South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1985 >> [1985] ZASCA 116

| Noteup | LawCite

S v Moatche (150/1985) [1985] ZASCA 116 (14 November 1985)

Download original files

PDF format

RTF format


LL Saak No 150/1985

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
APPeLAFDELING

In die saak tussen:

SIMON RAMOATHSE MOATCHE Appellant
en

DIE STAAT Respondent

CORAM: BOTHA, GROSSKOPF ARR et CILLIE WN AR

VERHOORDATUM: 14 NOVEMBER 1985
LEWERINGSDATUM: 22 NOVEMBER 1985

UITSPRAAK

/BOTHA AR ...

2.

BOTHA AR:-

Die appellant is in die Witwatersrandse Plaas-
like Afdeling deur VERMOOTEN Wn R en assessore skuldig
bevind aan moord en aan poging tot roof met verswarende
omstandighede. Met betrekking tot die skuldigbevinding
aan moord het die Verhoorhof bevind dat daar geen ver-
sagtende omstandighede aanwesig was nie en gevolglik is
die appellant die doodvonnis opgelê. Ten opsigte van
die skuldigbevinding aan poging tot roof is die appellant
gevonnis tot 8 jaar gevangenisstraf. Met verlof, ver-
leen ten gevolge van 'n versoekskrif aan die HOOFREGTER,
kom die appellant in hoër beroep teen sy skuldigbevinding
en vonnisse.

Die appellant was een van drie beskuldigdes
wat tesame aan die gemelde oortredings skuldig bevind is.
By die verhoor was hy beskuldigde 2. Ek sal na sy mede-
beskuldigdes afsonderlik verwys as beskuldigdes 1 en 3,
soos hulle by die verhoor was.

/Die ...

3.

Die oorledene in die saak is laat een aand
vermoor op 'n spoorwegstasie in die omgewing van Germis-
ton. 'n Lykskouing het aan die lig gebring dat hy 87
steekwonde opgedoen het. Sy lyk is tussen die platform
van die stasie en die spoorlyn aangetref.

Die Staat se saak teen die drie beskuldigdes
het in hoofsaak berus op die getuienis van Elizabeth
Radebe, na wie ek ter wille van beknoptheid sal verwys
as Elizabeth. Haar getuienis, in breë trekke opgesom,
was soos volg. Sy en die beskuldigde het in mekaar se
geselskap verkeer by 'n smokkelkroeg. Tussen 4-uur
die middag en 8-uur die aand het die vier van hulle te-
same' tussen 5 en 10 kwarte "blanke" bier gedrink. Later
het hulle gestap na die spoorweg en 'n trein gehaal. Op
die trein het die beskuldigdes gepraat daarvan dat hulle
iemand wou beroof. Toe die trein op die betrokke stasie
stilhou, het die oorledene afgeklim, gevolg deur die be-
skuldigdes en Elizabeth. Die beskuldigdes het die

/oorledene ...

4.

oorledene beetgepak en geld van hom geëis. Hy het
gesê dat hy nie geld het nie. Daarop het elk van die
beskuldigdes 'n mes te voorskyn gebring en die oorledene
begin steek. Elke beskuldigde het die oorledene her-
haaldelik en baie keer gesteek. Uiteindelik het die
oorledene beland tussen die platform en die treinspoor.
Daar het die beskuldigdes die oorledene gelos. Die
beskuldigdes en Elizabeth het toe die toneel saam ver-
laat. Nadat hulle 'n ent saam gestap het, is Elizabeth
en beskuldigde 1, tussen wie daar 'n liefdesverhouding
bestaan het en wat saamgewoon het, na beskuldigde 1 se
huis, terwyl die appellant en beskuldigde 3 hulle eie
koers ingeslaan het. Op die volgende dag het Eliza-
beth gesien dat beskuldigde 3 'n steekwond in sy voor-
arm opgedoen het. Beskuldigde 1 het aan haar verduide-
lik dat hy tydens die vorige aand se gebeure per ongeluk
vir beskuldigde 3 raakgesteek het.

