South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1991 >> [1991] ZASCA 104

| Noteup | LawCite

Kommissaris van Binnelandse Inkomste v Steyn NO (667/1989) [1991] ZASCA 104; 1992 (1) SA 110 (AD); (13 September 1991)

Download original files

PDF format

RTF format


LL Saak No 667/1989

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPèLAFDELING

Insake die appèl van:

DIE KOMMISSARIS VAN BINNELANDSE INKOMSTE Appellant

teen

H J P STEYN, N O Respondent

CORAM: VAN HEERDEN, HEFER, NESTADT, VIVIER

et GOLDSTONE ARR

VERHOORDATUM: 29 AUGUSTUS 1991 LEWERINGSDATUM: 13 SEPTEMBER 1991

U I T S P R A A K VAN HEERDEN AR:

2.

Wyle M C E Terblanche ("die oorledene") was tot 7 Mei 1981 getroud met mev M C Terblanche. Op daardie datum is die huwelik deur 'n egskeidingsbevel ontbind. 'n Ooreenkoms tussen die partye is by die bevel ingelyf. Op die inhoud daarvan kom ek aanstons terug.

Die oorledene het op 19 Januarie 1983 gesterf

waarna die respondent as eksekuteur van sy boedel
aangestel is. Op grond van bogenoemde ooreenkoms het
mev Terblanche 'n eis teen die boedel ingedien. Dit is
nie heeltemal duidelik wat die aard en omvang daarvan
was nie, maar in die eerste en finale likwidasie en
distribusierekening ("die boedelrekening") opgestel
deur die respondent het die laste van die boedel die
volgende item ingesluit:

"Mevr. M C Terblanche
Gekapitaliseerde onderhoud teen
R500 p.m. R224 400"

Dié bedrag is inderdaad deur die respondent

aan mev Terblanche betaal.

Hierna het 'n geskil tussen die partye tot

3. hierdie appèl ontstaan. Ten einde die inslag van die geskil te verduidelik, moet eers verwys word na die tersaaklike bepalings van die ooreenkoms tussen die
oorledene en mev Terblanche. Ingevolge para 4 het die
oorledene onderneem om onderhoud ten bedrae van R500
per maand tot haar dood of hertroue, "of onwettige

samewoning met 'n ander man", aan mev Terblanche te
betaal. Kragtens para 5 was die oorledene verplig om

tot by haar dood of hertroue mev Terblanche se mediese,

tandheelkundige en hospitaalkoste te betaal. (Ek

verwys voortaan na hierdie koste bloot as mediese

koste.) Para 6(a) het soos volg gelui:

"Eiseres [d i mev Terblanche] verkry tot by haar dood of hertroue of onwettige samewoning met 'n ander man, welke gebeurtenis ookal die eerste mag plaasvind, die reg tot bewoning, behuising, gebruik en okkupasie van die woonhuis en eiendom geleë te Cleostraat 2, Heliconhoogte, Bloemfontein. Hierdie reg sal by wyse van serwituut op koste van Verweerder [d i die oorledene] ten gunste van Eiseres geregistreer word by the Registrateur van Aktes, Bloemfontein."

In para 6(b) het die oorledene onderneem om

4. iemand aan te stel om die perseel te Cleostraat, insluitende die tuin, te versorg. Indien hy sou nalaat om sulks te doen, moes hy 'n bedrag van R80 per maand aan mev Terblanche betaal. Die oorledene was ook kragtens para 6(c), (d) en (e) verplig om die munisipale belasting ten opsigte van die erf te betaal, om die huis daarop elke vier j aar te laat verf en skoonmaak, en om van tyd tot tyd opknappings- en herstelwerk te laat verrig.
Die vraag tot welke mate, indien enige, mev Terblanche 'n verhaalsreg teen die boedel gehad het uit hoofde van die ooreenkoms, het natuurlik 'n effek gehad op die totale laste van die boedel. Op sy beurt was daardie laste 'n faktor wat bepalend was van die omvang van die boedelbelasting betaalbaar ingevolge die Boedelbelastingwet 45 van 1955 ("die Wet"). Art 4(b) daarvan bepaal naamlik dat die netto waarde van 'n

