan Nortje, dui aan dat mielies en sonneblom op die lande Goedgedacht is die van die respondent.
(c) In sy beëdigde verklaring het mnr Else gesê:
“Ek is jaarliks betrokke by die boerderye van die Respondent en sy direkteure. Dit is uiteraard noodsaaklik dat ek op ʼn gereelde basis die boerdery aktiwiteite inspekteer”,
en
“die lande van plase Goedgedacht, Hakboslaagte en Kareebosch sover gelys in die Reël 36(6) is tans ook beplant met sonneblom en mielies”.
Hy heg foto’s by sy beëedigde verklaring aan, asook van die gewasse op Goedgedacht.
(d) Mnr H J Bredenkamp getuig egter dat hy en mnr Herman Bezuidenhout in 2005/2006 Goedgedacht lande vir mielies en vir sonneblom gehuur het. Die getuienis is nie deur die respondent ontken of weerlê nie.
(e) Mnr Van der Merwe het toegegee dat Goedgedacht buite rekening gehou kan word wat mielies en sonneblom betref. Dus doen hy aan die hand dat 89 hektaar mielies en 286 hektaar sonneblom van Goedgedacht van die verwagte oes afgetrek moet word.
[55] ʼn Bevel ten opsigte van die inspeksie van die respondent se bates, is uitgereik. ʼn Opsomming van die getuienis wat prokureur De Klerk sou gee is voorgelê sonder dat daar met hom gekonsulteer is. Mnr De Klerk het getuig oor dit wat hy gesien het toe hy tesame met LGT se prokureur en deskundiges die respondent se vee geinspekteer het. Sy getuienis het geensins met die opsomming geklop nie. Prokureur Nortje, wat namens die respondent opgetree het, het die misleidende opsomming gemaak. Geen verduideliking is hoegenaamd verskaf waarom die opsomming nie die werklikheid weerspieël nie.
Die omvang van die skuld
[56] Dit is vir my onnodig om te veel aandag aan die aspek van die saak te skenk. Dit staan vas dat die respondent se (skuld met inagneming van die lening, die rente, op die mees gunstige rente basis vir die respondent bereken vanaf 31 Oktober 2003, die uitbetaling van R28 497.63 ten opsigte van ʼn versekeringseis, ʼn moontlike eis vir ʼn verdere R990 972.45 en ʼn premie aanpassing van R178 671.38) minstens op R7.5 miljoen te staan kom.
[57] Die bates van die maatskappy, hetsy soos op die datum van aansoek of soos dit in die loop van getuienis behandel is, is onvoldoende om die skuld te delg. Die respondent is nie in staat om sy skulde te betaal nie.
[58] Ek is van plan om ʼn finale likwidasie bevel uit te reik. Die respondent sal nie daardeur benadeel word nie, want die respondent het voldoende geleenthede gehad om die aansoek teen te staan.
Aansoek om opskorting-redes
[59] Die respondent het aansoek gedoen dat die huidige verrigting gestaak word hangende die afhandeling van drie sake. Mettertyd het die respondent die aansoek tot die afhandeling van twee sake beperk. Die gronde wat namens die respondent aangevoer is, is die volgende:
(a) LGT se eis in hierdie saak is gebaseer op ʼn produksie en bestuursooreenkoms gedateer op 15 Oktober 2002.
(b) Die eis is verder daarop gebaseer dat mielies wat die respondent aan TPT moes lewer, nou weggeraak het. Daarom hou LGT die respondent aanspreeklik vir die betaling van die bedrag wat deur die LGT gevorder word.
(c) Die geskille in die eise sluit, onder andere, in die vraag of die respondent inderdaad ʼn skuldeiser is van LGT asook hoeveel mielies aan TPT deur die respondent gelewer is.
(d) Onder saaknommer 1155/2006 het LGT as eiser dagvaarding teen die respondent as verweerder uitgereik.
