South Africa: North West High Court, Mafikeng Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: North West High Court, Mafikeng >> 2013 >> [2013] ZANWHC 93

| Noteup | LawCite

K.V and Another v Oosthuizen and Another (133A/09) [2013] ZANWHC 93 (13 June 2013)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE NOORDWES HOOGGEREGSHOF

(MAFIKENG)


SAAKNOMMER: 133A/09

In die saak tussen:

K […] V[…].....................................................................................................EERSTE EISER

G […] H[…] B[…].........................................................................................TWEEDE EISER

en

ELIZE OOSTHUIZEN...................................................................EERSTE VERWEERDER

HUGO VAN NIEKERK................................................................TWEEDE VERWEERDER

UITSPRAAK


LANDMAN R:

Inleiding


[1] Die eerste eiseres is K[…] V[…] wat die eis in haar verteenwoordigende hoedanigheid as natuurlike moeder en voog van haar minderjarige seun A[…] V[…] (A[…]) ingestel het. Die tweede eiser is G[…] H[…] B[…], A[…] se natuurlike vader. Die eerste verweerderes is Elize Oosthuizen (Elize) huidiglik 'n meerderjarige sakevrou. Die tweede verweerder is Hugo van Niekerk, ‘n meerderjarige sakeman.


Die pleitstukke


[2] Dit word beweer dat op 5 Februarie 2006 was A[…] 'n passasier in ‘n Toyota Hi-Lux ligte afleweringsvoertuig (die bakkie) wat deur die eerste verweerderes bestuur is. Sy het nie oor 'n geldige bestuurderslisensie beskik nie. Sy het beheer oor die bakkie verloor. As gevolg waarvan die bakkie omgeslaan het. Die ongeluk is veroorsaak deur die onregmatige en nalatige bestuur van eerste verweerderes in die volgende opsigte:


  • Sy het te vinnig in die heersende omstandighede gery;

  • ·Sy het versuim om behoorlike beheer oor die voertuig uit te oefen;

  • Sy het versuim om haar remme enigsins of betyds aan te wend.


As gevolg van haar nalatigheid het A[…] skade gely.


[3] Die eisers beweer dat die tweede verweerder vir die onregmatige en nalatige bestuur van die eerste verweerderes verantwoordelik is op grond daarvan dat hy op 5 Februarie 2006:


(a) bewus was dat sy nie oor ‘n geldige bestuurderslisensie beskik het nie;

(b) Elize die bakkie op die spesiale aandrang en versoek laat bestuur het ten behoewe van die tweede verweerder;

(c) A[…] aangemoedig het om as passasier saam met die eerste verweerderes die rit mee te maak, ten spyte van 'n uitdruklike verbod tot die teendeel deur eerste eiseres;

(d) daar het 'n regsplig op hom gerus het om toe te sien dat die eerste verweerderes nie 'n voertuig bestuur sonder 'n geldige rybewys nie en veral nie met passasiers nie;

(e) die regsplig verbreek het deur die eerste verweerderes aan te moedig en toe te laat om die bakkie sonder 'n geldige rybewys met A[…] as passasier daarin te bestuur;

(f) nalatig in die verbreking van die regsplig deurdat hy moes voorsien het dat eerste verweerderes die voertuig nalatig sou bestuur en daarmee 'n ongeluk kon veroorsaak, en sou die redelike man in tweede verweerder se posisie stappe geneem het ten einde die verbreking van die regsplig, nalatige bestuur en ongeluk te voorkom.


Wysiging van pleit


[4] Na die aanhoor van die getuienis van die eerste eiseres en A[…] het die verweeders aansoek gedoen om hulle pleit te wysig. Die aansoek om wysiging is op 7 Februarie 2013 aangehoor. Ek het die wysiging toegestaan en aangedui dat redes sal volg. Die redes word kortliks hieronder uiteengesit.