boedel bereken word deur sekere kortings op die totale waarde te doen, o a alle skulde deur die afgestorwene
5. verskuldig aan omskrewe persone - waaronder mev Terblanche ressorteer - en wat gedelg is uit die bates van die boedel.
Ek keer terug na die geskil tussen die partye. Die uiteindelike standpunt van die appellant was dat die boedel die bedrag van slegs R60 975,80 aan mev Terblanche verskuldig was. Indien hierdie standpunt korrek was, moes addisionele belasting ten bedrae van R57 198,43 betaal word. Die som van R60 975,90 is bereken op die grondslag dat die boedel mev Terblanche R7 500 per jaar moes betaal (R6 000 ten opsigte van para 4 van die ooreenkoms - onderhoud - en R1 500 ingevolge para 5 - mediese koste.) Kragtens 'n regulasie - waaroor later meer - was die destydse waarde van Rl per jaar oor die lewensduur van mev Terblanche R8,13012 wat meegebring het dat die toegegewe vordering van R7 500 per jaar R60 975,80 beloop het (R7 500 x 8,13012).

Die houding van die respondent was dat die

6.
boedel inderdaad heelwat meer as R224 400 aan mev Terblanche verskuldig was. In eerste instansie is aangevoer dat die som van R7 500 per jaar inflasionêr aangepas moes word, en in tweede instansie is gesteun op vorderings van mev Terblanche voortspruitende uit die bepalings van par 6(a) tot (e) van die ooreenkoms. Die appellant het egter in sy houding volhard en 'n aanslag laat uitreik waarvolgens die boedel 'n addisionele bedrag van R57 198,43 ten opsigte van boedelbelasting moes betaal.

Nadat 'n beswaar teen die aanslag afgewys is, het die respondent appèl aangeteksn na die Oranje Vrystaatse Inkomstebelasting Spesiale Hof. Daardie hof het die aanslag tersyde gestel waarna die appellant op sy beurt na die Oranje Vrystaatse-Provinsiale Afdeling geappelleer het. Dié appèl is met koste afgewys maar daarna het die appellant verlof verkry om na hierdie hof te appelleer.

Geen getuienis is in die Spesiale Hof gelei

7. nie. Benewens dit wat reeds vermeld is, is sekere gegewens egter deur die partye as juis aanvaar. Dié kan soos volg saamgevat word:
1) Op 26 November . 1981 het mev
Terblanche, sonder enige bystand van die oorledene, 'n

woonhuis in Gladstoneweg, Bloemfontein, gekoop waarna sy aldaar gaan woon het.

2) Op 'n onbekends datum, maar waarskynlik
na 26 November 1981, het die oorledene die perseel in
Cleostraat verkoop en dit op 29 Januarie 1982 aan die
koper oorgedra.

3) Mev Terblanche se bewoningsreg (para
6(a) van die ooreenkoms) is nooit teen die perseel se
titelakte geregistreer nie.

4) Mev Terblanche het nie weer getrou nie
en ook nie met 'n ander man saamgeleef nie.

5) Die boedelrekening was behoorlik ter
insae en geen beswaar is daarteen geopper nie.

In dïe veronderstelling dat "die reg op
8.

bewoning en die versorging en instandhouding van die woning deel vorm van mev Terblanche se onderhoudseis", het die partye ooreengekom dat die redelike waarde "daarvan" ten tyde van die dood van die oorledene R650 per maand was. Ook is ooreengekom dat aftrekkings van onderskeidelik 5% en 15% gemaak moes word met die oog op eerstens gebeurlikhede en tweedens die moontlikheid van mev Terblanche se hertroue. Presies waarvan hierdie aftrekkings gemaak moes word, is nie duidelik nis - vermoedelik egter van enige gekapitaliseerde bedrag wat die boedel aan mev Terblanche verskuldig was. Ten slotte het die appellant toegegee dat berekenings gedoen deur 'n aktuaris juis was en op 'n aantal aanvaarbare premisses berus het. Daaroor later meer.

