South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1986 >>
[1986] ZASCA 56
| Noteup
| LawCite
S v Molekane (411/84) [1986] ZASCA 56 (23 May 1986)
Download original files |
LAZARUS MALEKANE APPELLANT
en
DIE STAAT RESPONDENT
SAAK NO. 411/84
/ccc
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPèLHOF)
In
die saak tussen:
LAZARUS MALEKANE APPELLANT
en
DIE STAAT RESPONDENT
CORAM: TRENGOVE, VILJOEN et
JACOBS ARR
VERHOOR: 16 MEI 1986
GELEWER: 23 MEI 1986
UITSPRAAK
TRENGOVE, AR:
Die/
2. Die appellant is in die rondgaande hof te Springs aan strafbare
manslag skuldig bevind en gevonnis tot vier jaar gevangenisstraf
waarvan twee
jaar op sekere voorwaardes vir 'n tydperk van vyf jaar opgeskort is. Die saak
het voortgespruit uit die dood van ene
Joseph Khubeka (die oorledene) wat op 25
Maart 1983 as gevolg van 'n steek-wond aan sy nek beswyk het. Die appellant kom
met verlof
van hierdie hof slegs teen sy vonnis in hoër beroep. Daar is
namens hom betoog dat 'n effektiewe vonnis van twee jaar gevangenisstraf
in,die
omstandighede van die onderhawige geval onredelik swaar is. Daar is in
dié verband aange-voer dat die verhoorhof die
gevangenisstraf in die
geheel moes opgeskort het en moontlik daarby ook 'n betreklike
stywe/
3. stywe boete moes opgelê het.
Die feite van hierdie
saak is betreklik eenvoudig. Aangaande die omstandighede waarin die oor-ledene
gedood is, was daar net twee
getuies, naamlik, die staatsgetuie, Ernest
Sikhosana, 'n vriend van die oorledene, en die appellant self. Hoewel hulle
weergawes
van wat op die kritieke fase sou gebeur het veral in een opsig van
mekaar verskil, stem hulle getuienis tog in baie ander opsigte
ooreen. Dit kan
in breë trekke soos volg saamge-vat word. Op Vrydagaand, 25 Mei 1983, was
daar 'n soge-naamde stokvel (of drankpartytjie)
by die huis van die appellant se
onmiddellike buurman, ene George Dlongdo, in die woongebied Daveyton. Daar was
heelwat mense wat
dié/
4. dié aand by hierdie huis kom drink het. Toe die
getuie Sikhosana daar aankom, was die oorledene reeds daar. Hy het saam
met
vriende gesit en bier drink en Sikhosana het by hulle aangesluit. Hulle het
voortgegaan om bier te drink. Die appellant het om
ongeveer 22h30 daar
opge-daag. Hy het reeds vroeër die aand 'n hele paar blikkies bier gedrink.
Hoewel hy blykbaar die oorledene
geken het, het hulle dié aand, by
Dlongdo se huis, nie in mekaar se ge-selskap verkeer nie. Nadat die appellant 'n
tydlank
saam met vriende gesit en bier drink het, het Dlongdo aan hom kom
sê hy hoor daar breek vensterruite by sy huis. Die appellant
en een van sy
vriende, ene Daniel (of Duze) is toe dade-lik daarheen. Hulle het die oorledene
daar met
'n klip/
5. 'n klip in sy hand voor 'n stukkende vensterruit aangetref.
Omdat dit donker was en hy die oorledene nie onmiddellik herken het
nie, het die
appellant gedink dat dit "h skelm is wat by sy huis wou inbreek. Soos 'n mens
goed kan be-gryp, het die voorval die
appellant baie ontstel. Soos hy self
gesê het "... ek het baie kwaad geword toe ek sien dat hierdie man my
vensterruite stukkend
gegooi het want daar is nog baie geld wat ek op hierdie
huis skuld." Dit is vanaf hierdie punt dat die appellant se relaas van die
verdere verloop van sake verskil van dié van die staatsgetuie, Ernest
Sikhosana. Die appellant het gesê dat toe hy die
skade sien wat die
oorledene aan-gerig het, was hy woedend. Hy en sy vriend Daniel het
die/
6. die oorledene vasgegryp. Op daardie oomblik het 'n aantal ander
persone, oënskynlik vriende van die oor-ledene, skielik op
die toneel
verskyn. Hulle het die oorledene probeer wegtrek. En toe dit gebeur, het die
appellant die oorledene die noodlottige steekwond
toegedien met 'n mes wat hy
toevallig by hom gehad het. Die appellant het te kenne gegee dat die drank hom
aange-tas het, dat hy
baie ontsteld was oor die gebreekte venster-ruit en dat hy
nie bedoel het om die oorledene noodlottig te beseer nie maar hom slegs
wou
skrik maak.
