South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1989 >>
[1989] ZASCA 63
| Noteup
| LawCite
S v Booysen (429/88) [1989] ZASCA 63 (25 May 1989)
Download original files |
Saak No: 429/88
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
NICOLAAS BOOYSEN Appellant
EN
DIE STAAT
Respondent
Coram: E.M. GROSSKOPF, MILNE et EKSTEEN, ARR
Verhoor: 5 Mei
1989
Gelewer: 25 Mei 1989
2 UITSPRAAK
EKSTEEN, AR :
Die appellant het tereg gestaan op vier aanklagtes, tewete moord, poging tot
moord, oortreding van art. 2 van Wet 75 van 1969 (die
onwettige besit van 'n
vuurwapen) en oortreding van art. 36 van dieselfde Wet (die onwettige besit van
ammunisie). Hy is skuldig
bevind op al hierdie aanklagtes. Op die aanklag van
moord is daar geen versagtende omstandighede gevind nie en die appellant is
gevolglik
die doodstraf opgelê. Die huidige appèl is slegs gerig
teen die bevinding van die hof a quo dat daar geen versagtende
omstandighede was nie.
Die getuienis voor die verhoorhof het aangetoon dat
die oorledene saam met vyf van sy maats in Beethovenstraat, Retreat, gestap het
om ongeveer 1 v.m. die nag van Saterdag 6 September 1986. Hulle was van 'n
geselligheid op pad huis toe
3 en het in die straat geloop en gesels. Toe
hulle regoor Beethovenstraat 49 kom, het 'n man (wat later as die appellant
uitgeken
was) oor 'n sink heining vir hulle gekyk. Hulle het aangestap. Twee van
hierdie jong mans, Arnold Weaver en Frans Ontong, het getuig
dat hulle voor in
die groep gestap het toe hulle opgemerk het dat die appellant uit die perseel
gekom het tot in die straat. Hy het
iets aan een van die groep (Martin Woods)
gesê, en toe, heel onverwags, 'n vuurwapen te voorskyn gehaal en op die
groep jong
mense geskiet. Die eerste skoot het die oorledene in sy oog getref en
sy brein binnegedring. Daarna het die appellant nog drie skote
op die groep
afgevuur, maar gelukkig niemand anders getref nie. Sy maats het die oorledene na
die hospitaal gebring, maar hy is dieselfde
dag oorlede as gevolg van die wond
in sy kop.
Weaver en Ontong was die enigste lede van die groep jong mans wat as getuies
deur die Staat geroep is. Die appellant was vir albei
van hulle 'n vreemdeling
gewees,
4 maar albei van hulle het hom op 'n uitkenningsparade, wat later
dieselfde dag gehou is, uitgeken as die persoon wat op hulle geskiet
het.
Adjudant de Kock het dan ook dieselfde oggend met 'n kleefband
toetsmonsters geneem van die hande van die appel-lant om te bepaal
of daar 'n
ontstekingsresidu van die gasse wat by die afvuur van 'n vuurwapen afgegee word
op die appellant se hande was. By ontleding
is gevind dat daar wel so 'n residu
op die appellant se vel tussen die wysvinger en duim van sy regterhand was.
Volgens die getuienis
van Dirk Richardt Mostert, 'n forensiese analis van die
Suid-Afrikaanse Polisie se Forensiese Wetenskapslaboratorium, dui dit
onteenseglik
daarop dat die appellant se hand binne sowat 20 cm. van 'n
vuurwapen wat afgevuur was, moes gewees het. Sy getuienis dui voorts daarop
dat
so 'n residu gewoonweg nie na langer as vier of vyf uur na die afvuur van die
wapen nog waarneembaar op die vel van die persoon
wat die wapen afgevuur het sou
wees nie, maar dat dit in sekere gevalle oor
5 'n langer tydperk nog
waargeneem kan word. Die appellant het ten ene male ontken dat hy ooit 'n
vuurwapen hanteer het, of dat hy
dié betrokke aand naby iemand was wat 'n
vuurwapen afgetrek het.
Die appellant het in sy getuienis erken dat hy die
betrokke aand by Beethovenstraat 49 was. Hy sê dat sy suster daar woon en
dat hy vir haar gekuier het. Daar het hy, sy swaer, en twee vriende sowat drie
"kanne" wyn uitgedrink. Hy sê dat hy daarna
nog "all right" gevoel het,
maar dat hy wou gaan slaap het. Hy beweer dat hy die hele nag deur geslaap het,
totdat hy vroeg die volgende
oggend wakker gemaak is met die aankoms van die
polisie om hom te arresteer.