In die Spesiale Hof is in eerste instansie deur die appellant betoog dat mev Terblanche afstand gedoen het van haar bewoningsreg, ingeslote die gepaardgaande aansprake op instandhouding van die huis

9.

en tuin op die perseel in Cleostraat. (Ek verwys voortaan na die bewoningsreg as insluitende bedoelde aansprake.) Die betoog is verwerp, hoofsaaklik omdat i) geen getuienis gelei is aangaande "moontlike reëlings" tussen die oorledene en mev Terblanche ten tyde van die aankoop van die perseel in Gladstoneweg en die verkoop van dié in Cleostraat nie; en (ii) die "feit" dat mev Terblanche haar vordering teen die boedel bereken het met insluiting van die waarde van haar bewoningsreg na die oordeel van die hof daarop gedui het dat sy nie daarvan afstand gedoen het nie.

Wat betref mev Terblanche se onderhouds-vordering - en tot 'n mate ook die ander vorderings wat sy teen die oorledene gehad het - was die strydvraag in die Spesiale Hof of, alvorens kapitalisasie, die betrokke bedrag aangepas moes word met die oog op verwagte, toekomstige inflasie. Die hof het dit nie nodig geag om te beslis of die effek van inflasie in sigself 'n voldoende rede is vir 'n wysiging van die

10.

omvang van onderhoud wat ingevolge 'n egskeidingsbevel
betaalbaar is nie. Tog is net daarna, en sonder
aangif te van redes, gesê dat na die hof se mening
inflasie wel in berekening gebring moes word. Moontlik
het die hof beoog om terug te verwys na wat vroeër,
maar in 'n ietwat ander verband, in die uitspraak gesê
is, nl, dat die boedel se onderhoudsplig by wyse van
ooreenkoms tussen die respondent en mev Terblanche
vasgestel is , en dat:

"Hierdie is na my mening nie 'n geval van wysiging van 'n onderhoudsbevel nie, maar 'n
geval waar beoordeel moet word of 'n
onderhoudseis teen 'n bestorwe boedel bereken moet word soos wat appellant aan die hand doen of soos wat respondent reeds gedoen het ten tyde van die uitreiking van die tweede aanslag vir boedelbelasting."

'n Verdere vraag wat in die Spesiale Hof

ontstaan het, was of bedrae wat in die toekoms aan mev
Terblanche betaalbaar was, gekapitaliseer moes word op
die wyse voorgeskryf deur regulasies uitgevaardig

ingevolge art 29 van die Wet (R1942, Staatskoerant 5746

11.

van 23 September 1977). Die hof se mening was dat die regulasies slegs van toepassing is wanneer die waarde van 'n bate - dus nie ook 'n las nie - van 'n boedel bereken moet word.
Die bevindinge van die hof het daarop neergekom dat die boedel 'n bedrag van R363 312,30 aan mev Terblanche verskuldig was; d w s, meer as die tersaaklike las vermeld in die boedelrekening. Die bedrag is bereken deur die omvang van die oorledene se verpligtinge teenoor mev Terblanche ten tyde van sy dood op R1 355 per maand te stel (onderhoud ten bedrae van R500; plus R125 ten opsigte van mediese koste, plus die ooreengekome waarde van die bewoningsreg, nl R650, plus R80 betreffende die onderhoud van die tuin (para 6(b) van die ooreenkoms)). Volgens die aktuariële verslag het die totale bedrag verskuldig aan mev Terblanche, bereken oor haar verwagte lewensduur, dan R382 434 beloop. Hierdie bedrag is bepaal deur 'n opwaartse aanpassing van die som van R1 355 per maand

12.

te maak met die oog op toekomstige inflasie, en deur uiteindelik - soos die partye ooreengekom het - 'n
aftrekking van 15% te maak ten opsigte van die moontlikheid van hertroue. Die hof het egter die bedrag van R382 434 verminder deur 'n verdere aftrekking van 5% te maak - weer eens soos ooreengekom - met die oog op gebeurlikhede. Die totale aftrekking was R19 121,70, en aldus was mev Terblanche na die mening van die hof geregtig om 'n bedrag van R363 312,30 van die boedel te verhaal.

