South Africa: North West High Court, Mafikeng

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: North West High Court, Mafikeng >>
2013 >>
[2013] ZANWHC 41
| Noteup
| LawCite
Ellis v Fourie and Others (1295/2009) [2013] ZANWHC 41 (25 April 2013)
Download original files |
IN DIE NOORDWES HOOGGEREGSHOF
MAFIKENG
SAAK NOMMER: 1295/2009
In die aansoek tussen:
CHANTELLE ELLIS .....................................................................................APPLIKANT/EISERES
en
CORNELIA ELIZABETH FOURIE ..................................1STE RESPONDENT/VERWEERDERES
ABEL JACOBUS FOURIE .....................................................2DE RESPONDENT/VERWEERDER
BAREND PETRUS FOURIE ..................................................3DE RESPONDENT/VERWEERDER
UITSPRAAK
LANDMAN R:
Inleiding
[1] Die huidige aansoek/saak gaan oor die welsyn van Isabel Fourie, ‘n jong meisie gebore op 7 April 2006. Toe Isabel15 maande oud was, is sy deur mev Ellis tydelik in die sorg van haar paternale grootouers Cornelia Elizabeth Fourie en Abel Jacobus Fourie geplaas. Ek moet besluit of dit in die beste belang van Isabel sal wees dat haar primêre woning verander word en dat sy in die sorg van haar moeder, Chantelle Ellis, teruggeplaas moet word?
[2] Mev Ellis is die applikante/eiseres. Ek sal na haar as “mev Ellis” verwys. Cornelia Elizabeth Fourie en Abel Jacobus Fourie is die eerste en tweede respondente/verweerders. Ek sal na hulle as mev Fourie en mnr Fourie verwys. Wanneer ek na hulle gesamentlik verwys sal ek hulle “die Fouries” noem. Die derde respondent/verweerder is die Fouries se seun Barend Petrus Fourie. Ek sal na hom as “Ben” verwys. Hy is Isabel se biologiese vader.
[3] Heelwat getuienis is aangebied. Die deskundige getuies wat getuig het, het gefokus op feite wat wesenlik tot die oplossing van die geskil bygedra het. Een van die gevolge hiervan is dat dit onnodig is om ‘n groot gedeelte van die getuienis op te som. Ek handel dus slegs met die getuienis, menings, feite en submissies wat relevant is.
Vorige aansoek
[4] Die huidige aansoek/saak is voorafgegaan deur ‘n ex parte aansoek met saaknommer 151/2008 wat deur die Fouries geloods is.
[5] Om redes, wat ek mettertyd sal ondersoek, het die Fouries, ex parte en op ‘n dringende basis aansoek gedoen dat die primêre versorging van Isabel aan hulle toevertrou word. Die respondente in die geval was mev Ellis en Ben. Die aansoek is nie op mev Ellis beteken nie. Sy is ook nie ingelig dat die aansoek geloods sou word nie.
[6] Op 28 Januarie 2008 is ‘n interim bevel ten gunste van die Fouries met keerdag 27 Maart 2008 uitgevaardig. Isabel is tydelik in die sorg van die Fouries geplaas.
[7] Die aansoek het op die hoorsê bewering mev Prinsloo, mev Ellis se moeder berus. Volgens die Fouries is hulle gedurende Desember 2007 deur mev Prinsloo in kennis gestel het dat Mev Ellis van plan was om Isabel “onder valse voorwendsels” uit die Fouries se sorg te verwyder. Geen eedsverklaring van mev Prinsloo is bekom nie. Sy het ook nie in die huidige aansoek/saak, wat na mondelingse getuienis verwys is, getuig nie.
[8] Weens verskeie redes was mev Ellis nie op 27 Maart 2008 gereed met haar opponering van die aansoek nie en is die keerdag na 14 Augustus 2008 verleng.
[9] Weens die lakse optrede van mev Ellis se vorige prokureur, is haar opponerende eedsverklaring nie afgelewer nie. Haar versoek om uitstel is geweier en die bevel nisi van 28 Januarie 2008 is bekragtig.
Agtergrond tov hierdie aansoek
[10] Isabel woon tans nog by die Fouries. Die huidige aansoek is deur die Fouries geopponeer. Die kennisgewing van opposie sluit Ben in. Ben het nie ‘n eedsverklaring afgelê nie. Hy het ook nie in die huidige verhoor getuienis gelewer nie. Hy en sy eggenote Alisha is blykbaar mev Ellis goedgesind.
[11] Die kennisgewing van mosie gedateer 18 Mei 2009 bestaan uit gedeeltes A, B en C. Die aansoek het op 25 Februarie 2010 voor Hendricks R gedien. Mev Ellis is deur adv Veldsman in opdrag van prokureur Johan van der Wath verteenwoordig. Die Fouries is aanvanklik deur adv Van Nieuwenhuizen in opdrag van prokureurs WM Dixon verteenwoordig. Sedert Januarie 2011 is die Fouries deur adv Danzfuss SC in opdrag van prokureur Greyling van Du Plessis - Viviers verteenwoordig.
[12] Gedeeltes A en B van die kennisgewing van mosie is op 25 Februarie 2010 voor Hendricks R geargumenteer. Hendricks R het die volgende bevel verleen:
“1.
1.1 Die applikant verkry telefoniese kontak tot Isabel Fourie welke Woensdag, Sondag en Maandag tussen 18h30 tot 19h30 vir ʼn maksimum periode van 10 minute op ʼn keer.
1.2 Die applikant kan Isabel kontak by die volgende telefoonnommers :053 927 4034/082 550 3330
1.3 Die eerste en tweede respondente sal toesien dat Isabel beskikbaar is om met die applikant ʼn gesprek te voer, alternatiewelik sal die eerste en tweede respondente toesien dat Isabel die applikant dieselfde aand terugbel.
2. Die gesinsadvokaat word versoek om ondersoek in te stel na die kontak- en verwyderingsregte en bewaring van Isabel en ʼn verslag en aanbeveling voor of op 26 Julie 2010 in die verband aan die Agbare Hof beskikbaar te stel en by versuim daarvan op Donderdag 26 Augustus 2010 aan die Agbare Hof te rapporteer hoekom die kantore van die gesinsadvokaat versuim het om aan hierdie bevel gehoor te gee.
3.
3.1 Die applikant mag Isabel elke alternatiewe naweek op hetsy die Saterdag, hetsy die Sondag kontak en verwyder tussen ongeveer 11h00 tot ongeveer 15h00 te Vryburg.
3.2 Deurgehaal.
3.3 Deurgehaal.
3.4 Tydens die besoek te Vryburg sal die applikant om ongeveer 11h00 Isabel by die Spur kry en haar om nie later as 15h00 aan die respondente by die Spur terugbesorg. Die eerste halfuur sal die kontak by die Spur te Vryburg uitgeoefen word.
3.5 Die eerste besoek na die inwerkingtreding van hierdie bevel sal te Vryburg geskied.
4. Die aansoek word sine die uitgestel.
5. Die koste van die aansoek word voorbehou.”
[13] Die gesinsadvokaat het ‘n ondersoek na die sorg van en kontak tot Isabel ingestel en ʼn verslag ingedien. Die gesinsadvokaat se verslag is op 23 Februarie 2011 gelewer. Die gesinsadvokaat beveel aan dat die sorg van Isabel aan mev Ellis, onderhewig aan die respondente se reg tot redelike kontak, toegeken word.
[14] Op 24 Februarie 2011 is die aansoek by ooreenkoms na 20 – 24 Junie 2011 uitgestel. Gedeelte C van die aansoek is vir verhoor verwys. Die aansoek is uitgestel omdat, onder andere, die gesinsadvokaat se verslag eers op 23 Februarie 2011 beskikbaar geword het.
[15] Die partye het by ooreenkoms die bepalings van die hofbevel van 25 Februarie 2010 gewysig ten einde mev Ellis se kontak tot Isabel uit te brei. Die wysiging is op 25 Februarie 2011 ʼn bevel van die hof gemaak. Die koste van die uitstel is voorbehou.
[16] Op 20 Junie 2011 het die aansoek voor my gedien. Die Fouries het op grond van stukke wat op 15 Junie 2011 beteken is, aansoek om uitstel gedoen. Mev Ellis het die aansoek geopponeer. Die aansoek is na 25 Julie 2011, wat in die reses val, uitgestel. Die koste van 20 en 21 Junie 2011 is voorbehou.
[17] Mondelinge getuienis is vanaf 25 Julie 2011 aangebied. Mev Ellis se kontak tot Isabel is ten opsigte van die Junie/Julie 2011 skoolvakansie uitgebrei.
[18] Die regshulp is uitgebrei met ‘n versoek dat die primêre versorging van Isabel aan mev Ellis toevertrou word.
Die meriete
Getuienis wat aangebied is
[19] Mev Ellis en mnr en mev Fourie het getuienis gelewer.
[20] Die volgende verslae en getuienis is ontvang van deskundige getuies:
(b) Mev Lizelle de Villiers het twee verslae, gedateer 13 Junie en 15 Julie 2011, opgestel.
(c) Me Engela van der Linde, ‘n maatskaplike werker, het vir alle praktiese doeleindes, drie verslae gelewer.
(d) Mev Ruth Ann Garb het twee verslae gelewer.
(e) Prof A Weyers, ‘n sielkundige, het onderhoude gevoer en ‘n verslag, gedateer 19 Februarie 2011, gelewer.
(f) Mev Schutte het ‘n verslag voorberei. Sy het egter nie getuig nie.
[21] By ooreenkoms tussen die partye is die deskundigheid van die deskundigdes nie in geskil nie.
Mev Ellis
Agtergrond
[22] Isabel is gebore uit ‘n saamwoon verhouding tussen Barend Fourie en Chantelle Ellis. Hulle het op Klerksdorp gewoon. Toe Isabel ongeveer 15 maande oud was, is hulle uitmekaar. Mev Ellis het Pretoria toe verhuis. Isabel and haar twee kinders Nadia 15 en Shaun 14, wat uit ‘n huwelik tussen mev Elllis en mnr Grobbelaar gebore is, het saamgegaan. Mev Ellis en mnr Grobbelaar is geskei.
[23] Mev Ellis is ‘n haarkapper en skoonheidstegnikus. Sy moes alleen ‘n bestaan maak en sy het besluit om tydelik van haar kinders af te sien. Nadia en Shaun het by hulle pa gaan woon. Shaun het later by sy oupa gaan woon. Isabel is tydelik aan die Fouries toevertrou. Die reëling is op skrif gestel en deur die partye onderteken. Die Fouries sou tydelik na Isabel om sien, tot tyd en wyl mev Ellis haar in Pretoria/Centurion gevestig het.
[24] Van weë die afstand 450 km (eenrigting) het mev Ellis moeilik kontak met Isabel gehou. Telefoniese kontak is gehou maar dit het nie altyd goed afgeloop nie.
Finansies
[25] By tye gaan dit finansieël knap met mev Ellis. Sy het egter 'n finansiële ondersteuningsraamwerk wat hand by sit. Mev Ellis maak veral staat op haar pa. Haar pa betaal haar regskoste. Hy betaal ook R2000 elke maand om haar ten opsigte van haar huur en lewenskostes by te staan.
[26] Mev Ellis se gemiddelde besigheidsinkomste beloop ongeveer R8 000 per maand. R2000 word in kontant betaal. Sy ontvang R3 000 per maand synde onderhoud vir Shaun en Nadia. Sy hou nie finansieële rekords nie. Mev Ellis is gevra of sy inkomstebelasting op haar inkomste betaal. Sy het nie die vraag geantwoord nie.