[5] Die wysiging bestaan uit ‘n toevoeging van 'n alternatiewe en ‘n nuwe verweer wat beweer dat A[…], die minderjarige kind, op datum van die ongeluk geag toerekeningsvatbaar te gewees het en dat hy bydraend nalatig was.

[6] Die verweerders beroep hulle daarop dat die basis vir die wysiging nie binne hulle kennis geval het nie voordat die verhoor 'n aanvang geneem het.

[7] Die eisers het die wysiging teen gestaan omdat:


(a) die voorgestelde wysiging 'n materiele wysiging is en skep derhalwe 'n nuwe verweer;

(b) die voorgestelde wysiging benadeel die eisers;

(c) die voorgestelde wysiging is mala fide;

(d) die eisers die saak anders sou benader het indien die wysiging vroeër tot hul aandag gekom het.


[8] Die betrokke regspraak is duidelik. In Pillai v Pillai 1962 (3) SA 867 (D) is dit beklemtoon dat ‘n hof kan ‘n wysiging toestaan al beteken dit dat ‘n nuwe skuldoorsaak daargestel word.

[9] Reël 11(10) van die Eenvormige Reëls van die Hooggeregshof bepaal dat ‘n hof kan ter enige stadium verlof verleen om pleitstukke te wysig en gelas dat koste betaal word of enige ander bevel maak soos die hof dit goeddunk. Die riglyne wat beliggaam is in vonnisse soos Moolman v Estate Moolman 1927 CPA 27 op 29 en Macduff and Co (in liquidation) v Johannesburg Consolidated Investment Co Ltd 1923 TPA 309 beklemtoon dat ‘n wysiging sal gewoonlik toegestaan word tensy dit benadeling inhou wat nie deur middel van ‘n kostebevel vergoed kan word nie of mala fide is of dit druis in teen dit wat reg en billik is.

[10] Ek het die wysiging toegestaan omdat dit geen benadeling vir die eisers inhou nie. Die getuienis wat mev V[…] en A[…] aangebied het sou nie anders uitsien nie. Indien nodig kon die getuies herroep word. Dit is slegs reg en billik dat die saak volledig uitgepluis word. Dit sou bitter moeilik gewees het om, sonder die aanhoor van getuienis, te besluit of A[…] doli capax was aldan nie.


Die onomstrede feite


[11] Op 5 Februarie 2006 het mev V[…], mnr V[…], A[…], toe 10 jaar en tien maande oud, en ‘n eenjarige seuntjie, ’n partytjie ter viering van die doop van Hugo van Niekerk en sy eggenote Susan se kind op ‘n plaas, oos van Zeerust,  bygewoon.  Nog ander gaste het die partytjie bygewoon insluitende mev Markgram.

[12] Elize Oosthuizen, gebore Van der Merwe, die kleinsus van Susan Van Nierkerk (tweede verweerder se destydse eggenoot) het baie tyd met haar suster en Hugo deurgebring. Sy was teenwoordig by die geleentheid. Elize en A[..] was “soort van maats” maw hulle was aangewese op mekaar se geselskap wanneer die volwassenes gekuier het.

[13] Gedurende die oggend het Elize, toe 16 en sonder dat sy oor ‘n motorvoertuig bestuurderslisensie beskik, ‘n Toyota bakkie, wat aan Piet van Niekerk, die tweede verweerder se pa behoort het, geneem en saam met A[…] na ‘n plaaswinkel te Woodbine gery. Die pad was ‘n openbare grond pad.

[14] Nadat hulle tjippies, koeldrank en Black Label biere by die winkel gekoop het, het hulle terug in die rigting van die plaas gery. Ongeveer 600 meter van die winkel het die bakkie, wat deur Elize bestuur is, op die grond pad gegly, die pad verlaat, omgerol en Elize en A[…] is beseer.

