South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1989 >>
[1989] ZASCA 78
| Noteup
| LawCite
S v Motshwane (399/1988) [1989] ZASCA 78 (1 June 1989)
Download original files |
LL Saak No 399/1988
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPèLAFDELING
In die saak russen:
JOSEPH MOTSHWANE Appellant
teen
DIE
STAAT Respondent
CORAM: BOTHA, NESTADT et STEYN ARR
VERHOORDATUM: 3 MEI
1989
LEWERINGSDATUM: 1 JUNIE 1989
UITSPRAAK BOTHA AR:-
2.
Die appellant is in die Rondgaande Hof op Odendaalsrus deur EDELING R en
assessore skuldig bevind aan moord sonder versagtende omstandighede
en ter dood
veroordeel. Die Verhoorregter het aan die appellant verlof toegestaan om na
hierdie Hof te appelleer teen die bevinding
van die Verhoorhof aangaande die
afwesigheid van versagtende omstandighede en die gevolglike doodvonnis wat die
appellant opgelê
is.
Die wyse waarop die moord gepleeg is, word beskryf
in die getuienis van die Staatsgetuie Johannes Moeketsi. Hy, tesame met die
appellant,
die oorledene, en 'n ander Staatsgetuie, Louis Tsholo, was woonagtig
op 'n plek wat in die getuienis beskryf is as die munisipaliteit
se "ashoop". Op
die betrokke dag, 31 Julie 1987, was Moeketsi, Tsholo en die oorledene te voet
op pad na hul woonplek. Terwyl hulle
saam geloop het, het hulle die appellant
teëgekom. Die appellant het op die oorledene gevloek met verwysing na sy ma
se privaatdele.
Die appellant het 'n ysterkierie by hom
3. gehad, omtrent 80
cm lank, 1,5 cm in deursnee, en met 'n soort kop, soos van 'n stuk yster wat
daarop ingeskroef was, omtrent 3
cm in deursnee. Die appellant het aan die
oorledene gesê dat hy hom al lankal gesê het dat hy hom sal "kry".
Daarna het
die appellant op" diê " oorledene afgestorm. Die oorledene het
weggehardloop maar het oor iets gestruikel en op sy maag geval.
Die appellant
het die oorledene met die kierie bygedam terwyl hy op die grond gelê het,
en hom verskeie houe op sy kop geslaan.
Daarna het die appellant weg-gehardloop.
Die oorledene het met 'n bebloede kop daar bly lê. Moeketsi en Tsholo het
hulp gaan
ontbied om die oorledene te verwyder.
Moeketsi se weergawe van die gebeure is in alle wesenlike opsigte gestaaf deur die getuienis van Tsholo.
Die appellant se relaas van wat gebeur het, was heeltemal anders: dit het daarop neergekom dat hy die oorledene in noodweer geslaan het toe die oorledene
4.
hom aangeval het. Die Verhoorhof het bevind dat
die
appellant 'n leuenagtige getuie was en het sy getuienis
aangaande die gebeure verwerp as vals bo redelike
twyfel. Daarenteen het die Verhoorhof bevind dat die
twee Staatsgetuies eerlike en betroubare getuies was.
Hierdie aanslag van
die getuienis is nie aanvegbaar
nie. Hierdie appèl moet dus beslis
word op grondslag
van die getuienis van Moeketsi, soos gestaaf
deur
Tsholo.
'n Nadoodse mediese ondersoek van die liggaam
van
die oorledene het aan die lig gebring dat hy ses
wonde aan sy linker agterkop
gehad het, wat sy dood
veroorsaak het. Sy skedelbeen was op verskeie
plekke
verpletter en sy brein was erg beseer. Die
distriksgeneesheer wat
die ondersoek uitgevoer het, het
getuig:
" die hele skedel was verbrysel gewees
aan hierdie kant dit is so 'n hele pap
massa gewees hier agter."
Selfs met 'n voorwerp soos
die kierie wat hierbo beskryf
5. is, moes daar "redelike harde" houe geslaan
gewees het om die beserings wat aangetref is, te kon veroorsaak het.
