South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1989 >> [1989] ZASCA 113

| Noteup | LawCite

S v Stemmet (114/89) [1989] ZASCA 113; [1990] 1 All SA 360 (A) (22 September 1989)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGERGSHOF VAN SUID-AFRIKA
In die saak tussen:
WILLEM STEMMET Appellant

EN

DIE STAAT Respondent

Coram: BOTHA, SMALBERGER et EKSTEEN, ARR Verhoor: 31 Augustus 1989 Gelewer: 22 September 1989

Uitspraak deur: J.P.G. EKSTEEN, AR

UITSPRAAK EKSTEEN, AR:
Om ongeveer 10 v.m. op 8 November 1986 het die appellant vir die klaagster, wat toe 'n tweedejaar student aan die Universiteit Stellenbosch was, gebel en haar ge-vra of sy nie saam met hom wou uitry na die plaas Chick-wick, waar hy blykbaar gewoon het nie, om sekere video-bande te gaan haal. Die klaagster het ingewillig daar sy nie gedink het dat dit te veel van haar tyd in beslag sou neem nie. Hulle het gevolglik saam na die plaas uitgery. Dit is gemene saak dat die appellant daar met die klaagster gemeenskap gehad het voordat hy haar weer na haar koshuis teruggebring het. Die klaagster beweer dat die gemeenskap sonder haar toestemming geskied het,

2

en sy het gevolglik 'n aanklag van verkragting teen die appellant aanhangig gemaak. Hy het aangevoer dat die gemeenskap met haar toestemming plaasgevind het. Die streeklanddros voor wie die saak gedien het, het egter hierdie verweer verwerp en die appellant skuldig bevind aan verkragting. Hy het die appellant hierop tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis waarvan twee jaar voorwaar-delik opgeskort was. 'n Appèl na die Kaapse Hooggeregs-hof is van die hand gewys, en die appellant kom nou, met die verlof van hierdie hof, voor ons op verdere appèl.
Die appellant se uitnodiging aan die klaagster om saam met hom na die plaas te ry, het nie uit die bloute gekom nie, maar het 'n sekere aanloop gehad. Hulle het mekaar vir die eerste keer ontmoet sowat 'n maand vroeer

3
toe die klaagster tydens die langnaweek van 10 Oktober 1986 saam met die appellant en sy verloofde vanaf Stellen-bosch na Suid-Wes Afrika en weer terug gery het. Hulle het per motor gery. Die vierde insittende was 'n ouer dame wat blykbaar ook na Suid-Wes Afrika en terug gereis het. Sy het voor in die passasierssitplek gesit. Die appellant en sy verloofde het beurte gemaak om te bestuur. Terwyl sy verloofde bestuur het, het die appellant agter by die klaagster gesit. Dit was koud en hulle het 'n kombers oor hulle gegooi om hulle warm te hou. Dié nag met die rit vanaf Stellenbosch na Suid-Wes Afrika het daar iets met 'n seksuele konnotasie tussen die appellant en die klaagster agter in die motor plaasgevind. Wat presies gebeur het blyk nie baie duidelik uit die

4

getuienis nie. Ek sal later weer hierna terugkeer. Die klaagster sê dat sy die appellant oor sy optrede be-rispe het, maar later, met die terugreis, het daar skyn-baar weer 'n ligte flirtasie tussen dié twee plaasgevind. Die klaagster sê dat sy van die appellant gehou het, en hom "'n charismatiese en joviale persoon" gevind het.
Sowat twee weke na haar terugkeer na Stellenbosch, en voor die noodlottige 8 November, het die klaagster hom weer gesien. Sy sê dat sy geweet het dat hy by die jaarlikse Voedsel- en Wynfees sou wees. Sy was van plan om ook soontoe te gaan. Dieselfde middag wat sy na die fees toe wou gaan, sê sy, het die appellant haar gebel en haar gevra hoekom sy nog nie by die fees was nie. Sy het vir hom gesê dat sy toêvallig juis van plan was

