South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1991 >>
[1991] ZASCA 125
| Noteup
| LawCite
S v Constance (491/90) [1991] ZASCA 125 (27 September 1991)
Download original files |
491/90 /mb
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
WILLIAM CONSTANCE APPELLANT
EN
DIE STAAT RESPONDENT
CORAM : E M GROSSKOPF AR, KRIEGLER, et HARMS
Wnd. ARR
VERHOORDATUM : 16 SEPTEMBER 1991 LEWERINGSDATUM :
27 SEPTEMBER 1991
U I T S P R A A K
KRIEGLER Wnd.AR/...
1.
KRIEGLER Wnd.AR:
Appellant kom met verlof van die hof a quo in hoër beroep teen sy
skuldigbevinding aan moord in die Kaapse Provinsiale Afdeling. Daar is ook 'n
spesiale aantekening ingevolge
die bepalings van art 317 van die Strafproseswet
1977 gemaak; dié is egter voor ons laat vaar. Die beswaar wat tot die
spesiale
aantekening aanleiding gegee het, was ongegrond en appellant se
advokaat het tereg nie daarin volhard nie.
Die moordklag het vir appellant
dit ten laste gelê dat hy op Saterdag 24 September 1988 vir Albert Adams
("die oorledene") met
'n mes doodgesteek het. Die lyk is die betrokke oggend
ongeveer 09h30 uit 'n huis te Larkweg 50, Bishop Lavis, na die lykhuis vervoer
met 'n
steekwond in die rug. By nadoodse ondersoek drie dae later word bevind
dat die dood veroorsaak is deur beskadiging van die afgaande
aorta waar dit
langs die torakale rugstring loop. Blykens die patologiese
2/...
2.
getuienis het dit massale bloeding en snelle doodsintrede tot gevolg
gehad. Die staatsaak was dat appellant die betrokke oggend vir
oorledene
doodgesteek het terwyl laasgenoemde op sy maag lê en slaap het op 'n
matras in die voorhuis van Larkweg 50. 'n Staatsgetuie
genaamd Malone. het
getuig van die toediening van die messteek. Volgens hom sou hy ten tyde net
buite die voordeur van die huis gewees
en die voorval aanskou het; appellant het
die voorhuis binnegetree, met sy linkerhand 'n lang mes uit sy linkerbroeksak
gehaal, langs
die slapende oorledene gekniel en hom in die rug gesteek. 'n
Tweede staatsgetuie, Marie Hermanus, getuig dat sy vanuit 'n aangrensende
slaapkamer vir oorledene 'n kreungeluid hoor uiter het; kort daarna vra sy vir
appellant, wat by die hek staan met 'n dolk in sy
hand, hoekom hy die oorledene
gesteek het. Appellant sê toe dat die oorledene die vorige nag 'n seun van
hom beseer het.
3/...
3. 'n Rukkie later, so getuig mev Hermanus se moeder, Rebecca Van
Neels, daag appellant by sy eie huis op, steeds met.die dolk in
sy hand.
Die
drie gemelde staatsgetuies was, blykens die oorkonde, nie besonder indrukwekkend
nie. Die verhoorhof het ook geen pertinente bevinding
aangaande hul prestasie in
die getuiebank gemaak nie. Insgelyks is geen kommentaar gelewer op die indruk
wat appellant, sy eggenote
en sy dogter in die getuiebank gemaak het nie. Die
verhoorhof het, na my mening tereg, eerder gekonsentreer op die relatiewe deugde
van die Staat en die verdediging se onderskeie weergawes. Laasgenoemde is
verwerp as bo redelike twyfel vals en die gewraakte skuldigbevinding
het daarop
gevolg.
In hierdie hof is daar toegegee dat appellant se weergawe nie redelik moontlik waar kan wees nie, maar daar is aangevoer dat die skuldigbevinding nietemin ongegrond was. Daar sou, aldus die betoog, 'n
4/...