Die appellant se getuienis was in hooftrekke

/soos ...

5.

soos volg. Hy en beskuldigde 1 was op pad van 'n plek
waar hulle "baie bottels" bier gedrink het na 'n ander
partytjie, toe hulle toevallig beskuldigde 3 raakgeloop
het, wat hulle toe verder vergesel het. Elizabeth was
glad nie in hulle geselskap daardie aand nie. Terwyl
hulle die voetgangersoorgang oor die treinspore by die
betrokke stasie genader het, het beskuldigde 3 met die
trappies na onder toe uit hulle gesig verdwyn. Hulle
hoor toe hy roep om hulp. Hulle is toe ook met die
trappies af en sien dat die oorledene, met 'n kierie in
sy hand, vir beskuldigde 3 teen die tralies by die trappe
vasdruk. Om beskuldigde 3 te bevry van dié aanval op
hom, haal beskuldigde 1 en die appellant toe elk 'n mes
uit: beskuldigde 1 steek die oorledene twee keer in sy
sy en die appellant steek hom een keer in die skouer.
Die oorledene laat val sy kierie en los beskuldigde 3.
Laasgenoemde haal sy eie mes uit en steek die oorledene,
herhaaldelik en aanhoudend. Om nou dié aanval te

/beëindig ...

6.

beëindig, gaan beskuldigde 1 weer nader en steek beskul-
digde 3 in die arm. Beskuldigde 3 sit egter sy aanval
op die oorledene voort, en beskuldigde 1 en die appel-
lant loop toe weg. Toe hulle die toneel verlaat het,
was beskuldigde 3 steeds besig om die oorledene te steek
terwyl hy op die platform van die stasie gelê het. Op
pad huis toe het beskuldigde 3 weer by hulle aangesluit.
Beskuldigde 1 het sy hemp aan beskuldigde 3 gegee sodat
laasgenoemde die wond in sy arm daarmee kon verbind.
Volgens die appellant was hy in daardie stadium bang vir
beskuldigde 3. Later is elkeen van hulle na sy eie
huis toe.

Beskuldigde 1 het in sy getuienis wesenlik
presies dieselfde weergawe van die gebeure gegee as die
appellant. Beskuldigdê 3 het in sy getuienis ontken
dat hy daardie aand in die geselskap van beskuldigde 1
en die appellant was, en dat hy enige kennis dra van die
gebeure soos beskryf òf deur Elizabeth òf deur sy mede-

/beskuldigdes ...

7.

beskuldigdes.

Die Verhoorhof het, in die opweging van die
botsende getuienis soos hierbo opgesom, bevind dat
Elizabeth se getuienis in elke wesenlike opsig bevre-
digend was, dat haar getuienis geloofwaardig was en dat
die Hof met vertroue daarop kon staatmaak, terwyl die
getuienis van beskuldigde 1 en die appellant in verskeie
opsigte onwaarskynlik en ongeloofwaardig was en dat dit
(asook die getuienis van beskuldigde 3) as vals verwerp-
lik was.

Voor hierdie Hof was die betoog namens die
appellant toegespits op h kritiese ontleding van Eliza-
beth se getuienis, wat daarop gemik was om aan te toon
dat die gehalte daarvan te swak was om die Verhoorhof
se skuldigbevindings te regverdig.

Die hoofbeswaar wat teen Elizabeth se getuienis
geopper is, was dat sy 'n motief gehad het om valse ge-
tuienis teen beskuldigde 1 af te lê, en in die proses ook

/die ...