5

om soontoe te gaan. 'n Gesprek het gevolg waarin hulle oor en weer met mekaar "gespot" het. Sy is daarna na die fees en het die appellant by die deur van die fees-terrein gekry waar hy vir haar en haar vriendinne toegangs-kaartjies gegee het. Hulle het weer daar gesels, o.a. oor 'n beursie van die klaagster wat sy skynbaar in hul motor laat lê het na die Suid-Wes rit. Die klaagster het ook navraag gedoen na die appellant se verloofde.
Alhoewel die appellant se verloofde 'n vriendin van haar was, en hulle mekaar van hul skooldae geken het, het die klaagster nie geweet waar sy destyds gebly het nie. Toe die appellant haar die oggend van 8 November gebel het om haar te nooi om saam met hom plaas-toe te ry, sê sy, het sy dit as vanselfsprekend aangeneem dat sy

6
verloofde ook op die plaas sou wees. In kruisverhoor, egter, sê sy dat sy slegs gedink het dat sy verloofde dalk ook op die plaas kon kuier, en dat sy haar dan weer sou sien. Dit het nie eintlik vir haar saak gemaak of die verloofde daar sou wees nie. Sy het die uitnodi-ging gesien as 'n "wegbreekkans" - 'n geleentheid om uit te kom en weg te breek van haar studies. Dit het haar ook nie juis gehinder dat sy alleen met haar vriendin se verloofde sou uitry nie daar sy hom vertrou het.
Voordat ek daartoe oorgaan om die getuienis in groter besonderhede te ontleed dien daar miskien op gelet te word hoe die getuienis van die klaagster in 'n saak soos die onderhawige benader moet word.

7
In sy uitspraak handel die landdros met sy be-

nadering, en sê o.a. -

"Wanneer die hof te doen het met die getuienis van 'n enkelgetuie sowel as dié van 'n klaagster in 'n geslagsmisdaad, is daar 'n versigtigheidsreël wat geld. Die hof het dus te doen met 'n dubbele ver-sigtigheidsreël."

Hy verwys na die beslissings in S v Andrews ('n ongerap-
porteerde uitspraak van die Kaapse Provinsiale Afdeling);
S v Sauls and Others 1981 (3) SA 172 (A); S v Teixeira
1980 (3) SA 755 (A) en S v Snyman 1968 (2), SA 582 (A).
Die eerste drie van hierdie gewysdes handel slegs oor die
benadering van die getuienis van 'n enkelgetuie en het
niks te make met die getuienis van 'n klaagster in 'n ge-
slagsmisdaad nie. In Snyman se saak haal die landdros
Holmes AR se dictum op p 585 D-E soos volg aan:

8
"Hence in sexual cases there has grown up a caution-ary rule of practice (similar to that in accomplice cases) which requires -
(a) the recognition by the Court of the inherent danger aforesaid: and
(b) the existence of some safeguard reducing the risk of wrong conviction, such as corroboration of the complainant in a respect implicating the accused, or the absence of gainsaying evi-dence from him, or his mendacity as a witness."

Die landdros vervolg dan:

"Die hof moet die klaagster se getuienis dus met ver-sigtigheid benader en vasstel of daar nie by haar 'n motief was om die beskuldigde valslik te inkrimineer nie.
Die hof se taak is dus om vas te stel of 'n klaagster 'n geloofwaardige getuie is, en dit is die basis van die benadering in dié tipe van sake.
Die hof verlang dus 'n waarborg van betroubaar-heid van die getuienis van 'n enkelgetuie en 'n klaag-ster in 'n geslagsmisdaad."
Soos in Snyman se saak (supra) beklemtoon is,

is die eerste en miskien die belangrikste aspek van 'n

9

verhoorhof se benadering van die getuienis van 'n klaagster

by geslagsmisdade, dat hy hom moet waarsku teen die ge-

vare wat in 'n onkritiese aanvaarding van haar getuienis

verskuil lê. In R v W 1949 (3) SA 772 (A) op p 780 be-

slis Watermeyer HR dat -

"In rape cases, for instance, the established and proper practice is not to require that the complain-ant's evidence be corroborated before a conviction is competent. But what is required is that the trier of fact should have clearly in mind that these cases of sexual assaults require special treatment, that charges of the kind are generally difficult to disprove, and that various considerations may lead to their being falsely laid. Some of these con-siderations are mentioned in R v Rautenbach 1949 (1) SA 135 at 143, but there are others .... "
In daardie saak was die klaagster 'n jong dog-

tertjie en het die landdros gewag gemaak van die versig-
tigheidsreël t.o.v. jong kinders en hom ten doel gestel