(e) Hierdie eis is op dieselfde ooreenkoms (paragraaf 3 van die dagvaarding) gebaseer.
(f) Kragtens paragraaf 8 van die besonderhede van vordering bevestig LGT dat hierdie aansoek direk verband hou met die skuldoorsaak in die dagvaarding.
(g) Die geskilpunte in die likwidasie aansoek sluit onder meer in:
Die vraag of LGT ʼn skuldeiser is:
of respondent ʼn prima facie verweer het;
of LGT in terme van die ooreenkoms behoorlik gepreseteer het, en of die gelde soos wat dit in sy staat voorkom, inderdaad korrek is;
of die respondent sy verpligtinge in terme van die kontrak nagekom het.
(h) Hierdie en ander geskilpunte kan in die aksie behoorlik en volledig ondersoek word.
[60] LGT het in die Trust-saak TPT vir voorlopige vonnis, uit hoofde van ʼn tjek vir R5 287 780.00 miljoen, gedagvaar. Die tjek is aan LGT ter betaling van die mielies wat die respondent in hierdie saak gelewer het, gelewer. Die tjek is ter vereffening van enige bedrag wat in terme van die ooreenkoms soos reeds gemeld betaalbaar, gegee.
[61] In die Trust-saak, was dit LGT se saak en is dit steeds sy saak dat daar genoegsame mielies deur die respondent gelewer is ten einde vonnis van ongeveer R5 287 780.00 op die tjek te kan regverdig.
[62] In opponerende stukke het TPT verskeie aspekte in dispuut geplaas, onder andere die lewering van mielies en die gee van die tjek as ʼn tydelike maatreël.
Beslissing
[63] Wat die TPT saak betref, in sy uitspraak op die aansoek om summier vonnis, laat H Lever WR hom soos volg uit:
“However, in my view, due explanation given on behalf of the trust either has veracity as a whole or not at all. If there are good reason to distrust a scenario in which the trust strives to show its bona fides when the plaintiff has not, then there is little reason to focus on any shortfalls in delivery.
There are other reasons, as well, for disbelieving die version put up by die trust. According to the third defendant, Kruger informed him that the amount owing, PJ & ILM was the sum of R5 287 780.00 (Five Million Two Hundred and Eighty Seven Thousand Seven Hundred and Eighty Rand). However, the detailed account of PJ & ILM with the plaintiff shows that an amount considerably in excess of the sum was owed. The trust had a period of 90 days from delivery of crop to effect payment. If it chose not to use that time to verify the delivery to the grain silos, it had only itself to blame. Further doubt on the veracity of Mr Els testimony is provided by due affidavit of Yolande Smit, an official in the accounts department of the plaintiff, who provides a credible version of what took place on the 24th July 2002 and her version is far more convincing than that of the trust.
Finally, it would have made more sense if the cheque given in order to show bona fides was given for a lesser amount rather than for a greater amount than that which was owing.
In conclusion, therefore, the balance of probabilities of success are heavily weighed against the trust and there is no reason to grant it leave to enter the principal case on the strength of the explanation offered by its manager.”
[64] TPT se weergawe dat hy nie die mielies ontvang het nie en dat dit nie TPT is wat die geld aan LGT verskuldig is nie, is reeds in hierdie saak op voorlopige vonnis stadium verwerp en sou voorlopige vonnis in LGT se guns toegestaan gewees het.
[65] LGT is egter op ʼn ander been voorlopige vonnis geweier. Die terugslag is ʼn tydelike beletsel. Op die stadium wat LGT besluit het om TPT te dagvaar, was sy eis teen TPT nog aan Standard Bank gesedeer. Die eis is sedertdien teruggesedeer. Dit blyk derhalwe dat die hof in die Trust-saak reeds die verwere dat hulle nie die mielies gekry het nie, en die geld nie verskuldig is nie, verwerp het. Die hof het die weergawe van LGT, naamlik dat TPT die mielies ontvang het en die geld verskuldig is, aanvaar.