[27] Dit is aan mev Ellis gestel dat sy wat geen finansiële en die materiële voorsiening vir die toekoms maak nie. Sy het geen polisse nie. Sy het geen reserwes nie. Sy lewe basies op die broodlyn. Mev Ellis het dit ontken. Sy het getuig dat dat wanneer haar inkomste en uitgawes nie klop nie haar ouers haar van middele voorsien.
[28] Dit is aan mev Ellis gestel dat sy nie in staat sal wees om aan Isabel se toekomsverwagting te kan voorsien nie; bv balletklasse of kitaarlesse. Mev Ellis het dit ontken. Sy het gesê dat Shaun aan rugby, krieket en atletiek deelneem terwyl Nadia neem deel aan “ballroom dancing". Sy voorsien altyd aan haar kinders se behoeftes en wanneer sy vasbrand staan haar ma of pa vir haar by.
Onderhoudsgeld
[29] Ben het nie, in die verlede, onderhoud vir Isabel betaal nie. Dit is aan mev Ellis gestel dat sy aan die gesinsraadgewer, mev Besellaar, gesê het dat sy slegs vir Isabel sal kan sorg indien haar vader en die Fouries vir haar bystaan met onderhoud. Volgens mev Ellis onthou sy nie dat sy dit gesê het nie. Mev Ellis ontken dat sy aan me Van der Linde gesê het dat sy onderhoud van R5000 soek.
Woning en werk
[30] Mev Ellis het op Carolina gematrikuleer. Toe sy 18 jaar oud word, het sy na Pretoria getrek. Carolina is 'n klein plattelandse dorpie en daar was geen moontlikhede vir haar wat so pas skool verlaat het. Sy is in Pretoria getroud. Haar man is Klerksdorp toe verplaas. Sy het saamgegaan. Daarna is hulle geskei. Sy ontmoet Ben Fourie, hulle woon saam en Isabel is verwek en gebore. Toe is hulle uitmekaar. Mev Ellis trek terug Pretoria toe waar haar mense haar kan ondersteun. Sy woon vir ‘n ruk lank by haar ma.
[31] Mev Ellis trek na ‘n woning op ‘n plot in Raslouw. Dit was ‘n verbetering. Sy het dit gedoen ten einde finansieël onafhanklikheid te wees.Sy trek toe na 'n groter huis in Rooihuiskraal omdat me Engela van der Linde en mev Irma Schutte gesê het dat haar vorige woning is te klein om haar kinders te huisves. Elke keer wat sy getrek het was dit om haarself op te hef en om die omstandighede van haar kinders te verbeter.
[32] Shaun het in die verloop van agt jaar by sewe verskillende skole skoolgegaan naamlik: Klerksdorp Primary, Saamtrek Primary, Doringkloof Primary, Mountain View Primary, Carolina Primary, Doringkloof Primary. Daarna is hy Centurion High toe.
[33] Mev Ellis het begin werk by die Suid-Afrikaanse Polisie Diens. Sy het bedank en word toe ‘n krediet klerk by AVBOB. Sy het vir baie lank sekretariële werk gedoen. Toe verhuis hulle na Klerksdorp. Sy het toe 'n juweliersware besigheid begin.
[34] Nadat sy met Isabel swanger geraak het, kon sy nie die swaar tasse wat sy benodig gehad het, om by kliente uit te kom, op haar eie rondsleep nie. Daarom het sy ‘n dansskool begin. Sy het dit gedoen omdat sy die enigste broodwinner was toe sy en Ben saamgewoon het. Die Fouries het finansieël vir hom gesorg. Daarna het sy haar voltyds in die skoonheidsberoep begewe omdat dit iets was wat sy van haar huis af kon doen. Aanvanklik het sy slegs naels gedoen. Later sny sy ook hare.
[35] Dit is aan haar gestel dat sy het 'n betreklike wisselvallige geskiedenis wat werk, haar kinders en haar verblyf betref. Daar is nie stabiliteit nie. Mev Ellis het nie hiermee saamgestem nie. Sy het beklemtoon dat elke skuif wat sy gemaak het was om haar, haar werksomstandighede of haar verblyf en om haar algemene omstandighede te verbeter. Shaun is van skool tot skool geskuif maar hy is nooit 'n jaar teruggehou nie. Shaun is benadeel omdat hy aan aandagtekort hiperaktiwiteit sindroom ly wat nie onmiddelik gediagnoseer en behandel is nie.
[36] Dit is aan mev Ellis gestel dat sy ‘n geskiedenis van wisselvaligheid van woonplek het. Sy het nie saam gestem nie. Haar onlangse skuiwe is gedwing as gevolg van hierdie hofsaak. Sy moes haar blyplek verbeter en daarom was sy genoop om te trek. Sy beskou dit nie as wispelturigheid aan haar kant nie.
Verhoudings
[37] Mev Ellis en mnr Grobbelaar het saamgewoon. Hulle is toe op 14 Februarie 1995 getroud. Hulle word in 2000 geskei. Dieselfde jaar het sy begin saam woon met mnr Ellis. Hulle het ongeveer vier tot vyf jaar saamgebly. Hulle is in 2004 getroud. Hulle word in Februarie 2005 geskei.
[38] Mev Ellis het met Ben saamgewoon vir ongeveer twee jaar. Toe sy Pretoria toe is, het sy het slegs met mnr Saayman ‘n huis gedeel sodat hulle onkostes kon deel. Sy was in 'n verhouding met mnr Gamble. Die verhouding het twee jaar geduur. Hulle het nooit saam gebly nie. Hy het 'n woning in Johannesburg, naby aan sy werk, gehad. Hy het soms by haar oornag.
[39] Dit is aan mev Ellis gestel dat sy het met nog iemand saamgebly. Sy ontken dit maar bevestig dat sy na hom omgesien toe hy sy been gebreek het en hy het by haar gebly gedurende die tydperk.
[40] Dit is aan mev Ellis gestel dat sy ‘n verhouding met mnr Saayman gehad het wat sy verbreek het ter wille van 'n sekere Jason in Pretoria. Mev Ellis ontken dit en verduidelik dat Jason is haar neef; haar se ma se broer se jongste seun.
Rebel jare
[41] Mev Ellis erken dat sy haar van skooldae af as ‘n absolute rebel beskou is. Dit is aan haar gestel dat sy uit die Suid-Afrikaanse Polisie Diens bedank het omdat sy nie gesag kan aanvaar nie. Sy het gesê dat sy nie 'n probleem met gesag het nie. Sy was wel ‘n rebelse tiener gewees en het gesukkel om haar voete in haar jonger jare te vind maar sy het glad nie 'n probleem om gesag te aanvaar nie. Sy erken sy het by haar vader gaan woon want sy was 'n moeilike tiener.
Isabel
[42] Mev Ellis aanvaar dat Isabel se primêre binding met haar ouma is. Sy is gevra waarom sy nou aansoek doen om haar terug te neem met al die ontwrigting wat dit tot gevolg het. Mev Ellis antwoord: “Maar sy bly my kind. Wanneer moet sy ontwrig word? As sy 'n tiener is en haar ouma en oupa is te oud om in haar behoeftes te voorsien? Ek is nou reg om my kind te versorg en in al haar behoeftes te voorsien. Sy is nog nie skoolgaande ouderdom nie. En
kinders pas baie vinnig aan. Ek kan vir haar al die liefde gee wat enige kind nodig het. Ek kan in al haar ander behoeftes voorsien. So as ek dan nie 'n slegte ma is nie, hoekom kan ek nie my kind terugkry nie? Net omdat sy primêre binding met haar ouma het, dit kan reggestel word.”
[43] Dit is ook aan mev Ellis gestel dat: “Die saak van die [Fouries] is nie noodwendig dat u 'n slegte ma is nie. Die saak is dat dit in beste belang van die kind is dat die kind moet bly waar sy is.” Mev Ellis antwoord dat dit: “[N]og steeds in my kind se beste belang om tussen haar boeties en haar sussies en haar ma groot te word waar daar dinge saam met haar op haar ouderdomsvlak gedoen kan word en waar sy so normaal as moonlik kan groot word. Dit is nie normaal vir enige kind om by ‘n ouma en oupa groot te word nie.”
[44] Mev Ellis is gevra wanneer sy laas 'n geskenkie gegee met Kersfees of met 'n verjaarsdag. Mev Ellis antwoord dat sy word nie ‘n geleentheid gegun om Isabel met Kersfees of haar verjaarsdag te sien nie. Sy voeg by dat: “'n Present is 'n ding wat baie maklik in hierdie situasie as omkoop gebruik kan word. So dit is maklik om vir ‘n kind te glo dat as my ma kom kuier kry ek iets. Dis nie waaroor dit moet gaan nie.” Wanneer die geleentheid hom voordoen gee sy geskenke vir haar kinders.
[45] Mev Ellis het verduidelik dat Nadia en Shaun vir ‘n tydperk nie by haar ingewoon het nie. Nadia was vir ’n jaar nie by haar nie en Shaun was vir ongeveer ‘n jaar en ‘n half nie by haar nie. Dit is die tydperk toe sy en Ben uitmekaar is.
Ben Fourie
[46] Ben Fourie het nie getuig nie. Tog is dit raadsaam om enkele aspekte wat hom betref uiteen te sit.
[47] Ben Fourie het saam met mev Ellis gewoon. Isabel is verwek en gebore. Ben en mev Ellis is na ‘n tydperk uitmekaar. Hy kon nie die mas finansieël opkom nie. Die Fouries het hand by gesit. Hy is intussen met Alisha getroud. Hy het nie onderhoud aan mev Ellis vir Isabel betaal nie. Hy het hom met musiek maak en teologie besig gehou. Hy werk tans blykbaar by ‘n pizza winkel. Die Fouries is nie tevrede met hom nie. Sy getroude suster is vir hulle meer aanvaarbaar.
[48] Ben se eggenote is deur die Fourie hulle huis belet.
Mev Fourie
Beste belang
[48] Mev Fourie sê dat dit in die beste belang van Isabel is dat haar primêre verblyf en sorg onaangeraak moet bly. Dit is in Isabel se belang omdat die Fouries haar sekuriteit, geleenthede, stabiliteit en ‘n onontwrigte lewe bied. Hulle gee ook vir haar liefde. Hulle wil haar morele waardes, hoë lewensstandaarde, geleerdheid en slegs die positiewe goed van die lewe gee.
Sekuriteit
[49] By sekuriteit bedoel mev Fourie: “Dat sy weet more gaan sy nie op, weer op 'n ander plek wees nie. Dat sy weet as ek my ma-hulle nodig het, dan sal my ouma-hulle sorg dat ek daar is. As ek iets nodig het, ek - materiele goed dan kan ek dit kry. As ek vanaand gaan slaap is dit veilig, dis warm. Ek kan na my ouma-hulle toe gaan en ek kan vir hulle versoeke rig wat ek weet hulle gaan nie sommer net afskiet nie. Sy moet daardie sekuriteit hê om wat sy nodig het of wat sy wil hê, moet ons vir haar kan bied.”
Kontak
[50] Mev Ellis het op ‘n stadium die Fouries telefonies geteister.
[51] Dit is aan mev Fourie gestel dat Isabel nie net een ouma en oupa het nie; sy het drie oumas en drie oupas. Mev Fourie antwoord hierop dat: “Die ander oumas is ook maar gebroke huwelik so dit raak gekompliseerd met stief-familie.” Mev Fourie het ook van slegte bloed in families gepraat.
[52] Die Fouries het hulle prokureur aangesê om ‘n tender aan mev Ellis te rig dat hulle Isabel Krugersdorp toe sal bring sodat haar ma net 'n half uur het om soontoe te ry. Die tender is op voorwaarde dat mev Ellis die helfte van die vliegtuig se onkoste betaal. Mnr Fourie besit ‘n vliegtuig en hy is ‘n loods. Die opdrag is nie uitgevoer nie.
