South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1989 >>
[1989] ZASCA 3
| Noteup
| LawCite
S v Lubbe (23/87) [1989] ZASCA 3 (7 March 1989)
Download original files |
Saak no 23/87 IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèL AFDELING)
In die saak van:
DANIEL PETRUS-LUBBE Appellant
en
DIE
STAAT Respondent
CORAM: GROSSKOPF, VIVIER, STEYN, ARR
VERHOOR: 21 November 1988 GELEWER: 7 Maart 1989
UITSPRAAK GROSSKOPF, JA
Die appellant, 'n 31-jarige Witman, is op 2
Mei 1985 in die Streekhof op Klerksdorp skuldig bevind op sewe aanklagte van
bedrog, een
van diefstal en een van oortreding van artikel 132 (c) van die
Insolvensiewet, no. 24 van 1936. Hy is gevonnis tot termyne van gevangenisstraf
wat in totaal 10 jaar beloop. Die verhoorhof het egter gelas dat die vonnis van
6 maande
2 gevangenisstraf vir die oortreding van die Insolvensiewet
saamloop met die vonnisse op die eerste drie klagtes van bedrog.
Van die
oorblywende nege en 'n half jaar gevangenisstraf is vier
en 'n half jaar
voorwaardelik opgeskort vir vyf jaar. 'n Appèl
na die Transvaalse
Provinsiale Afdeling (ELOFF ARP en HARTZENBERG
R) teen die appellant se
skuldigbevindinge en vonnisse het
misluk, maar met verlof van hierdie Hof kom
hy nou in hoër beroep
teen sy skuldigbevindinge op klagtes 6, 7, 8 en 9
en teen al die
vonnisse op al die klagtes.
Ek behandel éers die
klagtes ten opsigte waarvan daar geen appèl teen die skuldigbevindinge is
nie. Klagtes 1, 2 en
3 was klagtes van bedrog, en het te doen gehad met die koop
van beeste van 'n firma bekend as Premier Professional Auctioneers. Die
relevante feite kan soos volg saamgevat word. Klagte 1
Op 26 Maart
1981 het die appellant by 'n veiling wat deur die Premier Professional
Auctioneers waargeneem is, 103 beeste vir R41 315,00
gekoop. Die koop was
óp krediet en die
3 appellant het 'n vooruitgedateerde tjek ter betaling van hierdie
bedrag verstrek. Dit was 'n bepaling van die koopooreenkoms dat
eiendomsreg nie op die appellant sou oorgaan voordat hy die
koopprys
betaal het nie. Desnieteenstaande het hy op 2 April
1981, dit wil sê sewe dae na die aankoop en skaars vier dae
nadat
die beeste op sy plaas aangekom het, veertig van die beeste vir
R16
000,00 kontant verkoop. Die appellant het nooit die
koopprys aan die afslaers
betaal nie en sy boedel is op 25
Augustus 1981 finaal gesekwestreer. Die
wanvoorstellings
waarvoor die appellant in hierdie klag verkwalik word, en
wat van
sy gedrag afgelei was, was dat hy verwag het dat hy in staat
sou
wees om die koopprys van die beeste te betaal, en dat hy nie
van
voorneme was om die beeste te vervreem voordat die volle
koopprys
betaal was nie. Wat sy vermoë om te betaal betref, het die
streeklanddros bevind, na 'n ontleding van die appellant
se
finansiële posisie en 'n oorweging van sekere ander getuienis,
dat
hy nooit gronde gehad het om te glo dat hy sy belofte om te
betaal sou kon
uitvoer nie, en dat hy in elk geval nie van plan
4 was om dit uit te voer
nie. Hy was, so bevind die hof, besig
met 'n bedrieglike skema waardeur hy beeste verkry het op krediet
terwyl hy geweet het dat hy nie sou kon betaal nie, met die doel
om hulle
spoedig van die hand te sit om kontant in die hande te
kry. Die
streeklanddros het 'n vonnis van twee jaar
gevangenisstraf vir hierdie
oortreding opgelê.
Klagtes 2 en 3
Hierdie klagtes spruit uit twee verdere
krediet-transaksies waarkragtens die
appellant beeste op krediet
van die Premier Professional Auctioneers gekoop
het. Die eerste
(klagte 2) was op 7 April 1981, toe hy 12 beeste teen R5 000,00
gekoop
het. Die tweede (klagte 3) was op 14 April 1981, toe hy
87 beeste teen R41 270,00 gekoop het. Daar was geen voorbehoud
van
eiendomsreg by hierdie transaksies nie, en die appellant is
skuldig bevind bloot op grond daarvan dat hy die kontrakte
aangegaan het
ter uitvoering van die bedrieglike skema wat
onderliggend ook aan die eerste klag was. Die streeklanddros
het dan ook
by hierdie klagtes staatgemaak op wesentlik dieselfde
5 getuienis oor die appellant se vooruitsigte en voornemens as by
klagte 1. Vonnisse van onderskeidelik 6 maande en 2 jaar
gevangenisstraf is opgelê.
