South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1989 >> [1989] ZASCA 115

| Noteup | LawCite

S v Arendse (116/89) [1989] ZASCA 115 (26 September 1989)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

CHRIS ARENDSE Appellant
EN
DIE STAAT Respondent

Coram: JOUBERT, VAN HEERDEN et EKSTEEN, ARR Verhoor: 15 September 1989 Gelewer: 26 September 1989

Uitspraak deur: J.P.G. EKSTEEN, AR

UITSPRAAK

EKSTEEN, AR :
Die appellant het voor 'n streeklanddros tesame met drie ander persone tereg gestaan op drie aanklagtes, t.w. menseroof, roof, en poging tot moord. Al die beskuldigdes is onskuldig bevind op die tweede en derde aanklagtes. Beskuldigde 1 (d.w.s. die appellant), 2 en 3 is skuldig . bevind op die eerste aanklag. Beskuldigde 4 is onskuldig bevind en ontslaan. Beskuldigdes 1, 2 en 3 is elk tot 8 jaar gevangenisstraf gevonnis, maar in die geval van die appellant is beveel dat drie jaar daarvan saamloop met 'n vonnis van 9 jaar gevangenisstraf wat hy besig was om uit te dien weens handeldryf in mandrax en dagga. Slegs die appellant het in hoër beroep gegaan teen sy

2

skuldigbevinding en vonnis na die Kaapse Provinsiale Af-deling. Sy appèl is van die hand gewys, en met verlof van daardie hof kom hy nou voor ons op verdere appèl.
Die aanklag spruit uit die ontvoering van die klaer, Bhekezulu Tshabalala, gedurende die nag van 8 Oktober 1986. Die klaer het getuig dat hy dié nag verwittig is dat sy ma siek was. Hy is met sy motor na haar huis. Toe hy na die huis stap, het vier gewapende mans uit die skaduwees van die heining tevoorskyn gekom en hom aangehou. Een van hulle, wat 'n afro-haarstyl gehad het, en wat volgens die klaer se indruk die leier van die groep te gewees het, het die sleutels van die klaer se kombi geneem. Hy is in sy eie kombi gedwing en ontvoer. Om seker te maak dat hy nie te veel sou waarneem nie is 'n "balaclava"

3

mus oor sy kop en oe getrek sodat hy niks kon sien nie.

By hul bestemming aangekom, het hulle hom na 'n plek met 'n lae dak geneem waar hy halfgebukkend moes loop. Daar is hy deur twee mans aangehou terwyl die ander weggegaan het.
Later het hulle teruggekeer en hom aangesê om sy mense te bel en vir hulle te sê om al die geld wat hy by sy huis het vir hulle te bring. Die klaer was 'n welvarende besigheidsman, en sy ontvoerders het skynbaar verwag dat hy heelwat geld by sy huis sou hê. Hulle het hom ook gewaarsku dat as hy enigiets sou pro-beer, hulle hom sou doodmaak. Hierdie dreigement het hy ernstig opgeneem en vir hulle gevra om iemand te kry wat Zulu verstaan, sodat die persoon kon hoor wat hy

4

oor die telefoon vir sy mense sê, en hulle verseker kon wees dat hy niks agteraf in die mou voer nie. Hulle kry toe 'n persoon wat later beskuldigde 4 blyk te wees het, wat Zulu magtig was.
Nog steeds geblinddoek is hy na 'n ander huis geneem waar hy per telefoon met sy vriendin, wat ook sy besigheidsvennoot was, in verbinding gestel is. Op instruksies van sy ontvoerders het hy vir haar gesê dat iemand met sy kombi na sy huis sou kom en dat sy vir hulle al die geld wat daar in die huis was moes gee. Hy het vir die ontvoerders verduidelik hom om by sy huis te kom. Hulle is toe met sy kombi daar weg.
Later keer hulle onverrigtersake weer terug. Skynbaar kon hulle nie sy huis kry nie. Die klaer

5

bied toe aan om saam met hulle te ry en vir hulle die pad te wys. Hy sê dat hy hierdeur gehoop het om 'n geleentheid te kry om van sy ontvoerders te sien, so-dat hy hulle later kon identifiseer. Sy aanbod is aan-vaar, en, soos hy gehoop het, is die mus van sy kop af-gehaal sodat hy vir hulle die.pad kon beduie.
Hy sê dat hy heelagter in die kombi gesit het tussen twee mans wat hom vasgehou het. Die omge-wing was goed belig en hy kon hulle goed sien. Hy het hulle uitgeken as beskuldigdes 2 en 3. Die bestuurder van die kombi, sê hy, was die man met die afro-haarstyl. Hy kon hom net van agter sien, en kon slegs dele van sy gesig sien as hy sy kop.draai in die loop van sy bestuur van die kombi. Hierdie man was na sy mening dieselfde