[53] Omdat hulle prokureur dit aanbeveel, het die Fouries Isabel na Krugersdorp vir mev Ruth Garb se interaksionele analise gebring.
[54] Mev Fourie sê dat mev Ellis se besoek aan Isabel gedurende April 2008 “‘n gemors” was. Sy verduidelik: “Aan tafel, die middag toe ons gaan sit en eet, toe het Isabeletjie uit gewoonte uit langs my kom sit. Toe wil mev Ellis hê nee, sy moet nie daar gaan sit nie. Die aand met slaaptyd wou sy nie by haar ma-hulle gaan slaap nie..... Op elke iets wat Isabel gedoen het of wat sy outomaties gereageer het na my toe, het mev Ellis vir my aangevat. Sy het regtig die naweek vir ons almal verongeluk...... Maar sy het altyd vir Isabel gaan isoleer. Sy het haar gaan toemaak in 'n kamer. Sy het buite gaan sit. So ek het nie - ek besef dat sy kwaliteit tyd met haar kind wil deurbring maar dit was vir Isabel ongewoon dat haar ma haar nou afsonder en dat sy nie by my kan kom nie en sy wil kort-kort na ouma toe gaan.”
Mev Ellis geskiktheid
Wonings/verhoudings
[55] Mev Fourie het gesê dat mev Ellis trek heen en weer. Mev Fourie het ook getuig dat mev Prinsloo gesê dat sy uitgetrek het na Jason toe want sy het by hom gaan bly. Mev Fourie sê sy het nie ‘n bewering gemaak dat dit 'n verhouding was nie. Sy het dit ook nie geimpliseer nie.
[56] Mev Fourie sê sy is bewus van mev Ellis se buite-egtelike verhoudings, losbandige leefwyse, rookgewoontes, alkoholmisbruik en uitlokkende kleredrag. En sy het geweet van mev Ellis se kinders se swaarkry en hartseer. Gevra of dit die basis was waarop sy aanvanklik die dringende aansoek gebring het, het mev Fourie geantwoord: “Goed, ek het net dat ons Isabel moet beveilig. Dit was my doelwit want ek het gehoor, haar ma het vir my gesê sy wil Isabel onder valse voorwendsels kom haal om haar nie weer terug te bring nie.” Mev Fourie is gevra of sy mev Ellis se ma (mev Prinsloo) as getuie gaan roep, sê sy: “Ek sal dit nie kan doen want sy ontken alles.”
[57] Mev Fourie het nie daarvan gehou dat mev Ellis haar kinders uitgeplaas het nie. Mev Fourie het gesê dat sy sou verkies het dat mev Ellis moes vra: “Kan julle my help met geld” sodat ek my kinders kan onderhou. Mev Fourie sê sy sou persoonlik beslis nie gesê het: “Kom haal my kleintjie nie”. Toe mev Fourie gevra is of sy sou geld gee indien mev Ellis dit versoek het, antwoord sy: “Dalk”. Sy is gevra wat sal sy doen as die versoek vandag gerig sou word. Mev Fourie sê dat sy ongelukkig een is wat glo finansies of geld is nie alles in die lewe nie. Geld sê sy is vir haar 'n klein faktor. Morele waardes en stabiliteit en sekuriteit is vir haar baie belangriker.
[58] Mev Fourie sê dat sy wil sien dat mev Ellis standvastigheid handhaaf. Sy sien dit nie want mev Ellis se pa moes nog steeds vir haar ‘n motor koop. Sy kan nie eers 'n motor bekostig nie. 'n Mens kyk nie lewenslank in ander mense se oë om jou te help nie.
[59] Mev Fourie glo dat mev Ellis na haar huidige drie slaapkamer woonstel getrek het om ‘n verskuilde agenda, dws omdat daar 'n hofsaak voor is. Dit, het sy gesê, maak haar bekommerd want: “Sy moet in 'n goeie situasie wees. Sy moet wys maar sy kan dit eintlik nie bekostig nie”.
Enkelouer
[60] Mev Fourie het gesê dat sy haar kinders saam met haar in die werksplek grootgemaak. Sy en Abel was baie arm. Maar sy kon in hulle behoeftes voorsien. Dit is gestel aan haar dat mev Ellis aan Isabel se behoeftes in alle opsigte kan voorsien. Mev Fourie se beswaar is dat mev Ellis 'n alleenouer is terwyl sy, wat mev Fouries is, ‘n man gehad; beide van hulle kon werk. ‘n Enkelouer is wel ‘n geskikte en gepaste persoon om Isabel groot te maak as hulle inkomste daarnatoe is.
[61] Volgens mev Fourie behoort mev Ellis nie die primêre sorg van Isabel te kry nie omdat mev Ellis se lewe nie reg is nie, sy het 'n geskiedenis en sy kan nie op een plek bly nie, sy raak gou verveeld met mans. As dit nie hiervoor was nie sou mev Fourie “definitief” Isabel al lankal vir haar teruggee. Op mev Fourie se ouderdom, en sy voeg by dat sy nie oud is nie maar ons het dit nie nodig om na kinders om te sien nie. Sy het dit uit liefde gedoen. Sy het dit om Isabel se belang gedoen. Sy het alles prysgegee. Sy het haar werk ook prysgegee sodat sy Isabel goed kan versorg.
Onderhoud
[62] Dit is aan mev Fourie gestel dat mev Ellis nie van die Fouries of Ben onderhoud wil hê nie. Haar pa kan vir hulle sorg. Mev Fourie het gesë dat dit nie ‘n goeie eienskap is nie om ‘n mens heeldag in ander se oë moet kyk as jy al groot is. Dit word aan haar gestel dat Ben in dieselfde posisie verkeer. Mev Fourie sê dit is nie tersaaklik nie want Ben vra nie dat Isabel aan hom toegeken word nie.
Ben en Alisha
[63] Mev Fourie het gesê dat Ben nie die kind is wat hulle grootgemaak het nie. Mev Foure kla dat Bennie sê dat hy ‘n pastoor is maar sy dink hy vertel leuns. Ben en sy suster verskil soveel. Lani, haar dogter, is die kind wat sy grootgemaak het en sy is wat mev Fourie wou gehad het sy moet wees. Mev Fourie verstaan nie Ben nie nie. Ben is beinvloed vandat hy en mev Ellis deurmekaar geraak het. Ben het heeltemal verander en is nie die mens wat sy nie ken nie. Maar sy sê nie dit is mev Ellis se skuld nie. Mev Fourie het gesê sy kry skaam om van die belewenisse wat hulle saam met hom moes deurmaak hierdie laaste vier jaar, oor te vertel.
[64] As Ben in ‘n beter finansieële posisie verkeer het, sou hy vandag hier in die Hof wees om sy kind te kry.
[65] Volgens mev Fourie het Alisha ook 'n moeilike lewe gehad. Sy het ook 'n verlede. Sy het ook al per geleentheid vir mev Fourie “sms”e gestuur wat mev Fourie onaanvaarbaar gevind het. Die eintlike probleem het onstaan toe sy en mev Ellis vriendinne geword het. Hulle het mekaar aangehits en opgestook teen die Fouries. Alisha het valse aantygings teen die Fouries gemaak. Die Fouries het vir Ben gesê: “Sê vir haar sy moet gaan haar leuens regmaak. Waar sy ook oor ons leuens vertel het, moet sy regmaak dan stap ons weer 'n pad.... Sy weier om dit te doen.”
[66] Adv Veldsman stel dit aan mev Fourie dat 'n besorgde pa (soos Ben) of ma drie en 'n half jaar sal baklei ten spyte van ‘n gebrek finansies om hulle kind te kry. Mev Fourie antwoord dat sy nie saam stem nie want as Ben moet baklei moet die Fouries hom finansieël ook nog help en “hulle staan self finansieël in 'n baklei posisie.”
Dringende aansoek
[67] Mev Fourie is gevra: “Kan u uself herinner dat toe u in Januarie 2008 na die HOF toegegaan het, het u gesê dat u weet nie waar mev Ellis bly nie?” Sy antwoord: “.... O, toe was sy by haar ma.... As ons na-ure na haar toe gaan kan ons na haar ma toe gaan. Maar ek het nie geweet waar sy werk nie.” Mev Fourie weet dat mev Ellis se ma woon by Impala Park 24, lmpalastraat, Centurion. Mev Fourie erken dat sy nie vir mev Prinsloo gevra waar mev Ellis woon nie.
[68] Mev Fourie het geweet wat mev Ellis se selfoonnommer is. Dit is aan mev Fourie gestel dat sy kon mev Ellis, voor die dringende aansoek geloods is, kon gekontak het en sy kon haar gevra waar sy woon. Mev Fourie erken rondborstig dat sy nie gebel het nie en verskaf die volgende verduideliking: “Nee, ek het dit nie gedoen nie omdat sy wanneer ek ‘n sms of 'n fototjie gestuur het, het sy nie daarop gereageer het nie, het ek maar later opgehou.” Toe dit aan haar gestel is dat dit misleidend was om vir die hof te sê dat sy weet nie waar mev Ellis haar bevind nie het mev Fourie ge sê: “As dit misleidend is, is dit nie misleidend bedoel nie.”
Mnr Fourie
Isabel
[69] Mnr Fourie sê dat hulle 'n baie goeie, liefdevolle, gemaklike verhouding met Isabel het. Hulle speel baie saam. Sy is baie op sy knieë en op sy nek. Hulle speel saam met haar speletjies, ry met haar wipplank, swem saam en bou 'puzzles' ens. Hulle woon konsertjies by.
[70] Isabel word maklik ontwrig en dan kruip sy in haar dop. Aanvanklik was Isabel baie daarteen gekant om haar ma te besoek. Sy was baie ontsteld en was selfs histeries. Wanneer haar ma-hulle kom kuier klou sy aan mnr Fourie vas. En sy het al baie kere vir hom gevra dat hy moet haar belowe dat hy sal keer dat iemand haar wegvat van hulle af. Toe sy bietjie groter geword het, het dit begin beter gaan maar sy is nog steeds baie op haar senuwees. Sy kry maagkrampies en maagseer en is baie ontsteld as sy moet weggaan van die Fouries af.
Kontak
[71] Volgens mnr Fourie het mev Ellis absoluut soos 'n maniak tekere met telefoon oproepe op 'n stadium gegaan. Dit is hoekom die Fouries ‘n klag van telefoon teistering teen haar ingedien het. Die teistering het in 2010 begin.
[72] Mev Ellis het haar dogtertjie se hare gesny op ‘n keer toe Isabel haar besoek het. Mnr Fourie het gesê dat die haarkapster, wat gewoonlik Isabel se hare sny, was amper histeries toe sy sien hoe lyk haar hare. Mnr Fourie sê dit was afskuwelik. Dit het regtig gelyk soos ‘n hoender wat se stertvere uitgetrek is. Dit was baie, baie onprofessioneel.
[73] Mnr Fourie sê mev Ellis kan Isabel besoek soos wat sy in die verlede gedoen het. Sy is meer as welkom
[74] Isabel se verhouding met haar boetie en sussie is nie mnr Fourie se verantwoordelikheid nie. Mnr Fourie is ook nie verantwoordelik vir Isabel se verhouding met haar ma nie. Mnr Fourie sê: “So ek kyk na my verantwoordelikheid en my verantwoordelikheid kom eerste en die versorging van my familie en my gesin en my besigheid is my prioriteit.”