8.

die appellant (en beskuldigde 3) by haar valse storie
ingesleep het. Die beweerde motief is gebaseer op
die feit, wat vorendag gekom het in Elizabeth en be-
skuldigde 1 se getuienis, dat beskuldigde 1 die ver-
houding tussen hom en Elizabeth beëindig het na die
gebeure van die betrokke aand. Sy was daaroor
ongelukkig, aldus die betoog, en het dus uit blote
wraaksug 'n valse storie teen beskuldigde 1 en sy tra-
wante versin. Die betoog is onaanvaarbaar; om
verskeie redes. Dit blyk uit die polisiegetuie-
nis dat 'n ondersoekbeampte in die saak 'n verklaring
van Elizabeth afgeneem het by beskuldigde 1 se huis
terwyl die verhouding tussen hulle nog bestaan het
en voordat beskuldigde 1 dit beëindig het. Op
daardie stadium sou sy dus geen motief gehad het om
beskuldigde 1 valslik in die moeilikheid te laat beland
nie. Daar is geen rede om te dink dat haar getuie-
nis in enige wesenlike opsig afgewyk het van wat sy

/in ...

9.

in haar verklaring gesê het nie. Die appellant se
advokaat het gewag gemaak van die feit dat Elizabeth
tydens haar kruisondervraging vir die eerste keer
melding gemaak het van 'n beweerde onsuksesvolle poging
van die beskuldigdes om 'n ander slagoffer in die trein
reeds te beroof. Selfs al sou dit n afleiding regverdig
dat sy dié bewering nie in haar verklaring gemaak het nie,
kan daaruit geen aanduiding van onbetroubaarheid aan haar
kant gehaal word nie, want by die nalees van haar getuie-
nis blyk dit dat haar verwysing na 'n onsuksesvolle roof-
poging op die trein op so 'n natuurlike en spontane wyse
vorendag gekom het, in reaksie op kruisondervraging oor
haar getuienis dat die beskuldigdes gesê het dat hulle
iemand soek om te beroof, dat dit enige suggestie ontsenu
dat dié bewering 'n versinsel was.

Daarbenewens word Elizabeth se getuienis in
belangrike opsigte gestaaf deur ander getuienis. Dit is
voldoende om te verwys na die getuienis van twee polisie-
beamptes aangaande uitwysings wat beskuldigde 1 en die

/appellant ...

10.

appellant gedoen het na hulle inhegtenisneming. By die
betrokke toneel het hulle uitgewys bloedspatsels op die
trappe wat lei na die voetgangersoorgang, 'n bloedkol op
die platform, en die plek waar die lyk van die oorledene
aangetref is tussen die platform en die treinspoor. Al
die plekke (soos aangedui op 'n sketsplan wat 'n bewysstuk
was) pas presies in by die besonderhede van Elizabeth se
getuienis. Die eerste twee plekke pas ook in by die
weergawes van beskuldigde 1 en die appellant, maar daar
moet in gedagte gehou word dat hulle beweer dat Elizabeth
hoegenaamd nie op die toneel aanwesig was tydens die voor-
val wat hulle beskryf het nie. Die derde plek (waar
die lyk van die oorledene gelê het) pas nie in by die
getuienis van beskuldigde 1 en die appellant nie; vol-
gens hulle weergawe sou hulle nie bewus gewees het daar-
van nie. Hulle het dan ook daardie uitwysing ontken,
maar die Verhoorhof het die polisiegetuienis geloofwaar-
dig bevind en daar is geen rede aangevoer waarom dié

/bevinding ...

11.

bevinding aanvegbaar sou wees nie. Getoets aan die
hand van beskuldigde 1 en die appellant se weergawe van
die gebeure, met inagneming van hulle bewering dat
Elizabeth nie aanwesig was nie, het die stawende ge-
tuienis hierbo genoem die uitwerking dat dit onmoontlik
is om te aanvaar dat Elizabeth se getuienis 'n versinsel
was.

Afgesien van die stawing van haar getuienis,
blyk dit uit 'n bestudering van Elizabeth se getuienis in
die oorkonde dat sy die besonderhede van die gebeure wat
sy beskryf het, met soveel klaarblyklike vertroue weerge-
gee het dat dit ondenkbaar is dat sy nie in der waarheid
'n ooggetuie daarvan was nie.