6

een wat by was by die ontvoering voor sy moeder se huis. Hy het, na sy arrestasie, dié man uitgeken as die appel-lant.
Later is getuienis aangevoer deur beskuldigde 4 dat 'n ander persoon, ene De Louw, die kombi by dié geleentheid bestuur het, en dat hy ook 'n afro-haarstyl . gehad het. Die verhoorlanddros het hierdie getuienis aanvaar en bevind dat die klaer hom hier kon misgis het.
Die klaer sê dat toe hulle by sy huis kom, het hulle gesien dat daar ander karre voor die huis staan, en sy ontvoerders het toe besluit om liewer na hulle basis terug te keer.
Daar aangekom het hulle die klaer beveel om weer sy mense te bel en hulle te sê om die geld na die

7

ontvoerders te bring. Hy het, op hulle instruksies,. verduidelik hoedat die persoon met die geld na 'n sekere plek moes kom en dan daar wag totdat die ontvoerders na hulle kom. Dit is voorts gereël dat hulle Rl2 000 sou bring.
Intussen het die klaer se vriendin die hulp van die polisie ingeroep. Dit is toe onderling besluit dat 'n swaer van die klaer se vriendin, ene Alias Makanda, met 'n tas bevattende die R12 000 na die ooreengekome plek sou ry en dat twee polisiemanne - konstabel Cilliers en konstabel Rhodes - hulle agter in die motor sou ver-steek en saamry.
Makanda het na die bestemde plek gery, en na-dat hy 'n geruime tyd daar gewag het, het twee mense

8

tussen die huise uitgekom en gefluit. Op instruksies van die konstabels het Makanda nie hierop gereageer nie. Die twee persone stap toe met die sypaadjie langs, by die geparkeerde motor verby. Na 'n rukkie het 'n derde persoon tevoorskyn gekom; ook by die motor verbygeloop, en hom by die eerste twee gaan aansluit. Aldrie draai toe om en stap weer terug. Makanda het al hul bewegings aan die konstabels oorgedra.
Toe die drie weer by die motor verbystap het hulle vir Makanda gewink. Die konstabels sê vir hom dat hy nog nie moet uitklim nie maar dat hy die motor agtertoe moet stoot, nader aan die drie mans. Dit het hy toe gedoen.

Een van die drie het toe in Xhosa gevra dat
9

hy na hulle moes kom. Makanda klim toe uit en stap na hulle toe. Toe hy sowat 6 meter van hulle was be-veel die persoon vir hom om stil te staan. Hierdie persoon, sê Makanda, het 'n vuurwapen in sy hand gehad terwyl hy met hom praat. Hy het die vuurwapen op Makanda gerig en hom gevra of hy die geldsaamgebring het. Op Makanda se bevestigende antwoord is hy aan-gesê om die geld te gaan haal en dit op die plek waar hy gestaan het neer te sit. Daarna moes hy die motor aan die teenoorgestelde kant van die straat gaan parkeer. Dan sou die klaer vrygelaat word en na hom kom.
Makanda is toe terug na die motor en dra die toedrag van sake oor aan die polisiemanne. Hy het ook aan hulle verduidelik presies waar die persone gestaan

10

het.
Die twee konstabels spring toe gelyktydig uit die motor en storm op die drie mans af. 'n Skoot is op die konstabels gevuur deur een van die drie, en die konstabels het teruggeskiet. Die drie mans hardloop toe in 'n donker stegie tussen die huise af. Die kon-stabels skiet nog 'n paar skote agter die vlugtende mans aan, maar besluit om dit nie in die donker agter hulle aan te waag nie daar hulle bewus was van die feit dat ten minste een van hulle gewapen was.
Na 'n rukkie daag polisie versterkings op en waag hulle dit toe om deur die stegie af te gaan. Aan die anderkant van die stegie sien hulle sleepmerke in die sand asof iemand daar gesleep is. Hulle volg die

11

sleepmerke na 'n nabygeleë huis waar hulle 'n plas bloed op die stoep vind. Die polisie omsingel die huis, klop hard aan die deur, en verkondig in 'n luide stem dat dit die polisie is. Niemand maak egter die deur oop nie, en die polisie is verplig om 'n venster te breek om toegang tot die huis te kry.
In een van die slaapkamers van die huis kry hulle vir beskuldigde 4 ten volle gekleed in 'n bed. Nadat die komberse van hom afgetrek is, vind hulle dat hy in sy been gewond is. Beskuldigde 4 sê dat toe hy in die stegie af gevlug het, hy in sy been raakgeskiet was en dat sy been gebreek het.
Die polisie het die huis deursoek maar niks verder gekry nie. Net toe hulle op die punt gestaan

12

het om die huis te verlaat, hoor hulle 'n gekraak in die plafon en besef hulle dat daar iemand in die solder skuil. Hulle beveel toe die persoon om uit te kom. Daar is egter geen reaksie op die versoek nie. Die polisie herhaal hulle bevel en voeg by dat as die persoon nie uitkom nie hulle hom sal kom uithaal. Toe kom die ap-pellant en beskuldigde 2 uit die solder tevoorskyn, en word hulle gearresteer.
Beskuldigde 4 sê toe vir die polisie waar die klaer in 'n ander huis aangehou word. Hulle is na dié huis, waar hulle die klaer kry en hom bevry. In die-selfde huis arresteer hulle ook vir beskuldigde 3. Die klaer is hierop na die polisie-vangwa waar hy vir die appellant, beskuldigdes 2 en 4 onder polisie bewaring

13

sien.

