South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1991 >>
[1991] ZASCA 107
| Noteup
| LawCite
S v Nzimande en 'n Ander (501/90) [1991] ZASCA 107 (19 September 1991)
Download original files |
501/90 N v H
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIK
(APPèLAFDELING)
In die saak tussen
SAMUEL LUCKY N2IMANDE Eerste Appellant
MICHAEL MATHEBULA Tweede Appellant
en
DIE STAAT Respondent
CORAM: SMALBERGER, VIVIER,
et EKSTEEN, ARR
VERHOORDATUM: 6 September 1991 LEWERINGSDATUM: 19 September 1991
U I T S P R A A K SMALBERGER, AR :-
Ek het die voorreg gehad om die uitspraak van my kollega VIVIER, te kon lees. Ek stem met hom saam behalwe wat betref sy bevinding dat die doodvonnis die
2/
2 enigste gepaste vonnis vir beskuldigde 2 op die moordaanklag is.
Na my mening bestaan daar grondige
rede om te
onderskei tussen die gevalle van beskuldigde 1
en
beskuldigde 2. Soos blyk uit beskuldigde 1 se
bekentenis, is
hy na die oorledene se huis met die
vooropgesette bedoeling om
haar nie net te beroof nie,
maar om haar ook dood te maak, ter
uitvoering van 'n
plan wat reeds die vorige dag deur hom bedink was. Daar was dus in sy geval ruim voorafbeplanning en geleentheid om te besin. Die geval van beskuldigde 2 is anders. By gebrek aan bewys tot die teendeel (en daar bestaan nie sodanige bewys nie) moet sy skuld beoordeel word volgens die weergawe van die gebeure wat in sy bekentenis opgeteken staan. Daarvolgens het hy nie deel gehad aan die voorafbeplanning nie, en is hy na die oorledene se huis om haar te beroof, nie dood te
3/
3 maak nie. Sy aanvanklike gesindheid het dus aansienlik verskil van dié van beskuldigde 1. Daar was in sy geval nie 'n a priori bedoeling om te vermoor nie. Ek aanvaar dat hy later gewillig deelgeneem het aan die gebeure by die oorledene se huis en 'n volle aandeel gehad het in die pleging van die moord. Maar sy deelname het grotendeels geskied op die ingewing van die oomblik. Hy sou meegesleur gewees het deur die gebeure, met min geleentheid om te besin oor sy optrede.
Verder verskil ek met respek van my kollega dat beskuldigde 2 se ouderdom (19 jaar en 5 maande ten tyde van die pleging van die misdade) nie 'n strafversagtende faktor is nie. My kollega kom tot die gevolgtrekking dat beskuldigde 2 se lewenswyse die van 'n volwassene was, en hy is ook beïnvloed deur die verhoorhof se opmerking dat beskuldigde 2 klaarblyklik
4/
4 'n volwassene is. Die verhoorhof se opmerking in dié verband is uitsluitlik op die gedrag van beskuldigde 2 in die getuiebank gegrond. Na my mening bied dit nie 'n behoorlike grondslag vir so 'n positiewe bevinding nie. Beskuldigde 2 mag die voorkoms en die lewensstyl van 'n volwassene hê, maar dit is nie te sê dat hy die emosionele rypheid van 'n volwassene het nie. En op sy destydse ouderdom is dit onwaarskynlik dat dit die geval sou gewees het. Uiteraard het geen tienderjarige die rypheid van 'n volwassene nie. Daar is ook geen bewys daarvan dat hy uit "inherente boosheid" gedood het nie. (Vgl S v Lehnberg en 'n Ander 1975(4) SA 553 (A) op 561 F - G.)
Gesien die faktore genoem, die afwesigheid van vorige veroordelings en die feit dat beskuldigde 2 waarskynlik rehabiliteerbaar is, is die doodvonnis na
5/
5 my mening nie die enigste gepaste vonnis op die moordaanklag nie. Ofskoon afskrikking en
vergelding voorrang behoort te kry bo die ander doelstellings van straftoemeting, glo ek nie dat hierdie 'n geval is waar die uitwissing van beskuldigde 2 vereis word nie.
Ek sou dus beskuldigde 2 se appèl teen sy doodvonnis op die moordaanklag handhaaf, en die doodvonnis met 'n vonnis van 20 jaar gevangenisstraf vervang. Omdat hierdie 'n minderheidsuitspraak is, is dit onnodig om aan te dui hoe ek dié vonnis by die ander vonnisse sou aangepas het.