Ten slotte het die hof daarop gewys dat selfs indien die oorledene se totale verpligting teenoor mev Terblanche ten tyde van sy dood op slegs R625 gestel word (R500 plus R125 ten opsigte van onderskeidelik paragrawe 4 en 5 van die ooreenkoms) , en geen aanpas-sing vir inflasie gemaak word nie, die gekapitaliseerde waarde van haar vordering - volgens die aktuariële verslag - R62 314 was. Hierdie bedrag sou steeds meer wees as die som van R60 975 wat die appellant in die

13.

gewraakte aanslag toegelaat het. Gevolglik is die
aanslag tersyde gestel.

Op appèl het die Oranje-Vrystaatse Provinsiale

Afdeling op ietwat verrassende wyse slegs bevind dat
ten aansien van die geskilpunte "nie veel meer
konstruktief gesê kan word as wat die hof a quo reeds
daaromtrent gesê het in sy uitspraak nie", en dat:

"Die redes van die hof a quo moet beskou word asof hierin herhaal te wees, en vir dieselfde redes is hierdie hof dan van mening dat die hof a quo korrek was in sy voormelde benadering."

Die uitspraak van die Provinsiale Afdeling kan dus vir die doeleindes van hierdie appèl buite rekening gelaat word.
Alvorens meer gesê word oor die bevindinge van die Spesiale Hof - in die lig van die betoe voor ons - is enkele opmerkings aangewese. Die respondent was natuurlik nie gebonde aan die wyse waarop die bedrag van R224 400 in die boedelrekening bereken is

14.

nie. Hy kon steun op enige grond vervat in sy beswaar teen die aanslag om aan te toon dat die boedel minstens daardie bedrag aan mev Terblanche verskuldig was. Aan die ander kant was die appellant nie gebonde aan sy berekening van die som van R60 975,90 as synde die werklike omvang van die verpligting van die boedel teenoor mev Terblanche nie. Ingevolge art 23 bis van die Wet het die las op die respondent gerus om te bewys dat die bedrag van R224 400 van belasting vrygestel of nie daaraan onderhewig was nie of aan 'n korting of ander vermindering onderhewig was. Die Spesiale Hof kon dus nie die appel daarheen handhaaf nie tensy die respondent bewys het dat die tersaaklike beslissing van die appellant soos vervat in die aanslag, nl dat die omvang van mev Terblanche se aanspraak slegs R60 975,90 beloop het, verkeerd was. Die kardinale vraag is derhalwe of die respondent bewys het dat mev Terblanche meer as laasgenoemde bedrag van die boedel kon vorder. (Vgl Commissioner for Inland Revenue v S A Mutual Unit
15. Trust Manaqement Co Ltd 1990 (4) S A 529 (A) 536-8.)
Indien die antwoord bevestigend is, is die omvang van die betaalbare boedelbelasting afhanklik van die omvang van die bewese skuld.

Wat betref mev Terblanche se vordering ten opsigte van mediese koste (para 5 van die ooreenkoms) was die omvang daarvan natuurlik op geen stadium 'n bepaalde bedrag nie. Vanselfsprekend het daar geen verpligting tot betaling van 'n bedrag op die oorledene gerus alvorens sy sodanige koste opgeloop het nie. In die veronderstelling dat mev Terblanche se aanspraak ingevolge bedoelde paragraaf nie by die dood van die oorledene verval het nie, kon sy egter haar verwagte, toekomstige koste van die boedel verhaal. By berekening van hierdie bedrag sou uiteraard rekening gehou moes word met die uitwerking van toekomstige inflasie op bestaande koste.

Die Spesiale Hof het blykbaar onder die indruk verkeer dat vanweë 'n erkenning van die appellant

16.

mev Terblanche se mediese. koste ten tyde van die
oorledene se dood op R1 500 per jaar gestel kon word.
Geen sodanige erkenning is egter gemaak nie. Die rede
waarom die appellant bereid was om te aanvaar dat mev
Terblanche se mediese koste R1 500 per jaar sou beloop,

blyk uit 'n skrywe wat 'n senior inkomste inspekteur voor

die uitreiking van die aanslag aan die respondent gerig

het. Daarin is gesê:

