South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1991 >> [1991] ZASCA 100

| Noteup | LawCite

S v Maynard (23/91) [1991] ZASCA 100 (9 September 1991)

Download original files

RTF format


23/91

N v H

TONY FREDDY MAYNARD en DIE STAAT SMALBERGER, AR:-

23/91 N v H

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(APPèLAFDELING)

In die saak tussen
TONY FREDDY MAYNARD Appellant
en
DIE STAAT Respondent

CORAM: SMALBERGER, VIVIER, et MILNE, ARR VERHOORDATUM: 26 Augustus 1991 LEWERINGSDATUM: 9 September 1991

UITSPRAAK SMALBERGER, AR:-

Die appellant en vyf mede-beskuldigdes is op

18 Oktober 1988 in die Witwatersrandse Plaaslike
Afdeling deur LE GRANGE, Wn RP, en twee assessore aan

2/

2

moord (aanklag 1) en roof met verswarende omstandighede (aanklag 2) skuldig bevind. In die geval van die appellant (wat beskuldigde 1 by die verhoor was) en beskuldigdes 5 en 6 is geen versagtende omstandighede bevind nie, en hulle is op die moordaanklag ter dood veroordeel; die ander drie beskuldigdes is elk tydperke van gevangenisstraf opgelê. Op die roofaanklag is die appellant en sy mede-beskuldigdes elk gevangenisstraf opgelê vir tydperke wat van twee tot sewe jaar gewissel het. Al ses beskuldigdes is verlof om te appelleer deur die Regter a_ quo geweier. Daarna is petisies vir sodanige verlof by hierdie Hof ingedien. Die uitslag van die petisies was soos volg: Die appellant en beskuldigde 5 is verlof verleen om te appelleer teen hulle skuldigbevindings op beide aanklagte sowel as die bevinding op aanklag 1 van afwesigheid van versagtende omstandighede; die ander

3/

3 beskuldigdes is almal verlof om te appelleer geweier. Beskuldigde 5 is sedertdien oorlede en sy appèl het dus verval. Gevolglik is net die appèl van die appellant tans ter sake. Die geval van beskuldigde 6 sal te gelegener tyd kragtens die bepalings van Artikel 19 van die Strafregwysigingswet 107 van 1990 oorweeg word.
Die aanklagte teen die appellant en sy mede-beskuldigdes het voortgespruit uit sekere gebeure wat op die aand van 25 April 1987 plaasgevind het. Twee getuies, mnre Darroosh Sahabodien en Marcus Williams, het ten opsigte van hierdie gebeure namens die Staat getuig. Hulle getuienis kom kortliks op die volgende neer: Sahabodien en 'n vriendin was die betrokke aand te voet op pad huistoe. Hulle het in Ascotstraat, Eldoradopark, gestap. Dit was reeds skemer maar die uitsig was nog betreklik goed. Williams en sy broer Olbin Williams (die oorledene) het ongeveer 15 treë

4/

4 voor hulle in dieselfde rigting gestap. Die oorledene was aan Sahabodien bekend. Terwyl hulle gestap het, is Sahabodien deur ses mans aangeval. Hy het die ses beskuldigdes as sy aanvallers uitgeken. Hulle was almal aan hom goed bekend. Beskuldigde 2 het hom van agter om die nek gegryp; die ander het gehelp om hom vas te hou. Beskuldigde 4 het 'n kapmes gehad; die ander beskuldigdes (insluitende die appellant) was met messe gewapen. Beskuldigde 3 het Sahabodien se polshorlosie ter waarde van nagenoeg R300,00 van sy arm verwyder. Die beskuldigdes het toe voortbeweeg en kort daarna oorgegaan tot 'n aanval op die oorledene.

Williams het getuig dat hy en sy broer vanaf die bioskoop op pad huistoe was. Ses manspersone het van agter af by hulle aangekom. Toe daar gesê word "Hier is hulle" het Williams omgekyk. Hy

5/

5 gewaar toe die ses beskuldigdes wat almal aan hom goed bekend was. Volgens Williams was hulle almal lede van 'n bende bekend as die "Young Ones". Die ses beskuldigdes pluk toe almal wapens uit. Beskuldigde 4 het 'n kapmes gehad; die ander (insluitende die appellant) het messe gehad. Williams het skuins oor die straat gehardloop en die daaropvolgende gebeure vanaf 'n afstand van ongeveer 15 treë beskou. Die oorledene het probeer vlug deur oor 'n aangrensende heining te klim. Hy het nie daarin geslaag nie. Beskuldigde 5 het hom van agter af van die heining afgetrek; die appellant het hom met 'n baksteen gegooi. Die oorledene het op die grond neergeval. Reeds voor dit, en daarna, is hy deur die beskuldigdes (insluitende die appellant) met messe gesteek, en hy is ook deur beskuldigde 4 met die kapmes op sy gesig gekap. Die ses beskuldigdes het toe die toneel