[15] An en Elize het saam of afsonderlik na die winkel geloop en, deurmiddel van die eienares van die winkel, Susan van Niekerk van die ongeluk in kennis gestel. Hugo het die twee met sy bakkie gaan haal en teruggeneem plaas toe. Die V[…] het hulle na die Zeerust Hospitaal geneem waar hulle behandeling ontvang het.

[16] Die diep wond op A[…] se linker voorarm is toegewerk. Die wond het septies geraak en hy is in die Sunninghill Hospitaal opgeneem. Hy het ‘n aantal dae gebly totdat hy ontslaan is.

[17] Piet van Niekerk het ‘n valse verklaring by die polisie afgelê en ‘n valse versekeringseis ingestel. Hy is intussen oorlede.


Die geskilpunte


[18] Die partye verskil van mekaar ten opsigte enkele feite aspekte, naamlik:

(a) of Elize nalatigheid was en het dit die skade veroorsaak?

(b) het A[…] hom skuldig aan bydraende nalatigheid gemaak?

(c) het mev V[…] ingestem dat A[…] saam met Elize ry welwetende dat Elize nie oor ‘n lisensie beskik het nie?

(d) of tweede verweerder ‘n regsplig teenoor A[…] gehad het en nalatig versuim het om daarvolgens op te tree?


Elize se nalatigheid


[19] Alhoewel die verweerders aanvanklik ontken het dat die botsing te wyte is aan Elize se nalatigheid, het Elize haar getuienis afgesluit deur nalatigheid te erken. Sy het verduidelik dat sy nie opgewasse was vir die padtoestand nie. Sy het nie geweet wat om te doen toe die bakkie gegly het nie. Ek is ook oortuig dat sy te vinnig gery het onder die heersende pad omstandighede en dus nalatig bestuur het. Die nalatigheid het tot gevolg dat A[…] beseer is en daardeur het die eisers skade gely.


A[…] bydraende nalatig?


[20] Dit word beweer dat A[…] hom skuldig aan bydraende nalatighed gemaak het deurdat:


(a) hy het sy moeder se opdrag om nie saam te ry nie verontagsaam;

(b) hy het saam met Elize welwetende dat sy nie oor ‘n bestuurderslisensie beskik het nie, gery;

(c) hy nie sy sitplekgordel vasgemaak het nie;

  1. hy nie Elize gemaan het om stadiger te ry nie.

[21] Die bewering van bydraende nalatigheid verg ‘n ondersoek na die vraagstuk of A[…] wat 10 jaar en 10 maande oud was doli capax was in die besondere situasie. ‘n Kind tussen die ouderdom van 7 en 14 word doli incapax geag word. Die vermoede kan in spesifieke omstandighede weerlê word. Die toets om te bepaal of ‘n minderjarige kind doli capax is in Eskom Holdings Ltd v Hendricks (262/2004) [2005] ZASCA 46; [2005] 3 All SA 415 (SCA) (27 May 2005) herbevestig. Scott JA het homself soos volg uitgelaat:


[15] … In Weber v Santam Versekeringsmaatskappy Bpk 1983 (1) SA 381 (A) this court affirmed the distinction previously drawn in Jones NO v Santam Bpk 1965 (2) SA 542 (A) between, on the one hand, the issue of capacity on the part of a child to commit a wrong and, on the other, the issue of fault. In doing so, it declined to follow a view widely held, particularly in academic circles, that there was a need to introduce a subjective element into the concept of negligence in the case of children by requiring no more than a degree of care expected of a child of the age and maturity of the one in question. Instead, the court in Weber held that the first inquiry, ie as to capacity, was subjective, while the second, ie as to fault, was objective. In other words, once a child was found to have the necessary capacity, its negligence or otherwise, was to be determined in accordance with the standard of the ordinary (adult) reasonable person.