"Mev. Terblanche het my meegedeel dat die mediese-, tandheelkundige- en hospitaalkostes van haarself en die kinders wat tans nog nie selfonderhoudend is nie vir die afgelope belastingjaar ± R700 beloop het.
Sy is tevrede dat gemelde uitgawes op R1 500 per jaar vasgestel word as 'n gemiddelde jaarlikse uitgawe wat vir die wis en onwis voorsiening maak.
Mev. Terblanche se eis teen bogemelde boedel vir die berekening van boedelbelasting moet dus as volg bepaal word:
Onderhoud per jaar (klousule

4 van die Akte van Dading) R6 000

Mediese koste (klousule 3 & 4

van die Akte van Dading) R1 500

Totaal R7 500"

17.

Die aanslag is dus uitgereik in die aanvaarding dat mediese koste oor mev Terblanche se lewensduur 'n gemiddele van R1 500 per jaar sou beloop. Nog uit die aanslag nòg uit bogenoemde skrywe kan 'n erkenning herlei word dat mev Terblanche se koste ten tyde van die dood van die oorledene die genoemde bedrag beloop het, welke bedrag dan opwaarts aangepas moes word met die oog op verhoogde koste in die toekoms. Trouens, in die brief word uitdruklik vermeld dat volgens mev Terblanche die jaarlikse koste van haar -en van sommige van haar kinders - kort voor die oorledene se dood slegs ongeveer R700 beloop het.
Geen getuienis is aangebied oor die omvang van mev Terblanche se verwagte, toekomstige mediese koste nie. Dit kom egter voor dat die verteenwoordiger van die appellant in die Spesiale Hof onder die indruk verkeer het dat sodanige koste ten tyde van die oorledene se afsterwe R1 500 per jaar beloop het, en in hierdie hof het die appellant se advokaat pertinent

18.

toegestem dat die appèl op 'n aanvaarding van daardie indruk besleg kan word. Dit bring mee dat die genoemde som inflasionêr aangepas moet word tensy 'n bepaling van die Wet in die weg daarvan staan.
Die appellant se advokaat het tereg nie betoog dat die oorledene se verpligting om toekomstige mediese koste te betaal by sy dood nie 'n skuld was wat deur hom verskuldig was nie (art 4(b) van die Wet) . Want al was die skuld nog nie opeisbaar nie, het dit sekerlik bestaan. Wel is betoog dat die oorledene se verskuldigheid ten opsigte van toekomstige mediese koste bereken moet word slegs met verwysing na die omvang daarvan ten tyde van sy dood, d w s, R1 500 per jaar. Hierdie betoog het geen pit nie. By sy dood het daar 'n verpligting op die oorledene gerus om mediese koste - wat dit ook al mag beloop het - te betaal. Die skuld, ten aansien van die toekoms, het bestaan; dit was slegs nie - sonder bewysmateriaal - bekend wat die omvang daarvan was nie. Anders gestel, die omvang was

19.

nie bepaal nie maar wel bepaalbaar. Indien die appellant se advokaat dit reg het, sal geen verpligting van 'n oorledene om 'n, by sy dood, onbepaalde bedrag te betaal as 'n skuld van die oorledene vir die doeleindes van art 4(b) van die Wet beskou kon word nie en daar is in die Wet geen aanduiding dat die wetgewer so 'n absurde resultaat beoog het nie.
Ek meen dus dat in die lig van voormelde toestemming die som van R1 500 per jaar ten opsigte van mediese koste wel opwaarts aangepas moet word om vir verhoogde, toekomstige uitgawes voorsiening te maak. Betreffende die omvang van die bedrag verskuldig ingevolge para 5 van die ooreenkoms verwys ek later na 'n ooreenkoms wat tydens die verhoor van die appèl bereik is.

Ek kom dan by die oorledene se verpligting om onderhoud ten bedrae van R500 per maand aan mev Terblanche te betaal. Die respondent se advokaat het aanvanklik betoog dat die Spesiale Hof tereg bevind het

20.

dat weens inflasie 'n opwaartse aanpassing van hierdie bedrag oor mev Terblanche se verwagte lewensduur gemaak moes word. Diê betoog berus op 'n aantal premisses. Twee daarvan is dat:
i) die oorledene se onderhoudsplig nie by sy dood verval het nie - vgl Copelowitz v Copelowitz and Others N O 1969 (4) 5A 64 (C) (maar raadpleeg Hahlo 1969 SALJ 385 op 391), en

ii) mev Terblanche teenoor die respondent aanspraak kon maak op 'n vermeerdering van die bedrag van R500 per maand - vgl Milne v Estate Milne 1967 (3) SA 362 (C).