Klagte 4
Hierdie klagte spruit voort uit die transaksies wat
onderliggend is aan klagtes 1 tot 3. Die appellant is daarvan
aangekla dat hy artikel 132 (c) gelees met artikel 132 (ii) van
die
Insolvensiewet, no. 24 van 1936, oortree het deurdat hy,
synde 'n insolvent,
voor sy sekwestrasie 180 beeste wat hy op
krediet verkry het en waarvoor hy
nog nie betaal het nie, op 'n
ander wyse as 'n gewone besigheidswyse vervreem
het. Dat die
appellant 'n insolvent was, en dat hy voor sy sekwestrasie
h
wesentlike getal beeste (die presiese getal was nie duidelik nie)
vir
kontant verkoop het teen minder as wat hy op die beeste ,
geskuld het, was
gemene saak. Inderdaad is hy skuldig bevind
aan die verkoping van 72 beeste.
Hierdie verkoping, so is
bevind, het plaasgevind ooreenkomstig die
bedrieglike skema wat
reeds genoem is met betrekking tot die eerste drie klagtes, en
6 dus nie
op 'n gewone besigheidswyse nie. 'n Vonnis van 6 maande
gevangenisstraf is opgelê, wat gelas is om saam te loop met
die
vonnisse op klagtes 1, 2 en 3.
Klagte 5
Hierdie is 'n diefstalklagte. Op 27 Oktober 1980 het
die appellant 'n Suzuki motorfiets van Supreme
Motors &
Engineering Works in Klerksdorp vir R1 496,06 gekoop. Hy het
h
deposito van R500,00 betaal, en daar was dus nog R996,06
verskuldig,
betaalbaar op 27 Oktober 1981. Die balans is
inderdaad nooit betaal nie. Dit was 'n bepaling van die
ooreenkoms dat eiendomsreg voorbehou sou word totdát die
volle
koopprys betaal was. Op 18 Maart 1981 het die appellant 'n
Honda
motorfiets by 'n ander handelaar gekoop. Die prys van die Honda
was
R4 456,20, en die Suzuki (waarvan eiendom nog in Supreme
Motors &
Engineering gesetel het) is ingeruil vir R800,00 wat as
h deposito op die
Honda sou dien. Die appellant is gevolglik
skuldig bevind aan diefstal van die Suzuki, en gevonnis tot 3
maande
gevangenisstraf.
7 Dit bring my dan by die klagtes ten opsigte waarvan die
skuldigbevindinge aangeveg word, t.w. klagtes 6, 7, 8 en 9.
Hierdie
klagtes spruit uit dieselfde stel feite, en dit sal
gerieflik wees om eers 'n
chronologiese oorsig van die gebeure te
gee.
In Oktober 1979 het die appellant by die Departement
van Landbou aansoek gedoen om 'n lening
om produksiemiddele aan
te koop. Die aansoek is geweier op 18 Oktober 1979.
Die
appellant het vertoë tot die Departement gerig, en op 29
Oktober
1979 is 'n lening van R21 900,00 goedgekeur. Die lening
is
beliggaam in 'n geskrewe kontrak, gedateer 1 November 1979.
Die
prosedure waarkragtens die lening uitbetaal sou word was dat
die
appellant die betrokke produksiemiddele by leweransiers sou koop
en
dat die prys dan deur die Departement aan die leweransiers
betaal sou word.
Op hierdie manier het die appellant R20 579,81
van die lening opgeneem.
Hierdie bedrag was, ooreenkomstig die
kontrak, op 31 Julie 1980
terugbetaalbaar. Die appellant het
egter uitstel gevra, en op 4 September
1980 is aan hom
8 skriftelike uitstel verleen tot 31 Augustus 1981 of lewering van
sy 1981 oes, wat ook al die vroegste sou wees. Op 15 Augustus
1980 het die
appellant R1 000 op die lening afbetaal.
Op 22 Augustus 1980 het die
appellant aansoek gedoen om 'n tweede lening van R40 000. Dit is toegestaan op 9
September 1980. 'n Geskrewe
kontrak is weer geteken, hierdie keer op 16
September 1980. Die appellant het produkte ten bedrae van R37 956,62 gekoop wat
uit hierdie
lening betaal is. Van hierdie bedrag is R16 007,22 by wyse van
oeslewerings, op die manier wat ek later sal behandel, betaal. Dus,
om op te
som, die appellant het in totaal kredietfasiliteite van R85 536,01 van die Staat
geniet waarvan hy R17 007,22 terugbetaal
het. Hierdie berekening maak nie
voorsiening vir rente-verpligtinge nie.