10

om stawing vir haar getuienis te soek - stawing wat hom
daartoe sou lei om haar getuienis as betroubaar te kan
aanvaar. Die geleerde Hoofregter het hierdie benadering
nog steeds as onvoldoende beskou daar die landdros hom-
self nie gewaarsku het teen die gevare verbonde aan die
aanvaarding van die getuienis van 'n klaagster by 'n ge-
slagsmisdaad nie. Hy besluit dan op p 783 as volg -

"Had the charge against the appellant been, for in-stance, one of theft, requiring no more than the ordinary high but not exceptional, standard of careful scrutiny of the Crown case before proof be-yond reasonable doubt could be held to have been established, the verdict of guilty must have stood. But because the magistrate appears to have treated the case as if it were an ordinary one, save for the fact that the complainant was a child, it be-comes possible and in the circumstances necessary for this Court to interfere. Although the magi-strate was convinced that the complainant had told the truth and that the appellant had lied and was

11

guilty, he reached this conclusion without reali-sing the special risks involved in the case and the consequent necessity of taking precautions above the ordinary. In these circumstances the fact that he found strongly in favour of the truthfulness of the complainant and against that of the appellant cannot relieve this Court of its duty to find that the case against the appellant was not proved be-yond reasonable doubt."
Dit was dus nie voldoende vir die landdros in

die onderhawige saak om bloot te let op die geloofwaardig-
heid van die klaagster, en of sy aan die vereistes van
'n enkelgetuie voldoen nie, of selfs om na 'n "waarborg
van betroubaarheid" vir die aanvaarding van haar getuienis
te soek nie, as hy nie bedag was op die inherente gevare
verbonde aan die aanvaarding van haar getuienis nie.
Aanduidings dat hy wel hierdie gevare in aanmerking
geneem het, is sy verwysing na die aangehaalde

12

dictum in Snyman se saak (supra) en sy doelstelling om vas te stel of daar nie 'n motief by die klaagster was om die appellant valslik te inkrimineer nie. Dit is voor ons namens die appellant aangevoer dat dit nie voldoende was om na die versigtigheidsmaatreël t.o.v. die getuie-nis van die klaagster te verwys nie, maar dat dit ook uit die res van die landdros se redes moet blyk dat hy in der waarheid die reël toegepas het. (S v Avon Bottle Store (Pty.) Ltd and Others 1963 (2) SA 389 A op 393 'n -394 A.) Daar moet dus in dié lig na die landdros se redes vir skuldigbevinding gekyk word.
Die landdros begin deur uitdruklik te konsta-teer dat :

"Die klaagster is seer sekerlik nie die beste getuie

13

wat hierdie hof al teëgekom het nie. Dit is so
dat daar weersprekings in haar getuienis is. Ek
vind dit nie nodig om dit uit te lig nie, dit is
op 'n bekwame wyse deur Mnr. Marais uitgelig."
Die eerste van hierdie leemtes in die getuie-

nis van die klaagster staan in verband met die rit na
Suid-Wes Afrika. Die klaagster het getuig dat terwyl
sy en die appellant agter in die motor gesit het en die
kombers oor hulle gesprei was, die appellant sy bene oor
haar bene gesit het, met sy voet tussen haar bene. As
verskoning het hy aangevoer dat "sy voete brand as hy
dit teen die motor sit omdat hy 'n rugby wedstryd of iets
gespeel het." Haar hande, sê sy, was ook onder die
kombers en appellant het aan haar hand gevat. Op 'n
stadium toe hy sy voete tussen haar bene gesit het, het

14

sy gemeen dat hy te ver gaan en sy het hom berispe deur vir hom te sê "Jy maak nonsens droog. Jy is verloof aan 'n pragtige en baie oulike meisie."
Met die terugreis, sê sy, het die appellant weer met sy bene oor hare gelê, maar dat daar niks ge-beur het om haar te ontstel nie. Hulle het net grappe gemaak en "op 'n stadium" het hy vir haar ooggeknip.