[66] Dit blyk dat TPT reeds ook 1 000 ton mielies teruggetender het aan LGT. Die notule van die voorverhoorkonferensie wat op 17 Maart 2005 gehou is, lees soos volg:
“10. Die Verweerder stel die Eiser in kennis dat die koopooreenkoms vir graan Thaba Phephu Trust en PJ en ILM Boerdery (Edms) Bpk gekanselleer is, dat nagenoeg 1 000 ton mielies teruggetender is aan PJ en ILM Boerdery en dat die ongeveer 1 000 ton die totaal van die mielies is wat deur PJ & ILM Boerdery gelewer is in gevolge die graankontrak. Die Eiser neem kennis van hierdie meedeling en wys die Verweerder daarop dat die Eiser reeds hierdie besonderhede aangevra het in die Eiser se versoek om besonderhede vir verhoor en Verweerder onderneem om in die antwoord op besonderhede vir verhoor dit te oorweeg of verdere inligting gegee moet word.”
[67] Die aansoek om opskorting is nie dringend nie. Enige dringendheid wat hier blyk te wees, is deur die versuim van die respondent om betyds die aansoek te loods geskep. Die dagvaarding in saaknommer 1158/06 is op 29 Augustus beteken terwyl die dagvaarding in saaknommer 716/03 op 2 Oktober 2003 uitgereik is. Saaknommer 716/03 is vir verhoor in Februarie 2007 geplaas. Die huidige verrigtinge het bykans ten einde geloop. Inderdaad is die getuienis vir die respondent binne ʼn uur, nadat die aansoek om opskorting afgewys is, afgehandel. Indien nodig sou dit van pas wees om saak nommer 716/03 op te skort. Saak nommer 1155/06 is geensins gereed om verhoor te word nie.
[68] Ek stem saam met mnr Roux SC se betoog dat:
“Die respondent die bestaan van die verskillende aansoeke en aksies verwar met die regsbeginsel dat ʼn litigant nie regtens meer skade mag verhaal as wat hy gely het nie. Die bestaan van meerdere aksies doen nie afbreuk aan daardie beginsel nie, aangesien die Hof in enige van die aksies op aansoeke die beginsel moet toepas. Daarbenewens is die likwidasie-aansoek nie ʼn aansoek vir die verhaal van enige gelde of skade.”
[69] Die getuienis wat in saak nommer 716/03 deur TPT gelewer gaan word, handel nie oor die bedrag wat die respondent na bewering aan die applikant, LGT, verskuldig is nie. Dit sal ook waarskynlik weinig of geen lig werp op twee kwelvrae, naamlik:
(1) Hoeveel mielies het die respondent geoes?
(2) Hoeveel van die mielies het respondent aan TPT gelewer?
[70] Mnr Gert Els sê, in sy opponerende verklaring, ten opsigte van die aansoek om voorlopige vonnis, gedateer 21 Oktober 2003, dat die respondent 300 ton graan aan TPT gelewer het. Mnr Peet Nortje beam dit. So ook mev Ingrid Nortje.
[71] In sy repliserende eedsverklaring van 13 November 2003 sê mnr Gert Els:
“Die ongeveer 1079 ton graan, waarna ook verwys word in aanhangsel “N” is hoegenaamd nie graan wat deur “PJ & ILM” aan die trust gelewer is nie. “PJ & ILM” se trokke is bloot gebruik om mielies van ander kliënte van die trust by die silo’s in te lewer.”
[72] In die Trust-saak het TPT gepleit. ʼn Eksepsie is geneem. TPT wysig hulle pleit en beweer dat die respondent versuim het om behoorlik en volledig ingevolge die graankontrak gelewer.