6/

6 verlaat. Kort daarna het die oorledene aan sy beserings beswyk. Die aanval op die oorledene soos deur Williams getuig, word in wese deur Sahabodien bevestig.
Volgens die verslag van die pataloog wat die nadoodse ondersoek op die liggaam van die oorledene gehou het, was die oorsaak van die oorledene se dood "penetrating incised wound of the aorta and the main pulmonary trunk". Dit blyk uit die verslag dat daar altesame tien steek- of snywonde aan die kop en bolyf van die oorledene gevind is. Die mediese bevindings is in ooreenstemming met, en bevestigend van, die waarnemings van Williams en Sahabodien met betrekking tot die aanval op die oorledene.
Die appellant se verweer was 'n alibi. Destyds het hy, sy vrou en hulle baba 'n gehuurde kamer bewoon in die huis van mev Miriam Khan te Eldoradopark.

7/

7 Volgens die appellant was hy vanaf 08h00 tot 19h30 op 25 April 1987 (die betrokke dag van die roof en die moord) by sy kamer. Hy was heeltyd besig om sy kamer uit te verf. Sy vrou was nie tuis nie aangesien sy en die baba na haar ouers in 'n ander voorstad van Johannesburg gegaan het ten einde die reuk van die verf te vermy. Die appellant het nie sy vrou of enige ander getuie geroep om sy weergawe te bevestig nie. Nadat die saak vir die verdediging gesluit is, het die Staat aansoek gedoen om weerleggende getuienis deur mev Khan aan te bied. Die aansoek is toegestaan. Mev Khan het bevestig dat die appellant 'n kamer by haar gehuur het oor die relevante tydperk, maar sy het ontken dat die appellant ooit die kamer uitgeverf het. Volgens haar was die kamer eers in Februarie 1988 deur haar man geverf nadat dit laas in 1979 geverf is. Die appellant se alibi word effektiewelik deur haar

8/

8 getuienis ondermyn.
Die verhoorhof het die getuienis versigtig ontleed en oorweeg. Daar is bevind dat Williams en Sahabodien indrukwekkende en geloofwaardige getuies was op wie se getuienis, insluitende hulle uitkenning van die appellant, peil getrek kon word. Die verhoorhof was bedag op die feit dat Williams maar 15 jaar oud was toe die gebeure waaroor hy getuig het, plaasgevind het, en sy getuienis met die nodige omsigtigheid en begrip benader. Ondanks die feit dat hulle getuienis vir 'n mate van kritiek vatbaar is, het die verhoorhof hulle getuienis aanvaar. Insgelýks is die getuienis van mev Khan aanvaar; en die getuienis van die appellant, wat as onbevredigend en onindrukwekkend beskou is, is verwerp.

Inagnemende die welbekende beginsels wat by die oorweging van 'n feite-appèl van toepassing is,

9/

9 bestaan daar na my mening geen grondige rede vir inmenging met die verhoorhof se bevindings nie. Daar bestaan nie die geringste twyfel nie dat beide Williams en Sahabodien op die toneel was en dat hulle die gebeure waaroor hulle getuig het, persoonlik ondervind en aanskou het. Hulle staaf mekaar in wesenlike opsigte, onder andere, oor hoeveel aanvallers daar was, hoe hulle gewapen was, en hoe die aanranding op die oorledene verloop het. Die ses beskuldigdes was aan beide van hulle goed bekend. Williams het hulle geken as lede van die "Young Ones" en was vertroud met minstens hulle byname; Sahabodien het selfs geweet waar elkeen woonagtig was. Die omstandighede wat geheers het, was heel bevorderlik vir betroubare uitkenning. Dit was nog nie heeltemal donker nie en die straatligte het reeds gebrand; die twee getuies het die ses beskuldigdes óf van aangesig tot aangesig