Die Staat se saak ten opsigte van klagtes 6 tot 9 het in 'n groot mate berus
op die betoog dat hierdie leningskontrakte tot gevolg
gehad het dat alle oeste
wat die appellant in 1980 en
1981 gekweek het, die eiendom van die Staat
geword het. Die
verhoorlanddros het nie hierdie betoog aanvaar nie, maar
het
9 nogtans die appellant skuldig bevind op 'n alternatiewe grondslag
waarmee ek later handel. Die Provinsiale Afdeling het egter die
Staat
gelyk gegee. Dit is gepas dat ek terstond my mening oor
hierdie twisvraag
verstrek.
Dit is duidelik uit die leningskontrakte dat hulle
aangegaan is kragtens die Wet op
Landboukrediet, no. 28 van
1966, en, in besonder, artikel 38 daarvan.
Insoverre ter sake,
lui hierdie artikel soos yolg:
"(1) Wanneer daar ingevolge hierdie Wet 'n voorwaarde gestel word dat die eiendomsreg op roerende goed op die Staat oorgedra moet word as sekuriteit of gedeeltelike sekuriteit vir -
(a) bystand aan 'n persoon verleen; of
(b) enige bedrag ingevolge hierdie Wet op 'n persoon verhaalbaar,
gaan die Minister en daardie persoon 'n ooreenkoms aan waarby bedoelde eiendomsreg aldus oorgedra word. (2) Sodra so 'n ooreenkoms aangegaan is, word die roerende goed waarop dit betrekking het, ondanks andersluidende wetsbepalings of bepalings van die gemene reg, die eiendom van die Staat."
Dit is duidelik uit die omskrywing van "roerende goed"
in artikel 1 van die Wet dat dit oeste, of dit
al geoes is of
nie, insluit. Uit die bepalings van die Wet is dit dus
duidelik
10
dat die partye 'n regsgeldige ooreenkoms kon aangegaan
het
waarkragtens die appellant se toekomstige oeste, hetsy hulle geoes was al
dan nie, die eiendom van die Staat sou word as sekuriteit
vir die lenings. Die
vraag is dan, eerstens, of hulle dit gedoen het.
Die twee leningskontrakte is
albei in dieselfde gedrukte vorm waarop die besonderhede van elke transaksie
ingevul is. Geriefshalwe
verwys ek net na bewysstuk O, die kontrak van 16
September 1980, aangesien die 1979 kontrak in geen relevante opsig hiervan
verskil
nie.
Die inleidende woorde van die kontrak dui aan dat dit
kragtens artikel 38 van die Wet aangegaan word.
Die aanhef lui
dan soos volg:
"Nademaal bystand ten bedrae van R40 000 ooreenkomstig artikel 10 van die Wet aan die skuldenaar verleen is en hierby deur hom aanvaar word vir die aankoop van die volgende roerende goed (hieronder 'die goed' genoem):"
Dan word die betrokke produksiemiddele (synde saad, kunsmis, brandstof en smeermiddele) uiteengesit.
11
Hierna volg die voorwaardes van die ooreenkoms, waarvan
die volgende van belang is:
"B (a) Die eiendomsreg op die goed berus by die staat as
sekuriteit vir enige bedrag plus rente kragtens die Wet deur die Departement op die Skuldenaar verhaalbaar. (b) Alle oeste moet deur die skuldenaar aan die Kooperasie(s) of handelaar(s) in die aansoekvorm genoem, gelewer word met die opdrag dat die bedrae deur die skuldenaar aan die Staat verskuldig of 'n gedeelte daarvan soos deur die Departement goedgekeur deur die gesegde Kooperasie(s) of handelaar(s) van die opbrengs van die oeste afgetrek én aan hierdie Departement oorbetaal word. (Die Departement sal die Kooperasie(s) of handelaar(s) van die betrokke bedrag in kennis stel.)"
Die kontrak sluit soos volg af:
"SO IS DIT DAT die Skuldenaar voormelde voorwaardes aanvaar en hy hierby die eiendomsreg op die goed asook die eiendomsreg op enige ander roerende goed wat ingevolge 'n voorwaarde van hierdie Ooreenkoms as bykomende sekuriteit moet dien, soos verder omskryf in artikel 1 van die Wet (kyk keersy), oordra op die Staat as sekuriteit vir enige bedrag plus rente en koste kragtens die Wet op hom verhaalbaar en dat die Staat hierby sodanige eiendomsreg aanvaar."
Die woorde "(kyk keersy)" in hierdie passasie verwys
na die omskrywing van "roerende goed" in die
Wet wat op die
keersy gedruk is. Ek haal dit later aan, insoverre ter
sake.
12 Waar hierdie laaste passasie ter uitvoering van
voorwaarde B(a) bepaal dat die "eiendomsreg op
die goed" op die
Staat oorgedra word, verwys dit myns insiens na
die
produksiemiddele wat ingevolge die ooreenkoms aangekoop sou word.