Dit is
nou nodig om te verwys na sekere feite wat die agtergrond vorm van die gebeure
ten tyde van
die moord self. Dit is duidelik uit die getuienis dat daar in
die algemeen, tot op die dag voor die moord, 'n goeie en vriendskaplike
gesindheid geheers het tussen die bewoners van die ashoop, insluitende die
oorledene en die appellant. Maar op die dag voor die moord
het daar moeilikheid
ontstaan tussen die appellant en die oorledene. Die oorledene het die appellant met 'n mes in sy
rug gesteek. Dit was en is gemeensaak. Volgens die appellant, wie se getuienis
in hierdie opsig nie
weerspreekbaar is nie, het die oorledene hom daarvan
beskuldig dat hy nie drank koop nie, terwyl hulle saam sit en drink het, soos
gewoonlik. Die appellant het geantwoord dat hy nie geld het nie. Die oorledene
wou hom deursoek, die appellant het
6.
geweier, en toe steek die oorledene hom. Die appellant wou weghardloop, maar
hy het geval. Toe steek die oorledene hom nog twee houe
in sy rug. Die appellant
het na die polisiestasie gevlug, waar hy aan sersant Phumo gerapporteer het dat
die oorledene hom in sy
rug gesteek het. Hierdie getuienis is deur Phumo in sy
getuienis namens die Staat bevestig. Phumo het nie na die appellant se beserings
gekyk nie. Volgens hom het die appellant net die voorval gerapporteer; hy wou
nie 'n klag teen die oorledene lê nie, maar het
gesê "hy sal vir
oorledene eendag kry".
Op die dag van die moord, en kort voordat dit
plaasgevind het, het Moeketsi, Tsholo en die oorledene by 'n plek genaamd Grand
Store
saam sit en drink. Moe-ketsi was bewus daarvan dat die oorledene die
appellant die vorige dag gesteek het, want die appellant het
hom vantevore
daarvan vertel en aan hom sy beserings gewys. Terwyl Moeketsi, Tsholo en die
oorledene daar sit en drink het, het die
appellant by hulle gekom. Die
7.
oorledene het hom genooi om saam te drink en het vir hom 'n skaal sorghumbier
gekoop. Die oorledene het ook vir die appellant 'n
pakkie 20 Lexington sigarette
gekoop. Die appellant het die pakkie sigarette geneem en die bier wat die
oorledene vir hom gekoop
het , gedrink. Daarna het die appellant die geselskap
verlaat en is hy weg. Na 'n ruk is Moeketsi, Tsholo en die oorledene ook daar
weg, op pad na die ashoop. Dit was terwyl hulle so op pad was dat hulle die
appellant teëgekom het, en dis toe dat die moord
plaasgevind het. In sy
uitspraak tydens die skuldigbevinding van die appellant het die Verhoorregter
gesê dat die Verhoorhof
bevind dat die appellant die oorledene met direkte
opset - dolus directus - doodgemaak het. In sy uitspraak op die aansoek
om verlof om te appelleer het die Verhoorregter die moontlikheid in die
vooruitsig
gestel dat hierdie Hof sou kon bevind dat die appellant se opsetvorm
nie dolus directus was nie, maar slegs dolus eventualis, en op
daardie
8. grondslag die aansoek om verlof toegestaan. Die Verhoorregter het
egter nie die gronde van die appèl òf uitdruklik
òf by
implikasie op enige wyse beperk nie.
Alhoewel die vorm van die opset wat by
die appellant aanwesig was toe hy die oorledene aangerand het, nie vir my
glashelder duidelik
is nie (veral in die lig van die oorwegings wat later
hieronder in 'n ander verband bespreek sal word), is ek tog nie oortuig daarvan
dat die Verhoorhof gefouteer het deur te bevind dat die appellant die direkte
oogmerk gehad het om die oorledene te dood nie. Die
aard van die wapen wat die
appellant gebruik het, die mate van geweld wat hy-" aangewend het, die plek op
die kop van die oorledene
waar hy sy houe met die kierie toegedien het, en die
aard en omvang van die beserings wat hy aan die oorledene veroorsaak het, dui
alles daarop dat die Verhoorhof se afleiding van dolus directus as die
enigste redelike afleiding uit die feite nie werklik aanvegbaar is nie. Na my
mening is daar dus nie
9. genoegsame gronde om met daardie bevinding in te
meng nie.