Sikhosana het 'n ietwat ander prentjie ge-skilder van die aanranding op die oorledene. Hy het bevestig dat die oorledene op 'n stadium die vertrek
waarin/
7. waarin hulle gesit en drink het, verlaat het. Sikhosana is
kort daarna ook na buite. Toe hy buite kom, sien hy die oorledene op
die
appellant se erf, aan die agterkant van die huis, saam met die appellant en nog
twee onbekende persone. Dit was donker en hulle
was ongeveer 10 tot 15 tree van
hom af. Die oorledene en die appellant het van aangesig tot aangesig gestaan.
Sikhosana het die oor-ledéne
hoor sê "Lazarus kom ons praat.
Lazarus kom ons praat." Hy sien toe hoe die appellant na die oorledene steek met
'n voorwerp
wat soos 'n mes gelyk het. Sikhosana het nader gehardloop en gevind
dat die oorledene ernstig beseer is. Hy het die oorledene bygestaan
en iemand
ge-kry om hom hospitaal toe te neem. Hy het op pad daarheen
beswyk./
8.
beswyk. Tot sover die opsomming van die getuienis aan-
gaande die
omstandighede waarin die oorledene gedood is.
Die verhoorregter het nie in sy uitspraak
enige
geloofwaardigheidsbevindings gemaak nie. Hy het,
met ander woorde, nie die
appellant se weergawe van die
gebeure verwerp nie. Nadat die regter die
getuienis op-
gesom het, het hy met verwysing na die appellant se bewering
dat hy nie
die oorledene wou doodsteek nie, gesê:
"Dit is maklik om so 'n storie te versin, maar na aanhoor van die twee getuies weet ek nie presies wat die beskuldigde se toe-stand was nie. Was hy nog normaal of was hy aangetas deur die inname van drank. Aangesien dit wel bewys is dat die oor-ledene in die nag by sy huis gestaan het en die ruit was gebreek en oorledene het 'n klip in sy hand, moet ek hom die voordeel van die twyfel gee en aanvaar dat hy kwaad
was/
9.
was en in sy woede saam met die inname van drank hy moontlik nie die bedoeling gehad het om die oorledene te dood nie."
Die appellant is gevolglik aan strafbare manslag skuldig
bevind.
Hoewel dit nie in die oorkonde aangeteken is
nie, is dit gemene saak dat
die appellant, na sy skuldig-
bevinding,ingevolge artikel 271(4) van die
Strafkode erken
het dat hy op 10 Februarie 1978 skuldig bevind is aan
aan-
randing met die opset om te beseer en gevonnis is tot be-
taling van
'n boete van R40,00, alternatiewelik, gevangenis-
straf vir 'n tydperk van 40 dae. Geen besonderhede in
verband met hierdie
misdryf is aan die hof voorgelê nie,
en gesien die betreklike ligte vonnis is dit onwaarskynlik
dat/
10. dat dit 'n aanranding van 'n ernstige aard sou gewees het. Die
appellant het geen ander vorige veroordelings gehad nie.
Dit is verder gemene
saak - hoewel ook dit nie uit die oorkonde blyk nie - dat die volgende felte
aan-gaande die appellant se persoonlike
omstandighede met die instemming van die
Staat aan die hof ter strafversag-ting meegedeel is. Die appellant was ten tyde
van die
verhoor 27 jaar oud. Hy het op skool tot by standerd 8 gevorder. Hy is
getroud en die alleen-broodwinner van sy gesin wat bestaan
uit sy eggenote en 'n
kind wat ten tyde van die verhoor 11 maande oud was; die appellant het destyds
reeds vir 'n tydperk van 10
jaar 'n stand-
vastige/
11.
vastige werk behou by dieselfde werkgewer teen n salaris
van R510
per maand. Deur bemiddeling van sy werkgewer
kon die appellant 'n woonhuis aankoop waarop hy R178 per
maand moes
afbetaal. As hy 'n vonnis van gevangenisstraf
sou moes uitdien, sou hy waarskynlik die huis moes verbeur
omdat hy nie in
staat sou wees om met die afbetaling van
die paaiemente voort te gaan
nie.
In 'n besondere kort uitspraak het die ge-
leerde verhoorregter in verband met sy redes vir die vonnis
die volgende gesê:
"Ek neem in ag dat beskuldigde kwaad was daardie aand vir die oorledene omdat die persoon sy huis se ruit gebreek het. Ek neem ook aan dat beskuldigde drank ingehad het sodat sy oordeelsvermoë aangetas was.
Maar/
12.
Maar 'n persoon se lewe is geneem en hoe ons ook al daarna kyk kan dit nie wegredeneer word nie. 'n Gedeelte van die vonnis wat ek gaan oplê sal opgeskort word en as be-skuldigde uit die gevangenis kom dan sal dit oor sy kop hang vir die volgende vyf jaar."
Ek kom vervolgens by die vraag of hierdie hof geregtig is om in die
onderhawige geval met die opge-legde vonnis in te meng. Die verhoorregter
het
heelte-mal tereg daarop gewys dat strafbare manslag uiteraard 'n ernstige
misdryf is. Dit wil egter nie sê dat waar iemand
aan strafbare manslag
skuldig bevind word hy sondermeer
tot gevangenisstraf gevonnis moet word nie.