Mev Ellis se geskiktheid as moeder
[75] Die Fouries finansier die hofsaak uit hulle eie fondse. Hulle doen dit omdat Isabel hulle kleinkind is en hulle wil vir haar net die beste gee. Die tweede beste is nie goed genoeg nie. Mnr Fourie sê dat hy sal alles in sy vermoë doen om haar te versorg en haar te beskerm en vir haar 'n lewe te bied. Die primêre sorg behoort by die Fouries te bly omdat hulle stabiliteit in haar lewe kan bied asook standvastigheid en 'n goeie opvoeding. Hy het gesê “[D]is die norm waarvolgens ons lewe, ‘n Christelike opvoeding”. Hulle probeer haar talente te laat ontwikkel en so gee hulle haar ruimte om te lewe sodat sy kan ontwikkel in 'n pragtige grootmens soos wat sy 'n pragtige klein mensie is.
[76] Volgens mnr Fourie kan Isabel nie standvastigheid by haar ma kry nie want mev Ellis is nie standvastig nie. Daar is nie by die Fouries rondtrekkery nie. Daar is nie kort-kort 'n ander man op die toneel nie. Die Fouries bied Isabel meer finansieële sekuriteit aan. Isabel is baie gelukkig by die Fouries.
[77] Mnr Fourie het gesê dat mev Ellis beweer dat Isabel is oorgewig. Dit is hoekom hy haar geweeg voordat sy na haar ma toe gegaan het en haar weer geweeg toe sy van haar ma af teruggekeer het. Dit is gedoen, op aanbeveling van me Van der Linde, om getuienis vir die saak te bekom. Isabel het toe gewig verloor en hulle het Isabel doktor toe geneem omdat sy ‘n tipe laringitis onder lede gehad het.
[78] Mnr Fourie is bewus dat sy mev Ellis Vryburg toe moet ry met ‘n stukkende motor. Hy is ook daarvan bewus dat Shaun en Nadia die oggend wat hulle gaan kuier douvoordag moet opstaan en vir vyf ure op pad moet wees. Hulle moet ook dieselfde aand terug ry. Mnr Fourie laat mev Fourie nie toe om lang afstande te ry nie.
[79] Mnr Fourie het gesê dat sy beswaar teen mev Ellis is dat sy nie stabiliteit in haar lewe het nie. Adv Veldsman rig sy aandag op die feit dat mev Ellis vir 'n periode van vier jaar in Pretoria woon en dat sy dieselfde werk doen. Sy het ook haar werk uitgebrei en is sy ook met haarkappery besig.
[80] Mnr Fourie is bekommerd dat indien Isabel by haar ma geplaas word dat sy nie die kind ordentlik sal opvoed nie. Hy is ook bekommerd dat Isabel nie altyd in goeie omstandighede sal verkeer nie, dat die plek en omstandighede waar sy moet gaan woon onstabiel is en nie geskik is vir die dogtertjie nie.
[81] Dit is aan mnr Fourie gestel dat hy ‘n vermoënde man is tog doen hy nie moeite om kontak tussen Isabel en haar ma te bewerkstellig nie. Hy sê hy voel op die stadium glad nie verplig om haar na haar ma toe te neem nie. Indien die hof dit gelas sal hy die bevel gehoorsaam. Hy voeg by: “Ek voel reeds ek het baie finansiële druk om 'n kind groot te maak en alles ... vir haar te gee. Die bietjie wat hulle kan doen van haar kant af, kan sy gerus doen met haar ondersteuningsgroep wat sy agter haar het. Ek dink nie dit is die ergste nie.” Hy beskou hom nie as deel van mev Ellis se ondersteuningsgroep nie en hy antwoord erkened op die vraag: “En hierdie HOFsaak gaan dit nie u houding nie sommer verander nie? Nee, dit sal nie. Net 'n HOFbevel gaan u houding verander? Ja. Dit kan, my houding sal miskien verander as sy met ons ordentlik kan wees soos sy wel die afgelope rukkie darem al was. Dan kan dit dalk verander. Dalk. Maar tyd is 'n faktor. Dis vir my regtig 'n groot faktor.”
Toekomstige bystand ivm Isabel
[82] Dit is aan mnr Fourie gestel dat mev Fourie getuig het dat indien Isabel nie meer in hulle sorg is nie, die finansieële kraantjie ook toegedraai gaan word, want sy het ander kleinkinders aan wie sy eerder die geld gaan spandeer. Hy antwoord: “Dis nie om geld te spandeer daarmee nie. Dit is as sy dan ... nie by ons is nie dan is haar ma bevoeg om vir haar te sorg met haar pa se hulp. Dan is ek mos nie meer nodig in die saak nie.” Die pa waarna mnr Fourie verwys is mev Ellis se vader.
Deskundige getuienis
Mev De Villiers
[83] Mev De Villiers het ‘n interaksionele analise met mev Ellis, Isabel, Shaun en Nadia gedoen. Mev De Villiers is van mening dat daar is ʼn emosionele band tussen mev Ellis en Isabel. Die verhouding tussen Nadia, Shaun en Isabel was positief. Mev Ellis is in staat om aan Isabel se behoeftes te voorsien. Isabel en haar ma se interaksie was spontaan en nie vervelig nie. Mev Ellis het al drie kinders se behoeftes tydens die interaksionele analise bevredig. Isabel wil by haar ma wees. Sy het sy ʼn behoefte om by haar ma geplaas te word. Mev Ellis beskik oor genoegsame ouerskapsvaardighede om aan Isabel se emosionele behoeftes te voorsien.
[84] Wat die Fouries se artikel 7 dokument betref is mev De Villiers van mening dat mev Ellis Isabel kan stimuleer en dat ʼn tydige verskuiwing nie Isabel se ontwikkeling sal strem nie. Mev Ellis kan aan Isabel se sosio-ekonomiese omstandighede voorsien. Die voortdurende litigasie en wyse van kontakbesoeke word negatief deur Isabel, Shaun en Nadia ervaar. Die afstand tussen die twee tuiste is ʼn probleem met betrekking tot kontak. Indien Isabel geskuif word, gaan dit ʼn aanpassing vir haar wees. Dit kan deur middel van bindingsterapie aangespreek word. Mev Ellis kan ook aan Isabel se akademiese behoeftes voorsien.
[85] Wat mev Ellis se finansiële vermoë betref, is mev De Villiers van mening dat mev Ellis ʼn kliëntebasis alreeds opgebou het. Sy is nog besig om haar voete finansieël te vind. Meer as ‘n jaar het sedertdien verloop. Haar finansies is nie kommerwekkend nie.
[86] Elke verskuiwing wat mev Ellis gemaak het, is gemik om beter voorsiening vir haar kinders te maak. Mev Ellis stel haar kinders se behoeftes voor op. Mev Ellis se rookgewoontes raak nie haar kinders nie.
[87] ‘n Verskuiwing van Isabel vanaf die Fouries na mev Ellis moet voor graad 1, of so vroeg as moontlik plaasvind. Enige gedragsprobleme weens ‘n verskuiwing en aanpassing kan deur middel van terapie en gereelde kontak tussen Isabel en die Fouries aangespreek word. Die verplasing moet ingefaseer word. Dit is beter om Isabel nou eerder as later te verskuif. Bindingsterapie sal ongeveer R2 900-00 kos vir agt sessies. Plasing by ʼn ma sal beter wees as by die ouma as die nodige omstandighede dieselfde is, weens die generasiegaping.
[88] Mev Ellis het ‘n stabiele gesinsomstandighede vir haar kinders geskep.
[89] Mev De Villiers het ʼn tuisbesoek aan mev Ellis se woning gebring. Nadia se kamer kan Isabel akkommodeer. Mev Ellis rook nie in die huis nie. Die huis was netjies en naby mev Ellis se salon. Die skole is geskik om Isabel te akkommodeer.
[90] Mev Ellis se liefdesverhoudings en plekke van verblyf is deur Mev De Villiers ondersoek.
[91] Mev De Villiers het nie mev Ellis se omstandighede met die van die Fouries vergelyk nie omdat sy nie die Fouries se woonomstandighede ondersoek nie.
Me Van der Linde
[92] Me Van der Linde is ‘n maatskaplikewerker. Sy is gedurende kruisondervraging oor bindingsterapie ondervra. Konflik tussen die rolspelers by bindingsterapie gaan die herstel van die emosionele band tussen Isabel en haar ma negatief beïnvloed. Isabel moet deur middel van bindingsterapie haar ma leer vertrou. Die terapie moet plaasvind waar Isabel haar ma se leefwêreld kan leer ken en mev Ellis Isabel se leefwêreld kan leer ken. Weens die konflik tussen die partye is mev Ellis nie welkom aan die huis van die Fouries nie. Mev Ellis sal dus nie Isabel se leefwêreld by die Fouries kan ervaar nie. Dit volg dat die aanbeveling van Me Van der Linde oor hoe bindingsterapie in die onderhewige geval moet geskied, nie haalbaar is nie. Vertroue deur middel van bindingsterapie is ʼn leerproses. Die proses om te leer vertrou, leer ʼn kind in die huis waar sy groot word. Dit word deur die omgewing beïnvloed. Die Fouries vertrou nie mev Ellis nie. Hierdie wantroue kan veroorsaak dat Isabel ook nie mev Ellis vertrou nie wat die bindingsterapie tussen Isabel en haar ma bemoeilik.
[93] Volgens Me Van der Linde was die wyse waarop mev Ellis, binne haar vermoë, kontak tot Isabel vanaf Desember 2008 tot nou uitgeoefen het, nie in Isabel se beste belang is nie. Mev Ellis se vermoë om meer kontak met Isabel te maak ten einde Isabel se sin aan eie waarde te verhef en die vertroue tussen hulle te herstel moet aangepas word. Me Van der Linde stel voor dat ten einde die band tussen Isabel en haar ma te ontwikkel Isabel langer vakansies by mev Ellis moet deurbring en die proses moet ingefaseer word.
Mev Garb
[94] Isabel is tuis by die Fouries. Dit kan nie anders wees nie. Die Fouries is stabiel. Hulle bly al 29 jaar in die selfde woning. Isabel beskou hulle as haar emosionele of sielkundige ouers wat daagliks aandag aan haar skenk, na haar behoeftes omsien en vir haar sorg, voed, troetel, lief het en stimuleer.
[95] Mev Garb is tevrede dat mev Ellis:
(a) ‘n liefdevolle ouer is;
(b) beskik oor aanvaarbare akkommodasie;
(c) se ander kinders, Nadia en Shaun, is lief vir Isabel;
(d) se seun, Shaun, se ADHD probleem geneties is en is nie die gevolg van ‘n onbekwame ma is nie;
(e) ministens in die korttermyn met al drie kinders sou kan klaarkom;
(f) se besigheid stabiel is;
(g) se voorgestelde skool- en na-skool reëlings vir Isabel geskik is.
[96] Mev Garb het kwelvrae:
(a) oor mev Ellis se finansiële stablitieteit maar sy beskou dit as slegs ‘n faktor en nie ‘n oorheersende faktor wat haar mening vorm nie.
(b) of mev Ellis, gesien haar geskiedenis van verhuising en gepaardgaande verwisselling van haar kinders se skole, toon dat sy voorentoe, in die opsig, ‘n stabiele lewenswyse sal handhaaf. Dit is prematuur om ‘n finale mening hieroor te vorm.
(c) oor die impak wat die verplasing van Isabel by mev Ellis sal hê op die brose Shaun wat, behalwe sy stryd met Aandagtekort hiperaktiwiteit sindroom, op ‘n stadium aan kliniese depressie gely het.
[97] Mev Garb is van mening dat indien die status quo verander word deur Isabel in mev Ellis se sorg te plaas is daar ‘n risiko dat Isabel erge emosionele skade kan opdoen en dat sy dalk aan ‘n “attachment disorder” mag ly.
[98] Mev Garb beveel aan dat:
(a) die status quo gehandhaaf word;
(b) Isabel die eerste en derde naweek van elke maand by die Fouries moet deurbring en een naweek by haar pa, Ben, en een naweek by haar ma, mev Ellis, moet deurbring.