J W SMALBERGER APPèLREGTER
Saak Nr 501/90
/MC
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèlAFDELING)
In die saak tussen
SAMUEL LUCKY NZIMANDE Eerste Appellant
MICHAEL MATHEBULA Tweede Appellant
- en -
DIE STAAT Respondent
CORAM: SMALBERGER, VIVIER et EKSTEEN ARR.
VERHOOR: 6 September 1991.
GELEWER: 19 September 1991.
U I T S P R A A K
VIVIER AR.
2/...
2. VIVIER AR:
Die twee appellante, na wie ek as beskuldigdes 1 en 2 onderskeidelik sal verwys, is in die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling deur O'DONOVAN WR en assessore skuldig bevind op ses aanklagte: huisbraak met die opset om te roof (aanklag 1) ; roof (aanklag 2); verkragting (aanklag 3); moord (aanklag 4); brandstigting (aanklag 5) en opsetlike saakbeskadiging (aanklag 6). 'n Derde persoon ("beskuldigde 3") wat saam met hulle op aanklagte 1, 2, 4, 5 en 6 verskyn het, is skuldig bevind aan huisbraak met die opset om te steel en diefstal en onskuldig op die ander aanklagte. Beskuldigdes 1 en 2 is as volg gevonnis: op aanklagte 1 en 2, wat saamgeneem is vir doeleindes van vonnis, is beskuldigde 1 tot 11 jaar en beskuldigde 2 tot 9 jaar gevangenisstraf gevonnis.
3/...
3.
Aanklagte 5 en 6 is ook saamgeneem vir doeleindes van vonnis en beskuldigdes 1 en 2 is op hierdie aanklagte beide tot 8 jaar gevangenisstraf gevonnis. Op die aanklag van verkragting is beide beskuldigdes 1 en 2 ter dood veroordeel. Ten opsigte van hul skuldigbe= vinding aan moord het die Verhoorhof in die geval van beide beskuldigdes 1 en 2 bevind dat daar geen versagtende omstandighede is nie en ingevolge die destyds geldende reg is hulle gevolglik elkeen die doodvonnis opgelê. Met die verlof van hierdie Hof appelleer beskuldigdes 1 en 2 slegs teen die doodvonnisse wat hulle weens die verkragting sowel as die moord opgelê is.
Al die aanklagte spruit uit die gebeure van Maandagaand 8 Februarie 1988 by die kothuis van die oorledene, 'n 34-jarige vrou, op 'n kleinhoewe in Carlswald, Halfweghuis. Die feite wat nie tans in
4/...
4.
geskil is nie, is kortliks die volgende. Beskuldigde 1 het as stalkneg by die oorledene se buurman gewerk en het ook soms los werkies vir die oorledene verrig. Beskuldigde 3 was die oorledene se huisbediende. Beide beskuldigdes 1 en 3 het op die perseel in die bediendekwartiere net agter die oorledene se kothuis ingewoon. Beskuldigde 2 was bevriend met beskuldigde 1 en het dikwels daar gekom en gereeld daar oornag. Om ongeveer agt-uur die betrokke aand het beskuldigdes 1 en 2 toegang tot die oorledene se huis verkry met 'n sleutel wat hulle vroeër die aand by beskuldigde 3 gekry het. Hulle het die oorledene in haar slaapkamer oorrompel en haar hande en voete vasgebind. Albei het haar verkrag en sy is daarna met 'n kussingsloop wat styf om haar nek gedraai en toe voor vasgeknoop is, verwurg. Hulle het daarna haar liggaam in 'n laken toegerol en dit op die bed in haar
5/...
5.
slaapkamer gelaat. Nadat hulle nie daarin kon slaag om die oorledene se Golf-motor wat buite die huis geparkeer was, aan die gang te kry nie, het hulle die huis en die oorledene se Jetta-motor wat agter die Golf geparkeer was, aan die brand gesteek met petrol wat hulle uit die Golf getap het en hulle daarna uit die voete gemaak met 'n groot hoeveelheid vleis, drank, klere en ander besittings wat hulle uit die huis geroof het. Kort voor elf-uur die aand het beskuldigde 3 twee ander werknemers, Rosie en Lucas, wakker gemaak en hulle het toe gesien dat die oorledene se kothuis en haar Jetta-motor aan die brand is. Hulle het die eienaar van die kleinhoewe, mnr Chris Wakeham, in kennis gestel wat die brandweer en die polisie ontbied het. . Toe die brandweer om 11:13 die aand by die toneel aankom, was die hele huis in ligte laaie. Volgens die getuienis van mnr Krugell, die
6/...