[73] Ten tye van die voorverhoorkonferensie op 27 Januarie 2006 stel TPT LGT in kennis dat:
“. . .die koopooreenkoms vir graan tussen Thaba Phephu Trust en PJ & ILM Boerdery (Edms) Beperk gekanselleer is, dat nagenoeg 1 000 ton mielies teruggetender is aan PJ & ILM Boerdery en dat die ongeveer 1 000 ton die totaal van die mielies is wat deur PJ & ILM Boerdery gelewer is ingevolge die graankontrak.”
[74] Op 7 April 2007 wysig TPT weer eens hulle pleit soos volg:
“Die verweerders het die totaal van die mielies wat PJ & ILM aan die verweerders gelewer het ingevolge die graankontrak synde 1 000 ton mielies, aan die verweerders teruggelewer.”
[75] Besonderhede word op 4 November 2006 versoek. TPT antwoord soos volg:
“Die Verweerders erken dat daar ongeveer 283 ton geelmielies op die naam van die Verweerders gelewer is op Melliodora.
Die Verweerders erken dat daar minstens ʼn hoeveelheid van ongeveer 1 000 ton aan die Verweerders gelewer is.
Die Verweerder ontken nie die feit dat daar meer as 1 000 ton mielies aan die Verweerders gelewer is deur PJ & ILM nie. Die Verweerders is nie tans in ʼn posisie om die presiese bedrag van die hoeveelheid mielies wat gelewer is, te bevestig nie.
Die Verweerders het reeds hierbo aangedui dat daar moontlik meer as 1 000 ton mielies aan die Verweerders gelewer is deur PJ & ILM.
Die Verweerders is van voorneme om hierdie paragraaf te wysig en is steeds in die proses om vas te stel wat die presiese hoeveelheid mielies is wat deur PJ & ILM aan die Verweerder gelewer is.
Die Verweerders kon nie die 283 ton mielies verhandel nie, in die lig van die Eiser se voormelde skrywe. Hierdie mielies is steeds by die Melliodora Silo.”
(My beklemtoning)
[76] TPT is deur middel van ʼn hofbevel gedateer 11 Desember 2005, verplig om meer volledig te antwoord op die versoek om nadere besonderhede. TPT antwoord soos volg:
“Nee. Die trust het slegs 283 ton ontvang. Die trust is van voornemens om sy verweerskrif in hierdie opsig te wysig.”
[77] Ek het die aansoek van die hand gewys en genoem dat dit onwenslik is om op daardie stadium redes te gee. Ek het beklemtoon dat dit onwenslik is om my intussen ten opsigte van geloofwaardighede uit te laat. Ek het te kenne gegee dat redes by die afhandeling van die hoofaansoek verskaf, sal word.
Weiering – aansoek om opskorting – aansoek om verlof tot appèl – redes
[78] Mnr Van der Merwe het onmiddellik aansoek gedoen vir verlof om te appelleer. Ek het uitspraak op die aansoek voorbehou tot die afhandeling van die hoofaansoek.
[79] Mnr Van der Merwe het toe aansoek gedoen om ʼn uitstel van die verrigtinge ten einde ʼn aansoek, wat verband hou met my weiering van die aansoek om die verrigtinge op te skort, by die President van die Hoogste hof van Appèl in te dien. Ek het die aansoek van die hand gewys en ook nie redes op die stadium verskaf nie.
[80] Dit sou geen doel gedien het om die likwidasie verrigtinge op te skort nie, veral op die gevorderde stadium wat bereik is toe die aansoek om opskorting gedoen is. Ek is ook nie oortuig dat die aansoek bona fide was nie. Die respondent wou eenvoudig die dag van rekening verder uitstel.
[81] Die aansoek om verlof om te appelleer is myns insiens nie ʼn bevel wat onderhewig aan appèl is nie. Sien Argus Printing and Publishing Co Ltd v Rutland 1953 (3) SA 446 (C). Indien ek verkeerd is dan is ek oortuig dat omstandighede regverdig nie ‘n appèl op die laat staduim nie. Die verrigtinge was amper op die stert se kant. Sien Zeem v Mutual & Federal Insurance Co Ltd 1996 (4) SA 476 (W).