Die appellant se advokaat het hierdie premisses as gegrond aanvaar en by ontstentenis aan enige betoog dienaangaande sal ek dit ook doen. Desnieteenstaande het die respondent na my mening nie bewys dat die skuld van die oorledene ten opsigte van onderhoud meer as die gekapitaliseerde waarde van R500 per maand was nie. Die feit - as dit een is - dat die
21. respondent en mev Terblanche ooreengekom het om die onderhoud te verhoog, bind natuurlik nie die appellant nie. Die vraag is of die respondent bewys het dat mev Terblanche, afgesien van 'n ooreenkoms wat sy en die respondent mag bereik het, geregtig was op verhoogde onderhoud. Van hierdie las kon die respondent hom kwyt slegs deur aan te toon dat daar voldoende rede - soos beoog in art 8 van die Wet op Egskeiding 70 van 1979 -was of sou wees vir toekomstige verhoging (s) van die genoemde bedrag.

Dat die effek van inflasie onder bepaalde omstandighede 'n voldoende rede vir 'n wysiging ingevolge art 8 mag wees, kan toegegee word. Dit is egter steeds nodig om daardie effek te evalueer in die lig van al die tersaaklike omstandighede, en veral die vermoëns-posisies van beide partye. 'n Man mag onderneem - en op grond daarvan gelas word - om onderhoud te betaal aan sy vrou wat dit glad nie benodig nie. Of sedert verlening van die egskeidingsbevel mag die man se

22.

posisie drasties verswak en dié van die vrou substansieel verbeter het. Die feit dat wanneer die vrou aansoek doen vir 'n verhoging die toegekende bedrag se waarde of koopkrag as gevolg van inflasie verminder het, sal dan nie in sigself "voldoende rede" daarstel nie. Kortom, inflasie is een van die faktore wat in die lig van veral die man se vermoë om meer te betaal, en die vrou se behoefte op groter onderhoud, in ag geneem moet word wanneer 'n aansoek om wysiging voor 'n hof dien. Insoverre in Levin v Levin 1984 (2) SA 298 (C) 304 te kenne gegee is dat inflasie, in isolasie beoordeel, voldoende rede vir 'n wysiging is, kan ek nie daarmee saamstem nie.
In die onderhawige geval weet 'n mens nie wat mev Terblanche se vermoënsposisie ten tyde van die egskeiding was nie. Daar is ook geen inligting nie oor haar bates of inkomste by die dood van die oorledene, of oor haar toekomstige vooruitsigte. Dit is dus onmoontlik om te bepaal of daar waarskynlik voldoende

23.

rede was, of sou wees, vir 'n opwaartse wysiging van haar onderhoud. Daarom het die respondent hom nie van voornoemde bewyslas gekwyt nie. Dit volg dat die Spesiale Hof verkeerdelik bevind het dat die skuld van die boedel teenoor mev Terblanche, sover dit onderhoud betref, bereken moes word met inagneming van toekomstige inflasie.
Vervolgens kom ek by mev Terblanche se bewoningsreg ten opsigte van die perseel in Cleostraat. Die eerste vraag is of die respondent bewys het dat dié reg nog ten tyde van die af sterwe van die oorledene bestaan het. Mev Terblanche het nooit 'n saaklike serwituutsreg gehad nie, maar sekerlik 'n kontraktuele aanspraak teenoor die oorledene op bewoning van die perseel. Daardie aanspraak sou sy in die reël ook kon laat geld teen 'n persoon wat wetende van die bestaan daarvan eiendomsreg van die perseel verkry het.