6.
stasie-offisier wat in beheer van die brandweer op die toneel was, was die brand te groot en te verspreid om in een area te kon ontstaan het. Nadat die brand geblus is, is die erg verbrande en naakte liggaam van die oorledene in haar slaapkamer gevind. Die mediese getuienis was dat die oorledene beswyk het as gevolg van drukking op die nek en dat sy reeds dood was toe haar liggaam verbrand is. Dit is onseker of die oorledene nakend was toe sy deur beskuldigdes 1 en 2 oorval is en of sy deur hulle ontklee is.
Ongeveer twaalf-uur die nag het beskuldigdes 1 en 2 by die kamer van Samuel Gafane op 'n naby-geleë kleinhoewe opgedaag. Samuel en beskuldigde 2 se broer, Joseph Temba, het saam daar gewerk en gebly, maar laasgenoemde is die vorige Vrydag uit sy diens ontslaan en was nie daar toe beskuldigdes 1 en 2 daar aankom nie. Beskuldigde 1 het 'n rooi tas gedra wat
7/...
7.
beskuldigde 2 kort na hul aankoms begin uitpak het. Daarin was allerlei besittings van die oorledene, onder andere vleis en bier. Hulle het die bier gedrink en die vleis gaargemaak en geëet. Beskuldigde 1 het die oorledene se goudkleurige leergordel gedra wat hy aan Samuel te koop aangebied het. Beskuldigdes 1 en 2 het die nag daar geslaap en die volgende dag vertrek sonder die tas en die ander besittings van die oorledene wat die polisie later by Samuel se kamer gevind het. Volgens Samuel, wie se getuienis deur die Verhoorhof aanvaar is, kon hy geen teken by enige van dié twee bespeur dat hulle onder die invloed van drank was nie. Volgens Joseph Temba, wie se getuienis ook deur die Verhoorhof aanvaar is, het hy, nadat hy sy werk die Vrydag verloor het, teruggekeer na sy tuiste by 'n plekkie met die naam van Klipgat, wat net wes van Pretoria geleë is. Beskuldigdes 1 en 2
8/...
8.
het die Sondagaand by hom opgedaag, die nag daar geslaap en die betrokke Maandagoggend weer vertrek. Hulle het die Dinsdagaand teruggekeer na Klipgat met twee tasse vol mans- en vroueklere. Beskuldigde 1 het van die klere vir hom aangebied maar hy kon nie iets kry wat hom pas nie. Beskuldigdes 1 en 2 het die Dinsdagnag daar geslaap, die Woensdagoggend na Pretoria vertrek met die tasse, daardie aand teruggekeer en die Donderdagoggend weer met die tasse na Pretoria vertrek. Later daardie dag het beskuldigde 2 alleen en met leë hande teruggekeer nadat hy waarskynlik daarin geslaag het om die klere te verkoop. Beskuldigde 1 is gedurende die loop van die Donderdag in Pretoria gearresteer en beskuldigde 2 is dieselfde aand in Klipgat gearresteer. Die volgende aand het beskuldigdes 1 en 2 die ondersoekbeampte, luitenant Steyn, na 'n oop stuk veld naby 'n bushalte,
9/...
9.
nie ver van die toneel van die misdaad nie, geneem waar hulle twee koffers en twee drasakke aan Steyn uitgewys het waar dit versteek was onder gras en bossies. Daarin was twee radio's, vroueklere, drank, kruideniersware en ander artikels wat hulle uit die oorledene se huis geroof het.
Beskuldigdes 1 en 2 het elk 'n bekentenis voor 'n vredesbeampte afgelê wat deur die Verhoorregter as getuienis toegelaat is. In sy bekentenis het beskuldigde 1 erken dat hy en beskuldigde 2 reeds die Sondag voor die voorval daarvan gepraat het dat hulle die oorledene gaan beroof. Terwyl hulle die middag van die betrokke dag by 'n drankwinkel was waar hulle saam vier bottels bier gedrink het, het hulle besluit om dit daardie dag te doen. Hy het die besluit van daardie dag verstaan om te beteken dat hulle die oorledene sou doodmaak en haar daarna beroof. In sy
10/...