10/

10 óf van naby aanskou. Ofskoon die gebeure betreklik vinnig plaasgevind het, was daar nogtans ruimskoots geleentheid vir betroubare waarneming. Daarbenewens was die appellant volgens beide Williams en Sahabodien die persoon wat die oorledene met 'n baksteen gegooi het toe hy oor die heining probeer klouter het; volgens Williams het die appellant eerste vir die oorledene gesteek. Sy optrede sou dus veroorsaak het dat hulle aandag spesifiek op hom gespits was en dit sou sy uitkenning vervolgens vergemaklik het. Hierdie faktore werk die gevaar van 'n foutiewe uitkenning teë. Daar word nie beweer dat Williams en Sahabodien saamgespan het om die appellant valslik te inkrimineer nie; daar bestaan ook geen rede waarom hulle die appellant en sy mede-beskuldigdes valslik by die gebeure sou betrek ten einde die werklike skuldigdes te beskerm nie. Mev Khan was

11/

11

klaarblyklik 'n eerlike getuie wat geen motief gehad het om valse getuienis teen die appellant af te lê nie. Ofskoon aspekte van die Staatsgetuienis vatbaar is vir geregverdigde kritiek, bly ek onoorreed dat die verhoorhof fouteer het deur die getuienis van die Staatsgetuies as betroubaar, eerlik en geloofwaardig te aanvaar, en dié van die appellant te verwerp.
Mnr Brandt, namens die appellant, het in die loop van sy betoog verwys na die gevalle van beskuldigde 5 (nou oorlede) en beskuldigde 6, veral laasgenoemde. Volgens hom moes die verhoorhof op die getuienis bevind het dat hulle alibi's redelik moontlik waar kon gewees het. Dit sou, so lui sy betoog, twyfel laat ontstaan het omtrent die betroubaarheid van Williams en Sahabodien se uitkenning van die appellant. Ten opsigte daarvan die volgende: Beskuldigde 6 is deur hierdie Hof verlof geweier om teen sy

12/

12

skuldigbevindings te appelleer. Daar moet dus van die standpunt uitgegaan word dat hy korrek skuldig bevind is. Maar in iedere geval is ek nie daarvan oortuig dat die verhoorhof fouteer het deur, op die getuienis in sy geheel gesien, die alibi's van beskuldigdes 5 en 6 te verwerp nie.

Om die voorafgaande redes kan die appellant se appèl teen sy skuldigbevindings nie slaag nie.
Ofskoon die doodvonnis op aanklag 1 opgelê is lank voordat die Strafregwysigingswet 107 van 1990 in werking getree het, geld die relevante bepalings van daardie Wet by die beoordeling van die huidige appèl. Wet 107 van 1990 het die verpligte doodstraf afgeskaf, en die voorafbestaande bedeling met betrekking tot die doodstraf ingrypend verander. Aan die hand van die talle onlangse beslissings van hierdie Hof oor die uitwerking van daardie Wet, word die doodvonnïs nou

13/

13 alleenlik opgelê as dit, met behoorlike inagneming van alle strafversagtende en strafverswarende faktore, die enigste gepaste vonnis is. Die vraag ontstaan dus: is die doodvonnis die enigste gepaste vonnis op aanklag 1?
Die aard van die misdaad, en die omstandighede waaronder dit gepleeg is, is onteenseglik strafverswarend, veral wat betref die appellant. 'n Niksvermoedende en weerlose slagoffer is op lafhartige en gevoellose wyse deur 'n bende aangeval. Die oorledene is geen geleentheid gegun om homself te verdedig nie. Toe hy probeer wegkom, was die appellant aan die voorspits om dit te verhoed; volgens Williams was hy ook die persoon wat die oorledene eerste gesteek het. Die koelbloedige wyse waarop die oorledene aangerand is, en die aantal steekwonde wat hy toegedien is, dui daarop dat die ses

14/

14 beskuldigdes die direkte opset gehad het om hom te dood. Nadat die oorledene verskeie steekwonde toegedien is, het die ses beskuldigdes doodluiters aangestap en die oorledene aan sy lot oorgelaat.
Daar is egter ook sekere strafversagtende faktore aanwesig. Die appellant was 20 jaar en 10 maande oud toe die moord gepleeg is. Hy is 'n eerste oortreder. Hy het vaste werk gehad en het vir sy gesin gesorg. Dit blyk uit die getuienis dat hy grootgeword het in 'n omgewing waar nadelige maatskaplike toestande hoogty vier en hy aan misdaad en slegte invloede blootgestel is. Jeugbendes is in dié gebied bedrywig. Ofskoon die appellant deurgaans ontken het dat hy 'n lid van 'n bende was, dui die getuienis van Williams sowel as die waarskynlikhede op die teendeel.