Ebrahim Koffman, 'n getuie wat deur die Staat geroep is, het ook daardie nag
in dieselfde huis deurgebring. Hy sê dat toe hy
sowat kwart oor ag die
aand by die huis gekom het, die appellant reeds in die bed was. Hy sê dat
die appellant vir hom "baie
dronk" voorgekom het. Koffman het
6 in 'n
buitekamer gaan slaap. Die volgende oggend, sê hy, het hy gesien hoedat
die appellant, ten volle geklee, uit die bed
klim.
Die appellant se
ontkenning dat hy die persoon was wat op die groep jong mans geskiet het is
tereg deur die verhoorhof verwerp, en
sy gevolglike skuldigbevinding aan moord
word nie in die appèl voor ons aangeveg nie.
Na skuldigbevinding is
geen getuienis namens die appellant aangevoer om versagtende omstandighede te
bewys nie.
Mej . Conradie, wat namens die appellant voor ons opgetree
het, het aangevoer dat die oënskynlike sinneloosheid van die appellant se
optrede
dié betrokke nag slegs verklaarbaar sou wees deur sy oormatige
drankinname. Dit was dan ook die enigste grond waarop sy staatgemaak
het, en sy
het steun gesoek vir hierdie submissie by die getuienis van Ebrahim Koffman en
van die appellant self.
Dieselfde submissie is aan die verhoorhof
7 voorgehou, en verwerp. Die geleerde Regter het daarop gewys dat nadat die appellant gedrink het, hy gaan slaap het, en dat die skietery ongeveer vyf uur later plaasgevind het. Die appellant het dus vir die vyf voorafgaande ure niks te drinke gehad nie en hy moes derhalwe nugterder gewees het as toe hy gaan slaap het. Die hof het voorts bevind dat selfs al sou die drank hom nog in 'n mate aangetas het toe hy die noodlottige skoot afgevuur het, die appellant' geen getuienis voor die hof geplaas het om aan te toon in hoe 'n mate dit hom nog in daardiestadium beïnvloed het nie. Hy het ook geen getuienis voor die hof geplaas om te verduidelik hoekom hy op die jong mans geskiet het nie, en geen rede blyk uit die ander aangevoerde getuienis nie. In die lig daarvan dat die bewyslas om versagtende omstandighede te bewys op die appellant berus het, en dat hy die enigste persoon is wat van sy gemoedstoestand ten tyde van die pleging van die misdaad kon getuig het, het hy hom nie van die bewyslas gekwyt om te bewys dat sy optrede aan sy drankinname te wyte was, in
8 so 'n mate dat dit as versagting kon dien nie.
Hierdie redenasie van die
verhoorhof kan m.i. nie as 'n mistasting aangewys word nie, en ek kan geen fout
daarmee vind nie. Mej. Conradie het steun vir haar submissie gesoek in
die beslissing van hierdie Hof in S. v. Felix 1980 (4) S.A. 604 (A). In
daardie saak, egter, het die verhoorhof die bewering in die appellant se
bekentenis voor 'n landdros as sou hy die aand van
die misdaad drank verorber
het, geheelenal buite rekening gelaat by die oorweging of daar versagtende
omstandighede was aldan nie.
Hierdie Hof het op appèl beslis dat dit op
'n mistasting neergekom het, en dit het hierdie bewerings in aanmerking geneem.
In die onderhawige geval het die verhoorhof wel die feit dat die appellant
vroeër die aand drank gebruik het in oorweging geneem,
en, soos ek reeds
daarop gewys het, besluit dat, in die lig van al die omstandighede van die saak,
dit nie as versagting gesien kon
word nie.
Dit is ook aan die hand gedoen dat dit uit die
Staat se opsomming van die wesenlike feite, wat ingevolge die bepalinge van art. 144(3)(a) van Wet 51 van 1977 by die akte van beskuldiging aangeheg is, blyk dat al die getuienis wat tot die Staat se beskikking was, nie gelei is nie. Martin Woods, met wie die appellant voor die skietery sou gepraat het, is nie as 'n getuie geroep nie. Die besluit van die Staat om Martin Woods nie te roep nie kan egter nie voor ons as 'n moontlike grond van versagting opgewerp word nie. Ons is verseker dat Martin Woods by die verhoor teenwoordig was, en tot die beskikking van die verdediging gestel is. Die appellant het hom egter nie geroep nie. In die lig hiervan kan die besluit van die Staat om hom nie te roep nie, nie as 'n oorweging voor ons dien nie.
Bygevolg word die appèl van die hand gewys.
J.P.G. EKSTEEN, AR
E.M. GROSSKOPF, AR )
stem saam
MILNE, AR )