10.
getuienis by die verhoor het beskuldigde 1 'n alibi geopper ten effekte dat hy nie naby die toneel van die misdaad was nie. Dit is deur die Verhoorhof as vals verwerp. Beskuldigde 2 het in sy bekentenis te kenne gegee dat hy niks met die oorsponklike plan om die oorledene te beroof, te doen gehad het nie en dat hy die eerste keer daarvan gehoor het kort voordat hulle die betrokke aand die oorledene se huis binnegegaan het. Volgens hom het beskuldigde 1 hom die betrokke dag by sy werkplek kom haal en hom na beskuldigde 3 se kamer geneem waar laasgenoemde gesê het dat die oorledene baie geld het. Daarna het beskuldigde 3 die sleutel van die oorledene se huis aan beskuldigde 1 oorhandig "sodat ons die witvrou wat daar woon, kon beroof". Ek vind dit moeilik om te aanvaar dat beskuldigde 1, indien dit sý plan was om die oorledene te beroof, dit nie vroeër met beskuldigde 2 sou
11/...
11.
bespreek het nie. Dit is duidelik uit hulle optrede tydens en na die pleging van die misdade dat elkeen 'n volle deelgenoot was in die gesamentlike onderneming. My indruk is dat hierdie 'n poging van beskuldigde 2 is om homself te verontskuldig, net soos hy later gedoen het toe hy by die verhoor getuig het dat hy slegs wag gestaan het en niks te doen gehad het met wat in die oorledene se huis gebeur het nie. In die lig, onder andere, van sy bekentenis, waarin beskuldigde 2 erken het dat hy saam met beskuldigde 1 die oorledene se huis binnegegaan en ten volle deelgeneem het aan die aanval, verkragting en moord op die oorledene, is hierdie getuienis tereg deur die Verhoorhof as vals verwerp. Hoe dit ook al sy, selfs al word in die guns van beskuldigde 2 aanvaar dat hy eers kort vantevore bewus geword het van 'n plan om die oorledene te beroof, en dat hy nie daarby, soos beskuldigde 1, verstaan het dat
12/...
12.
die oorledene doodgemaak wou word nie, toon sy optrede daarna so 'n volle deelname in die pleging van die misdade en 'n vereenselwiging met beskuldigde 1 se planne en optrede, dat daar nie op hierdie basis tussen die twee beskuldigdes onderskei kan word nie.
In sy getuienis ter versagting het beskuldigde 2 gesê dat hy en beskuldigde 1 die hele betrokke middag gedrink het en dat hy die aand sterk onder die invloed van drank was. Hierdie getuienis is deur die Verhoorhof verwerp wat in sy uitspraak op versagting daarop wys dat beide van hulle die betrokke aand presies geweet het wat hulle doen. Wat die ouderdom van beskuldigde 2 betref, sê die Verhoorhof in die uitspraak oor versagting dat alhoewel hy slegs 19 en 'n half jaar oud was ten tyde van die pleging van die misdade, hy 'n persoon van klaarblyklike volwassenheid is. Beskuldigde 1 was 22 jaar oud toe
13/...
13.
die misdade gepleeg is.
Sedert die beskuldigdes se verhoor het die regsposisie met betrekking tot die oplegging van die doodstraf met die inwerkingtreding van die Strafregwysigingswet 107 van 1990 ingrypend verander. Hierdie Hof het nou 'n diskresie om, indien hy "van oordeel is dat hy self nie die doodvonnis sou opgelê het nie" die vonnis tersyde te stel en die straf oplê wat na sy oordeel gepas is. By 'n appèl teen 'n doodvonnis oefen hierdie Hof gevolglik 'n onafhanklike diskresie uit en hy moet self oordeel of, met inagneming van die strafversagtende en -verswarende faktore wat uit die oorkonde blyk, die doodvonnis "die gepaste vonnis" ingevolge die nuwe art 277(2)(b) is. (per E M GROSSKOPF AR in S v Senonohi 1990(4) SA 727(A) op 733C-D.)
Die woorde "die gepaste vonnis" is reeds deur
14/...