Volgens my oordeel het die Verhoorhof egter in 'n ander verband
gefouteer in sy benadering tot die vraag na die bestaan al dan nie
van
versagtende omstandighede. Dit het betrekking op die ondersoek na die
subjektiewe gemoedstoestand van die appellant toe hy die
oorledene aangerand
het. Die Verhoorhof het bevind (om nou slegs kortliks saam te vat, net ter
inleiding van die bespreking) dat
die appellant die oorledene gedood het uit
wraaklus, en dat sy wraakmotief onverstaanbaar en dus nie verskonend is in die
sin van
versagtende omstandighede nie. Met eerbied teenoor die Verhoorhof, is ek
van mening dat hierdie bevinding berus op 'n te oppervlakkige
ondersoek na die
subjektiewe gemoedstoestand van die appellant op die kritieke stadium van sy
optrede, en 'n ondersoek wat terselfdertyd
gepaard gegaan het met 'n paar
feitlike mistastings wat hierdie Hof noop om die hele
10.
aangeleentheid opnuut in oënskou te neem.
Van fundamentele belang is die vraag watter
uitwerking die oorledene se aanranding op die
appellant, op die dag voor die moord, gehad het op die
appellant se geestestoestand ten tyde van die moord.
Om mee te begin, het
die Verhoorregter in sy uitspraak
oor versagtende omstandighede gesê:
" die hof aanvaar dat die beskuldigde
minstens verontreg gevoel het daardeur."
Dit is nie vir my duidelik waarom die Verhoorregter in
hierdie stadium van die saak die appellant se reaksie
op die oorledene se aanranding op hom, op so 'n wyse
beskryf het soos blyk uit die woorde wat ek aangehaal
het nie. In sy uitspraak tydens die skuldigbevinding
het die Verhoorregter
die Verhoorhof se bevinding in
dié verband aansienlik sterker uitgedruk, soos volg:
"'n Mens kan egter aanvaar, en dit blyk ook duidelik uit die getuienis, dat hy baie verontwaardig was daaroor."
Laasgenoemde woorde weerspieël die korrekte uitgangs-
11.
punt.
Vervolgens verwys die Verhoorregter na die
geleentheid toe Moeketsi, Tsholo, die oorledene en die
appellant sit en
bier drink het in die Grand Store.
In verband met die appellant se gemoedstoestand in
daardie stadium,
sê die Verhoorregter:
"Die verhaal gaan dan voort dat die
beskuldigde egter, en Moeketsi sê so, nogtans
bietjie ongelukkig gelyk het en hy is ook
eerste daar weg "
Met eerbied, die uitlating is nie 'n korrekte
weergawe
van Moeketsi se getuienis oor hierdie punt nie.
In
kruisondervraging is hy indringend gevra oor wat die
appellant se
gemoedstoestand was tydens die bier-
drinkery. Van die antwoorde wat hy gegee
het, lui
soos volg:
" ek kon sien dat hy ontevrede was."
" ek kon sien dat hy ontevrede was, want
hy was beseer."
"Hy was ontevrede
gewees, want hy is beseer."
"Ek kon aan sy gesig sien, sy voorkoms
was
12.
nie soos elke dag nie." Klaarblyklik was die appellant, ten spyte van die oorledene se vriendskapsgebaar om hom 'n bier en sigarette aan te bied, of miskien juis as gevolg daarvan, emosioneel erger omgekrap as wat blyk uit die opmerking dat hy 'n "bietjie ongelukkig gelyk het".
Daarna verwys die Verhoorregter na die
appellant se eie getuienis oor sy gemoedstoestand, soos
volg:
"..... hy sê self in sy getuienis, synde al getuienis wat ons van hom het in hierdie verband alhoewel hy nie 'n betroubare getuie was nie, dat hy was nie kwaad vir die oorledene nie."
Die benadering van die Verhoorhof wat uit die
aangehaalde uitlating blyk,
berus, met respek gesê, op
'n wanopvatting van die effek van die
getuienis as h
geheel geneem. Die appellant het wel in een stadium
van sy
getuienis gesê dat hy nie vir die oorledene
kwaad was nie, maar dit was in die samehang van sy
getuienis dat hy 'n
aanklag teen die oorledene by die
13.
polisie aanhangig gemaak het. Dit is dan ook die rede
wat hy uitdruklik
aangee hoekom hy nie kwaad was nie:
"want ek het geweet dat ek 'n klagte teen hom gelê het".