15/

15 Prof Steyn, 'n sosioloog, het ter versagting namens die ses beskuldigdes in die algemeen getuig oor die redes waarom bendes gevorm word, veral onder adolessente, hoe hulle afwykende morele norme bepaal word, en verwante aangeleenthede. Een van die gevolge van bende-bedrywighede is dat dit tot wedersydse vyandigheid tussen bendes lei. Die verhoorhof het aanvaar "dat die moord as 'n bende-optrede" geskied het, en dat die moontlikheid nie uitgesluit kon word dat die oorledene 'n lid was van 'n ander bende wat die "Young Ones" vyandiggesind was nie. Die aanduidings is dat dit wel die geval was, of minstens dat die ses beskuldigdes geglo het dit die geval te wees. Die woorde wat geuiter is "Hier is hulle" gekoppel aan die feit dat hulle optrede teenoor die oorledene skyn skielik en sonder voorbedagte rade te geskied het, dui daarop. Roof was klaarblyklik nie die motief vir

16/

16

hulle optrede nie - hulle het nooit gepoog om iets van die oorledene te neem nie. Suiwer steeklustigheid of bloeddorstigheid as rede vir hulle optrede, kan ook uitgesluit word - as dit die geval was, sou hulle waarskynlik vir Sahabodien ook gesteek het, wat nie gebeur het nie. Die redelike moontlikheid kan ook nie uitgesluit word nie dat die appellant, ondanks die prominente rol wat hy gespeel het, tot 'n mate beïnvloed is deur sy ouer broer, beskuldigde 5. In die besondere omstandighede van hierdie saak kan die appellant se optrede in bende-verband as strafversagtend aangestip word (vgl S v Van Rooi en Andere 1976(2) SA 580 (A) ). Dit dien egter daarop gelet te word dat lidmaatskap van 'n bende nie per se 'n strafversagtende faktor daarstel nie. In 'n gepaste geval kan dit strafverswarend inwerk. Alles hang van die feite van die besondere geval af.

17/

17 Dit blyk uit die verhoorhof se uitspraak dat die enigste rede waarom versagtende omstandighede bevind is in die gevalle van beskuldigdes 2, 3 en 4, in teenstelling met die appellant en beskuldigde 6 (ek laat die geval van beskuldigde 5 buite rekening), is omdat die appellant en beskuldigde 6, vanweë hulle ietwat hoër ouderdom, as verstandelik en emosioneel meer volwasse beskou is. Na my mening is hierdie beskouing nie geregverdig deur 6f die ouderdomsverskille per se 6f deur ander relevante omstandighede nie. Die appellant en beskuldigde 6 behoort oor dieselfde kam geskeer te gewees het as beskuldigdes 2, 3 en 4.

Ek is tevrede dat die doodvonnis nie die enigste gepaste vonnis in die onderhawige geval is nie.

'n Redelike lang tydperk van gevangenisstraf sal die hoofoogmerke van straftoemeting bevredig en dus ook

18/

18 gepas wees. 'n Belangrike faktor in dié verband is dat die appellant blykbaar 'n persoon is wat rehabiliteerbaar is en wat by gevangenisstraf sal baat. Die doodvonnis moet gevolglik ter syde gestel word en vervang word met 'n gepaste tydperk van gevangenisstraf. Beskuldigdes 2 en 3 is elk 12 jaar gevangenisstraf op die moordaanklag opgelê. Na my mening behoort die appellant dieselfde vonnis opgelê te word. Aangesien sy vonnis van nou af sal loop, en nie vanaf die datum wanneer hy aanvanklik gevonnis is nie, beteken dit in effek dat sy tydperk van aanhouding langer sal wees as dié van beskuldigdes 2 en 3. Sodoende word daar toegelaat vir die meer prominente rol wat hy in die aanval op die oorledene gespeel het. Soos in die geval van beskuldigde 3 sal daar gelas word dat 3 jaar van die vonnis op die roofaanklag saam loop met die vonnis op die moordaanklag.

19/

19 Gevolglik word die appèl teen die skuldigbevindings afgewys. Die appél teen die vonnis slaag. Die doodvonnis op aanklag 1 word ter syde gestel en word vervang met 'n vonnis van 12 jaar gevangenisstraf. Dit word gelas dat 3 jaar van die vonnis op aanklag 2 sal saamloop met die vonnis op aanklag 1.

J W SMALBERGER APPèLREGTER

VIVIER, AR)
) Stem saam MILNE, AR)