Uit die aanhef van die ooreenkoms, wat ek hierbo aangehaal het,
is dit
duidelik dat dit "die goed" is waarvan gepraat word. Die
Provinsiale Afdeling
het egter gemeen dat die verpligting om
oeste aan 'n bepaalde ko-operasie te
lewer ingevolge voorwaarde
B(b) 'n vorm van sekuriteit oor die oeste
daargestel het, en dat
die oeste dus beskryf kan word as "ander roerende goed
wat
ingevolge 'n voorwaarde van hierdie Ooreenkoms as bykomende
sekuriteit
moet dien". Dit was wesentlik op hierdie basis dat
die Provinsiale Afdeling
bevind het dat eiendomsreg in die
appellant se oeste op die Staat oorgegaan
het. Ek kan ongelukkig
nie hiermee saamstem nie. Myns insiens beliggaam
voorwaarde
B(b) niks meer as 'n kontraktuele verpligting op die appellant
om
sy oeste op 'n bepaalde manier te lewer nie. Daar is niks in
die
bewoording van die voorwaarde of in enige ander deel van die
13
kontrak om aan te dui dat die oeste as bykomende sekuriteit vir
die
appellant se verpligtinge ingevolge die leningsooreenkoms sou dien nie. Die saak
moet dus benader word op die basis dat die enigste
goed waarvan eiendomsreg deur
uitdruklike bepaling van die kontrakte op die Staat oorgegaan het, die
produksiemiddele was wat ingevolge
die kontrakte aangekoop sou word.
Dit is
egter nog nie die einde van die saak nie. Die verdere vraag is of die Wet self
voorsiening maak vir die oordrag van eiendomsreg
in die oeste. By eerste
oogopslag lyk dit dat die antwoord ontkennend moet wees. Artikel 38(1) maak
voorsiening vir ooreenkomste
waarkragtens eiendomsreg in roerende goed op die
Staat oorgedra kan word as sekuriteit vir bystand verleen. Artikel 38(2) bepaal
dan dat, sodra so 'n ooreenkoms aangegaan is, die "roerende goed waarop dit
betrekking het", die eiendom van die Staat word. Dit
wil dus prima facie
voorkom dat, waar die ooreenkoms slegs met die eiendomsreg op produksie-middele
te doen het, geen ander roerende goed op die Staat
sou oorgaan nie. Ek meen
egter dat artikel 38(2), saamgelees met
14 die omskrywing van "roerende goed"
in artikel 1, tot 'n ander
resultaat lei. Volgens hierdie omskrywing word ook die volgende
ingesluit by die begrip "roerende goed":
"... gewasse, gesaaides of vrugte, hetsy dit geoes is al dan nie, en met betrekking tot roerende goed wat uit hoofde van 'n in artikel 38 bedoelde ooreenkoms die eiendom van die Staat is, ook
(a) roerende goed wat bedoelde roerende goed uit hoofde van 'n in artikel 39 bedoelde voorwaarde of voorskrif vervang of aanvul; (b) in die geval van roerende goed wat uit lewende hawe bestaan, die aanteel daarvan
en enige produk wat uit sodanige lewende hawe of aanteel verkry word;
(c) in die geval van roerende goed wat
bestaan uit gewasse, gesaaides of
vrugte,
hetsy dit geoes is al dan nie, of enigiets
wat by die kweek van
gewasse, gesaaides of
vrugte gebruik word, alle gewasse, gesaaides
of
vrugte, hetsy dit geoes is al dan nie, wat
nadat bedoelde ooreenkoms
aangegaan is, deur
die persoon wat dit aangegaan het, gekweek
word."
Art. 39, waarna verwys word in paragraaf (a), bepaal
onder meer dat die
Minister voorwaardelik afstand mag doen van
die Staat se regte op goed wat
ingevolge art. 38 die eiendom van
die Staat geword het.
Ek wil graag sekere aspekte van die omskrywing van
15 "roerende goed" beklemtoon. Eerstens: daar word 'n spesiale
betekenis aan "roerende goed" gegee waar dit uit hoofde van 'n in
artikel
38 bedoelde ooreenkoms die eiendom van die Staat is.
Tweedens: die doel van
die omskrywing in hierdie opsig is om die
trefwydte van die uitdrukking
"roerende goed" te verbreed. So,
byv., sluit dit vervangende of aanvullende goed in (para a), of
die aanteel van lewende hawe, en die produkte van lewende hawe
of hul
aanteel (para b).
Laasgenoemde aspek blyk ook uit paragraaf (c).
Paragraaf (c) gee uitgebreide betekenisse aan
twee kategorieë
roerende goed. Die eerste is roerende goed wat bestaan
uit
gewasse, gesaaides of vrugte. Hierdie uitgebreide betekenis is
nie
direk ter sake in die onderhawige geval nie. Ons het hier
met ooreenkomste te
doen wat oor produksiemiddele handel, en dit
is die omvang van daardie begrip wat ter sake is. Die tweede
kategorie
waarvoor paragraaf (c) voorsiening maak is egter juis
"enigiets wat by die kweek van gewasse, gesaaides of vrugte
gebruik word".