(c) Isabel moet alternatiewe vakansies met die Fouries, Ben en mev Ellis deurbring.
(d) die Fouries moet sorg dat Isabel tot Klerksdorp gebring word vir die kontak besoeke.
(e) ‘n Sakebestuurder moet aangestel word. Elke party moet helfte van die koste daarvan dra.
Prof Weyers
[98] Prof Weyers het met die Fouries, mev Ellis, Isabel en Ben en sy eggenote gekonsulteer. Hy het ook vlugtig met Shaun en Nadia gekonsulteer. Hy het die deskundige verslae bestudeer.
[99] Prof Weyers is van mening dat die Fouries gevestigde mense is met gevestigde belange. Hy lei af dat hulle ‘n baie goeie bydrae tot die gemeenskap lewer. Die Fouries beskik oor 'n baie stabiele, lewens- en werksgeskiedenis. Hulle het 'n stabiele huwelik. Die voordeel van mev Fourie is dat sy het baie tyd op die hande het. Sy skenk baie tyd aan Isabel. Onder die huidige omstandighede is hulle twee ideale mense om 'n kind te versorg.
[100] Mev Ellis het foute in haar lewe gemaak. Mev Ellis het ‘n probleem geskiedenis. Dit kom reeds vanaf haar kinderjare. Mev Ellis is 'n baie aangename persoon wat blykbaar heelwat intelligent is. Sy het op skool gedruip. Sy het genoem dat sy baie lui was om te leer en was ‘n absolute rebel op skool. Haar ma kon nie met haar huishou nie en sy het by haar pa gaan woon. Mev Ellis beskryf haar ma as 'n moedertjie; baie beskermend, geduldig en baie aanmoedigend. Mev Ellis se ouers het geskei toe sy baie jonk.
[101] Na skool het mev Ellis, gedurende 1991, by die SAPD aangesluit. Omdat sy volgens haarself te onvolwasse was en probleme met gesag gehad het, het sy haar ontslag gekoop.
[102] Aandagtekort hiperaktiwiteit sindroom is gewoonlik 'n neurologiese disfunksie. In die meeste gevalle is daar 'n genetiese verband. Prof Weyers is ook van mening dat mev Ellis moontlik ook konsentrasie probleme gehad het.
[103] Gedragsversteurings ly tot 'n persoonlikheidsversteuring. ‘n Persoonlikheidsversteuring, of die patologie daarvan, getuig van ‘n voortdurend patroon van onbuigsaamheid of 'n swak aanpassing en daar is gewoonlik 'n gebrek aan impulsbeheer. Die eienskappe raak die persoon se beroepswêreld, sosialewêreld, finansieëlewêreld, huwelikswêreld of lewensmaat keuse. Dit is 'n amper 'n stabiele patroon van onstabiliteit. Daar is geen prognose vir daardie tipe versteurings nie.
[104] Prof Weyers dink dat dit is moontlik dat Mev Ellis aan 'n opponerende uitdagende versteuring ly. Die simptome daarvan is negativisme of uitdagende, ongehoorsaamheid of vyandigheid, herhalende woede uitbarstings, argumentering, weiering om aan versoeke te voldoen of reëls na te kom, die neiging om ,met opset, iets te doen om ander te steur, om ander vir eie foute te blameer, liggeraak en geirriteerd, gedurig kwaad of vermakerig. Hierdie persone benadeel hulle sosiale, akademiese en beroepsfunksionering. Dit kom vir prof Weyers voor dat mev Ellis met al haar positiewe eienskappe wat sy het, amper a twee-beeld persoon is.
[105] Mev Ellis ly nie aan psigopatie nie. Prof Weyers vermoed dat daar sterk elemente van 'n persoonlikheidsversteuring aanwesig is, van die ongespesifiseerde tipe, want sy pas nie in al die ander criteria nie. Die eienskappe sluit in ‘n person wat beheer oor haar gedrag het maar volg nie altyd haar gewete nie. Mev Ellis het vasgesteek op 'n spesifieke tyd en bly vasgesteek. Dit het 'n uitwerking op haar verhoudingslewe gehad het. Sy het swak keuses in haar lewe gemaak. Sy het in 'n patroon beland wat sy nie heeltemal kon uit kom nie.
[106] Mev Ellis het begin besef die dinge kan nie so aangaan nie. Sy het daadwerklike pogings begin aanwend om stabiliteit te verkry wat 'n baie goeie teken is. Mev Ellis besit oor baie goeie eienskappe. As sy kan uitkom by 'n beroepsvoorligting sielkundige, is daar beroepe wat vir haar baie meer bevrediging kan verskaf en vir haar baie beter inkomste kan gee om haarself en haar kinders te kan bevoordeel.
[107] Prof Weyers se hoofprobleem op die huidige oomblik is, is dat hy onseker is oor die langdurige stabiliteit van mev Ellis. Aan die een kant is daar die Fouries wat baie stabiele persone is wat uitstekend funksioneer en aan die anderkant is mev Ellis wat ‘n relatiewe persoonlikheidsprobleem het en wat nie optimaal funksionerend is nie. So dan moet 'n mens kies die sorg waar dit veilig is. Op die stadium dink hy dit kan riskant wees om die kind dan nou by mev Ellis te plaas.
[108] Een van die kritiese take wat 'n kind van twee tot ses het, is om beheer oor hom of haarself se liggaamlike prosesse te kry. Om 'n binding te kan maak met iemand op wie hulle kan staatmaak. Op die laerskool stadium, primêre stadium, moet 'n kind leer om by ander mense aan te pas. Hy of sy moet leer om basiese vaardighede, soos lees en skryf, te kan doen sodat hy of sy kan effektief aanpas in sy latere volwasse lewe. Dit is belangrik, op hierdie stadium, dat die kind moet genoegsame emosionele sekuriteit ervaar in die laerskool stadium sodat sy al hierdie kritiese take effektief te kan bemeester.
[109] Gewoonlik, op 13 jaar gaan meisies deur geslagtelike rypwording of te wel puberteit. Sy bereik 'n fase waar sy haar identiteit moet leer bou. Haar vertroue val heeltemal deur en sy moet dit weer herbou. Dis een van die take van adolessente om hul selfvertroue te ontwikkel tot die vlak waar dit was. En dan natuurlik begin hulle met ander belangstellings, soos die teenoorgestelde geslag. Dit maak heeltemal 'n nuwe wêreld oop, waarin die kind baie betrokke raak omdat dit nou vir hom of haar belangrik is.
[110] Isabelle se sielkundige ouers is die Fouries. Sy ervaar veiligheid in hulle aanwesigheid. Maar sy moet nou begin die ander mense in haar familie ook begin erken en begin leer ken. Prof Weyers maak die aanbeveling dat sy kontak maak met haar biologiese moeder en ook met haar biologiese vader. Dit sal nodig wees, wanneer die kind in mev Ellis teruggeplaas word. Prof Weyers voeg by, mev Ellis moet eers haarself bewys.
[111] ‘n Kind van Isabel se ouderdom kan net konkreet dink. Haar abstrak dink ontwikkel soos sy ouer word. Op 12, maar eintlik eers optimum by 16 jaar, kan ‘n kind makliker die implikasies van sy of haar keuse begryp. Maar die kind moet aan die wêreld blootgestel word. Die Fouries is verskriklik baie betrokke by Isabel. Maar hulle is uitermatig betrokke. Prof Weyers sê: “Die kind het net 'n bietjie asem of bietjie lug ook nodig om 'n bietjie uit te kom [uit] daardie situasie maar hulle is nog die sielkundige ouer op die stadium”.
[112] Prof Weyers se indruk is dat Ben 'n stadige rypworder is. Met ander woorde hy kon nie dadelik hom in sy regte loopbaan vestig nie. Hy mag moontlik ‘n kunstenaarstemperament hê. Die Fourie junior egpaar moet nie uit die prentjie uit gelaat word nie. Hulle is ook deel van die gesinsopset van klein Isabel.
[113] Al die interaksie en teen reaksie, die kommunikasiegaping en wantroue het 'n negatiewe uitwerking op Isabel want sy ervaar waarskynlik die spanning en dit moet haar ook emosioneel benadeel.
[114] Prof Weyers beveel aan dat die bewaring of die primêre verblyfplek van Isabel nie nou aan die mev Ellis toegeken moet word nie. Hy het gesê hy gun dit aan mev Ellis maar op 'n later stadium. Mev Ellis is op die stadium nie die emosionele of die sielkundige ouer soos in die geval van die Fourie egpaar nie. En omdat Isabel se binding baie heg is met die Fourie egpaar, is hy bevrees dat ‘n verplasing disfunksionele gedrag kan ontlok wat Isabel kan benadeel.
[115] Disfunksionele gedrag gaan saam met met die sogenaamde “attachment” teorie of die bindingsteorie. Indien die emosionele binding geknip word, voel die persoon emosioneel gedepriveerd en dan kry mens eers die sogenaamde protes fase. Dit is waar die kind nou sou huil en skreeu en aggressief raak. Dis 'n tipe van 'n opstand fase. Later, wat die mense miskyk, is die sogenaamde wanhoop fase. Dit is die stadium waar die kind saggies begin treur. Oppervlakkig beskou lyk dit of dit gaan goed met die kind maar dit gaan nie goed met die kind nie. Die kind het eintlik net hom of haarself oorgegee aan die situasie en verduur dit maar net. Daar is nie regtig vreeslike groot geluk nie. En dan die laaste fase is die sogenaamde onttrekking of ontkenningsfase waar die kind min belangstel in sy of haar omgewing. Hy of sy isoleer homself of haarself en dis eintlik 'n manier van selfbeskerming.
[116] Prof Weyers beklemtoon dat, alhoewel die voorskool stadium strek ‘n mens se hele lewe lank. Wanneer ‘n mens 'n sterk binding met 'n spesifieke person het, volg daar gewoonlik erge trauma wanneer daardie band gebreek word.
[117] 'n Klein kind in hierdie fase is minder in staat om te begryp wat gebeur. Sy het nog nie die kognitiewe insig nie. Sy mag 'n slim kind wees maar sy het nog nie die insig nie. Die kind beskik ook nie oor die emosionele kennis om haar emosies te beheer nie. Wanneer so kind dan ongelukkig is, en te lank ongelukkig bly, skep dit 'n gewoonte om ongelukkig te wees. Prof Weyers sê dat sielkundiges is gewoonlik bang vir die situsie. Dit raak een van die kind se basiese emosionele response. Die kind het nie die kennis of die vaardigheid om sy of haar probleem te hanteer nie; oppervlakig lyk hy of sy baie goed. Dit is die rede waarom hy baie versigtig in die reël is om 'n aanbeveling te maak dat 'n kind net oorgeplaas word na 'n ander situasie. In die geval, indien Isabel spesifiek nou oorgeplaas, gaan syvan 'n uitstekende situasie na 'n minder uitstekende situasie waar daar huidiglik nog 'n paar vraagtekens hang.
[118] As Isabel net eenvoudig huidiglik oorgeplaas word, gaan sy reageer na aanleiding van haar basiese persoonlikheid. Maar dit mag wees dat sy in die oppervlakte gelukkig sou lyk. Dit mag wees dat sy haar nuwe boetie en sussie of haar biologiese boetie en sussie kan met mekaar speel maar dit sal moeilik wees om te bepaal hoe dit werklik met haar gaan nie want sy kan haar nog nie self uitdruk “relate” nie. So dit mag wees dat dit goed gaan maar dit kan dalk baie sleg gaan. Dit is 'n onvoorspelbare gedragspatroon wat te voorskyn kan kom wat hy nie op die stadium definitief kan vooruit sien nie.
