South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1989 >> [1989] ZASCA 118

| Noteup | LawCite

S v Buys (497/88) [1989] ZASCA 118; [1990] 1 All SA 368 (A) (26 September 1989)

Download original files

PDF format

RTF format


Saak nommer 497/88 E du P.

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

CHRISTOFFEL PETRUS FRANCOIS BUYS Appellant
en
DIE STAAT Respondent.

Coram: CORBETT HR, KUMLEBEN et F H GROSSKOPF ARR.

Verhoor: Gelewer:

8 September 1989 26 September 1989

2

UITSPRAAK F H GROSSKOPF AR:
Die appellant is 'n boer van die plaas Geluksrus in die distrik van Mooirivier. Die appellant het erken dat hy op 20 November 1985 die veld op sy plaas gebrand het sonder dat hy die voorgeskrewe skriftelike toestemming van die betrokke uitvoerende beampte verkry het om dit te doen. Die appellant se optrede het tot gevolg gehad dat hy in die streekhof te Estcourt aangekla is van 'n oortreding van regulasie 12(1)(a) van die regulasies uitgevaardig ingevolge artikel 29 van die Wet op die Bewaring van Landbou-hulpbronne, 43 van 1983 ("die Wet"). Die appellant is skuldig bevind en 'n boete van R500 of drie maande gevangenisstraf opgelê wat voorwaardelik opgeskort is. Die appellant se appèl na die Natalse Provinsiale Afdeling van die Hooggeregshof is van die hand gewys, maar met verlof van daardie Hof appelleer hy nou na hierdie Hof.

3

Regulasie 12(1)(a) lui soos volg:
"Behalwe op gesag van 'n skriftelike toestemming deur die uitvoerende beampte mag geen grondgebruiker -

(a) enige veld op sy plaaseenheid brand nie;"

In die lig van die appellant se erkennings kan daar myns

insiens geen twyfel bestaan dat die appellant wel die
bepalings van regulasie 12(1)(a) oortree het nie. Dit is
egter namens die appellant in hierdie Hof betoog dat die
oortreding van regulasie 12(1)(a) geen misdaad daarstel nie
aangesien daar geen straf vir sodanige oortreding in die
regulasies voorgeskryf is nie. Die regulasies self bevat
weliswaar geen strafbepaling wat die oortreding van enigeen
van die regulasies strafbaar maak nie. Dit is deur mnr
Schutte namens die appellant betoog dat artikel 29(3) van die
Wet uitdruklik daarvoor voorsiening maak dat 'n regulasie vir
'n oortreding van die bepalings daarvan, of 'n versuim om aan
die bepaiings daarvan te voldoen, sekere beperkte strawwe kan

4

voorskryf, maar dat die Minister nagelaat het om enige regulasies uit te vaardig wat dergelike strawwe voorskryf. Die betoog is dat die Minister ten tyde van die uitvaardiging van die regulasie nog nie die bedoeling gehad het om 'n oortreding van die regulasies tot 'n misdryf te verklaar nie. Slegs wat hierdie laasgenoemde aspek betref, wil ek dadelik die opmerking maak dat dit vir my onwaarskynlik voorkom dat die Minister 'n hele reeks regulasies met verbodsbepalings en gebiedende voorskrifte sou uitvaardig sonder die oogmerk om 'n oortreding daarvan as misdryf strafbaar te stel.

Die regulasies wat die Minister kragtens artikel 29 van die Wet uitgevaardig het, is gepromulgeer onder Goewermentskennisgewing nr. R. 1048 in Staatskoerant nr. 9238 van 25 Mei 1984. Die regulasies is ingedeel in verskillende afdelings en regulasie 12 val saam met regulasies 2 tot 14 in deel 1 onder die opskrif "BEHEERMAATREËLS". Die woordomskrywing van die regulasies is vervat in regulasie 1, en die eerste sinsnede van regulasie 1 lui soos volg:

5

"In ,hierdie regulasies het enige woord of uitdrukking waaraan 'n betekenis in die Wet geheg is, daardie betekenis...."

Die betekenis wat in die Wet aan die woord "beheermaatreël"

geheg is, blyk uit die woordomskrywing in artikel 1 van die
Wet, en daarvolgens beteken "beheermaatreël" 'n beheermaatreël

in artikel 6 bedoel. Die woord "beheermaatreël" in die
regulasies het dus ook daardie betekenis. Dit vofg dat
regulasie 12, wat volgens die opskfif in deel 1 van die
regulasies as 'n beheermaatreël beskryf word, 'n beheermaatreël
is soos in artikel 6 van die Wet bedoel.