Redes vir weiering van uitstel
[82] Die aansoek om uitstel is geweier omdat daar geen meriete in die aansoek om opskorting is nie. Die aansoek om verlof om te appelleer is ook sonder meriete. Die aansoek om uitstel, teneinde een of ander aansoek voor die Hoogste Hof van Appèl te loods, is bedoel om die afhandeling van die hoofaansoek te vertraag.
Koste
(a) Koste voorbehou deur Mokgaotlheng WR op 15 Desember 2004
Aangesien die likwidasie aansoek susksesvol is, is daar geen rede om nie te gelas dat dié koste uit die boedel van die respondent betaal word nie (insluitende die koste van die twee advokate).
(b) Koste van die uitbreidingsaansoek
LGT was susksesvol en daar is geen rede waarom die boedel van die respondent nie die koste van die uitbreidingsaansoek, insluitende die koste van twee advokate moet betaal nie.
(c) Die Reël 36(6)-aansoek
Die aansoek was suskesvol en weer eens is daar geen rede waarom die boedel van die respondent nie gelas moet word om die koste daarvan te betaal nie, (insluitende die koste van twee advokate). Ten einde die hof se afkeur van die wyse wat die respondent met die inspeksie gehandel het, aan te toon, word koste op ‘n prokureur en kliënt skaal toegestaan, insluitende die koste van twee advokate.
(d) ʼn Aansoek om verdere blootlegging ingevolge reël (35)(3)
Die koste insluitende die koste van twee advokate is vir die rekening van die respondent.
(e) Die opskortingsaansoek
Hierdie aansoek is van die hand gewys. Koste is voorbehou. LGT versoek dat koste toegestaan word op ʼn skaal soos tussen prokureur en kliënt, insluitende die koste van twee advokate en dat dit gelas word dat die respondent se boedel die koste betaal. In die lig van die omstandighede wat ek reeds behandel het, regverdig die gedrag van die respondent nie spesiale koste nie maar wel party en party koste insluitende die koste van twee advokate.
(f) Ander aansoeke op 27 November 2006
LGT versoek nie ʼn bevel ten opsigte van koste van die ander aansoeke nie.
(g) Koste van die likwidasie aansoek
Die respondent word gelas om die koste daarvan uit die boedel van die respondent te betaal, op ʼn prokureur en kliënt skaal, insluitende die koste van twee advokate.
Gevolglik word die volgende bevel gemaak:
1. (a) Die respondent se boedel word finaal gelikwideer en in die hande van die Weesheer geplaas.
2. Die koste wat deur Mokgoatlheng WR voorbehou is, die koste van die uitbriedingsaansoek, die aansoek om verdere blootlegging, asook die aansoek om opskorting moet deur die respondent betaal word.
3. Die koste van die aansoek om inspeksie moet deur die respondent op ʼn prokureur en kliënt skaal verhaal.
4. Die koste van die aansoek om likwidasie word uit die boedel van die respondent op ʼn prokureur en kliënt skaal moet word.
5. Elke koste bevel sluit die koste van twee advokate in.
6. Die aansoek om verlof om te appelleer teen die weiering om die verrigtinge op te skort, word van die hand gewys.
______________
A A LANDMAN
REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF
Verskynings:
Vir die Applikant : Adv B Roux SC (saam met Adv J H F Pistor SC)
Vir die Respondent : Adv M P Van der Merwe (saam met Adv A P J Els)
Prokureurs:
Vir die Applikant : Van Rooyen Tlhapi & Wessels
Vir die Respondent : Smit & Stanton Ing
Datum van Verhoor : 18 – 21 April; 26 – 30 Junie 2006; 27 & 28 Nov 2006 en 4, 5 & 6 Des 2006
Datum van Uitspraak: 15 Januarie 2007