Die landdros het die klaer as "'n baie goeie

getuie", "'n puik getuie" en 'n "uitstekende getuie", beskryf, en op 'n deurlees van sy getuienis wil dit voor-kom dat die landdros alle rede gehad het om hom so aan te prys. Desondanks aanvaar hy nie sy uitkenning van die appellant as die bestuurder van die kombi nie, hoof-saaklik omdat beskuldigde 4 getuig het dat De Louw die kombi bestuur het en nie die klaer nie. Die landdros was ook beïndruk deur beskuldigde 4 as 'n getuie en aanvaar ook sy getuienis.
Beskuldigde 4 het ook getuig dat die aanvank-like eis wat deur die ontvoerders aan die klaer gestel was, was dat hy 12 000 pille aan hulle moes lewer as 'n

14

losprys, en dat geld nie op daardie stadium ter sprake was nie. Dit het die klaer ontken. Die landdros het
hier ook bevind dat hy die getuienis van beskuldigde 4 bo die van die klaer verkies.
Mnr. Williams, wat namens die appellant voor ons betoog het, het die getuienis van beskuldige 4 ontleed en gesubmiteer dat die landdros fouteer het deur beskuldige 4 se getuienis so onkrities te aanvaar. Hierdie submissie is na my mening nie sonder substansie nie. Daar is verskeie aspekte van beskuldige 4 se getuienis wat verdag en onwaarskynlik voorkom.

Waar dit hoofsaaklik om die identifikasie van die appellant gaan,is dit miskien nie van sulke wesenlike belang om hierdie geskilpunt op

15

te los nie. Beskuldigde 4 betrek onteenseglik die appel-lant by die hele ontvoering en veral by die bedinging van die losprys. Aan die ander kant as die getuienis van beskuldigde 4 nie so betroubaar is as wat die land-dros dit beskou het nie, dan verval 'n groot deel van die landdros se kritiek op die uitkenning van die appellant deur die klaer.
Hierdie identifikasie van die appellant deur die klaer, of sy betrekking by die misdaad deur beskuldig-de 4,staan egter nie alleen nie. Die appellant erken dat hy die betrokke aand by die huis waar die klaer aan-vanklik aangehou is, teenwoordig was, en dat hy beskul-digde 4 daar gesien het. Hy ontken weliswaar dat hy die klaer daar gesien het.

16
Dan is daar ook die feit dat hy kort na die skietery in die straat, in die solder van die huis waar-in die beseerde beskuldigde 4 gelê het, tesame met be-skuldigde 2, wat ook onteenseglik aandádig aan die ont-voering was, betrap is. Hierdie feite, tesame met sy klaarblyklike leuenagtige verduideliking, is sterk getuie-nis om hom met die misdaad te verbind. As dit dan saam-geneem word met die getuienis van beskuldigde 4, is ek van mening dat die landdros geregtig was om te bevind dat die saak teen die appellant bo redelike twyfel bewys is. Ten spyte van die leemtes in die getuienis van beskuldig-de 4 skyn daar geen rede te wees waarom hy die appellant val.slik by die misdaad sou wou betrek het nie. Dit is miskien nie so onbelangrik om daarop te let dat hy nie die

17

leidende rol wat die klaer aan die appellant toeskryf, onderskraag nie, maar hom 'n heelwat mindere rol in die gebeure toedig.
Ek is derhalwe van mening dat die appèl teen die skuldigbevinding nie kan slaag nie.
Die vonnis die appellant opgelê is wel 'n swaar vonnis, maar dan is die misdaad van ontvoering ook 'n ernstige misdaad. Waar 'n gewapende bende 'n man ontvoer, hom van sy vryheid van beweging ontneem, en hom daarna vir 'n losprys aanhou, moet 'n hof dit in 'n ernstige lig sien.
Die appellant is geen eerste oortreder nie. Die lys van sy vorige oortredinge is ongelukkig nie aan die oorkonde voor ons geheg nie, maar uit die uitspraak

18

van die landdros blyk dit dat die nie minder as drie
bladsye beslaan nie, en etlike geweldsmisdade insluit.
In al die omstandighede is ek nie bereid om met die uit-
oefening van die landdros se diskresie by die oplegging
van vonnis in te meng nie.

Die appèl word bygevolg van die hand gewys.

J.P.G. EKSTEEN, AR

JOUBERT, AR )

stem saam

VAN HEERDEN, AR )