Die verhoor-
hof moet in so 'n geval nog steeds in die lig van al die
omringende omstandighede, en met inagneming van die
aanvaarde/
13. aanvaarde oogmerke van straftoemeting, oorweeg wat 'n
gepaste vonnis sou wees. Die verhoorregter het in sy uitspraak verwys na
twee
belangrike strafversagtende faktore, naamlik, dat die appellant met goeie reg
ontsteld en woedend was oor,die moedswillige beskadiging
van sy huis en,
daarbenewens, dat sy oordeelsvermoë aangetas was deur die bier wat hy
gedrink het. Hat egter baie opvallend
is, is dat die verhoorregter hoegenaamd
nie in sy uitspraak na die persoonlike omstandighede van die appellant verwys
het nie. Dit
is na my oordeel 'n ernstige leemte. Ek aanvaar dat die versuim om
in 'n uitspraak na een of ander relevante faktor te verwys nie
sonder meer
beteken dat dit oor die hoof gesien is nie want, soos
dikwels/
14. dikwels reeds gesê is, kan geen uitspraak ooit
volmaak
of alomvattend wees nie (kyk bv R v Dhlumayo and
Others,
1948(2) S A 677 (A) 702, 706 en S v Pillay 1977(4) S A 531
(A) 535 A - B). In die onderhawige geval is die persoonlike omstandighede van
die appellant, na my oor-deel, so 'n
belangrike strafversagtende faktor dat 'n
mens sou verwag dat indien die verhoorregter dit ten gunste van die appellant in
oorweging
geneem het hy uitdruklik in sy uitspraak daarna sou verwys het. Die
feit dat die verhoorregter dit nie gedoen het nie, regverdig
die af-leiding dat
hy hierdie faktor of heeltemal buite rekening gelaat het of dit nie behoorlik na
waarde aangeslaan het nie (vgl.
S v Koekemoer 1980(1) P H H73 (A)). In
beide
gevalle/
15. gevalle sou dit op 'n mistasting neerkom. Bowendien, in die
lig van die kumulatiewe effek van al die ver-sagtende omstandighede
waarna
hierbo verwys is, is 'n effektiewe vonnis van 2 jaar gevangenisstraf, sonder die
keuse van 'n boete, na my mening, onvanpas
en onrede-lik swaar.
Om net weer kortliks na die relevante feite te verwys. Die appellant is blykbaar 'n betreklik be-stendige persoon. Ten tyde van die voorval was hy reeds 10 jaar lank by dieselfde werkgewer in diens waar hy 'n baie goeie salaris verdien het. Die appellant het met die hulp van sy werkgewer 'n huis aangekoop waarop hy R178 per maand moes afbetaal. Soos reeds genoem, het
die/
16. die appellant een vorige veroordeling gehad vir aan-randing met
die opset om te beseer waarvoor 'n betrek-like ligte vonnis opgelê
is. Dit
is ook gemene saak dat die appellant skielik en heeltemal onverwags by die
gewraakte voorval betrokke geraak het. En toe
hy die noodlottige steekhóu
toegedien het, was hy reeds in 'n mate deur die drank aangetas en was hy ook
woedend, soos 'n
mens goed kan begryp, oor die skade wat die oorledene -sonder
enige provokasie - besig was om aan sy huis aan te rig. As die appellant
'n
vonnis van 2 jaar gevangenis-straf sou moet uitdien, sal dit waarskynlik beteken
dat hy nie net sy salaris van R510 per maand
sal verbeur nie, maar ook dat hy sy
huis sal moet prysgee omdat hy nie
met/
17.
met die betaling van die paaiemente sal kan voortgaan nie. Soos reeds aangedui, is ek dus van mening dat die opgelegde vonnis onredelik swaar is en dat dit ver-vang moet word deur 'n vonnis waarkragtens die appellant die keuse van 'n boete kry plus 'n opgeskorte vonnis van gevangenisstraf.
Die appèl slaag en die vonnis van die ver-
hoorhof word vervang deur die volgende:
"(a) Die beskuldigde word gevonnis tot betaling
van 'n boete van R300 of 1 jaar gevangenis-
straf plus 'n verdere 3 jaar gevangenisstraf
wat vir 'n tydperk van 5 jaar opgeskort word
op voorwaarde dat die beskuldigde nie skuldig
bevind word nie aan enige misdryf waarby 'n
aanranding betrokke is, gepleeg gedurende
die tydperk van opskorting, en waarvoor onop-
geskorte gevangenisstraf van meer as 6 maande,
sonder die keuse van 'n boete, opgelê word;
(b)/
18.
(b) die boete van R300 is betaalbaar in paaiemente van R50 per maand vanaf 1 Julie 1986; die eerste paaiement moet betaal word voor of op 7 Julie 1986, en die daaropvolgende paaiemente voor of op die 7e van elke daaropvolgende maand."
TRENGOVE, AR
VILJOEN, AR )
) STEM SAAM JACOBS, AR )