14.
hierdie Hof uitgelê om te beteken "die enigste gepaste
vonnis", sodat die doodvonnis slegs in gevalle van uitsonderlike erns opgelê sal word. (S v Nkwanyana and Others 1990(4) SA 735(A) op 745E-F).
Namens beskuldigde 1 is betoog dat die volgende strafversagtende faktore in sy guns aangemerk moet word: eerstens dat hy verontreg gevoel het omdat sy werkgewer, mnr Peter Warnaby, die Saterdagoggend gedreig het om hom te ontslaan omdat hy nie sy werk sou gedoen het nie en verder omdat beide sy werkgewer en die oorledene aan hom geld sou geskuld het. Vir hierdie betoog is uitsluitlik staatgemaak op wat beskuldigde 1 in sy bekentenis gesê het. Toe beskuldigde 1 egter getuig het oor die insident tussen hom en sy werkgewer die Saterdagoggend, het hy gesê dat, hoewel Warnaby hom aangespreek het omdat hy nie die vorige dag die perde in die stalle toegesluit het
15/...
15.
nie, dit nie waar is dat Warnaby gedreig het om hom af te dank nie, en dat hy dit bloot gesê het om die persoon wat sy bekentenis afneem, gelukkig te maak. Volgens beide beskuldigde 1 en Warnaby was hy gereeld afwesig van sy werk, sodat 'n berisping vir hom sekerlik nie vreemd was nie. Toe Warnaby getuig het, is dit nooit aan hom gestel dat hy aan beskuldigde 1 geld geskuld het nie en beskuldigde 1 het self nie so getuig nie. In elk geval kan ek nie enige gevoel wat beskuldigde 1 teenoor sy werkgewer gekoester het, as 'n versagtende faktor beskou wat betref sy optrede teenoor die oorledene nie.
Beskuldigde 1 se stelling in sy bekentenis dat die oorledene hom nie betaal het vir die los werkies nie, is nie in sy getuienis herhaal nie. Inteendeel, toe hy uitgevra is oor beskuldigde 3 se bewering in haar verklaring aan 'n vredesbeampte dat hy
16/...
16.
die oorledene wou spreek omdat sy hom nie betaal het nie (welke bewering beskuldigde 3 self in haar getuienis as 'n opgemaakte storie afgemaak het) het hy uitdruklik en by herhaling gesê dat die oorledene hom niks geskuld het nie. Die nodige getuienis ontbreek gevolglik om die verontregte gemoedstoestand waarvoor betoog is, te bewys.
Die tweede versagtende faktor wat namens beskuldigde 1 aangevoer is, is dat hy beïnvloed is deur die drank wat hy vroeër die dag gedrink het. Daar is weereens geen feitebasis vir hierdie betoog nie. Sy hele optrede die aand, die wyse waarop die gruweldade die een na die ander uitgevoer is totdat hy en beskuldigde 2 uiteindelik daarin geslaag het om 'n groot hoeveelheid goedere uit die huis weg te dra en te versteek, toon geen beïnvloeding deur drank nie. Dit spreek eerder van planmatigheid en behendigheid.
17/...
17.
Samuel Gafane, by wie hy en beskuldigde 2 teen middernag aangekom het, kon ook geen teken daarvan bespeur dat beskuldigdes 1 of 2 deur drank aangetas is nie.
Die derde versagtende faktor waarop namens beskuldigde 1 gesteun is, is die feit dat hy 'n vaste werk gehad het ten tyde van die pleging van die misdade. Volgens sy werkgewer sou hy hierdie werk nie meer lank gehad het nie omdat hy onbetroubaar was in sy werk. In die omstandighede van die huidige saak kan ek nie hierdie aspek as 'n versagtende faktor beskou nie.
Daar is na my mening slegs een versagtende faktor in die guns van beskuldigde 1 naamlik dat hy geen vorige veroordelings vir geweldsmisdade het nie. Hy is op 8 Februarie 1983 as jeugdige tot 6 houe met 'n ligte rottang gevonnis vir poging tot huisbraak met die
18/...
18.
opset om te steel en poging tot diefstal van 'n
motorvoertuig.