En by hierdie kategorie roerende goed (soos by
16
die eerste kategorie) word ingesluit "alle gewasse, gesaaides
of
vrugte, hetsy dit geoes is al dan nie, wat nadat bedoelde ooreenkoms
aangegaan is, deur die persoon wat dit aangegaan het, gekweek
word".
Dit is
nodig om nou die drade bymekaar te bring. Art. 38(2) bepaal dat die "roerende
goed", waarop 'n ooreenkoms kragtens sub-artikel
1 betrekking het, die eiendom
van die Staat word. "Roerende goed" dra egter die uitgebreide betekenis wat deur
artikel 1 daaraan
geheg word, en sluit dus nie alleen die produksiemiddele in
waaroor daar uitdruklik ooreengekom is nie, maar ook "alle gewasse, gesaaides
of
vrugte ... wat nadat bedoelde ooreenkoms aangegaan is, deur die persoon wat dit
aangegaan het, gekweek word". Die gevolg is dus
dat waar die partye 'n
ooreenkoms aangaan waarkragtens eiendomsreg in produksiemiddele op die Staat
oorgaan, die Wet in effek bepaal
dat eiendomsreg in toekomstige oeste ook
oorgedra word. Die rede hiervoor lê natuurlik voor die hand - eiendomsreg
in die produksiemiddele
verskaf geen noemenswaardige sekuriteit vir die
17
lening nie, aangesien hulle bestem is om in die voortbring van
oeste verteer te word. Dit is dus verstaanbaar dat die
eiendomsreg, wat
die Staat se sekuriteit daarstel, oorgedra word
op die geldlener se oeste.
Ongelukkig het die wetgewer h
ingewikkelde en omslagtige manier gekies om hierdie eenvoudige
resultaat
te bereik, maar die betekenis van die Wet is myns
insiens duidelik. Ek stem dus saam met die Provinsiale Afdeling
dat die
appellant se oeste die eiendom van die Staat geword het,
hoewel om
verskillende redes.
Dit is gelukkig duidelik uit die getuienis dat die
ingewikkeldheid van die Wet die appellant in
hierdie geval in
geen opsig benadeel het nie - hy was ten volle bewus dat
die
oeste wat hy gekweek het die eiendom van die Staat was. Reeds
in sy aansoeke om lenings het hy verklaar:
"Ek is bewus van die feit dat genoemde produksiemiddele die EIENDOM VAN DIE STAAT sal wees en nie sonder die Minister of sy gevolmagdigde se skriftelike toestemming verkoop, verpand of vervreem mag word of tot tyd en wyl skriftelik van die Staat se eiendomsreg afstand gedoen is nie; en dat ek verder bewus is van die feit dat waar die produksiemiddele gebruik wórd vir die kweek van gewasse of vrugte, die eiendomsreg op alle
18
toekomstige gewasse of vrugte, hetsy dit geoes is al dan nie, wat deur my gekweek word, eweneens by die Staat berus."
En die
brief waarkragtens hy uitstel verleen is vir terugbetaling van die eerste lening
het hom ook herinner dat "alle oeste wat u
verbou die eiendom van die Staat is"
totdat die lening terugbetaal word. Daarbenewens het hy by 'n ondervraging
tydens 'n vergadering
van skuldeisers van sy insolvente boedel onomwonde erken
dat hy bewus was dat eiendomsreg van die oeste ih die Staat gesetel het.
Sy
pogings om in getuienis by die verhoor hiervan weg te skram is tereg, myns
insiens, deur die verhoorlanddros verwerp.
Dit is teen hierdie agtergrond dat
die verdere feite beoordeel moet word. Op 4 Maart 1981 het die appellant 'n
ooreenkoms aangegaan
met L T R Beleggings (Edms) Bpk waarvolgens hy aan hulle 'n
"sessie" van sy oeste gegee het ter versekering van bestaande skuld asook
ter
versekering van 'n nuwe skuld van R11 000 of R12 000 vir die aankoop van
kunsmis. Die sessie het soos volg gelui, insoverre dit
ter sake is:
19
"Die Sedent sedeer hiermee wat die Sessionaris in sessie aannneem, ongeveer 200 MORG (TWEEHONDERD) mielies van die plaas bekend as LOT 45 op die volgende terme en voorwaardes:-
1. Die Sedent sal die mielies afoes en lewer op sy eie koste aan die Sessionaris by Suid-westelike Transvaalse Landbou Kooperasie, Schweizer Reneke. 2. Hierdie Sessie sal outomaties verval indien die Sedent die mielies soos in paragraaf 1 gelewer het tot 'n bedrag van R20 000-00 (TWINTIGDUISEND RAND) vir krediet van die Sessionaris. 3. Die Sedent sal alle redelike voorsorg tref dat die betrokke mielielande in 'n goeie skoon toestand gehou word. 4. Indien die Sedent nie die mielies lewer soos uiteengesit in klousule 1 hiervan nie, sal die Sessionaris geregtig wees om die mielies self af te oes en self te lewer by die Suid-westelike Transvaalse Landbou Kooperasie vir krediet van die Sesionaris, maar op die koste van die Sedent. 5. Die Sedent erken hiermee dat die mielies wat hiermee aan die Sessionaris gesedeer word geensins aan 'n ander partygesedeer of verpand is nie."