4. redelike moontlikheid bestaan dat 'n ander, onskuldige
konstruksie op die bewese feite geplaas kan word. In dié verband
is
beklemtoon dat die tydstip van dood nie pertinent bewys is nie. Ook is daar
gewag gemaak van waargenome teenstrydighede tussen
Malone se beskrywing van die
toediening van die dodelike steekwond en die beskrywing van die wond deur die
staatspatoloog. Voorts
is daar gewys op onbevredigende aspekte van die weergawes
van Malone, Hermanus en Van Neels. Bygevolg, so is aangevoer, het die Staat
nie
bewys dat die oorledene nie dalk op 'n vroeëre stadium en selfs moontlik
elders doodgesteek is nie. Die klem is laat val
op 'n faset van Malone se
getuienis toe hy beskryf dat hy die nag gehoor het hoe appellant, 'n seun van
hom en oorledene luidkeels
in die werf van Larkweg 50 skel totdat daar eensklaps
'n stilte intree. Dit, so is namens appellant in hierdie hof aangevoer, kan
redelikerwys daarop dui dat die oorledene op daardie
5/...
5. stadium deur iemand anders as die appellant die dodelike
steekwond toegedien is.
Die betoog is nie alleen volslae spekulasie nie maar
loëhstraf appellant se weergawe. Appellant het naamlik beaam dat hy tussen
7 en 8 vm die betrokke oggend vir Rebecca van Neels by sy huis gesien het.
Volgens hom het hy by haar verneem dat sy seun Owen by
Larkweg 50 lê en
slaap.Hy getuig dat hy toe wel soontoe is, die voorhuis binnegegaan het, 'n man
in die voorhuis op die matras
op sy maag aan die slaap gevind en by hom gekniel
het. Volgens appellant was dit egter nie die oorledene wat daar gelê het
nie, maar sy seun Owen, wat hy vrugteloos probeer wakker maak het. Vir oorledene
het hy nie met 'n oog gesien nie,ook nie vir Malone
nie; vir Marie Hermanus het
hy in die ingang na die slaap-kamer sien staan toe hy met Owen op die matras
doenig was. Volgens hom
het hy geen gesprek met haar gevoer en bepaald nie te
kenne gegee dat hy oorledene uit
6/...
6.
weerwraak verwond het nie. Sodanige weergawe skep vir appellant, soos
sy advokaat in hierdie hof toegegee het, onoorkomelike
geloofwaardigheidsprobleme.
Wat egter belangriker is, is dat dit hom op die
spesifieke punt plaas waar die oorledene se lyk kort daarna gevind is en vir
Owen
en oorledene omruil. Dit is ten ene male onverklaarbaar hoe sy seun Owen,
wat deur niemand anders op die toneel waargeneem is nie,
en die oorlede omgeruil
kon gewees het.
Die noodwendige gevolg is dat appellant se weergawe vir hom
verdoemend is. Hy plaas homself op die kritieke stadium op die toneel;
sy
optrede aldaar, afgesien van die toediening van die steekwond, strook volledig
met Malone se beskrywing; hy verstrek 'n
verwerplike rede vir sy teénwoordigheid; hy suggereer geen motief vir die Staatsgetuies om hom valslik te inkrimineer nie en postuleer 'n omruiling van die oorledene en Owen wat net nie waar kan wees nie.
7/...
7.
Bowendien lei die blote feit dat appellant 'n leuenagtige weergawe
aanbied tot die afleiding dat hy nie die waarheid durf vertel nie.
Daarby
aansluitend laat sy weergawe geen ruimte vir die ander konstruksies wat sy
advokaat aan die hand gedoen het nie. Hierdie hof,
soos die verhoorhof, is aan
die getuienis en af leidings daaruit gebonde. Dit is nié vir 'n hof
beskore om te reik na spekulatiewe
moontlikhede wat geen basis of selfs
aanknopingspunte in die getuienis vind nie.
Daar is ook namens appellant
aangevoer dat, al sou bevind word dat hy die dodelike messteek toegedien het,
daar nie bewys is dat die
opset om te dood by hom teenwoordig was nie. Bygevolg,
so is aangevoer, moes hy aan strafbare manslag skuldig bevind gewees het en
nie
aan moord nie. Die betoog deug nie. Op die bewese feite het appellant met 'n
lang
8/...
8.
dolk 'n slapende man 'n diep steekwond in die borskas toegedien. Daar
was geen geloofwaardige verduideliking vir sy optrede nie maar,
inteendeel, 'n
leuenágtige ontkehning. In die omstandighede is die noodwendige slotsom
dat hy die steekwond toegedien het
in die wete dat dit dodelik kon wees en ten
minste onverskillig oor sodanige gevolg.
Die appèl word afgewys;
J C KRIEGLER Wnd. APPèLREGTER
E M GROSSKOPF AR ) HARMS WND.AR ) Stem saam