[16] Following an exhaustive analysis of the Roman and subsequent authorities by both Jansen JA and Joubert JA (whose separate judgments were concurred in by the other three judges) the court affirmed the rule that infantes (children under seven years of age) are culpae incapax while, more significantly, children between the ages of seven and puberty (12 in the case of girls and 14 in the case of boys) were presumed to lack capacity until the contrary was proved by the party alleging negligence. (The existence or otherwise of the presumption was not decided in the Jones case, supra at 552A-C.) In passing, it is worthy of note that this gender-based distinction between girls and boys may well be unjustifiable. The more appropriate cut-off point would seem to be 14 years for children of both sexes, as would appear to be the case in the criminal law. See eg Rex v K 1956 (3) 353 (A); Attorney-General Transvaal v Additional Magistrate for Johannesburg 1924 (AD) 421 at 434.


[17] The application of an adult standard in judging the negligence of a child has been strongly criticized. (See eg J D van der Vyver SALJ 100 (1983) 575; Andrew Caiger (1983) 46 THRHR 477; Boberg The Law of Delict at 679.) Nonetheless, the force of the criticism is to some extent overcome by the emphasis placed by the court in Weber on the subjective nature of the inquiry into the element of capacity. It was stressed (at 389H-400A) that the inquiry was one of fact. In each case what had to be determined was whether the child in question had developed the emotional and intellectual maturity to appreciate the particular danger to be avoided and, if so, to act accordingly. Jansen JA (at 390H) referred with approval to the observation by Corbett JA in Roxa v Mtshayi 1975 (3) SA 761 (A) at 766A-B that the enquiry had to be related to ‘the particular acts or omissions complained of in the particular circumstances’. In the passage referred to, Corbett JA added:


  • It is not capacity in the abstract but capacity in relation to a particular duty situation that is of relevance.’


In the Weber case Jansen JA (at 400B-E) warned against over-emphasising the intelligence and schooling of the child as opposed to the inherent weaknesses associated with tender age and the propensity of children, however well schooled, to commit irrational and impulsive acts. (See also the remarks of Joubert JA at 410D-E.) Experience revealed, Jansen JA said (at 400C-D) that although children may be able to distinguish between right and wrong, they will often not be able to act in accordance with that appreciation; they became so engrossed in their play that they become oblivious of other considerations and acted impulsively. The learned judge accordingly warned against ‘placing an old head on young shoulders’ (400F-G).”


[22] By die beoordeling van die vraagstuk moet ek bepaal of A[…] doli capax was ten tye van die handeling. Ek moet dit in gedagte hou dat toe A[…] getuienis gelewer het hy 17 jaar oud was. Hy was toe nie die amper 11 jarige kind van 2006 nie. Maar selfs op 17 het hy ondeurdagte stellings gemaak bv dat hy dink dat dit moontlik is om die besonderse draai teen 160 Km per uur met goeie welslae te kan deur ry.

[23] Dr Petra Erasmus, ‘n hoogsgekwalifiseerde kindersielkundige en dosent het getuig dat A[…] nie in staat is om te kan weergee wat hy op 10 jarige ouderdom gevoel of ervaar het nie al lyk dit so.  Volgens Dr Erasmus is ‘n kind op 10 jaar en 10 maande ouderdom en selfs ouer nie biologies by magte om hoër denke te dink nie. Die kind se brein het net nie tot die stadium ontwikkel nie.

[24] Ek bevind dat A[…] nie in staat was om te voorsien dat sy optrede hom in gevaar sou stel en dat hy redelike stappe moes neem om die skade te voorkoms nie. A[…] was nie doli capax nie dus kan daar nie sprake van bydraende nalatigheid. Dus wat Elize, die eerste verweerderes, betref is sy 100% aanspreeklik vir enige skade wat die eisers mag opgedoen het.


Hugo van Niekerk se aanspreeklikheid


[25] Is Hugo van Niekerk ook aanspreeklik vir die skade? Hy kan alleenlik aanspreeklik wees op grond daarvan dat hy A[…] aangemoedig het om saam met Elize te ry welwetende dat mev V[…] A[…] verbied het om saam te ry en onder omstandighede waar hy onder ‘n regsplig verkeer het en versuim het om daaraan te voldoen.