Dit blyk ook uit 'n vergelyking van die bepalings

van artikel 6(2)(a) tot (p) enersyds met die voorskrifte van
die regulasies in deel 1 (beheermaatreëls) en deel 2 (onkruid
en indringerplante) andersyds, dat die Minister inderdaad
beoog het om beheermaatreëls, soos bedoel in artikel 6(2) van
die Wet, voor te skryf toe hy die regulasies kragtens artikel
29 uitgevaardig het. Daar is myns insiens 'n duidelike
ooreenstemming tussen die aangeleenthede waarop

6

beheermaatreëls betrekking kan hê, soos omskryf in artikel

6(2)(a) tot (p) van die Wet, en die aangeleenthede waarop die
regulasies in deel 1 en 2 van die regulasies inderdaad
betrekking het. So verwys artikel 6(2)(j) bv. na die
voorkoming en beheer van veldbrande tefwyl die
ooreenstemmende opskrif en inhoud van regulasie 12 aantoon
dat daardie regulasie met presies dieselfde aangeleentheid
handel.

Aangesien regulasie 12 dus na my oordeel 'n

beheermaatreël is soos in artikel 6 van die Wet bedoel, is
die bepalings van artikel 6(5) ook op regulasie 12 en die
nie-nakoming daarvan van toepassing. Artikel 6(5) lui soos
volg:

"'n Grondgebruiker wat weier of versuim om 'n beheermaatreël wat vir hom bindend is, na te kom, is aan 'n misdryf skuldig."

Hieruit volg dit myns insiens dat 'n grondgebruiker wat weier
of versuim om die bepalings van die beheermaatreël vervat in
regulasie 12(1 )(a) na te kom, 'n misdryf ingevolge artikel

7

6(5) van die Wet pleeg. Artikel 23(1 )(a) bepaal vervolgens
dat 'n eerste skuldigbevinding weens 'n misdryf kragtens artikel 6(5) strafbaar is met 'n boete van hoogstens R5 000, of met gevangenisstraf vir 'n tydperk van hoogstens twee jaar, of met daardie boete sowel as daardie gevangenisstraf. Die Wet self skryf dus 'n straf voor vir 'n oortreding van regulasie 12(1)(a).
In die lig van die bepalings van artikel 6(5) en artikel 23(1)(a) was dit na my oordeel nie nodig vir die Minister om kragtens artikel 29(3) van die Wet enige strawwe vir die oortreding van beheermaatreëls in die regulasies voor te skryf nie, soos deur die appellant se advokaat betoog is. In hierdie verband kan daarop gelet word dat artikel 29(3) bloot die bevoegdheid aan die Minister verleen om strawwe by regulasie voor te skryf, maar dat dit geen verpligting op hom plaas om dit te doen nie. Gesien die wye reeks aangeleenthede waaroor die Minister kragtens artikel 29 regulasies kan uitvaardig, is dit egter begryplik waarom daar

8

ook aan die Minister die bevoegdheid verleen is om strawwe by regulasie voor te skryf.
Mnr Schutte het verder betoog dat die regulasies wat in deel 1 as beheermaatreëls beskryf word, slegs kragtens artikel 29 van die Wet uitgevaardig is, en nie ook uitdruklik as beheermaatreëls kragtens artikel 6 van die Wet nie. Gevolglik bestaan daar volgens hierdie betoog minstens 'n redelike twyfel oor die vraag of die Minister ooit die bedoeling gehad het om die betrokke regulasies, en in die besonder regulasie 12, as beheermaatreëis soos bedoel in artikel 6 uit te vaardig.

Artikel 6(1) van die Wet lui soos volg:
"Ten einde die oogmerke van hierdie Wet te bereik,
kan die Minister beheermaatreëls voorskryf wat deur
grondgebruikers vir wie dit geld, nagekom moet
word."

(My beklemtoning van die woord "voorskryf".)

Volgens die woordomskrywing in artikel 1 van die Wet beteken

"voorskryf", by regulasie voorskryf. Artikel 29, wat aan die
Minister die bevoegdheid verleen om reguiasies uit te

9

vaardig, bepaal in subartikel 1(e) dat die Minister

regulasies kan uitvaardig -

"aangaande enige aangeleentheid wat ingevolge hierdie Wet by regulasie voorgeskryf of gedoen moet of kan word." (My beklemtoning).

Soos gesien, is beheermaatreëls in artikel 6 bedoel wel so 'n aangeleentheid wat ingevolge die Wet by regulasie voorgeskryf kan word, Dit volg dus dat as die Minister" beheermaatreëls soos bedoel in artikel 6 wil voorskryf, hy dit kragtens artikel 29(1)(e) by regulasie kan voorskryf. Dit is presies wat die Minister gedoen het toe hy die beheermaatreëls as deel van die regulasies kragtens artikel 29 van die Wet uitgevaardig het. In die omstandighede was daar na my mening geen noodsaak of regverdiging vir die Minister om die regulasies ook kragtens artikel 6 van die Wet uit te vaardig nie.
Na my oordeel is regulasie 12 behoorlik as beheermaatreël voorgeskryf. Die appellant het dus 'n misdryf

10

beheermaatreël voorgeskryf. Die appellant het dus 'n misdryf
ingevolge artikel 6(5) van die Wet gepleeg toe hy versuim het
om die bepalings van regulasie 12(1)(a) na te kom, en
daardie misdryf is strafbaar kragtens artikel 23(1)(a) van
die Wet.

Die appèl word gevolglik van die hand gewys.

F H GROSSKOPF AR.

CORBETT HR)

KUMLEBEN AR) Stem saam.