[119] Prof Weyers is van mening dat die gesinsadvokaat se verslag tekortkominge het. Daar is nie aandag geskenk aan die persoonlike en maatskaplike omstandighede van die biologies moeder wat die primêre taak van die maatskaplike werker is nie. Daar is slegs op die moeder se mededelings staatgemaak. Daar is nie melding gemaak van die jarelange, problematiese en onbestendige geskiedenis van die biologiese moeder nie. Daar is ook nie melding gemaak dat Isabel voltyds onder toesig van mev Fourie is en dat sy dit sal moet prysgee. Isabel sal by 'n werkende moeder geplaas wees wat baie afhanklik is van die inkomste wat sy verdien. Waar Isabel gewoond is aan amper honderd persent aandag sal sy moet sy gewoond raak aan minder aandag en sy sal dit met twee kinders, in hul puberteitsjare moet deel.
[120] Prof Weyers het gesê dat die verslag nie na die belangrikheid van 'n kind se ouderdom en die emosionele en kognitiewe binding wat daarmee gepaard gaan, verwys nie. Die kind se behoeftes is ook nie in ag geneem nie. Isabel verkeer in ‘n voortreflike situasie. Die gesinsadvokaat beveel aan dat sy by haar moeder teruggeplaas word sonder om op aspekte soos emosionele binding te let.
[121] Die artikel 7 faktore 'n skriftelike dokument wat by die Hof ingehandig is, is op prof Weyers se opinies gebaseer.
[122] Prof Weyers beveel aan dat:
(a) Die status quo ten opsigte van die verblyf reëlings moet behou word.
(b) Besoeke dws kontak moet uitgebrei word; dit het betrekking op mev Ellis sowel as Ben en sy eggenote.
(c) In die opsig moet Isabel nie te lank by die ander ouer of die ander persoon gaan bly nie en dus die lang vakansies en selfs die kort vakansies sal opgedeel moet word.
(d) Mev Ellis moet die geleentheid gegee word om haar situasie permanent te verbeter.
(e) Oorweging kan geskenk word dat wanneer Isabel in haar hoërskooljare kom dat Isabel dan kan besluit by watter ouer sy wil gaan bly.
[123] Prof Weyers het ‘n konsepbevel opgestel. Sy ondervinding het geleer dat ‘n saakbestuurder of 'n sakebestuurder in so ‘n geval nuttig sal wees. Litigasie kos baie geld. Hierdie geld moet eerder aan die toekoms van 'n kind gewend word. Tog is daar gevalle waar die onderlinge partye nie goed met mekaar klaar kom nie. In die geval is daar plek vir ‘n objektiewe, betroubare tussenganger. In die geval van mev Ellis en die Fouries gaan nog probleme vorentoe ontstaan. Om te keer dat die partye verarm behoort hulle 'n ervare, objektiewe persoon waarin beide partye vertroue het as tussenganger te gebruik.
My gesprek met Isabel
[124] Ek en Isabel het gedurende Februarie 2013 in die Wimpy op Vryburg saam gekuier en koeldrank gedrink. Nadat Isabel gerusgestel is, het ons ‘n aantal aspekte aan geraak. Sy sê haar oupa ken baie mense. Haar ouma ken nie so baie mense nie.
[125] Isabel is vertroud met die familie opset. Sy weet beslis van haar ma en dat Nadia en Shaun haar broer en suster is. Sy weet dat Ben met Alisha getroud is en dat sy onlangs ‘n baba sussie het.
[126] Isabel is in graad 1. Sy het maats in graad 1. Sy kry nie juis huiswerk om te doen nie. Sy weet dat graad 2 kinders kry huiswerk.
[127] Waaneer sy groot word, sal sy graag ‘n haarkapster en sanger wees. Sy wil sing soos haar pa.
[128] Sy bly by ouma en oupa. Ek het haar nie gevra by wie sy wil woon nie. Sy het my egter ingelig dat sy by ouma wil bly. Sy swem saam met oupa en neem danslesse.
[129] Isabel het haar skool uniform gedra. Sy het netjies voorgekom en al was sy skugter, het sy ingestem om by my tafel aan te sluit. Sy het ‘n goeie indruk gemaak. Sy het gelukkig voorgekom. Terwyl ons gesels het, het sy al hoe meer spontaan begin gesels.
Die reg
[130] Artikel 7(1) van die Kinderwet 38 van 2005 bepaal dat ‘n hof die volgende in ag moet neem:
(a) Die aard van die persoonlike verhouding tussen:
(i) die kind en die ouers of enige spesifieke ouer; en
(ii) die kind en enige ander versorger of relevante persoon in daardie omstandighede.
(b) Die houding van die ouers, of enige spesifieke ouer jeens:
(i) die kind; en
(ii) die uitoefening van ouerlike regte en verantwoordelikhede ten opsigte van die kind.
(c) Die kapasiteit van die ouers, of enige spesifieke ouer, of van enige ander versorger of persoon om voorsiening te maak vir die behoeftes van die kind, insluitende emosionele en intellektuele behoeftes.
(d) Die waarskynlike effek van enige verandering in die kind se omstandighede op die kind, insluitende die waarskynlike effek op die kind van enige skeiding van:
(i) beide of enige van die ouers; of
(ii) enige broer of suster of ander kind of enige ander versorger of persoon by wie die kind gewoon het.
(e) Die praktiese moeisaamheid en uitgawe verbonde daaraan vir ‘n kind om kontak te hê met die ouers of enige spesifieke ouer en of daardie moeisaamheid of uitgawe die kind se reg om persoonlike verhoudinge en direkte kontak met die ouers of enige spesifieke ouer op ‘n gereelde basis vol te hou substansieel sal beïnvloed.
(f) Die behoefte van die kind:
(i) om in die sorg van sy haar ouer, familie of uitgebreide familie te bly; en
(ii) om ‘n verbinding met sy of haar familie, uitgebreide familie, kultuur of tradisie te behou.
(g) Die kind se ouderdom, volwassenheid en fase van ontwikkeling, geslag, agtergrond, en enige ander tersaaklike eienskappe van die kind.
(h) Die kind se fisiese en emosionele sekerheid en sy of haar intellektuele, emosionele, sosiale en kulturele ontwikkeling.
(i) Enige gebrek wat ‘n kind mag hê.
(j) Enige chroniese siekte waaraan ‘n kind mag ly.
(k) Die behoefte van ‘n kind om groot te word in ‘n stabiele gesinsomgewing en waar dit nie moontlik is nie in ‘n omgewing wat so nou as moontlik ooreenkom met ‘n versorgende gesinsomgewing.
(l) Die behoefte om die kind te beskerm teen enige fisiese of sielkundige leed wat veroorsaak mag word deur:
(i) die onderwerping van die kind aan mishandeling, misbruik, verwaarlosing, eksploitasie of vernedering of die blootstelling van die kind aan geweld of eksploitasie of ander skadelike optrede; of
(ii) die blootstelling van die kind aan mishandeling, misbruik, vernedering, slegte behandeling, geweld of skadelike optrede jeens hulle persoon.
(m) Enige gesinsgeweld wat die kind of familielid van die kind betrek.
(n) Welke aksie of beslissing verdere regs- of administratiewe verrigtinge met betrekking tot die kind sal vermy of verminder.
Gesag
[131] In P v P 2007 (5) SA 94 (HHA) het die Hoogstehof van Appèl gesê in 14 en 24 dat:
“The High Court’s determination of which custody arrangement would serve the best interest of the children in any particular case involves the High Court making a value judgment, based on its findings of fact, in the exercise of its inherent jurisdiction as the upper guardian of minor children.
. . .
. . . . . In determining what custody arrangement would best serve the children’s interest such as the present, a Court is not looking for the ‘perfect parent’- doubtless there is no such being. The Court’s quest is to find what has been called the ‘least’, detrimental available alternative for safeguarding the child’s growth and development.”
[132] In J v J 2008 (6) SA 30 (C) het die Kaapse Hooggeregshof hom in para 20 soos volg uitgelaat:
“As the upper guardian of minors, this court is empowered and under a duty to consider and evaluate all relevant facts placed before it with a view to deciding in the issues which is of paramount importance: the best interest of the child. In Terblanche v Terblanche it was stated that when a Court sits as upper guardian in a custody matter-
. . . it has extremely wide powers in establishing what is in the best interest of the minor or dependent children. It is not bound by procedural strictures or by the limitations of the evidence presented or contentions advanced by the respective parties. It may in fact have recourse to any source of information, of whatever nature, which may be able to assist it in resolving custody and related disputes.
In P and Another v P and Another Hurt J stated that the court does not look at sets of circumstances in isolation:
I am bound, in considering what is in the best interest of G, to take everything into account, which has happened in the past, even after the close of pleadings and in fact right up to today. Furthermore, I am bound to take into account the possibility of what might happen in the future if I make any specific order.
In AD and DD v DW and Others (Centre for Child Law as Amicus Curia; Department for Social Development as Intervening Party) the Constitutional Court endorsed the view of the minority in the Supreme Court of Appeal that the interest of minors should not be ‘held to ransom for the sake of legal niceties’ and held that in the case before it the best interests of the child ‘should not be mechanically sacrificed on the altar of jurisdictional formalism.”
Argument
Argument adv Veldsman
[133] Adv Veldsman se hoofde van betoog beloop 146 bladsye. Ek het die hoofde sorgvuldig gelees. Ek is nie van plan om die inhoud uit een te sit nie omdat dit baie met minutea handel en omdat die partye om ‘n spoedige uitspraak geregtig is. Ek behandel tersaaklike aspekte in my evalueering. Ek neem ook in kennis mnr Van der Watt se mondelinge submissies. Hy het opgetree toe adv Veldsman nie beskikbaar was nie.
Argument adv Danfuss SC
[134] Adv Danfuss SC se submissies bestaan uit 74 bladsye wat moet saamgelees word met sy skriftelike kommentaar op adv Veldsman se hoofde.
[135] Soos uit my evaluasie van die getuienis blyk, ek aanvaar en maak staat ook op die deskundiges wat die Fouries geroep het. Ek aanvaar egter nie dat Isabel die beslissing by wie sy wil woon, moet maak nie. Ek aanvaar nie die tydstip waarop die oorplasing moet plaasvind nie. Ek verskaf hieronder my redes vir die benadering.
Evaluasie
Inleiding
[136] Dit is belangrik dat ek die volgende noem:
(a) Die partye het ‘n uitermatige tyd geneem om op ‘n datum vir die aanhoor van argument te besluit. Die beskikbaarheid van die advokaate en veral Adv Danfuss SC was skynbaar’n probleem.
(b) Ek aanvaar dat behalwe vir die feit dat Isabel die Laerskool bywoon niks noemenswaardig het in die tussen tyd gebeur nie. Ek is oortuig dat die advokate en prokureurs my aandag op enige relevante ontwikkeling sou gevestig het.
(c) Ek het die hoofde van argument sorgvuldig gelees. Gegewe die noodsaaklikheid om uitspraak, wat ek besonder moeilik gevind het, spoedig te lewer, sal ek baie kortliks die redes vir besluit uiteensit.
(d) Ek neem in ag die bepalings van artikel 7.
(e) Mev Ellis ervaar dat die Fouries verraadelik opgetree het deur hulle nie aan die onderneming om Isabel aan haar terug te gee, gestand te doen nie.
(f) Die wyse waarop die Fouries die bevel van hierdie hof verkry het moet afgekeur word. Dit sal in die kostebevel wat ek sal maak, weerspiëel word.
(g) Ek moet in die belang van Isabel optree. Die lank tyd wat Isabel in die sorg van die Fouries verkeer het, beinvloed my besluit want dit het tot die gevolg gelei dat Isabel se binding met die Fouries sterker geword het en terselfdertyd haar binding met mev Ellis laat kwyn het.
(h) Die Fouries is nie van plan om Isabel gedurende haar tiener jare te versorg nie.