Die ander punte van kritiek teen Elizabeth se
getuienis is ek nie van voorneme om op te noem nie. 'n
Enkele voorbeeld is genoeg om die aard daarvan toe te
lig. Daar is aangevoer dat sy nie geglo kon word nie,
omdat sy sê dat sy nie gesien het dat beskuldigde 1 vir

/beskuldigde ...

12.

beskuldigde 3 raakgesteek het nie, en ook nie dat die
wond later met beskuldigde 1 se hemp verbind is nie.
Van sulke "kritiek" hoef slegs gesê te word dat dit niks
om die lyf het nie.

In die geheel gesien, is daar geen grondslag
vir 'n bevinding dat die Verhoorhof die gehalte van Eliza-
beth se getuienis te hoog aangeslaan het nie.

Die appellant se weergawe (asook dié van
beskuldigde 1) van wat gebeur het, soos ek dit hierbo
opgesom het, is inherent in elke wesenlike opsig uiters
onwaarskynlik. Dit is onnodig om verder daarop in te
gaan. Die Verhoorhof was ten volle geregverdig om die
appellant se getuienis as ongeloofwaardig te verwerp.
Op die keper beskou, opgeweeg teen Elizabeth se getuie-
nis, is dit nie redelik moontlik dat die appellant se
getuienis waar kan wees nie.

Die gevolgtrekking is dat die appellant se
skuldigbevindings onaanvegbaar is.

/Vervolgens ...

13.

Vervolgens is daar namens die appellant betoog
dat die Verhoorhof gefouteer het deur te bevind dat daar
geen versagtende omstandighede aanwesig was ten opsigte
van die moord nie. In hierdie verband is daar gesteun
op die appellant se inname van drank voor die moord ge-
pleeg is, en op die appellant se jeugdigheid - hy was
ten tyde van die voorval 20 jaar oud, op 4 dae na.

Wat die drank betref, blyk dit uit Elizabeth
se getuienis dat die appellant nie in so 'n mate daardeur
aangetas was dat dit enige betekenisvolle uitwerking op
sy optrede gehad het nie. Die appellant self het nie
in sy eie getuienis te kenne gegee dat die drank wat hy
gedrink het sy selfbeheer aangetas het of op enige wyse
hoegenaamd 'n invloed gehad het op sy gedrag nie. Die
Verhoorhof het bevind dat die appellant nie deur die
drank aangetas was in 'n mate wat die morele laakbaarheid
van sy optrede verminder het nie.

Wat die appellant se jeugdigheid betref, het

/die ...

14.

die Verhoorhof bevind, aan die hand van die appellant se
deelname aan 'n bende-optrede, die beplanning van die mis-
daad, en die wyse waarop die moord gepleeg is, dat die
appellant se optrede voortgespruit het uit "inherente
boosheid" en dat sy jeugdigheid gevolglik nie as 'n ver-
sagtende omstandigheid gegeld het nie.

Uit die Verhoorregter se uitspraak oor die
vraag van versagtende omstandighede blyk dit dat die
Verhoorhof die aangeleentheid op 'n deeglike, sorgvuldige
en ewewigtige wyse oorweeg het. Die appellant se advo-
kaat kon nie anders as om toe te gee dat dit nie moontlik
is om te wys op enige mistasting van die Verhoorhof nie.
Daar kan sekerlik nie gesê word dat die gevolgtrekking
waartoe die Verhoorhof gekom het onredelik was nie. Dit
synde die geval, is daar geen ruimte vir hierdie Hof om
die Verhoorhof se bevinding te verander nie.

Die appellant se vonnis op die ondergeskikte
skuldigbevinding aan poging tot roof is nie aangeval nie.

/Die ...

15.

Die slotsom is dat die appèl van die hand gewys
word.

A.S. BOTHA AR

GROSSKOPF AR
STEM SAAM
CILLIé WN AR