Inderwaarheid het die appellant nooit enige afbetaling aan L T R gemaak nie, en het hy die betrokke mielies onder sy vader se naam gelewer by die ko-operasie vir sy eie rekening.
Hierdie sessie vorm die onderwerp van klagte 6. In
20
hierdie klagte word die appellant onder
meer ten laste gelê dat
hy 'n voorstelling gemaak het dat hy die
wettige eienaar sou wees van die mielie-oes wat op lot 45 opgelewer sou word,
terwyl hy geweet
het dat dit die Staat se eiendom sou wees. Onder die
omstandighede wat ek hierbo uiteengesit het meen ek dat die Staat waarskynlik
hierdie voorstelling bewys het, maar minstens het die appellant te kenne gegee
dat hy 'n beskikkingsreg oor die mielies sou hê.
Aangesien die mielies tot
die appellant se kennis die Staat se eiendom sou word, en die appellant geen reg
sou hê om daaroor
te beskik nie, was sy voorstelling bewustelik onwaar.
Alle ander elemente van bedrog is bewys, en myns insiens was die appellant
tereg
op hierdie aanklag skuldig bevind.
Ek mag in die verbygaan byvoeg dat ek ook
saamstem met die verhoorlanddros se bevinding dat die Staat in elk geval bewys
het dat die
appellant nooit die voorneme gehad het om mielies ten bedrae van R20
000 van die betrokke oes tot die krediet van L T R Beleggings
te lewer nie.
Dit bring my dan by klagtes 7 tot 9. Daar sal onthou
21
word dat die appellant kragtens die
leningsooreenkomste met die
Staat verplig was om die oeste wat hy gekweek het
te lewer aan "die Kooperasie(s) of handelaar(s) in die aansoekvorm genoem". Die
enigste ko-operasie of handelaar wat in die aansoekvorm genoem was, was die
Suid-westelike Transvaalse Landbou Ko-operasie Beperk
("Suidwes"). Die doel van
hierdie bepaling was dat die ko-operasie die opbrengs aan die Staat sou
oorbetaal. Inderdaad het die appellant,
met die opset om die Staat se regte te
omseil, 'n deel van die oes onder sy eie naam gelewer aan die Noordwestelike
Landboumaatskappy
Beperk ("Noordwes") te Migdol en die opbrengs vir homself
gehou (klagte 7). Dan het hy 'n deel van die oes aan Suidwes te Hallatshoop
onder sy vrou se naam gelewer (klagte 8). Die opbrengs hiervan het hy ook vir
homself toegeëien. Verdere oeste het hy onder
sy vader se naam ingelewer,
weer eens vir sy eie voordeel (klagte 9). Klaarblyklik was dit 'n skema om die
Staat uit die opbrengs
van die oeste te bedrieg, hoewel die betrokke
ko-operasies natuurlik ook benadeel was deurdat hulle betaal het vir mielies wat
die
Staat van hulle met
22
'n vindicatio kon opeis. Deur mielies onder
hierdie
omstandighede aan die ko-operasies te lewer het die appellant
minstens te kenne gegee dat hy 'n beskikkingsreg oor die mielies aan
die
ko-operasies kon oordra in ruil vir betaling van die koopprys aan hom, sy vrou
of sy vader, na gelang van die geval. Hy het geweet
dat hierdie voorstelling
onwaar was, deurdat die mielies die eiendom van die Staat was, en was myns
insiens tereg aan bedrog skuldig
bevind op hierdie klagtes.
Weens hierdie
gevolgtrekking is dit streng gesproke onnodig om 'n mening uit te spreek oor die
juistheid van die basis waarop die
verhoorlanddros die appellant skuldig bevind
het, maar ek sou nogtans graag 'n paar woorde daaromtrent sê. Daar sal
onthou
word dat die landdros bevind het dat die eiendomsreg in die oeste nie op
die Staat oorgegaan het nie, maar dat die appellant nogtans
aan bedrog skuldig
was. Die basis hiervoor was dat die appellant kragtens voorwaarde B(b),
kontraktueel verplig was om die oeste
aan Suidwes te lewer. Deur dit elders te
lewer, of in die name van ander persone te lewer, het hy (so
23
is bevind) 'n voorstelling gemaak dat hy geregtig was om dit so
te lewer.