Op 18 November 1986, egter, (d.w.s. na die be-

weerde verkragting), het die klaagster 'n brief aan die
appellant se verloofde geskryf, waarin sy o.a. sê:

"Ek weet ook dat jy jou bedenkinge het oor die Suid-Wes rit maar soos ek vir jou daardie dag oor die telefoon gesê het, ek het daar geen skuld aan nie. Ek het basies nie 'n ander keuse gehad as om 'saam te speel' nie. Daar was immers nog ander mense as net ek en willem en jy in die motor. En Annemarie ek het ook aan jou gedink, watter vernede-
15
ring sou dit nie vir jou wees as ek 'n groot bohaai voor daardie tannie opgeskop het nie? Ek het vir Willem egter gesê hy maak nonsens droog, hy's 'n verloofde man en dit aan 'n baie mooi en oulike mei-sie, jy kan hom vra, en vra hom wat sy antwoord daarop was."

Haar verwysing na "saamspeel" kan moontlik die konnotasie inhou dat sy nie heeltemal negatief gestaan het tot dit wat in die motor gebeur het nie, en wek die indruk dat daar heelwaarskynlik meer gebeur het in die motor as wat sy in haar getuienis wou toegee. Die landdros het dan ook bevind dat hierdie brief, ondanks die klaagster se pogings om dit te verduidelik, 'n vraagteken agter haar getuienis plaas.
Aan die ander kant het die appellant in sy getuienis met betrekking tot wat in die motor gebeur het sulke growwe aantygings van onsedelike wangedrag teen

16

die klaagster gemaak, dat die landdros dit as "absoluut onwaarskynlik" en onaanvaarbaar verwerp het. By 'n deur-lees van sy getuienis is ek tevrede dat daar geen rede is om van die landdros in dié opsig te verskil nie.
Selfs op 'n aanvaarding van die klaagster se getuienis omtrent hierdie episode, was die appellant se gedrag in die motor voorbarig en aantastend van die klaag-ster se persoonlike waardigheid gewees, veral as in ge-dagte gehou word dat dit die eerste keer was wat hy haar ontmoet het. Tog is sy twee weke later bereid om met hom te skerts by die Voedsel- en Wynfees, en daarna, op 8 November, alleen saam met hom plaas toe te ry sonder dat sy enigsins rede gehad het om te dink dat sy verloofde werklik daar sou wees. Hierdie gedrag het ook vir

17

die landdros verdag voorgekom.
By die plaas aangekom, sê die klaagster, het die appellant by die huis ingegaan terwyl sy vir onge-veer tien minute in die voorportaal rondgestaan het. Sy het later musiek in die huis gehoor, en sy sê dat die appellant haar geroep het. Sy stap toe na waar die musiek vandaan kom, en vind dat die appellant in sy slaapkamer sit en kyk na 'n videoband. Op sy uit-nodiging het sy ook in die kamer ingegaan en op die bed gaan sit. Na so tien minute of wat, sê sy, het die appellant die videomasjien afgeskakel, na haar ge-stap, haar op die bed platgedruk en haar begin soen. Aanvanklik het sy dit as 'n grap beskou, maar baie gou agtergekom dat dit geen grap was nie. Hy het haar twee