[26] Hugo het Eilze gevra om koeldrank by die winkel te koop. Hy het bedoel dat sy soentoe per motorvoertuig moet ry. Hy het geweet dat sy 16 jaar oud was, en dat sy nie ’n bestuurderslisensie het nie en dat sy onervare was. Hy sê hy het nie A[…] versoek om saam met Elize te ry nie.

[27] Mev V[…] sê sy was in die kombuis besig om beesstert te maak. Sy het gehoor dat Elize gaan ry. Sy het A[…] verbied om saam te ry. Dit is egter aan haar gestel dat sy A[…] uitdruklik toestemming om saam te ry, verleen het.

[28] A[…] het getuig dat Hugo sê dat Elize moet goed by Woodbine kafee gaan koop, naamlik koeldrank en tjips. Hugo sê ry met oom Piet se bakkie. Hulle koop toe ook ‘n paar black label biere.

[29] Elize het iets in haar kamer in die huis gaan haal. Hugo sê vir A[…] ry saam. A[…] sê hy moet eers sy ma vra. A[…] sê hy gaan gou net my ma vra. A[…] kry sy ma in die sitkamer. Hugo kom in sitkamer ma sê nee want Elize het nie ‘n lisensie nie. Hy naby was genoeg om dit te hoor. Toe kom Elize van haar kamer af en A[…] sê vir haar dat hy nie mag saam ry nie. Toe begin die kleintjies huil. Sy ma staan op om na hulle om te sien. Hugo sê weer vir A[…] gaan saam. A[…] sê sy ma het nee gesê. A[…] dink Hugo het hom geld gegee. Hulle ry weg.

[30] Hulle ry met die bakkie op die grond pad na die winkel. Elize het goed bestuur. Hulle ry terug op dieselfde pad vanaf die winkel na die plaas. Elize ry teen 120 kmph. Die bakkie nader ‘n draai met ‘n T-aansluiting voor. Elize ry op regterkant van die pad. Die bakkie gly na regs. Elize pluk die stuurwiel links ry uit die pad deur bome deur draad tot in land. Sy probeer die bakkie terugkeer en rol om. Die bakkie eindig 80 meter naby die pad wat hulle verlaat het; nader aan T-aansluiting. Die bakkie val op sy linkerkant. Elize val bo op hom en klim eerste uit. A[…] se linker arm is beseer; ook sy maag. Hulle loop na winkel en bel.

[31] Hugo kom alleen om hulle te haal.Niemand anders het saamgery nie. A[…] is agter op die bakkie gelaai. By die plaas skreeu sy ma op Hugo dat sy het Hugo gesê dat hy (A[…]) nie mag saam ry nie. Hugo het iets gesê soos ja ek weet.

[32] Elize Oosthuizen het nie getuig dat mev V[…] haar toestemming verleen het nie. Mnr Hugo van Niekerk het wel getuig dat nadat mev V[…] sê “ry hulle Zeerust toe”, sê hy Elize gaan nie dorp toe nie slegs na die plaaswinkel. Hy het egter nie getuig dat mev V[…] ingestem het nie.

[33] Mev Markgram, destyds 26, is deur die verweerders as getuie geroep. Alhoewel sy huisvriende van die verweerders is en ken sy die eiseres, is sy die naaste aan ‘n onafhanklike getuie wat getuig het. Sy het getuig dat Elize en A[…] het saam by die agter deur van die kombuis ingekom en Elize het verkondig dat sy gaan winkel toe om koeldrank te koop en A[…] gaan sigarette koop. Mev V[…] en A[…] stap sitkamer toe wat langsaan is en wat vanaf die kombuis gesien kan word. Mev V[…] het geld uit haar handsak gehaal en dit vir A[…] gegee. Sy maak die afleiding dat die geld vir die aankoop van sigarette voorsien is.