Al wat ons betreffende bogenoemde vraag weet, is dat mev Terblanche die perseel ontruim het nadat sy

24.

die erf in Gladstoneweg aangekoop het; dat sy toe in die huis op daardie erf gaan woon het, en dat die oorledene kort daarna eersgenoemde perseel aan 'n koper getransporteer het. Hy is meer as 'n jaar na mev Terblanche se verhuising oorlede, en daar is geen aanduiding dat sy gedreig het om enige stappe teen hom te neem of selfs optrede oorweeg het nie.

Dit is haas ondenkbaar dat mev Terblanche nie ten volle bewus was nie van haar bewoningsreg (en die daarmee gepaardgaande aansprake). Prima facie dui bogenoemde feite daarop dat die oorledene en mev Terblanche ooreengekom het dat sy verpligtinge ten opsigte van die perseel in Cleostraat sou verval. Hierdie aanduiding kon natuurlik deur verduidelikende getuienis weerlê gewees het, maar dit het nie gebeur nie.

Die Spesiale Hof het verkeerdelik 'n las op die appellant geplaas om te bewys dat die genoemde verpligtinge nie verval het nie. Soos tereg deur die
25. appellant betoog, het dit ook verkeerdelik bevind dat daar 'n aanduiding was dat mev Terblanche se bewoningsreg nie verval het nie, en wel omdat sy haar eis teen die boedel bereken het met insluiting van die waarde van daardie reg. Daar is naamlik niks wat daarop dui dat sy haar eis op bedoelde wyse bereken het nie. Inteendeel is daar aanduidings dat sy haar vordering berus het slegs op die oorledene se verplig-ting om onderhoud te betaal. In die boedelrekening is in verband met die tersaaklike las slegs na onderhoud verwys, en in 'n skrywe van die respondent aan die Meester is gesê dat die las bereken is "volgens die verwagte lewensduur van mevr. Terblanche waarvan die faktor 37,4 is (37,4 x 12 x R500)". Onderhoud ten bedrae van R6 000 per jaar is dus vermenigvuldig met 37,4 wat 'n ongekapitaliseerde totaal van R224 400 gee.

Dit blyk dus dat bedoelde totaal bereken is sonder inagneming van 'n aanspraak gegrond op mev Terblanche se bewoningsreg. Indien sy haar vordering
26. teen die boedel op dieselfde wyse ingeklee het - wat waarskynlik gebeur het - is dit 'n verdere aanduiding dat op een of ander wyse haar bewoningsreg voor die dood van die oorledene verval het.
Ek kom derhalwe tot die gevolgtrekking dat die respondent nie bewys het nie dat mev Terblanche se bewoningsreg nog ten tyde van die dood van dle oorledene bestaan het. In die verbygaan kan egter daarop gewys word dat selfs indien dit wel die geval was, mev Terblanche se eis een vir skadevergoeding sou gewees het. Of, en tot welke mate, sy skade gely het as gevolg van die transportering van die betrokke perseel aan die koper, sou onder andere daarvan afhang of laasgenoemde gebonde was om haar bewoningsreg te eerbiedig.

Dit volg dus dat, afgesien van mev Terblanche se aanspraak op mediese koste, slegs aangetoon is dat die respondent onderhoud ten bedrae van R500 per maand aan haar moes betaal. Die laaste vraag is dan hoe die

27.

totale omvang van die oorledene se verskuldigheid bepaal moes word. Soos reeds genoem, het die appellant
in die Spesiale Hof nie die aktuaris se wyse van
kapitalisasie betwis nie, maar aangevoer dat aangesien
die voorheen genoemde regulasies van toepassing was,
kapitalisasie daarvolgens moes geskied het. Dié betoog

is in hierdie hof herhaal.

Die tersaaklike gedeelte van die regulasies

lui soos volg:

"Berekeninge vir doeleindes van die waardering van jaargelde of van fidusiêre regte, regte van vruggebruik of ander be-perkte regte op eiendom in die boedel van iemand wat op of na 1 April 1977 te sterwe gekom het of te sterwe kom, word ooreen-komstig onderstaande Tabelle gedoen ..."

Dan volg tabelle onder die opskrifte van "Ouderdom", "Verwagte lewensduur", en "Teenswoordige waarde van R1 per jaar vir lewensduur".