18
hande bokant haar kop vasgehou, haar twee bene opgetel en terselfdertyd haar broek afgetrek. Hy het ook van sy broek ontslae geraak en daar en dan met haar gemeen-skap gehad. Sy sê dat sy probeer keer het en ook vir hom gesoebat het om dit nie te doen nie maar hy het hom geensins van stryk laat bring nie en haar met sy krag oorrompel. Die gemeenskap, sê sy, het haar heelwat pyn veroorsaak. Sy het hom gevra om nie saad in haar te stort nie daar sy geen voorbehoedmiddels gebruik het nie. Aan hierdie versoek het hy skynbaar gehoor gegee en op haar maag gemors. Terwyl hy met haar gemeenskap gehad het, het hy deurgaans probeer om haar te soen, maar sy het aanvanklik haar kop weggedraai. Lateraan, egter, gee sy toe dat sy hom teruggesoen het, omdat sy in haar

19
vrees en angs gedink het dat dit vir haar eie beswil sou wees om dit te doen. Hierdie toegewing, deur haar in kruisverhoor gedoen, dat sy in die loop van die beweerde verkragting haar aanrander teruggesoen het, moet vir enige beoordelaar . van die feite as baie eienaardig voorkom. Sulke gedrag is, in die gewone loop van sake, kwalik te versoen met 'n werklike verkragting, en dit.moet enige verhoorhof tot nog groter versigtigheid in die oorweging van die klaagster se getuienis noop. Weereens het die landdros hierdie aspek'nie oor die hoof gesien nie, en hy merk dit aan as 'n faktor wat in gedagte gehou word by die oorweging van haar getuienis.
'n Ander, moontlik minder belangrike kritiek op haar getuienis, slaan ophaar bewering in kruisverhoor

20
dat sy, gedurende die aanranding op haar, 'n rewolwer in 'n laai "bo die bed se kop" gesien het. Later, egter, sê sy dat sy slegs 'n rewolwersak gesien het en nie 'n re-wolwer nie. Hierdie weerspreking is iets wat op die algemene geloofwaardigheid van die klaagster kan slaan.
Al hierdie aspekte van die klaagster se getuie-nis wat ek hierbo genoem het, is deur die landdros in oorweging geneem, en het onteenseglik bygedra tot sy ge-volgtrekking dat "Die klaagster is seer sekerlik nie die beste getuie wat hierdie hof al teëgekom het nie."
Na die gebeurde op die plaas het die appellant die klaagster teruggeneem na haar koshuis. Daar het sy vir 'n wyle voor die deur bly staan, en toe na 'n vrien-din, Louise Nel, in 'n ander koshuis gegaan en aan haar

21

vertel dat sy verkrag is. Louise Nel het 'n besondere grafiese beskrywing van hierdie besoek gegee. Sy sê dat die klaagster by haar kamer ingebars het sonder om te klop, en dat sy in 'n erge geskokte toestand voorgekom het - asof sy die dood self aanskou het. Die klaagster het nie die appellant se naam aan Louise Nel genoem nie daar sy gesê het dat die man verloof was, en sy nie sy verloofde in die verleentheid wou stel nie. Sy het egter vir haar vertel hoedat sy deur dié man na die plaas genooi is om "tapes" te gaan luister, en hoe hy haar daar verkrag het. Hierdie getuienis waarin die uiters geskokte toestand waarin die klaagster verkeer het steeds beklemtoon word, is nie wesenlik in kruisverhoor aange-val nie, en dit is ook nie voor ons betoog dat die land-

22

dros verkeerd was om dit te aanvaar nie. Dit bied on-getwyfeld sterk stawing vir die klaagster se getuienis dat sy verkrag is.
'n Rukkie later, nadat die klaagster blykbaar ietwat kalmer geword het, het die primaria van haar kos-huis haar na haar huisdokter geneem. Die klaagster sê dat sy na haar dokter wou gaan om uit te vind of sy swanger sou word as gevolg van die gemeenskap en omdat sy in haar skaamdele so seer gevoel het. Die dokter het haar gerusgestel oór die gevare van swangerskap maar het haar nie ondersoek nie daar sy nog geen klagte by die polisie gelê het nie. Sy was nog onseker of sy na die polisie moes gaan of nie ondanks die feit dat Louise Nel haar sterk aangeraai het om dit te doen. Haar