[34] Elize het nie getuig dat sy en A[…] by die agter deur ingestap het nie of dat sy gesê het wat mev Markgram sê sy gehoor het nie. Mev Markgram se getuienis bots met die van Hugo in die opsig dat hy gesê het dat hy met Elize met die gang afgestap het voordat hy besef het hy het nie geld nie. Elize sê dat sy en Hugo in die kamer ingestap het. Hugo het die kluis opgemaak en daarin gekyk en geen geld gevind het nie. Mev Markgram sê dat Elize en Susan het in die gang afgestap. Sy weet nie of hulle in die slaapkamer in was nie. Hugo se getuienis bots in sekere opsigte met die van Elize. Hulle het, sê hy, in die gang omgedraai.

[35] Dit is aan mev V[…] gestel dat, toe die kinders teruggebring is, het sy gesê: “Ek moes nooit hom toegelaat het om saam te ry nie.” Yolanda sou sê dat sy dit gehoor het”.

[36] Ek bevind dat mev V[…] A[…] belet het om saam met Elize te ry en wel tot Hugo van Niekerk se kennis. Ek bevind ook dat Hugo van Niekerk A[…] aangemoedig het om saam met Elize te ry. Hugo van Niekerk was goed vertroud met Elize se ouderdom, gebrek aan bestuurservaring en dat sy nie oor ‘n bestuurderslisensie beskik het nie.

[37] Ten spyte van sy ma se opdrag het A[…] saam gery. Ek het gedink dat A[…] nie haar opdrag sou verontagsaam nie veral omdat ek oortuig is dat mev V[…] ‘n domineerende rol in sy lewe speel maar die swak getuienis van die verweerders dwing my om die teenoorgestelde afleiding te maak.

[38] In Jacobs v Chairman, Governing Body, Rhodes High School and Others 2011 (1) SA 160 (WCC) in paras 12 – 16:


[12] . . . . It is well established in our law that negligent conduct giving rise to damages will only be actionable if it is “wrongful”… In assessing whether or not a legal duty exists in a particular case, all the circumstances and relevant factors of the case are taken into consideration. The court then determines whether it is reasonable to have expected the defendant to take positive steps to prevent the harm by making a value judgment based, inter alia, upon its perceptions of the legal convictions of the community and positive policy considerations (Van Eeden v Minister of Safety and Security (supra) at 395H-397C). Reasonableness in the context of wrongfulness is different from the reasonableness of the conduct itself. The former concerns the reasonableness of imposing liability, whereas the latter concerns the question of negligence. In the context of wrongfulness it would be better to qualify the legal duty “as the legal duty not to be negligent” or put differently, whether “the negligent conduct is actionable” (Trustees, Two Oceans Aquarium Trust v Kantey & Templer (Pty) Ltd 2006 (3) SA 138 (SCA), 2006 (3) SA 138 (SCA), [2007] 1 ALL SA 240 at 144C – 145B).

[16] . . . . . The Constitutional court went on to say at para 78 as follows:

In determining whether a legal duty exists whether in private or public law, careful analysis of the relevant constitutional provisions, any relevant statutory duties and the relevant context will be required. It will be necessary too to take account of their constitutional norms, important and relevant ones being the principle of effectiveness and the need to be responsive to the people’s needs.’”


[39] By die beoordeling van die vraagstuk of daar ‘n regsplig bestaan op ‘n volwassene om ‘n kind teen leed te beskerm neem ek die volgende in ag. Artikel 28 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika verskans sekere regte. Die regte van kinders word veral in artikel 28 uiteengesit. Artikel 28(2) bepaal dat: “’n Kind se beste belang is van deurslaggewende belang in elke aangeleentheid wat die kind raak.” Die Kinderwet 38 van 2005 gee uiting aan artikel 28 en herhaal die beginsel. Dit volg dus dat ‘n volwassene behoort nie ‘n kind, veral ‘n kind wat hy of sy kan beinvloed, te oortuig om aan aktiwiteite wat gevaar inhou deel te neem nie en beslis nie waar redelike en billike stappe nie gedoen word om leed te voorkom nie.