(i) Die maatskaplike werkers het gesamentlik besluit dat indien Isabel in graad 1 is behoort sy nie geskuif te word nie voordat sy graad 7 voltooi het nie. Ek aanvaar dat dit gewoonlik die geval behoort te wees maar in hierdie geval moet dit prys gegee word.
Die getuies
[137] Mev Ellis het as ‘n eerlik getuie voorgekom. Sy is deeglik onder kruisondervraging gepepper. ‘n Aantal skreiende stellings is aan haar gemaak maar geen getuienis is aangebied om die beskuldigings te staaf nie. Sy is klaarblyklik lief vir Isabel. Haar probeerslae om kontak met Isabel te maak is egter gepootjie deur ‘n gebrek aan finansies en ‘n afstand van 450 km (eenrigting). Sy is ook deeglik bewus van haar verantwoordelikheid as ouer om aandag aan haar ander twee kinders te verskaf. Sy het ten spyte van die versoeking om alles in die stryd te werp om Isabel se omhalwe nie haar versorging van die ander twee kinders te kort laat skiet het nie.
[138] Mev Ellis het die Fouries telefonies geteister. Dit kan nie goed gepraat word nie. Maar die Fouries het nie reg teenoor haar opgetree nie. Wanneer ‘n mens uit desperaatheid die sorg van ’n dogtertjie aan ander toevertrou en hulle die vertroue skaad, deur die kind van haar ma te weerhou soos in die geval, kan ‘n uitermatige reaksie deur die ma verstaan word maar nie goedgekeur word nie.
[139] Die gesinsadvokaat se verslag is gegrond op verslae wat hy ontvang het. Hy het goeie werk tydens die verhoor gedoen om die partye nader aan mekaar te bring. Sy medewerkers het egter nie getuienis afgelewer nie. Ek neem tog kennis van sy aanbeveling.
[140] Ek aanvaar mev De Villiers se getuienis. Haar getuienis is beperk tot die evalueering van een party. Tog het dit waarde. Ek is geneig om meer waarde te plaas op die deskundiges wat vertroud is met die omstandighede van albei partye. Tog verskil ek van hulle wat die stabiliteit van mev Ellis betref. Daarbenewens weet ek dat mev Ellis haar stabiliteit vir ‘n verdere tydperk gehandhaaf het.
[141] Me Engela van der Linde is ‘n ervare maatskaplike werker wat ‘n verslag, ‘n addendum tot die verslag en ‘n tweede verslag opgestel het. Ek verkies om egter haar getuienis en verslae met omsigtigheid te bejeen. Ek is tot die benadering gedwing deur enkele aspekte wat uit die getuienis voortspruit. Tensy haar bevindinge en menings deur ander deskundiges beaam word, sal ek huiwerig wees om op haar getuienis staat te maak. Tog maak sy enkele goeie punte en ek neem kennis daarvan.
[142] Ek glo dat haar betrokkenheid by die Fouries begin het voordat die beweerde noodsaaklikheid vir die dringende aansoek onstaan het. Die Fouries was immers besig om aanneming te ondersoek. Me Van der Linde, ten spyte van verskillende bronne tot haar beskikking het nie die datum van die eerste konsultatsie bekend gemaak nie. Mnr Danfuss SC gee toe, in sy hoofde, dat sy in 2007, met ander woorde voor die dringende aansoek onstaan het, betrokke was.
[143] In haar eerste verslag het sy ‘n aanbeveling gedoen ten spyte daarvan dat sy nie ‘n besoek by mev Ellis afgelê het nie. Dit is nie toelaatbaar volgens die etiek van die professie nie.
[144] Me Van der Linde se derde verslag van 2009, wat baie laat in die verhoor aan mev Ellis se regspan beskikbaar gestel is, is gesensor. Die eerste vyf bladsye wat met mev Fourie handel is weggelaat. ‘n Deskundige getuie is ‘n getuie van die hof en nie die van die een of ander party nie. Sien Stock v Stock 1981 (3) SA 1280 (A). Hierdie verslag is nie ingedien nie. Die indruk is geskep dat sy kant gekies het al is die nie werklik so nie.
[145] Me Van der Linde, soos mnr Fourie getuig het, is nie alleen gebruik as ‘n deskundige getuie nie. Sy het die Fouries ten opsigte van taktiek wat hierdie litigasie betref, geadviseer. Isabel se massa is op haar aanbeveling voor en na haar besoek aan mev Ellis vasgestel.
[146] Ek stem egter saam met haar dat mev Ellis in belang van Isabel opgetree het toe sy haar kind aan die Fouries toevertrou het.
[147] Mev Garb is ‘n ervare maatskaplike werker met jare se ondervinding. Sy is die enigse maatskaplike werker wat die huishoudelike omstandighede van beide mev Ellis en die Fouries ondersoek het. Sy is dus die enigste maatskaplike werker wat, in hierdie saak, gekwalifiseerd is om ‘n aanbeveling te doen. Ek vind haar getuienis aanvaarbaar. Ek deel egter nie haar siening dat mev Ellis en al drie kinders moes eerder ‘n kamer deel as by verskillende mense ‘n heenkome vind nie. In die konteks van die geval sou mev Ellis haar aan ‘n besoek van ‘n welsynswerker blootgestel het. Ek aanvaar egter nie haar aanbeveling nie maar ek het by haar insigte gebaat.
[148] Prof Weyers se getuienis is baie belangrik want hy het behoorlik ondersoek ingestel and kon hy die dinamika van wat gebeur het en wat kan gebeur in konteks geplaas. Sy insette, wat die ontwikkeling van die kind en die risko’s wat geloop kan word, was besonder insiggewend en waardevol. Ek stem egter nie met hom saam ten opsigte van sy evalusie van die Fouries nie. Maar ek erken dat hulle lief is vir Isabel en haar goed oppas en ondersteun. Daar is egter beperking op hulle liefde vir Isabel. Indien Isabel buite hulle sirkel van invloed sou beweeg en indien hulle nie hulle sin kry nie sal hulle die geld kraantjie sonder meer toemaak.
[149] Ek handel nou met die getuienis van die Fouries. Die Fouries het persoonlik en deur middel van die deskundiges, te kenne dat hulle nie end uit wil optree as die “ouers” van Isabel nie. Hulle het wel hulle eie opvolgingsplanne. Die sou behels dat hulle Ben wil oortuig om aansoek te doen vir die primêre sorg van Isabel. En dit nieteenstaande dat hulle sy eggenote hulle huis belet en alhoewel hulle Ben in ‘n sekere mate verwerp het. Tog het hulle Ben in ander opsigte by gestaan.
[150] Die Fouries het ‘n afsnypunt in gedagte. Dit is nie noodwendig ‘n vaste of ontwrigbare afsluitingsdatum nie. Die Fouries binnekort wil aftree. Ek vermoed, op grond van my gesprek met Isabel, dat hulle het reeds naby aan afskaal beweeg. Volgens Isabel bestuur haar oom reeds die Spur. Die afskeiding sal saamval met of voor puberteit en die afloop van Isabel se laerskool loopbaan. Sodra Isabel 11 jaar oud word sal mev Fourie 60 en mnr Fourie 64 jaar oud wees.
[151] Die gedagtegang van die Fouries, mev Garb en prof Weyers is dat Isabel moontlik self kan besluit met wie sy wil woon. Indien mev Ellis in aanraking sou bly sal dit voorbereiding en die opbou van ‘n binding met Isabel verg. Die Fouries se welwillenheid ten opsigte van mev Ellis het ‘n laagtepunt bereik. Mnr Fourie het dit uitdruklik gestel dat tensy die hof hom gelas om iets te doen sal hy dit nie uit eie beweging doen nie. Ek is bevrees dat die Fouries nie geneig sal wees om hulle samewerking aan te bied nie.
[152] Tog het die verhouding tussen mev Ellis en die Fouries, soos mnr Fourie erken het, in die loop van die hofsaak verbeter. Die verhouding tussen die partye moet nog verbeter. Dit is noodsaaklik volgens die deskundige aanbevelings van mev Garb en veral prof Weyers en dit sal in belang van die volle ontwikkeling van Isabel wees.
[153] Die deskundiges is dit eens dat Mev Ellis nie ‘n onbevoegde moeder is nie. Mev Ellis, in teenstelling met mev Fourie, se lewe is deeglik in die openbaar ondersoek en blootgelê. Daar is nie eers ‘n poging aangewend om van die stellings en beskuldingings wat aan mev Ellis toegevoeg is, te bewys nie.
[154] Die bevoegdheid van mev Fourie is nie as sodanig in geskil geplaas nie; al is sy daaroor gekruis ondervra. Alhoewel ek oortuig is dat die Fouries baie lief is vir Isabel, is die liefde is nie onvoorwaardelik nie. Soos mev Fourie getuig het sal hulle die koste van tersiereopleiding vir Isabel betaal. Indien Isabel egter in die sorg van mev Ellis geplaas word sal die Fouries nie hulle weg oop sien om Isabel by te staan nie. Isabel sal nie as deel van die familie beskou word nie. Mev Fourie kan haar nie verbind om die soort bystand te lewer nie. Mnr Fourie het ‘n nog sterker uitgangspunt uitgespreek. Ongelukkig, wat die Fouries betref, is ‘n groot deel van hulle besorgheid ten opsigte van Isabel gekoppel aan hulle “besit” van Isabel.
[155] Ek is oortuig dat mev Ellis ‘n bevoegde ma is. Sy het in belang van haar kinders opgetree en sy stel haar kinders se belange voorop. Sy het wel ‘n geskiedenis van onstabilitiet. Prof Weyers het dit in perspektief geplaas. Tog het sy ‘n keerpunt geraak. Sy het egter nie volgens prof Weyers en mev Garb genoegsame bewys gelewer dat sy ‘n stabiele lewenswyse handhaaf nie. Tog het nog ‘n jaar van stabiliteit verby gegaan. En ek is van plan om nagenoeg nog twee jaar te laat verbygaan. My bevel sal dit duidelik maak. Ek is oortuig dat enige onstabiliteit wat mag in die tussentyd intree onder die aandag van hierdie hof gebring sal word.
[156] Prof Weyers se advies dat sy van loopbaan moet verander ten einde sukses te behaal is nie ‘n geldige rede om haar van die sorg van Isabel te ontneem nie. Mev Ellis is nie ‘n perfekte mens nie. Wie is? Die lewe en die reg vereis nie dat ‘n moeder in alle opsigte perfek moet wees nie. Dit is voldoende indien sy ‘n liefdevolle, belangstellende persoon is wat haar kinders aan die lewe kan hou, hulle bemoedig, inspireer, koester en sekuritiet verskaf. Dat sy dit mag nodig vind om onderhoud van haar kinders se respektiewe vaders (mnr Grobbelaar en Ben) te eis is haar goeie reg.
[157] Ek is oortuig dat die voorstel dat Isabel sodra sy ‘n tiener word, die besluit by wie sy wil gaan woon moet neem, onbillik teenoor haar gaan wees. Sodra Isabel haar tiener jare nader gaan dit vir haar bitter moeilik wees om ‘n gewigtige besluit soos die te maak. Dit val saam met dié onsekerhede en woeling wat met purbiteit saamgaan. Die besluit moet voor die aanbreek van puberteit gemaak word. Dit is ook nie regverdig dat sy die besluit nou moet neem nie. Ek hou egter my gesprek met haar in gedagte. Sy weet nie, so ver ek kan sien, dat sy nie end uit by die Fouries sal kan woon nie.