23
geneesheer het haar gevolglik aangeraai om met 'n verteen-woordiger van "Rape Crisis" te gesels. Dié het haar oorreed om die saak by die polisie aanhangig te maak. Later daardie nag is sy, op versoek van die polisie, deur haar geneesheer ondersoek. Hy het geen beserings aan haar gevind nie, behalwe 'n effense swelling van die himen aan die linkerkant. Die geneesheer het op 'n vraag van die hof toegegee dat by 'n verkragting hy normaalweg meer beserings sou verwag het, maar dat dit nie noodwen-dig die geval hoef te wees nie. So ook sou hy in die gewone loop van sake kneusings aan die arms van die klaag-ster verwag het as die appellant deurgaans haar arms bokant haar kop vasgedruk het soos sy gesê het, maar dat dit ook nie noodwendig die geval hoef te wees nie.

24

Ek het tot dusver geensins verwys na die ge-tuienis van die appellant self nie. Sy getuienis is in sy geheel deur die landdros as klaarblyklik leuenag-tig verwerp. Ek het vroeër melding gemaak van die growwe aantygings teen die sedelikheid van die klaagster wat hy t.o.v. die rit na Suid-Wes Afrika en terug gemaak het. Hy het voorts aangevoer dat van sy bekendes - beide mans en dames - vryelik melding gemaak het van die losse sedes van die klaagster, en dat hy daarvan afgelei het dat sy geredelik sou toestem tot gemeenskap met hom. Hy voer trouens aan dat sy ten volle bewus daarvan moes gewees het dat die hele doel van die rit na die plaas die oggend van 8 November was om gemeenskap te hê. Toe hy gevra is om die name van die persone te noem wat

25
Die stories omtrent die klaagster vertel het, het hy ge-weier om dit te doen. Ek is nie van voornemens om die res van die appellant se getuienis te ontleed nie, maar vol-staan deur te sê dat by 'n deurlees daarvan daar geen gronde gevind kan word om te sê dat die landdros verkeerd was om dit as klaarblyklik leuenagtig te verwerp nie. Die feit dat die appellant 'n leuenagtige getuie bevind is, is 'n belangrike beveiliging teen die gevaar van 'n verkeer-de skuldigbevinding. (R v Ncanana 1948 (4) SA 399 op 405-6 en S v Snyman (supra) op 585 D-E.)
Daar moet egter nogtans versigtig na die getuie-nis van die klaagster gekyk word, want 'n skuldigbevinding moet in hoofsaak op haar getuienis berus. Ek het reeds gewys op verskeie aspekte waar daar grondige kritiek

26
teen haar getuienis ingebring kan word. Dit is egter belangrik dat hierdie aspekte nie deur die landdros oor die hoof gesien is nie. Desondanks sê die landdros dat sy by hom die indruk gelaat het van 'n openhartige getuie wat geredelike toegewings, wat moontlik teen haar kon tel, gemaak het, soos byvoorbeeld haar toegewing dat sy die appellant tydens die verkragting teruggesoen het. Hier-benewens word sy gestaaf deur die getuienis van Louise Nel, en, tot 'n mindere mate, deur die getuiênis van haar genees-heer en van die verteenwoordiger van "Rape Crisis" met wie sy gesels het. Die uiters geskokte toestand waarin Louise Nel haar gevind het kort nadat die appellant haar by haar koshuis afgelaai het, is sekerlik nie op die getuienis van die appellant verklaarbaar nie. Dit strook volkome met die

27

getuienis van die klaagster dat sy verkrag was, en dit blyk trouens dat dit op geen ander redelike veronderstel-ling verklaarbaar is nie.
Daar is voor die landdros aangevoer dat die klaagster bloot toneelgespeel het, en dat wat die hele aantyging van verkragting ten grondslag lê bloot 'n po-ging was van die klaagster om 'n uitstel van haar eksamen-aflegging te verkry. Hierdie submissie is m.i. tereg deur die landdros verwerp, en hulle het inderdaad niks om die lyf nie.
As 'n mens sou soek na 'n gevaar waarteen gewaak moet word by die aanvaarding van die klaagster se getuie-nis dan, na my mening, behoort daar gekyk te word na die moontlikheid dat die klaagster gevrees het dat sy swanger