Hierdie voorstelling was volgens die landdros se bevinding, vals en bedrieglik,
en die maak van die voorstelling het die
Staat benadeel deurdat die opbrengs nie
aan die Staat oorbetaal is soos beoog in die kontrakte nie. Die landdros se
beredenering
in hierdie verband is deur die Provinsiale Afdeling goedgekeur. Ek
het egter bedenkinge oor die juistheid daarvan. As eiendomsreg
in die oeste nog
in die appellant gesetel het, het hy bloot 'n kontraktuele verpligting gehad om
sy oeste op 'n bepaalde manier aan
te wend. As hy dit op 'n ander manier aanwend
(byv. deur dit aan 'n ander ko-operasie of onder 'n ander naam te lewer) pleeg
hy kontrakbreuk.
Sou dit egter bedrog daarstel? Kan 'n mens sê dat 'n
eienaar van goed wat dit verkoop en lewer daardeur te kenne gee dat hy
geen
kontraktuele verpligtinge teenoor ander persone het om op 'n ander wyse met die
goed te handel nie? Ek kan my moeilik voorstel
dat dit die geval kan wees. Die
koper in so 'n geval sou tog nie 'n belang hê by die verkoper se
persoonlike verbintenisse
nie. Wat hom
24
betref betaal hy die prys in ruil vir 'n onbetwisbare
beskikkingsreg
oor die goed (trouens, in die geval wat ons hier veronderstel, vir die
eiendomsreg oor die goed) en, indien die verkoper
hierdeur kontrakbreuk teenoor
'n derde gepleeg het, sou dit nie die koper se vermoënsposisie enigsins
raak nie. Waar hy geen
belang by die verkoper se kontráktuele
verpligtinge het nie, is dit moeilik om in te sien dat die verkoper 'n
stilswyende
voorstelling hieroor aan hom maak bloot deur die verkoop en lewering
van die goed. Hierdie aspek is egter nie in enige van die drie
howe waarin die
saak gedien het, geargumenteer nie, en ek kon geen Suid-Afrikaanse gesag vind
wat direk ter sake is nie. In Engeland
is daar gewysdes wat moontlik die
beskouinge van die landdros en die Provinsiale Afdeling steun. Sien Reg v
Charles 1977 AC 177 en Reg v Lambie [1981] UKHL 4; 1982 AC 449. Ek moet egter met
respek beken dat ek geneig is om met die kritiek op hierdie beslissings deur
prof. Glanville Williams in sy Textbook
of Criminal Law, 2 e uitgawe bll 778-780
saam te stem. Hoe dit ook al sy, dit is gelukkig nie nodig om 'n finale mening
hieroor uit
25
te spreek nie.
Die landdros se beredenering (soos goedgekeur deur
die hof a quo) is egter wel op die volgende basis voor ons aangeval. Die
appellant het betoog dat die uitdrukking "alle oeste" in voorwaarde B(b)
gelees
moet word om te beteken "alle oeste wat gelewer is deur produksiemiddele wat
deur middel van die lening gekoop is". Die appellant
se getuienis was dan ook
dat alle oeste wat met die Staat se produksiemiddele gekweek is, behoorlik aan
Suidwes gelewer is. Die oeste
wat aan Noordwes gelewer is, asook die oeste wat
op sy vrou en vader se name gelewer is, was, volgens hom, gekweek met
produksiemiddele
wat hy uit sy eie sak bekom het. Volgens sy betoog het hy dus
nie teenstrydig met voorwaarde B(b) opgetree nie, en val die basis
van die
landdros se beredenering weg.
Aangesien ek bevind het dat eiendomsreg in al
die betrokke oeste in die Staat gesetel het, is hierdie betoog nie meer van
enige belang
nie. Selfs al was daar geen kontraktuele verpligting op die
appellant om die oeste op 'n bepaalde wyse te
26
lewer nie, was sy optrede in die onderhawige saak klaarblyklik
bedoel om
die instansies aan wie hy gelewer het onder die bedrieglike wanindruk te bring
dat die appellant geregtig was om oor die
oeste te beskik vir sy eie rekening.
Die vertolking van "alle oeste" het egter 'n belangrike deel van die argument
gevorm, en volledigheidshalwe
behandel ek dit. Die enigste argument wat
voorgedra is ten gunste van hierdie vertolking van "alle oeste" was dat 'n
letterlike uitleg
onredelik sou wees. So, byvoorbeeld, as 'n boer op twee plekke
boer (sê nou maar in Transvaal en die Wes-Kaap) kan daar skaars
van hom
verwag word om die oeste van albei boerderye aan 'n ko-operasie soos Suidwes in
Wes-Transvaal te lewer. Hierdie argument
kan nie opgaan nie. Die enigste
kontrakte wat ons moet vertolk is dié tussen die appellant en die Staat.