Wat beskuldigde 2 betref is daar betoog dat die volgende strafversagtende faktore aanwesig is: eerstens sy jeugdigheid (soos reeds genoem was hy 19 j aar en 5 maande oud toe die misdade gepleeg is); tweedens dat hy deur drank beïnvloed is; derdens dat hy deur beskuldigde 1 beïnvloed is en dat hy eers kort vantevore verwittig is van die plan om die oorledene te beroof; vierdens dat hy nie na die oorledene se huis gegaan het met die doel om haar dood te maak nie en laastens dat hy nie vorige veroordelings het vir geweldsmisdade nie. Wat die beroep op beskuldigde 2 se jeugdigheid betref, het ek reeds hierbo verwys na die Verhoorhof se opmerking dat hy klaarblyklik 'n
volwassene is. Seskuldigde 2 het twee keer by die verhoor getuig en die Verhoorhof het dus genoeg
19/...
19.
geleentheid gehad om 'n goeie oordeel te vorm oor die graad van beskuldigde 2 se volwassenheid. Volgens beskuldigde 2 het hy std 6 in die skool op Klipgat geslaag en teen die einde van 1986 na die stad gekom. Hy het vir meer as 'n jaar voor die pleging van die misdade gewerk. Hy was getroud en het 'n kind gehad. Volgens hom was hy en beskuldigde 1, wat twee jaar ouer was as hy, goeie vriende en het hulle gereeld by 'n
bepaalde shebeen saam gaan drink. Sy lewenswyse was dus dié van 'n volwassene.
Wat betref die betoog dat beskuldigde 2 deur drank beïnvloed is, was sy getuienis dat hy en beskuldigde 1 die plek waar hulle gedrink het, om halfsewe die betrokke aand verlaat het. Die oorledene is eers omstreeks agt-uur óie aand aangeval. Socs in die geval van beskuldigde 1, is daar ook in sy optrede by die pleging van die misdade en daarna geen
20/...
20.
aanduiding te vind dat hy enigsins deur drank beïnvloed is nie.
Die verdere betoog was dat beskuldigde 2 in sy optrede die betrokke aand deur beskuldigde 1 beïnvloed is. Die feitebasis vir hierdie betoog ontbreek. Alhoewel beskuldigde 1 ongeveer 2 jaar ouer as beskuidigde 2 is, is daar niks wat daarop dui dat beskuldigde 2 die betrokke aand onder beskuldigde 1 se invloed gehandel het nie. Toe hy oor óie kwessie van versagtende omstandighede oor hierdie aspek getuig het, het hy wel gesê dat beskuldigde 1 die besluite geneem het in hulle vriendskapsverhouding, maar hy het nie gesê dat hyself onwillig was of oorreed of aangemoedig moes word om die oorledene te gaan beroof nie. Soos ek reeds aangedui het, kan ek ook nie die feit dat beskuldigde 2 eers op 'n laat stadium van die plan om die oorledene te beroof, gehoor het, as 'n
21/...
21.
versagtende faktor in sy guns beskou nie. Soos uit sy bekentenis self blyk, was hy dadelik gewillig om deel te neem aan die rooftog en het hy inderdaad 'n volle aandeel gehad in die pleging van die misdade, alhoewel daar oorgenoeg tyd vir hom was om te besin. Daar is verder betoog dat die feit dat beskuldigde 2 na die oorledene se huis gegaan het met die opset om te roof en nie om te dood nie, as 'n versagtende faktor in sy guns beskou moet word. Ek kan nie saamstem nie. Die verkragting en moord van die slagoffer van 'n beplande rooftog in die loop van die rooftog is 'n verswarende, eerder as 'n versagtende faktor.
Na my mening is daar, soos by beskuldigde 1, slegs een versagtende faktor wat in die guns van beskuldigde 2 tel en dit is dat hy geen vorige veroordelings vir 'n geweldsmisdaad het nie. Hy het wel drie vorige veroordelings vir ontsnapping uit
22/...
22.
aanhouding wat aldrie spruit uit gebeure na die pleging van die betrokke misdade.