Die
Verhoorhof het wel nie die appellant se getuienis
aanvaar dat hy 'n klag teen
die oorledene gelê het nie,
op grond van sersant Phumo se ontkenning
van daardie
bewering, maar die Verhoorhof was in hierdie stadium
van die
Verhoorregter se uitspraak besig om die
appellant se eie getuienis, alhoewel
dit verwerp is,
téen hom aan te wend. In 'n ander stadium van
sy
getuienis het die appellant anders getuig oor sy
gemoedstoestand,
spesifiek op die tydstip toe hy die
oorledene aangerand het. Voor ek daarby
kom, moet
daar ter wille van volledigheid eers genoem word wat
die
appellant gesê het van hoe hy gevoel het tydens die
bierdrinkery by die
Grand Store:
"Ek was nie gelukkig gewees nie, maar ek was nie kwaad vir hom gewees [nie] alhoewel ek
aan pyne gely het."
Ten aansien van die oomblik toe hy sy noodlottige
14.
aanval op die oorledene geloods het, het die appellant
egter uitdruklik en
by herhaling verklaar:
"Ek het hom geslaan omdat ek kwaad was."
Nou is dit so dat hierdie
getuienis van die appellant
saamgeweef was met sy relaas dat hy in noodweer
opgetree het nadat die
oorledene hom eerste aangeval
het, en dat die Verhoorhof daardie relaas
verwerp het.
Maar die stelling dat hy op die oomblik van sy aanval
op die
oorledene kwaad was, word baie pertinent gestaaf
deur die Staatsgetuie
Moeketsi:
"Toe die beskuldigde die oorledene nou
aanval het jy onder die indruk verkeer
dat hy baie kwaad was of wat was jou
indrukke? Ja hy was kwaad."
Moeketsi se getuienis is as 'n geheel deur die Verhoor-
hof as
geloofwaardig en betroubaar aanvaar, en daar is
geen rede om hierdie deel
daarvan te betwyfel nie. Sy
stelling dat die appellant kwaad was, is geensins
deur
òf die Staat òf die verdediging verder gevoer nie
en
dit moet dus aanvaar word as iets wat in werklikheid
15. gemeensaak
was. In ieder geval was dit die Verhoorhof se taak in die ondersoek na
versagtende omstandighede om ag te slaan op
enige tersaaklike faktore wat uit
die Staatsgetuienis na vore gekom het, afgesien van die appellant se eie
getuienis (kyk bv S v Shoban 1982 (1) SA 36 (A) op 40 C-G en die sake
daar aangehaal). Moeketsi se getuienis dat die appellant kwaad was, is 'n
belangrike aanwyser van die appellant
se gemoeds-toestand ten tyde van die pleeg
van die moord. Blykens die Verhoorregter se uitspraak het die Verhoorhof hierdie
omstandigheid
oor die hoof gesien en verontagsaam, en in die gevolg versuim om
die appellant se subjektiewe geestestoestand na behore te beoordeel.
Dit is
teen die voorgaande agtergrond dat die Verhoorhof se beredenering in
oënskou geneem moet word, naamlik dat die appellant
se wraaklus en
wraakmotief nie verstaanbaar is nie, en dus ook nie verskonend nie. Met
verwysing na die gebruik van die woord "verstaan-baar"
in hierdie verband, het
die Verhoorregter
16.
opgemerk:
"Dit beteken mens moet oordeel dat dit ingevolge aanvaarde norme in 'n mate verskoonbaar is."