Na woordlui is die regulasies slegs van toepassing op jaargelde of 'n beperkte reg ten opsigte waarvan die oorledene tot by sy dood die reghebbende
28. was. Jaargelde word genoem in samehang met fidusiêre regte, regte van vruggebruik en ander beperkte regte, en al hierdie regte kan klaarblyklik slegs regte wees wat by sy dood in 'n oorledene gesetel het.
Die regulasies is uitgevaardig ingevolge art 29 van die Wet. Daardie artikel magtig die Minister van Finansies om regulasies te maak onder andere betreffende "die waardering van jaargelde, fidusiêre regte of regte van vruggebruik of ander beperkte regte op goed". Hierdie begrippe word ook vermeld in art 3(2)(a) en (b) waarvolgens "eiendom" beteken enige reg op goed en ook:

"(a) enige fidusiêre reg, vruggebruik of ander dergelike reg op eiendom (met inbegrip van 'n reg op 'n jaargeld waarmee goed beswaar is) wat die oorledene onmiddellik voor sy dood besit het;

(b) enige reg op 'n jaargeld (behalwe 'n reg op 'n jaargeld waarmee enige goed be-swaar is) wat die oorledene onmiddellik voor sy dood besit het en wat by die dood van die oorledene aan iemand anders toegeval het"

29.

Nêrens in die Wet is daar 'n vermelding van 'n jaargeld wat deur 'n oorledene betaalbaar was nie. Dit is dus duidelik dat, sover dit jaargelde aangaan, die wetgewer beoog het dat kragtens art 29 regulasies gemaak kon word betreffende die waardering van sodanige gelde wat ingevolge art 3(2)(a) en (b) as "eiendom" van
'n afgestorwene beskou moet word - d w s, jaargelde wat hom toegekom het en die reg waarop 'n las op iemand anders se goed daargestel het, of by die afgestorwene se dood op 'n ander persoon oorgegaan het. Aan hierdie oogmerk is gevolg gegee in die regulasies.
Ek meen dus dat, soos bevind deur die Spesiale Hof, die regulasies nie in casu van toepassing was nie, en dit is daarom onnodig om te besin of die oorledene se verpligting om aan mev Terblanche onderhoud te betaal en om haar mediese koste te vereffen, as 'n verpligting tot betaling van 'n iaarqeld beskou kan word.

Uit die voorgaande blyk i) dat nie bewys is
30.

dat die onderhoud betaalbaar ingevolge para 4 van die
ooreenkoms opwaarts aangepas moes word nie; ii) dat die omvang van die verpligting om mediese koste te betaal met inagneming van inflasie bereken moes word, en iii) dat die regulasies nie ter sprake kom by kapitalisasie van bedrae wat na die oorledene se dood aan mev Terblanche betaalbaar was nie. In die veronderstelling dat hierdie hof sulks sou bevind, het die partye tydens die verhoor van die appèl ooreengekom dat die gekapitaliseerde omvang van die oorledene se skuld teenoor mev Terblanche by sy afsterwe R87 752 beloop het (R52 472 ten opsigte van onderhoud en R35 280 betreffende mediese koste). Dit volg dus dat die respondent se appèl na die Spesiale Hof tot 'n redelik beperkte mate moes geslaag het, nl, op die grondslag dat by sy dood die oorledene slegs die som van R87 752 aan mev Terblanche verskuldig was - d w s, nagenoeg R27 000 meer as dit waarvoor die appellant in sy aanslag voorsiening gemaak het, maar ongeveer

31 .

R137 000 minder as die tersaaklike las vermeld in die
boedelrekening.

Die appèl slaag gevolglik met koste en die

bevel van die Oranje Vrystaatse Provinsiale Afdeling
word deur die volgende vervang:

"Die appèl slaag met koste en die bevel van die Spesiale Hof word gewysig om te lui:

'Die appèl slaag en aanslag 0/1/85/2 ten opsigte van die boedel van wyle M C E Terblanche word tersyde gestel op die grondslag dat die oorledene die som van R87 752 aan mev M C Terblanche verskuldig was.'"

H J O VAN HEERDEN AR

HEFER AR

NESTADT AR

STEM SAAM VIVIER AR

GOLDSTONE AR