Ek kom nou by 'n oorweging van die verswarende faktore. Die eerste verswarende faktor, na my mening, is dat die misdade in die loop van 'n beplande rooftog gepleeg is. Dit kan met veiligheid aanvaar word dat beide beskuldigdes 1 en 2 geweet het dat die oorledene tuis was. Haar twee voertuie was daar geparkeer en ek vind dit ondenkbaar dat nie een van die drie beskuldigdes van haar teenwoordigheid bewus sou gewees en daarvan sou gepraat het nie. Beskuldigdes 1 en 2 moes dus die gebruik van geweld voorsien het. Die feit dat die oorledene in haar huis oorval en vasgebind is voordat sy verkrag is, is 'n verswarende faktor by die verkragting. Die gevoellossheid, grusaamheid en wreedaardigheid waarmee sy daarna doodgemaak is terwyl sy weerloos en aan die genade van beskuldigdes 1 en 2
23/...
23.
oorgelewer was, is 'n verswarende faktor by die moord. Die wyse waarop die oorledene doodgemaak is, het direkte opset om te dood vereis en het voldoende tyd vir besinning gelaat. 'n Verdere verswarende faktor ten opsigte van beide misdade is beskuldigdes 1 en 2 se optrede na die tyd toe hulle die oorledene se huis aan die brand gesteek het om die spore van hul misdade uit te wis en toe hulle by Samuel Gafane se huis die oorledene se besittings aan hom probeer verkoop het en geëet en gedrink het van die vleis en bier wat hulle van die oorledene geroof het. Laasgenoemde optrede spreek van 'n totale gevoelloosheid oor hul dade vroeer die aand.
Die uiteindelike vraag is dan of dit gesê kan word, met inagneming van die strafversagtende en -verswarende faktore, dat die doodvonnis die enigste gepaste vonnis, eerstens op die moordaanklag is.
24/...
24.
By die beslissing van hierdie vraag moet die hoof-doelstellings van straftoemeting oorweeg word naamlik
voorkoming, afskrikking, vergelding en hervorming (S v
Senonohi, supra op 734E-F). Wat betref die element van voorkoming, het hierdie Hof in 'n onlangse uitspraak wat geiewer is na die inwerkingtreding van die Strafregwysigingswet 107 van 1990, S v Bezuidenhout 1991(1) SAKV 43 die volgende op 51 d-e gesê:
"'n Hof trag om die gemeenskapsbelang te beskerm deur 'n herhaling van die veroordeelde se misdadige vergrype te voorkom. Dit spreek vanself dat waar (soos in die onderhawige geval) dit oor 'n misdaad gaan wat vir die gemeenskap inherent verderflik is, die belange van die maatskappy meer gewig sal dra as by die geval waar die gemeenskapsbelange minder direk en nadelig getref word."
Na my mening is die gedrag van beskuldigdes 1
25/...
25.
en 2 so afskuwelik en tot so 'n mate aanduidend van 'n gehardheid en onverskilligheid teenoor menslike lewe dat die oogmerke van afskrikking en vergelding voorrang behoort te kry bo die ander doelstellings van straftoemeting. Gevolglik moet, wat die moord betref, hierdie as 'n uiterste geval beskou word waar die doodvonnis die enigste gepaste vonnis is.
Wat die vraag van die gepaste vonnis vir die verkragting betref moet die geweld wat deel vorm van die moord geignoreer word om te verhoed dat dit twee keer teen beskuldigdes 1 en 2 in aanmerking geneem word. Wanneer dit gedoen word kan, na my mening, nie gesê word dat dit 'n uiterste geval is waar alleen die doodvonnis die gepaste straf is nie. Na my mening sal reg geskied indien 'n vonnis van 20 jaar gevangenisstraf vir die verkragting vir elk van beskuldigdes 1 en 2 opgelê word.
26/...
26.
Gevolglik word die volgende bevel gemaak.
Die appelle van beskuldigdes 1 en 2 teen die doodvonnis wat hulle op die moordaanklag opgelê is, word afgewys;
Die appelle van beskuldigdes 1 en 2 teen die doodvonnis wat hulle op die aanklag van verkragting opgelê is, slaag. Die doodvonnisse op hierdie aanklag word tersyde gestel en vervang met 'n vonnis van 20 jaar gevangenisstraf vir elk van beskuldigdes 1 en 2. In elkeen se geval word gelas dat die vonnisse wat hy ten opsigte van aanklagte 1, 2, 5 en 6 opgelê is, saam uitgedien moet word met die vonnis wat op die aanklag van ver = kragting opgelê word, sodat elkeen se effek= tiewe vonnis op aanklagte 1, 2, 3, 5 en 6 20 jaar gevangenisstraf is.
W. VIVIER AR.
EKSTEEN AR) Stem saam.