[158] Indien Isabel die voorgestelde besluit gedurende haar tienerjare moet maak mag dit wees dat die ouderdom van die Fouries of hulle omstandighede hulle nie in staat sal stel om haar by haar ma te ondersteun nie. Nog belangriker lei ek af, uit die Fouries se getuienis, dat hulle nie veel belangstel in die herstel van die moeder/dogter verhouding nie. Hulle is ongeneë om vrywillig en aktief daaraan te werk of deel te neem. Tog sal hulle dit doen indien dit deel vorm van ‘n hofbevel.
[159] Ek moet erken dat die ethos van geneeshere, wat hulle oor mense ontferm and versorg, om nie skade aan hulle pasiente te doen nie, my beindruk. Die eeue oue reël bevat ‘n groot waarheid. Ek sou nie met Isabel se primêre woning reëlings wou inmeng nie behalwe dat die aspekte, wat ek hiebo bespreek het, my oortuig het dat dit is in Isabel se belang, om die oorplasing versigtig en met sorg oor ‘n redelike lang tydperk in te faseer.
[160] Ek is dus van plan om Isabel se primêre woonplek met ingang 10 Desember 2014 te verander en haar in die sorg van mev Ellis te plaas. Die redelike lank tydperk maak dit moontlik om die verhouding tussen ma en dogter te herstel. Die hofbevel maak voorsiening vir die nodig reëlings in die verband. Die bevel handel ook met kontak met Isabel vir die tydperk voor en na 10 Desember 2014.
[161] ‘n Hofbevel kan net sover strek. In hierdie geval doen ek ‘n beroep op die party om, in belang van Isabel, aan die gees van die bevel te voldoen.
Koste
[162] Die Fouries het goed geweet hoe om mev Ellis in die hande te kry sodat die dringende aansoek op haar bestel kon word. Hulle het doelbewus tersaaklke inligting in die verband van die hof weerhou. Hulle het die hof doelbewus mislei. Die laakbare optrede het gelei tot die huidige aansoek en hulle het die voordeel van die tydsverloop benut. Daarbenewens is beskuldigings aan mev Ellis gemaak wat hulle nie eers probeer bewys het nie. Ek is van plan om my misnoë uit te spreek deur die kostebevel te maak.
[163] Die aanhoor van getuienes is egter verleng deur die onverklaarbare wyse waarop adv Veldsman kruisondervraging beoefen het. In plaas van vrae te vra, is ‘n baie groot deel van die vrae voorafgegaan met ‘n inleiding of monoloog. Ek moes van tyd tot tyd vra: “En wat is die vraag?” So ook mev Garb.
[164] Die kruisondervraging het ook adv Danfuss SC tot raserny gedryf. My uitgangspunt is dat die saak gaan oor Isabel en die partye. Ek het probeer om die kruisondervraging in te kort sonder welslae. Dit bevorder nie die regspleging indien die bank gedurig in ‘n twis met ‘n advokaat gewikkel word nie. Dit lei die aandag af van die hoofsaak. Daarbenewens sal dit ‘n onstellende indruk wat die advokaat se klient betref skep, indien die hof haar advokaat dikwels moet aanspreek.
[165] Ek het dit oorweeg om die Fouries van ‘n gedeelte van die koste vry te stel omdat die verrigting deur die kruisondervraging uitgerek is. Ek het daarteen besluit omdat hlle moet bewus gemaak word dat hulle ‘n onreg teenoor mev Ellis en die hof gepleeg het. Die eerste en tweede respondent sal dus gelas word om die getakseerde koste te betaal. Dit geskied slegs op ‘n party en party skaal omdat ek aanvaar, wat die aansoek betref, dat die Fouries meen dat hulle in belang van Isabel op tree.
[166] Wat die voorbehoue koste betref:
(a) Die koste wat op 25 Februarie 2010 voorbehou is. Dit is duidelik dat die verslag van die gesinsdavokaat moes bekom word. Daarom sal daar geen bevel ten opsigte van koste wees.
(b) Die koste van 24 en 25 Februarie 2011. Die gesinsadvokaat se verslag was nie gereed nie. Die koste behoort derhalwe koste in die geding te wees.
(c) Koste van 21 en 22 Junie 2011. Die uitstel is hoofsaaklik veroorsaak deur die wyse waarop die eiseres se saak vir verhoor voorberei is. Die koste van die aansoek om uitstel word aan die eerste en tweede verweerders/respondente toegeken.
[167] Die derde verweerder/respondent het nie aan die verigtinge deelgeneem nie en dus nie tot die ophoping van koste bygedra nie. Daar sal geen kostebevel teen hom wees.
Bevel
[168] Ek verleen die volgende bevel:
1.1 Die primêre verblyf van die minderjarige kind, Isabel Fourie (Isabel), by die eerste en tweede verweerders/respondente duur voort tot 10 Desember 2014.
1.2 Met ingang van 10 Desember 2014 bly Isabel by die eiseres/applikante.
2. Kontak vir die tydperk wat eindig 10 Desember 2014:
2.1 Die eiseres/applikante mag Isabel te Vryburg enige naweek wat nie inmeng met Isabel se skolatiese, godsdienstige, sport of kulturele aktiwiteite besoek.
2.2 Die eiseres/applikante mag vra en die eerste en twee verweerders/respondente moet Isabel toelaat om by die eiseres elke lang naweek wat nie binne ‘n skoolvakansie begin nie, te kuier.
2.3 Isabel bring:
2.3.1 sewe aaneenlopende dae van die Julie 2013 skoolvakansie by die eiseres/applikante deur.
2.3.2 sewe aaneenlopende dae van die September 2013 skoolvakansies by die eiseres/applikante deur.
2.3.3 veertien aaneenlopende dae van die Desember 2013/Januarie 2014 skoolvakansies by die eiseres/applikante deur.
2.3.4 sewe aaneenlopende dae van die April 2014 skoolvakansies by die eiseres/applikante deur.
2.3.5 veertien aaneenlopende dae van die Julie 2014 skoolvakansies by die eiseres/applikante deur.
2.3.6 sewe aaneenlopende dae van die September 2014 skoolvakansies by die eiseres/applikante deur.
2.3.7 sewe dae van enige skoolvakansie, wat sy nie by die eiseres/applikante is nie, by die derde verweerder/respondente.
3. Isabel bring kersfees 2013 by die eiseres/applikante deur.
4. Die eiseres/applikante en die derde verweerder/respondent mag Isabel telefonies kontak binne alle redelike tye.
5. Die eiseres/applikante mag vir die doel Isabel van ‘n selfoon en lugtyd voorsien.
6. Die eiseres/applikante en die derde verweerder/respondent is geregtig op toegang tot alle inligting met betrekking tot Isabel se gesondheid en akademiese vordering en die eerste en tweede verweerders moet die hulle vroegtydig van enige skool-, godsdienstige, kulturele en sportfunksies inlig.
7.1 Dag tot dag besluitneming word deur die betrokke partye by wie Isabel op daardie stadium aanwesig is, geneem.
7.2 Eiseres neem alle besluite wat aan haar as voog van Isabel en ingevolge die Kinderwet 38 van 2005 uitgeoefen mag word.
8. Die eerste en tweede verweerders/respondente sal verplig wees, om op hul eie onkoste, Isabel na ‘n vooraf bepaalde plek op Klerksdorp te bring vir enige besoek wat buite Vryburg plaasvind en haar weer by die plek op die ooreengekome dag en tyd te kom haal. Die voormelde verweerders/respondente hoef nie die verpligting persoonlik na te kom nie. Hulle mag ‘n verantwoordelik en betroubare persoon gebruik om die verpligting namens hulle uit te voer.
9. Die eiseres/applikante mag ‘n deskundige van haar keuse aanstel om bindingsterapie te bewerkstellig. Die deskundige sal bepaal wanner en waar dit sal geskied, wie teenwoordig sal wees en hoe lank dit sal duur en hoeveel keer die moet plaasvind. Die eiseres/applikante en die eerste en tweede verweerders/respondente sal die koste van die deskundige gelykop dra. Die ander betrokkenes sal hulle eie onkoste dra. Elke party sal verplig wees om hulle samewerking te verleen.
10. Kontak vir die tydperk na 10 Desember 2014:
10.1 Die verweerders mag Isabel te Centurion enige naweek wat nie inmeng met Isabel se skolatiese, godsdienstige, sport of kulturele aktiwieteite nie kom kuier.
10.2 Die drie verweerders/respondente mag vra en die eiseres/applikante moet Isabel toelaat om by hulle twee lang naweke wat nie binne ‘n skoolvakansie begin nie te kom haal.
10.3 Al die ander skoolvakansies roteer tussen die eerste en tweede verweerders/respondente, die derde verweerder/respondent en die eiseres/applikante wat beide kort en lang vakansies insluit met die voorwaarde dat lang vakansies tot 14 dae beperk word.
10.4 Isabel bring kersfees 2014 by die eerste en tweede verweerders/respondente daarna by derde verweerder/respondent, gevolg deur eiseres/applikante en daarna roteer dit in dieselfde volgorde.
10.5 Die verweerders/respondente mag Isabel telefonies kontak binne alle redelike tye en haar van ‘n selfoon en lugtyd voorsien.
10.6 Die verweerders/respondente is geregtig op toegang tot alle inligting met betrekking tot Isabel se gesondheid en akademiese vordering en die eiseres moet die partye vroegtydig van enige skool-, godsdienstige, kulturele en sportsfunksies inlig.
11.1 Dag tot dag besluitneming word geneem deur die betrokke partye by wie Isabel op daardie stadium aanwesig is.
11.2 Alle besluite wat ‘n voog mag neem en wat volgens die Kinderwet 38 van 2005 verleen word, word deur die eiseres/applikante geneem.
12.1 Die partye mag ‘n sakebestuurder aanstel om verskille en probleme wat tussen die betrokkenes mag bestaan, te fasiliteer. Die koste van hierdie diens word gelykop tussen al die betrokke partye verdeel. Die sakebestuurder moet verkieslik ‘n kliniese sielkundige wees met minstens 5 jaar ondervinding op hierdie gebied.
12.2 Indien die partye nie ‘n sakebestuurder aanstel nie moet elke party tot a geskil ‘n betroubare tussenganger benoem wat sal poog om die geskil by te lê.
13.1 Die eerste en tweede verweerders/respondente is gelas om die eiseres/applikante se koste te betaal.
13.2. Die koste sal ook die volgende insluit:
(a) Die redelike koste van verbonde aan die verkryging mev De Villiers se deskundige verslae.
(b) Die redelike getakseerde fooie van mev De Villiers insluitend haar fooie vir die analise, onderhoude, ondersoek en raadpleging met die se deskundiges.
(c) Die redelike getakseerde vervoer onkoste van die eiseres en Shaun en Nadia om konsultasies en ondersoeke van of deur die eerste en tweede verweerders/respondente se deskundiges by te woon.
(d) Die eiseres/applikante word as ‘n noodsaaklike getuie verklaar.
14.1. Geen bevel word ten opsigte van die koste wat op 25 Februarie 2010 voorbehou is, gemaak nie.
14.2. Die koste van 24 en 25 Februarie 2011 wat voorbehou is, is koste in die geding.
14.3. Die koste van 21 en 22 Junie 2011moet deur die eiseres/applikante betaal word.
14. Die koste teen die eerste en tweede verweerders/respondente moet gesamentlik en afsonderlik betaal word, betaling deur die een sal die ander kwytskeld.
A A LANDMAN
REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF
VERSKYNINGS:
datum van verhoor : 20 & 21 Junie 2011
: 25 – 27 julie 2011
: 24 – 25 October 2011
: 19 – 20 Januarie 2012
: 14 Februarie 2013
datum van uitspraak : 25 April 2013
vir die applikante/eiseres : adv veldsman
vir die respondente/verweerders : adv danzfuss (sc)
prokureurs:
vir die applikante/eiseres : van rooyen tlhapi & wessels
vir die respondente/verweerders : smit & stanton