Inderdaad het die
appellant slegs in die Wes-Transvaal geboer, en daar is geen
praktiese moeilikheid om die woorde "alle oeste" in hul gewone betekehis
uit te
lê nie. Waar 'n boer se omstandighede anders is, sal die kontrak tussen
hom en die Staat vermoedelik ook anders wees.
En, afgesien van
27
die gewone betekenis van die woorde, sou die Staat skaars kon
bedoel
het dat die geldlener se verpligtinge sou afhang van hoe en waar en vir watter
oeste hy die betrokke produksiemiddele gebruik
- iets waaroor die Staat geen
beheer het nie, en ten opsigte waarvan hy grootliks of uitsluitlik op die woord
van die geldlener sou
moes staatmaak.
Weens die voorgaande meen ek dat al die
skuldigbevindinge in orde was. Dit bring my dan by die vonnis.
Mnr.
Grobbelaar, wat namens die appellant opgetree het, het betoog dat daar sekere
faktore is wat die landdros nie behoorlik in ag
geneem het nie. Die appellant,
sê hy, het in Maart en April 1981 reeds baie skuld gehad, onder meer as
gevolg van die droogte,
en is toe in die versoeking geplaas deurdat Premier
Professional Auctioneers te maklik krediet aan hom verskaf het. Hierdie faktor,
so word betoog, werk versagtend in.
Dit is duidelik dat die appellant wel
baie skuld op daardie stadium moes gehad het, hoewel dit nie met enige sekerheid
blyk dat dit
deur die droogte veroorsaak is nie. Dit
28
is egter nie korrek dat die appellant in versoeking geplaas is
deur
maklike kredietverskaffing nie. Toe hy Premier Professional Auctioneers genader
het om krediet, het hy reeds die opset gehad
om hulle te bedrieg. Weliswaar sou
hy nie die opset kon uitgevoer het as hulle krediet geweier het nie, maar aan sy
morele verwytbaarheid
maak dit myns insiens geen verskil nie. Dit kom nie juis
vir my versagtend voor dat 'n bedrieër se slagoffer miskien te liggelowig
was nie.
Dan is daar beklemtoon dat die appellant in wese 'n eerste oortreder
was, maar dit is ten volle deur die verhoorhof in ag geneem.
Wat klagtes 7
tot 9 betref, is daar betoog dat die vertolking van die Wet en die ooreenkoms
moeilik was. Dit kan ek ex post facto aanvaar, maar ten tye van die
gebeure het alle partye klaarblyklik beskou dat al die oeste aan die Staat
behoort en by Suidwes gelewer
moes word. Die appellant se bedrog was juis daarop
ingestel om hierdie omstandighede te negeer, tot sy eie voordeel en tot nadeel
van Noordwes, Suidwes en die Staat.
29
As eiendomsreg inderdaad nie op die Staat oorgegaan het nie, sou
die
appellant moontlik, tegnies gesproke, onskuldig aan bedrog gewees het, maar dit
sou nie aan sy morele verwytbaarheid afgedoen
het nie. Dit is nie asof hy
opgetree het met 'n eerlike maar verkeerde opvatting dat sy optrede regmatig was
nie, of selfs met 'n.eerlike
twyfel oor die regmatigheid daarvan nie.
Ten
slotte het Mnr. Grobbelaar die landdros gekritiseer omdat die landdros telkemale
verwys het na die omvang van die bedrog. So het
die landdros gesê dat hier
"groot bedrae geld" betrokke was; dat een van die klaers "groot bedrae geld
verloor het" en dat
die bedrae hier betrokke in geheel "'n massiewe bedrag" was.
Inderdaad, is betoog, was die totale bedrag maar 'n skamele R150 000
of so. Dit
is duidelik dat die landdros bewus was van die presiese bedrae wat in die saak
betrokke was - trouens hy het hulle versigtig
en akkuraat in sy uitspraak
uiteengesit. Dat die bedrae groot was, veral met inagneming van die waarde van
geld in 1971, kan skaars
betwyfel word. Of die totaal so groot was dat 'n mens
dit as "massief" kan beskryf is
30
'n kwessie van smaak of styl - ek sou nie graag daaroor
kommentaar
wou lewer nie. Ek kan egter fout vind nóg met die landdros
se
stelling dat die bedrae groot of baie groot was, nog met die feit
dat
hy hierdie faktor in aanmerking geneem het by
vonnisoplegging.
Kortom:
myns insiens het die landdros alle relevante aangeleenthede behoorlik in ag
geneem, en is die vonnis wat hy opgelê het,
'n behoorlike een. Daar is dus
geen gronde waarop hierdie hof daaraan kan verander nie.
Die appèl word afgewys.
E M GROSSKOPF, AR
VIVIER, AR)
STEYN, AR ) Stem saam