28

kon geword het as gevolg van die gemeenskap, en dat sy 'n geneeskundige uitspraak daaroor wou gehad het, en moontlik 'n vroegtydige beëindiging daarvan indien dit so was. Dit kon dan makliker vir haar gewees het om hierdie doel te verwesenlik deur 'n bewering van verkragting te maak, eerder as om openlik te moet erken dat sy vrywillig ge-meenskap met 'n man gehad het. Hierdie argument is nie voor die landdros aangevoer nie en is gevolglik nie deur hom oorweeg nie. In elk geval dink ek nie dat dit met die bewese feite te rym is nie. Daar sou dan geen rede gewees het vir die geskokte toestand waarin Louise Nel haar gesien het nie, en sou daar dus aangevoer moes word dat sy bloot toneelgespeel het om Louise om die bos te lei. Die suggestie dat die klaagster haar geskoktheid

29

geveins het, is maar baie tentatief aan Mej. Nel gestel en nadat sy die moontlikheid van enige vorm van veinsery afgewys het, is dié aspek nie weer deur die appellant se advokaat met haar aangevoer nie. Haar getuienis is deur die landdros aanvaar en dit is ook geensins voor ons in twyfel getrek nie. Trouens, dit was uitdruklik toegegee dat sy 'n objektiewe en betroubare getuie was. Die vrees vir swangerskap wat daar ongetwyfeld by die klaagster was, is ook geensins onbestaanbaar met 'n verkragting nie. In die omstandighede van hierdie saak meen ek nie dat dit 'n wesenlike gevaar ingehou het ten aansien van die aanvaarding van die klaagster se getuienis nie.
Ten besluite kan daarop gewys word dat die voorkoms en die persoonlikhede van die getuies wat voor

30

die landdros verskyn het, 'n belangrike rol moes gespeel het by sy beoordeling van hulle geloofwaardigheid. Deur hulle te sien en aan te hoor, en veral om hulle reaksies onder kruisondervraging waar te neem, het die landdros 'n veel beter geleentheid gehad om wat waarskynlik en wat onwaarskynlik was vir daardie besondere persone te beoordeel. Dit sou veral gegeld het ten opsigte van Louise Nel en die klaagster wat albei oor dramatiese gebeure getuig het. 'n Hof van appèl is nie in daar-die bevoorregte posisie nie en moet homself slegs ver-laat op die koue oorkonde van die getuienis. Onder sulke omstandighede sal hierdie Hof nie ligtelik afwyk van die bevindinge van geloofwaardigheid van die landdros, in die afwesigheid van enige mistasting of wanvoorligting

31
nie. (R v Dhlumayo and Another 1948 (2) SA 677 (A) op pp 696-699.) Dit is nie in die betoog voor ons aange-toon dat die landdros enige wesenlike mistasting begaan het, of dat hy homself op die feite wanvoorgelig het nie.
In die lig van al hierdie oorweginge volg dit dat ek nie bereid is om te sê dat die landdros verkeerd was in die gevolgtrekking waartoe hy gekom het nie, en kan die appèl teen die skuldigmaking nie slaag nie.
Die appellant kom ook in hoër beroep teen die vonnis hom opgelê, en dit was voor ons aangevoer dat die landdros die erns van die misdaad oorbeklemtoon het en dat die vonnis buitensporig swaar was. Ek kan nie met hierdie betoog saamgaan nie. Vonnis is altyd iets wat in 'n besondere sin buite die diskresie van die verhoor-

32
hof lê. Weereens is ek nie van mening dat die land-dros hom wanvoorgelig het nie, en ek beskou ook nie die vonnis as so buitensporig swaar dat hierdie Hof geroepe is om daarmee in te meng nie.
Bygevolg word die appèl teen skuldigbevind-ing en vonnis van die hand gewys.

J.P.G. EKSTEEN, AR

BOTHA, AR )

stem saam SMALBERGER, AR )