Dit is nie vir my duidelik wat die Verhoorhof te kenne
wou gee met die
uitdrukking "ingevolge aanvaarde norme"
nie. 'n Mens wat vas glo in die
bestaan van toorkuns,
byvoorbeeld, en wat met daardie geloof 'n
vermeende
"towenaar" wat hom kwaad berokken het, doodmaak, se
optrede, so
weet ons, word dikwels as "in 'n mate
verskoonbaar" aangemerk met die oog op
'n bevinding van
versagtende omstandighede, maar tog sou
sodanige
beoordeling van sy motief nouliks gesê kan word om
te
geskied "ingevolge aanvaarde norme". Dit kom my voor,
met eerbied
teenoor die Verhoorhof, asof die benadering
wat blyk uit die aangehaalde
woorde neerkom op 'n
miskenning van die belangrikheid van 'n ondersoek na
die
subjektiewe gemoedstoestand van die appellant. Dit
word inderdaad bevestig
deur die opmerkings wat die
Verhoorregter in sy uitspraak gemaak het net
ná die
17. gebruik van die betrokke woorde. Hy sê naamlik dat 'n
mens moet kyk na die aard van die verontregting wat die appellant
ondergaan het;
alhoewel hy in die rug gesteek was, het hy nie eers vir die polisieman (sersant
Phumo) gewys hoe lyk sy beserings
nie; die oorledene kon hom nie ernstig beseer
het nie, want hy het nie eers vir die Hof 'n letsel gewys nie; hy het geen
mediese
behandeling ontvang nie; boonop het hy die oorledene se
vriendskapsgebaar in die vorm van die aanbod van drank en sigarette
aánvaar;
en in die lig van al daardie omstandighede was dit vir die
Verhoorhof onverstaanbaar dat die appellantso 'n wraak kon koester dat
hy op die
oorledene afstorm terwyl hy vreedsaam op pad was huis toe en hom dan doodslaan
terwyl hy hulpeloos op die grond lê.
Ek kan, met eerbied, nie met
hierdie benadering saamstem nie, en in die lig van die feitlike dwalings van die
Verhoorhof waarop ek
reeds hierbo gewys het, is dit my geoorloof om my eie
beskouing van
18. die appellant se subjektiewe gemoedstoestand ten tyde van
die moord weer te gee. Volgens algemene menslike ervaring en die insig
in die
menslike geaardheid wat daarmee saamgaan, is die appellant se optrede vir my nie
onverstaanbaar nie. Die appellant is 'n totaal
onopgevoede en ongesofistikeerde
man. Hy word deur sy medebewoner van die plek by die ashoop, met wie hy op 'n
goeie voet verkeer
het, ongeregverdiglik in die rug gesteek. Hy was daardeur
baie verontwaardig en, as 'n waarskynlikheid, erg gekrenk. Hy loop, weer
as 'n
waarskynlikheid, met 'n sluimerende wrok in sy hart teenoor die oorledene rond.
Dit is verder waarskynlik dat, met hierdie
smeulende emosie teenoor die
oorledene, laasgenoemde se vriendskapsgebaar om hom drank en sigarette aan te
bied, wat hy aanvaar,
hom nie laat afkoel het nie, maar bes moóntlik nog
'n verdere vernederende uitwerking op hom gehad het. Daarin sien ek niks
vreemd
nie. Per slot van sake, hoe is dit anders te verklaar dat die appellant kort
daarna so
19. kwaad was vir die oorledene dat hy hom begin aanrand? Iets moes
in die appellant se geestestoestand plaasgevind het om hom so
te laat optree, en
dit nogal in die aanwesigheid van twee van hulle albei se makkers. Die
waarskynlikste verklaring vir die appellant
se optrede is dat sy smeulende wrok
teenoor die oorledene opgevlam het in 'n skielike uitbarsting van woede, wat
veroorsaak het dat
hy die oorledene so genadeloos toegetakel het.
Uit
voorgaande beskouing is my gevolgtrekking dat die emosionele opwelling van die
appellant se wrok teenoor die oorledene, wat gelei
het tot die uitbarsting van
die geweldpleging teenoor hom, sy subjektiewe gemoedstoestand ten tyde van die
moord op so 'n wyse en
in so 'n mate beïvloed het dat dit sy daad moreel
minder verwytbaar maak as wat andersins- die geval sou gewees het, en dat
daar
dus wel versagtende omstandighede aanwesig was.
Die appèl moet dus slaag. Met inagneming
20.
van alle faktore wat ter sake is, meen ek dat 'n vonnis van 12 jaar gevangenisstraf gepas sal wees.
Die bevel van die Hof is soos volg:
1. Die appèl word gehandhaaf. 2. Die Hof a quo se bevinding dat daar geen versagtende omstandighede by die moord aanwesig was nie, word tersyde gestel en vervang deur 'n bevinding dat daar wel versagtende omstandighede aanwesig was. 3. Die doodvonnis wat die appellant opgelê is, word tersyde gestel en vervang deur 'n vonnis van 12 jaar gevangenisstraf.
A.S. BOTHA AR
NESTADT AR
STEM SAAM STEYN AR