[41] Die uitoefening van die menigte regte, verpligtinge en bevoeghede wat in die Kinderwet vervat is as ook ander wetgewing wat van toepassing op kinders is, moet in die beste belang van die kind uitgeoefen word. Die beginsel het nie sy primere onstaan in die Grondwet maar in die aard van sosiale wesens om kinders te beskerm totdat hulle selfstandig is. Die verskansing van die verpligting in die Grondwet gee die beginsel of gedragsnorm regsstukrag. Sodat dit kan van ‘n volwassene wat in aanraking met ‘n kind is, verwag word om nie die kind te oortuig om hom of haar aan aktiwieteite bloot te stel wat gevaar en leed en skade inhou. Gevolglik berus daar ‘n regsplig op so ‘n volwassene.

[42] Die bestuur van ‘n motorvoertuig verg kundigheid, kennis van die padreëls en ‘n mate van oordeel. Motorbestuur en motor ry hou gevare in vir die bestuurder, passassiers en ander padgebruikers. Daarom bepaal die Wet persone moet eers die ouderdom van 17 bereik voordat hulle ‘n leerlingsbestuurders-lisensie mag uitneem. Op 18 mag hulle wel aansoek om ‘n bestuurderslisensie aansoek doen. ‘n Toets word deur wetgewing daargestel om te bepaal of ‘n aansoekdoener oor die nodige kundigeheid, kennis van die padreëls en ‘n mate van oordeel beskik.

[43] Iemand wat ‘n kind oortuig of beweeg of aanmoedig om teen sy ouers se sin met ‘n ongelisensieerde en onevare bestuurder op ‘n openbare pad saam te ry oortree die regsplig wat ek so pas uiteengesit het; boonop sonder om te sorg dat die kind ‘n veiligheidsgordel te gebruik.

[44] Die handeling van die tweede verweerder moet gemeet word teen die die gedrag van ‘n redelike person. In Kruger v Coetzee 1966 (2) SA 428 (A) op 430E-F word dit gestel soos volg:



(a) a diligens paterfamilias in the position of the defendant –

(i) would foresee the reasonable possibility of his conduct injuring another in his person or property and causing him patrimonial loss; and

(ii) would take reasonable steps to guard against such occurrence; and

(b) the defendant failed to take such steps.”



[45] ‘n Redelike persoon in die posisie van Hugo van Niekerk sou nie so opgetree het nie.  Die tweede verweerder het dus nalatig opgetree en die nalatigheid het die skade wat A[…] opgedoen het, veroorsaak. Die verweerders is gesamentlik en afsonderlik aanspreeklik vir die skade.  Ek is nie gevra om die verantwoordelikheid vir die skade van die verweerders onderling te bepaal nie.

Bevel

[45] Die volgende bevel word toegestaan:


1. Die eerste en tweede verweerders is gesamentlik verantwoordelik vir die betaling van die skade wat die eisers opgedoen het ten opsigte van A[…] V[…].

2. Die verweerders word gelas om die eisers se koste tot op datum van die laaste dag van verhoor te betaal insluitende:

(a) die redelike takseerbare koste vir die verkryging van Dr Petra Erasmus se verslag kragtens Reel 36(9)(a) en (b).

(b) die redelike takseerbare fooie van Dr Petra Erasmus.

3. Die eerste eiseres word ‘n noodsaaklike getuie verklaar.


A A LANDMAN

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF


VERSKYNINGS:

datum van verhoor: 20 – 22 Mei 2013

datum van uitspraak: 13 Junie 2013

vir die eiseres: adv hattingh

vir die verweerders: adv g maree

prokureurs vir eisers: botha coetzer & smith

prokureurs vir verweerders: smit & stanton ink.